WOORDE


Ek is nou besig om iets te doen wat jy verstaan. Dink wat dit is …… Ek is besig om 'n klompie letters (26 in totaal, al gebruik ek nie alles nie) rond te skommel om iets wonderliks voort te bring. En ons noem dit - WOORDE. Wat 'n ongelooflike gawe wat die Here ons gegee het. Die eerste woorde waarvan ons lees in die Bybel, is God se eie woorde. Reg deur die skeppingsverhaal lees ons van God wat die hele skepping laat gebeur deur slegs woorde. Toe het God gesê: "Laat daar lig wees". Sjoe, wat 'n ongelooflike kragtige stukkie gereedskap is woorde. God kom gee vir ons die vermoë om ook woorde te gebruik – slegs 26 letters. Honderde duisende woorde word daaruit gevorm, in hoeveel tale, met verskillende variasies, met BAIE verskillende aksente en betekenisse. Soveel so, dat ons soms kan weet waar iemand vandaan kom deur te luister hoe hy sy woorde uitspreek. Ongelooflik nè? Dan kom ons nog by iets groter as dit alles. Joh 1:1 "In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God." Vers 14 - "Die Woord het mens geword, en onder ons kom woon". Jesus, die Woord. Seun van God, self God. Wat met woorde skep. Hoe roekeloos gaan ons nie met woorde om nie?

Woorde. Ek dink as ons woorde in kategorieë moet indeel, sal ons lank besig bly. Watse woorde kry mens? Byvoeglike naamwoorde, werkwoorde, trooswoorde, vloekwoorde, groot woorde, lang woorde, kort woordjies, slim woorde, woorde van bemoediging, pryswoorde, kwetsende woorde, ens. En dan doen ons dinge met hierdie woorde. Ons lieg met woorde, praat die waarheid met woorde, getuig met woorde, bid met woorde, sing met woorde, dig met woorde. Dit vertel 'n storie, dit getuig in die hof, dit word gebruik om te onderhandel, om opstelle te skryf, om eksamens te skryf, verslae te skryf, nuus mee te deel, ens.

Ons gebruik woorde om te skinder, te vlei, mekaar op te bou, mekaar te vloek en vervloek. Ons dra daarmee kennis oor, doen opleiding daarmee, skryf musiek, en sonates. Jitte, hoe sou die wêreld gewees het sonder woorde? Ons sou niks vir mekaar kon vertel nie. En ons sou só min van God geweet het, of van Jesus se verlossingswerk, as ons nie woorde kon hoor, of lees, of skryf, of sing nie. Met woorde prys ons die Here, in gebed, met sang, met voorlesing en digkuns. Alla wêreld, ons kan darem baie oor woorde sê met woorde. Ja, ons kan onsself selfs vir ure besig hou met selfgesprekke.

Hoe moet ons hierdie woorde ten beste gebruik? Spreuke 16 : 24 "Aangename woorde is heuning, soet en geneeskragtig vir die mens." Het jy sulke woorde gister gebruik, of vanoggend? Dink so bietjie mooi hoe jy gister geklink het.

Hoe gebruik ons ons woorde nog? Met ’n baie lelike ding - skinder. Kyk wat sê die Bybel daaroor:

Spr 11 : 13 "Iemand wat loop en skinder, lap geheime uit; 'n betroubare mens bewaar 'n geheim."
Spr 16 : 28 "Iemand wat die waarheid verdraai, veroorsaak twis, iemand wat skinder, bring verwydering tussen vriende."
Spr 20 : 19 "Iemand wat loop en skinder, lap geheime uit; bly weg van iemand wat baie praat."
Lev 19 : 16
"Jy mag nie loop en skinder nie, jy mag nie jou medemens se lewe in gevaar stel nie. Ek is die Here."

Jy weet, net so 'n klein woordjie wat iemand inkrimineer, en hierdie ding loop soos 'n veldbrand. "Het jy gehoor ……", begin 'n “rumor”, versprei stories en nuuskieriges sal graag luister en saampraat. Moet liewer nooit iets van iemand sê wat jy nie voor iemand sal sê nie. Klink dit bekend? Met woorde kwets ons mekaar. 'n Klankgolf trek 'n sekere afstand en hy raak weg. Maar woorde, wat deur klankgolwe gedra word, bly vir altyd sit. Ons sit met woorde geweldige laste op mekaar.

Psalm 12 " Vir die koorleier: met basstem. 'n Psalm van Dawid. 2 Help tog, Here, want daar is geen vrome meer nie, daar is geen betroubare mens meer oor nie. 3 Die mense bedrieg mekaar; hulle mislei mekaar met vleitaal. 4 Die Here sal al die vleitaal uitroei en die grootpratery van die mense 5 wat sê: In ons tong lê ons krag. Ons lippe help ons. Ons buig vir niemand nie. 6 Maar die Here sê: Die swakkes word mishandel en die armes kla. Daarom gryp Ek nou in en gee uitkoms aan dié wat daarna smag. 7 Daar is niks vals in wat die Here sê nie. Sy woorde is soos silwer wat oor en oor in 'n oond gesuiwer is. 8 U, Here, hou oor ons wag. U sal ons vir altyd teen sulke mense beskerm, 9 selfs al pronk goddeloses nog rond en al heers die gemeenheid nog tussen die mense."

Woorde van ongeregtigheid, het menige families geskeur, vriendskappe verbreek en mense se dood beteken. Kom ons tel liewer ons woorde.

Wat moet ons eerder met ons woorde doen? Hoe wonderlik om iemand te kan vertroos wat hartseer is, om iemand se swaarkry te deel, wat net 'n oor soek om te luister. Kom ons gee vir mekaar hoop in moeilike tye deur ons woorde. Met woorde kan ons mekaar so bietjie vlei. (Lekker om iets moois vir iemand te sê - nie net van iemand nie) Lekker om vir iemand te kan sê, "Ek is lief vir jou".

Het jy al vir die Here gesê: "Here, ek is innig lief vir U"? Of vir 'n goeie vriend? Dan, 'n wonderlike ding: om in tale te spreek. Ek het self nie die gawe daarvoor ontvang nie. Dis 'n taal (onverstaanbaar vir ander) wat net op die Here gerig is, vir gesprek tussen jou en God. Moet dit asseblief nie ligtelik afmaak as jy mense teëkom wat dit gebruik nie. Dis een van die gawes van die Heilige Gees.

Met woorde, kan enigiets reg gemaak word. Moet jy nie dalk by iemand gaan vergifnis vra nie? Of iemand dalk gaan vergewe nie? Doen dit vandag nog. Met woorde. Dalk met ’n SMS of 'n e-pos.

Die hoofdoel van woorde in ons lewens is primêr om God te loof en prys, om Hom te eer. Met woorde kan ons die Here se eer besing, Sy lof uitroep. Met woorde. Dan kan ons ook by Jesus se voete gaan sit en Hom vertel van al ons versugtinge, van dit wat ons bly maak, wat ons hartseer laat voel, ag, práát net met Hom.

Natuurlik kan ons ook ons woorde gebruik om te getuig van God, om van Sy wonderdade te vertel, om te vertel van jou seëninge, om met ander te deel oor jou verhouding met Hom.

Praat wat nodig is. Praat mooi, positief, opbouend, vleiend, praat die waarheid.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)