SOOS 'N OLIFANT AAN 'N PAALTJIE


Ek het nou die dag 'n pragtige beeld gehoor wat ek graag met jou wil deel.

Het jy al by die sirkus gesien hoedat die sirkus olifante buitekant vasgemaak staan? Daar is 'n tou vas aan sy slurp en dan word die tou geanker aan 'n klein paaltjie wat so effens in die grond ingekap is. En daar staan mnr. Olifant! Hy bly net daar, beur nie aan die tou nie, en probeer nie wegkom nie - hy is só gekondisioneer. Nou ja, die slim mense sê 'n olifant kan in die natuur 'n ton oplig met sy slurp. Jy het sekerlik al die verwoesting gesien wat olifante aan die natuur kan aanrig, hoedat hulle bome kan breek ens. Die sterkste dier in die natuur, geweldige krag, majestueus, bang vir niks, niks keer hom nie. As hy kwaad word, hardloop jy nie, jy hardlóóóóp! En daar staan hy by die sirkus vasgemaak met 'n tou aan 'n paaltjie. Hy hoef nie eens te trek nie, hy kan net wegloop …

Só is dit dalk met my en jou ook. Wat bind jou aan 'n nietige paaltjie vas? Wié bind jou daaraan vas? Hoe lank gaan jy nog glo dat jou krag beperk is tot 'n garingdraad? Jy sien, God het jou meer gemaak as 'n sirkusdier wat gekondisioneer is om te glo dat hy verlaag is tot niks nie.
Fil 4:13: "Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee". God het vir my en jou geskep na Sy beeld, Hy het sóveel in jou ingebou, dat jy nie nodig het om vasgebind te staan aan 'n paaltjie nie.

Wie maak jou vas? Wie ontneem jou jou innerlike krag?
· Soms is dit jyself, omdat jy nie verstaan dat God genot in jou vind nie. Miskien is dit omdat jy nog sukkel om oorwinning te kry oor 'n slegte gewoonte, of 'n sonde vertroetel. Miskien verstaan jy nog nie God se genade nie. Sef 3:17: "Die Here jou God is by jou. Hy, die Krygsman wat red, is vol vreugde oor jou. Hy is stil-tevrede in Sy liefde, Hy jubel en juig oor jou"
· Soms bind ander mense ons met iets wat hulle oor ons sê; miskien is dit selfs net iets wat iemand baie lank terug gesê het, en dit "spook" vir ewig by jou. Ons steur ons nou maar eenmaal te veel aan ander mense se uitsprake en opinies. Ons maak staat op mense en word dan teleurgestel. Jes 2:22: "Moenie op mense staatmaak nie; hulle blaas so maklik die laaste asem uit. Hulle is min werd". Hierdie teks se bedoeling is nie om mense sleg te maak nie, dit sê net dat God alleen die volmaakte toevlug is.
· Satan probeer natuurlik ook om ons vas te bind, deur ons te laat glo dat ons niks is nie. Hy is goed daarmee om jou aan jou swakheid te herinner. Nee wat, hy beteken niks. Hy is klaar oorwin.

Wat is dit wat ons terughou van 'n vervulde lewe?
· Ongeloof - om nie te glo dat God ons baie, baie spesiaal gemaak het nie. Wat meer wil jy hê as om te weet dat jy na Sy beeld geskape is? Ps 8:5-6: "Wat is die mens dan dat U aan hom dink? Die mensekind dat U na Hom omsien? U het hom net 'n bietjie minders as 'n hemelse wese gemaak, en hom met aansien en eer gekroon."
· Twyfel - twyfel in jouself, in jou vermoëns, twyfel in jou status voor God. Twyfel dat God regtig vir jou lief is en omgee. Twyfel kan die grootste reus terughou en hom laat dink hy is niks werd nie.
· Jou verlede - dit hou ons dikwels aan 'n ou klein houtpaaltjie vas. Ons het nou maar eenmaal die geneigdheid om eerder agtertoe te kyk as vorentoe. Miskien is dit omdat die verlede bekend is en die toekoms onseker? So sukkel ons dan om uit die wegspringblokke te kom.
· Kondisionering - omstandighede, gebrek aan visie of dryf, gebrek aan 'n voorbeeld van 'n ouer is dinge wat ons kan kondisioneer om te glo ons kan eenvoudig nie, of ons is nie tot meer in staat nie.

Ons moenie langer soos 'n olifant aan 'n paaltjie vasgemaak staan nie. Dit is nou tyd om daardie paaltjie uit te pluk. Maar hoe?
· Neem die plek in wat God vir jou bedoel het in. Gaan staan in die oorwinning van die krag wat die Here in jou ingeplant het.
· Hou op om vas te hou aan iets wat iemand dalk in die verlede oor jou uitgespreek het. Verbreek dit, bestraf dit in die Naam van Jesus.
· Verander jou lewensuitkyk van negatief na positief. Dit is nét jou keuse. Hou op om jouself bloot te stel aan negatiewe gesprekke, of negatiewe media.
· Staan die duiwel teë en hy sal van jou af wegvlug. As hy jou teister, jaag hom net weg. Watse houvas het die duiwel op jou? Wel, hy het miskien net die verlede, maar die Here is Koning oor jou toekoms. So, as die duiwel jou herinner aan jou verlede, herinner hom aan sy toekoms … vir ewig in die hel!
· As jy swak voel, en vasgebind voel, gaan soek jou krag in Jesus Christus. As omstandighede jou krag tap, sê wat Paulus gesê het in 2 Kor 2:10: "
Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk"
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)