| 
              
			 Daar 
			is so baie plekke in die Bybel waar ons kan lees wat God se 
			bedoeling vir ons lewens is. Hoe wil die Here hê moet ons dag vir 
			dag leef? Jesus se koms aarde toe het vir ons alles geleer wat ons 
			nodig het. Maar die Bybel in sy geheel is die totale rigtingwyser 
			wat ons nodig het om 'n goeie, sinvolle bestaan te voer. Niks meer 
			is nodig nie, alles is daar. Ja, selfs ongelowiges sal maklik verwys 
			na die sogenaamde Goeie Boek. Inderdaad is daar niks anders wat die 
			Bybel in hierdie konteks verbysteek nie. As jy enige enkele skrywer 
			oor boeke, opvoedingsboeke, kinderboeke, besigheidsetiek, 
			verhoudinge, of wat ook al jy in die hande kan kry, bymekaar sit, 
			sal dit steeds nie die Bybel oortref nie. Niks kan die insig, of 
			wysheid van die Woord van God in die skadu stel nie. 
			 
			Die Bybel is ons rigtingwyser in die lewe soos wat padtekens op die 
			pad ons aanwysers is. Soos jy dalk nou ry, gaan jy verby baie 
			padtekens, wat daar gestel is om die beste padgebruik te verseker. 
			Daar is waarskuwingstekens, inligtingstekens, reëlingstekens, 
			gevaartekens wat wys waar en hoe ons moet beweeg. Hierdie tekens se 
			doel is nie om ons te frustreer nie, maar om orde op die pad te 
			verseker. 
			As ons almal al hierdie reëls nakom, kan daar bykans 
			niks verkeerd loop nie. So gee die Bybel vir ons al hierdie reëls en 
			rigtingwysers vir dieselfde doel. Jy sien, mense sien hierdie dinge 
			verkeerdelik as wettiese handelinge - om weer die wet getrou en 
			slaafs na te volg, maar dis nie die bedoeling nie. Die Bybel vertel 
			vir ons wat nodig is om 'n goeie sinvolle bestaan te maak. Dis nie 
			om ons te straf nie, dis om ons te lei. Die Here het net die beste 
			vir ons in gedagte. 
			Soos jy ry, sien jy hordes padtekens. Van nou af, as 
			jy 'n padteken sien, probeer om dit te vergeestelik en kyk watter 
			interessante dinge gaan jy besef. 
			1. Roete-aanwyser: Dit is so 'n blou bord met 
			inligting. Joh 14 : 6 "Jesus het vir hom gesê, Ek is die weg en 
			die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur 
			My nie." As Jesus sê "Ek is die weg", dan bedoel hierdie bord 
			dat Jesus die pad is wat na die Vader lei. Geen ander pad gaan jou 
			daar bring nie. Jesus sê duidelik dat nét hierdie roete jou daar 
			gaan bring. Daar is geen ompad, kortpad, lang pad, snelweg, niks 
			anders wat soontoe lei nie. 
			 
