ROTS OF STRUIKELBLOK


Rom 9:13 Daar staan ook geskrywe: “Vir Jakob het Ek liefgehad, maar vir Esau het Ek gehaat. Die besluit van God is gegrond op uitverkiesing; dit hang dus nie af van wat ‘n mens doen nie, maar van Hom wat jou roep”  

Uitverkiesing is ‘n baie moeilike konsep. Omdat ek dit self nie eintlik verstaan nie, wil ek nie myself hieroor te veel probeer uitlaat nie. Maar, hier in Romeine 9 lees ons ‘n klompie wonderlike gedagtes oor God se raadsplan. Dis ‘n Bybelgedeelte wat baie van ons nie verstaan nie, maar tog is dit ‘n deel waarin God se soewereiniteit so duidelik uitkom. Voordat ons kyk na Rom 9, wil ek jou vra: “Bevraagteken jy ook soms die Here wanneer Hy besluite neem wat ons nie verstaan nie? En in hierdie geval, wanneer Hy besluit om Hom te ontferm oor partye wat ons glo dit nie werd is nie. Of mense wie ons dink nie God se ontferming verdien nie. Het jy al ‘n wenkbrou gelig as iemand in die tronk tot bekering kom? Dan dink mens: Ja, jong, lekker gerieflik – nes jy in die moeilikheid kom wil jy kamtig gou-gou die Here aanneem. Of as ons dink ander bevolkingsgroepe wil in dieselfde heerlikheid as ons deel. So asof ons jaloers is op “ons” hemel. En in die ou dae (en dalk vandag nog..?) ons “wit” hemel. 

Rom 9:1-8, 13-18
In my verbondenheid met Christus praat ek die waarheid, ek lieg nie; en my gewete, wat deur die Heilige Gees gelei word, getuig saam met my dat daar by my groot droefheid en voortdurende hartseer is oor my broers, my eie volksgenote. Ek sou self vervloek wou wees, afgesny van Christus, as dit tot hulle voordeel kon wees. Hulle is tog Israeliete; vir hulle het God as sy kinders aangeneem en in sy heerlikheid was Hy by hulle; met hulle het Hy die verbonde gesluit en aan hulle die wet van Moses gegee, asook die tempeldiens en die beloftes; hulle stam van die aartsvaders af, en uit hulle is die Christus as mens gebore - Hy wat God is, verhewe bo alles en lofwaardig vir ewig! Amen. Dit wil nie sê dat die woord van God nie meer geld nie. Immers, nie almal wat van Israel afstam, is werklik Israel nie; en nie almal wat nakomelinge van Abraham is, is werklik kinders van Abraham nie. Inteendeel, die belofte was: "Uit Isak sal daar vir jou 'n nageslag kom." Dit wil sê: Dit is nie die kinders wat in die gewone gang van die lewe gebore is, wat kinders van God is nie; dit is die kinders wat kragtens die belofte van God gebore is, wat as Abraham se nageslag gereken word.  

Toe haar kinders nog nie gebore was nie en ook nog niks goeds of kwaads gedoen het nie, toe is al vir haar gesê: "Die oudste sal die jongste dien." Daar staan ook geskrywe: “Vir Jakob het Ek liefgehad, maar vir Esau het Ek gehaat. Die besluit van God is gegrond op uitverkiesing; dit hang dus nie af van wat ‘n mens doen nie, maar van Hom wat jou roep” Wat moet ons hieruit aflei? Dat God onregverdig is? Beslis nie! Vir Moses het Hy gesê: "Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees, en Ek sal My ontferm oor wie Ek My wil ontferm."  Dit hang dus nie af van 'n mens se wil of strewe nie, maar van God wat barmhartig is. In die Skrif sê God immers vir die farao: "Juis hiervoor het Ek jou teen My in opstand laat kom: dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam oor die hele aarde verkondig kan word."  Dit is dus inderdaad so dat God Hom ontferm oor wie Hy wil, en dat Hy verhard wie Hy wil.  

Lekker moeilike gedeelte, of hoe? Hoe kan ons dan verstaan wie God se kinders kan wees en wie nie? 

Rom 9:19-24
Nou sal jy vir my sê: "Maar waarom verwyt Hy ons dan nog? Wie kan tog teen sy wil ingaan?" Mens, wie is jy per slot van rekening dat jy met God wil redeneer? Hoe kan die maaksel vir sy maker sê: "Waarom het jy my so gemaak?" Het die pottebakker nie die reg om uit dieselfde klomp klei iets besonders én iets alledaags te maak nie? En as God dieselfde wou doen? Hy wou sy toorn laat sien en sy mag bekend maak. Daarom het Hy die voorwerpe van sy toorn, die mense wat reg was om verdelg te word, met groot geduld verdra. So sou Hy ook die rykdom van sy heerlikheid bekend maak oor die voorwerpe van sy ontferming, die mense wat Hy vantevore voorberei het om aan sy heerlikheid deel te hê. En onder hulle is ook ons, wat Hy nie net uit die Jode nie, maar ook uit die ander nasies geroep het. 

