WIE KAN DAN GERED WORD? 


Daar is mos ‘n liedjie wat sê: “ek sou kon doen met ‘n miljoen”. Klink lekker nè? Ek sou kon doen met ‘n ou klein plasie, of ‘n ou klein bootjie, ‘n paleisie, ‘n oorsese reisie …. Dream on! Dis lekker om te fantaseer. Ek het nog nooit van een mens gehoor wat gekla het omdat hy te veel geld gehad het nie. Interessant dat die mens so ‘n groot premie kan plaas op iets wat so min werd is. Maar nou ja, ons almal kort so bietjie meer …. 

Mark 10:17-26
Net toe Jesus uit die huis uitkom om verder te gaan, kom daar iemand aangehardloop. Hy val toe voor Hom op sy knieë en vra Hom: "Goeie Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?"  Daarop sê Jesus vir hom: "Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe God alleen. Jy ken die gebooie: 'Jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuienis aflê nie,'  "Meneer," sê hy vir Hom, "dit alles het ek van my kinderdae af nagekom." Jesus het na hom gekyk en hom liefgekry en vir hom gesê: "Net een ding kom jy kort. Gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My!"
 

Nou ja, ek wil nie oor geld praat nie, maar wel oor die hindernisse wat tussen ons en die Here staan. Ons kan ook sê dit wat ons sal weerhou daarvan om die ewige lewe te hê. Oor redding praat die Bybel eintlik uit verskillende hoeke. 

Matt 7:21 “Nie elkeen wat vir My sê Here, Here, sal in die Koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die Hemel is” 
Jesus sê: “doen die wil van die Vader” – dan sal jy in die Koninkryk ingaan. 

Dan aan die anderkant sê Gal 3:10-11:Maar almal wat staat maak op die onderhouding van die wet, val onder die vloek, want daar staan geskrywe: "Daar rus 'n vloek op elkeen wat nie stiptelik alles doen wat in die boek van die wet geskrywe staan nie." En dat niemand op grond van die wet deur God vrygespreek word nie, is duidelik, want "hy wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe."
Paulus sê: “Glo” 

Jak 2:14 “Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ‘n geloof ‘n mens red?” Vers 24: “Julle sien dus dat ‘n mens vrygespreek word op grond van sy dade en nie op grond van sy geloof nie” 
Jakobus sê jou dade moet wys dat jy gered is.

Twee kante van dieselfde muntstuk. Nou wie kan dan gered word? Die een sê jou geld gaan jou uit die hemel hou, ‘n ander sê “glo net”, nog een sê “doen net”. Nou hoe nou? 

Kom ons gaan weer terug na wat ons gelees het in die gedeelte oor die ryk jong man. Jesus sê vir hom hy moet eers die wet onderhou. Nadat hy gesê het dat hy dit al van kleintyd af gedoen het, gaan Jesus hom nie teë nie – klink of Jesus dalk dink dat dit wel so kan wees. Dan sê Jesus vir hom: “net een ding kom jy kort” (vers 21) Dit klink vir my of Jesus wil sê: “Sjoe, jy maak dit ampertjies. Man, jy is regtig amper daar – behalwe …” Maar wat wonderlik is, is dat daar in Markus 10 staan dat Jesus na hom gekyk het en hom liefgekry het. Ek sien nou in my geestesoog dat ons voor Jesus staan, en met die opregtheid van ‘n kind vra: “Wat moet ek doen om gered te word?” En Jesus kyk na ons met tonne liefde in sy oë, maar dan sê Hy …. Amper! Gaan verwyder eers dit wat tussen jou en my staan. Kom dán terug en volg my. Watter hindernis staan tussen jou en die Here? Ons het partykeer bietjie te veel sonblok aan, dan kom die Here se strale nie by ons uit nie. 

Mark 10:21-22
Jesus het na hom gekyk en hom liefgekry en vir hom gesê: "Net een ding kom jy kort. Gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My!" Hy het egter geskrik toe hy dit hoor en het bedruk weggegaan, want hy het baie besittings gehad. 

Kan jy sien dat dit dalk nie per definisie die geld of rykdom is wat die probleem was nie, maar sy keuse. Geld en besittings het swaarder geweeg as sy liefde vir die Here. Hy het “bedruk” weggegaan. Vreemd, nè? Hy was bereid om van kleintyd af die wet na te kom – moeilik soos dit was; hy het na Jesus toe gehardloop om te hoor wat hy dan moet doen om gered te word. Hy het selfs op sy knieë voor Jesus neergeval, só belangrik was dit vir hom. Maar, nou gee Jesus vir hom ‘n antwoord wat hy nie wil hoor nie. Het sy besittings dan swaarder geweeg as sy liefde vir God? Was Mammon belangriker as die ewige lewe? Jesus het nie vir hom gesê “glo net” nie, ook nie “doen net” nie. Hy het gevra dat hy alles sal opoffer vir Hom – en die jong man was nie bereid om dit te doen nie. 

Nadat Jesus hierdie verhaal vertel het, was die dissipels baie ontsteld. Ek dink dit behoort ons ook vandag te ontstel, sodat ons vir onsself kan vra: wat staan tussen my en die Here? Wat is vir my belangriker as Hy? Wat het ek liewer as vir Hom? Wat is daar in my lewe waarvan Jesus vandag kan sê: gaan raak ontslae daarvan? Wat is daar wat jou bedruk sal maak as jy dit moet verloor/prysgee? Dalk die een of ander troetelsonde? ‘n Verkeerde verhouding? Smagting na rykdom? Werk? Sport? Eie-ekkigheid, skinder, woede? Drankmisbruik? Onthou, as die Here vandag voor jou staan en sê: “Gaan raak ontslae van dit of dat” – dan sê Hy dit met liefde in Sy oë, dan sê Hy dit omdat dit Sy wil is dat jy gered moet word, en die ewige lewe moet hê. 

Waarvoor is jy liewer as vir Hom? Kan jy vandag daarvan ontslae raak? Doen dit – en kom terug en volg Hom.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)