Wat
is die grootste oorlog waarvan jy weet? En wat die langste aangehou
het? En die meeste mense geaffekteer het? Tweede wêreld oorlog?
Viëtnam ? Die grootste oorlog, ooit, wat die langste aanhou en een
wat elkeen van ons affekteer, is natuurlik 'n geestelike oorlog. Nou,
as ek vir jou vra om 'n teks aan hierdie gedagte te koppel, sal jy
waarskynlik dink aan Ef 6 : 12. "Ons stryd is nie teen vlees en
bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor
hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug". Dus,
nie 'n stryd teen vlees en bloed nie. Die vraag is net, is ons dan
nog steeds aan hierdie oorlog onderworpe as ons reeds gered is?
Jesus het dan klaar die oorwinning aan die kruis behaal, hoekom dan
hierdie stryd?
Die grootste oorlog waarin ek en jy vasgevang is, is
tussen die Gees en die vlees. Die oorlog tussen glo en twyfel.
Tussen sonde en reinheid. Tussen goed en kwaad, reg en verkeerd. Ek
praat nie van om gered te wees al dan nie. Ek praat van ons wat
reeds gered is, wat klaar vir Jesus as ons Saligmaker gekies het, en
wat reeds die ewige lewe besit, maar in hierdie stryd gewikkel is.
’n Daaglikse stryd, ’n fel stryd.
Rom 7 : 12 - 24 Die wet is
dus heilig, en sy voorskrifte is heilig en reg en goed. 13 Beteken
dit dat iets wat goed is, vir my die dood gebring het? Beslis nie.
Inteendeel, die sonde het vir my die dood gebring. Dit het die sonde
gedoen deur iets wat goed is, sodat die sonde in sy ware aard as
sonde bekend sou word en dit deur die gebod sou blyk hoe
skrikwekkend die sonde werklik is. 14 Ons weet tog die wet is
geestelik, maar ek is aards en soos 'n slaaf aan die sonde verkoop.
15 Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit
doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek. 16 Dat ek nie wil
doen wat ek doen nie, beteken dat ek toegee dat die wet goed is. 17
Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in
my woon. 18 Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, nie in
my sondige aard nie. Daar is by my wel die wil om die goeie te doen,
maar ek doen dit nie. 19 Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie,
maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek. 20 En as ek
nou doen wat ek nie wil doen nie, dan is dit nie meer ek wat dit
doen nie, maar die sonde wat in my woon. 21 So vind ek dan hierdie
wet in my: ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen, is die slegte.
22 Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, 23 maar ek
vind in my doen en late 'n ander wet, wat stryd voer teen die wet
van my gees. Dit maak my 'n gevangene van die wet van die sonde wat
in my doen en late aan die werk is. 24 Ek, ellendige mens! Wie sal
my van hierdie doodsbestaan verlos?
Hier praat Paulus van hierdie stryd. Tussen goed doen
en sleg doen. Dan roep hy uit in desperaatheid as hy in vers 15 sê:
"Ek begryp self nie wat ek doen nie, want
wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat , juis dit doen
ek."
Klink dit vir jou ook bekend? Hierdie wroeging
waaraan ons elke dag onderwerp is. Die sondes wat ek juis so haat,
dit doen ek. Ons troetelsondetjies. Hierdie goed wat op ons gewete
inwerk, en ons só skuldig laat voel, juis dit doen ons.
So roep Jesus ook uit in die tuin van Getsémané as Hy
vir die dissipels vra om saam met Hom te gaan bid.
Matt 26 : 41 "Waak en bid,
sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is gewillig, maar
die vlees is swak".
Het jy jou nie ook al voorgeneem om sekere dinge te
laat staan nie, om weg te draai van goed af, om maar net weer te
struikel nie? Moeilik, nè? Daar is ’n voortdurende oorlog tussen die
vlees wat konstant hunker na sonde, hierdie aardse goed wat daagliks
op ons pad kom, en ons gees.
Ons is liggaam, siel en gees. Die gees (met 'n klein 'g') is waar
ons konneksie met God plaasvind. Ons diepste, innerlike wese, wat
die siel (dit wat lewe is) met die liggaam verbind. Dis waar ons
verhouding met God plaasvind, waar ons diep Geestelike besluite maak,
en ons Christenskap beoefen. Juis daar kom Satan en hou vir ons 'n
alternatief voor. Die vlees, daarenteen is dit waarmee elke mens mee
gebore word, en ook die plek waar sonde plaasvind. Nou herinner ek
jou net weer, hierdie stryd (tussen vlees en Gees), is ná bekering.
Voor jou bekering maak die stryd nie eintlik saak nie. Dan is die
stryd meer teen die duiwel en sy trawante, wat veg om jou van die
Here af weg te hou. Jy sien, na jou bekering, gee Satan nie op nie.
Dan is ou sekelstert eers op sy perdjie. Ek wil egter net een ding
hieroor sê: Kom ons gee nie links en regs vir die duiwel die skuld
nie. Want soms is dit sommer net onsself wat die verkeerde besluite
neem. Maar ja, die oorlog is aan die gang.
Vlees vs. gees. Nou, hoe oorwin ons dit? Deur Jesus
Christus. En Hy sal weet van hierdie goed, want Hy was ook aan
versoekings onderwerp.
Hebr 4 :15 "Die Hoëpriester
wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie;
Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp,
maar Hy het nie gesondig nie."
Ek en jy is egter nie God nie. Waar los dit ons dan?
Jesus, het vir ál hierdie swakhede en oortredinge van ons gesterf.
Juis omdat ons nie die vermoë het nie, want ons is mense, was dit
nodig dat Jesus in Sy Godheid dit namens ons kom doen. Maar hier is
'n waarskuwing:
Galasiërs 5 : 13 "Julle,
broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid
misbruik as 'n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in
liefde"
1 Petr 2 : 16 "Julle is vry,
maar moenie julle vryheid gebruik as dekmantel om kwaad te doen nie.
Gebruik dit om God te dien."
En as die vlees dan wil wen oor die gees? Wat dan?
Sonde bly sonde! Onthou wel: oorwinning oor sonde is soms 'n ding
wat eensklaps kom, mens doen dit nooit weer nie, dis verby. Maar,
soms is dit 'n geweldige stryd! Elke keer as ons egter nee sê vir
iets verkeerd, is dit oorwinning. Elke keer slaan jy die duiwel
bloedneus. En so, stadig maar seker, kom die finale oorwinning. En
elke keer gaan dit gepaard met 'n proses van belydenis, en
vergifnis.
Kom ons staan vas. As die vlees wil oorneem, roep die
hulp in van die Gees (met 'n groot "G"). Hy is by jou en in jou.
|