TWEE FONDAMENTE – 26 Oktober 2011 


Wat is die belangrikste deel van die konstruksie van 'n huis? As ek vir jou sou vra aan watter deel jy die meeste aandag sou gee, sou jy dit sekerlik kon uitspeel tussen die mure, dak, vloere, afwerking, sekuriteit, of dalk iets heeltemal anders. Alles sou sekerlik belangrik wees, maar ek dink jy sou met my saamstem dat die fondasie by verre die belangrikste is.

Matt 7:24-28
“Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met 'n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots. En elkeen wat hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens handel nie, kan vergelyk word met 'n dwaas wat sy huis op sand gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en die huis het ingestort en is heeltemal verwoes.”

Was die mense in die Bybelse tyd dan al só slim? Mens sou kon dink dat 'n ingenieur of konstruksie kundige hier aan die woord is, maar dis Jesus wat hier praat. Vers 29 sê “...want Hy het hulle geleer soos 'n man met gesag en nie soos die skrifgeleerdes nie”. Interessant dat Matteus hierdie woorde gebruik. Miskien omdat die skrifgeleerdes op die uiterlike, die vertoon van hulle godsdiens gekonsentreer het. Hulle het mos gehou van die kleredrag, die wet wat in die leerhouertjie voor die kop vasgemaak was, die boekrol onder die arm. Terwyl Jesus gekonsentreer het op die onsigbare, die basiese dinge wat baie belangriker was. 

Het jy al die fondasie van jou huis gesien? Nee, verseker nie, behalwe as jy hom gebou het, want die fondasie is nie sigbaar van buite nie. Nou lyk dit of Jesus iets van konstruksie verstaan het, want Hy sê dit is daardie deel van 'n huis wat krities belangrik is. Wanneer jy 'n huis bou, is dit die eerste en belangrikste deel wat die bou-inspekteur moet goedkeur. Daarna kom kyk hy nog na die vloer, en laastens die dak-kappe, maar die fondasie is die belangrikste, want dit dra alles wat bo-op dit staan. So vergelyk Jesus ons fondamente in die lewe met 'n huis se konstruksie. Jy bou óf op rots, óf op sand. En hierdie Rots is Jesus Christus. 

Waarop staan jou lewenshuis? Op rots, of op sand? Die vraag is eenvoudig, wat gaan gebeur as die lewensstorms om jou begin woed? As jou fondasie gesetel is in die Rots, Jesus Christus, het jy net eenvoudig 'n baie beter kans. Jy weet, baie Christene glo mos dat slegte goed nie met goeie mense gebeur nie. Allermins met Christene. Baie mense glo graag dat Ps91 hulle sal beskerm teen enige aanslag of moeilikheid, en plak graag 'n plakkertjie op die kar en neem dan nie versekering uit nie, want Ps 91 sal alles regmaak. Nee, Ps 91 kan jou nie beskerm nie, maar die God van Ps 91 kan. As Hy wil.

Vers 25: Die stortreën het geval...

Lyk my hierdie teks sê dat die stortreën sal kom, en verwoed teen jou huis beur. “The cheque is in the mail”. In hierdie teks sien ek dat Jesus eintlik waarsku dat jy gereed moet wees wanneer die stortreëns kom. Nie óf nie, wanneer... Nou vra ek vir myself , wat bedoel Jesus hiermee? Beteken dit dat mense wat bou op die Rots, Jesus Christus, alles sal oorleef en oorwin? Niks moeilikheid kry nie? Nooit hulle werk verloor nie? Nie kanker kry nie? Nie 'n kind aan die dood afstaan nie? Nie 'n besigheid verloor nie?  Mense sê mos graag, as slegte goed met jou gebeur, is dit omdat jou geloof te swak is. Okay, dan het Johannes die doper maar vrotterig geglo, want sy kop is afgekap. Stefanus was maar bietjie yl in sy geloof, want hy is doodgegooi met klippe. En ou Petrus was maar self 'n ongelowige Tomas, want hy is onderstebo gekruisig. Terloops, al die dissipels se geloof was maar bietjie ylerig, want die hele lot, behalwe Johannes, het vir hulle geloof gesterf. Ai, en arme Paulus, 195 houe met 'n sweep, hy moes gelyk het soos 'n puzzle. Nee, hierdie ouens het almal gebou op die Rots, Jesus. Die Rots beskerm jou nie noodwendig altyd TEEN slegte dinge nie, maar IN slegte tye. 

