WIE STAAN IN JOU SPIEËL?


En daar staan jy, soos elke oggend in jou spieël. Wie kyk vir jou? Hoe lyk daai een vir jou? Spieëltjie spieëltjie aan die wand, wie's die mooiste in die land... 

Nie sleg as meneer / mevrou so vir jou terugloer nie, mits jy in die fleur van jou lewe is natuurlik. Later jare sal hierdie selfde spieël vir jou 'n heel ander beeld wys, wanneer jy soos iemand lyk van wie jy dalk nie hou nie. Iewers begin jy dit met roompies behandel, of bietjie grimering (ja, mans ook), die grys haartjies word sommer gou-gou gewys wie's baas met moetie uit 'n bottel. Nóg later sou 'n bietjie chirurgie nuwe lewe in die voorkoms blaas en die ergste plooitjies word weggetoor. Oppas net dat jy nie te Wacko begin lyk nie. By die gimnasium werk mense onverpoos aan die “designer” lyfies, en as jy “eenvoudig slim” is, drink jy 'n pilletjie om die gewiggies in toom te hou.  

En dan, iewers, kom daar dalk aanvaarding, en spieëltjie se genadelose terugblik word verdof deur kykers wat net nie meer so vér kan sien nie. Ja jong, so gaan ons maar almal deur hierdie fases van ydelheid. 

Nou ja, tydens die kamp wat ons gehou het vir mense met gestremdhede, het ons mense ontmoet wat niks van hierdie goed kan kies nie. Gehoor- liggaamlik- gesig- en verstandelik gestremdes, mense wat nie kon kies hoe hulle in die lewe ingekom het nie, en wat nie die spieël kan sien nie, of nie tot daar kan kom nie, en niks kan doen wat ander doen nie. Sommige het later in hulle lewens met hierdie lewe van moeilike uitdagings kennis gemaak. Steeds sonder keuse. Klik hier om meer te lees oor ons kampe en na foto's te kyk >>

Ons almal voldoen egter aan hierdie eenvoudige stukkie waarheid uit 1 Kor 6:19 – 20:

Of besef julle nie dat julle liggaam 'n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik.

Almal se liggame is 'n tempel van God, of jy nou wil of nie, ongeag van hoe dit lyk en of alles reg werk of nie. Sommige kan “design”, en ander nie. Sommige kan in die spieël kyk, vir ander is die spieël oorbodig. Party kan aan die lyfie werk, ander kan nie vanself uit 'n bed uitklim nie. Sommige is bitter ongelukkig met hulle voorkoms. Ek vermoed dit is hoofsaaklik diegene wat regtig niks het om oor te kla nie!

Hou jy van die persoon in jou spieël? Daardie byna volmaakte ene?

Het jy al gewonder of die Here jou nie dalk gemaak het presies soos jy is nie, en wie jy NIE is nie? Kan jy sommer by 'n winkel instap en byna enige uitrustinkie aanpas en koop? Daar is mense wat nooit in hulle lewe die binnekant van 'n aanpashokkie sal sien nie. Nie uit eie keuse nie! Kan jy self 'n basiese ding doen soos toilet toe gaan? Maklik in en uit jou bed wip? Wat van self jou eie koppie boeretroos maak? Ons het mense op die kamp ontmoet vir wie die lewe een lang, moeilike, uitgerekte stryd is. Vir baie van hulle is elke handeling, elke beweging en selfs elke woord wat geuiter word bitter moeilik (en soms seer) is. Party kan níks sonder hulp doen nie, maar ons het niemand hoor mor of kla nie, niemand wat die Here verwyt nie en niemand wat onvergenoeg met hulle voorkoms is nie.

