RAAKVAT WOORDE UIT SPREUKE


Spreuke spreek van wysheid en insig. Salomo, wat die meeste Spreuke geskryf het, was ’n ou wat met spreektaal en metafore die lewe skerp kon raakvat. Soos my  vriend, GB, sê: dit lyk of Salomo  in die messelaai geslaap het. Vlymskerp! Salomo praat letterlik oor enige ding onder die son. As jy Spreuke ’n paar keer deurlees, sal jy nogal antwoorde op vrae kry wat jy dalk nie eers gevra het nie. Daar is boonop nog ’n lekker klomp humor ook. Ek glo enige mens wat Spreuke lees sal saamstem dat jy al hierdie waarhede vandag net so kan toepas soos in die tyd wat dit geskryf is.

Hier volg so ’n klompie van die raakvat woorde uit Spreuke:


Spr. 6:12-15
Dit is 'n nikswerd mens, 'n mens vol onreg, wat altyd reg is om te lieg, om te bedrieg deur met die oog te knik, met die voet te beduie, met die vingers tekens te gee, wat altyd met 'n skelmstreek kom en voortdurend op kwaad uit is. Hy maak moeilikheid waar hy gaan. So 'n mens se ondergang kom skielik; hy stort ineen, en daar is nie herstel nie.

Spr. 16:30
Wie met sy oog knik, wil die waarheid verdraai; wie sy lippe saampers, is vasbeslote oor 'n boosheid.

Klink dit nie bekend nie? Het jy ook  so ‘n wit leuentjie vertel, maar “orrels op die maan” gehou? Hoe waar is dit nie dat daar soveel mense is wat altyd daarop uit is om kwaad te doen.

Spr. 6:24-27
My onderrig sal jou beskerm teen die slegte vrou van 'n ander wat jou met haar gladde tong wil verlei. Moenie dat haar skoonheid jou begeerte wek nie, moenie dat sy jou vang met haar oë nie. Jy kan 'n prostituut kry vir 'n stuk brood, maar owerspel kan jou lewe kos. Kan jy kole vuur in die vou van jou klere inhark sonder dat jou klere aan die brand raak?

Spr. 6:32-35
Maar 'n man wat owerspel pleeg, moet van sy verstand af wees, iemand wat dit doen, verwoes sy lewe. Hy sal slae op die lyf loop en verneder word, sy skande sal nooit uitgewis word nie. Die woede van die vrou se man is 'n gloeiende vuur, sy wraak ken nie perke nie; hy laat hom nie afkoop nie, geen betaling is vir hom genoeg nie.

Salomo spreek hom dikwels uit teen die ontugtige vrou en oor owerspel, en hy waarsku sy “seun” deurentyd daarteen. Hy reken selfs dat die ou wat met ‘n ander man se vrou lol, ‘n stewige pak slae op die lyf sal loop.

Spr. 9 :13-18
Dwaasheid is soos 'n vrou wat luidrugtig bly klets, stadig van begrip en sonder kennis van sake. Sy sit by haar voordeur, haar stoel staan op die hoogste plek in die stad, en sy roep na dié wat verbykom, elkeen besig om sy gang te gaan: “Draai af hiernatoe, almal wat nog onervare is!” Sy sê vir dié wat kennis kortkom: “Gesteelde water is soet, kos wat stilletjies geëet word, is lekker!” Dié wat na haar luister, besef nie dat die dood self daar wag nie, dat dié wat hulle deur haar laat nooi het, klaar diep in die doderyk is nie.

Spr. 10:26
Soos asyn teen die tande, soos rook in die oë, so is 'n lui mens vir iemand wat hom 'n opdrag gee.

Spr. 19:15
Luiheid laat 'n mens diep slaap; 'n lui mens ly honger

Spr. 20:13
As jy nie wil arm word nie, moenie lief wees vir slaap nie; staan vroeg op, en jy sal oorgenoeg hê om te eet.

Spr. 22:13
Die lui mens sê: “Daar is 'n leeu daarbuite! Ek kan doodgemaak word as ek dit buite waag!”

Spr. 24:30-34
Ek het by 'n lui mens se land verbygestap, by 'n onverstandige mens se wingerd: dit was heeltemal oortrek van die onkruid, toegegroei onder die bossies, en die klipmuur was omgeval. Toe ek dit sien, het ek daaroor nagedink en daar iets uit geleer: nog 'n bietjie slaap, nog 'n bietjie sluimer, nog 'n bietjie handevou om te slaap, en daar kom jou armoede aangestap, daar oorval die gebrek jou soos 'n inbreker, sonder dat jy dit kan keer.

‘n Ander doodsteek vir Salomo is luiheid en hy kan dit verseker nie verdra nie. Miskien is Salomo se rykdom ook toe te skryf aan harde werk en vindingrykheid en daarom maan hy jou deurentyd om hard te werk as jy nie arm wil wees en swaar wil kry nie.

Spr. 11:22
Die skoonheid van 'n vrou sonder oordeel is soos 'n goue ring aan 'n vark se snoet.

