Tugtiging,
ses van die bestes …. Onthou jy dit ook nog? Kyk, in ons jong dae op
skool is die roede nie gespaar nie. As jou naam pouse uitgeroep word
om na mnr. Carlisle se kantoor te gaan, dan het jy geweet ses van
die bestes wag op jou. Dié arme onderwyser – hy moes die ouens wiks
vir wie hy nie eens kwaad was nie, hy het nie eens altyd geweet
hoekom jy pak moet kry nie, hy was net die een wat die pak moes
uitdeel. Kyk, ons was goed gelooi op skool. As jy praat in die rye,
looi hulle jou, vergeet jy jou LO klere, doen nie huiswerk nie, vaar
swak in ‘n toets, laat by die skool, ongeskik met die onnie, boeta,
dan lê die hale. En dis ook nie té sleg nie, want daar in die
kleedkamers kan jy darem by die ander ouens spog dat jou hale meer
of blouer of seerder is as hulle s’n. Dink bietjie terug: was dit
regtig só sleg? Het jy emosionele letsels oorgehou daarvan? Voel jy
getraumatiseerd daaroor? Voel dit of jy mishandel was? Ek glo nie.
Ons sê mos hoeka dat vandag se kinders te min pak kry, dis hoekom
hulle sus of so is.
Ons weet baie goed, dat straf of tugtiging nie lekker
is nie, maar dat dit wel nodig is. So tug ons ons kinders om hulle
te leer en te help en te vorm. So tug die Here ons ook.
Heb 12:4-11
Julle het nog nie so teen die sonde weerstand gebied
dat dit vir julle 'n stryd om lewe of dood geword het nie. Julle het
ook vergeet van die aanmoediging wat tot julle as kinders van God
gerig word: "My kind, moet dit nie gering ag as die Here jou tug nie
en moenie mismoedig word as Hy jou teregwys nie, want die Here tug
hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem." Verdra
die tug as opvoeding, want God behandel julle as sy kinders. Is daar
miskien 'n kind wat nie deur sy vader getug word nie? As julle nie
getug word soos al die ander nie, dan is julle nie werklik sy
kinders nie. Verder, ons het ons aardse vaders gehad wat ons getug
het, en ons het vir hulle eerbied gehad. Sal ons ons nie nog des te
meer aan die hemelse Vader onderwerp en lewe nie? Ons vaders het ons
wel 'n kort tydjie na hulle goeddunke getug, maar Hy tug ons tot ons
beswil sodat ons in sy heiligheid mag deel. Wanneer ons getug word,
lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie,
maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur
gevorm is, 'n goeie vrug: vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die
wil van God.
Ja, die Here is beslis met ons besig, en Hy spaar ook
soms nie die roede nie. Ons vra mos baie keer of die Here dan vir
ons kwaad is, of hoekom Hy ons dan straf, of hoekom hou Hy seën van
ons af weg. Ek onthou as kind, dat ‘n vriend van my gesê het dat hy
altyd vir sy pa moes dankie sê as hy ‘n pak gekry het. Ek kon dit
nooit verstaan nie, maar noudat ek ‘n pa is verstaan ek dit maar al
te goed. Ek dink ons probleem is dat ons straf met tug verwar. Straf
beteken dat iemand moet boet vir die een of ander daad, terwyl
tugtiging ‘n liefdevolle opvoedingsproses is.
In Hebreërs 12 sê dit: verdra die tug as opvoeding.
Daar staan nie: verdra die tug as straf nie. Ons moet dus weet dat
ons verhouding met die Here ook ‘n opvoedingsproses sal insluit. Wat
beteken opvoeding? Dit beteken mos om iemand na jou hand groot te
maak. As ‘n kleintjie aan die warm stoofplaat wil vat, skiet jy mos
sy vingers, of hoe? Hoekom doen jy dit? Omdat jy kwaad is vir hom?
Nee, dis vir sy eie beswil en sy eie beskerming. Is dit lekker? Nee.
Is die nodig? Ja.
As die Here ons tug, is Hy besig met ons. Het jy ook
al gehoor van die ou wat gesê het: “Ek wens my pa het my geslaan,
want dan was Hy ten minste besig met my”. Die Hebreër teks sê dat
die Here dié tug vir wie Hy lief is, dié vir wie Hy as sy kinders
aanneem. Sjoe, mens voel amper om nou te sê: Here, tugtig my sommer
heeldag…
Kyk hoe mooi sê vers 9: Verder, ons het ons aardse
vaders gehad wat ons getug het, en ons het vir hulle eerbied gehad.
Sal ons ons nie nog des te meer aan die hemelse Vader onderwerp en
lewe nie? Gaan kyk na die kinders wat nie deur hulle pa’s
gedissiplineer word nie – hulle het respek vir niks of niemand nie,
jy sien hulle op ‘n myl. Bedorwe brokke, altyd in die moeilikheid.
Ons wil tog nie so ‘n pad met die Here stap nie, of hoe?
Kyk die Here se doel met Sy tugtiging in Heb 12:10 -
Ons vaders het ons wel 'n kort tydjie na hulle goeddunke getug,
maar Hy tug ons tot ons beswil sodat ons in sy heiligheid mag deel.
Dit lyk dus of ons nie daardie voorreg sal hê as ons nie die Here se
tugtiging wil aanvaar nie. Dis ‘n moeilike gedagte, né? Lees weer
vers 11 - Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik
nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer
dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, 'n goeie vrug: vrede omdat
hulle gehoorsaam is aan die wil van God.
So, wees bly oor tugtiging, want dit gaan ‘n goeie
vrug oplewer.
Maar nou wonder ons partykeer hoekom ons tugtiging
nodig het…? Soos wat dit in vers 4 sê, moet ons leer om weerstand te
bied teen die sonde, dit moet ‘n saak van lewe of dood word vir ons.
Sukkel jy ook daarmee? Ek hoop so, want dan voel ek nie so alleen
nie. Jy sien, géén sonde is goed nie, niks nie, nie een nie. Sonde
lei altyd tot ‘n gemors, dis altyd buite die Here se wil, dit het
altyd slegte nagevolge, dit bring niks goed nie. Daarom is dit mos
nodig dat die Here ons aandag kry. En onthou nou: Hy het ons in
Christus reeds vergewe vir die sonde, daarom is sy tugtiging nie
straf nie. As Hy ons tugtig is dit vir ons eie beswil, dis ‘n pad
van heiligmaking, dit gaan oor ons wat beter gaan word.
Aanvaar dus dat die Here soms dinge van ons terughou, sodat Hy met
ons kan werk. Soms gebeur dinge met ons, dalk wil dinge maar net nie
vlot nie, partykeer voel ons die Here is bietjie hard op ons. Wel,
indien jy sy tugtiging aanvaar, kan jy darem verseker weet dat Hy
jou liefhet. Die Here is nie ‘n afwesige Vader nie. Hy bou elke
oomblik in ons lewens in. Hy verbeter ons dag vir dag. Hy gaan oral
saam, ja, soos ‘n goeie aardse pa, is Hy hier, daar en oral.
So, onthou dat Hy ons nie straf nie, maar opvoed.
Straf word uitgevoer as die persoon kwaad is, opvoeding gaan saam
met liefde. Verdra dit, dis goed.
|