Het
jy as kind ooit weggeraak? Miskien by die skougronde of by 'n
rugbywedstryd, of in 'n winkelsentrum? Een oomblik nog by Ma en Pa,
dwaal so bietjie eenkant toe en dan is almal net weg. Skoonveld!
Eers is daar bietjie onsekerheid, maar dan tree volslae paniek in,
jy kyk rond, begin eers saggies roep en probeer om tussen die
malende massas iemand te herken. Dan begin jy skreeu uit volle bors!
Dit terwyl jy net heuphoogte kan sien. Ek het nooit as kind so
ernstig weggeraak nie, maar tog kortstondig weggedwaal. Dis nogal
sleg.
Kom ons kyk uit die ander hoek na dieselfde situasie.
Het jou kind dalk al weggeraak? Dis nie net soveel paniek nie, dis
nou duisend maal meer! Sê nou net 'n vreemdeling het jou kind gevat,
of hy het iets oorgekom, of in 'n gat geval. Sê nou net, sê nou net!
Ons kan hierdie storie nogal ver druk...
Tussen 1988 -1990 verdwyn 5 meisies spoorloos,
ontvoer deur 'n pedofiel en sy minnares en daar word nooit weer iets
van die meisies gesien of gehoor nie. Seker een van die grootste
ontvoeringsdramas in Suid-Afrika se geskiedenis. Eventueel word die
net al hoe stywer om die persoon gespan en die polisie staan op die
punt om die twee te arresteer. Toe skiet die man eers sy minnares en
toe homself. Die laaste hoop om die meisies te vind verdwyn met twee
rewolwerskote. Skoonveld! Ek eis as ek dink dat dit met my kind moet
gebeur, want jy sal nooit ophou soek nie. Vir jare sal jy elke dag
hoop dat die foon gaan lui, of 'n brief in die pos gaan opdaag, of
sy aan die deur gaan klop. Enige leidraad sal opgevolg word.
Hierdie is nou twee ekstreme situasies, maar daar is
ook 'n derde situasie waarby geen trauma betrokke is nie, geen drama
hom afspeel nie en die persoon gaan rustig aan met sy lewe. Maar
hierdie persoon is ook weg. Skoonveld! Sonder dat jy dit weet. Of
dalk weet jy, maar jy gee nie om nie.
Luk 14:1 – 7
Die tollenaars en sondaars het almal die
gewoonte gehad om na Jesus te kom luister. Hierteen het die
Fariseërs en die skrifgeleerdes beswaar gemaak en gesê: “Hierdie man
ontvang sondaars en eet selfs saam met hulle.” Toe vertel Jesus vir
hulle hierdie gelykenis: “Sê nou een van julle het honderd skape en
een van hulle raak weg. Wat doen hy dan? Hy laat die nege en
negentig in die veld staan en gaan agter die een aan wat weg is,
totdat hy hom kry. En as hy hom kry, is hy bly en tel hom op sy
skouers. As hy by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar
en sê vir hulle: ‘Wees saam met my bly, want ek het my skaap wat weg
was, weer gekry.’ Ek sê vir julle: Net so sal daar ook in die hemel
blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer, eerder as oor nege en
negentig mense wat reg doen en nie bekering nodig het nie.”
Die gelykenis van die verlore skaap is volgepak met
'n klomp verskillende elemente as mens dit sou vergelyk met ons
situasies vandag. Een skaap dwaal weg, net een! In geldwaarde is dit
nie te slim om 99% van jou trop aan die genade oor te laat om een te
gaan soek nie. Dit maak net nie sin nie. Maar in God se oë werk
dinge anders. ELKE EEN is so belangrik soos die somtotaal van die
res. Vir Hom is 99% net nie goed genoeg nie, Hy wil ALMAL in die
kraal hê.
Mense dwaal met tyd van Hom af weg, dit gebeur maar.
Sommige was nog nooit in die kraal opgeneem nie, party wil nie daar
wees nie. Daar is moedswilliges, ander wat luister na 'n vals
herder, nog ander het deur omstandighede weggeraak, party het
seergekry binne-in die kudde en ander is seergemaak deur van die
ander skape in die kudde. Daar is ander wat nie besef hoe gevaarlik
dit buite die kudde is nie.
