SLAAP


Wat is die slaap 'n wondersoete ding!
Sag op haar bloue oë daal die vaak
soos maneskyn diep waterkuile raak
om daar te droom in silwer skemering

Vir laas beef oor haar lippe 'n fluistering: 
"Nag, Pappie". Ek merk hoe langsaam hy genaak,
wat drome soet werklikhede maak
in vaderarms rus my lieweling.
Sluit so my oë, o God, wanneer vir my
U Engel wenk ter laaste, lange rus
en ek van wilde woeling hier moet skei;
dat my dan stille drome huis toe sus
en sterke Hand deur duisternisse lei.
Sluit so my oë, God, as ek gaan rus

Só skryf D.F Malherbe as hy sien hoe sy dogtertjie aan die slaap raak, en dan vergelyk hy dit met sy eie ewige rus ná hierdie lewe.

Slaap is eintlik maar 'n vreemde ding. Jou liggaam gaan in 'n staat van rus, waar jou spiere ontspan, jou oë gaan toe, asemhaling raak rustig en jy reageer nie op lig en klank solank jy aan die slaap is nie. As jy genoeg slaap, is dit so 8 ure per nag, en dan beteken dit jy slaap 'n derde van jou lewe.

Slaap en rus is 'n tyd wat die Here vir ons geskep het waarin ons kan afsluit van die werk en woel van die dag. Ongelukkig is dit ook 'n tyd van hoë risiko, want dan is jy onbewus van wat om jou aangaan. Nou ja, dink bietjie wie het jou laas nag beskerm terwyl jy geslaap het:

Ps 3:6 "As ek gaan lê, slaap ek goed, ek word ook weer wakker, want die Here sorg vir my"

Is dit nie waar nie? Het jy dalk gisteraand daaraan gedink toe jy gaan slaap het? Dalk het die Here se engele rondom jou stelling ingeneem. Ek weet nie hoe werk dié goed nie, maar miskien was daar die een of ander gevaar gewees waarvan jy nie eens bewus is nie. Dalk het iemand oor jou muur geklim, om deur 'n hond verwilder te word… want die Here het daarvoor gesorg. Jy sien, die Here sluimer of slaap nie, en sy versorging stop nie met slaaptyd nie. Hy is besig om Sy oog oor jou te hou. Klink dit nie wonderlik nie? God se genade aan die werk, wanneer ek en jy uitgeklink het!

Wat is die slaap 'n wondersoete ding? Wat gebeur gedurende hierdie klompie ure? Hoewel jy droom, het jy nie beheer oor jou gedagtes nie, ook nie oor jou liggaam nie. Dit lyk my hierdie is 'n tyd wat die Here gemaak het waarin jy nie kan droogmaak nie - kan ons dalk sê in hierdie tyd is ons sonde-vry? Het jy al na 'n slapende kind gekyk? Só onskuldig dat dit jou laat smelt! Miskien kyk die Here ook in ons slaaptyd so na ons .. wow, dink net, 'n derde van jou lewe is jy rein in die oë van die Here. Ek dink God het ook laas nag met sulke oë na jou gekyk. Miskien het Hy ook gedink: "My handewerk is só volmaak" en "Ek is só lief vir hierdie stukkie skepping van My". Kan jy dit glo?

Wel jy moet dit maar glo, want Hy ís onbeskryflik lief vir jou:
Ps 4:9 "Nou sal ek onbesorg gaan lê en dadelik aan die slaap raak, want Here, U alleen laat my veilig woon"

Ps 127:1-2
1 As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs. As die Here die stad nie beskerm nie, waak dié wat dit beskerm, tevergeefs.
2 Tevergeefs dat julle vroeg opstaan en laat gaan slaap om met moeite 'n bestaan te maak. Vir dié wat Hy liefhet, gee die Here dit in hulle slaap.


Jy sien, wanneer ek en jy in die nag wakker lê met bekommernisse, is Hy steeds besig om ons te versorg. Vir dié wat Hy liefhet gee die Here dit in hulle slaap. Wonderlik, né?

Die Here praat ook met ons deur drome. Dit was baie algemeen in die Bybelse tyd, en dit gebeur vandag nog. Die Here praat soms met mense om boodskappe te bring, of om hulle harte te verander. Dit is verseker 'n tyd wat die Here ons onverdeelde aandag kan kry.

Dis ook waar dat dit waarmee ons in die dag worstel, beïnvloed ons vannag.
Pred 5:11:Die slaap van die arbeider is soet, of hy min eet of baie, maar die oorvloed van die ryke laat hom onrustig slaap.

Is dit nie waar nie: min laat jou dalk bekommerd slaap, maar te veel laat jou onrustig slaap. Maar … as ons verhouding met die Here reg is, slaap ons goed, want:

· ons vertrou op die Here
· ons word versterk vir môre
· ons bly uit die kwaad uit
· ons rus ordentlik, sodat ons 'n goeie dag se werk kan insit
· Spreuke 3:24: Jy sal nie bang hoef te wees as jy gaan slaap nie, as jy gaan lê sal jy rustig slaap.

Moet nou nie dink, jy kan nét slaap nie! Spreuke 6:10-11 sê:
10 Nog 'n bietjie slaap, nog 'n bietjie sluimer, nog 'n bietjie handevou en bly lê,
11 en daar oorval die armoede jou soos 'n rower, daar oorrompel die gebrek jou soos 'n inbreker.

 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)