Daaglikse Heuningdruppels 2014

 


... soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek (Ps 119:11)

Die daaglikse heuningdruppels is ook op ons Facebook-groep. Klik hier:


Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Wilna / Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)


Kersfees is ’n tyd wat my altyd met verwondering vervul. Ek is verwonderd oor die maagd wat ’n kind kon gekry het, ek is verwonderd oor die herbergier wat nie kon plek maak vir die Koning se geboorte nie, ek is verwonderd oor die engele se koorsang in die veld, ek is verwonderd oor die ster wat die wyse manne gelei het na die stal, ek is verwonderd oor die eenvoudige skaapwagters wat onvoorwaardelik geglo en gedoen het. Ek is verwonderd dat God mens geword het, ek is verwonderd oor Sy onvoorwaardelike liefde en sy onmeetlike genade, ek is verwonderd dat Jesus  se koms ’n nuwe era van genade en verlossing aangekondig het. Ek is verwonderd dat dit vir mý persoonlik is. Mag jy ’n geseënde Kersfees hê, gevul met verwondering en liefde. ~ Wilna Botha, 24/12/2014

Die sterrekykers waarvan ons in Matt. 2:11 lees was die eerste mense wat voor Jesus gebuig het om hulde aan Hom te bewys. Hulle het daad by die woord gevoeg en Hom ook geëer met hulle geskenke van goud, wierook en mirre. Miskien kan ons ook in aanbidding buig en ons goud, ons kosbaarste, ons lewe, ons hart as offer voor Hom neersit. Miskien kan ons ook in aanbidding buig en ons wierook, die aangename geur wat ons as kinders van God versprei, die liefde wat ons aan ons naaste betoon, as offer voor Hom neersit. Miskien kan ons ook in aanbidding buig en ons mirre, die salwingsolie waarmee ons Hom as Koning van ons lewe aanneem en aanstel, as offer voor Hom neersit. Ek wil dit hierdie Kersfees doen en elke dag wat daarop volg! “Kom buig daar in aanbidding, kom buig daar in aanbidding, kom buig daar in aanbidding, voor Jesus die Heer.” ~ Wilna Botha, 23/12/2014

Ek was bietjie in die winkels (wou nie, maar ek móés) en die enigste musiek wat jy hoor is Kersfeesmusiek. Nie net “Jingle Bells” en “Santa Claus is coming to town” nie, nee, dis Christelike musiek. Dis dié woorde wat vertel van die Engele koor wat sing: eer aan God in die hoogste hemel en vrede op aarde, van die herders en wyse manne wat die boodskap gehoor het en hulde aan die Jesus kind gaan bring het, van die vervulling van profesieë, van Josef en die maagd Maria, van die wonder van die geboorte van die Koning, die Lig vir die wêreld, die Goddelik kind, die Prins van vrede. Dis dié woorde wat sê: Al was ek nie daar nie, ek weet dit is waar... en ek sing saam en bely en erken dat ek álles glo oor die Kind wat gebore is, oor die Verlosser wat gekom het; dat ek álles glo oor Sy kruisiging, Sy opstanding, Sy hemelvaart, dat ek álles glo oor die vergifnis wat ek ontvang en die ewige lewe wat Hy vir my belowe. Ek sing saam! ~ Wilna Botha, 22/12/2014

Mens hoor deesdae van mense wat teësinnig is om Kersfees te vier. Dis dan kwansuis ’n heidense fees, dis nie werklik die datum van Jesus se geboorte nie, dis ’n geldmakery van die wêreld, die simbole van liggies, bome en versiersels dui na afgodsdiens, ens. Die Bybel sê nie of ons Kersfees moet of nie moet vier nie, daarom dink ek dis elke gelowige se keuse of hy dit wil vier of nie. As jy dit vier omdat jy Jesus se geboorte wil herdenk is dit na my mening goed. Ek kies om Kersfees te vier. Vir my is Kersfees ’n Christusfees, ’n jubelfees oor my Verlosser en my verlossing, ’n gesinsfees, ‘n getuienisfees. Hierdie teks in Luk. 2:10-11 uit Die Boodskap oortuig my juis weer dat ek dit wíl  vier: “Ek het baie goeie nuus vir julle; nuus waaroor julle nog baie lank gaan feesvier... vandag is die Redder in die stad van Dawid gebore; vir almal van julle. Dit is Hy wat julle van julle sondes sal vrymaak. Hy is die Messias en die Here oor almal.” ~ Wilna Botha, 19/12/2014

Die hoop van die wêreld, deur eeue verwag ... so sing ons oor Jesus se geboorte in een van die bekende Kersfeesliedjies.  Wat is jou hoop-wens vir hierdie Kersfees? Hoop jy vir deurbrake in jou of jou gesin se lewe? Hoop jy op groter sukses en voorspoed? Hoop jy op genesing? Dalk hoop jy dat een van jou geliefdes sal bekeer en Jesus sal volg? Miskien het die realiteite van die lewe jou hoop vernietig, maar kyk verby dit na Jesus. Die anker van hoop is Jesus en daardie hoop is ’n lewende hoop. Die hoop wat Jesus gee, is ’n hoop wat vasstaan ten spyte van omstandighede. Al lyk alles onmoontlik, beteken Kersfeeshoop dat God se moontlikheid nog ’n hoop is. Hou daaraan vas, al kan jy dit nie nou al sien nie.  “We must hold tightly to the hope that we say is ours. After all, we can trust the One who made the agreement with us.” (Heb 10:23) ~ Wilna Botha, 18/12/2014

Al die Kersfeesliggies waarmee mense hulle huise versier in hierdie tyd is vir my so mooi omdat dit ’n sigbare simbool is van Jesus wat as Lig na die wêreld gekom het. As ek my verlustig in al die blink liggies,  dink ek doelbewus aan Jesus wat die ware lig is wat alle donker verdryf, wat die duisternis van sonde en verlorenheid kom wegneem het. Waar Jesus se lig skyn kom daar helder hoop, oorvloedige lewe, ’n verligte pad en duidelike rigting. Waar Jesus se lig skyn, vlug die satan wat homself probeer voordoen as die lig. Jesus sê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.” (Joh. 8:12) ~ Wilna Botha, 17/12/2014

'n Mens kan altyd op U vertrou. Elke oggend is U maar weer daar. Ek sê vir myself: “Ek vertrou die Here, want Hy gee vir my lewe” (Klaagl. 3:23-24). So seker as wat jy vanoggend wakker geword het en suurstof gehad het om in te asem, só werklik is die Here en só seker is Hy by jou. Sit jou hoop daarop dat Hy nooit sal ophou om vir jou om te gee nie. ~ Wilna Botha, 15/12/14

“Joy to the world...”. Dis een van die vrolike Kersfeesliedjies wat ons nou baie hoor. Daar is ’n reëltjie in dié liedjie wat my elke keer aangryp en dit is: “... let every heart prepare Him room.”  Toe Jesus gebore is, was daar nêrens vir Hom plek nie en moes sy ouers hulle heenkome vind in ’n stal. As jy hierdie jaar Kersfees vier, is die vraag of jy plek vir Jesus gemaak het in jou hart? Hy het al soveel keer geklop aan jou hart se deur. Hy het geklop deur alles wat hierdie jaar oor jou pad gekom het, deur al die preke wat jy gehoor het, al die mooi boodskappe wat iemand vir jou aangestuur het. Miskien is dit nóú tyd om oop te maak sodat Hy hierdie Kersfees in jou hart gebore kan word. Miskien is dit nóú tyd om opnuut weer die dinge wat die Koning se plek in jou hart ingeneem het, eenkant toe te stoot, sodat die “Spesiale Raadsman, God wat sterk is, Ewige Vader, Koning van Vrede” die beheer kan oorneem. ~ Wilna Botha, 12/12/14

“Stop allowing yourselves to be agitated and disturbed; and do not permit yourselves to be fearful and intimidated and cowardly unsettled.” (Joh. 14:27, The Amplified Bible) Ons moenie toelaat dat ons binnekant ontsteld, onrustig, opgewerk en omgekrap word nie. Ons moenie toestemming gee vir ons gedagtes om  bang, bevrees en benoud te raak nie. Nee, gee toestemming vir God se vrede om oor jou gedagtes en hart wag te hou.  Jesus het sy vrede vir ons nagelaat, vrede wat alle verstand te bowe gaan. Hy ís die ontwerper van vrede, die hoof van vrede, die Vredevors. Maak ’n keuse teen onrus in jou gemoed, gee voorkeur aan God se vrede.  ~ Wilna Botha, 11/12/14

Ek het nóg ’n Bybel gekoop. Dié een is só klein dat mens dit nie eintlik kan lees nie. Nogtans kon ek die kern van die Bybel vind toe ek dit oopmaak en hierdie prentjie sien en dié woorde daaronder kon uitmaak : “Christ Jesus came into the world to save sinners.” (1 Tim 1:15) Maak nie saak hoe klein, oud, nuut, gehawend, luuks of duur  jou Bybel is nie, hierdie woord is die waarheid, dis betroubaar, dis werd om deur almal gelees, aanvaar en geglo te word!  “Oor U woord is ek so bly soos iemand wat ’n groot skat in die hande gekry het.” (Ps. 199:162) ~ Wilna Botha

