WAT KAN EK NOG VIR MY WINGERD DOEN?


Wanneer sal die Here ons ten volle tevrede stel? Ek wonder nogal wat ons nóg van die Here verwag? Wanneer sal ons tevrede wees? 

Jes 5:1-7
Ek wil sing oor Hom wat ek liefhet, ek wil my liefdeslied sing oor sy wingerd: Hy wat ek liefhet, besit 'n wingerd op 'n vrugbare heuwel. Hy het die grond omgespit en die klippe verwyder, dit beplant met veredelde wingerdstokke. Hy het 'n wagtoring daarin gebou en 'n parskuip uitgekap. Hy het verwag dat dit goeie druiwe sou dra, maar toe bring dit druiwe voort wat suur bly. En nou, inwoners van Jerusalem en manne van Juda, beslis tog tussen My en my wingerd. Wat kan Ek nog vir my wingerd doen wat Ek nie reeds gedoen het nie? Wat is dan die rede dat dit suur druiwe voortgebring het terwyl Ek verwag het dat dit goeie druiwe sou dra? Ek maak julle nou bekend wat Ek met my wingerd gaan doen: Ek gaan die doringheining verwyder en verbrand, sy muur afbreek, sodat die wingerd vertrap kan word. Ek gaan hom tot niet maak. Hy sal nie meer gesnoei of geskoffel word nie, maar ingeneem word deur doringbosse en onkruid. Ek sal die wolke verbied om daarop te reën. Die wingerd van die Here die Almagtige, die wingerd wat Hy geplant het en waarin Hy Hom wou verlustig, is die Israeliete, die volk van Juda. Die Here het verwag dat daar reg sou wees, maar daar was net onreg, dat daar geregtigheid sou wees, maar daar was net die hulpgeroep van verontregtes. 

”Wat kan Ek nóg vir my wingerd doen wat Ek nie reeds gedoen het nie?” Klink dit nie dalk vir jou vreeslik bekend nie? As jy tieners het, het jy sekerlik ook al duisende kere gesê: “Kyk hoe maak jy na alles wat ek vir jou gedoen het”. O jitte, ons as ouers het `n harde taak! Maar … dan dink ek die Here vra soms presies dieselfde. “Wat kan Ek nóg vir my wingerd doen wat Ek nie reeds gedoen het nie?” 

Glo jy dat ons God se wingerd is? Glo jy dat ons óók Sy uitverkore volk is? Glo jy dat God se guns op ons as land is? Ek glo dit, weet jy? Ek voel nogal partykeer soos sy oogappel, word so bietjie ekstra bederf, so asof Hy my so bietjie voortrek bo ander. Voel jy ook soms so? So verstom dat daar so bietjie ekstra genade vir jou is? Voel jy ook soms so innig dankbaar dat jou lewe nie die pad van sus en so loop nie? Ek dink elkeen van ons voel soms so. Maar ongelukkig, net soms! Die ander tye kyk ons na die wingerd anderkant die heining. Jy weet mos, die wingerd is groener aan die anderkant.  Dan konsentreer ons só op die negatiewe. Ek glo die Here voel soms so bietjie hartseer as ons nie ons wingerd waardeer nie. 

Jes 5: 1-2
Ek wil sing oor Hom wat ek liefhet, ek wil my liefdeslied sing oor sy wingerd: Hy wat ek liefhet, besit 'n wingerd op 'n vrugbare heuwel. Hy het die grond omgespit en die klippe verwyder, dit beplant met veredelde wingerdstokke. Hy het 'n wagtoring daarin gebou en 'n parskuip uitgekap. Hy het verwag dat dit goeie druiwe sou dra, maar toe bring dit druiwe voort wat suur bly. 

Nadat Hy alles gedoen het, die grond omgespit het, klippe verwyder het, veredelde wingerdstokke geplant het, `n wagtoring en `n parskuip gebou het bring dit suur druiwe voort. Ai, ek sou my darem vererg het as my wingerd dit aan my doen; nou doen óns dit aan die Here … suur druiwe, ontevredenheid, bitterbekkigheid, ongelukkigheid, negatiwiteit, onvergenoegdheid – dis sekerlik beskrywend van suur druiwe. Jy sien, dit het alles begin in die paradys toe Adam en Eva net nie kon hou by net één opdrag van God nie. Net één! Eet van ál die vrugte, alles, die hele tuin vol, los net één boom uit. Toe trek daai boom vir Eva soos ‘n magneet, en Eva trek vir Adam soos ‘n magneet, en die sonde trek vir Adam soos ‘n magneet, en woeps! Daar gaan bly hulle op die kaal vlaktes. Hoekom? Want die beste was nie goed genoeg vir hulle nie. Net soos ons vandag – so baie in oorvloed, maar dis nie goed genoeg nie. 

