| 
            
  Is dit nie so dat die mens maar 
      altyd op soek bly na die betekenis van alles nie? Hoekom, hoekom.. hoekom 
      dit, hoekom dat … hoekom kry ek swaar, hoekom het ek my vrou of my kind 
      verloor, of my werk verloor .. hoekom gaan dit so moeilik in my huwelik? 
      Waar is die Here? Waar is die beloftes van die Bybel? Hoeveel kan ek nog 
      verduur? Hoekom maak Christene my so seer? Moet daar nie meer in die lewe 
      wees nie? Wat is die sin van hierdie gesukkel? Ek glo ons is of was al almal op 
      hierdie punt gewees. Die lawwe spreekwoord is waar: "die bosveld is nie 
      vir sissies nie". Jy sien, ek glo dat hierdie talle vrae beantwoord sal 
      word, as ons net kan weet wat die betekenis van dit alles is. As ek kan 
      weet wat die uiteinde sal wees, hoe lank dit gaan vat en hoekom dit nodig 
      is, sal ek dit seker makliker aanvaar. So was dit vir my gewees in my twee 
      jaar diensplig, 30 jaar gelede: die tentlewe, bitter koue, slegte kos, 
      afsondering, vernedering, byna geen warm water nie, dood gesien op die 
      grens, ens. Dit was uithoubaar, want ten spyte van alles, was daar 
      betekenis agter dit alles: ons het geweet hoekom ons daar is, vir hoe lank 
      dit gaan aanhou, en ons het geweet dat beter dae SAL aanbreek. Maar die 
      lewe is nie so regverdig nie - dit voel vir baie mense of niks sin maak 
      nie. Het jy al gedink wat maak die lewe 
      moeilik? Dit is nie weerpatrone, seisoene of natuurwette nie, nee, dit is 
      net die mens. Dit wat mense aanvang. Die lewe is nou maar een maal in die 
      mens se hande… dit is mense wat dominees is, en dis mense wat terroriste 
      is, dit is mense wat dokters is en gesond maak, en dit is mense wat moor 
      en verkrag, dit is mense wat werk skep en dit is mense wat bedrog pleeg…. 
      Waar sal ek betekenis in dit alles kry? Ek het onlangs 'n boek gelees van 
      Viktor Frankl, "Man's search for meaning". Hierdie ou was drie en 'n half 
      jaar in konsentrasie kampe (o.a. in Auschwitz). Vir drie en 'n half jaar 
      het hy nie geweet of hy die volgende dag nog sou leef nie. Maar tog het hy 
      elke dag voortgeveg. Hoekom? Omdat daar hoop was - solank hy nog asem 
      gehaal het, was daar nog hoop. Ek en jy het baie meer as asem beskikbaar! 
      Viktor Frankl skryf dat die mens met enige iets kan saamleef, en aan enige 
      iets gewoond kan raak, as jy net weet hoekom dit nodig is. As jy weet 
      hoekom jy moet vasbyt, raak die "hoe" minder belangrik. Kom ek gee vir jou "slegte nuus" - 
      die Bybel sê ook nie dit sal maklik wees nie!2 Tim 3:1-7
 1 Dít moet jy weet: in die laaste dae sal daar swaar tye kom.
 2 Die mense sal selfsugtig wees, geldgierig, grootpraterig en verwaand, 
      beledigend teenoor hulle medemense en ongehoorsaam aan hulle ouers, 
      ondankbaar en ongodsdienstig;
 3 hulle sal liefdeloos en onversoenlik wees, kwaadpraters, bandeloos en 
      wreed, sonder liefde vir die goeie;
 4 hulle sal verraaiers wees, roekeloos en hooghartig. Hulle sal eerder 
      liefde vir genot hê as liefde vir God.
 5 Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van 
      die godsdiens sal hulle nie ken nie. Bly weg van sulke mense af.
