Hierdie was vir my en Sharon ons eerste keer op so ‘n kamp. Ons kamp nooit nie, so ‘n bietjie scary at first, maar ons het gekom. 

Ek persoonlik het dit baie baie geniet, gewens dit kon ‘n bietjie langer duur, miskien net tot volgende Sondag. Het wonderlike mense ontmoet – Wow! Die gestremdes en die nie-gestremdes. Ek dink dis seker die enigste kamp wat voorsiening maak vir gestremdes en dan draai alles om Jesus! Yes, baie dankie. 

Die organisering, die sorg, die kos, die omgee, die TLC, die opregte liefde, die vriendskappe, die Jesus factor, die sang, die boodskappe, die reën, ja, die reën, ens. ens. ens. ens.  was uit die boonste rakke.  

Baie geluk, a job well done, julle en die bestuurspan en Wally en helpers kan trots wees want ek weet ons Koning is trots vir julle opoffering en julle warm harte. 

Ek sal hierdie kamp nooit maklik kan vergeet nie want dit is een van die mees spesiaalste ervarings wat ek al beleef het.

Baie liefde en groete,

Jul boetie in Jesus!
Bruce (helper vir Sharon)


Hello 

Die kamp 27 – 28 Oktober was, danksy bydraes deur luisteraars van Rippel, onvergeetlik. Die kamp sal onthou word vir die reën en die gepaardgaande krag onderbreking. Snaaks hoe gewoond ons mense aan luuksheid geraak het; ewe skielik gaan die krag af en die program word omver gegooi, maar die grootheid van God is ook daarin te sien, want jy beplan of voorsien mos nou nie vir so iets nie en verstaan my ek wys nie vinger na enige iemand nie net die gedagte dit moet daar wees. Die etes van ontbyt tot laataand was soos altyd ‘n wenner . 

Wel ons het so stuk-stuk die Saterdag oggend geariveer party met helpers en ander met eie vervoer. Die aktiwiteite het gewissel van praatjies tot speletjies met water ballonne wat vet pret was. Dan natuurlik het die reën die Saterdagaand die praatjie oor die grootheid van God in die spore laat stuit, maar ook daarin is die grootheid nogtans raakgesien. Die Sondag is daar deur heelparty vroeg opgestaan waarna die dag met ‘n lekker koppie boeretroes en beskuit begin is. Die diens daarna is waargeneem deur dominee Ian Duberry, waarin net weereens gewys is op die afhanlikheid van die mens teenoor mekaar en van God af Die tema van die kamp was: “Deur watter bril sien ons onsself en mekaar”. In die lig van wat hierbo geskryf is, is daar talle prentjies wat in die gedagte sal bly na die kamp. 

Dankie weereens
Rudolf


Ek wil net weereens van die geleentheid gebruik maak om dankie te sê vir ‘n “eye-test” kamp.  Ek vernaam het net weereens besef hoe gelooflik bevoorreg ons as gesin is om deel te kan wees van jul wen span.  Ons gaan ook, soos jul weet, deur ‘n minder goeie tyd op die oomblik, maar na die afgelope naweek se kamp, dan besef ons net weer dat ons omstandighede so gering is in vergelyking met ons kosbare gestremde vriende s’n.  Ons kan hardloop, kan sien, normaal loop, normaal vat.  Wow, is dit nie iets om enige mens innig dankbaar te maak nie.  Dit bring trane van dankbaarheid in my oë.  Die nuwe familie wat ons in 2009 bygekry het, is ‘n familie wat ons vir ewig wil behou.  Soos julle altyd sê, as jy ‘n goeie vriend wil hê, kry vir jou ‘n gestremde vriend.  Ek weet dit is ‘n vriend/vriendin uit die hemel uit.   

Ek deel graag hierdie mooi boodskap met julle want dit is wat ons as gesin van die Here af bid, wat ons wil bied vir ons gestremde familie. 

Liewe Here, help ons om aan te bied:
Ons hand vir iemand wat vriendskap nodig het,  
Ons hart vir iemand wat liefde nodig het,
Ons begrip vir iemand wat wil hê ‘n ander moet luister,  
 Ons bedagsaamheid vir iemand wat nodig het om te   weet dat ‘n ander omgee,
Ons vriendelikheid vir iemand wat onvriendelik deur die lewe behandel word,
Ons geselskap vir iemand wat eensaam is,  
Ons kalmte vir iemand wat onseker, verward of verdwaas is,
Ons vertroosting vir iemand wat treur,  
Ons welwillendheid teenoor heel U skepping,  
Ons deernis vir alles wat lewe.
Liewe Here, help ons om vandag vir ander tot seën te wees.
 

Liefde 

Die Bredenkamp gesin


Willem, Wilna, Dennis, Marietjie die span en al die helpers. 