Nou ja, dis duidelik dat die Here doen wat Hy wil. In Matt 7:14 lees ons “Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry is min”. Nou lyk dit of die siele-oes vir God se koninkryk aan die minderheidskant is. Hoe werk dit dan? As dit lyk of God dan vooraf al die besluit geneem het wie Hy wil red, hoe weet ek of ek deel is? Jy onthou mos hoe ons geglo het toe ons jonk was: regte velkleur, regte kerk, en daar gaat jy! Vir my was dit so half ‘n uitgemaakte saak. Dan is daar weer ander wat sê: nee, jy doen nie reg nie, onderhou nie die wet nie, en leef nie nougeset genoeg nie, en daarom sal julle dit nie maak nie. Dit lyk dan boonop vir my God doen wat Hy wil. Is dit so? Of is daar iets wat ons miskyk? Een groep soek saligheid, maar kry dit nie. ‘n Ander groep wil dit verdien, maar kry nie genoeg gedoen nie, en God besluit wat Hy wil doen … waar los dit ons? 

Rom 9:25
So sê Hy dan ook in die boek Hosea: "Hulle wat nie my volk is nie, sal Ek roep om my volk te wees, en haar wat geen liefde ontvang het nie, om my geliefde te wees." 

Wie kies Hy toe? 

Rom 9:30-33
Wat is nou ons gevolgtrekking? Dít: heidene het nie God se vryspraak gesoek nie, maar dit wel gekry - die vryspraak deur die geloof. Israel, daarenteen, het 'n wet gesoek waardeur hulle God se vryspraak sou kon kry, maar by so 'n wet het hulle nie uitgekom nie. Waarom kon hulle nie die vryspraak kry nie? Omdat hulle nie op die geloof wou bou nie, maar op hulle eie prestasies. Hulle het oor die struikelblok gestruikel waarvan daar geskrywe staan: "Kyk, Ek sit in Sion 'n klip neer waaroor 'n mens struikel, 'n rots waarteen jy jou stamp, maar wie in Hom glo, sal nie teleurgestel word nie."
 

Die Israeliete soek vir hulle ‘n wet wat goed genoeg is, en kry dit nie. Die Heidene, daarenteen, soek nie ‘n wet nie, probeer nie om dit te verdien nie, maak nie staat op hulle eie prestasies nie (vers 32), en kry die vryspraak deur geloof in Christus. Die heidene was die groep onder wie Paulus die meeste van sy werk gedoen het. Hulle kry dit, sonder verdienste, want hulle snap toe wat genade beteken. Die Israeliete aan die anderkant soek ‘n wet. Die Jode soek nou nog ‘n wet. Jy sien, die wet hang af van jou eie prestasies. Die Fariseërs, wat hierdie afgryslike, ondraaglike laste op die mense gepak het, het die vreemdste rituele probeer nakom, maar hulle kon dit nie maak nie. Kyk wat sê vers 33: “Ek sit in Sion ‘n klip neer, waaroor ‘n mens struikel, ‘n rots waarteen jy jou stamp …” Daardie rots is Jesus Christus. Hy is dáár, vir party is Hy ‘n rots, vir ander ‘n struikelblok. Maar Hy is altyd daar. As Hy vir jou ‘n aanstoot is, sal jy teen Hom stamp, en oor Hom struikel. Iets wat jou aanhoudend sal konfronteer, altyd in die pad. Maar … as jy kies, word die struikelblok ‘n rots; ‘n anker, standvastig, ‘n steunpilaar. Altyd daar. Of in die pad, of iets wat jou hoop sal gee. 

Rom 9:33(b) “.. maar wie in Hom glo, sal nie teleurgestel word nie”. Belofte! Nou wat nou van hierdie Israeliete? Hierdie volk. Uitverkies of verlore? Ek dink ons moet volk en individu van mekaar skei.  Kyk hoe persoonlik raak dit in Rom 10:10-13: Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered. Die Skrif sê tog: "Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie." "Niemand nie!" Dit maak dus geen verskil of 'n mens 'n Jood of 'n Griek is nie, want dieselfde Here is Here van almal, en Hy seën almal wat Hom aanroep, ryklik, want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.  

Jood of Griek, swart of wit, Amerikaner of Afrikaner – almal kwalifiseer, solank jy nie ‘n wet soek wat dit vir jou kan doen nie. Nou, as iemand dan nog ‘n wet soek, en dis iemand wat jy ken, is dit dalk tyd om vir daardie persoon reg te help. Dalk het jy so ‘n stukkie sendingveld by die huis, of by die werk, of daar op die golfbaan … 

Rom 10:14-15
Maar hoe kan 'n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? Daar staan ook geskrywe: "Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring."
 

Dit gee vir ons elkeen ‘n opdrag om te gaan vertel – gaan sê vir hulle dis nét geloof. 

Rom 10:20(b)
"Ek het My laat vind deur mense wat My nie gesoek het nie, Ek het verskyn aan mense wat nie na My gevra het nie." 

…. Rots of struikelblok?
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)