NET MOOI VAN BUITE ... SOOS ‘N POM-POM?– 16 Februarie 2011 


So met die reënseisoen kan die veld darem maar eenmaal pragtig word. En nee, jy hoef nie noodwendig Namakwaland toe te gaan daarvoor nie (toegegee, dis baie naby aan Paradys), jy kan sommer net hier langs ons eie snelweë na die veld kyk en jy sien hoe die wêreld transformeer nadat die reën so lustig geval het. Eers begin die swart afgebrande veld plek maak vir groen sprietjies, dan groei die veldgras al hoe hoër en naderhand is die swart weg. En dan, eers hier en daar, dan baie meer, begin die blommetjies uitkom. Nog later volg plate en plate blommetjies, so asof 'n onsigbare hand die veld optower soos 'n pragtige skildery van die lieflikste landskap. Verruklik! 

Onlangs het ons gesien hoe die veld tussen Centurion en die middestad van Pretoria opgedollie word met  sulke pragtige pienk-pers blommetjies. Plate en plate van hulle wat sommer so uit die niet verskyn het, en dit het die veld in die mooiste kunswerk opgetower. Die kop waar die Voortrekker Monument staan het die mooiste van mooi geword en dit het talle mense soontoe gelok. Dit was mooi om na te kyk, maar... 

En daar sit 'n groot “maar” agter hierdie blommeprag. Dis ongelukkig net die oppervlak wat mooi lyk. Dit wat die oog kan sien kan geen fout vind nie, maar daar is 'n groot “maar”. Die meeste mense sal verstom staan om te weet dat daar niks mooi sit agter hierdie beeldskone blommetjies nie. 

Op die oppervlak kan dinge nogal goed en aanloklik lyk, dit kan mense van heinde en ver trek, maar dit kan so misleidend wees sonder dat mens dit weet. Weet jy hoekom daar meer agter so 'n saak kan sit? Want ons het nie al die kennis nie! So is dit ook op Geestelike gebied. Mense, groeperinge, bewegings, wat op die oppervlak so goed lyk, maar onder die oppervlak is dinge bietjie anders. Ons besef dit gewoonlik eers wanneer daar kennis bykom. 

2 Tim 3:5 “Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie. Bly weg van sulke mense af.”

Klink of Paulus nogal de vieste in is vir iemand. Hy waarsku ernstig teen die uiterlike skyn van hierdie mense. Soos die blommetjies by die Monument. 

Hierdie blommetjies word Pom-Pom blommetjies genoem en is 'n indringer plant van Suid-Amerika en hulle groei geil na goeie reëns. Sommer so vanself. Mens kan jouself natuurlik dan afvra wat die probleem is daarmee. 'n Porsche is immers nie 'n Suid-Afrikaanse produk nie maar is mooi en gesog in enige land in die wêreld. 'n Porsche is nou maar eenmaal 'n Porsche. Net so is die Pom-Pom mos maar mooi op enige plek waar hulle groei. Tot jy meer weet. 

Jy sien, die Pom-Pom's verdring die natuurlike veldgras en roei dit letterlik uit. Steeds nie 'n probleem nie? Dis tog mooier as veldgras? Die probleem is, dit verdring en roei die veldgras uit wat die diere moet eet. Die Pom-Poms kan nie geëet word nie want dit is bitter en oneetbaar. Omdat dit die veldgras uitroei het die diere nie meer kos nie en die hele natuur ly daaronder. Teen die tyd dat die blommetjies verlep (wat kortstondig groei) is daar nie tyd vir die veldgras om betyds terug te groei vir kos vir die diere nie. 

Soveel vir hierdie “mooi”... 

Net so, sê Paulus, moet ons oppas vir dinge wat so mooi kan lyk op die oppervlak, maar sleg kan wees onder die uiterlike skyn. Ons moet versigtig wees vir dinge wat net die uiterlike skyn van die godsdiens het. Hy skryf in hierdie brief aan Timoteus eintlik die volgende waarskuwing: “My seun, oppas, jy het dalk net nie al die feite wat jy nodig het nie”.

Wanneer Paulus hier vir Timoteus so ernstig waarsku, klink dit eintlik of hierdie goed nie iets met Christenskap te doen kan hê nie, maar of hy eerder uitvaar teen heidene en goddeloses.

