Ons leef in 'n
onseker wêreld. Ons weet nie wat more gaan gebeur nie, of oor 'n minuut,
'n jaar, of in die toekoms nie. Ook nie hoe oud ons gaan word nie, wie vir
ons in die toekoms gaan sorg nie. Die lewe is vol risiko's. Elke oomblik
is 'n risiko en 'n klomp dinge bepaal hoe groot die risiko is. Jou
ouderdom, waar jy bly, jou verhouding met ander mense. Inderdaad onseker
tye! Nou ja, omdat ons so onseker is, probeer ons risiko's afdek deur
versekering. Hoe lyk jou versekeringsportefeulje? Alles in plek? Sjoe, en
daar is 'n klomp dinge wat jy kan verseker. Korttermynversekering,
lewensversekering, inkomstebeskerming, begrafnispolisse,
pensioen-annuïteite, mediese versekering, spaarplanne, ens. Ons maak baie
goed voorsiening - en dis ook reg so. Dan begin ons stoei! Die blou party
sê jy moet 'n middelman hê, die groen party sê nee! We cut out the
middleman! Party sê, gaan offshore, nog ander sê, moenie al die eiers in
een mandjie pak nie. Ai, wie moet jy glo? Maar hier is die probleem: alles is gerig NET op hierdie lewe. Geen versekering strek verder as dit
nie! Is jy ook meer werd dood as lewendig? Soos ek? Paulus sê in 1 Kor 15
: 19 "As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die
bejammerenswaardigste van alle mense".
Hoeveel betaal jy
maandeliks vir “what-if”? Dis nou net vir ingeval. Is alles nie maar net
gerig op vrees nie? Word ons nie maar deur vrees gebombardeer om vir alles
moontlik voorsiening te maak nie. Wel, of dit so is of nie, ons moet seker
maar voorsiening maak.
Nou ja, soos gesê, is
versekering seker nodig vir hierdie lewe, maar ongelukkig is ons
aardsgesproke heeltemal oorverseker, maar geestelik bankrot. Jes 29 : 13
"Die Here het gesê: hierdie volk is naby My met die mond, hulle eer My
met wat hulle sê, maar hulle hart is ver van My af, hulle dien My soos
mense dit wil hê, nie soos Ek wil nie." Groot probleem. Ons lyk reg,
klink reg, maar die Here sê, ons beleggings en versekering is nie in plek
nie.
Soos reeds gesê is daar verskeie tipes versekering.
Kom ons kyk na 'n paar:
Spaarplan
Ons sit so 'n
neseiertjie weg, so vir die sogenaamde "rainy days". So asof ons so seker
is dat ons nog eendag iets op hierdie beleggingtjie gaan trek. 'n
Spaarplan is goed, dit dwing jou om iets weg te sit, maar weereens, die
opbrengs is afhanklik daarvan dat jy sal leef om dit te kan geniet. Matt 6
: 19 "Moenie vir julle skatte op aarde bymekaar maak waar mot en roes
dit verniel nie en waar diewe inbreek en dit steel nie. Maak vir julle
skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie, en
waar diewe nie inbreek en dit steel nie."
Jy sien, God se
spaarplan is nie afhanklik van rentekoerse, of marktendense nie. Dit kom
niks oor as die aandelemark "crash" nie. Dit word ook nie be-invloed deur
'n moontlike oneerlike makelaar nie. Nee, jou belegging is veilig. Dit hou
lank, en groei vir altyd en altyd. Jy sal ook nie die beskikbare fondse
oorleef nie.
Korttermynversekering
Dis nogal 'n oulike
een. Jy verloor al jou premies, totdat die noodlot toeslaan. (Behalwe
sekere ouens wat so ietsie van die premie teruggee) Alles gebaseer op 'n
risiko-analise. Jy dra op die einde self die risiko - met jou premies en
al.