As Christen is ek só bewus daarvan dat ek vrugte moet dra wat bewys dat ek bekeer is (soos Matt. 3:8 sê), dat die vrug van die Gees sigbaar moet wees in my lewe en nie die vrug van die sondige natuur nie (soos Gal 5:22 sê). Ai en hoe sukkel ek nie daarmee nie ... maar toe lees ek die opskrif van Joh. 15 in die Nuwe Lewende Vertaling wat sê: “Die geheim van vrug dra.”  Die geheim is dat ek nie op my eie enige vrug kan dra nie . Die geheim is dat ek aan Jesus verbind moet bly, soos takkies wat aan die druiwestok vasgroei is. Die geheim is dat ek van Hom afhanklik moet bly. Die geheim is dat daar snoeiwerk nodig is en dat die Woord die snoeiskêr is. Die geheim is dat ons hulp kan vra by die Here en seker kan wees dat Hy ons sal help: “Julle kan maar in gebed vra wat julle nodig het om goeie, vrugbare takkies te wees, want julle sal dit kry.” (Joh. 15:7, Die Boodskap) Ons kán gesonde, voedsame, vars, mooi vrugte produseer! ~ Wilna Botha, 09/12/14

“Mag dié wat vir U liefhet, wees soos die son wat in sy volle krag skyn.” (Rigters 5:31) Mag ons wat die Here liefhet voortdurend lig, energie en warmte uitstraal soos die son. Mag ons elke dag op ons pos wees; sigbaar, getrou en onwankelbaar. Mag ons elke dag dít doen waarvoor die Here ons gemaak het, op die plek waar Hy ons geplaas het. Mag ons krag en invloed hê waar ons beweeg en ’n heilsame uitwerking hê op almal met wie ons in aanraking kom. Gaan die week in en skyn helder!  ~ Wilna Botha, 08/12/14

Ek het weer gedink oor Nehemia se gebed ... Hy het nie net gebid en agteroor gesit en gewag vir iets om te gebeur nie. Hy het gebid en was dadelik gereed om Jerusalem toe te gaan om die stadsmure te herbou. Hy het sélf deelgeneem aan die bouwerk. Partykeer bid mens so lank en so baie oor ’n saak, maar jy rol nie jou moue op om tot aksie oor te gaan nie. Ons moet natuurlik bid oor alles, maar ons moet ook dóén wat ons kan. As jy bv. ’n pap band het en jy bid dat die Here jou moet help, kan jy tog nie net langs jou motor gaan sit en wag nie. Jy moet seker die spaarwiel en die domkrag uithaal en begin met die werk. As jy bid vir iemand se redding, is dit seker logies dat jy geleenthede sal soek om met daardie persoon oor Jesus te praat. As jy bid vir jou eensame buurvrou, is die volgende stap seker dat jy haar sal gaan besoek.  Daar is ’n punt waar God se bonatuurlike voorsiening en my eie verantwoordelikheid bymekaar aansluit, daarom is dit belangrik dat ons gebede ook oorgaan in dade. ~ Wilna Botha, 05/12/2014

Baie keer hoor ek dat mense sê jy moet net een maal oor ’n saak bid, want die Here is nie doof nie, Hy het jou die eerste keer gehoor. Of hulle meen dat jy nie met genoeg geloof bid as jy oor en oor by die Here pleit oor dieselfde ding nie. In die Bybel lees ek van ’n hele paar mense wat aanhou bid het oor dieselfde saak. Nehemia is een van hulle. “Luister na die gebed wat ek dag en nag  tot U bid sonder om moeg te word.” (Neh. 1:6) Hy het opgehou eet en gehuil en gesmeek by die Here. In die Psalms lees mens ook dat mense in nood dag en nag aanhou bid het - lees bv. Ps. 88:2 en Ps. 77:3. Dan is daar ook Jesus wie in die tuin van Getsémané drie maal teruggegaan het en in sweet en doodsangs by die Vader gepleit het.  (Matt. 26:39-46). Jesus het in Luk. 18:1-8 die gelykenis vertel van die weduwee en die regter met dié doel om ons aan te moedig om aan te hou bid sonder om moedeloos te word. Het jy moeg en moedeloos geword in jou gebedslewe?  Luister hierna: “Hy luister na almal wat dag en nag tot Hom bid. Hy sal uitkoms gee. En gou ook! Hou maar net aan om te bid.” (Luk. 18:8, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 04/12/2014

Uit  Nehemia se gebed in Neh. 1:5-11 kry ek riglyne vir my eie gebedslewe. Ek sien dat sy gebed uit ses elemente bestaan: hy roep God aan, hy prys Hom en bring eer aan Hom, hy pleit en smeek by die Here, hy bely sy eie, sy familie en sy volk se sondes, hy herinner God aan sy beloftes en dán eers praat hy met die Here oor sy eie persoonlike behoeftes. Baie keer as ek bid dan val ek sommer weg en gee vir die Here my wens-lysie en kerm ek net oor my eie, selfsugtige behoeftes en begeertes. Ek vergeet dat Jak 4:3 sê: “As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig.” Ek onthou dat ek eenmaal hierdie sinvolle aanhaling gelees het: “The purpose of prayer is not to inform God of our needs, but to invite Him to rule our lives.” Dis dan wat ons maar net kan bid: laat U wil geskied! ~ Wilna Botha, 03/12/2014

Wanneer mens die boek Nehemia lees, dan vind jy ’n stuk of tien gebede wat Nehemia bid. Dit wissel van ’n kort skietgebed in Neh. 2:4 tot seker een van die langste gebede in die Bybel in Neh. 9. Wat vir my mooi is en waaruit ek baie leer oor gebed, is dat hy sy gebed begin met ’n lofprysing, ’n opnoem van God se karaktereienskappe, ’n eerbetoon oor wie God is.  Kyk bv. Neh. 1:4: “Ag, Here, God van die hemel, groot en ontsagwekkende God wat U verbond en U trou handhaaf teenoor dié wat vir U liefhet en U gebooie gehoorsaam.” Wanneer ons die Here se Naam só grootmaak in ons gebed, dan help dit ons om te fokus op wie God ís; dit laat ons geloof sterker word, dit gee vir ons versekering dat Hy in staat is om meer te doen as wat ons kan bid of dink. Roep die Naam van die Here só aan en weet verseker dat die krag van jou gebed nie bepaal word deur die een wat bid nie, maar deur die Een wat daarna luister. ~ Wilna Botha, 02/12/2014

Ons het so pas die boek Titus stukkie vir stukkie deurgewerk by ’n Bybelstudiegroep. Ek was so verbaas om te sien hoeveel sake aangespreek word in dié twee en ’n halwe Bybel-bladsye. Dit gee praktiese riglyne vir die lewe, spoor ons aan tot goeie dade, motiveer ons om ’n goeie dag se werk in te sit, gee riglyne vir geestelike leiers, hulp om dwaling te herken en aan te spreek en nog meer. Een van die hoogtepunt-verse vir my is Tit. 2:14 wat die hele Evangelie in ’n enkele vers gee. Dit sê so duidelik wat Jesus vir ons kom doen het: Hy het Homself geoffer, Hy het ons sonde vergewe en ons kom vrymaak  van die verkeerde dinge in ons lewe, Hy het ons onvolmaaktheid kom ophef. Hy het ons deel van God se volk gemaak – ons is nou ook uitverkorenes. Nou help Hy ons om gehoorsaam aan Hom te wees en maak Hy ons boon-op nog ywerig ook om goeie dinge te doen en vrug te dra wat Hom sal verheerlik. Ek glo en bely dít alles weer van vooraf! ~ Wilna Botha, 01/12/2014

“Being the richest man in the cemetery doesn’t matter to me. Going to bed at night saying we’ve done something wonderful, that’s what matters to me.” Só het Steve Jobs blykbaar gesê. Nou ja, ons weet hy het beide kante geken -  hy was ryk én hy het groot en belangrike goed gedoen. Tog het  hy gereken dat daar groter vreugde en beloning is in die wete dat jy vir iemand ’n verskil gemaak het, as wat daar in rykdom is. Wat kan ek en jy vandag doen wat “something wonderful” is? Ons is nie noodwendig uitvinders, groot besigheids mense, dokters of sendelinge nie, maar, ons kan sinvolle goed doen wat vir mense voordelig kan wees. Ons kan tyd spandeer saam met ’n eensame persoon, ons kan iemand van Jesus se liefde vertel, ons kan ons dienste verniet aanbied vir iemand wat dit nie kan bekostig nie, ons kan hulp verleen aan iemand wat die nie verwag of iets vir jou terug kan doen nie, ons kan goed wees vir iemand al dink jy dalk dat hulle dit nie verdien nie. “... sodat dié wat tot geloof in God gekom het, hulle op goeie werk kan toelê, werk wat goed en nuttig is vir die mense.” (Tit. 3:8) ~ Wilna Botha, 28/11/2014

Volgens Tit. 2:11-12 help God se genade ons om die “goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede te laat vaar.” Sy genade leer ons wat die regte dinge is om te doen, maak ons ywerig om Hom te gehoorsaam en stel ons in staat om goeie dinge te doen. Wanneer ons egter faal, is sy genade steeds aan die werk om ons los te knoop van die sonde en oortredinge. Wanneer ons versuim om die goeie te doen, is sy genade aan die werk om ons te vergewe. Sy genade is verniet. Sy genade is genoeg. Sy genade het aan almal verskyn – dis ook vir jou! Aanvaar dit en lééf daaruit. ~ Wilna Botha, 27/11/2014