Die rede vir wegdwaal of skoonveld wees is eintlik
irrelevant, want die Herder sal in elke situasie presies ewe veel
moeite insit om die verlore skaap op te spoor. Vir nie EEN enkele
een sal Hy minder omgee of minder lief wees nie. Sy liefde vir daai
verlore skaap sal nooit in der ewigheid verflou nie. Natuurlik nie,
want liefde is Sy aard en Sy natuur.
'n Kudde is 'n veilige plek en 'n nodige plek. Ons
moet almal in een opgeneem wees, want daar is baie beskerming,
Geestelik groei kan plaasvind in hierdie veilige kudde, mense vat
verantwoordelikheid vir mekaar en versorg mekaar.
Daar is ook 'n opdrag vir ons daaroor:
1 Pet 5:2-4
Pas die kudde van God wat aan julle toevertrou is, goed op. Hou
toesig oor hulle, nie uit dwang nie, maar gewillig soos God dit
verwag; nie om eie gewin nie, maar uit toegewydheid; ook nie deur
baas te speel oor dié wat God aan julle sorg toevertrou het nie,
maar deur 'n voorbeeld vir die kudde te wees.
“Pas die kudde van God wat aan julle toevertrou is,
goed op...”
Dis baie moeilik om Geestelik staande te bly as jy
buite in die koue ronddwaal. Binne-in die kudde is daar warmte, 'n
gebondenheid aan mekaar en liefde onder mekaar. Dink jy dit gebeur
nie? Jy maak 'n fout, daar is baie kosbare mense wat mekaar
wonderlik versorg. Ons is verantwoordelik vir mekaar dat niemand
wegraak nie, maar dit is tog waar dat mense met tyd bietjie wegdryf.
Daar is ongelukkig ook mense wat verkies om heeltemal weg te breek
en om sodoende verlore te wees. Hierdie is die mense wat nie maklik
weer terugkom kudde toe nie en kies verlorenheid.
Dis net jammer dat mense binne in die kudde hierdie
mense soms so verguis en afbreek sonder om uit te vind hoekom hulle
weggedwaal het.
Ek vra vir jou twee dinge:-
-
Maak dit vir jou saak as mense so wegdwaal?
-
Maak dit vir jou genoeg saak om iets daaraan te doen?
Sal jy ook soos Jesus alles in jou vermoë doen om
daardie skaap terug te kry? Of sal jy gemaklik daarby berus en sê:-
“Jou keuse, kry vir jou...”
Dit maak vir Jesus saak. Maak dit vir jou saak?
Voel jy op hierdie stadium van jou lewe self so
bietjie weg? Self besef jy dit nie eers heeltemal nie, maar dalk het
die afstand tussen jou en God so toegeneem dat jy net so 'n sweempie
van Hom in die vêrte sien? Dit gebeur wanneer mens so bietjie
afgestomp raak in jou Geestelike lewe, of maklik saam met ander
verkeerde strominge beweeg, of wanneer mense dalk afbrekend raak oor
jou Geestelike lewe. Soms is mense wat so oorloop van kritiek oor
ander se oortuiginge, dalk self op die verkeerde pad. Dalk is hulle
self skoonveld. Dalk voel jy weg omdat ander mense in die kudde jou
seergemaak het. Dis normaal, weet jy? Mense is nou maar eenmaal mens,
maar moenie na mense kyk nie. Hulle (ons?) is maar onfeilbare mense.
Die Bybel sê in Jes2:22 “Moenie op mense staatmaak nie, hulle
blaas so maklik die asem uit, hulle is min werd”.
Dalk is jy al moeg gewag op die Here en smag daarna
dat Hy Hom aan jou moet openbaar. Weet egter ... Hy wag vir jou. Jak
4:8 “Nader tot God en Hy sal tot jou nader”.
As 'n kind in die winkelsentrum wegraak en net
eenkant doodstil in die hoekie gaan sit, gaan niemand hom kry nie.
Maar as hy uitroep om hulp sal baie hom te hulp snel. Soms is ons
net te trots om te erken dat ons weg is, want ons is partykeer so
verlore dat ons dink God het klaar die soektog afgelas. Gelukkig is
dít nooit waar nie.
2 Pet 3:9(b) “Hy is geduldig met julle, omdat Hy
nie wil hê dat iemand verlore gaan nie. Hy wil hê dat almal hulle
moet bekeer”.
Geen mens kan te “weg” raak nie. Jesus sal aanhou
soek.
|