Kostelik! Laat mens nogal dink. Ons weet mos dat iemand eerder mooi van binne moet wees as mooi van buite.

Spr. 12:18
Praat sonder om te dink kan soos dolksteke wees; wyse mense bring genesing met wat hulle sê.

Woorde.  Seker die gevaarlikste wapen wat jy kan kry. Wanneer iemand met ‘n dolk gesteek word bly die letsel vir ewig sit, net soos met woorde. Wat gesê is is gesê. Maar aan die ander kant is mooi woorde opbouend en genesend.

Spr. 13:7
Party mense hou hulle ryk maar het niks nie; party doen hulle arm voor maar besit baie.

Is dit nie baie waar nie? Mense wat hulleself die heel tyd met die Jones’e langsaan vergelyk, het nogal hierdie probleem. Hou van ryk lyk, maar betaal nie hulle rekeninge nie. Aan die ander kant is daar baie mense wat hulle welvaart in stilte geniet.

Spr. 14:12
Daar is 'n lewenswyse wat vir 'n mens reg kan lyk, maar die uiteinde daarvan is die dood.

Hierdie teks hou ‘n baie groot waarskuwing in. Mens kan maklik so rasionaliseer in die lewe dat jy glo jy kan maar maak wat jy wil, maar jy kan letterlik jou dood tegemoet gaan. Nie net jou aardse dood nie, maar ook jou lewe hierna kan in gedrang kom.

Spr. 15:16-17
Liewer min hê en die Here dien as groot rykdom en bekommernis daaroor.  Liewer net 'n bietjie groente en liefde daarby as 'n vetgemaakte os en haat daarby.

Spr. 17:1
Liewer 'n stukkie droë brood met vrede daarby as 'n huis vol kos met 'n getwis daarby.

Mense wat konstant agter rykdom aanhardloop het die probleem dat dit lewensgeluk steel, want die bekommernis waarvan hier gepraat word, is dat jy jou rykdom gaan verloor. Om agter rykdom aan te hardloop beteken noodwendig ook onnodige stres.

Spr. 16:13
Eerlike mense geniet die koning se goedgesindheid; hy hou van mense wat die waarheid praat.

Spr. 17:22
'n Vrolike mens is 'n gesonde mens, 'n neerslagtige mens raak uitgeput.

Kyk vir oomblik weg van die Bybel af en toets hierdie teks aan die hand van die lewe, en jy sal sien dat dit baie waar is. Vrolike mense geniet oor die algemeen beter gesondheid. Neerslagtige mense lei meer aan depressie en hartsiektes. Die Bybel kom bevestig eintlik die lewe op ‘n sigbare en tasbare manier.

Spr. 18:8
Skinderstories word gretig verslind; mense sluk dit so maklik.

Is dit nodig om iets meer hieroor te sê? Skinderbekke veroorsaak  geweldig baie pyn en ellende, sonder om te dink aan hulle woorde. Skinder is mos lekker, vernaam as jy so paar stertjies aanlas!

Spr. 18:13
Wie antwoord voor hy die vraag gehoor het, is dwaas en kom in die skande.

Al gehoor van die ou wat vir sy vrou gesê het: As ek jou mening wou hê, het ek dit vir jou gegee? Die Bybel noem so iemand tereg ‘n dwaas.

Spr. 18:24
Maats kan jou breek, maar daar kan ook 'n vriend wees wat nader is as 'n broer.

Spr. 27:10
Moenie by 'n vriend wat al jou pa se vriend was, verbygaan na jou broer se huis toe as jy moeilikheid het nie: 'n buurman wat naby is, is meer werd as 'n broer wat ver is.

Spr. 27:17
Yster slyp yster, vriende vorm mekaar

Hoewel daar baie slegte maats is, is daar ander wat werklik nader is as ‘n bloed broer. Ek glo elke mens het sulke vriende nodig, op wie hulle altyd kan steun.

Spr. 20:1
Wyn maak jou ligsinnig, drank laat jou lawaai maak; niemand wat van dronkenskap slinger, is verstandig nie.

Spr. 23:29-35
Wie is dit wat sug en steun, wat rusie maak en kla, onnodig seerkry en bloedbelope oë het? Dit is dié wat tot laat sit en drink, dié wat aanhou proe aan drank. Moenie dat die wyn jou verlei as dit so rooi is, so vonkel in die beker, so lekker smaak nie. Agterna pik hy soos 'n slang, spoeg hy gif soos 'n kobra. Dan sien jy vreemde dinge en praat jy verkeerde dinge; dit voel of jy op die oop see lê, of jy bo-op 'n seilskip se touwerk lê, en jy dink: ek het dan nie seergekry toe hulle my geslaan het nie; ek het nie gevoel toe hulle my aangeval het nie! Wanneer word ek wakker? Ek wil maar weer iets gaan soek om te drink.

Drank maak van die dronkaard ‘n walglike mens saam met wie niemand kan lewe nie.  Dit laat jou ‘n geraas maak, dit maak aggressief en jy verloor jou waardigheid.

