WAAROOR HUIL JY? -  29 Maart 2010 


Dis Paastyd. Goeie Vrydag is op pad en die gedagtes rondom Jesus se kruisiging word weer herdenk en weer lewendig gemaak. Net so maak ons met Geloftedag, Soweto dag en ander dae wat ons herinner aan pyn, vernedering, swaarkry of verlies van iets wat vir ons belangrik en kosbaar was. Ons hou daarvan om in ons gedagtes terug te gaan na “daardie dag” toe.  Dan dink ons miskien aan die onregverdigheid van die situasie, die hartseer wat daar beleef is en dan huil ons... 

Ek vra vandag vir jou, as jy aan Jesus se kruisdood dink, huil jy? Waaroor huil jy? Miskien oor Pilatus se papbroekigheid? Die mense se onregverdigheid? Wat voel vir jou verkeerd in die situasie? Ek wonder die afgelope paar dae wat in Jesus se gemoed moes gewees het toe Hy die “Via Dolorosa” gestap het. Hier loop Hy, dalk moet ons eerder sê strompel Hy, nadat Hy half verwoes is deur die houe wat Hy reeds moes verduur. Simon van Sirene dra Sy kruis.... op pad na Golgota toe. ’n Lam ter slagting – op pad om te sterf. Waaraan dink Hy? Miskien dink Hy aan... 

Judas: een van die twaalf, vir wie Hy lief was; die een wat Hom verraai het. Die een wat alles beleef en gehoor het, maar tog téén Jesus gekies het. Hy kon dalk dink aan die Judasse wat nog sou kom in hierdie lewe. Hulle sou later ander name hê, dalk iets soos Willem Botha. Mense wat hulle rug op Hom sou draai... 

Petrus: Miskien het Hy gedink aan Petrus, die een wat Hom sou verloën, selfs voor ’n eenvoudige diensmeisie. 

Die ander dissipels: Hy het dalk gewonder wat van hulle geword het, want dit was uiteindelik net Johannes wat by die kruis kom staan het. 

As jy so dink aan Jesus wat daardie pad stap na Sy dood toe, huil jy miskien ook? Het jy gehuil toe jy na die film “The Passion of the Christ” gekyk het? Het dit jou ook diep getref? Waaraan het Jesus gedink toe Hy daardie pad gestap het? Het Hy gewroeg? Nee, ek dink Hy het daardie stryd reeds die vorige aand in die tuin van Getsémané afgehandel. 

Luk 23:22-34 Die derde keer sê Pilatus vir hulle: "Watter kwaad het die man gedoen? Ek het in hom niks gekry wat die doodstraf regverdig nie. Ek sal hom dus laat gesel en dan loslaat." Hulle het egter met 'n harde geskreeu aangehou om te eis dat Jesus gekruisig moes word, en met hulle geskreeu het hulle die oorhand gekry. Pilatus het toe besluit dat aan hulle eis voldoen moes word. Die man wat oor opstand en moord in die tronk was, het hy vrygelaat, soos hulle geëis het, maar vir Jesus het hy uitgelewer, soos hulle wou hê. Terwyl hulle Hom weglei, gryp hulle 'n sekere Simon van Sirene, wat toe net van buite die stad af gekom het, en sit die kruis op hom om dit agter Jesus aan te dra. 'n Groot menigte van die volk het agter Jesus aan geloop, onder wie ook vroue wat oor Hom getreur en gehuil het. Maar Jesus het na hulle toe omgedraai en gesê: "Vroue van Jerusalem, moenie oor My huil nie, huil oor julleself en julle kinders, want daar kom dae waarin hulle sal sê: 'Hoe gelukkig is die onvrugbare vroue en dié wat nooit 'n kind in die wêreld gebring het of gevoed het nie.' "Dan sal hulle vir die berge sê: 'Val op ons!' en vir die heuwels: 'Bedek ons!' As hulle dit met die groen hout doen, wat sal dan met die droë hout gebeur?" Daar is ook twee ander, albei misdadigers, weggelei om saam met Jesus tereggestel te word. Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar saam met die misdadigers gekruisig, die een aan sy regter- en die ander een aan sy linkerkant. Toe sê Jesus: "Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!" Hulle het sy klere verdeel deur te loot 

Die vrouens van Jerusalem loop en huil en treur. Hoekom het hulle gehuil? Uit jammerte vir Jesus? Oor die verskrikking van ‘n kruisdood? Dalk uit meegevoel vir Maria? Dalk omdat hulle werk dié van roubeklaers was? Ek is redelik oortuig dat hulle trane oor Jesus was. Dan draai Jesus om en sê vir hulle om nie te huil nie. ... 

Waaroor huil jy vandag as jy hierdie Paastyd herdenk? Huil jy oor Jesus? Oor die onregverdigheid? Oor Sy pyn, verwerping en swaarkry? Hy sê nee, moenie oor My huil nie, want daar kom tye.... En ja, die tye wat kom, ten spyte van Sy verlossingswerk, ten spyte van die feit dat Sy swaarkry ons gered het. “As hulle dit met die groen hout doen, wat sal dan met die droë hout gebeur?” Wat sê Jesus hier? As die groen hout, die gereddes, gaan swaarkry, hoe swaar gaan die ongereddes kry? Daarom vra ek vandag vir jou, waaroor huil jy? Oor Jesus .... Dis onnodig, huil liewer oor.... 

1)     ...dié mense wat nog nooit die Evangelie gehoor het nie. Treur oor mense wat nie die voorreg van ’n Geestelike lewe kan smaak nie. Daardie mense wat in afgeleë plekke woon waar hulle nie my en jou voorregte het nie. Huil sommer ook oor jouself wat nie veel doen om dit vir hulle beter te maak nie.

2)     ... die mense wat in vrees-godsdienste vasgevang is, wat tradisioneel slagoffers van hulle ouers se geloof is.

3)     ... mense wat langs die pad in ’n hopie sit en wegkwyn, wat só smag na die waarheid van die Evangelie, maar niemand deel dit met hulle nie. Soos iemand nou die dag gesê het: jy swem in die rivier, maar jy vrek van die dors. Ons bly in ’n sogenaamde Christelike land, maar die mense is dors na Jesus.

4)     ... die ongelowiges, dié wat die waarheid gehoor het, maar nie wil glo nie en ongered bly. Huil oor jou ongelowige familielid wat nie glo nie en die hel as beloning gaan kry, want jy vertel nie vir hom die waarheid nie.

5)     ... dié wat vir Jesus en al wat gelowige is, aanval, bespot en uitmekaar trek. Jy sien, daar is nie één ongelowige in die hel nie – die Bybel sê “elke knie sal buig en elke tong sal bely dat Jesus die Christus is”... vir party sal dit met die laaste oordeel wees, wanneer dit te laat is. Huil oor hulle!

6)     .... mense wat nie verstaan dat Jesus klaar gesterf het vir alles nie. Gelowiges wat steeds elke dag allerhande fieterjasietjies doen om die Here te beïndruk, of om hulle saligheid te verseker . Mense wat net nie kan besef dat ek en jy niks kan of hoef te doen vir ons verlossing nie. Huil oor gelowiges wat die slagoffers is van vals profete wat ondraaglike laste op mense plaas. Mense wat nooit die lekker van ’n heerlike, gemaklike verhouding met Jesus ken nie. 

Hoekom moet ons nie oor Jesus huil nie? Want Hy het kom doen wat Hy moes en wat Hy wóú doen. Hy nie in die graf gebly het nie. Satan het Hom nie oorwin het nie!
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)