SPYT KOM ALTYD TE LAAT – 19 April 2011 


Daar is ‘n spreekwoord wat sê: “Spyt kom altyd te laat”, en hoe waar is dit nie! Dalk het jy ook al iets aangevang wat jy nie moes nie, en dan was jy later spyt, veral as jy niks aan die uitkoms en nadraai van jou dade kan verander nie. Soos Judas. Hy verraai vir Jesus vir 30 silwer stukke, en toe hy besef wat hy aangevang het, gaan gooi hy die geld terug vir die priesterhoofde. Judas was nou maar eenmaal lief vir geld en hy het selfs die beursie gedra, waaruit hy homself dikwels gehelp het. Vir geld het hy toe vir Jesus gaan verraai, en later spyt gekry. 

Matt 27:3-5 Toe Judas, die verraaier, sien dat Jesus tot die dood veroordeel is, het hy spyt gekry. Hy het die dertig silwermuntstukke teruggebring na die priesterhoofde en die familiehoofde toe en vir hulle gesê: "Ek het gesondig. Ek het 'n onskuldige man verraai." Maar hulle antwoord: "Wat het ons daarmee te doen? Dit is jou saak!" Judas het toe die geld in die tempel in gegooi, weggeloop en homself gaan ophang. 

Judas se spyt het te laat gekom, toe pleeg hy selfmoord. Judas se probleem was dat hy nie iets gaan doen het aan sy spyt nie.  

Petrus verloën vir Jesus, en kry ook spyt. Petrus, die dapper, onverskrokke Petrus wat sommer op die water gaan loop het. Jesus sê vir hom dat hy Hom gaan verraai en ewe grootbek vertel hy dat hy dit nooit sal doen nie. Toe hardloop hy vir 'n diensmeisie weg! Hy gaan nie eers saam Golgota toe nie. Later het hy egter bitter berou gehad. 

Daar is ‘n groot verskil tussen Petrus en Judas se spyt. Judas is spyt en pleeg selfmoord. Petrus is spyt en het berou en draai terug na Jesus toe. In Joh 21:15-19 vra Jesus vir Petrus of hy Hom liefhet, en Petrus maak openlik ‘n liefdesverklaring teenoor Jesus. Jesus het nie vir Petrus verwyt nie, inteendeel, Hy gee eerder vir hom 'n reuse opdrag! In Handelinge lees ons hoedat Petrus ontpop in ‘n ongelooflike kragtige evangelis en prediker (al het hy Jesus verloën) en word 'n groot instrument in Jesus se hande. 

Judas kry spyt en pleeg selfmoord. Petrus kry spyt en draai terug – vir Judas het die spyt te laat gekom, maar nie vir Petrus nie. Petrus se spyt verander in berou. 

Luk 16:19-31 Daar was 'n ryk man wat duur en deftige klere gedra en elke dag feestelik en weelderig geleef het. En daar was 'n arm man met die naam Lasarus wat by die deur van die ryk man gelê het in die hoop dat hy van die oorskiet van die ryk man se tafel te ete sou kry. Hy was oortrek van die swere en selfs die honde het daaraan kom lek. "Toe die arm man te sterwe kom, is hy deur die engele weggedra na die ereplek langs Abraham. Die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. Toe hy in die doderyk in pyn verkeer, kyk hy op en sien vir Abraham daar in die verte en vir Lasarus langs hom en hy roep: “Vader Abraham, ontferm u oor my. Stuur tog vir Lasarus dat hy net die punt van sy vinger in water steek en my tong afkoel, want ek ly verskriklik in hierdie vuur”. Maar Abraham sê: “My kind, onthou dat jy in jou leeftyd altyd die goeie gekry het en Lasarus die slegte. Nou gaan dit hier goed met hom, maar jy word gepynig. En buitendien is daar 'n groot kloof tussen ons en julle, sodat dié wat hiervandaan wil oorgaan na julle toe, nie kan nie, en dié wat dáár is, ook nie na ons toe kan oorkom nie.” Toe sê hy: “Ek smeek u dan, vader, stuur hom tog na my pa se huis toe. Ek het nog vyf broers. Laat hy hulle dringend gaan waarsku sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging beland nie.” Maar Abraham sê: “Hulle het die woorde van Moses en die profete. Laat hulle daarna luister.”  Hy antwoord egter: “Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dood na hulle toe gaan, sal hulle hulle bekeer.”  Maar hy sê vir hom: “As hulle na Moses en die profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie al sou iemand uit die dood opstaan.” 