Ek vermoed 99.9% van mense is in my skoene, waar alles eintlik maar vreeslik maklik is, alles werk reg en alles is bruikbaar. “As designed...” En ek vermoed daardie 99.9% mense is (soos ek) dikwels ondankbaar oor alles, te lui om kafee toe te stap, te moeg om lekker dinge saam met die kinders te doen, te lui om te oefen en te gemaklik vir woorde. Voorts werk die handjie mos goed, vernaam as hy die verbode sjokoladetjies so flink in die bekkie prop...totdat die spieël te klein raak vir die gestalte. En dan gaan soek ons daardie “slim” pilletjie. Dis nie vir almal outomaties nie. Patrick kan nét eet as iemand die kos in sy mond sit, en nie dit wat hy kies nie, nee, dit wat op die vurk is. Hester ry elke dag BAIE ver op haar elektriese “Shoprider” werk toe. Rain or shine. Sy kla nie oor haar werk nie, weet jy? Sy is dankbaar sy hét 'n werk! Haar lewe is altyd moeilik, en sy praat moeilik, maar mors nie haar woorde op skinder en gemors nie. Dis nie haar aard nie, want sy leef vir die Here.

As jy na hierdie ou in die spieël kyk, waardeer jy sy / haar liggaam? Daardie volmaakte een wat jy gratis gekry het.

Mari en Willie het enkele jare gelede ook sulke perfekte liggame in hulle spieëls gehad, toe verander dit eensklaps! Mari het 'n beroerte gehad, en toe nog een, wat die een kant van haar lyf ernstig aangetas het. Sy kwalifiseer nou vir die term “gestremd”. Haar lewe het in 'n oogwink verander en niks is meer vanselfsprekend nie. Willie is getref deur GuillainBarré sindroom, wat hom binne 'n paar ure heeltemal verlam het. Sy hele gesinslewe is oornag ernstig beproef, hy kon nie meer werk nie, en is nou in 'n rolstoel. Kan jy jou dit indink? Daar is absoluut geen rede hoekom dit nie oor jou of my pad  kan kom nie. Indien dit NIE gebeur nie, is dit absoluut die Here se genade, weet jy?

Hier volg twee stukkies wat Willie se vrou geskryf het na sy siekte:


Gister…
 

Nou dra ons maar elkeen ons eie seer. Jy in jou klein hoekie en ek in myn. Ek wil nie daaroor praat nie, terwyl ek weet dat jy wil.  

Waaroor gaan ons praat? Oor gister? Gister is verby en dit breek my hart as ek onthou. Oor môre? Wanneer gaan dit môre word?  

Ek probeer om nie te diep te dink oor hoe jy moet voel nie. Hoe dit moet wees om so totaal afhanklik te wees en verneder te word nie… om heeltyd skuldig te voel en dankbaar te wees nie… 

Jy sê ek is ‘n engel. Maar wat ek vandag doen is gebore uit wat jy gister gedoen het.

Onthou jy hoe jy my nooit laat wag het nie omdat jy weet dat ek bang is? Hoe jy ‘n nuwe pad twee keer saam met my gery het sodat ek die volgende dag nie sou verdwaal nie? Hoe jy my familie se vakansies gereël het om seker te maak ons kom bymekaar uit?  

Onthou jy hoe ons ‘n halwe oggend lank in die bad gelê en kuier het? Hoe jy vir my aande lank romantiese musiek by kerslig gespeel het? Hoe jy verrassings beplan het vir ons huweliksherdenkings? 

Ek weet nie wat ek voel nie my man. En elke dag is ‘n nuwe stryd. ‘n Stryd tussen hemel en hel. ‘n Stryd oorwin danksy hemel en hel.  

Gaan ons stadig dood?  

Maar deur my are vloei herinneringe aan gister…en dit is gister wat jou, binne in my, lewendig hou.

Omdat jy my gister op hande gedra het sal ek vandag jou hande wees. Omdat jy gister deur dik en dun by my gestaan het sal ek vandag jou voete wees. Omdat jy my gister beskerm en versorg het sal ek vandag ons verhouding beskerm en vir jou liggaam sorg.   

En as jy dan wil dankie sê, sê dit vir gister.

(Annette Potgieter)

Ek en jy weet hoe ons gisters lyk, maar nie ons more's nie. Is JY danbaar oor gister?

So, wat is liefde dan? 

Ek vra jou my man, wat is liefde dan?  

Was dit liefde toe jy voor in die kerk staan met jou gespierde arms terwyl ek met my wit rok die gang af loop? Was dit liefde toe jy my kamer toe gedra het nadat ek op die sitkamerbank aan die slaap geraak het? Was dit liefde toe ons ons 6de huweliksherdenking met ‘n maanligpiekniek op ‘n Weense rivier in ‘n roeibootjie gevier het? Was die agt jaar wat ons gesmag het na ‘n baba en jy my trane afgedroog het as ek weer nie swanger was nie liefde? 

