Ons
sukkel maar almal die een of ander tyd met besorgdheid, bekommernis,
stres, bang wees, tob oor sake, vrees. Ons dink al hierdie goed is
dieselfde, maar dit is nie, en ek wil die volgende onderskeid tref:
Besorgdheid: dit is as jy bv. besorg is oor jou
bejaarde ma se gesondheid of veiligheid; of begaan is oor haweloses
wat koud slaap
Bekommernis: dit is bv. wanneer jou bejaarde ma
regtig siek is, dit maal die heeltyd in jou kop, jy is besorg en
beangs, jy maak die heeltyd planne oor wat jy kan doen om te help
Stres: dit is druk wat opbou, soos ‘n snaar wat al
hoe stywer span totdat dit breek
Bang: dit is wanneer jy met angs vervul is, jy hou
jou asem op; dit is bv. daardie gevoel wat jy kry wanneer jy na ‘n
“scary”-fliek kyk
Vrees: dit is daardie gevoel wat jy het, wanneer jy
hoor daar breek ‘n venster êrens in die huis, en jy weet daar het
iemand ingekom; koue sweet slaan op jou uit, jy kan nie asemhaal nie,
jou hart klop in jou keel.
Tob: dit is wanneer kommer-gedagtes maal en maal in
jou gedagtes; wanneer jy saagsels saag (wanneer hout gesaag word,
val daar mos fyn saagsels af; nou vat jy daai saagsels en probeer
dit weer en weer saag.....)
As ek nou ‘n definisie moet gee vir bekommernis, sou
ek sê “Dit is dinge wat vir ons voel of dit buite beheer is”.
Die meeste van ons se bekommernis gaan gewoonlik oor
geld, maar dit kan ook wees oor jou huwelik, werksituasie,
gesondheid, kinders, jou gesin se toekoms, ons land se toekoms,
ens.
2 Kor 11 : 27 – 28
Daar was vir my harde werk en swaarkry, dikwels nagte
sonder slaap, dikwels honger en dors; en dikwels was ek sonder kos,
sonder skuiling of bedekking teen die koue. Behalwe dit alles was
daar nog die daaglikse bekommernisse, die besorgdheid oor al die
gemeentes.
Hier lees ons van Paulus se bekommernisse en
besorgdhede. Dit lyk vir my of ons almal maar een of ander tyd met
hierdie euwel worstel. Party mense hanteer dit net anders as ander.
Bekommernis en stres is egter ook nodig. As ek en jy
dit totaal wegdruk, sal ons natuurlik nie oorleef nie. Gesonde stres
maak dat ons voorsien vir ons gesinne, onsself beskerm en werk vir
oorlewing. Ek praat nie vandag hiervan nie, ek praat van stres wat
ons angstig en siek maak.
‘n Paar feite oor bekommernis:-
-
Minder as 5% van bekommernisse is regtig ‘n probleem – meeste
goed waaroor ons bekommer gebeur in elk geval nie eens nie
-
Bekommernis is soms net ‘n slegte gewoonte.
-
Aan die meeste van die dinge waaroor ek so kan tob, kan ek niks
doen nie.
Vandag is die dag waaroor jy jou gister so bekommer
het. Is vandag regtig so sleg, en gister, verlede maand, verlede
jaar... ?
Matt 6 : 25 – 34
Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor
wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle
moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam
as klere nie? Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes
nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader
sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? Trouens,
wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur
verleng? En wat bekommer julle julle oor klere? Let op hoe groei die
veldlelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie. Maar Ek sê
vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van
hulle nie. As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is
en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie
vir julle sorg nie, julle kleingelowiges? Julle moet julle dus nie
bekommer en vra: "Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet
ons aantrek?" nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan
is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee,
beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van
God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee. Moet julle dus nie
oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag
bring genoeg moeilikheid van sy eie.
