SKATTE IN DIE HEMEL VS SKATTE OP DIE AARDE


Hoe lyk jou bankbalans? Wat is jou netto bates? Is jy besig om toe te neem in waarde? Hoeveel rekeninge het jy? En waar is hulle? Nou ja, ek hoop nie jou antwoorde klink so hoop loos, en hopeloos soos myne nie! Dis geen kuns om 'n klomp rekeninge te hê nie, die truuk is om iets daarbinne te hê. Wat sal ons dit noem? So 'n ou neseiertjie? Baie van ons is mos meer werd dood as lewendig. Moenie sleg voel nie, jy moet dit alles net reg verwoord, dan klink dit nie so negatief nie. Jy moet net sê jy het 'n klomp hoë profiel vennote. Jy bly in Absa se huis, ry met Wesbank se kar, slaap op OK se bed, loop op sus en so se matte. En ja, koop maandeliks jou kruideniersware saam met die en daai se kredietfasiliteit. En betaal sommer die maand se kruideniersware oor ses maande af. Volgende maand begin jy weer. Die finansiering stelsel maak dat jy tegnies heeltemal bankrot is, en soos 'n koning leef. Nou ja, nou kom die vraag: Waaraan spandeer ons ons tyd en geld? En waarin neem ons netto waarde toe?

Matt 6 : 16 - 21 en 24 As julle vas, moet julle nie soos skynheiliges met lang gesigte rondloop nie. Hulle mismaak hulle gesigte sodat die mense kan sien dat hulle vas. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg. 17 Nee, as jy vas, versorg jou hare en was jou gesig 18 sodat niemand kan sien dat jy vas nie, behalwe jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon. 19 Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. 20 Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie. 21 Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.

Matt 6 : 24 Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie.

Daar is 'n hele klomp dinge wat ons hier raaklees. Dit lyk vir my of Jesus hierdie twee dinge lynreg teenoor mekaar stel wanneer Hy praat oor God en Mammon. Dus, dis die een of die ander. Wat Jesus eintlik sê is dat ons moet bou aan die regte rekening. Ons moet die bates opstapel in die hemel se rekening. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar! Dan gebruik Hy 'n oulike sinsnede: "Waar mot en roes dit nie verniel nie". Alles wat ons hier op aarde versamel, is aan mot en roes blootgestel. Daardie blink 4X4 (hoor nou my jaloesie), sal nie 100 jaar nie van nou af weggeroes wees! En daardie ou pelsjassie in die klerekassie, sal ook daarmee heen wees. En daardie mooi dubbelverdieping - hy sal staan, lánk nadat ek en jy stof geword het. Jy sien, of jou goed oorleef jou, of jy oorleef jou goed, maar niks, maar niks sal met jou saamgaan nie! Dink gou saam met my - wees baie eerlik! Sê nou jy kan iets kies wat hulle in jou kis moet sit as jy doodgaan. Wat sal dit wees? Wat moet hulle vir jou aantrek? Nee wat, alles bly agter. En tog, is besittings vir ons van die heel belangrikste dinge in ons lewe. Of hoe? Daardie batestaat. Om te kan sê "hoe sterk" ek finansieel is. En hoe onafhanklik ek is. Kyk in niemand se oë nie, vra vir niemand niks.

Dit alles terwyl ons geestelik bankrot is, met niks in die hemelse rekening nie. Al wat ons besit is hierdie materiële dinge hier op aarde. Dan kom daar die een of ander 'n siektetoestand, en al die geld in die wêreld help niks. En dan gaan ons dalk heeltemal bankrot die hiernamaals in. Ons is nou maar eenmaal pateties. Of hoe?

Matt 6 : 21 "Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees". En dít, sê alles. Waar jou skat is…… Waar is my en jou skatte? Dis nie verkeerd om bates op te bou nie - verseker nie. Ons is almal fisies stinkryk! Jy moet net met die regte mense vergelyk. Die vraag is: Waar is die balans?

Pred 5 : 9 "Die mens vir wie geld alles is, het nooit genoeg geld nie …. Die mens vir wie rykdom alles is, kry nooit genoeg in nie". Is dit nie skrikwekkend waar nie? Die aardse rekening word volgestop en die hemelse rekening bly leeg. So asof die groot Bankbestuurder (God) nie gaan rekenskap eis nie. En jy sien, hierdie wanbalans beïnvloed nie net ons saligheid nie. Dit beïnvloed die mense rondom ons, vir wie ons kwansuis so lief is, dikwels die meeste. Pa en ma: Wat sal jou kind kies as hulle die laaste keuse het? Vir jou, of die skatte wat jy huis toe bring, so bietjie laat in die nag en naweke. Dit is baie lekker om hierdie aardse bankstaat te trek en mooi syfers te sien, maar hoe lyk die hemelse bankstaat?

My vriend, ek en jy het nie 'n idee wat dit eendag gaan beteken as ons die hemelse saldo sien, en dis leeg nie. "No heavenly pension - for ever!" Wanneer is genoeg genoeg?

Spr 30 : 9 ...sodat ek nie te veel het en U verloën en sê: Wie is die Here? nie, en sodat ek nie arm word en steel en my God se Naam oneer aandoen nie.

Sien jy die balans. Dis nie ek wat die een teenoor die ander stel nie. Dis die Here!

Hoe kan ek en jy dan skatte in die hemel bymekaar maak? Die goeie nuus is: dis verniet; dis soos 'n erfporsie.

Rom 6 : 23 "Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus."

Matt 10 : 40 - 42
Wie julle ontvang, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het. 41 Wie 'n profeet ontvang omdat hy 'n profeet is, sal 'n profeet se beloning ontvang; en wie 'n goeie mens ontvang omdat hy goed is, sal 'n goeie mens se beloning ontvang. 42 Wie aan een van hierdie geringstes net 'n beker koue water gee omdat hy my dissipel is, sál sy beloning kry. Dit verseker Ek julle.

Dit lyk my Jesus praat tog hier van 'n fisiese beloning. Jesus het baie keer gesê dat ek en jy nie net vir onsself kan leef nie. Ons aardse rykdom is nie net ons eie nie. Dit wat ek en jy het, is genade. Jy het hard gewerk en slim jou transaksies gepleeg, maar wie se suurstof het jy ingeasem? Wie het jou hart laat klop? Die Here gun ons alles, solank daar 'n balans is. Werk gerus hier op aarde om te leef, maar spaar in die hemelse rekening, om te blý leef - op die regte plek.

Wat vat ons saam hiernamaals toe? Niks? Nee, dis nie waar nie. Onthou jy die liedjie: "Moet ek gaan met leë hande, moet ek so my Heer ontmoet. Nie een siel na Hom gelei nie, niks te offer, aan Sy voet". Dis geestelike bankrotskap! Kom ons spaar "Offshore" waar inflasie en bankkoste nie ons belegging opvreet nie.

Ek het min nodig van hierdie goeters waaraan ek sóveel tyd bestee, dit waarvoor ek nou so hard werk, dit wat blootgestel is aan vernietiging deur mot en roes. Spaar by Jesus, die woning is 'n paleis, die verblyf is baie meer as vyfster. Die beleggings se waarde neem by die dag toe – dis die moeite werd!
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)