Hierdie is vir my ‘n skrikwekkende verhaal. Die ryk man besef te laat dat sy lewenstyl, sy traak-my-nie-agtigheid hom ingehaal het. Waarskynlik het talle waarskuwings op dowe ore geval. Miskien het baie mense hom gewaarsku. Die Here het verseker sy hele lewe lank aan die deur van sy hart geklop, maar alles tevergeefs.  

Luister bietjie mooi na hierdie vraag: “Hoeveel ongelowiges is in die hel?” As jy mooi daaroor dink is die antwoord: NIKS! Elke enkele een is nou gelowig, sonder uitsondering, ALMAL!  Hulle was almal voor God se regterstoel en elkeen het die aaklige finale oordeel aangehoor. My vriend, jy kan voor ‘n aanstormende trein gaan staan en sê: “Ek glo nie in treine nie” , dan gaan jy gaan ‘n verrassing kry. Jy sien, in teenstelling met wat jy mag dink, gaan almal, maar almal, die ewige lewe hê. Elke siel op aarde, maar, nie in dieselfde plek nie. Vir party (volgens Matt 7:13-14 die meeste) gaan spyt te laat kom. Volgens Luk 16, is dit onomkeerbaar. Vir die ryk man was die prys baie duur. Nie eens sy baie geld kom hom help nie. Inteendeel, dit lyk asof geld juis sy probleem was. 

Toe die ryk man in die doderyk in pyn en angs verkeer, probeer hy sy toestand verlig. Dit moes baie erg gewees het, want hier pleit mnr Rykman by Abraham dat hy vir Lasarus moet stuur met net ‘n vingerpunt vol water. Hy vra nie vir geld of enige aardse goedere nie, net ‘n vingerpuntjie vol water. Ek dink hy het ge-“suffer”! Toe kom spyt te laat en hy besef dat hy niks kan doen aan sy lot nie. Daar kom toe ‘n interessante wending: hy is nou bekommerd oor sy broers se lewenswyse – vyf van hulle wat net so verlore is soos hy. Al gehoor van geloofsekerheid? Hierdie wete dat jy verseker hemel toe sal gaan? Wel, hier verstaan die ryk man iets van geloofsekerheid. In dié geval, van sy  broers se geloofs-on-sekerheid. Net nogal verskriklik dat Abraham sê hulle sal nie luister nie; hulle het dan nie eers geluister na die wet en die Woord van God nie. Die ryk man is nou nog in die verderf (die hel) en waarskynlik sy vyf broers ook en die verskriklikheid daarvan het absoluut niks verander nie. Dalk roep hy vandag nog vir miljoene om te draai of braai! 

Spyt kom, maar eers as dit te laat is. Ek en jy wat nog lewe, het álles in ons guns. Ons het die wet en die profete, ons het die Nuwe Testament en ons het tonne en tonne bewyse dat dit alles waar is. Ons het die getuienis van ander mense, ons het die Heilige Gees wat in ons harte werk en ons oortuig, ons het boeke, flieks, radioprogramme, en talle wonderwerke… wat glo ons? Wat kies ons? 

Maar, my vriend, dis meer as dit! Die heerlikheid daarvan om God te dien is nou al die moeite werd. Dis lekker, want daar’s tonne vrede, daar’s lewe in oorvloed, daar’s ‘n Vriend, ‘n Advokaat, ‘n Middelaar.  

Is jou saak met God reg? Indien nie, maak nou reg … want spyt kom altyd te laat. En as jy iemand ken, miskien selfs jou kinders, wat nie op die regte pad is nie, gaan praat. Die ryk man kon vir Lasarus erken. Hoe sal dit wees as jy in die hemel is en jy erken jou kinders aan die verkeerde kant van die kloof? Gaan jy okei wees daarmee? Maak dit vir jou saak? Maak dit vir jou genoeg saak om iets daaraan te doen?
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)