VADERSKAP


Wees 'n pa vir jou kinders soos wat God 'n pa vir ons is. Dit is seker makliker gesê as gedoen! Aan die ander kant, kan ek dalk sê dat ek nie myself met God kan vergelyk nie. Dis waar, maar ons kan sekerlik leer by God die Vader en ons kan leer uit wat ons in die Bybel lees oor hierdie geweldige sterk band tussen Jesus en Sy Vader. Jesus wat alles in totale toegewydheid aan Sy Vader doen. In Joh 10 lees ons van Jesus se gesprek met die Fariseërs waar Hy verduidelik dat Hy net onder die gesag van Sy Vader werk. Hier sien ons iets van Sy onderwerping aan gesag, Sy respek vir die Vader, Sy liefde vir die Vader en Sy gehoorsaamheid aan die Vader.

Ons as aardse pa's het 'n bepaalde rol, 'n verantwoordelikheid, 'n gesagsposisie en 'n opdrag. God hou ons verantwoordelik vir hierdie rol waarin Hy ons geplaas het. Die vraag is net, wat maak ons daarmee? Tot watter mate voer ons hierdie verantwoordelikheid uit? Jesus het dikwels by Sy Vader se voete gaan sit. Dit impliseer dat die Vader altyd beskikbaar was. Hoe beskikbaar is ons? Jesus het Sy Vader goed geken! Hoe goed ken ons kinders ons? God het Sy opdragte duidelik vir Jesus gegee. Hoe gee ons opdragte? Of moet ma dit doen? Ken ons ons kinders? Jesus sê, "Ek en die Vader is een". Wat 'n wonderlike verhouding is dit nie. En ons, ken ons ons kinders? Is ons een? Watse pa's is ons?

1 Kor 13 vir pa's:

Al sou ek die mooiste huis in die buurt hê en met die duurste BMW ry, maar my vrou en kinders geniet nie die weelde van my teenwoordigheid nie, dan is ek so waardeloos soos 'n bankkrediet met 'n nulbalans.
Al het ek die gawe van woorde sodat ek 'n direksie met my argumente kan swaai, of skares na my preke kan laat stroom, en ek het nie die liefde om na my kinders te luister nie, doen ek meer kwaad as goed.
Al ken ek die geheimenisse van die Beurs en die Reserwebank, en al besit ek al die kennis van rugby- en krieketreëls, en al het ek al die geloof dat ons hierdie land met gebed kan verander, maar ek het nie die liefde om my kinders die gevare van baie geld te leer, langs die baan te staan as hulle speel of hulle te leer bid nie, dan het ek niks bereik nie.
Al gee ek 'n dubbele tiende vir die armes, en al beroem ek my dat ek in elke liefdadigheids raad op my dorp dien en vakansies my gesondheid opoffer om in malariagebiede sendingwerk te doen, en ek is te moeg om saans vir my kinders boeke te lees of naweke in die veld te gaan stap, baat dit my alles absoluut niks.
'n Pa wat liefhet, is geduldig met kinders wat sukkel met wiskunde,
'n Pa se liefde is vriendelik met 'n kind wat nie wil rugby speel nie,
Hy is nie afgunstig op pa's met slimmer en mooier kinders nie,
Hy is nie grootpraterig en verwaand oor sy kinders se prestasies nie,
'n Pa se liefde handel nie onwelvoeglik met die ma van sy kinders nie,
Soek nie sy eie belang sodat sy huismense laaste kom nie,
Is nie liggeraak en nukkerig as 'n kind bietjie ekstra aandag soek nie.
'n Pa wat sy kinders liefhet, hou nie boek van hulle foute en peper hulle nie met verwyte nie.
'n Pa verbly hom nie oor 'n kind se foute met:
"Ek het jou gewaarsku maar jy wou nie luister nie"
Hy is verheug as hy sy kinders die waarheid hoor praat - selfs tot hulle eie nadeel.
Daarom wil ek my kinders se skandes met liefde bedek,
In hulle glo,
Die beste vir hulle hoop,
En hulle kleredrag, klaery en kritiek verdra.
'n Opregte drukkie en 'n intieme gesprek van 'n ouer bly lank in 'n kinderhart. Maar die preek of toespraak wat ek liewer in die tyd wou skryf sal oormôre weer vergeet wees.
Vandag se noterings op die aandelemark is volgende week niks werd nie.
In die lig van die Volmaakte wat kom, word al my kennis en besittings gerelativeer.
Toe ek 'n jong man was, was ek gesteld op my voorkoms, my motor en my geleerdheid,
Maar noudat ek 'n pa geword het, wil ek graag my kinders met liefde, balans en geloof grootmaak.
Nou kyk ek nog vas teen rebelse tienergesigte,
Maar eendag as hulle groot is,
Sal hulle verstaan wat ons hulle wou leer,
En wat God ons almal leer.
En nou:
Geduld, aanmoediging en liefde bly,
Maar die waardevolste hiervan is onvoorwaardelike liefde!