Mens hoor dikwels hoedat mense met die Here wil onderhandel oor ’n situasie in hulle lewens. Hulle sal bv. sê: “As U my gesond maak, dan sal ek vrywillige werk in die hospitaal gaan doen,” of: “As U vir my werk gee, dan sal ek my tiende elke maand vir die kerk gee,” of: “As U my kind red, dan sal ek voltyds vir U werk.” Nadat ek die verhaal van Jefta in Rigters 11:30-40 gelees het, het ek net weer besef hoe ernstig en gevaarlik sulke geloftes kan wees. Jefta se ooreenkoms met die Here het vir hom tragiese gevolge ingehou. Voordat jy só met die Here onderhandel, vra jouself af of jy werklik jou kant van die ooreenkoms sal kan uitvoer en of jy dit end-uit sal volhou.  Voordat jy só ’n ultimatum aan die Here stel, vra jouself af of dit reg en nodig is om die Here se arm te probeer draai net om jóú sin te kry, net om jóú behoeftes bevredig te kry. Voordat jy só ’n gelofte sluit, vra jouself af of jy nie liewers net blindelings moet vertrou dat die Here in beheer is van jou omstandighede en alles in elk geval volgens Sy plan sal laat uitwerk nie. Dink mooi voor jy onderhandel ... ~ Wilna Botha, 26/11/2014

“Love and compassion are necessities, not luxuries. Without them humanity cannot survive.” Dis ’n aanhaling wat ek nou die dag êrens raaklees. Dit kon net sowel Jesus self gewees het wat dít gesê het, want vir Hom is liefde, medelye, deernis en barmhartigheid belangrik. Hy sê van Homself: “... Ek is sagmoedig en nederig van hart.” (Matt. 11:28). Hy staan stil by mense in nood, Hy raak aan melaatses, Hy voed honger skares, Hy huil saam met dié wat treur, Hy bemoedig dié wat hartseer is, Hy gee aandag aan die uitgeworpenes. Sulke medelye en deernis verwag Hy ook van ons. Hy sê: “ Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie...” (Matt. 9:13) Mense het liefde en omgee, aandag en deernis nodig om te oorleef en ons kan dit vir hulle gee – sodoende kan ons mos Jesus se hande en voete wees! ~ Wilna Botha, 25/11/2014

“En nou vertrou ek julle aan God toe en aan die boodskap van die onverdiende goedheid wat Hy aan ons mense bewys. Dié boodskap is in staat om julle op te bou en julle in die seëninge te laat deel wat Hy aan al die gelowiges as erfporsie belowe het.” (Hand 20:32, NLV) Ek aanvaar hierdie teks as my hoop en moed, voorspoed en seën vir die week wat voorlê. Ek is veilig in God se hand, oorlaai met sy goedheid en guns, verseker van my verlossing. Só sien ek kans vir die pad vorentoe - ek hoop jy ook? ~ Wilna Botha, 24/11/2014

Dis vir my altyd baie lekker om langs ’n rivier te sit en te luister na die rustige gekabbel van die water, die varsheid te ruik en die skoonheid te beleef; om te sien hoe die water net aanhou en aanhou vloei.  Jy kan diep asemhaal, rustig raak en voel hoe die vrede oor jou spoel. Die Bybel sê in Jes. 48:18 dat iemand wat die Here se pad loop, altyd sulke vrede in hulle lewens sal hê. “If only you had listened to My commands! Your peace would be like a river that never runs dry.”  Die rivier van vrede wat die Here vir sy kinders gee bring vir hulle ’n bewustheid van sy teenwoordigheid, ’n stroom van sy goedheid en liefde, ervaring van sy versorging, sekerheid van sy vergifnis. Dis mos dié soort vrede wat alle verstand te bowe gaan. ~ Wilna Botha, 21/11/2014

“Hoeveel brood het julle? Gaan kyk.” Só sê Jesus vir sy dissipels in Mark 6:38. Met die 5 brode en 2 vissies wat hulle gebring het, kon 5000 mans en hulle gesinne meer as genoeg kry om te eet. Ons dink gewoonlik dat die bietjie wat ons kan aanbied nie eintlik iets werd is nie. Maar wanneer ons dit na die Here toe bring en Hy sy seën daaroor uitgiet, kan Hy dit laat vermeerder sodat dit ’n groot verskil kan maak en ’n menigte kan help. Gaan kyk bietjie vandag wat het jy in die koskas, in jou beursie, in jou hangkas, op jou boekrak ... ~ Wilna Botha, 20/11/2014

Daar is mense wat sulke interessante goed doen, so inspirerend is, wat sulke waarhede kwytraak, dat as jy in hulle geselskap was, voel jy opgebou, gemotiveer en positief. Jy sien sommer uit daarna om weer by hulle te wees. Dan is daar ook mense wat jou uitput en depressief laat voel, wat jou aftrek en van wie se geselskap jy nie gou genoeg kan ontvlug nie, mense wat net oor hulleself praat en jou onbelangrik laat voel. Nadat ek nou die dag weer in só persoon se geselskap was, het ek myself afgevra: hoe voel mense as hulle in my geselskap was? Hoe kan ek seker maak ek val nie in die tweede kategorie nie? Na baie wonder het ek besluit dat die belangrikste is dat ek net myself moet wees, dat ek altyd met integriteit moet optree, net die waarheid moet praat, eerlik moet wees met my opmerkings en komplimente, dat ek met aandag en meelewing moet luister, dat ek nie selfgerig moet wees nie, positief moet praat en beslis nie moet skinder of ander mense en hulle sienings moet afkraak nie. Ek gaan Kol 4:6 probeer navolg: “Dit moet ook altyd vir mense lekker wees om met julle te gesels. Na elke gesprek moet hulle voel dat dit die moeite werd was. So ’n ingesteldheid sal julle help om te weet in watter rigting om gesprekke te stuur en wat om volgende te sê.” (Kol 4:6, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 19/11/2014

Ek sien in die Nuwe Lewende Vertaling staan dié opskrif bo-aan 1 Joh. 2:12-14: “Leef volgens jou Christen-identiteit.” Vandat ek ’n Christen geword het, geld ’n klomp nuwe goed in my lewe, ook in my karakter en persoonlikheid. Dis so asof ek ’n nuwe ID-boekie gekry het met ’n nuwe nommer en ’n mooi foto! Daar staan nou geskryf: jou sondes is vergewe, jy leef in ’n persoonlike verhouding met die Here, jy het die bose oorwin, jy is sterk en vol krag, die woord van God is deel van jou bestaan. Dis wie ek nou ís  - dit móét mos ’n groot verskil maak aan my optrede en gesindheid, my drome, begeertes en my toekoms! ~ Wilna Botha, 18/11/2014

“... begeerte vir alles wat die oog sien en die valse roem op besittings, kom nie van die Vader nie, maar het sy oorsprong in die wêreld.” (1 Joh. 2:16) “Dit borrel op uit die fontein van die wêreld”, sê dit in Die Boodskap. Sjoe, hierdie teks spreek my só aan. Dit laat my besef dat goeters en wat ander van my besittings dink, heel dikwels net té belangrik is in my lewe. Die Bybel sê ook elders dat mens se geluk nie afhang van hoeveel geld jy het nie. (Luk. 12:15) Nee, ’n lewe van oorvloed is een waarin jy geluk kan vind in jou verhouding met die Here, een waarin jy vervulling kan vind in dit wat jy vir iemand anders gratis kan doen, een waarin jy tevredenheid kan vind in jou werk, een waarin jy liefde kan ervaar en kan gee in jou gesinslewe, ongeag van hoeveel en watse besittings jy het. Ek wil graag soos Paulus sê: “Al daardie dinge wat eers vir my so belangrik was, is nou vir my minder as niks werd, want Jesus het vir my alles geword. Hy is nou vir my belangriker as alle ander dinge tesame.” (Fil. 3:8, Die Boodskap)  ~ Wilna Botha, 17/11/2014

Terwyl ek gister dié Bybelgedeelte oordink het waar die Here die eenvoudige kierie wat Moses in sy hand gehad het, gebruik het om vele wonderwerke te doen, het ek ook weer die gedeelte in Num. 20 gelees. Die Here het weer die kierie gebruik, maar dié keer as ’n “toets”. Hy sê vir Moses en Aäron om die kierie te vat en in die teenwoordigheid van die volk met die rots te praat sodat daar water sal uitkom (anders as in Eks. 17:6 waar hy die rots moes slaan met die kierie). Maar wat doen Moses? Hy is so omgekrap en vies vir sy mense se rusies en geneulery, dat hy nie mooi geluister het na die Here se opdrag nie, dat hy sommer dink hy kan self ’n wonderwerk doen, dat hy die eer vir homself wil vat. Hy sê: “Moet ons vir julle water uit hierdie rots laat kom?” (Num. 20:10) – let wel,  “ons”, nie “die Here” nie! Nadat Moses die rots twee keer geslaan het, het daar weliswaar baie water uitgekom, maar met baie ernstige gevolge vir homself. Omdat hy God nie erken het en nie gehoorsaam was nie, sou hy en Aäron nie die beloofde land sien nie. Ons moet dus baie versigtig wees met die gawes, talente en goeters wat ons het – ons moet dit verantwoordelik en in afhanklikheid en gehoorsaamheid aan die Here gebruik en nie vir eie gewin of eie eer nie. ~ Wilna Botha, 14/11/2014

