PRYS DIE HERE!


Prys die Here! Hoe dikwels prys ons die Here? Dink bietjie! As jy bid, is jou gebed ook soos myne 'n "shopping list?" waarin ons net vra omdat ons nog meer wil hê as wat ons reeds het? Ja, soms sê ons dankie vir die Here vir goed waarvoor ons gevra het, soos bv nuwe werk, of 'n ander motor, of finansiële verligting. Vraag is, is dit dankbaarheid, of lofprysing?

Ek dink ons prys die Here net eenvoudig te min. Dink bietjie aan Dawid. Hordes lofpsalms geskryf, sommige in spesifieke omstandighede, maar die meeste nét om God se grootheid te besing.

Ps 150 " Prys God in sy heiligdom, prys Hom hier onder sy magtige hemelgewelf! 2 Prys Hom oor sy kragtige dade, prys Hom in sy magtige grootheid! 3 Prys Hom met die ramshoring, prys Hom met harp en lier! 4 Prys hom met tamboeryn en koordanse, prys Hom met snaarinstrumente en fluite! 5 Prys Hom met simbale, prys hom met galmende simbale! 6 Laat alles wat asem haal, die Here prys! Prys die Here!"

Dawid was 'n man vir musiekinstrumente, hy het gehou van goed wat geraas maak. Dawid het geweet, as jy die Here begin prys, trek jy al die stops uit. Om die Here regtig te prys, is nie 'n saak vir inkennigheid nie. Dawid het lofprysinge gebid, uitgeroep, gesing en selfs gedans.

Prys die Here! Wie moet almal die Here prys? Waarvoor moet hulle die Here prys?

Ps 148 " Prys die Here vanuit die hemele, prys Hom in die hoë hemel! 2 Prys Hom, alle engele, prys Hom, alle hemelwesens! 3 Prys Hom, son en maan, prys Hom, alle sterre! 4 Prys Hom, hoogste hemele, en waters in die hoë hemelruim! 5 Laat hulle die Naam van die Here prys, want Hy het beveel en hulle is geskep; 6 Hy het hulle vir altyd hulle vaste plek gegee, vir hulle 'n orde neergelê waarbuite hulle nie kan beweeg nie. 7 Prys die Here van die aarde af, seediere en al die oseane, 8 weerlig en hael, sneeu en miswolke, stormwind wat sy opdrag gehoorsaam, 9 berge, al die heuwels, vrugtebome, al die seders, 10 wilde diere, al die vee, al wat kruip of vlieg, 11 konings van die aarde, alle volke, vorste, alle regeerders van die aarde, 12 jong manne en meisies, grysaards saam met seuns! 13 Laat hulle die Naam van die Here prys, want sý Naam alleen is hoog verhewe, sy majesteit strek oor die aarde en oor die hemel. 14 Hy het aan sy volk mag gegee. Dit is die roem van al sy troue dienaars, die Israeliete, die volk naby wie Hy is. Prys die Here!"

Alles, almal, jonk en oud, ja, nie net eers ons wat aardgebonde is nie. Vers 2 sê alle hemelwesens, engele, almal, prys die Here! Die hele skepping, jitte, tot die vrugtebome, seders, alles, prys die Here!

Hoekom moet ons die Here prys? Het jy vandag kos? Vir vandag. 'n Warm bed gehad? 'n Verwarmer, warm water, 'n yskas, blyplek, is jy gesond, het jy werk? Is jou kinders oulik? Is jy gelukkig getroud? Kom jy uit 'n goeie ouerhuis? Het jy toegang tot medisyne, of 'n mediese skema? Gaan/was jy dié jaar op vakansie? Besit jy 'n motor of dalk drie? Het jy 'n paar luukshede, soos 'n selfoon (of agt), TV-stel, radio, skottelgoedwasser, swembad? Kleinkinders, ouma of oupa. Leef jou ouers nog? Wel, loof die Here, want dis alles Sy genade.

Ps 103 : 1 - 5 " Ek wil die Here loof, met alles wat in my is, wil ek sy heilige Naam loof. 2 Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie. 3 Dit is Hy wat al my sonde vergewe, wat al my siekte genees, 4 wat my red van die graf en my met liefde en ontferming kroon, 5 wat my die goeie in oorvloed laat geniet, my die jeugdige krag van die arend skenk."

Ps 103 : 20 - 22 " Loof die Here, magtige engele wat sy opdragte uitvoer, sy bevele gehoorsaam. 21 Loof die Here, alle hemelwesens wat Hom dien en sy wil doen! 22 Almal wat deur Hom geskep is, loof die Here op al die plekke waar Hy heers! Ek wil die Here loof"

Het jy gehoor wat sê hierdie Psalms? Loof die Here omdat Hy jou sondes vergewe, omdat Hy jou red van die graf!

Al daaraan gedink, dat jy die heeldag kan loop en glimlag omdat jy nie meer hel toe gaan nie? Loof die Here, prys Sy Naam. Jubel as jy 'n Bybel het en die Here kan leer ken!

Sjoe, kan jy sien, hoor, praat, voel? Is jy dankbaar? Gebruik dan jou liggaam om die Here te prys! Loof Sy Heilige Naam. Hoeveel blydskap is daar werklik vandag in jou en my lewens?

Ps 100 " Juig tot eer van die Here, almal op aarde! 2 Dien die Here met blydskap! Kom voor Hom met gejubel! 3 Erken dat die Here God is: Hy het ons gemaak en ons is Syne, ons is sy volk, sy eie kudde. 4 Gaan sy poorte binne met dankliedere, sy tempel met lofsange, dank Hom, prys sy Naam, 5 want die Here is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie, sy trou duur van geslag tot geslag."

Is ons nie maar soms 'n bietjie gloomy nie? Hoekom is ons? Dalk omdat ons so baie dinge wat goor is, oor onsself bring? Ons het verleer om met blydskap deur die lewe te gaan. Ek dink ook ons word ge-intimideer deur die wêreld wat vir ons sê ons dweep. Nee man, as iets jou vrolik maak, roep uit "Loof die Here!" As jou rugbyspan wen, prys die Here. Is dit omdat die Here net Sy kinders laat wen? Nee, maar as jy bly is oor iets, wees bly in die Here.

Die slegste dag vir 'n ateïs kom as hy bly is oor iets, en daar is niemand om te bedank nie. Ek en jy kan die Here loof vir absoluut alles in ons lewens.

En as dit by tye swaar gaan? Loof ook dan die Here! Want jy weet nie watter goeie dinge daar gaan uitkom nie; die Bybel sê hy laat alles ten goede meewerk en daarvoor kan ons Hom prys. Soos bv.:

· toe my vrou ’n miskraam gehad het. Dit was baie sleg, maar as ek nou terugkyk is dit reg, want anders sou ek mos nie die kinders gehad het wat ek nou het.
· toe ek my werk verloor het. Halleluja! Nou is ek my eie baas en ek wil dit nie anders hê nie.
· toe my pa oorlede is. Prys die Here! Want my pa het geloofsekerheid gehad en is in die hemel; hy het ’n  wonderlike voorbeeld vir ons nagelaat.

Komaan man! Kom ons leef in lof vir die Here. Prys sy Naam, nou en vir altyd!


 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)