VOLSTRUIS IN DIE WINDPOMP


Wat is die grootste en goorste krisis wat jou al getref het? Waar in jou lewe het die onaangenaamste ding denkbaar jou getref? Of is jy vrygestel van alle vorms van swaarkry, teenspoed of moeilikheid? Ek twyfel. Ek dink ons elkeen het iewers al in iets sleg beland. Hetsy jy dit oor jouself gebring het, of dat dit deur iemand anders teweeggebring is. Nou ja, daar is ‘n goeie spreekwoord daarvoor: wanneer die pawpaw die fan strike, in Afrikaans vertaal: wanneer die volstruis in die windpomp invlieg. Kan jy daardie dag onthou? Of dae? Of tydperk? … toe die volstruis in jóú windpomp ingevlieg het. Dalk was dit trauma a.g.v. lewensverlies, of toe jy hoor jy het kanker, of toe jy in hegtenis geneem is, of toe jou man of vrou jou met ‘n hamerhou tussen die oë klits deur te sê: “ek is klaar met jou, ek wil nie meer voortgaan nie”. Onthou jy hoe dit gevoel het of jou lewe in skerwe spat? Bitter onlekker… toe dit voel of alles inmekaar val, en niks meer sin maak nie. Onthou jy hoe jy gevoel het, die sukkel om dit te verwerk, daardie onbeskryflike bang, die gevoel dat niks is in beheer is nie.  En … as dit nog nie met jou gebeur het nie , wees dankbaar, baie dankbaar. Party sal dit dalk vir altyd vryspring. Maar … ongelukkig, vir party kan ons sê: “the cheque is in the mail”. Het jy ‘n “survival kit” gereed vir daardie dag? 

Wat sê die Bybel van die volstruis-in-die-windpomp-dae? Praat die Bybel enigsins oor moeilike tye, of glo jy die mense wat so roekeloos sê dat slegte goed nooit met Christene kan gebeur nie? 

Ps 23
Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is. Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam. Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig. U laat my by 'n feesmaal aansit, terwyl my teëstanders moet toekyk. U ontvang my soos 'n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid. U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae.  

Klink hierdie Psalm na een wat nét voorspoed uitbeeld? Of maak dit ook voorsiening vir moeilike tye? “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In U hande is ek veilig.” Hoor wat sê vers 1: “Die Here is my herder, ek kom niks kort nie”. Daar staan nie “ek het alles in oorvloed” nie, daar staan “ek kom niks kort nie”. Daar is nogal ‘n verskil. “Ek kom niks kort nie”, klink vir my na tevrede wees met my omstandighede en situasie.

Vir Job was dit ‘n GROOT volstruis, en ‘n woeste windpomp … miskien was daardie volstruis boonop swanger … met ‘n eier! Groot probleme wat hom getref het. Hy het alles verloor, diere, besittings, slawe, kinders, en later tref die allerverskriklikste siekte hom. 

Job 1:20-22
Toe het Job opgestaan en sy klere geskeur. Hy het ook sy hare afgeskeer. Daarna het hy op die grond gaan lê en gesê: "Sonder iets het ek in die wêreld gekom en sonder iets gaan ek daaruit. Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here." Onder alles het Job nie gesondig of God iets verwyt nie.
 

Die Here het gegee, en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here. Hoe hou jy daarvan? Toe die hare waai (of is dit nou die vere daar in die windpomp?), toe prys hy die Naam van die Here. Die Here laat die ergste dinge denkbaar toe in Job se lewe, maar Job sê: “Prys die Naam van die Here”. “As ons die goeie van God aanvaar, moet ons nie ook die slegte aanvaar nie?” (Job 2:10). Kan jy die Here prys daar waar jy in sak en as sit? Op die ashoop? Sonder werk?  Besig om te skei? In die gevangenis? Sonder ‘n sent op jou naam? By die graf van ‘n geliefde? Kan jy sê: “Here, niks werk uit nie, maar ek prys U Naam”?  

Hab 3:17-19
Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder. Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van 'n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop.
 

In sy boekie “Prison to Praise” sê Merlin Carothers jy moet net aanhou om die Here te prys, ongeag die omstandighede. Jy kry nogal ‘n interessante perspektief op jou probleme as jy dit begin doen, want dan erken jy dat die Here steeds (of liewer juis) in die prentjie is. Want jy besef eers dat die Here al is wat jy nodig het, as Hy al is wat jy oorhet. Dan erken jy die feit dat Hy steeds groter is as die probleem.  

Jes 41:10 
Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou. 

Hy is daar. Nóú. Ten spyte van… al  voel Hy ver. Die lewe is ‘n snaakse plek - dit gaan vir dekades lank goed, en dan een dag, styg daar ‘n volstruis op. Eintlik lanseer hy, en dan is dit nag! Die menslike natuur is om uit te roep: “Waar is U, Here?” So asof die Here weg is. Maar, as jy Hom prys en loof, gee jy erkenning aan die feit dat Hy dáár is, dat Hy in beheer is, dat Hy jou vashou en versterk. 

Toe ons kinders was, het ons elke jaar gaan vakansie hou by Illovo aan die Suidkus, met so ‘n groot, groen seiltent.  Ons het menige maal aan daai tentpale gehang soos vinke as daar ‘n storm opkom. Al wat jy moes doen, was om verbete te klou tot die storm bedaar het. En dis wat ek en jy vandag moet doen: staan vas, kap hakke in die grond in, anker jouself aan Jesus met sterk toue van geloof, en klou verbete. En weet een ding: dit maak nie saak hoe woes die storm woed nie, as jou geloofs-ankertoue sterk is, gaan niks jou omdop nie, want Jesus wat jou anker is, gaan nêrens heen nie. Maak nie saak of jy self verantwoordelik is vir die storm nie, Hy bly die anker. As dinge ondraaglik raak, bly Hy steeds die anker. As dit voel of die toue enige oomblik gaan breek, hou aan glo, dan word daai toue net dikker en sterker. Intussen: prys die Naam van die Here. Dis in hierdie tye wat jou kennis van God toeneem, veral as jy antwoorde in Sy Woord gaan soek. Jy sal nie weet hóé sterk die anker is as jy hom nog nie getoets het nie. 

En weet jy, eendag sal jy opkyk na die windpomp, dan is alles heelgemaak, skoongemaak, geverf, en ‘n ligte briesie waai die lemme rustig in die rondte. Dan sal jy kan terugkyk en Hom prys. Omdat hy dáár was, omdat Hy in beheer was, omdat Hy jou geleer het, omdat Hy jou vasgehou het, omdat Hy jou deurgedra het. Prys Hom omdat jy wéét dat Hy volgende keer weer daar sal wees. 
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)