Toe die Here vir Moses geroep het om die Israeliete uit Egipte uit te lei, het hy allerlei vrese en verskonings gehad, maar vir elkeen daarvan het die Here vir hom ’n antwoord en raad gehad. Hoe lui daai spreekwoord? God needs availability, not ability. In Eks 4:2 vra die Here vir Moses: “Wat het jy in jou hand?” Dit was natuurlik sy kierie. Die eenvoudige, alledaagse wat hy op daardie oomblik in sy hand gehad het, het die Here gebruik om vele wonderwerke te doen. Die kierie het in ’n slang verander, hy het die water in die Nyl in bloed laat verander daarmee, hy het op die water geslaan sodat die rivier kon opdroog en die Israeliete op droë  grond kon deurgaan, met die kierie het hy water uit ’n rots laat kom, ens. Die Here kan dalk vandag vir my en jou ook vra: Wat het jy in jou hand? Watter gawes, watter middele is tot jou beskikking wat die Here kan gebruik om Sy werk deur jou te doen. Net dit wat jy nóú, op die oomblik beskikbaar het, hoe eenvoudig of nutteloos dit ook al vir jou mag lyk, kan God gebruik. Dit hoef maar net ’n eenvoudige kierie te wees, die Here kan iets groot daarmee doen! Wat het jy? Gebruik dit! ~  Wilna Botha 13/11/2014

In Luk. 13:6-9 lees ons die gelykenis van die onvrugbare vyeboom wat vir drie jaar geen vrugte opgelewer het nie. Die eienaar was gereed om hom uit te kap, maar die tuinier tree in en pleit om genade vir die boom: “Meneer, gee dit nog een kans. Los hom nog ’n jaar en ek sal besondere aandag aan hom gee en baie bemesting. As ons volgende jaar vye kry, goed. So nie, kan u dit uitkap.” God is die eienaar, ek die onvrugbare vyeboom, terwyl Jesus die Middelaar is wat voortdurend vir my by die Vader intree vir my tekortkominge en my gebrek aan vrugte. Hy belowe om besondere aandag en versorging aan my te gee, ekstra moeite te doen om my geestelik te voed met lewende water. Jesus, die genadige Tuinier,  sien ons potensiaal raak en pleit vir nog ’n kans. Hy help en beskerm ons totdat ons weer rigting kry en ’n sinvolle lewe begin lei wat vrug dra en God verheerlik. ~ Wilna Botha, 12/11/2014

“Wees stil en weet Ek is die Here.” (Ps. 46:10) Wat beteken dít vandag vir my? Dit beteken dat ek stil en rustig kan wees en weet dat ek spesiaal is vir die Here, dat Hy langs my is, my hand vashou, my troos en bemoedig, dat Hy my wegsteek onder sy vleuels en my veilig laat voel. Dit beteken dat ek stil kan raak en weet dat Hy in beheer is, dat Hy sy beloftes hou, dat Hy my hoop is. Dit beteken dat ek kan stil wees en Hom kan volg na die groen weivelde en waters waar daar vrede is, dat Hy my sal lei en my sal dra waar dit te moeilik is vir my om te loop. Dit beteken dat ek kan stil raak en kan “let go” want sy arms is altyd onder my. Dit beteken dat ek kan stil raak en sy ware rus kan ervaar. Wees stil en weet ... ~ Wilna Botha, 11/11/2014

Die Bybel sê: “God is téén mense wat te veel van hulleself dink, maar aan dié wat besef hoe afhanklik hulle van Hom is, gee Hy sy onverdiende goedheid.” (Jak 4:6, NLV) Wanneer ons, soos ’n bedelaar, met leë hande na God toe kom, met niks wat ons sélf vir Hom kan aanbied nie, kan ons staatmaak op Sy genade, Sy goedheid, Sy vergifnis, Sy redding, Sy sorg. Wanneer mens egter dink dat jy sterk, slim, goed of heilig is, gaan jy moeilik tot die besef kom dat jy die Here nodig het. Wanneer jy op jou eie krag, eie insig, eie vermoëns reken, kan jy dalk uitmis op die onverdiende goedheid waarmee die Here jou wil oorspoel. “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is...” (Matt. 5:3) ~ Wilna Botha, 10/11/2014

“Julle is in goeie hande. Die Here self pas julle op. En Hy is altyd op sy pos. Hy los julle nooit alleen nie, nie eens vir ’n enkele sekonde nie. God sal julle geloof sterk maak. Hy sal julle ook teen Satan se aanvalle beskerm.” (2 Tess 3:3, Die Boodskap) – mag hierdie vers jou vandag help om die Here se genade en liefde vir jóú persoonlik aan te neem, mag dit jou troos, mag dit jou bemoedig, mag dit jou moed en hoop gee vir jou lewe. ~ Wilna Botha

“Wie sê julle is Ek?” vra Jesus vir sy dissipels in Matt. 16:15. Wat sou jý sê as Jesus vir jou hierdie vraag sou vra, of as iemand by die werk vir jou sou vra wie Jesus is? Sou jy met ’n mond vol tande staan, sou jy die vraag wegpraat omdat jy nie ’n antwoord het nie? Of sou jy ook onomwonde, soos Petrus, kon bely dat Jesus jou Verlosser, jou Redder, jou Saligmaker, jou Here is? Sou jy met volle geloof kon sê dat Hy die Seun van God is? As jy dít kan sê, is dit nie omdat jy dit net by iemand gehoor het, of dit êrens gelees het nie, dit is omdat God dit deur Sy Gees aan jou geopenbaar het en jy dit met jou hele hart glo. “As iemand egter sê: “Jesus is die Here,” is dit die Heilige Gees wat hom dit laat sê.” (1 Kor. 12:3) ~ Wilna Botha, 06/11/2014

Ek het die fliek, “Liar Liar” baie geniet en al ’n paar keer gekyk. Dis nou Jim Carrey op sy beste. Hy is ’n prokureur wat op leuens floreer en nie eens die beloftes wat hy aan sy seuntjie maak kan nakom nie. Wat so oulik is, is dat sy seuntjie, met die uitblaas van sy verjaardagkersies,  ’n wens maak dat sy pa vir ’n dag lank nie moet jok nie, met skreeusnaakse gevolge. Dit leer hom vinnig om die waarheid te begin praat. Ai, as ek maar só ’n wens kon maak vir die mensdom! As almal (ek ook) maar net die waarheid sal praat, sal daar soveel minder ongelukkigheid, soveel minder misverstande, soveel minder probleme wees, soveel minder skewe verwagtinge wees. As almal maar net by die basiese reëls van die samelewing kan hou sal dinge soveel minder gekompliseerd wees. As almal hulle beloftes kan nakom sal verhoudinge wonderlik wees, sal probleme in die werkplek makliker opgelos kan word. Spreuke 4:24 en 6:17 sê dat jy jou moet weerhou van leuens  want die Here haat ’n tong wat lieg! “One thing you can give and still keep ... is your word.” ~ Wilna Botha, 05/11/2014

“Volhard in tye van swaarkry; moenie verslap in gebed nie.” (Rom 12:12, NLV) Wanneer jy deur moeilike tye gaan, voor uitdagings te staan kom, verlies ervaar, bang is vir die toekoms, wanneer jou gemoed vol vrae en onsekerhede is, moenie jou rug op die Here draai nie, moenie twyfel dat Hy daar is en dat Hy vir jou lief is nie. In sulke tye moet ons volhard in geloof, in sulke tye moet ons roep na God, moet ons ons begeertes aan Hom bekend maak. In sulke tye moet ons ons bekommernisse op Hom werp, sodat Sy vrede ons gedagtes kan kom oorneem en ons harte rustig kan raak; dán sal Hy ons weer moedig, sterk en standvastig maak. “Neem al die dinge waaroor julle julle bekommer of wat julle omkrap na God toe, want Hy self is die Een wat vir julle sorg.” (1 Pet. 5:7, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 04/11/2014

“Mag ons wonderlike God en ons Here Jesus Christus so goed vir julle almal wees dat julle altyd op die regte pad sal bly stap.” (2 Tess 1:12 (b), Die Boodskap) Dis vir my só ’n mooi seënwens om vir iemand te gee. Dis ’n gebed dat die Here die persoon sal help om altyd regop te tree, in alles eerlik en opreg en bo verdenking te wees, die regte keuses te maak en ’n lewe te lei wat Hom sal verheerlik. Dis ’n sekerheid dat die krag en die wysheid om reg te lewe van God sélf af kom. Mag die Here vandag vir ons almal goed wees op hierdie manier. “Soos ’n goeie gids lei Hy my elke dag om volgens sy wil te lewe.” (Ps. 23:3, Die Boodskap)  ~ Wilna Botha, 03/11/2014

“God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind.” (Hand 17:27) Kyk ’n bietjie vandag na die mense rondom jou – daar is beslis van hulle wie se oë versluier is, wat in die donker rond ploeter en soos blindes rondtas omdat hulle op soek is na die sin van die lewe, op soek is na vrede, op soek is na iets of iemand groter as hulleself. Die Here het die mens gemaak om Hom te soek, om ’n verhouding met Hom te begeer. As jy so iemand raakloop, vertel hom van Jesus, vertel hom wie Jesus is en wat Hy vir jou gedoen het en wat Hy vir jou beteken. Miskien kan jy vandag ’n soekende help om die Here te vind ... trek die skoene van bereidheid aan en gaan vertel. ~ Wilna Botha, 31/10/2014

