Wie
is jy? Wat is jy? Waar kom jy vandaan? Waar gaan jy heen? Ja, jy het
‘n naam, en ‘n agtergrond, ‘n herkoms; jy lyk soos jy lyk; jy is wie
jy is. Vir 70 jaar sal jy leef, as jy sterk is 80. Jy sal hierdie
aarde verlaat … verseker. Jy kom iewers vandaan … verseker. Op ‘n
tyd was jy ‘n blink in jou ouers se oog. Almal se lewenspad begin
iewers, en loop ‘n spesifieke rigting. Dag vir dag bepaal keuses jou
weë, besluite veroorsaak dat jy by sekere kruisings links draai, by
ander draai jy regs. Party deure gaan oop en jy stap deur, ander
gaan toe en jy draai om. So kom dit uiteindelik dat jy vandag is wie
jy is, en waar jy is. Vandag is jy iemand, en vandag het jy iets… ‘n
liggaam, goedere, materiële dinge, ens. Die vraag wat ek jou vandag
vra is: aan wie behoort dit? Deur wie se toedoen is dit soos dit
is?
Wat ek is, is net genade …
Gen 2: 4(b)-7
Dit dan is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle
geskep is. Toe die Here God die aarde en die hemel gemaak het, was
daar nog nie enige struike op die aarde nie en het daar ook nog nie
enige groenigheid opgeskiet nie, want die Here God het dit nog nie
op die aarde laat reën nie, en daar was nog nie 'n mens om die grond
te bewerk nie. Daar het water uit die aarde uit opgekom en al die
grond nat gemaak. Die Here God het toe die mens gevorm uit stof van
die aarde en lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens 'n
lewende wese geword het.
Kan enige mens iets bedra tot sy eie bestaan?
Job 14:5-12
"Die mens se dae is vasgestel, U het die getal van sy jare bepaal, U
het dit neergelê, en hy kan dit nie oorskry nie. U moet van hom af
wegkyk en hom met rus laat totdat hy soos 'n huurling sy dagtaak
afgehandel het. Vir 'n boom is daar nog hoop; al is dit afgekap, kan
dit weer uitloop, en sy lote sal aanhou groei. Al word sy wortels
oud in die aarde en al gaan sy stam dood in die grond, spruit hy
weer uit as hy net water ruik, en groei sy takke asof hy pas geplant
is. Maar die mens sterf en verdwyn, hy blaas sy laaste asem uit, en
waar is hy? Soos water uit die see verdamp, en 'n rivier opdroog,
so ontslaap die mens en staan nie weer op nie; totdat die hemel nie
meer daar is nie, sal hy nie wakker skrik nie, nie weer wakker
gemaak word nie.
God skep. En van dag een af begin Hy waarde toevoeg
aan die mens. Ek en jy word iets, bereik iets, doen dinge, daar kom
sin in ons lewe. Daar is swaarkry, daar is ook lekker tye; ons leer,
studeer, werk ons op; ons word selfs “iemand”. Maar … dan begin ‘n
probleem - die mens begin te veel van homself dink, en slaan homself
hoog aan. Ons begin op ons eie kragte staatmaak en voel ons is so
bietjie in beheer… voel jy ook soms so? Die feit is egter: wat ek
is, is net genade. Elke stukkie intelligensie in jou, elke vermoë,
talent, alles, is NET genade – ‘n geskenk van God af. Jy besef dit
as jy dit gister nog gehad het, en vandag is dit dalk weg.
Gesondheid, lewe, jou lekker werk met die lekker salaris, jou
huweliksmaat – dis genade. Die kos wat jy eet, die suurstof wat jy
gratis inasem – dis genade. Jou IK, jou kwaliteite – dis genade. Dis
eers as jy iets groots verloor het dat jy besef wat jy gehad het.
Niks is vanselfsprekend nie. Alles wat jy sovêr vergader het, en
koester, kan more weg wees. Wat ek het, is net genade. Genade van
wie? Wie anders kan dit wees as net God alleen?
Wat ek het, is net geleen …
As ek en jy doodgaan, vat die skepping alles terug.
Ons weet vandag dat “stof tot stof” aldus die Bybel, ‘n
wetenskaplike feit is. As jy sterf begin die aarde onmiddellik elke
atoom terugvat. Stof tot stof. Alles wat jy besit, elke ding wat
gemaak is, sal eventueel verval tot sy basiese elemente. Dis ‘n
wetenskaplike feit. Los jou motor vir ‘n paar eeue buite, en hy
roes, verweer en raak letterlik weg. Die aarde soek sy atome terug –
dié wat hy aan jou geleen het.
Pred 12:6-7
… die tyd
wanneer die silwerdraad afgebreek word en die goue kruik breek, die
kruik by die fontein stukkend breek en die wiel by die put stukkend
val, die tyd wanneer die stof na die aarde toe terugkeer soos dit
was, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het.
Wat ek het, is net geleen! Dis vreeslik hoe ons as
mense tekere kan gaan oor dié bietjie wat ons het. Vat net aan my
goed, en jy vat aan my. Ons bou bates, ons maak besittings bymekaar,
meer en meer … empires en paleise. En intussen, is alles net geleen.
En ja, ons werk daarvoor, maar … wat ek is, is net genade. Jy kan
dalk dink: my krag en my sterk hande het vir my hierdie rykdom
verwerf. Maar jy moet die Here jou God nie vergeet nie, want dit is
Hy wat jou die krag gee om die rykdom te verwerf. (Deut 8:17)
Maar ons is geneig om dit nie so te sien nie. Sien jy nog die Here
se hand in die alledaagse goedjies? Ons word so blasé, dat ons dink
ons is in beheer. Wanneer laas het jy vir die Here dankie gesê vir
die suurstof wat jy inasem? Of vir die feit dat jou hart vanself
klop?
Wie is jy? Wat het jy? As ons hierdie konsep verstaan
van wat ek is en wat ek het, dan kan ek seker vra – watter doel het
jy? Want jy sien, ek kan hierdie genade optimaal gebruik, of ek kan
dit vir 80 jaar vermors. Kom ons sê iemand leen vir jou ‘n plaas
lewenslank, met al die implemente denkbaar. Dis nie joune nie, maar
jy het die volle reg om dit te gebruik om ‘n lewe daaruit te maak.
Kom ons sê jy bewerk dit NIE, was dit nie dan heeltemal nutteloos
dat jy dit alles gehad het nie?
Wat jy het, en wat jy is, is ‘n gawe van God, ‘n stuk
ongekende genade. ‘n Hoop potensiaal, met ongekende vermoëns. Dink
jy nie ons kan dit dan net sowel gebruik nie? Optimaal gebruik? Tot
eer van Sy Koninkryk. Hierdie God wat alles in jou ingebou het sê:
gebruik dit, woeker daarmee. Talente, dis joune, jy het dit vir 70
tot 80 jaar. Die genade is tot ons beskikking!
Pred 3:13 Dat die mens kan
eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet, ook dit
is ‘n GAWE van God
Ons mag nie toelaat dat ons in ‘n staat van
nutteloosheid verval nie. Jy is wat jy is, uit genade. Miskien dink
jy jy is nie veel werd nie. Wel, dis ‘n leuen. Jy is so vol genade
geprop, dat jy kan sê: “ek is tot alles in staat deur Hom wat my
krag gee”. En jy het meer as wat jy met jou oë kan sien – alles net
genade, alles net geleen – en jy het volle toegang solank jy lewe.
Lééf dit. Gebruik dit.
|