2 Tim 3:1-9
Dít moet jy weet: in die laaste dae sal daar swaar tye kom.
Die mense sal selfsugtig wees, geldgierig, grootpraterig en verwaand, beledigend teenoor hulle medemense en ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar en ongodsdienstig; hulle sal liefdeloos en onversoenlik wees, kwaadpraters, bandeloos en wreed, sonder liefde vir die goeie; hulle sal verraaiers wees, roekeloos en hooghartig. Hulle sal eerder liefde vir genot hê as liefde vir God. Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie. Bly weg van sulke mense af. Party van hulle dring in die huise in en kry liggelowige vroue wat met sonde belaai is en deur allerlei sinlike begeertes gedryf word, in hulle mag, vroue wat altyd iets wil leer, maar tog nooit tot die kennis van die waarheid kan kom nie.  Net soos Jannes en Jambres hulle teen Moses verset het, so verset hierdie mense hulle teen die waarheid, mense wat in die verstand verward is en in die geloof 'n mislukking. Maar hulle sal nie ver kom nie, omdat hulle dwaasheid vir almal duidelik sal wees, net soos dit die geval was met Jannes en Jambres.    

Kwaadpraters, liefdeloos, losbandig, bandeloos, wreed... Klink baie ongodsdienstig. Maar tog sê hy: “Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê...”

Pragtige pienk Pom-Pom blommetjies op die oppervlak wat duisende mense trek, maar verrot van binne. Eintlik is ek self soms so 'n Pom-Pom blommetjie wat kleurig en geurig is om na te kyk, maar bitter is om aan te kou. 

Ons moet onsself afvra waarmee ons besig is in ons geestelike lewe. Jy sien, toe mense gestroom het om na hierdie blommetjies te gaan kyk, was dit regtig in opregtheid, sonder slegte bedoelings. Net so is mense op soek na die waarheid en wil in opregtheid gevoed word met Geestelike kos en soek na dinge met Geestelike waarde, maar die pienk blommetjies hou niks goed in nie. 

Kol 2:23
Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie.

Matt 24:23-28
“As iemand in daardie tyd vir julle sê: ‘Kyk, hier is die Christus!’ of: ‘Kyk, daar is Hy!’ moet julle dit nie glo nie. Daar sal vals christusse en vals profete na vore kom, en hulle sal groot tekens en wonderwerke doen om, as dit moontlik was, selfs die uitverkorenes te mislei. Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê. En as die mense vir julle sê: ‘Kyk, Hy is in die woestyn!’ moet julle nie daarheen gaan nie; of as hulle sê: ‘Hy is in die slaapkamer!’ moet julle dit nie glo nie. Die koms van die Seun van die mens sal wees soos 'n weerligstraal wat in die ooste uitslaan en die hele lugruim tot in die weste verlig. “Waar die aas ook al lê, daar sal die aasvoëls bymekaarkom.”         

Sommige mense maak nogal mooi prentjies, maar is bitter om aan te kou. Hoe lyk blommetjies wat goed is om aan te kou? Watse werk moet ons vir die Here doen wat goed en reg is? Wil ons nie dalk soms dinge aanpak wat ons nooit moes aanpak nie?

Rom 12:1-2
En nou doen ek 'n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.      

Is dit nie ongelooflik mooi nie? Sonder fieterjasies en sonder pretensies.

“Gee jouself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is, dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen”.

Nie altyd maklik nie want die Here sê uitdruklik in Sy Woord dat dit nie altyd maklik sal wees nie.

2Tim 4:1-5
Ek beveel jou voor God en voor Christus Jesus wat die lewendes en die dooies sal oordeel, ek beveel jou met die oog op sy koms en sy koningskap: verkondig die woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig; weerlê, bestraf, bemoedig deur met alle geduld onderrig te gee, want daar sal 'n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor. Hulle sal die waarheid nie wil hoor nie en hulle tot verdigsels wend.  Maar bly jy in alle omstandighede nugter, verdra lyding, doen jou werk as verkondiger van die evangelie, voer al die pligte van jou bediening uit.       

Hou vol, byt vas, druk deur. Verkondig die Evangelie. Hier sê Paulus jy moet tydig en ontydig die Evangelie verkondig. Dit is 'n God-grootte projek.  Jy sien, as ons dit doen in God se landskap mag ons dalk na niks lyk nie. Geen pragtige pienk blommetjies nie, mense sal dalk nie na ons toe stroom nie, en jy sal soms voel of jy niks bereik nie, maar dit is ware voedsel. Soms lyk ons soos vaal veldgrassies, maar dis eetbaar en voedsaam, dit gee lewe en maak 'n reuse verskil. Dit gee krag, en het waarde.

 Wees liewer 'n onaansienlike veldgrassie as 'n indringer blommetjie wat niks goeds inhou nie.

 “Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen...”
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)