| 
            
  34 jaar gelede 
      klim Willempie mos trein “army” toe in Potch, want dit was my beurt. Baie 
      army-praatjies gehoor, ouens se verhale ingedrink en my kop heeltemal reg 
      gekry. En baie uitgesien! Ouboet was al daardeur, en ek het gedink ek is 
      voorbereid vir wat op my wag. Hulle sê mos die army is nie vir sissies 
      nie, en ek is g’n sissie nie. Maar genugtig! 
      Kry ek die ontnugtering van my lewe toe ek daar aanland. Hierdie klomp 
      korporale was wild; hulle vloek jou, jou ma, jou hond en sommer alles 
      waaraan hulle kon dink. Dit was ontnugtering, so uit die boek! Ek glo ons 
      almal kan getuig van tye waar ons ontnugter was omdat dinge net honderd 
      maal erger was as wat ons kon dink.  So terloops, as 
      jy dalk een van dié mense is wat so uit onkunde praat van ons tronke as ‘n 
      5-ster hotel, daag ek jou uit om jouself daar te gaan inboek.  Jy sal 
      ontnugterd wees met hoofletters. Jy het géén idee hoe erg dit daar is 
      nie.  So sal baie mense 
      se oorgang na die lewe hierna met ontsettende, skokkende, verwoestende 
      ontnugtering gepaard gaan, want dit wat vir party mense voorlê, sal die 
      army en die tronk soos ‘n speelparkie laat lyk. Daar is baie menings oor 
      wat anderkant hierdie lewe se drempel lê, en die Bybel praat baie duidelik 
      oor ‘n hel, ‘n bose vuur wat wag – verskrikking. Sommige mense verwys 
      slegs daarna as ‘n toestand wat net deur God verlate is. Ek dink nie dis 
      net dit nie. Hoe dit ookal mag wees, ek gaan nie ‘n kans vat nie – ek wil 
      NIE daar wees nie.  Die 
      teenoorgestelde van ontnugtering kan net verwondering wees. Het jy al by 
      ‘n plek gekom wat net eenvoudig jou asem wegslaan, dat jy nie kan glo dat 
      iets so ongelooflik besonders is nie? Iets wat jou wildste verwagtinge 
      oortref, beter as in jou grootste, beste drome?  Elke wedergebore 
      Christen glo dat daar so ‘n plek moet wees soos die hemel. Weereens is 
      daar verskeie interpretasies. Die meerderheid glo dit is ‘n ander plek as 
      die aarde, ander glo die aarde sal net in ‘n “nuwe aarde” omskep word, 
      waar God sal afdaal uit die hemel en by die mense kom woon. Beide 
      groeperinge staaf hulle sieninge uit die Bybel en glo hulle sieninge word 
      oorweldigend ondersteun deur die skrif.    Ek dink die 
      verwondering wat dié wat in die hemel kom sal beleef, sal “out of this 
      world” wees.   Jy sien, jy kan 
      nie ‘n fout maak deur hierdie opsie te kies nie. Die Here gee nie regtig 
      baie detail oor die twee opsies  in die Bybel nie, maar dat daar ‘n breë 
      afstand tussen hierdie twee plekke is, is duidelik.  As dit vir jou 
      ontnugtering is, gaan dit ‘n woeste ontnugtering wees. En as die 
      verwondering is, sal jy jou oë nie kan glo nie.  Luk 16:22-31“Toe die arm man te sterwe kom, is hy deur die engele weggedra na die 
      ereplek langs Abraham. Die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. Toe hy 
      in die doderyk in pyn verkeer, kyk hy op en sien vir Abraham daar in die 
      verte en vir Lasarus langs hom en hy roep: ‘Vader Abraham, ontferm u oor 
      my. Stuur tog vir Lasarus dat hy net die punt van sy vinger in water steek 
      en my tong afkoel, want ek ly verskriklik in hierdie vuur.’ Maar Abraham 
      sê: ‘My kind, onthou dat jy in jou leeftyd altyd die goeie gekry het en 
      Lasarus die slegte. Nou gaan dit hier goed met hom, maar jy word gepynig. 
