VRAE


Ons het 'n vorige keer gepraat oor "storms van die lewe" (klik hier om dit te lees >>). Daardie tye wat kom wat niks lekker is nie. Die slegte dae wat maak dat ons nie in beheer is nie en die storms wat ons heeltemal oorweldig. Vandag wil ek dit so 'n stappie verder vat en praat oor vrae. Wanneer daar meer vrae is as antwoorde, en ons nie kan verstaan hoekom die Here doen wat Hy doen, en toelaat wat Hy toelaat nie. As ek vir jou sou vra, wat is die enkele grootste vraag wat jy graag nou vir die Here sou vra, wat sou dit wees? Heel moontlik iets soos, "Here, waar is U in hierdie moeilike tye en situasie, hoekom laat U soveel lyding toe?"

Klaagl 3 : 1 - 13 Ek is die man wat ellende belewe het. Die Here het my met sy toorn geslaan. 2 Hy het my die donker in gejaag, my laat loop op 'n pad sonder lig. 3 Vir my stoot Hy gedurig weg, dag na dag. 4 Hy het my hele liggaam laat wegteer, my bene gebreek. 5 Hy het my toegebou met 'n muur van gif en ontbering rondom my. 6 Hy maak die donker my tuiste, ek is soos dié wat lankal dood is. 7 Hy het 'n muur om my gebou, ek kan nie uitkom nie, Hy het vir my swaar bronskettings aangesit. 8 Al roep ek en al smeek ek om hulp, Hy weier om my gebed te verhoor. 9 Hy het my pad met klip toegebou, vir my geen uitkomplek gelaat nie. 10 Hy is soos 'n beer wat my inwag, soos 'n leeu wat my voorlê, 11 Hy het my eenkant toe gekeer en verskeur, my vermink laat lê. 12 Hy het sy boog gespan en my 'n teiken vir sy pyle gemaak. 13 Hy het sy pyle diep in my liggaam ingeskiet.

Is dit nie hoe ons soms voel nie? Dat die Here die vêrste is wanneer ons Hom die nodigste het. Dan wonder ek net so by myself: mag ek vrae vra? Het ek die reg om die Here tot verantwoording te roep? Moet Hy aan my verduidelik wat Hy beplan? Het ek nodig om te verstaan waarmee Hy besig is? Ek weet nie wat die antwoord is nie. Maar dis duidelik dat almal van ons maar een of ander tyd dink dat God net nie sin maak nie. Ons kyk graag na Job se verhaal en vind daarin vertroosting, maar dis maklik, want ons ken die einde van die verhaal. Job se storie het nie nét goed geëindig nie, al sy kinders is dood in die proses. Ons as mense sukkel maar met hierdie dinge.

Hoekom laat God lyding toe? Ons sal nooit verstaan nie, en daarom probeer ons antwoorde aanmekaar sit om op een of ander manier troos daaruit te kry.

1. God is soewerein. Hy doen wat Hy die beste weet. Hy is heilig, en ken ten volle, Hy ken ons eindverhaal nou alreeds. 
2. Deur hierdie proses skaaf en vorm Hy ons, louter Hy ons. Maar een ding weet ek verseker, die Here straf ons nie per definisie in hierdie prosesse nie. Ons leer egter geweldig baie in hierdie tyd. 
3. Die Here het ons nie vergeet wanneer hierdie moeilike tye kom nie, en Hy het ons niks minder lief nie. Sy genade hou ook nie op nie, en Hy dink nie minder van ons nie. Ek glo die Here se hart is ook seer wanneer slegte dinge met ons gebeur. 
4. Al dink ons nie so nie, is God se tydsberekening reg. Al gee dit nie vir ons enige antwoorde nie, het God reeds lankal bepaal wat wanneer sal gebeur. 
5. Die Here verduidelik nie altyd hoekom Hy dinge toegelaat het nie, maar soms verstaan ons eers later. 
6. Deut 32 : 39 "Ek, Ek is die Here. Naas My is daar geen ander God nie. Ek maak dood en Ek gee lewe. Ek maak siek en Ek maak gesond. Uit My mag word niemand bevry nie."  Dit wys vir my op God se soewereiniteit. Al verstaan ek dit nie. Ek weet wel dat alles dus net onder Sy beheer is. Waar is God in moeilike tye? Steeds op Sy troon. Steeds in beheer.

