VROUE: ‘N HULDEBLYK


Ons mans het tog maar die slegte gewoonte om onsself bietjie hoog te ag, en dan heimlik neer te sien op vroue. Dan kom ons dikwels sommer met uitsprake vorendag soos: die vroue is die swakker geslag, vrouens kan nie bestuur nie, hulle is koopmasjiene, hulle praat te veel, hulle het nooit genoeg klere in die kas nie, hulle kan kla en kerm soos ‘n druppende kraan op die dak.... Siestog, ek dink ons sê dikwels hierdie dinge net om onsself bietjie beter te laat lyk en ons swakhede te verberg. Daarom wil ek vandag met hierdie stukkie hulde bring aan vroue. 

Vroue, ons mans gaan vandag so ‘n paar dinge toegee:

- ons sal nooit ‘n kind in die lewe kan bring nie; ek praat nie net van fisies nie; ons is heeltemal te pieperig.
- ons word soos babatjies as ons siek is, daarom die spreekwoord: “... so siek soos ‘n ... man”!
- ons kan nie “multi-task” soos julle nie; ons kan bv nie bestuur en grimering aansit terwyl ons op die selfoon praat en ontbytpap eet nie, en dit alles teen 120km/h. Ons kan nie eens loop én kougom kou nie.
- ons is minder verdraagsaam, minder geduldig en meer selfgesentreerd.
- ons sukkel om lief te hê, en om dit te sê.

Spreuke 31:10-31
'n Knap vrou is baie werd, baie meer as edelstene. Haar man steun op haar en pluk die vrugte van haar werk. Sy bring vir hom net voordeel, nie nadeel nie, haar hele lewe lank. Sy maak wol en vlas bymekaar en geniet dit om dit te verwerk. Sy is soos die handelskepe, sy bring die kos van ver af in. Sy staan op as dit nog nag is en maak kos vir haar huisgesin; ook haar slavinne kry hulle deel. Sy oorweeg die waarde van 'n stuk grond en koop dit, sy sit dit onder wingerd met geld wat sy self verdien het. Sy pak die werk aan met krag, haar hande staan vir niks verkeerd nie. Sy stel vas of die wins goed is, haar lamp bly heelnag brand. Sy werk met die spinwiel, haar hande bly besig met die weefstoel.  Sy het 'n oop hand vir die armes, sy is vrygewig teenoor die behoeftiges. Sy is gerus oor haar huisgesin as dit sneeu: hulle dra almal warm klere. Sy maak self vir haar dekens en sy dra klere van linne en wol. Haar man is welbekend by die stadspoort waar hy saam met die leiers beraadslaag. Sy maak klere en verkoop dit, sy lewer gordels aan die handelaars. Alles aan haar spreek van 'n sterk en edel persoonlikheid; sy ken geen kommer oor die toekoms nie. As sy praat, is dit met wysheid; as sy leiding gee, is dit met liefde. Sy hou goeie toesig oor haar huishouding; lui is sy nie. Haar kinders prys haar, haar man bewonder haar: “Daar is baie knap vrouens, maar jy oortref hulle almal!” Uiterlike skoonheid hou nie, 'n mooi voorkoms is nie alles nie; as sy die Here dien, dán verdien 'n vrou om geprys te word. Gee haar wat haar toekom vir alles wat sy doen; laat haar werk haar roem wees in die stadspoorte.

Wat ‘n pragtige huldeblyk aan ‘n vrou. Ek glo nie daar is enige deel in die Bybel waar ‘n man so besing word nie.  

Hierdie gedeelte beskryf ‘n klomp fasette van ‘n vrou en van haar rol as vrou.  

Spreuke 31:10-15
'n Knap vrou is baie werd, baie meer as edelstene. Haar man steun op haar en pluk die vrugte van haar werk. Sy bring vir hom net voordeel, nie nadeel nie, haar hele lewe lank. Sy maak wol en vlas bymekaar en geniet dit om dit te verwerk. Sy is soos die handelskepe, sy bring die kos van ver af in. Sy staan op as dit nog nag is en maak kos vir haar huisgesin; ook haar slavinne kry hulle deel.

Hiervolgens  is die vrou die man se helper, net soos wat dit Genesis sê en wat God se bedoeling was. Haar man steun op haar en pluk die vrugte van haar werk. Hoor hoe mooi sê vers 12: “sy bring vir hom net voordeel, nie nadeel nie”. Sien jy hierdie band van kameraadskap tussen man en vrou? Ek sien so in my geestesoog dat die man en die vrou ‘n volmaakte span is, hulle werk tot mekaar se voordeel, hulle vul mekaar aan, sy geniet dit om deel te wees van hierdie verhouding. Sy is aktief, en bly altyd besig. Sy is ‘n sieraad – meer werd as edelstene. 