      En buitendien is daar 'n groot kloof tussen ons en julle, sodat dié wat 
      hiervandaan wil oorgaan na julle toe, nie kan nie, en dié wat dáár is, ook 
      nie na ons toe kan oorkom nie.’ Toe sê hy: ‘Ek smeek u dan, vader, stuur 
      hom tog na my pa se huis toe. Ek het nog vyf broers. Laat hy hulle 
      dringend gaan waarsku sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging 
      beland nie.’ Maar Abraham sê: ‘Hulle het die woorde van Moses en die 
      profete. Laat hulle daarna luister.’ Hy antwoord egter: ‘Nee, vader 
      Abraham, maar as iemand uit die dood na hulle toe gaan, sal hulle hulle 
      bekeer.’ Maar hy sê vir hom: ‘As hulle na Moses en die profete nie luister 
      nie, sal hulle nie oortuig word nie al sou iemand uit die dood opstaan.’ ”
 Hierdie ryk man 
      was ontnugter, meer as wat hy ooit in sy lewensbestaan kon dink. Jy sien, 
      hy het elke dag van sy lewe geleef vir “vandag”. Miskien was hy ‘n 
      roekelose, goddeloses ou, wat geen saak met die Here gehad het nie. Dalk 
      was hy ‘n uitgesproke ateïs. Miskien sommer net traak-my-nie-agtig, en het 
      hom min gesteur aan waarskuwings van ander. Dalk het hy selfs gereeld 
      tempel toe gegaan en gedink dit sou hom kwalifiseer – net ingeval daar ‘n 
      hemel en ‘n hel was.  Miskien het hy gesoek na God, maar niemand het hom 
      vertel van die Verlosser nie. Dalk het hy geglo die hel-stories is sommer 
      net bangmaak-goggatjies. Miskien het hy geglo hy sal maar eendag sy lewe 
      met God regmaak, want nou sal dit dalk net sy pret bederf. Toe kom die 
      ontnugtering, ‘n ongelooflike skok. Interessant genoeg, probeer hy nie 
      daar uit kom nie, want hy het geweet daardie hekke is  vir ewig toe, die 
      kloof net te wyd. Hy wou egter nie hê sy broers moet op dieselfde manier 
      ontnugter wees nie. Die skok was vir hom een te erg. Hy het nie besef wat 
      Rom 14:11 beteken nie: “So seker as ek lewe, sê die Here, voor My sal elke 
      knie buig, en elke tong sal bely dat Ek God is”. Lasarus het sy knie voor 
      sy dood gebuig, en bely dat Jesus die Here is, en hy het gekwalifiseer vir 
      die hemel. Die ryk man het sy knie voor God gebuig met sy afsterwe, en of 
      hy wou of nie, bely dat Jesus die Here is .... maar dit was te laat. Wat 
      ‘n ontnugtering!  Openbaring 
      21:9-27Toe het een van die sewe engele wat die sewe bakke het waarin die sewe 
      laaste plae was, gekom en met my gepraat. “Kom,” het hy gesê, “ek sal jou 
      die bruid wys, die vrou van die Lam.” Ek is toe deur die Gees meegevoer en 
      die engel het my na 'n groot hoë berg toe geneem en die heilige stad 
      Jerusalem vir my gewys, wat van God af uit die hemel uit afkom. Die stad 
      het die heerlikheid van God: sy glans is soos dié van die kosbaarste 
      edelsteen, soos 'n kristalhelder opaal.
 Die stad 
      het 'n groot hoë muur met twaalf poorte. By die poorte is daar twaalf 
      engele, en op die poorte is daar name geskrywe, dié van die twaalf stamme 
      van die volk Israel. Aan die oostekant is daar drie poorte, aan die 
      noordekant drie, aan die suidekant drie en aan die westekant drie. Die 
      stad se muur het twaalf fondamente, en daarop is daar ook twaalf name, dié 
      van die twaalf apostels van die Lam. Die engel wat met my gepraat het, het 
      'n goue meetstok gehad om daarmee die stad self, sy poorte en sy muur te 
      meet. Die stad is vierkantig, net so lank as wat hy breed is. Hy het die 
      stad toe met die meetstok gemeet. Die lengte, die breedte en die hoogte 
      daarvan is dieselfde, twaalf duisend kilometer.        Hy het ook die 
      muur om die stad gemeet. Dit is honderd vier en veertig meter hoog. Die 
      engel het die mate van mense gebruik. Die muur is met opaal gebou en die 
      stad self met suiwer goud wat soos 'n skoon spieël lyk. Die fondamente van 
      die stadsmuur is met allerhande edelstene versier: die eerste fondament 
      met opaal, die tweede met saffier, die derde met agaat, die vierde met 
      smarag,  die 
      vyfde met sardoniks, die sesde met karneool, die sewende met chrisoliet, 
      die agste met beril, die negende met topaas, die tiende met chrisopraas, 
      die elfde met hiasint en die twaalfde met ametis. Die twaalf poorte is 
      twaalf pêrels. Elkeen van die poorte is uit een pêrel gemaak. Die strate 
      van die stad is van suiwer goud, blink soos 'n spieël. 'n Tempel het ek 
      nie in die stad gesien nie, want sy tempel is die Here God, die Almagtige, 
      en die Lam. Die stad het nie die son en die maan nodig om hom te verlig 
      nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp. 
      Die nasies sal in die stad se lig lewe, en die konings van die aarde 
      verleen luister daaraan. Die 
      poorte daarvan word gedurende die hele dag nooit toegesluit nie: daar sal 
      nie meer nag wees nie.       
       Die mense sal 
      die luister en die rykdom van die nasies daarheen bring.  Niks 
      onreins en niemand wat iets losbandigs en vals doen, sal ooit daarin kom 
      nie, maar net dié wie se name in die boek van die lewe, die boek van die 
      Lam geskrywe staan.         
       
      Verwondering! Wat 
      meer is daar om te sê? Ek dink wanneer ons die dag DIT sien, sal ons ons 
      hande saamslaan in verwondering. Ek kies hierdie kant. Nee, ek verdien dit 
      nie, ek kies dit. Jesus sê: kies My, en jy kry dit. Jy weet baie goed hoe 
      daardie keuse lyk: as jy roekeloos lewe, kies jy hierdie verskriklike 
      ontnugtering. As jy vir Jesus aanneem, kry jy hierdie ongelooflike 
      verwondering .... jou keuse.
 |