Spr. 20:14
“Sleg! Sleg!” sê die koper, maar as hy weg is, spog hy met sy winskopie.

In die besigheids wêreld gebeur hierdie ding daagliks. Die rykste mense kla die meeste oor prys, maar spog graag met hulle winskopies, sonder om te dink dat hulle die handelaar te na kom. Dit maak in elk geval nie vir hulle saak nie, want hulle word verblind deur hulle inhaligheid.

Spr. 20:30
'n Pak slae laat 'n mens ophou kwaaddoen; dit laat jou selfs ophou dink aan kwaad.

Spr. 21:9
Liewer bo-op 'n dak woon as saam met 'n twisgierige vrou onder een dak.

Spr. 21:19
Liewer in 'n woestyn woon as by 'n twisgierige vrou wat aanhou neul.

Spr. 27:15-16
Die gedrup uit 'n dak wat lek op 'n reëndag, so is 'n vrou wat aanhou kyf. Wie haar probeer keer, kan net so wel die wind probeer keer of olie met sy hand probeer vashou.

Met sy 300 vroue en menige byvroue kan Salomo seker praat van ondervinding. Nie eers te praat van sy 300 skoonma’s nie! Ons moet egter nie hierdie teks misbruik teen die vroulike geslag nie, want dis net so waar vir mans.

Spr. 23:6-7
Moenie by 'n suinige mens gaan eet nie, moenie sy lekker kos begeer nie, want hy bly uitreken hoeveel dit hom kos. Dit is hoe hy is. Hy moedig jou aan om te eet en te drink, maar hy bedoel dit nie. Jy sal naar word van wat jy eet en jou komplimente sal verkwis wees.

Spr. 24:19-20
Moet jou nie ontstel oor skelms, jou kwel oor goddelose mense nie, want 'n slegte mens het nie 'n toekoms nie; die lewenslig van die goddeloses word uitgedoof.

Ons  almal sukkel maar met hierdie een. Ons vra dikwels hoekom dit so goed gaan met die skelm mens en sleg gaan met die eerlikes. Die Here gee egter hier die antwoord. Hulle het geen toekoms nie. Gaan toets dit maar in die lewe, mense wat hierdie lewe kies, eindig altyd miserabel of selfs dood.

Spr. 24:26
Iemand wat eerlik antwoord, is 'n ware vriend.

‘n Goeie vriend sal altyd sy eerlike mening gee en nie net sê wat die ander een graag wil hoor nie., want dan help jy hom van die wal af in die sloot. ‘n Goeie vriend is juis ‘n klankbord waarop jy kan staatmaak.


Spr. 25:16
As jy op heuning afkom, eet net tot jy genoeg het; as jy te veel eet, word jy naar.

Dit geld ook vir sjokolade!

Spr. 25:17
Wees spaarsaam met jou kuiers by jou buurman; as hy jou te veel sien, hou hy naderhand nie meer van jou nie.

Spr. 25:20
Iemand wat jou klere van jou afvat op 'n koue dag, of asyn op bytsoda, so is iemand wat vir jou liedjies sing as jy treurig voel.

Mens dink maklik dat jy iemand opbeur met vrolikheid, maar dit het soms die teenoorgestelde uitwerking. Partymaal is ‘n drukkie meer werd as om te maak of daar niks fout is nie.

Spr. 26:3
'n Sweep vir 'n perd, 'n toom vir 'n donkie, en 'n lat vir 'n dwaas.

Spr. 26:4-5
Moenie 'n dwaas se vraag op net so 'n dwase manier beantwoord nie; hy sal dink jy is soos hy. Beantwoord 'n dwaas se vraag op net so 'n dwase manier, anders dink hy hy het wysheid.

Dwaasheid staan teenoor wysheid. Mense wat hulle met dwaasheid ophou, stoot mense van hulle af weg, en wys op die koop toe dat hulle nie goeie oordeel het nie.

Spr. 30:20
Die ontroue vrou het haar eie manier: sy eet en vee haar mond af en sê: “Ek het niks verkeerds gedoen nie.”

Spr. 26:18-19
Soos 'n mal mens wat dodelike pyle rondskiet, so is iemand wat 'n ander bedrieg en sê: “Ek speel sommer.”

As kinders het ons hierdie woorde graag gebruik, maar dit maak soms baie skade.

Spr. 27:14
As iemand sy buurman vroegdag met 'n geskreeu môre-sê, kan mense dink hy is besig om hom te vervloek.

Spr. 30:7-9
Net twee dinge vra ek van U; moet my dit tog nie weier nie; daarna kan ek sterf: moenie toelaat dat ek vals is en lieg nie; moet my nie arm maak of ryk nie, gee my net die kos wat ek nodig het, sodat ek nie te veel het en U verloën en sê: “Wie is die Here?” nie, en sodat ek nie arm word en steel en my God se Naam oneer aandoen nie.

Genoeg is genoeg. Weet jy hoeveel genoeg is?
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)