As hierdie swaar tye dan kom, wat maak ek? Soms is dit nodig om te wag op die Here.

Ps 130 : 1 - 8 Uit die dieptes roep ek na U, Here, 2 luister tog na my, Here, hoor tog my hulpgeroep. 3 As U ons sondes in aanmerking sou neem, Here, wie sou dan nog bestaan? 4 Maar by U ís daar vergifnis: daarom word U steeds gedien. 5 Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom, ek wag op die vervulling van sy woord. 6 Ek wag op die Here meer as wat die wagte op die môre wag, wagte op die môre. 7 Wag op die Here, Israel, want by die Here is daar troue liefde, by Hom is die verlossing seker. 8 Hy alleen sal Israel verlos van al sy sondes.

Wag op die Here, want by Hom is daar troue liefde. Miskien is jy tans in so 'n situasie waar niks sin maak nie. Daar is mense wat vandag hulle dogter groet vir oulaas nadat sy tragies oorlede is. Dan wonder mens, wat sê jy? Watter troos kan jy bring? Dis dan wat die Here met Sy vertroostingsproses begin. Wanneer jy jou arms om daardie persoon kan sit, so asof dit Jesus se arms is. Wanneer jy geen woorde het nie, is jou nabyheid meer werd as enige woorde. As jou trane saam met daardie persoon s’n vloei, en jou hartseer sê: "Ek gee om", dan kan jy maar net sê "Die Here is by jou". Hy is die groot geneser. En met tyd raak dit ook draagliker en word Ps 131 : 2 – 3 waar: "Ek het rus en kalmte gevind, soos 'n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind. Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd."

Ons kan maar net glo en vertrou dat God hier is en besig is met ons, al voel dit of Hy ons verlaat het. En ja, al kan ons dit nie beredeneer nie, is Hy oneindig lief vir ons. Hy gee om, en Hy maak geen foute nie, al kan ons dit nie verklaar nie.

Waar sal ons hoop dan lê? Hoe sal ons dan vertroosting kry?

Klaagl 3 : 21 - 33 Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: 22 deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, 23 dit is elke môre nuut. U trou is groot. 24 Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom. 25 Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra; 26 dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here; 27 dit is goed vir 'n mens om sy las in sy jeug te dra. 28 Laat hy in sy eensaamheid geduldig bly as God hom die las opgelê het, 29 laat hy hom diep verootmoedig - miskien is daar hoop - 30 laat hy sy wang draai vir wie hom slaan, laat hy maar oorvloedig smaad ondervind. 31 Die Here verstoot 'n mens nie vir altyd nie;

Die Here verstoot 'n mens nie vir altyd nie, as Hy beproewing oor 'n mens gebring het, ontferm Hy Hom weer, want Sy liefde is groot. Dit is teen Sy sin dat Hy mense in beproewing en ellende bring.

· Die Here is God, in goeie en slegte tye. 
· Die Here het jou lief, al voel dit nie so nie. 
· Die Here is in beheer, al voel ons buite beheer. 
· Die Here straf ons nie deur trauma toe te laat nie. Ons word wel daardeur gevorm. 
· Die Here wat hierdie dinge toelaat, is ook die Een wat troos.

Klaagl 3 : 38 "Is dit nie op bevel van die Allerhoogste dat die kwaad sowel as die goeie te voorskyn kom nie?"

Onthou die Here neem die hiernamaals in ag wanneer Hy hierdie dinge toelaat. Hierdie kind wat oorlede is, het die Here geken, dis die getuienis oor haar lewe. Dit maak tog ook geweldig baie saak. Iemand het eendag gesê: "Ons sal verstaan, al is dit ook in die hiernamaals." Miskien 'n skrale troos vir nou, maar daar lê tog 'n groot stuk waarheid in dit.

Waar sal my hulp vandaan kom? My hulp is van die Here, wat hemel en aarde gemaak het.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)