As ek hierdie deel lees, dink ek dat bekommernisse
dikwels die uitvloeisel is van my ongeloof. Bekommernis is egter ‘n
menslike emosie, en is ‘n realiteit vir ons as mense. Die geloof
kom in by ons hantering van bekommernis; hardloop jy verward rond,
en raak heeltemal siek van jou bekommernis, of wéét jy dat dit nou
die tyd is om staat te maak op die Here se krag, om te vertrou dat
Hy sál voorsien, dat Hy sál help, dat uitkoms sál opdaag. Dit is nou
die tyd om Hom te glo as Hy sê:
-
Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie,
Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met
my eie hand red Ek jou. (Jes 41:10)
-
Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam
geroep, jy is Myne. As jy deur water moet gaan, is Ek by jou,
deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur
moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie
brand nie (Jes 43:1)
-
You are safe in the care of the Lord your God, secure in His
treasure pouch (1 Sam 25:29)
-
Daarom kan ons met vertroue sê: “Die Here is my helper, ek ken
geen vrees nie: wat kan 'n mens aan my doen?” (Heb 13:6)
Ons voel partykeer of die slegte tye gaan aanhou, so
asof die Here nie ‘n uitkoms kan bring nie. Soms kyk ek so na die
voëltjies op my grasperk, dan besef ek hoe die Here vir hulle sorg.
Ek het nog nie een gesien wat swaarmoedig loop, op ‘n hoop sit of
met ‘n lang gesig sit nie; hoeveel te meer kan ons nie ook daardie
vrede hê nie, want ons wéét Wie sorg vir ons.
Wat is dan die teenvoeter vir bekommernis?
Fil 4 : 7 sê: “En die vrede van God, wat alle
verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou
in Christus Jesus”. Die woord “vrede” kom
voor in die woord tevrede! Tevredenheid kan na my
mening help as teenvoeter vir bekommernis.
Kom ons doen gou ‘n toets – antwoord eerlik:
Is jy tevrede met: Jou werksituasie? Jou vrou of jou man? Jou
finansies, kinders, jouself, jou toekoms?
Dikwels beleef ons kommer en stres net as gevolg van
my en jou onvergenoegdheid en ontevredenheid; dalk is dit juis a.g.v.
dinge wat jy oor jouself gebring het soos bv. oorspandering,
verkeerde verhoudinge, ens.
Wat maak ons met die bekommernisse in ons lewens? ‘n
Paar praktiese wenke:
·
Kommer het nog nooit ‘n probleem
opgelos nie.
·
Kry al die feite oor die saak – besluit
hoeveel kommer dit werd is.
·
Doen wat jy kan van jou kant af om die
probleem uit die weg te ruim.
·
Soms is dit goed wat ons op onsself
laai – ‘n verkeerde verhouding, bedrog, verslawing, ens. Doen wat jy
kan om dit te stop.
·
Kyk na die rekord – het ek my nie dalk
in die verlede onnodig oor dieselfde snert bekommer nie? Party mense
lei aan “kommer-verslawing” – oppas daarvoor.
·
Moenie saagsels saag nie – los dinge
agter jou.
·
Tel jou seëninge, nie jou probleme nie,
dan sal jy sien dinge is nie so sleg as wat jy dalk gedink het nie.
·
Verander ‘n “-“ in ‘n “+”. Sien
probleme as ‘n uitdaging.
·
Sien ander se nood raak en raak daarby
betrokke; vergelyk jouself eerder met dié mense wat minder as jy
het, nie dié wat alles het wat jy nie het nie, en ook begeer nie.
·
Kry al die feite bymekaar wat jy kan,
begin om jou deel te doen – moenie toelaat dat jou bekommernis buite
beheer groei nie.
·
Verander wat jy kan en aanvaar wat jy
nie kan nie.
·
NB: Gee die saak vir die Here – praat
met Hom daaroor – praat ook met ander. Jesus kom nooi jou uit om
alles op Sy skouers te kom neersit.
‘n Praktiese manier om bekommernis hok te slaan: Vra
jouself:
1.
Wat is
die probleem? Bedink al die feite oor die saak waaroor jy bekommer;
dit gee ook perspektief as jy alles neerskryf.
2.
Wat is
die oorsaak van die probleem? Verwoord al die detail wat jy het.
3.
Wat kan
ek nou daaraan doen? Miskien kan ek nie nou alles oplos nie, maar
die proses aan die gang sit.
4.
Wanneer
gaan jy daarmee begin? Maak vandag ‘n “commitment” om aandag
daaraan te gee.
|