 6 Party van hulle dring in die huise in en kry liggelowige vroue wat met 
      sonde belaai is en deur allerlei sinlike begeertes gedryf word, in hulle 
      mag,
 7 vroue wat altyd iets wil leer, maar tog nooit tot die kennis van die 
      waarheid kan kom nie.
 In die laaste dae sal daar swaar 
      tye kom. Dus, die Bybel sê eintlik "verwag dit"! Viktor Frankl het die 
      oorlog oorleef en is in 1997 oorlede. As sielkundige het hy dikwels vir 'n 
      pasiënt met wie dit swaar gaan gevra: "hoekom pleeg jy nie selfmoord 
      nie?". As hy dit vandag vir my sou vra, sou ek sê: "nee, jitte man, daar 
      is veels te veel sin in die lewe. Ten spyte van alles." Maar WAAR kry ek die sin van die 
      lewe? 'n Vriend gee anderdag die antwoord, of te wel, ek dink 'n groot 
      deel van die antwoord. Ons is nou in hierdie situasie: die krag gaan af, 
      petrol raak vinnig duurder, die politiek is deurmekaar, misdaad is buite 
      beheer … Die vraag is: "wat maak ek daarmee?" Hoekom het Viktor Frankl nie 
      homself opgehang nie? Sy situasie was totaal hooploos, hy kon nie veel 
      daaraan doen nie, MAAR ek en jy KAN! Hoe? Ek dink dit gaan oor "attitude". 
      As die lewe regtig só sonder betekenis is soos ons sê, is ons almal 
      verskriklike leuenaars. Hoekom sê ek so? As ek jou vandag raakloop en vra: 
      "hoe gaan dit met jou?", wat gaan jy antwoord? "Baie goed, skitterend, 
      voor die wind, dankie" …. Of hoe? Weet jy hoekom sal jy só antwoord? Want 
      jy het nog hoop. Want jy weet dat die mens se vermoë om te oorleef 
      ondenkbaar goed is. Want jy het nog 'n dak oor jou kop. Want jy het werk 
      (wel, miskien is jy werkloos, maar jou CV is al uitgestuur). Want jy weet 
      dat jou voorouers deur baie slegter tye oorleef het. Want jy het mense 
      sien gesond word. Want jy hoor mense se getuienisse. Want jy kyk terug en 
      sien dat daar rampe agter jou lê, berge, brûe, slote en jy is daardeur. 
      Dit is hoe God jou gemaak het: Hy louter jou soms met vuur maar jy brand 
      nie uit nie. Wat is jy bereid om te doen, wat 
      sal jy maak dat die lewe vir jou betekenis kan kry? Dit hang net af van 
      jou verwagting, en van jou reaksie op die negatiewe. Dit hang ook verder af van watter 
      "lewe" jy praat. Jy sien, as jy verstaan dat hierdie lewe oorgaan in die 
      "ewige lewe", dan hoef hierdie een nie noodwendig vreeslik sin te maak 
      nie. Maar dit sal tog lekker wees, of hoe? Kom ek sê hoe hierdie lewe vir my 
      sin maak:1) Ek het 'n wonderlike gesin, wat elke dag vir my vreugde gee
 2) Ek het puik vriende wat saam met my die pad stap
 3) Ek sien hoe die Here besig is om herlewing te laat uitbreek
 4) Ek probeer om iets vir ander te beteken - geestelik, maar ook deur my 
      besigheid
 5) Ek besef hoe bevoorreg ek is om in die mooiste land op aarde te woon, 
      ek geniet die weer, en die mooi van die verskeidenheid mense.
 6) Ek sien die wonderwerke van God raak.
 7) Ek geniet dit as ek hoor van 'n mens wat tot bekering gekom het.
 8) Ek verander wat ek kan, en dan maak ek vrede met dit wat ek niks aan 
      kan doen nie.
 Weet jy wat? Die lewe maak WERKLIK 
      sin as jy agter die Here aanstap. As Hy die middelpunt van jou lewe is, 
      jou Hoop, jou Vreugde, jou Verlosser.
 |