WIE KAN MET ONS GOD VERGELYK?


Wie kan met ons God vergelyk? Nog 'n vraag sou dan wees: "Is daar dan 'n kompetisie?", "Is daar dan tans 'n stryd aan die gang," "Is daar ander kandidate met wie God meeding vir 'n eerste plek?" Wel, natuurlik nie. Of ten minste nie wat God betref nie. Ons weer mos daar is net een ware, lewende God, en Hy hoef verseker nie kort-kort met kommer en vrees na die telbord te kyk nie. Hy IS die enigste God … of hoe? Dit klink reg, maar dis nie altyd so eenvoudig nie.

In 'n verkiesing word die wen kandidaat gekies op grond van sy gewildheid. Hoe meer gewild, hoe meer stemme. Ek dink God moet partykeer so "meeding" met ander dinge/gode in ons lewens. God kry vandag maar min plek in ons samelewing … in sommige skole, in die politiek, ens. Iemand het gesê: "As jy wil weet hoe gewild die kerk is, kyk na die bywoning van die oggenddiens; as jy wil weet hoe gewild die dominee is, kyk na die bywoning van die aanddiens, en as jy wil weet hoe gewild die Here is, kyk na die bywoning van die gebedsbyeenkoms. Wat God betref, is daar beslis geen kompetisie nie, maar wat die mens betref, is daar wel.

Wie kan met ons God vergelyk? Wel, dit hang af van ons definisie van "Ons God".

Jes 40:12-26 Wie het die waters in die holte van sy hand afgemeet, met die breedte van sy hand die maat van die hemel bepaal, met 'n maatemmer die grond van die aarde afgemeet, met 'n skaal die berge en die heuwels geweeg? Wie kan die Gees van die Here peil, wie kan sy raadgewer wees? Vir wie raadpleeg Hy dat dié Hom tot insig sou bring en Hom sou leer wat om te doen? Wie leer Hom en onderrig Hom dat Hy met insig kan optree? Die nasies is vir Hom soos 'n druppel aan 'n emmer, soos 'n stoffie op 'n skaal. As Hy die eilande op 'n skaal sit, is hulle soos stofdeeltjies. Al die hout op die Libanon is nie genoeg vir vuur op die altaar nie en al die wild nie genoeg vir 'n offer aan die Here nie. Al die nasies is soos niks teenoor Hom, hulle is vir Hom minder as niks, asof hulle nie bestaan nie. Met wie kan julle God dan vergelyk? Met watter beeld kan julle Hom gelykstel? 'n Beeld word deur 'n ambagsman gegiet en deur 'n smid met goud oorgetrek en met silwerkettinkies versier. Wie te arm is vir so 'n offer aan sy god, kies hout wat nie vrot nie en soek vir hom 'n bedrewe ambagsman om vir hom 'n beeld te maak wat nie omval nie! Weet julle dan nie, het julle nie gehoor nie, is dit nie van die begin af aan julle bekend gemaak nie, het julle nie 'n begrip van hoe die aarde ontstaan het nie? God het sy troon bokant die hemelkoepel, die aardbewoners is vir Hom soos sprinkane. Hy span die hemel oop soos 'n tentdoek, oop soos 'n tent vir die mense om onder te woon.

Is dit nie 'n ongelooflike beskrywing nie? Wie is soos Hy? Wie kan aanbied wat Hy aanbied? Wie beskik oor dieselfde mag as God? Wie kon, of kan, maak wat Hy gemaak het? Geen mens kan eers 'n sandkorreltjie maak nie. Die mens kan net iets maak met iets wat God reeds geskep het. Die mens kan nie lewe maak nie, net God kan. Geen ander god kan doen wat ons God kan doen nie, en hoekom nie? Omdat hulle nie bestaan nie.

Die God van die Bybel se bestaan is nie afhanklik van jou en my geloof in Hom nie. Hy hou dus nie op bestaan as iemand nie in Hom glo nie, terwyl enige ander God net bestaan in die gedagte- of geloofswêreld van sy aanhangers.

Hy is die een wat ons geskep het, daarom kan ons in Hom glo, en in verwondering voor Hom staan!

Vers 18: "Met wie kan julle God dan vergelyk? Met watter beeld kan julle Hom gelykstel?" Die ongelowige probeer so hard … hy sal in enige iets glo, solank dit net nie God is nie. Wat mis so 'n persoon net nie?"

Die grootste wonder van God vir my is die feit dat ek en jy met Hom in 'n verhouding kan staan. Jy KEN Hom en Hy KEN jou. Jy praat met Hom en Hy praat met jou. Jy bring jou versugtinge voor Hom, en Hy gee aandag daaraan. Jy roep uit vir hulp, vertroosting en antwoorde, en Hy reageer. Dink jou bietjie in: sê nou maar jy was 'n skoonmaker by 'n enorme fabriek, die persoon met die laagste salaris, geen kwalifikasies …. En nou het jy lus vir 'n bietjie goeie, hoë vlak geselskap en klim in 'n bus en ry na die koning van die land se paleis toe, gaan vryelik deur die hekke in, en stap (sonder afspraak) in by die koning en gaan sit op sy skoot … en Hy hanteer jou soos sy beste vriend! Klink dit dalk 'n bietjie absurd? Wel, dit is hoe ons verhouding met God lyk. Die enigste verskil is - Hy is groter as enige aardse koning. HY, die Een wat alles geskep het, en alles in stand hou, ken JOU naam, en verlang na so 'n verhouding met my en jou… maar ek en jy moet kies. Ons hoef nie te gaan klop aan die paleis se deur nie, Hy kom klop aan ons harte. Op 3:20 Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou.

Jes 40:1-5 Die uitkoms is hier! Die uitkoms is hier! Dit, sê julle God, moet julle vir my volk sê. Bring vir Jerusalem die goeie tyding, sê vir hom sy swaarkry is verby, hy het geboet vir sy sonde, hy het van die Here die volle straf ontvang vir al sy sondes. Iemand roep: "Maak vir die Here 'n pad in die woestyn, maak in die barre wêreld 'n grootpad vir ons God! Elke laagte moet opgevul word, elke berg en rant moet gelykgrond word. Elke bult moet 'n gelykte word en elke koppie 'n vlakte. Dan sal die mag van die Here geopenbaar word; al wat leef, sal dit sien. Die Here self het dit gesê."

Dink jou in: hier kom 'n magtige weermag deur die woestyn aan. Jy sien vir kilometers die stof optrek. Dit kom met 'n groot spoed, en loop oor alles wat in die pad kom, dit stuit vir niks, geen weermag, geen wapentuig, niks! Niemand is bestand daarteen nie. Niks is groter as dit nie. Só is ons God. Hoe wonderlik is dit nie om aan daardie weermag se kant te wees nie - jy hoef NIKS te vrees nie, NIKS kan jou bedreig nie!

En dan kom vers 11: Soos 'n herder versorg Hy sy kudde: die lammers maak Hy bymekaar in sy arms en Hy dra hulle teen sy bors, Hy sorg vir die lammerooie.

Hy versorg vir JOU, Hy dra JOU teen sy bors … wat meer het jy nodig? Wat meer is daar?

Wie kan met ons God vergelyk?
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)