			2. Parkeer teken.  
			Luk 10 : 38 - 42 
			38 Op hulle reis het Jesus in 'n dorp gekom waar 'n vrou, Marta, 
			Hom as gas ontvang het. 
			39 Sy het 'n suster gehad, Maria, wat aan die voete van die Here 
			gaan sit en na sy woorde geluister het. 
			40 Maar Marta was baie bedrywig om alles klaar te maak. Sy kom toe 
			daar staan en sê: "Here, hinder dit U nie dat my suster my alleen 
			laat bedien nie? Sê sy moet my kom help!" 
			41 Maar die Here antwoord haar: "Marta, Marta, jy is besorg en 
			bekommerd oor baie dinge, 
			42 maar net een ding is nodig. Maria het die beste deel gekies, en 
			dit sal nie van haar weggeneem word nie." 
			Soms wil die Here hê ons moet net so bietjie by Sy 
			voete kom sit en rustig raak. Stil word saam met Hom en net Sy 
			teenwoordigheid geniet. Stiltetyd saam met die Here is soos om te 
			parkeer in Sy teenwoordigheid en net Sy teenwoordigheid te geniet. 
			3. Stilhou verbode. Moenie hier stop nie, nie 
			eers stilhou nie. Hou net verby. 
			Spr 6 : 24 - 35 
			24 My onderrig sal jou beskerm teen die slegte vrou van 'n ander 
			wat jou met haar gladde tong wil verlei. 
			25 Moenie dat haar skoonheid jou begeerte wek nie, moenie dat sy jou 
			vang met haar oë nie. 
			26 Jy kan 'n prostituut kry vir 'n stuk brood, maar owerspel kan jou 
			lewe kos. 
			27 Kan jy kole vuur in die vou van jou klere inhark sonder dat jou 
			klere aan die brand raak? 
			28 Kan jy op brandende kole loop sonder dat jy jou voete verbrand? 
			29 Net so min kan jy by 'n ander man se vrou slaap sonder om gestraf 
			te word, jy sal nie vry kom as jy met haar lol nie. 
			30 'n Dief word verag as hy steel, ook al steel hy om sy honger te 
			stil, 
			31 en as hy uitgevind word, moet hy sewevoudig teruggee, selfs al 
			kos dit hom alles wat hy besit. 
			32 Maar 'n man wat owerspel pleeg, moet van sy verstand af wees, 
			iemand wat dit doen, verwoes sy lewe. 
			33 Hy sal slae op die lyf loop en verneder word, sy skande sal nooit 
			uitgewis word nie. 
			34 Die woede van die vrou se man is 'n gloeiende vuur, sy wraak ken 
			nie perke nie; 
			35 hy laat hom nie afkoop nie, geen betaling is vir hom genoeg nie. 
			Sjoe, hierdie waarskuwing is hard. Daar is baie 
			dinge in die Bybel wat die Here nie toelaat nie, soos in Sy wet 
			uiteengesit. Dit is alles waarskuwings wat sê "moenie". Hier lees 
			ons in Spreuke van 'n element van die lewe waarvoor ons so versigtig 
			moet wees. Die boodskap is duidelik: "Moenie". 
			4. Waarkuwingsteken - Rivieroewer. Ek 
			sien nou die dag so 'n teken met 'n karretjie wat in die water val. 
			Spr 14 : 12 "Daar is 'n lewenswyse wat vir 'n 
			mens reg kan lyk, maar die uiteinde daarvan is die dood". 
			Hieroor kan ons sekerlik vir 'n paar dae praat. 
			Soveel mense wie se lewe op 'n ramp afstuur, maar hulle leef asof 
			hulle dit nie weet nie. Sagte misdaad, wit leuens, ietsie vaslê of 
			vat wat nie joune is nie. Baie dinge wat mense doen wat hulle 
			oënskynlik nie weet verkeerd is nie. Dalk ken jy ook so iemand wat 
			jy sê hierdie persoon gaan nog in die tronk land - of 'n vroeë dood 
			tegemoet gaan. Almal waarsku, maar hulle luister nie, en hulle weet 
			klaarblyklik nie waarheen hulle op pad is nie. 'n Lewenswyse wat reg 
			mag lyk, maar die uiteinde is die dood. 
			5. Nou ja, die lewe is darem nie net vol swaar 
			goeters nie, nee wat, die Here het ook die lekker vir ons in 
			gedagte. Soek bv dié teken:  
			 
			Inligtingsteken - die bruine wat wys daar is 'n restaurant 
			voor. 
			Pred 2 : 24 - 26a 
			24 Dit is nie aan die mens self te danke dat hy kan eet en drink 
			en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet nie. Ek het ingesien 
			dat dit 'n gawe uit die hand van God is. 
			25 Wie kan eet, wie kan geniet as Hy dit nie moontlik maak nie? 
			26 Vir die mens met wie se lewe God tevrede is, gee Hy wysheid, 
			kennis en blydskap 
			En so wys die Here ook vir ons dat Hy die goeie en 
			die lekker van die lewe vir ons bedoel en ons mag dit geniet. 
			6. Waarskuwing: Oppas vir diere Het jy al so 
			'n  bord langs die pad gesien wat sê jy moet oppas vir diere? 
			Spr 12 : 10 "Die regverdige sorg goed vir sy 
			diere, maar die goddeloses is wreed". 
			So maak die Here ook vir die res van Sy skepping 
			voorsiening. 
			 
			7. T-aansluiting, Toegeeteken, Geen U-draai, Hobbelpad Die 
			Here weet in alle opsigte wat die beste vir ons is. Soms kom ons by 
			'n T-aansluiting, dan moet ons keuses maak. Links of regs. Dis die 
			Here wat vir ons die oordeel leer om reg te kies. Dalk sê die 
			toegeeteken vir ons om ons medemense eerste te stel. Draai die ander 
			wang. Geen U-draai sê dat as ons vir die Here gekies het, draai ons 
			nie weer om nie. Hobbelpad voor maak voorsiening daarvoor dat ons 
			soms bietjie gaan swaarkry, maar die Here kry ons daardeur. 
			8. Padvernouing Hierdie teken herinner ons 
			dat die weg na saligheid 'n smal weg is. Soms bietjie moeilik, maar 
			die uiteinde is salig. 
			 
			Kom ons gehoorsaam die Here en ons lees die padtekens van die lewe. 
			Dis wat die Here vir ons gee sodat ons  die beste van die lewe kan 
			hê. 
			As almal gehoorsaam is, is daar geen probleme nie. 
			Dan gee die Here vir ons die LEWE en dit in oorvloed. 
   |