Baie dankie vir die voorreg wat ek gehad het om deel te kon wees van die kamp.  Vir my om dit werklik deur 'n ander bril te gekyk het was baie hartseer. Ons weet nie werklik hoe bevoorreg om is om nie in so 'n posisie te wees nie (om normaal te wees).  Hierdie was vir  my 'n groot 'eye opener'. Prys die Here vir Marietjie wat my gevat het en 'n GROOT RIPPEL aan Ds Ian wat so mooi na my gekyk het. Al die groot bederf en alles wat hy vir my gedoen het. 

Om rolle te moes omruil het 'n groot kopskuif gekos. As dit die Here se wil is gaan ek weer op die volgende kamp 'n helper wees met baie meer passie as ooit tevore. Ek het die naweek besef hoe verslaaf mens aan die kamp kan raak. 

Baie dankie vir al julle harde werk, liefde en sommer alles. 

My gedagte vir die toekoms: Wat 'n voorreg om 'n Here te aanbid wat Homself deel gemaak het van ons lewe - Dankie Here Jesus ons is lief vir U.

Ria


Eerste wil ek vir almal oneindig dankie sê vir al hulle liefde, vriendelike hantering, vir alles wat hulle doen, vir al hulle opoffering, tyd om alles wonderlik te maak om ons gelukkig te maak, besig te hou en vir al die verrassings. Dankie vir die heerlike etes, drinkgoed en lekkernye. Baie dankie vir die speletjies, die strooitjies was die grappigste. Jammer ek kon nie aan meer deelneem nie, die ouderdom het my te vinnig bekruip. Baie, baie dankie vir ds., ons wonderlike diep leraar wat so heerlik uit sy maag kan lag, vir die pragtige diens. Ek wens hy kon langer preek. Die wonderlike manier wat hy verduidelik het om die skeppingsdae te onthou het ek geniet.  Dankie vir almal wat hulpvaardig en liefdevol was om vir Riekie en vir my en almal te help loop en self ons met die etes te help. Vir Andre  en Willem en almal wat ons vervoer het met die groot maar welkom reën om by ons slaapplek te kom. Dankie is so 'n klein woordjie maar dit  kom uit ons harte. Duisend dankie vir alles Rina en Riekie.


Kamp vir Gestremdes NOMMER 8! Dit lyk my, hoe hoër die nommers gaan, hoe beter is die kampe... Woorde is min... maar die harte loop oor van dankbaarheid, jou geestelike ''koskas'' is weer gevul.. jou ''SpecSavers'' is vervang met 'n nuwe lens... jou idee wie jy is, is deur die grootheid van God bevestig hoe Hy na jou kyk.

Op hierdie kamp [glo ek] het almal van ons die heerskappy van God in of ander stadium ervaar... In 'n harde stort reënbui, in kerslig in die saal, was daar net iets anders aan die kamp. Helpers wat heen en weer hardloop om almal by hul slaapplekke te kry... was 'n missie in die reën... Maar deur alles word liefde so bewys. Almal sing saam, almal bid saam, Almal eet saam.... Almal wat nuut is, word in een groot familie saamgetrek. Daar word gelag, soms gespot of geterg. Ja, nie-gestremdes en gestremdes word jou geestelike ''boeties of sussies''...

So word almal in die naam van die Heer saamgevoeg... Ons kan net die groot liefde van God in so 'n kamp ervaar... Alle lof en eer kom Hom toe! Elke tong op die kamp kan NET bely dat God ''AWESOME'' is.

Almal wat hierdie kamp moontlik gemaak het - Die kampbestuur, die helpers en die gestremdes - dankie dat julle daar was...

En onthou.... elke oggend die spieël ding...

Christo


Ek het gewonder hoe en of ons by die kamp gaan kom. Ons is afhanklik van ander mense om te kom waar ons wil wees. Manlief het 'n bussie gereël gekry. en 'n helper André gevra om te bestuur. (Dankie André en sy gesin daarvoor) Ons ondervinding van die kamp was 'n WOW. Alles was lekker gewees van die begin tot einde. Die Tema het ons laat anders kyk na mense, maak nie saak wie jy is nie of waar vandaan jy kom nie. Die span lede van Wilna en die ander span lede was puik gewees. Die kos, speel en saamsing en vertelling van Dennis hoe kyk jy na alles klein of groot, was goed. Die geleentheid om by die ateljee terug oering te gee, was lekker gewees. Dankie vir almal wat die kampe moontlik maak.

Essie


Graag wil ek en Jan julle en julle medeaanbieders, asook Ian, baie dankie sê vir ‘n wonderlike kamp. Die verskillende boodskappe was net weereens om ons batterye te herlaai en om ons van vooraf te herinner aan God se groot genade en liefde! 

