WAT DINK GOD VAN MY?


Ons almal het 'n bepaalde gevoel oor onsself, en 'n gevoel wat ons dink ander mense oor ons het. Nog verder, die gevoel wat ons dink die Here oor ons het.

Baie insidente wat daagliks oor ons pad kom beïnvloed ons denkpatrone en konstante negatiewe invloede begin uiteindelik om ons langtermyn selfwaarde te bepaal. Ongelukkig is die mens nou maar eenmaal 'n wese wat baie maklik negatief reageer op die reaksie van ander, en dan begin daar dikwels ongemaklike selfgesprekke wat lei tot 'n gebrek aan selfbeeld, of 'n lae selfbeeld. Moet sê, tieners in die huis dra nou ook nie altyd by tot 'n verbetering in hierdie gevoel nie.

Hoe voel jy oor jouself? As jy jou gevoel oor jou sou klassifiseer op 'n skaal van 1 - 10, waar lê jou punt? En as jy dieselfde skaal sou gebruik in wat jy dink ander van jou dink, waar lê hierdie punt? En as jy dan sou sê wat die Here van jou dink, waar dink jy is die punt dan?

Ek wens so ek kan elkeen wat nou luister / lees se punt sien op laasgenoemde. Dit wat jy dink die Here van jou dink. As hierdie punt maar aan die lae kant is, dink ek dis dalk een van die volgende redes:

1. Ons dink dis arrogant om 'n hoë punt te gee.
2. Jy voel ver van God af
3. Jy voel nie goed oor jouself nie.
4. Jy dink daar is te veel sondes in jou lewe.
5. Jy ken nie die Here nie.

Ps 139 : 1 - 6
1 Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.
2 Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom.
3 Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit, U is met al my paaie goed bekend.
4 Daar is nog nie 'n woord op my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees.
5 U omsluit my van alle kante, U neem my in besit.
6 Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip.

Ps 139 : 13 - 18
13 U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder.
14 Ek wil U loof, want U het my op 'n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering. Dit weet ek seker:
15 geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot.
16 U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is.
17 Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal!
18 As ek hulle sou wou opnoem - hulle is meer as wat daar sand is, en as ek daarmee klaar is, sou ek nog steeds met U te doen hê.

Dit is so 'n ongelooflike Psalm en dit beskryf op 'n wonderlike manier hoe goed die Here ons ken, en oor ons voel. Het jy al ooit iets gemaak, met jou hande, houtwerk, staalwerk, 'n rok, 'n koek, iets waarop jy baie trots gevoel het omdat dit so goed gedoen is. Nou, die Here voel 'n miljoen keer beter oor jou as daardie ding wat jy gemaak het, want Hy is lief vir jou.

Weet jy hoe trots is die Here op jou omdat Hy jou goed gemaak het, daar in die moederskoot. Het jy al jou kinders so onderlangs dopgehou, so skelmpies, en dan so lekker oor hulle gevoel? Soveel te meer voel die Here goed oor ons, omdat Hy 'n stukkie van Homself in ons ingebou het.

In 1 Joh 4 : 8 staan "God is liefde". Liefde - Dis nie 'n karaktertrek van Hom nie, of 'n kwaliteit nie, of net iets waarmee Hy goed is nie. Sy wese is liefde! En Hy het daarvan (tonne daarvan), in ons ingebou. Nou ja, ek glo nie dat jy kool in sjokoladekoek gaan gooi, as jy kool haat nie. So bou God ook nie liefde in iets waarvan Hy nie hou nie. God is mal oor jou!

Ps 8 : 6 "U het hom net bietjie minder as 'n hemelse wese gemaak, en hom met eer en heerlikheid gekroon."

Jy is 'n spesiale skepsel! Die Here is lief vir jou, ongeag of jy vir Hom lief is, of vir jouself lief is. Hy het jou ook as 'n voorwerp vir besondere gebruik gemaak. Weet jy wat? Hy het jou gemaak net soos Hy jou wou gehad het. Daarom kan ons vrede maak met hoe ons voel, hoe ons lyk, ons persoonlikheid, ons hele wese.

Matt 10 : 30 "Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel". En ja, daardie hare wat so na 'n hare was in die wasbak agterbly, Hy weet daarvan ook - Hy het dit klaar afgetrek van die som wat Hy gisteraand gemaak het! God is 'n uitmuntende rekenmeester. Die volmaakte CA. Dis nou nie chartered accountant nie, CA staan vir Christ Almighty.

So, weet vandag verseker dat jy kosbaar en spesiaal is in God se oë! Weet dit en glo dit.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)