POPCORN TEOLOGIE


Kom ons kyk ‘n bietjie wat ons kan leer by die nederige ou springmielietjie…. 

Weet jy hoe werk ‘n springmielie? Die mielie groei (en lyk) soos ‘n gewone mielie. Dit word geoes as dit heeltemal droog is, en die mieliepitte word afgestroop. Wanneer dit dan in olie (of in die lug, of in die mikrogolf) tot 230ºC verhit word, “pop” dit! Die water in die kern sit uit en by hierdie hoë temperatuur word die druk te hoog en spring hy uitmekaar en dop om. Die stysel aan die binnekant sit blitsig uit en vorm jellie-agtige borrels wat onmiddellik solied word. Presies dieselfde gebeur wanneer brood bak, maar natuurlik net teen ‘n baie stadiger tempo. ‘n Gespringde mielie se volume neem tot vyftigvoudig toe, en is dadelik eetbaar. Gooi sout op en geniet! 

Joh 3:1-8
Daar was 'n man met die naam Nikodemus. Hy het aan die party van die Fariseërs behoort en was 'n lid van die Joodse Raad. Een nag het hy na Jesus toe gekom en vir Hom gesê: "Rabbi, ons weet dat u 'n leermeester is wat van God af gekom het, want niemand kan hierdie wondertekens doen wat u doen, as God nie by hom is nie."

Daarop sê Jesus vir hom: "Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie." Nikodemus vra Hom toe: "Hoe kan 'n mens gebore word as hy al 'n ou man is? Hy kan tog nie 'n tweede keer in sy moeder se skoot kom en gebore word nie?" Jesus het geantwoord: "Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie. Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees. Moenie verbaas wees dat Ek vir jou gesê het: Julle moet opnuut gebore word nie. Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is."  

Wedergeboorte. Hoe werk dit? Is jy verbaas dat baie mense nie verstaan wat met jou aangaan as jy sê jy is wedergebore nie? Vra sommer volgende keer vir so iemand of hy weet hoe werk popcorn. 

Nikodemus het ook gesukkel om te verstaan. Jesus sê vir hom: “As jy nie uit water en Gees gebore word nie, kan jy nie in die koninkryk van God kom nie”. Paulus bevestig ook hierdie punt: 

1 Kor 2:14-16
Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin. Hy kan dit ook nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel moet word. Die mens wat die Gees van God het, kan die waarde van alle dinge beoordeel, maar self kan hy deur geen mens beoordeel word nie. Daar staan geskrywe: "Wie ken die gedagtes van die Here? Wie sal Hom raad gee?" Maar ons, ons het die Gees van Christus. 

Sien jy dat die geestelike dinge vir jou onsin sal wees as jy nie die Gees in jou het nie? Sonder die Gees is jy nog soos daardie springmieliepit – al die elemente is daar, die volle potensiaal om ‘n springmielie te wees is daar, maar daar kort nog “iets” voordat jy kan … wel …. ont-”pop”! Nou kyk, die springmielie-pit-bevolking van hierdie wêreld na die ge-“popte” springmielies, en sê: “julle is gek”. Ons lees in Hand 2 met die uitstorting van die Heilige Gees hoe mense oombliklik verander het, in tale begin praat het, en die mense is verbáás! Almal weet iets het gebeur; daar staan egter in Hand 2:13: “Maar party het gespot en gesê: Hulle is dronk” Jy sien, ‘n ongespringde springmielie weet self nie wat binne-in hom aangaan nie, en daarom is gespringde springmielies vir hom vreemd en onsinnig. Hy sien hierdie springmielies, hy sien hoe hulle nét ten goede probeer optree, hy sien hoe hulle springmielie bakke volmaak (kerke, stadions, kampe. ens), hy hoor hoe hulle anders praat en dink. Maar dan sê hy: “Nee, dis onsin”. Nikodemus kon nie snap wat Jesus bedoel toe Hy sê jy moet weergebore word nie. Dit het nie vir hom sin gemaak nie. 

… maar toe “pop” hierdie springmielie, en daar gebeur ‘n buitengewone ding! Hierdie klipharde pit, wat vir niks goed is nie, word oombliklik hervorm in iets nuuts. Hierdie klipharde lagie wat alles bymekaar hou, swig onder die druk van die werking van die Heilige Gees, onder daardie geklop wat Openb 3:20 van praat. Daardie sondelaag wat die volle potensiaal van die mens inmekaardruk, en die mens keer om sy skeppingsdoel te bereik, gee mee en iets onbeskryfliks gebeur: bekering vind plaas, wedergeboorte. Onmiddellik, net daar, op die oomblik! Hoewel die proses van heiligmaking begin nadat bekering plaasgevind het, is jy reeds gered, reeds ten volle “popcorn”.

Watter kleur is ‘n springmielie wat klaar gespring het? Spierwit. Ja, so wit en skoon is jy ook gewas na jy ge-”pop” het. Jou sonde is vergewe. Nou is jy nuttig en jy kan jou potensiaal bereik. Die harde lagie is weg. Hoewel jy nog sulke geel stukkies in die binnekant sien (wat die oorblyfsels van jou onvolmaaktheid simboliseer), is jy ‘n nuwe mens. Dit is wel so dat party mense oor ‘n lang tydperk tot volle geloof en oorgawe kom - soos brood wat uitrys - maar ander “pop” soos “popcorn”. 

Voordat ‘n springmielie gespring het, is hy niks werd nie. Hy is klein en hard. Maar boeta, as hy deur daardie verhittingsproses gegaan het, is hy ‘n nuwe skepsel. Hy lyk anders, proe anders, het ’n ander nut … 

Het jy ook al gehoor dat mense sê hulle wil nie nóú tot bekering kom nie? Hulle wil eers nog bietjie jol en die lewe geniet. Weet jy, jy kan verduidelik tot jy blou word oor die wonderlikheid van wedergeboorte, maar as die Heilige Gees nie deel is van hierdie proses nie, bly ‘n mens maar net ‘n droë, klipharde pitjie. Al die potensiaal bly opgesluit, toegevou in die sonde-doppie. ‘n Springmielie spring teen 230ºC, en so moet ons ook maar soms eers ‘n bietjie warm kry voordat ons ont-“pop”. Die warm kry is sleg, en soms bitter seer en onaangenaam, maar dit wat daaruit voortvloei, is iets buite hierdie wêreld. Só kan baie mense getuig. 

‘n Wonderlike ding van ‘n gespringde mielie is dat geen twee dieselfde lyk nie. Ons as Christene moet vir mekaar ruimte gee om verskillend te lyk, te voel en te redeneer, om verskillend te aanbid, en verskillende dinge te beklemtoon in ons Geestelike lewe. “Tolerance” is só nodig. Paulus sê mos ons byt en verskeur mekaar – heeltemal onnodig.  

Ek hoop jy het al ge-“pop”…. Dis pret! 
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)