VOLMAAKTE MISDAAD


Al gehoor van die perfekte misdaad?  Dit is nou as iemand iets ernstig verkeerd doen, geen spore agterlaat nie, en nooit boet vir sy wandade nie. Gedink dit kan nie? Dink weer. Misdade teen die mensdom wat geen sigbare getuienis agterlaat nie, maar wat fataal is. Hierdie misdade word gepleeg met ammunisie wat nooit opgespoor kan word nie, met 'n wapen wat so onskuldig lyk, dis eintlik verstommend. Wat sal ons dit noem? 'n Geheime wapen? 

Die probleem van hierdie misdaad is net dat die dood nie dadelik intree nie, en die meeste slagoffers sterf in hulleself, van binne af, sonder om regtig fisies dood te gaan. Het jy al gesien in wetenskap fiksie flieks? Waar die persoon so tussen hordes ander mense in die straat aanskuifel, treetjie vir treetjie, doodsbleek, arms hang slap langs die sye, die oë het 'n doodse staar in hulle. Mense loop soms in hom vas, maar dit lyk nie of hy registreer nie, brandmaer, ingeduikte hol wangbene. Lewe nie meer nie, bestaan nog net, haal asem, maar alles lyk sinneloos. Slagoffer van hierdie dodelike wapen, die ammunisie het sy liggaam vodde geslaan, maar om een of ander rede is daar geen merk op sy hele lyf nie, want die merke lê in sy siel. Die ergste is, daar is nie net een van hierdie slagoffers nie, daar is duisende wat deurloop, dag vir dag. Jonges, kinders, oues, mans, vrouens van elke volk, stam, taal en nasie. Miskien jy ook... 

Jak 3 : 1-13
My broers, julle moenie almal leermeesters wil wees nie, want julle moet weet dat ons wat leermeesters is, strenger as ander beoordeel sal word. Ons struikel almal in baie opsigte. As iemand nooit struikel in wat hy sê nie, is hy volmaak, by magte om ook sy hele liggaam in toom te hou. Vir perde sit ons 'n stang in die bek, en dan gehoorsaam hulle ons en het ons hulle hele liggaam onder beheer. Dink ook maar aan skepe: al is hulle baie groot en al is die winde wat hulle aandryf, baie sterk, word hulle tog met 'n baie klein roertjie gestuur net waarheen die stuurman wil. So is die tong ook maar 'n klein liggaamsdeeltjie, en tog het dit groot mag. 'n Klein vuurtjie kan 'n groot bos aan die brand steek. Die tong is ook 'n vuur, 'n wêreld vol ongeregtigheid, die deel van die liggaam wat die hele mens besmet. Dit steek die hele lewe, van die geboorte af tot die dood toe, aan die brand, en self word dit uit die hel aan die brand gesteek. Alles wat loop, vlieg, kruip of swem, elke soort dier word en is al deur die mens getem, maar geen mens kan die tong tem nie. Dit is 'n rustelose kwaad, vol dodelike gif. Met die tong loof ons die Here en Vader, en met die tong vloek ons die mense wat as die beeld van God gemaak is.  Uit dieselfde mond kom lof en vloek. My broers, so moet dit nie wees nie. 'n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars en brak water opborrel nie. 'n Vyeboom, my broers, kan tog nie olywe dra nie, of 'n druiwestok vye nie. 'n Brak fontein kan mos nie vars water gee nie!

Woorde, die mees dodelike  wapen, met die meeste vernietigingskrag denkbaar. Vervaardig van 26 letters, wat ons die alfabet noem. Dit word blitsig vervaardig in hierdie fabriek van ongeregtigheid. Ammunisie wat geen sigbare teken of spoor agterlaat as dit afgevuur is nie. Niks. En as die slagoffer getref word, steier hy asof 'n kanonkoeël hom tref, krimp ineen, en sterf stadig maar seker.

Net soos 'n padda sy tong met onbeskryflike snelheid kan uitspoeg om sy prooi te vang, spoeg ons tonge woorde uit, nee, eintlik lanseer ons hierdie ammunisie met die snelheid van klank, en tref die slagoffer keer op keer kolskoot, tref telkens 100% sekuur, en ons gaan dan aan asof ons niks verkeerd gedoen het nie.