Wie bou op die sand?  Daar is selfs gelowiges wat op die sand bou, mense wat glo dat hulle heil afhang van die mate waarin hulle hulle godsdiens beoefen. Daardie “verdien”-ding. Maar natuurlik, die ongelowiges bou kwistig op die sand, en hulle getalle neem vinnig toe. Jy vind hierdie self erkende ateïste in alle vlakke van die samelewing, selfs by teologiese dosente en deesdae sommige predikante. Ek hoor onlangs van 'n boek waarin vyf predikante erken dat hulle glad nie meer glo nie. Maar hulle bly anoniem, want sien, hulle moet darem nog hulle brood en botter uit die buiteblaaie van die Bybel verdien. Netnou vind die gemeente uit. Ek vind dit absoluut laakbaar. Daar word selfs organisasies gestig waar hulle bymekaar kom om hulle ongeloof te beoefen en te bespreek. En nee, dis nie gemik teen Satan, of ander gelowe soos die Moslems nie, dis gemik teen Jesus en Sy volgelinge. Hulle glo hulle het geen rots nodig nie. Fondasies is mos vir sissies wat bang is daar is dalk net 'n God, en 'n hel. En die Christene se geloof is bloot gebore uit vrees. 

Maar  hierdie mense sal hierdie onsigbare Fondasie mis as die volstruis in die windpomp invlieg. Want dis dan wat die oordeel van God oor hulle sal kom, en hulle dan gaan uitroep dat die Rots tog net onder hulle voete sal verskyn. Dan sal hulle verstaan wat dit beteken:- “Elke knie sal buig, en elke tong sal bely dat Jesus die Here is”. Geseënd is dié wat dit voor hulle dood bely, want dis hulle redding. Maar elkeen sal by God verbygaan in die hiernamaals in. Waar jy jou hiernamaals ookal mag deurbring. En as jy nie op die Rots gebou het nie, sal jy verstaan wat dit beteken wanneer daar geskryf staan: “daar sal 'n geween en 'n gekners van tande wees”. Jy weet mos, daar is geen ongelowige in die hel nie. Gaan lees die verhaal van Lasarus en die ryk man. Hoe hard het hierdie ryk man nie probeer dat sy broers gered moet word nie! Hoekom? Uit die hel uit? Want hy het geglo, maar te laat. Toe hy die fondasie nodig gehad het, was dit nie daar nie. 

Ongelowiges hoef nie net deur die dood getref word om te soek na rots nie. Die gemiddelde traumas van die lewe is genoeg om elkeen te laat soek vir vastigheid. Het jy al gehoor dat mense vra na daardie “iets” wat in jou leef wat hulle nie het nie? Daardie Iets is Jesus, daardie Iemand om na te vlug as die winde aan die huis begin ruk. Baie ongelowiges vind die Rots juis in tye waar alles inmekaar tuimel. En dan is Hy steeds daar vir hulle, as hulle hom net wil aanneem as Rots. 

Wat kry ek en jy vir die moeite om op hierdie Rots te bou? Net voorspoed? Verseker nie? Want as dit so was, is die Bybel in sy totalitiet verkeerd. Of die woorde: “Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee”, is verkeerd vertaal.  Dink jy hierdie fondasie gaan vir jou finansiële voorspoed waarborg?

Joh 10:10 word mos graag gebruik: “Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed”. Mis ek iets in my vertaling? Staan daar iewers:- “geld” in hierdie sin? Of mooi huis? Of tonne in die bank? “Ek het gekom sodat hulle geld kan hê, en dit in oorvloed”. Staan dit daar? Nee, as iemand vir jou dit vertel jaag jy hom weg. 

Gaan hierdie fondament waarborg dat jy nooit siek sal word, of sterf nie? Nee, dan was my ma ook een van daardie mense met te min geloof, want sy het gesterf aan kanker. God het anders besluit. Selfs Paulus praat van die doring in sy vlees, wat mense vandag glo was 'n siekte soos kanker. Maar God het gesê: “My genade is vir jou genoeg”. 

Nou vra ek, why bother? 

Goeie fondasie kom teen 'n prys: harde werk, grond goed vasgestamp. Dit beteken egter nie dat jy moet terugsit en wag nie, dit beteken dat jy werk aan jou verhouding met Jesus, want die storm gaan iewers oor jou huis aangestorm kom. Die lewe is nie regverdig nie, siektes kom oor ons, slegte dinge gebeur met goeie mense. Maar jy werk aan daardie fondament, juis wanneer die storms stil is.

Jy is baie geseënd as daardie bitter beker by jou verbyhou. Maar dit het nie by Jesus verbygehou nie. Onthou jy in die tuin voor Sy kruisiging? Hy het gebid dat die beker sal verbygaan, maar toe het Hy aanvaar dat die stormwinde gaan verwoes en breek. Hy het egter op Sy Vader, Sy Rots gestaan. 

'n Fondasie is nie vir kalm dae gebou nie, want dan het jy dit nie nodig nie. Jy het dit nodig wanneer die winde kom en alles wil verwoes. As jy dan op die Rots gebou het, sal jy dit maak. Vra maar vir baie wat dit al probeer het. Daardie rots fondasie word in stormweer getoets, en dis te laat as jy onverhoeds betrap word. Stormdae kom, the cheque is in the mail (net dalk), maar staan gesetel op die enigste ware Rots, Jesus Christus.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)