Ps 91 : 1 - 13 Hy
wat by die Allerhoogste skuiling vind en die beskerming van die Almagtige
geniet, 2 hy sê vir die Here: U is my toevlug en my veilige vesting, my
God op wie ek vertrou. 3 Dit is Hy wat jou uit die voëlvanger se wip hou
en jou bewaar van dodelike siekte. 4 Hy beskut jou onder sy vleuels en is
vir jou 'n veilige skuilplek. Sy trou beskerm jou aan alle kante. 5 Jy
hoef nie bang te wees vir gevaar in die nag of vir aanvalle oordag, 6 vir
pes wat in die donker toeslaan of vir siekte wat helder oordag verwoesting
saai nie. 7 Al val daar duisende langs jou, tienduisende by jou, vir jou
sal niks tref nie. 8 Met jou eie oë sal jy sien hoe die goddelose gestraf
word. 9 Omdat jy die Here as skuilplek geneem het, die Allerhoogste as jou
beskermer, 10 sal geen onheil jou tref en geen plaag naby jou woonplek kom
nie. 11 Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy ook al gaan.
12 Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen 'n klip
sal stamp nie. 13 Jy sal oor leeus en adders loop, leeus en slange sal jy
dood trap.
"Ek sal jou beskerm".
Ja, ons neem korttermynversekering uit, en dis reg so - ek ook; maar
primêr moet ons vertroue en versekering in God lê.
Baie mense gebruik hierdie teks in die plek van versekering, maar die
realiteit is dat slegte dinge met goeie mense gebeur, en die onverwagte
gebeur met almal van ons. Net soveel gelowiges as ongelowiges word siek,
word beroof, gaan dood aan siektes, kom in ongelukke en daarom moet ons op
aardse vlak ook voorsiening maak.
Mediese
versekering
Iets waarsonder ons
nie kan klaarkom nie. 'n Goeie mediese skema. Die probleem is, die mediese
versekering werk eers as ons klaar siek is! Maar genesing lê primêr by
God.
Ps 103 : 2 - 4 Ek
wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie. 3 Dit is Hy wat
al my sonde vergewe, wat al my siekte genees, 4 wat my red van die graf en
my met liefde en ontferming kroon,
Jes 53 : 4 "Tog
het hy ons lyding op Hom geneem, ons siektes het Hy gedra".
Mediese versekering
kry jou in 'n goeie hospitaal, betaal vir al die brille en pille, en as jy
by die regte fonds is, selfs vir jou oefening by die gimnasium. Hulle noem
dit pro-aktiewe gesondheidsorg. Dis nou as jy wel in die gimnasium
ingaan! Die toegangskaart maak jou nie maer nie, net die oefening wat
deur die toegang moontlik gemaak word!
Annuïteit
Dan kry ons natuurlik
'n annuïteit, waar ons fluks spaar vir pensioen. Net vir ingeval ons oud
word. Goed so, maar ons kan ook maar gerus ons vertroue in die Here sit.
Jes 46 : 4 "Ook tot in julle ouderdom is Ek die Here, tot in julle
grysheid sal Ek julle dra. Ek het julle gemaak en Ek sal julle vashou,
julle dra en julle red". Dis mos nou pensioen!
Sommer so terloops,
skaf gerus vir jou die boekie “The richest man in Babylon” aan. Dis al in
1926 geskryf en is gemik op die gesonde bestuur van jou geld. Jy kan dit
ook gratis van die internet aflaai.
Maar:- hoe lyk jou...
Lewensverskering
Jy sien, as jy goeie
lewensversekering het, sal baie geld uitbetaal word, maar jy kry niks
daarvan nie. Want geen polis kan jou lewe red nie. Wat is lewe dan? Watter
polis kan jou lewe gee? 1 Joh 5 : 12 "Wie die Seun het, het die lewe;
wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie".
'n Polis sonder 'n
premie. 'n Polis wat elke moontlike risiko afdek. Weet jy wat is mooi
hiervan? Die probleem is uitgesorteer vóór die noodlot toeslaan.
Nou bly een vraag
oor:- "Het ons 'n middelman nodig?" Verseker. God se ultimate polis vra 'n
middelman. Sy naam is Jesus. Hy móét daar wees, want Hy het immers die
premie betaal. AL die premies, elke sent.
Hebr 10 : 5
"Daarom sê Christus met Sy koms in hierdie wêreld: Dit is nie dieroffer of
graanoffer wat U wou hê nie, maar die liggaam wat U My gegee het".
Hebr 9 : 24
"Christus het nie ingegaan in 'n heiligdom wat deur mense gemaak is en net
'n namaaksel van die ware is nie. Nee, Hy het in die hemel self ingegaan
om nou ter wille van ons voor God te verskyn".
En
hoor hoe praat ons Makelaar met ons in Jer 29 : 11
"Ek weet wat ek vir
julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir
julle 'n toekoms gee, 'n verwagting".
|