UITKAMP – 14 April 2010 


Die uittog het begin. Baie ouens is op pad Mighty Men toe. Die laaste een. Groot opgewondenheid. Die karre word gepak – dis tente, port-a-potties, skottelskaar, gasbraaiers... en nie ‘n vrou in sig nie. Ek wil nie praat oor Mighty Men nie, maar wel oor die verblyf... kamp; uitkamp; tentdorp; tydelike verblyf. Ek het twee jaar hiervan gehad: ek het in 14 Veld in Potch vir twee jaar in ‘n tentdorp gebly met hoofsaaklik koue water, net die nodigste elektrisiteit vir een lig, baie stof; geen beskerming teen winde en storms nie. Ek dink nie jy kan ‘n baksteengebou genoeg waardeer as jy nie lank in ‘n opvou-huis gebly het nie. Vir ‘n naweek of ‘n paar dae langer as dit is dit lekker (mens noem dit selfs vakansie), maar sommer gou verlang jy na jou eie, stewige, waterdigte, warm, veilige struktuur wat jy huis noem. Kom ons kyk wat sê die Bybel van uitkamp: 

2 Kor 4:16 – 5:10
Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op 'n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig. Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar 'n tent is, afgebreek word, ons 'n vaste gebou in die hemel het. Dit is 'n woning wat nie deur mense gemaak is nie, maar deur God, en dit bly ewig staan. Terwyl ons in die tentwoning leef, sug ons, want ons verlang daarna dat ons woning uit die hemel ons sal oordek. Ons wil nie ontklee wees en naak voor God staan nie. Ons wat nog in die tentwoning is, sug en voel bedruk omdat ons nie van die aardse liggaam afstand wil doen nie; ons wil die hemelse bo-oor die aardse aantrek, sodat wat sterflik is, verteer kan word deur die lewe. Hy wat ons vir hierdie oorgang voorberei het, is God. As waarborg hiervan het Hy ons sy Gees gegee. Daarom is ons altyd vol moed. Ons weet dat, solank as ons in die liggaam bly, ons nog nie by die Here woon nie, want ons lewe deur geloof, nie deur sien nie.  Ons is vol moed en sou liewer ons verblyf in die liggaam wil verlaat en by die Here gaan woon. Maar, of ons hier woon of daar woon, ons het net een wens, en dit is om te lewe soos Hy dit wil. Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad.
 

Paulus vergelyk hierdie lewe met uitkamp, en die hemel (die hiernamaals) met huis toe gaan. Hierdie lewe wat vol swaarkry is, is die lewe in ‘n opvou-huis. Sommer ‘n struktuur wat net vir ‘n kort tydperk ‘n doel het. ‘n Woning wat eintlik nie die werklike is nie, wat nie veronderstel is om te veel prioriteit te kry nie. ‘n Tydelike blyplek wat net voldoende moet hou totdat ons “huis toe” gaan.  

Paulus gebruik nogal ‘n treffende beeld as hy die hier en nou met tent lewe vergelyk. Die hier en nou verwys dan ook volgens vers 4 na ons aardse liggaam. Iets tydelik. Daar is ‘n klompie punte wat hy noem: 

  • Dit moet net lank genoeg ‘n woning vir jou siel/gees verskaf om hierdie lewe deur te sien. Die mense sal 70-80 jaar oud word, en dan is die tentwoning uitgedien. Jou liggaam se lewensduur is kort, net soos ‘n tentwoning waarin jy vakansie hou. Nie gemaak van materiaal wat 100 jaar se blootstelling aan die buitewêreld hoef te weerstaan nie.

  • Dit sal swaar wees (Vers 17) Mense sal vir jou sê Christene kry nie swaar nie, en sal altyd net voorspoed beleef, maar my Bybel sê anders. En my common sense sê dit ook vir my. Hierdie lewe sal die storms terdeë voel. Ek onthou as tjokkertjie het ons elke jaar gaan vakansie hou in ons gróót groen tent by Illovo. Boeta, ons het gehang aan daai tentpale as daar ‘n storm was. Maar ... die volgende dag het die son weer geskyn, en alles was lekker. Swaarkry is deel van die lewe. Vat dit, leer daaruit, groei daardeur.

  • Dit vra geloof om deur te druk (Vers 18). Ons oog is nie op die sigbare nie. Die sigbare het nie geloof nodig nie, net die onsigbare. In hierdie wêreld is dit die geloof in die ewige, vaste gebou wat die tentwoning draaglik maak. Sonder hierdie geloof sal jy dink die tentwoning is alles. Geen uitsien na meer nie, na beter nie, na die volmaakte nie.

1 Kor 15:19 As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van almal. 

“Pack up an go”! Die vaste woning (die hemel), is ‘n lekker plek. ‘n Plek waarna ons kan uitsien, want niks van die gemors waardeur ons hier ploeg, sal daar wees nie. Die vaste woning is ‘n baie spesiale plek. Vers 1 sê dis nie deur mense gemaak nie, maar deur God. Die lewe op aarde sluit mos baie goed in wat mensgemaak is; om jou is miljoen dinge wat mensgemaak is, wat die lewe lekkerder maak, wat ons woning draaglik maak... maar dit is afhanklik van die mens se vindingrykheid. Paulus sê nee, die vaste woning is deur God gemaak. Dit is ewig, dit is soos om vakansie te gaan hou in die luukste van die luukste hotelle, waar geen element van ongerief teenwoordig is nie, en waar jy vir ewig en ewig kan gaan bly. Gaan slaan ‘n tent langs ‘n vaste baksteengebou op en los dit daar vir 150 jaar, en die tent is weg.

Maar vir nou kamp ons nog uit. Alles is verseker nie net sleg nie, inteendeel! Net soos wat dit pret is om in ‘n vakansie oord tent op te slaan, en lekker dinge te beleef, kan die lewe in jou tentwoning vandag vir jou lekker wees. Ons besluit in ‘n baie groot mate self hoe ons hierdie tent-tyd gaan beleef. As ons gaan vakansie hou met ‘n tent, is dit ons keuse. Uitkamp kan ‘n lekker, aangename, avontuurlike ondervinding wees, so ietsie anders. Die ondervinding is die moeite werd. Dis vir my so hartseer dat mense daagliks vir mekaar vertel dat die eindtye nou maar moet aanbreek want die lewe is ondraaglik. So asof die Here ons nie daagliks bederf met ongelooflike seëninge nie. Ons doel hier op aarde is nie net om te wag vir oppak tyd nie. Ons weet dis tydelik, maar ons kan die beste daarvan maak. 

2 Kor 5:6-9
Daarom is ons altyd vol moed. Ons weet dat, solank as ons in die liggaam bly, ons nog nie by die Here woon nie, want ons lewe deur geloof, nie deur sien nie. Ons is vol moed en sou liewer ons verblyf in die liggaam wil verlaat en by die Here gaan woon. Maar, of ons hier woon of daar woon, ons het net een wens, en dit is om te lewe soos Hy dit wil. 

“Ons is vol moed”. Is jy? Of is jy moedeloos en voel jy magteloos? Hier of daar, ons wil lewe soos Hy dit wil. 

Dus, terwyl ons dan nou nog vasgevang is in ons aardse tentwoning, moet ons strewe wees om te lewe soos Hy dit wil, en nie heeltyd uit sien na die vaste woning nie. Geniet die kamplewe!
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)