“Sticks and stones can break my bones, but words can never hurt me”. Onthou jy hierdie woorde uit ons kinderdae? Wel, dis 'n leuen! Dit maak seer, dit vernietig, dit verwoes. “Praat sonder om te dink kan soos dolksteke wees” (Spr 12:18)

Die slim mense sê emosionele mishandeling kom NET deur woorde. Woorde wat diep binne-in die sentrum van die mense se bestaan vasslaan, wat die weefsel van die siel vernietig, en soos 'n kanker begin vreet aan die res van die mens se innerlike. Só sterf baie mense, dag vir dag, woord vir woord, bietjie vir bietjie, nogal wreed en onbeskryflik pynlik. Geen getuienis word agtergelaat nie, en die ergste is, dis gewoonlik  nie eers teen die landswette nie. Maar dis erg. Dit gebeur op baie maniere: vloek, skel, vervloek, skreeu (skreeu werp die woorde baie vinniger uit), skinder en kwaadpraat.

Jak 3:6 sê “Die tong is ook 'n vuur, 'n wêreld vol ongeregtigheid. Rustelose kwaad, dodelike gif”.

Geheime wapen is woorde. Dit is die een aanval op die mens waarvan die geheue nooit laat los nie. En die ergste is, dit gebeur met ons almal, en ons almal is slagoffers van hierdie ongelooflike pynlike aanvalle. Nog erger is dat ons self dikwels die aanval werk doen. Die ammunisie raak nooit op nie, en solank die mens leef, gebruik hy hierdie dodelike wapen.

Is daar sulke pyle wat as kind op jou afgevuur is? Het jy letsels aan jou binnekant wat net nie wil genees nie? Woorde soos: Jy is niks werd nie; Jou ma moes jou doodgelê het; Sies, kyk hoe lyk jy; Jy is nes jou ma; Jy sal dit nooit maak nie; Jy is dom; Jy lyk soos 'n...... ; Jy is 'n “loser”; Was jy maar soos jou broer of suster; Jy gaan nog dieselfde pad as jou pa stap.

Weet jy hoe werk hierdie ding? 100 mense vertel vir jou hoe goed jy lyk, dan sê een persoon in 'n onbesonne oomblik vir jou: “Bietjie gewig aangesit né?” Dan glo jy hierdie een persoon! Woorde werk baie ernstig op ons gevoeligste senuweetjies. Lelike woorde is so verskriklik lelik, en mooies is so verskriklik mooi. Mooi woorde is onbeskryflik mooi. “Wyse mense bring genesing met wat hulle sê” (Spr 12:18)

Neem nou daardie selfde letters, die 26 van die alfabet, herrangskik die letters so bietjie, maak sinne waar jy dieselfde afbrekende woorde gebruik het en skommel dit so bietjie, en 'n simfonie stroom uit jou mond uit. Voeg daarby so bietjie sagte emosie, en in plaas daarvan dat jy dit uitspoeg, blaas jy dit met so bietjie liefde oor iemand, en 'n wonderbaarlike ding gebeur. Daardie skuifelende lyk begin skielik regop kom. Skielik begin daar lewe in die oë kom, die wangetjies begin rooi en bloesend word, die skouers trek fier en regop, en die persoon begin al hoe vinniger en vinniger beweeg, totdat hy in 'n drafstap begin huppel. Lag, glimlag, die lewe kom terug. Dis wat mooi woorde regkry.

Jy sien, meneer, jy breek vir vroulief dag vir dag af, en een van die dae is daar nie meer 'n vroulief nie, dan is jy vrouloos. Dan wonder jy wat gebeur het...

Mooi woorde motiveer, dit bou selfbeeld, dit stuur die skip in 'n nuwe rigting, en ja, dit het  groot mag. Die regte tipe mag as dit reg aangewend word. Dieselfde woorde wat soveel vernietigskrag het kan deur nuwe woorde vervang word wat wonde genees, verhoudinge herstel, nuwe vriendskappe smee en ou drade optel. Met wie leef jy in onvrede? Het jy dalk 'n ouer afgeskryf, of 'n kind verwerp? Woorde kan dit herstel, weet jy? Is jy ver van God af? Net 'n paar woorde is al wat nodig is. Het jy al wonde toegedien? Mooi woorde kan dit alles herstel. Mooi woorde is 'n salf wat al die wonde kan genees.

Kom, ek daag jou uit. Sê skuus, sê ek's lief vir jou, sê jy lyk mooi, sê ek verlang na jou. Gaan sê Pa, Ma, ek is terug, ek wil weer deel wees van jou lewe, kom ons maak dinge reg.

Solank daar lewe is, is daar hoop. En as woorde ontbreek, vat die Woord van die Here, en haal sommer daaruit aan. Daar is 'n woord vir enige situasie, en jy kan dit gratis gebruik, daar is  nie eers kopiereg op nie. Daar is báie woorde, almal mooies. Gebruik dit mildelik.

Wat kies jy om te hoor? Seker nie slegte woorde nie? Moet jy dan ook nie slegtes gebruik nie. 
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)