Jitte, daar is darem maar 'n klomp lewenslesse in hierdie stuk. Vergewe my as ek op jou gevoel speel, maar weet verseker ek speel ook op my eie gevoel.

Hoe lyk 'n pa duisend?

· Hy is ’n mentor vir sy kind. Wat is die definisie van 'n mentor? Dit is iemand na wie toe jy kan opkyk, en sê, soos Rut vir Naomi, "Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan en om om te draai nie, want waar u gaan, sal ek gaan, waar u bly, sal ek bly, u volk is my volk, u God is my God, waar u sterf, sal ek sterf.” Dis mentorskap. Pa, wat jy glo, sal ek glo, wat jy is, wil ek wees, die hemel waar jy gaan, wil ek gaan. Jou lewenswandel is die een wat ek wil wandel. Die verhouding wat jy met my het, wil ek eendag met my kinders hê. Soveel tyd as wat jy aan my gee, wil ek eendag aan my kinders gee. Dit is die moeite werd om jou kind te wees. Sjoe, kan ons as Pa en kinders dit regtig sê?

· Hy leer sy kind
Spreuke 29 : 17 "Gee jou seun 'n goeie opvoeding en jy sal gerus wees oor hom, hy sal jou baie vreugde verskaf."
Deut 6 : 6 - 7 "Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is, en as jy op pad is, en as jy gaan slaap, en as jy opstaan."
Ons probeer egter afstandsonderrig gee. Ons dink ons kan ons kind leer stap per e-pos, ons voorbeeld stel per SMS. Ons dink ons kan die opvoedingstaak vir die onnie los. Wat verwag ons dan moet van ons kinders word? En dan sê ons "o koek, hierdie kinders van vandag!" En die kinders vra vir mekaar "Het jy 'n pa?" Wie is jou kind se pa? Een van vlees en bloed? Of 'n R100 noot?

Nog so 'n paar ander punte...

· Leer om geduld te hê. Ons het nie geduld met ons kinders nie, want ons ken hulle nie.
· Aanvaar die generasie gaping. Soos wat jou pa ook met jou moes doen. Aanvaar en verstaan die verskillende fases waardeur jou kind gaan.
· Stel ’n goeie voorbeeld. Wat jy doen, sal hy doen, soos jy oor jou werk tekere gaan, sal hy ook. Jou rassistiese praatjies, sal hom beïnvloed. Hy sal sy verhouding met God, baseer op jou verhouding met God.
· Vergewe jou kind soos jy verwag God moet jou vergewe. Los agter wat agter is, begrawe die ou koeie eens en vir altyd. Staan onvoorwaardelik by hulle.
· Respekteer jou kind. Vra sy mening, nie net as jy wil uitvind hoe jou selfoon werk nie. Daar is blykbaar toe wel dinge wat hulle weet wat jy nie weet nie.
· Leer hulle hoe 'n goeie huwelik werk; stel ’n voorbeeld deur lief te wees vir hulle ma. En as jy geskei is, bewys respek teenoor hulle ma. Bid reeds nou al vir jou kinders se huweliksmaats.
· Leer hulle dat die lewe geniet kan word. Leer hulle dat werk net een van die fasette van die lewe is, en nie die enigste een nie.
· Moenie jou tekortkominge, en onvervulde ideale op jou kind af forseer nie. Aanvaar hulle individualiteit, en respekteer dit.
· Moenie skaam wees om vir hulle te sê jy is jammer oor iets nie. Hulle moet verstaan dat jy ook foute kan maar. Vra hulle vergifnis.
· Raak aan hulle, soen hulle, omhels hulle (al raak 'n tiener soos 'n stok), wys dat jy 'n hart van vleis het. Moenie skaam wees om jou emosies te wys nie.
· Wees dáár vir jou kinders.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)