“The most effective way to do it, is to do it.” So lui ’n aanhaling wat ek nou die dag lees. Partykeer bly mens besig met bid, droom en beplanning oor ’n saak, maar kom nooit by die uitvoering daarvan uit nie. ’n Effektiewe lewenstyl is een waarin jy nie net uitvind wat die Here se wil is nie, maar dit ook dóén. Ons praat nie hier noodwendig van groot goed nie, nie van die oplos van wêreldprobleme nie, nie om herlewing aan die gang te sit, ’n stad te red of ’n groot kerk te stig nie. Dit gaan oor die gee van ’n beker koue water, besoek aan ’n sieke of gestremde, iets te ete aan ’n behoeftige, praktiese hulp aan ’n bejaarde, vriendelikheid aan ’n vreemdeling, ens. Moenie wag vir jou kerk om iets te organiseer nie, gaan uit en doen wat jou hand vind om te doen. Moenie net dink daaroor nie, doen dit! ~ Wilna Botha, 30/10/2014

“Ek sal hierdie plek nou onder my sorg neem en ontvanklik wees vir elke gebed hiervandaan. En nou kies Ek en heilig ek hierdie tempel sodat my Naam altyd daar sal wees en dit altyd my sorg en liefde sal geniet.” (2 Kron. 7:15-16 ) Die Here praat nie net hier oor die tempel wat Salomo gebou het of oor die kerkgebou of gebedskapel nie. As die Bybel sê dat ons liggaam die tempel van die Heilige Gees is, dan weet ons dat ons ook gekies, geheilig en afgesonder is vir die Here en dat Hy altyd sélf by ons sal wees. Ons sal voortdurend sy sorg en liefde ondervind en Hy sál luister na elke gebed en versugting wat uit ons hart na Hom toe gerig word. ~ Wilna Botha, 29/10/2014

Ons almal het die behoefte aan liefde en aanvaarding en om ander se omgee te ervaar. Ons staan graag aan die ontvangkant hiervan, maar is tog dikwels baie traag om liefde, omgee en aanvaarding uit te deel. Om mekaar lief te hê met ’n liefde wat in dade bewys word, is God se opdrag aan ons. Laat God se liefde vandag deur jou skyn, kyk uit vir ander se behoeftes en verras iemand met ’n “random act of kindness”. Laat jou liefde prakties word in vriendelikheid, geduld, goedhartigheid, nederigheid en mededeelsaamheid. “My children, our love should not be just words and talk; it must be true love, which shows itself in action.” (1 Joh. 3:18, Good News Bible) ~ Wilna Botha, 28/10/2014

“All of these lines across my face, tell me the story of who I am...” – só klink die woorde uit die liedjie: “The Story”.  As jy vandag bietjie in die vergroting spieël kyk, watter soort lyne sal jy sien? Lyne wat bewyse is van baie lag, of fronslyne van frustrasie, bitter plooitjies om die mond of diep lyne van onvergenoegdheid op die voorkop? Watter verhaal vertel die lyne op jou gesig? Vertel dit dalk ’n verhaal bekommernis en swaarkry, van pyn, probleme en hartseer? Vertel dit ’n verhaal van harde werk en aanhoudende inspanning of dalk van baie trane en slapelose nagte? Dalk lyk die lyne op jou gesig nie baie mooi nie, dan kan jy na die Here toe kom vir ’n “face-lift”. Jes. 61:3 sê dat die Here “eer gee in plaas van smart, vreugde in plaas van droefheid, blydskap in plaas van hartseer.” Mag dít deel word van jou storie. ~ Wilna Botha, 27/10/2014

2 Kor. 4:7-15 sê dat ons soos kleipotte is wat maklik breek, maar dat daar ’n skat ín ons is. Dié skat is die krag wat van God af kom en alles oortref. Dit is daardie krag wat ons in staat stel om te sê: ek sal nie platgedruk word nie, ek sal nie vernietig word nie, ek sal nie moedeloos word nie, ek sal nie opgee nie. Dit is daardie krag wat jou verseker dat die Here jou nooit sal verlaat nie, dat jy enige oomblik oor kan begin, dat jy weer kan opstaan, weer kan probeer. Dit is daardie krag wat jou bemoedig sodat jy weet dat jy nie alleen is nie, dat die Here se beskerming en sorg daar is vir jou, dat uitkoms en hulp naby is. Soms is dit eers wanneer die kleipot kraak en breek dat ons bewus word van hierdie groot krag. Die Here sê: “My groot krag word sigbaar in jou lewe wanneer jy swak en hulpeloos is” (2 Kor. 12:9, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 24/10 /2014

Josef se lewensstorie  is ’n voorbeeld van iemand wat in die put begin het en in die paleis geëindig het. Dit was egter nie net een sprong van put na paleis nie; die pad het gepaard gegaan met ’n reeks “goeie nuus” – en  “slegte nuus” – tye. Wat ek egter by Josef leer is om in put-tye positief te bly, te besluit teen bitterheid, om die Here te bly vertrou, om nie jouself te bejammer nie, om nie ander te verwyt vir die situasie waarin jy is nie (al is dit hulle skuld dat jy in die put beland het), om met selfvertroue te sê: ek kán  hier uitkom, om te wéét dat daar ’n hoër, Goddelik doel is met jou put-ervaring. Dit maak nooit saak of jy in die put begin nie, dit maak saak waar jy gaan eindig . “Die Here was by Josef en dit het baie goed gegaan met hom” (Gen. 39:2) ~ Wilna Botha, 22/10/2014


Gen. 6:9 - “Hier volg die verhaal van Noag. Noag was ’n regverdige man. Onder sy tydgenote was hy onberispelik en hy het naby aan God geleef.” Elke mens het ’n storie en hierdie is die inspirerende storie van Noag se lewe. Ek wil graag dié storielyn aanneem vir die verhaal van my lewe – ek wil ’n goeie mens wees wat die regte dinge doen, wat naby aan die Here leef en net gehoorsaam is. Ek wil enduit volhard en my storie met ’n mooi einde klaarmaak. Ek weet ek sal daai oorwinning behaal want die Here is aan my kant, ek is ook, soos Noag, deur Hom begenadig. Hy red my van my “sondvloed” en gee my die ewige lewe. ~ Wilna Botha, 21/10/2014

Nou ja, ons is terug na 2 ongelooflike dae saam met ’n inspirerende groep gestremde persone, ’n toegewyde en ywerige ondersteuningspan en hartlike gashere,  geborg deur vrygewige weldoeners . Ons het lewensstories gedeel van moed en deursettingsvermoë, van seer en swaarkry, van oorlewing en wonderwerke. Ons het stories gehoor van die Here se goedheid en getrouheid, van Sy vergifnis en nuwe lewe. Ons het saam gedroom oor ’n toekoms van hoop en oorwinning, van ’n lewensverhaal wat goed sal eindig. Dit was 2 dae waarin ons baie pret gehad het, waarin ons onvoorwaardelike liefde beleef het, onverwagse drukkies gekry het, waarin ons net weer in dankbaarheid kon besin oor ons eie voorregte en seëninge.  Ons dank die Here vir hierdie voorreg. ~ Wilna Botha, 20/10/2014

“Elke mens het ’n storie” is ’n uitdrukking wat mens deesdae nogal baie hoor, iemand sing dit ook in ’n bekende liedjie! Ons hét almal ’n storie wat êrens begin het, ’n storie wat verander soos wat die draaie van my lewe loop en soos wat ander mense probeer saamskryf aan die storie. Ek weet egter dat die Here die outeur is van my lewensstorie , Hy bepaal die intriges en dramas, die vreugdes en hoogtepunte, Hy  verweef die drade na ’n eenheid wat oploop na ’n “happy ending”, ’n volmaakte einde wat vir my voorlê. Intussen speel ek met oorgawe saam in vandag se episode van dié  vervolgverhaal!

Hierdie naweek hou ons ons 13e kamp vir gestremdes met die tema “Elke mens het ’n storie.” Ons gaan luister na mekaar se stories, leer uit mekaar se verhale en mekaar aanmoedig vir elke dag se episode! Daarmee saam gaan ons ’n groot porsie pret en speletjies hê, uitbundig lag en heerlik eet. Ons gaan beslis versterk word om ons lewensstorie weer met nuwe moed en groter hoop aan te pak. ~ Wilna Botha, 17/10/2014


“Julle is in goeie hande. Die Here self pas julle op. En Hy is altyd op sy pos. Hy los julle nooit alleen nie, nie eens vir ’n enkele sekonde nie. God sal julle geloof sterk maak. Hy sal julle ook teen Satan se aanvalle beskerm.” (2 Tess 3:3) Die Bybel sê mos ook in die Ps. 121  die Here sluimer of slaap nie, Hy kyk nie weg nie, Hy is nie te besig nie, Hy gaan nie met verlof nie. Hy is altyd en oral teenwoordig, altyd gereed om ons te beskerm, altyd gereed om te keer dat ons nie val nie. Hy is altyd daar om ons óm die struikelblokke te lei, altyd daar om vir ons die lig in die donker aan te skakel. Jy is vandag ook in goeie hande – hande vol genade en liefde!  ~Wilna Botha, 16/10/2014