Jes 5:5 Ek gaan die doringheining verwyder en verbrand, sy muur afbreek, sodat die wingerd vertrap kan word. …. Kan ons die Here regtig verkwalik as ons soms so verlate voel? 

Wat nog? Hoeveel nog? Wat hét Hy nie al alles gedoen nie? Dáár ver terug in die begin besluit Hy om vir die mens ‘n woning te bou. Hy skep ‘n planeet, wat volmaak geskik is om lewe moontlik te maak. Só ingewikkeld, alles in perfekte balans. Alles wat nodig is, is daar: suurstof, voedsel, grondstowwe, medisyne. Alles perfek. Toe skep Hy die mens volmaak – tot ‘n sny aan jou vinger word vanself gesond! Hy laat die mens toe om te ontwikkel, Hy openbaar natuurwette aan die mens, sodat die wetenskap en die mediese wetenskap kan ontwikkel. Hy voorsien voedsel in oorvloed in die natuur – op die land en in die see. Hy openbaar ál die inligting wat nodig is om tegnologies te ontwikkel, o.a. sodat jy vandag met jou motor kan werk toe ry; al die inligting om skuilings (paleise?) te bou. Alles – sodat ons gemakliker kan lewe. Toe kom die mens met sy ongelooflike ontevredenheid en kla oor alles. Hy wil ‘n groter huis hê, die motor is nie meer goed genoeg nie, sy werk is nie meer lekker nie, sy vrou hou nie meer kersvas teen “Poppie” by die werk nie, die kinders presteer nie na wense om by sy ego te pas nie, en o ja, hy hou ook nie van sy dubbele ken en skewe neus nie …. Niks is meer goed genoeg nie. Ook nie sonskyn Suid-Afrika nie .... Hierdie wingerd hou nie meer van wat sy Eienaar vir hom gedoen het nie. 

Jes 5:7 Die Here het verwag dat daar reg sou wees, maar daar was net onreg, dat daar geregtigheid sou wees, maar daar was net die hulpgeroep van verontregtes…. Toe verval die wingerd in ongeregtigheid, staan op teen God, ignoreer al die verordeninge wat Hy daar gestel het tot óns voordeel. Hy kom neem toe nog ‘n stap sodat hierdie wingerd nie homself heeltemal vernietig nie – Hy stuur Sy Seun om die wingerd tot sy volle glorie en eer te herstel. Daarvan het die mens ook nie gehou nie, en hulle verwerp die Een wat alles weer tot volmaaktheid wou kom herstel. Die Seun kom haal selfs die angel uit die wet uit. Maar helaas, ook dít is nie goed genoeg nie. 

As die Here dan sien hoe halsstarrig hierdie wingerd is, sê Hy in vers 6: “Ek gaan hom tot niet maak”. 

Waar laat dit ons vandag? Goddank, herlewing het begin. Ons het tot God begin bid, na Hom uitgeroep, Hom vasgegryp. Mans en pa’s is weer besig om hulle plek in die huis en voor die Here in te neem. Kinders begin profeteer en ou mense begin drome droom. Die vals profete kom in opstand, die ongelowiges begin roer en rumoer, maar stadig maar seker begin die druiwe weer groei. Plek-plek sien ons al die herstel, mense begin weer opgewonde raak oor die toekoms. “Wat kan Ek nog vir my wingerd doen?”, so vra die Here. Niks nie, Here, U het álles vir ons gedoen. Méér as wat ons ooit kon vra, meer as wat ons ooit kon verdien. Vergewe ons, Here, help ons om die prag van ons wingerd raak te sien en te waardeer. Maak ons dankbaar Here, en verwyder asseblief die onkruid uit ons midde uit! Vergewe ons Here, as ons self soos onkruid geword het. Ons wil weer vrug dra, en weer skoon voor U kom staan. Ons pleit dat U ons wingerd finaal sal kom herstel. Amen.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)