WIE DIE LEWE LIEFHET

Is jy lief vir die lewe? Is die lewe lekker? Doen jy lekker goete? Of is jou lewe een lang, uitgerekte stuk dood? Is jy miskien ook een van dié mense wat hard werk vir ‘n goeie lewe, en dan nie jou lewe geniet nie? Of een van dié wat in so ‘n vrees lewe dat jy kan siek word, dat jy daarvan siek word? Soms lyk dit vir my of die mens die kuns vervolmaak het om sy lewe op te mors. Onthou: jy het net een lewe – geniet jy dit, of is dit ‘n lyding?

Vandag vra ek vir jou die vraag: “begeer jy ‘n lang en gelukkige lewe?” Eenvoudige vraag. Of leef jy net omdat jy die dood vrees? Party mense leef om geld en besittings te vergader, ander leef vir hulle werk, ander leef vir die Here. Sommige leef net omdat hulle nie eintlik ‘n keuse het nie – hulle weet nie hoe om op te hou asemhaal nie. Baie is op pad na nêrens; hulle leef nie eintlik nie, hulle bestaan net…. Opstaan, asemhaal, werk… 

Begeer jy ‘n lang en gelukkige lewe? Wat sê jy oor jou lewe? “Gelukkig leef ek” of “Ek leef gelukkig”? As mens na party mense kyk dink jy hulle sê: “Ongelukkig leef ek”. Hemel tog mens, is daar nog enige sin in jou lewe? 

Wel, in Ps 34 gee die Here so enkele riglyne vir ‘n lang en gelukkige lewe. Kort en kragtig, so ‘n dinamiet-pakkie. 

Ps 34:12-15
Kom, kinders, luister na my! Ek wil julle leer hoe om die Here te dien. As iemand die lewe liefhet en 'n lang lewe begeer om die goeie te geniet, moet hy sy tong weerhou van kwaadpraat en sy lippe van leuens. Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is, soek vrede en jaag dit na!
 

As iemand die lewe liefhet … so sê vers 13. Om dié geheim te ontdek en te gebruik vra vir ‘n keuse. Liefde is mos ‘n keuse. Almal kan die lewe liefhê as jy dit kies. Dis ons omstandighede wat ons nie altyd kan kies nie. Omstandighede is egter nie gelyk aan die lewe nie! 

Vers 14 sê weerhou jou tong van kwaadpraat – dit sal jou help met ‘n gelukkige lewe. Dit is dom mense wat soveel kwaadpraat van ander dat hulle eie lewe dan miserabel is. Hulle praat so baie kwaad van ander, beskinder, beswadder, verkleineer en breek af, dat hulle eie mondhoeke sommer hang van onvergenoegdheid.  Jy sien, daai kwaadpraat is die vrug van giftige plante wat wortel geskiet het in mense se harte. Geen wonder dit word in Ps 34 genoem as ‘n struikelblok vir ‘n gelukkige lewe nie. 

As iemand die lewe liefhet weerhou hy sy lippe van leuens, aldus vers 14(b). So, as jy lank en gelukkig wil leef, hou op lieg! Leuens is die vrug van ‘n onbetroubare hart. Aanhoudende leuens gooi al die meganika in jou kop deurmekaar. Jitte, jy moet darem ‘n goeie geheue hê as jy so lieg. Dit moet uitputtend wees om te onthou vir wie het jy nou weer watter storie vertel het. Dit moet sin maak dat die waarheid jou ‘n lang en gelukkige lewe gee. Jy hoef nooit oor jou skouer te kyk nie. Die waarheid is soet soos heuning. 

Vir ‘n lang en gelukkige lewe, bly weg van die kwaad af – so sê vers 15. Party mans gaan mos vir danslesse by hierdie snaakse plekke waar die meisies met ‘n paal dans – dan bid hulle dat hulle nie uitgevang word nie. Kuier oor die heining, krap in die kasregister, intieme verhouding met die voggies …. Ja-nee! Die kwaad is ‘n lelike plek. Die kwaad sal altyd die lewe sleg maak. Die kwaad kan vir kort rukkies lekker lyk, plesier gee, maar dan draai hy om en byt jou. Dan paaldans jy soos ‘n kat op ‘n warm sinkplaat. 

Vers 15 (b) sê op ‘n positiewe noot: doen wat goed is. Om net weg te bly van die kwaad af, impliseer nie jy doen goed nie. “Doen wat goed is”, is ‘n aktiewe daad. Okei, okei, ek hoor jou … jy het nie tyd nie. Nee, ons het almal 24 uur in ‘n dag; maak die keuse om van daardie tyd te gebruik om goed te doen, en ‘n verskil te maak vir iemand – dit sal ook ‘n verskil vir jou maak, in hoe sinvol jy jou lewe ervaar. 

As iemand die lewe liefhet en 'n lang lewe begeer om die goeie te geniet moet jy vrede soek en dit najaag – so sê vers 15. Hoe hou jy daarvan? Vrede kom voor in die woord “tevrede”. Vrede in jouself, vrede met jouself, vrede in jou huishouding, vrede in jou werk, vrede met jou buurman, vrede in jou huwelik, vrede met jou ouers … hoeveel vrede hy jy? Hoeveel vrede het jy met die Here? Vrede is maklik om te kry, weet jy? Raak net van al die gemors ontslae wat jou vrede steel. Jaag die vrede na … storm daarop af, omhels dit en moet dit nooit weer laat los nie. Hunker na vrede. Breek al die mure af wat vrede verhinder. Streef na iets beter. Moenie tevrede wees met onvrede nie. Jaag vrede na. 

Ek dink die Here het in Ps 34:12-15 iets groots in ‘n klein pakkie gesit met hierdie paar gedagtes. Hier staan nie “werk jou dood”, of “maak baie geld” nie. Ook nie “probeer die mooiste en aantreklikste en beste wees” nie. Dit is eenvoudige beginsels. Almal kan daarby uitkom. 

Kom, kies vandag ‘n beter lewe: weerhou jou tong van kwaadpraat, jou lippe van leuens. Bly weg van die kwaad, doen wat goed is, jaag vrede na – jy KAN! 
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)