Ja dit was wonderlik om weer van die ou gesiggies te sien, want soos Ian gesê het ons is ‘n familie, maar na so ‘n kort naweek voel die nuwes reeds ook soos familie. 

Dankie vir die boodskap wat gegaan het om deur God se bril te sien en ons hoop dat ons die oomblik toe ons daar by die hek uitgery het, besluit het wat ons doen en hoe ons kyk, dat ons dit wel deur God se bril sal doen, nie soos ons dinge sien nie, maar soos God dit sal sien.  

Hierdie naweke wat ons kon bywoon en as helper optree, kan ons ook net dankie sê aan elkeen wat n finansiële bydrae gelewer het, maar wat vir ons nog so belangrik is, is dat die gestremde mense ons deur die naweek soveel drukkies kom gee om "dankie" te sê. Ons kan nie genoeg "dankie" aan hulle kan sê, want eintlik doen ons ‘n druppel in n emmer, maar tog is hulle so dankbaar. 

Een van die nuwes wat daar was toe ek haar op n stadium n drukkie gegee het, was haar woorde "ek is so lief vir jou".  Later die dag het sy gesê, dit is so lekker by die kamp dat sy nie nou al wil terug gaan nie. 

Hierdie gestremde mense met hul helpers, is so dankbaar oor so min wat ons doen dat hulle dankbaarheid ons eintlik harsteer maak, want ons is soms so ondankbaar. 

Mag die Here julle seën in wat julle doen en mag ons ook daar wees om hierdie dankbaarheid met julle te deel.

Liefde
Jan en Susaar 

 

Christo het hierdie stukkie geskryf oor die kamptema en Hester het dit vir ons voorgelees op die kamp:

SpecSavers: watter ‘n vreemde tema vir ‘n kamp, maar ook  ‘n juiste tema vir ‘n kamp!! Hoe ons na mekaar kyk – ja deur watter brille kyk ons mekaar aan? Watter bril dra jy as jy na iemand kyk wat volgens jou nie reg is nie? Dra jy miskien die ‘’bril’’ van hoogmoed of dra jy die ‘’bril’’ van empatie of dra jy die ‘’bril’’ van dankbaarheid? Ek is seker dat baie van ons sit die ‘’bril van dankbaarheid’’ op om jouself te beskerm... Maar wanneer jy na andere kyk, moet daar seker ‘n deel van empatie in jou hart wees... Ja, jy wat skelmpies na jou maat langs jou kyk?  Watter gevoel kom in jou gemoed op?

Ons gestremdes is seker al gewoond dat die ‘’samelewing’’ vir ons skeef aankyk  * of moet ek liewer sê vir ons AANGAAP! Netso kyk ons soms ander gestremdes so aan.... Baie van ons ‘’klassifiseer’’ ons anders! Hoekom? Dra jy dalk die bril van ‘’ek is beter”? – Dalk  nie! 

Wat ek hier probeer sê... Ons moet probeer om die ‘’bril van gesindheid” op te sit en AANVAAR  wie ons is. En ander help om hierdie bril op te sit!  Ja, Jy wat in rystoel is, miskien het jy ‘n mooi glimlag en selfs mooi helder laggie wat aansteeklik is. En Ja, Jy wat dalk gesiggestremd is, jy het dalk ‘n mooi persoonlikheid wat jy kan deel. Om iets van jouself te deel, is dit wat jou opbou... Om ‘n bietjie liefde te gee versit berge! Dus, hoe jy jouself gee, gaan afhang hoe mense jou ervaar en aanvaar. Gee hulle die regte ‘’SpecSavers.’’

Op innerlike of geestelik vlak, kan jy nie anders om die ‘’bril van gesindheid’’ deur Jesus se liefde te dra nie. Hy is die EEN wat gesindhede verander – Hy is die Een wat jou roep... ‘’Kom na My toe... almal wat vermoeid en belas is. En Ek gee vir jou rus want My juk is lig..’’ MATTHEUS 11: 28 - 29 (Hierdie versies het ek uit die vuis geskryf.) Jesus is die Een wat jou liefhet... Hy moet geloof en geëer  word. Sonder Hom is daar nie ’n ander weg nie... Sonder Hom is jy verlore!

As Jesus nou voor jou kom staan – Wat sal jy vir Hom vra? Dalk fisiese genesing? Ek weet nie! Soos die blinde man in Markus 10 : 51 – het Jesus vir hom gevra – ‘’Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?’’ en die blinde man het gevra om te sien.... MOET ons nie vir Jesus vra om die regte ‘’SpecSavers’’ te gee nie? Om ‘’brille van liefde’’ vir ons te gee... SODAT ons vir Jesus in  die ander persoon kan sien!!

CHRISTO DU PLOOY


 

Klik hier om na die foto's te kyk >>