Spreuke 31:16 – 20
Sy oorweeg die waarde van 'n stuk grond en koop dit, sy sit dit onder wingerd met geld wat sy self verdien het. Sy pak die werk aan met krag, haar hande staan vir niks verkeerd nie. Sy stel vas of die wins goed is, haar lamp bly heelnag brand. Sy werk met die spinwiel, haar hande bly besig met die weefstoel. Sy het 'n oop hand vir die armes, sy is vrygewig teenoor die behoeftiges.
    
Hiervolgens staan hierdie vrou se hande vir niks verkeerd nie. Sy help met die inkomste. Manlief, as jou vrou werk, waardeer jy dit genoeg? En as jy by die huis kom, moet sy alles doen terwyl jy net sit en ontspan? Ek dink ons as mans sien nie raak wat ons vrouens elke dag vermag nie, wat hulle moet uithou, wat hulle moet ontsê en hoe moeilik hulle dit soms het nie. Ons wil hoof van die huis wees, maar wil nie altyd doen wat dit van ons vereis nie. Kom ons gee vandag vir ons vroue die verering wat hulle toekom.

Spreuke 31:21-22
Sy is gerus oor haar huisgesin as dit sneeu: hulle dra almal warm klere. Sy maak self vir haar dekens en sy dra klere van linne en wol.

Jip, dan kom sy tuis en begin met die versorging van die kinders. Sy is gerus oor haar gesin, want sy het gesorg dat hulle alles het wat hulle nodig het. Moenie kla as sy alweer ‘n klomp klere vir die kinders gaan koop het nie; dié deel van die versorging van die huisgesin is wat sy wil en moet doen. Luister ook maar as sy vir jou sê om nie meer daardie hemp met die blink kraag te dra nie, of dié een wat al bietjie te styf sit, of dié een met die gaatjie in.... dis haar werk om te kyk dat jy mooi lyk, en sy wil dit doen.

Spreuke 31:23-26
Haar man is welbekend by die stadspoort waar hy saam met die leiers beraadslaag. Sy maak klere en verkoop dit, sy lewer gordels aan die handelaars. Alles aan haar spreek van 'n sterk en edel persoonlikheid; sy ken geen kommer oor die toekoms nie. As sy praat, is dit met wysheid; as sy leiding gee, is dit met liefde.

Het jy al die spreekwoord gehoor: “agter elke suksesvolle man is daar ‘n vrou”? Natuurlik het jy, en dit is ook die waarheid. Die man is bekend in die stadspoorte, want vroulief staan agter hom. Sy sorg dat sy hemp gestryk is, dat hy homself goed versorg, dat sy kosblik gepak is, ens. Sy het ‘n sterk persoonlikheid, vol wysheid, maar dit is nie vir hom ‘n bedreiging nie; sy status by die stadspoort is beïnvloed deur sy knap vrou.  

Spreuke 31:27-28
Sy hou goeie toesig oor haar huishouding; lui is sy nie. Haar kinders prys haar, haar man bewonder haar 

Haar huismense is trots op haar, hulle waardeer haar. So behoort te wees, maar mans en tieners is nie altyd te goed daarmee om bietjie erkenning aan Ma te gee nie.

Spreuke 31:29-31
“Daar is baie knap vrouens, maar jy oortref hulle almal!”  Uiterlike skoonheid hou nie, 'n mooi voorkoms is nie alles nie; as sy die Here dien, dán verdien 'n vrou om geprys te word. Gee haar wat haar toekom vir alles wat sy doen; laat haar werk haar roem wees in die stadspoorte.        

Manne, ons moet dit weet: uiterlike skoonheid sal vergaan, dit is so. Onthou net, dit gebeur met ons ook! Ons wil so graag vir vroulief meet aan die troufoto’s, maar onthou vers 31 sê dit beteken niks. Mooiheid, perfekte lyfie, geen plooie, pragtige haarkapsel – dit beteken alles niks as sy nie die Here dien nie. As sy die Here dien, dan verdien sy om geprys te word. Sy verdien natuurlik ook dank, eer en prys van haar gesin af vir die versorging en besorgdheid wat sy oor hulle het. 

Vrouens, julle is puik. Namens ons patetiese manne, sê ons vandag vir julle – julle is great! Dankie vir elke opoffering wat julle maak vir ons en ons gesinne, dankie vir elke vroeg opstaan, elke bord kos, gestrykte hemp, netjiese blyplek, vir elke stukkie besorgdheid en liefde.

Manne, gee julle vrouens liefde, erkenning en dankbaarheid vir alles wat sy doen. Wees trots op haar, en sê dit ook dat jy is. Gaan koop vir haar vandag ‘n bos blomme, of ‘n sjokolade, of laat sy haarself bederf met ‘n nuwe bloesie of lipstiffie.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)