“As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou tevergeefs.” (Ps. 127:1) As die Here nie deel is van ons alledaagse werk, deel is van ons huis en gesinslewe nie, kan ons ons dalk morsdood werk en op die ou einde vind dat dit alles verniet was. Sonder die Here sal ons bouwerk swak wees asof ons soos 2 van die 3 varkies met strooi, stoppels en stokkies gebou het. Die bouwerk kan dalk makliker wees, en aanvanklik mooi lyk, maar dit sal geen ewige waarde hê nie. As die Here Jesus egter die fondament is, dan bou Hy self ons lewenshuis met goud, silwer en edelstene. Dit sal sterk, mooi en duursaam wees en alle toetse en storms kan deurstaan. Moenie tydmors met nuttelose bouwerk wat jy uit jou eie krag probeer doen nie, moenie halfpad ophou nie, druk deur en bou tot eer van die Here. Mag die Here se seën vandag op jou bouwerk rus. ~ Wilna Botha, 15/10/2014

Voel jy dalk ook gedaan gejaag om deadlines te haal, suf planne gemaak om die skedules te laat uitwerk, moeg geskarrel om almal se grille te bevredig? Dis soos Tetris speel en die blokkies wil nie pas nie en val deur sonder dat jy punte kry! Of soos om daai borde op die stokke te laat balanseer en dit val die een na die ander in skerwe. Wel, lees bietjie hier: “Kom julle alleen saam na ’n stil plek toe en rus ’n bietjie” (Mark 6:31). Is dit nie ’n fantastiese uitnodiging van Jesus nie? Hy weet ons het nodig om bietjie tot stilstand te kom, bietjie te stop met al die gejaag, bietjie te sit, bietjie te rus en asem te skep. En waar beter as by Hóm? Hy sê ook: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is en Ek sal julle rus gee” (Matt. 11:28). Dis as ons gaan stilsit by Hom, as ons oorgee en terugleun in sy arms, dat ons regtig verfris en vernuwe word, dat ons weer die “jeugdige krag van ’n arend” kry. Ek het ook hierdie gelees in die Message: “I'll contemplate his beauty; I'll study at his feet. That's the only quiet, secure place in a noisy world, the perfect getaway, far from the buzz of traffic”. (Ps 27:4-5). Hoe gaan jy dit vandag prakties doen? ~ Wilna Botha, 14/10/2014

“... die woord van die Here hou vir ewig. En hierdie woord is as Goeie Nuus aan julle verkondig.” (1 Pet. 1:25, NLV) Ons noem mos die Bybel die “Woord van God”, “Goeie Nuus”, “Blye Boodskap” ens., maar God se woord is meer as nét ’n boek. God se woord is wie Hy is en wat Hy sê en wat Hy doen. Wat God sê, is waar en betroubaar en wat Hy sê sal Hy doen. Wat Hy sê geld vir altyd en in alle omstandighede. Die Goeie Nuus, wat altyd opwindend en vars sal wees, is dat  God ons liefhet, dat Hy genade aan ons betoon, dat Hy goedhartig en getrou is, dat Hy sondes vergewe en ons die ewige lewe as gratis geskenk gee – dié woord is ewig en betroubaar.  ~ Wilna Botha, 13/10/2014

Ek het hierdie foto Sondag in Johannesburg se botaniese tuine geneem. Dit het my laat dink aan wat Jesus in Joh. 4:14 sê:  “... wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ’n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.”  Jesus ís die lewende water en Sy uitnodiging is: “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink!” (Joh. 7:37)  Kom drink, kom gee jouself oor, kom verfris jouself, kom “doop” jouself in die lewende water sodat jou sonde, jou pyn, jou hartseer, jou teleurstellings, jou verwerping, jou vernedering weggewas kan word in die strome van Sy genade. ~ Wilna Botha, 10/10/2014

Hou jy ook van brood? Lekker tuisgebakte wit brood met dik botter en dan 'n smeersel van jou keuse, saam met heerlike vars koffie. Sommige mense sal seker nou inmekaarkrimp en dink hoe vet dit maak, maar ander (soos ek) se smaakkliere word sommer dadelik geprikkel. Brood is stapelvoedsel, vullend, lekker en relatief goedkoop, en dit kom van laaaank laaaank gelede, sommer vroeg in die Ou Testament. Dalk is dit hoekom daar soveel gelykenisse (vergelykings) getref word tussen Jesus en brood. Wel, as jy vir 'n klomp maande net brood het om te eet sal jy verseker aan die lewe bly. 'n Dokter sal dalk vir jou sê: Dis al wat jy nodig het om NOU aan die lewe te bly. En dan kom hierdie vergelykings in die Bybel en sê in Joh 6:48:- "Ek is die brood wat lewe gee."
Jesus is AL wat jy vandag nodig het, om EWIG aan die lewe te bly. ~ Willem Botha, 09/10/2014

Ek hoor ’n advertensie wat vra: “How much is enough?” en dan word dit gekoppel aan die produknaam “ ... wealth”. Toe wonder ek nou mos ook hoeveel is genoeg. Hoeveel koffiebekers in my kas is genoeg? Hoeveel vleis in die vrieskas? Hoeveel skoene? Hoeveel oorbelle? Hoeveel vakansies per jaar? Hoeveel geld in die bank? Hoeveel pensioen vir die ou dag? Hoeveel is genoeg? Hoeveel sal my tevrede maak? Hoeveel sal my waardig laat voel? Hoeveel het ek nodig om nie af te steek teen die “Joneses next door” nie?  Wel, in die Bybel het ek twee antwoorde gesien: (1) Spr. 30:8-9: “... moet my nie arm maak of ryk nie, gee my net die kos wat ek nodig het, sodat ek nie te veel het en U verloën en sê: “Wie is die Here?” nie, en sodat ek nie arm word en steel en my God se Naam oneer aandoen nie.” (2) 1 Tim 6:8: “As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees.” Is dit genoeg vir jou? ~ Wilna Botha, 08/10/2014

Ek lees iemand sê: “Tomorrow starts today.” Dis seker nie verkeerd om solank aan môre te dink en vooruit te beplan nie, maar té veel kere berei ek só voor vir môre, dat vandag eintlik vermors word, of bekommer ek só oor môre dat ek vandag se seëninge miskyk, of droom ek só oor môre dat ek vandag se vreugde mis. Ek wil ’n punt daarvan maak om nie meer môre in vandag in te trek nie. Jesus leer ons ook in Matt. 6:34 : “Moet julle daarom nie oor môre  bekommer nie. Môre sal sy eie bekommernisse (en ek voeg by: seëninge, plesier, geleenthede...) bring. Vandag se moeilikhede is vir een dag heeltemal genoeg.” ~ Wilna Botha, 07/10/2014

“Start your day with a smile, a happy thought and a grateful heart.” Ek het gedink hierdie aanhaling kan nogal help vir ’n Maandagoggend! Vul jou hart en gedagtes met mooi en opbouende goed, skuif die negatiewe gedagtes eenkant toe, gee die bekommernisse vir die Here. Dink daaraan dat God jou gemaak het en Sy lewensasem in jou ingeblaas het. Wees dankbaar teenoor die Here vir klein dingetjies, wees dankbaar dat jy lewe! Hopelik sal jou hart dan met vreugde gevul word en sal jy ’n huppel in jou stap en ’n glimlag op jou gesig hê! Mag jy 'n kleurvolle dag hê! “Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees.” (Ps 118:24) ~ Wilna Botha, 06/10/2014

“Ek het ’n ooreenkoms met die dag en die nag om op vaste tye te begin. As julle dit kan regkry om hierdie ooreenkoms verbreek te kry, dan en dan alleen, sal My ooreenkoms met Dawid wat in My diens was, verbreek kan word.” (Jer. 33:20-21, Die Boodskap) Vandat ons vriend, Oom Jan Tromp, my nou die dag van dié vers vertel het, is ek nóg meer verwonderd oor elke sonsopkoms en sonsondergang. As die son in die oggend op die horison verskyn dan wéét ek God se beloftes aan Dawid het bly staan EN sal Sy beloftes aan mý ook bly staan. Niemand kan keer dat die son opkom nie, daarom kan niemand keer dat God alles vir my ten goede sal laat uitwerk nie. Dis son is op – die Here ís getrou.   ~ Wilna Botha, 03/10/2014

Het jy al bietjie om jou rondgekyk die afgelope paar weke en raakgesien hoedat alles groener, mooier en helderder word? Die Jakarandas begin blom en een van die dae is dit net pers waar jy kyk ... en tot nou toe het dit alles hier in ons omgewing gebeur sonder water, sonder bemesting, sonder spesiale aandag. Dit het gebeur nét omdat God ’n tyd vir alles bepaal het, nét omdat somer en winter die werk van Sy hand is, nét omdat Hy seisoene geskep het (lees Ps. 74:17) Ons beleef hoedat die Here alles in die natuur nuut maak. Hy doen dít ook in ons lewens. Wat eers dood en donker, grys en vaal was maak Hy weer nuut en vars. Wat vol sonde was, maak Hy skoon en heel. “Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God.” (2 Kor. 5:17)  Mag Oktobermaand in jou lewe aanbreek! ~ Wilna Botha,02/10/2014

“Dit is die maand Oktober! Ek dink die mense vier

vir ewig in die hemel Oktobermaand soos hier!
Wat wens jy meer as blomme, as helder dag en nag?
Wat kan jy beter, mooier of heerliker verwag?
Wat kan jy beter, mooier of heerliker verwag?

