RYKDOM EN WELVAART


Rykdom vs. welvaart - 'n netelige onderwerp! Dit lyk lyk vir my of Jesus op 'n klomp plekke in die Bybel redelik uitgesproke is teenoor rykdom.

Matt 6 : 24: "Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal of die een minder a g en die ander een hoër, of vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God en Mammon dien nie"

Ek het baie gewonder, hoe is dit dan dat ons dikwels (veral in die Ou Testament) rykdom as God se seën sien, maar Jesus spreek hom so uit teenoor rykdom. Ek glo nie per definisie dat dit vir Jesus gegaan het oor rykdom as sulks nie, maar materialisme en gierigheid. As ons in hierdie konteks daarna kyk, dan is daar skrikwekkend baie waarskuwings daarteen. Ons hoef nie net na die Bybel te kyk om die resultaat van materialisme te sien nie. Dit lê oral om ons.

Hoekom waarsku Jesus so ernstig oor geld, goeters, besittings? Hy gaan eintlik sovêr om dit af te speel teenoor die ewige lewe!

Jak 4 : 1 - 3 Waar kom die stryd vandaan, waar kom die rusies onder julle vandaan? Kom dit nie van julle selfsugtige begeertes wat gedurig binne-in julle woed nie? 2 Julle wil dinge hê, maar kry dit nie en wil dan moord pleeg; julle is jaloers op 'n ander man se goed en kan dit nie in die hande kry nie en dan maak julle rusie en baklei julle. Julle kry nie, omdat julle nie bid nie. 3 As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig.

Ek dink Jakobus slaan die spyker op die kop. Julle wil dinge hê en kry dit nie, dan wil julle moord pleeg. Ek wonder as ons statistiek sou sien oor die persentasie van misdade wat gepleeg word oor die materiële, wat dit sou wees. Diefstal, bedrog, witboordjie misdade, geldwassery - so kan ons opnoem. Dit is alles misdade wat spruit uit die mens se siek begeerte na meer en beter.

Dit lyk inderdaad of ons 'n groot probleem in ons samelewing het hiermee. Wat is rykdom? Iemand sê: "dis dit wat jy het wat meer is as wat jy absoluut nodig het om van te lewe". 'n Ander som dit so op: "Die rykste persoon tussen enige twee mense, is die een wat die meeste gedoen kry met wat hy het".

Die meeste van ons is inderdaad (relatief gesproke) nogal redelik welaf, want daar is altyd iemand armer as jy. Hoekom is dit dan dat ons nooit genoeg kry nie? Ek lees 'n boekie oor geld wat begin deur te sê: almal van ons het gemiddeld 10% te min. Iemand spog daarmee dat die eerste R74000 per maand net gate toestop - hy het ook te min.

Ek het nou die dag ’n baie welaf persoon hoor sê:  "Ek weet nie wat jy besit nie, of hoe dit met jou geldsake gaan nie, wees tevrede met wat jy het. Ek het gesien dat die rykstes nie een genoeg nie en jaag na nog meer”.

Joh 10 : 10:- "Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed".

Hoekom koppel ons geld en goed aan die oorvloed wat in hierdie teks genoem word? Wat van oorvloed gesondheid, oorvloed wysheid, insig, liefde, vreugde, vrede, geluk, respek? Dis tog seker baie meer werd as besittings?

Pred 5 : 9 waarsku:- "Die mens vir wie geld alles is, het nooit genoeg geld nie; die mens vir wie rykdom alles is, kry nooit genoeg nie". 
Jy kan baie gou agterkom as 'n persoon hieraan ly - dis al waaroor hy praat. Praat sommer maklik uit sy beursie uit.

Wat is Jesus se teenvoeter?

Openb 3 : 17 - 19 Julle sê: Ons is ryk, skatryk, en ons het niks meer nodig nie, en julle weet nie dat julle ellendig en beklaenswaardig is nie, arm, blind en kaal. 18 Daarom raai Ek julle aan om by My goud te koop wat deur vuur gelouter is, sodat julle ryk kan word; en koop wit klere, sodat julle julle kan aantrek en julle skande, julle naaktheid, nie gesien word nie; en koop oogsalf om aan julle oë te smeer, sodat julle kan sien. 19 Ek bestraf en tug elkeen wat Ek liefhet. Laat dit dan vir julle erns wees en bekeer julle.

Ons is ryk, skatryk.

Matt 6 : 19 - 20 Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. 20 Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie.

Vers 21: "Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees".

Hoe leef ons met wat ons het? Leef só dat jy iets het om vir armes te gee.

Mal 3: "Bring die volle tiende" - daar word gesê wat met 10% moet gebeur, maar nie met die ander 90% nie. Daarvoor vra die Here vir ons rentmeesterskap.

Materialisme het 'n prys, soms 'n baie duur prys. Duur motors wat ons soms net 'n half uur per dag gebruik, 'n deftige huis, maar ons moet sulke lang ure werk om dit te betaal, dat daar geen tyd oor is om dit te geniet nie.

Is dit nie maar deel van die probleem in ons samelewing vandag nie? Pa (en ma) werk so hard om bo uit te kom, dat ons ons gesinne vernietig, en nie ouers vir ons kinders is nie. Ons geniet nie ons kinders nie, gee geen tyd vir hulle nie. Wat doen ons dan? Ons "flood" hulle met geld, wat dan nog meer probleme bring en berei hulle voor vir 'n volgende generasie met materialistiese probleme.

Wat is genoeg? Spr 30 : 8 - 9 moenie toelaat dat ek vals is en lieg nie; moet my nie arm maak of ryk nie, gee my net die kos wat ek nodig het, 9 sodat ek nie te veel het en U verloën en sê: Wie is die Here? nie, en sodat ek nie arm word en steel en my God se Naam oneer aandoen nie.

Kom ons tel ons seëninge en ons bid dat die Here vir ons balans en tevredenheid sal leer.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)