So wat voel ek dan nou? Wat is die deurmekaar gevoel wat ek wil analiseer, identifiseer of kanseleer, wanneer ek na jou grootmanlyf met die vermoë van ‘n baba kyk, terwyl jy lomp probeer om jou verlamde arms om my middel te vou. Terwyl jy gebreek in die vier-wiel-ding sit. Terwyl ek karbonkels uit jou neus krap of jou skoonmaak soos ‘n kind. Wat is die huil wat heeltyd agter my oë wegkruip as ek trane op jou mooi lang donker wimpers sien… jy wat nooit kon huil nie.   

Hoekom lyk jy seergemaak as my tong agter my kop aan hoereer, en die “ja, my kind” uit is voor ek kan keer?  

Weet jy dan nie dat die grootste liefde wat ek ooit gevoel het, die “ek-verdrink” liefde, het ek slegs gevoel het met die geboorte van ons eersteling nie? Ek het gedink ek gaan sterf van liefde.  

Dink jy omdat ek nou sukkel om jou vrou te wees het ek jou nie meer lief nie? Wat is liefde dan my man? Die onbeplande “ja my seun” beteken: ek het jou onvoorwaardelik lief. Al hou jy my elke nag wakker soos ‘n koliekbaba, ek het jou lief. Al kan jy my nie sonder hulp vashou nie, ek het jou lief. Al is ek gedaan van die gespartel om jou aangetrek te kry, ek het jou lief.  

Vergeet van die hoekoms en die toekoms. Vergeet van wat was en wat is en wat word.  

As ek jou nie nou lief het nie, het ek jou dan ooit liefgehad? 

Ek het jou lief my man.   

(Annette Potgieter) 

Uitdagings, groter as wat ek en jy ooit kan dink.

Wat maak ek en jy met ons tempels? Waardeer jy dit? Of is alles sommer net vanselfsprekend? Of aanbid jy hierdie tempel net eenvoudig te veel? Ydelheid... Miskien is jy, nes ek soms onvergenoegd en ondankbaar, en besef ons nie dat alles vandag nog kan verander nie. Miskien kan ons dalk ook eendag nie eers meer net die toilet se deksel optel nie, of onsself voer nie. Wie weet?
 

Hoe werk die Here? Sê nou maar jy kom eendag by die spieël en skrik jou morsdood vir die een wat na jou toe terugkyk, een in 'n minder “volmaakte” liggaam. Iemand anders in jou spieël. Jy vra: “Here, wat gaan hier aan? Wie se liggaam is in my spieël? En die Here sê: “Ek het liggame geruil met iemand wat joune sal waardeer, wat dit beter sal versorg, wat dit nie oorvoed nie, en net skoon lug in die longe toelaat, en die voggies weghou? Jy besef nie wat jy aan My tempel doen nie. Jy verwoes jou tempel se gesondheid en waardeer dit glad nie. Kry vir jou dus hierdie een, dalk verstaan jy beter. Jy stop mos graag op parkeerplek wat uitgesit is vir gestremdes, nou mag jy maar daar stop.” 

My vriend, dink weer oor dit wat jy het, en wees dankbaar. As jy in die winkel iemand in 'n rolstoel sien, groet maar gerus, moenie wegskram nie. En moenie staar as jy weet iemand gaan ongemaklik voel nie. Hanteer die gestremde net soos iemand anders, of liewer, soos jy graag behandel sou wou word as jy in daardie situasie was. 

Oefen jou tempel gereeld, gaan stap sommer net omdat jy kan. En as jy die handjie nader aan die bekkie bring, sorg dat die regte kos in die handjie is. En waardeer elke happie, wat jy so moeiteloos vat. Hou maar die longe skoon, hulle is lewensnoodsaaklik, en pas die lewer ook maar op. Moenie die Here se tempel verwoes nie.

Gaan met vreugde werk toe, omdat jy kan. Gebruik jou tempel tot eer van die Here, omdat jy kan. En waardeer alles wat jy het, en alles wat reg werk. 
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)