Wat gee ek om die winter? Wat praat jy nou van Mei?
Wat skeel dit as ons later weer donker dae kry?
Ek is nou in Oktober, die mooiste, mooiste maand,
met elke dag so helder, so pragtig elke aand!
Met elke dag so helder, so pragtig elke aand!” ~ C. Louis Leipoldt  ~ Wilna

“Dit gaan goed met elkeen wat die Here dien .... Vir slegte tyding is hy nie bevrees nie, hy is gerus, hy vertrou op die Here.” (Ps. 112:1,7) Die teks sê nie dat ons wat die Here dien nooit slegte nuus sal ontvang nie. Ons sal ook moeilike omstandighede op ons pad kry, maar ons sal dit kan hanteer omdat ons weet dat God in beheer is, omdat ons weet dat God aan ons kant is, omdat ons weet dat niks ons van Sy liefde kan skei nie. Ons sal slegte nuus kan hanteer sonder om beangs en paniekerig te wees omdat ons weet dat die Here saam met ons is, dat Sy liefde ons regop hou, dat Sy genade vir ons genoeg is. Slegte nuus behoort ons nie te ontstel nie, dit behoort ons nie bang te maak nie, dit behoort ons in die arms van die Here te laat vlug.  ~ Wilna Botha, 01/10/2014 

“Julle mag nie ’n ander god vereer nie, want Ek, die Here, eis onverdeelde trou aan My. Daarom noem hulle My: Die God wat onverdeelde trou eis.” (Eks 34:14) Dis die opdrag wat God se volk moes hoor. Dis egter net soveel op ons van toepassing. Ons kan dink ons maak mos nie allerhande beelde waarvoor ons buig nie, maar ’n afgod is nie net ’n fisiese ding nie. Vir ons kan dit eie vermoëns, eie genot, gemak en geluk wees wat in God se plek in ons harte inskuif. Dit kan enige iets of iemand wees waarop ons meer vertrou as op God self. Ons kan onsself miskien afvra: Waaraan dink ek die meeste? Wat sal die grootste verlies in my lewe wees? Wat laat my veilig voel? Wat bepaal my identiteit? Die antwoorde hierop kan dalk vir jou uitwys dat daar afgode is wat jou tyd, aandag en toewyding steel wat jy aan God verskuldig is. Maak weer ’n nuwe keuse, want God vereis dat ons geheel en al aan Hom toegewy is. ~ Wilna Botha, 30/09/2014

Ek het geskrik toe ek weer die gelykenis van die ryk dwaas in Luk. 12:13-21 lees. Dit klink soos baie mense wat ek ken, om die waarheid te sê ek is self in baie opsigte net soos daai dwaas. Hy jaag verkeerde prioriteite na en spog oor wat hy bereik het. Hy glo sy aardse besittings behoort aan hom - hy dink nie eens daaraan dat dit God is wat hom die krag , kennis en gesondheid gegee het om sy rykdom te bekom nie, of dat dit God is wat die reën laat val het op sy landerye nie. Hy dink sy besittings sal vir altyd hou. Hy lewe asof die hier en nou al is wat saak maak, asof eet, drink en partytjie hou die lewe die moeite werk maak. “Weet julle, so gaan dit met almal wat die verkeerde skatte bymekaarmaak. Die doderyk is die enigste beloning vir al hulle harde werk. Gee julle lewe eerder aan God. Maak vir julle skatte by Hom bymekaar. Dan wag daar ’n splinternuwe lewe op julle.” (Luk. 12:21, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 29/09/2014

Wanneer ons lofliedere tot eer van die Here sing, dan skuif ons fokus van onsself en ons probleme na God en Sy grootheid. Wanneer ons met oorgawe sing dan word ons harte lig en warm van liefde vir die Here en ons voel so naby aan Hom. In Ps. 69:33 en Ps. 34:3 lees ek van nóg iets wat gebeur wanneer ons dank- en prysliedere sing: dié wat swaarkry, wat verdruk en bedruk is, wat gebroke en verlore is, wat siek is, sal daarna luister, hulle sal bly wees daaroor en weer nuwe moed skep. “Sing saam met my oor die grootheid van die Here... dié wat swaar kry sal dit hoor en daaroor bly wees.” (Ps. 34:3) ~ Wilna Botha, 26/09/2014

“I will not in any way fail you nor give you up nor leave you without support. I will not, I will not, I will not in any degree leave you helpless nor forsake nor let you down (relax my hold on you)! Assuredly not!” (Heb. 13:5, Amplified Bible) Dit is die Almagtige God sélf wat dit vir jou sê. Dit is jou Vader wat vir jou omgee wat só met jou praat vandag. Dit is die Skepper van die heelal wat jou op hierdie oomblik Sy versekering gee dat Hy jou nie in die steek sal laat nie. Hy sorg vir alles en Hy sal ook vandag vir my en jou sorg. Wees rustig, wees tevrede, moenie bang of beangs wees nie. Mag Sy woorde jou troos en aanmoedig vir dit wat jy vandag moet doen. ~ Wilna Botha, 25/09/2014

Ek lees hierdie aanhaling wat my sterk aanspreek: “Don’t judge my path if you haven’t walked my journey.” Ons kan so maklik oordeel en veroordeel op grond van mense se uiterlike, op grond van hulle foute en mislukkings, op grond van hulle tekortkominge, terwyl ons glad nie weet waarvandaan hulle kom en watter paaie hulle al gestap het, of hoe vêr hulle al gevorder het op hulle pad nie.  Miskien was jyself al aan die ontvangkant van sulke veroordeling deur mense wat glad nie jou storie en jou agtergrond ken nie. Kom ons wees meer verdraagsaam en toon groter begrip en genade aan mense wat anders lyk, anders dink en anders optree as ons. Jesus sê in Joh. 7:24: “Moenie op die oog af oordeel nie, oordeel regverdig.” ~ Wilna Botha, 23/09/2014

Miskien is jy of een van jou geliefdes siek of in die hospitaal vir ’n operasie vandag of êrens gedurende hierdie week. Die Bybel sê in Ps. 34:21: “Die Here sorg vir die hele liggaam.” Vir my is hierdie teks ’n troos en versekering dat die Here weet van die siekte, dat Hy dit sien en daarvoor sorg. Die hare op ons kop is getel, geen been van ons is vir die Here verborge nie, ons is die appel van Sy oog, Sy kind, Sy ewige arms is onder ons, niks kan ons uit Sy hand ruk nie. Sy guns, Sy versorging, Sy genesing is dáár vir ons en ons geliefdes. Kom ons breek ’n stukkie brood saam in die gedagtes en drink saam uit die beker en bely: “Deur Sy wonde is julle genees.” (1 Pet. 2:24) ~ Wilna Botha, 22/09/2014

In Gen. 3 word vertel hoedat Adam en Eva toegegee het aan die verleiding van die satan en geëet het van die boom waarvan God hulle belet het om te eet. Die gevolg van hulle ongehoorsaamheid was o.a. dat hulle besef het dat hulle kaal was, hulle was skaam en het vir hulle klere van vyeblare gemaak. Hulle het self probeer om hulle sonde toe te maak. Maar , getrou aan wie God is, bewys Hy meegevoel en genade aan hulle, laat Hy bloed vloei sodat hulle sonde toegemaak kan word: “God het Adam en Eva later jammer gekry en vir albei klere van vel gemaak. Hy het self vir hulle die klere aangetrek.” (Gen. 3:21, Die Boodskap) Hoe verstommend is dit nie dat daar in die eerste bladsye van die Bybel alreeds versoening vir die mens kom nie! Dat dit van God se kant af kom, dat Hy Sy hand uitsteek na die mens en dit terwyl die mens dit nie verdien nie. Die res van die Bybel is die verhaal van God se genade en die volkome versoening en verlossing wat Hy uiteindelik vir ons bewerk het deur Sy Seun, Jesus Christus. Is dit nou nie goeie nuus nie? ~ Wilna

Ek sien hierdie drie woorde buite op die muur van ’n kerkie: lewe, hoop, vrede. Dís  wat ons moet hê wanneer ons by die kerk se deur uitstap die wêreld in:  lewe in oorvloed omdat Jesus se bloed ons nuut en vry gemaak het (Joh. 10:10), hoop as ’n geestelik anker wat ons vastigheid en sekerheid gee (Heb 6:19), vrede wat alle verstand te bowe gaan omdat ons weet God is in beheer en Hy sal in al ons behoeftes voorsien (Fil. 4:7 en Fil. 4:19). Ek neem hierdie drie woorde vandag as die slagspreuk van my lewe. ~ Wilna

“Kyk, Ek het vir Besaleël uitgekies. Ek het hom toegerus met my Gees sodat hy met vaardigheid, insig en verstand enige werk kan doen.” (Eks 31:2-3) As jy vandag vaardigheid, insig en kennis nodig het om jou werk te doen, om nuwe dinge uit te dink en groot planne te maak, glo ek dat die Here dit vir jou sal gee, soos vir Besaleël.  Gebruik die vaardigheid en talente wat die Here vir jou gee en doen jou werk goed en met oorgawe, asof jy dit vir die Here doen, doen dit sonder om te kla en te mor. Sodoende sal Sy Naam geëer word, maak nie saak of dit geestelike werk of sekulêre werk is nie.  Geniet jou werk! ~ Wilna

“Everything is going to be alright. Maybe not today, but eventually.” Wees verseker dat die moeilike tyd waarin jy nou is, die onsekerheid van jou situasie, die bekommernis oor jou gesondheid, die vrees vir die toekoms, die onvrede wat in jou gemoed is, uiteindelik sal verbeter. Miskien stap jy op die oomblik ’n eensame woestyn pad, of daar is dalk ’n groot storm aan die woed rondom jou, dalk is alles besig om te verander en dinge voel buite beheer... die Here sê vir jou: “Moenie bang wees nie... As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, want Ek is die Here jou God.” (Jes. 43:1-2) ~ Wilna

God se formule
Ek wonder hoeveel van ons verstaan werklik die weë van die Here. Verstaan jy hoekom daar soveel swaarkry en armoede moet bestaan, hoekom goeie mense skielik deur rampe getref word, terwyl roekelose mense oënskynlik floreer?
Dit laat my dink aan Einstein se formule E=MC2 en vele ander formules. 'n Formule verklaar 'n stelling en maak dat 'n probleem opgelos kan word.
Maar wat is God se formule? God= wat? Of God = wie? Watter stel wiskundige reëls kan Hom genoegsaam beskryf?

Wel, in Gen 3:14 gee Hy vir Moses 'n kykie na 'n moontlike formule as Hy sê: Ek is...
Dus kan ons aflei God =... IS . Maar o weë, Ek = wat? Of Ek = wie?
Miskien sê hierdie formule dan juis iets soos: God = barmhartigheid. God = genade. God = alomteenwoordig. God = soewerein.
In 1 Joh 4 : 16b lees ons. "God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom."
Wel dit lyk my ons het hier 'n formule wat perfek werk: GOD = LIEFDE
 Kan dit vandag vir jou genoeg wees?
~ Willem

“We don’t meet people by accident. They are meant to cross our path for a reason,” – so word gesê. Dink bietjie daaroor wanneer jy vandag met mense te doen kry. Miskien die petroljoggie, die ou wat jou winkeltrollie wil stoot of die karopasser. Dalk jou baas of kollega, ’n kliënt of verskaffer. Dalk ’n familielid of intieme vriend. Vra jouself af wat die rede is dat jou pad met hulle s’n kruis en hoekom juis vandag. Gebruik die geleentheid wat jy het om jou lig te laat skyn, om opbouend te praat, positief en vriendelik te wees. “Gebruik elke oomblik om ’n positiewe invloed op hulle uit te oefen. Dit moet ook altyd vir mense lekker wees om met julle te gesels. Na elke gesprek moet hulle voel dat dit die moeite werd was.” (Kol 4:5-6, Die Boodskap) ~ Wilna

In die middel van die paradys het die boom van lewe gestaan. Dié boom was die simbool van lewe, geluk en voorspoed, van ’n plek waar alles volmaak en perfek is, van ewigdurende saligheid en onsterflikheid. Adam en Eva was vry om hiervan te eet, maar hulle het nie. Hulle kies om die verbode vrugte te eet van die boom van kennis van goed en kwaad. Sodoende verloor hulle toegang tot die boom van die lewe. Openb. 22:14 sê dat dié wat hulle klere was in die bloed van die Lam die reg het op die boom van die lewe. (lees ook Openb.2:7 en 7:14) Deur Jesus se bloed het ons het weer toegang tot die boom van die lewe. Dis nou ons geleentheid om reg te kies – van watter boom eet jy? ~ Wilna

“Besef julle nie dat julle almal saam die tempel van God uitmaak en dat die Gees van God in julle as Sy tempel woon nie?” (1 Kor. 3:16 NLV) Toe ek hierdie teks in die Nuwe Lewende Vertaling lees het dit vir my beklemtoon dat ons SAAM die tempel van God uitmaak. Ons is almal deel van die liggaam van Christus, daarom moet ons baie meer respek vir mekaar hê, baie meer verdraagsaam wees teenoor medegelowiges. Ons moet minder veroordelend en meer genadig wees, minder afkraak en meer opbou, minder uitskel en meer liefdevol wees. Behandel vandag almal wie jou pad kruis asof die Gees van God in hulle is. ~ Wilna  

Ek lees hierdie aanhaling êrens: There are always two choices. Two paths to take, one is easy and its only reward is that it’s easy. Die Bybel praat ook duidelik oor die twee moontlike paaie wat ons kan vat: God se pad wat nou en moeilik is en opofferings vra, maar wat uitloop op die ewige lewe saam met God of die breë en maklike pad, die pad van die meerderheid, die pad wat weg van God af is en in die hel eindig.  Die enigste voordeel van dié pad is dat dit maklik is. “Die pad wat na God se nuwe wêreld toe lei, is baie moeilik en ook bitter smal. Min mense loop daarop omdat dit groot opofferings vra. Aan die ander kant is die pad wat na die hel toe lei, maklik om op te loop en baie breed. Baie mense loop daarop. Span julle daarom in om op God se smal pad te bly stap.” (Matt. 7:14, Die Boodskap) ~ Wilna

Eks 33:17: “Ek is jou goedgesind en Ek ken jou op jou naam.”  Hierdie woorde beskryf ’n intieme verhouding tussen God en Moses. Jesus het dit vir ons kom moontlik maak om ook in dieselfde intieme en persoonlike verhouding met God te staan. Ons kan Hom met ons hele hart liefhê, ons kan met vrymoedigheid na Hom toe gaan, ons kan ons sorge en laste enige tyd by Sy voete gaan neersit.  Hy sal dan Sy hand van genade na ons uitsteek en ons verseker van Sy goedgesindheid, van Sy omgee, van Sy liefde, van Sy meegevoel met ons. Hy kén jou regtig. Hy ken jou naam, Hy weet wie jy is en waarmee jy vandag sukkel. Mag dit jou bemoedig en troos! ~ Wilna

Soms is dit baie lekker as mens vir die laaste keer iets doen, soos bv. jou laaste eksamenvraestel skryf, jou laaste dosis antibiotika afsluk, jou laaste slapie voor jy met vakansie vertrek ens. Ander kere weer kan ’n laaste keer hartseer wees, met trane gepaard gaan, jou leeg of nutteloos laat voel. Hoeveel kere doen mens nie iets vir die laaste keer sonder dat jy besef dis die laaste keer nie. Ek het gister ’n laaste keer gehad toe my dogter, ná 5 jaar en ongeveer 1000 sessies wat ons saam geoefen het, dit vir die laaste keer saam met my gedoen het. Sy het nou aangesluit by ’n ander klub. Ons het ons laaste work-out saam “gevier” – teruggedink aan al die pret, saam-sweet, wedersydse aanmoediging en lekker tye wat ons saam gedeel het.  Dis toe dat ek sommer net weer besef: water loop onderdeur die brug, die sand loop deur die uurglas en ons kan dit nie keer nie. Geleenthede kom en gaan en ek wil ’n punt daarvan maak om hulle almal ten beste te benut. Doen vandag iets asof jy dit vir die laaste keer doen, beleef iets asof dit die laaste keer is, maak ’n viering daarvan asof dit nooit weer gaan gebeur nie. ~ Wilna

Wanneer ons alles in die stryd werp om mense goed te behandel, hulle te aanvaar vir wie hulle is en poog om goed met hulle oor die weg te kom, doen ons presies wat die Here van ons verwag. Wanneer ons werk aan versoening, vergifnis en eensgesindheid doen ons wat Jesus sou doen. Wanneer ons vrede maak, stryery en bakleiery vermy dan maak ons die Here se hart bly. “ Moenie gedurig met mekaar stry en baklei nie. Konsentreer liewers op die dinge waaroor julle saamstem. Wees lojaal teenoor mekaar. Voel saam, streef saam, doen saam. As julle dit doen, sal julle my regtig baie bly maak.” (Fil. 2:2, Die Boodskap) ~ Wilna

“Ons moet leer uit wat al lank gelede reeds in die Skrif opgeteken is. Die standvastigheid en die bemoediging wat die Skrif aan ons gee, help ons om aan ons toekomsverwagting te bly vashou.” (Rom 15:4 NLV) Ons is so bevoorreg om die Bybel as die bron van kennis tot ons beskikking te hê. Dit is beslis vandag nog van toepassing en daarom kan ons dit bestudeer, dit ter harte neem en dit in ons lewens as rigtingwyser volg. Dit sal sekerheid en  standvastigheid in ons lewens gee.  God se beloftes in die Woord is steeds van krag, dit kan ons van oomblik tot oomblik bemoedig, dit gee ons hoop en is ’n anker waaraan ons kan vashou in onseker, stormagtige tye.  Stof daai Boek weer af en gebruik hom! ~ Wilna

Dis die moeite werd om op die nou paadjie te stap. Dit is goed om die regte keuses te maak. Dis voordelig om altyd die regte dinge te doen. Dis aan te bevele om in alle opsigte by die reëls te hou. Dis die moeite werd om altyd jóú kant skoon te hou. Die wins wat dit vir jou sal inhou is rustigheid en sekerheid. Jy sal in vrede met almal kan saamleef, jy sal nie altyd oor jou skouer hoef te kyk nie, jy sal nie bang wees jy word uitgevang nie. “Wie regdoen sal vrede hê. Wie volhard in regdoen sal vir altyd rus en sekerheid hê.” (Jes. 32:17); “Wie na reg en liefde strewe, aan hom word ’n vol lewe en eer geskenk.” (Spr. 21:21) ~ Wilna

“Toe het die Here gevra: Moet Ek self saamgaan en vir jou vrede gee?” (Eks 33:14) Sjoe, wat ’n wonderlike aanbod het die Here hier vir Moses gemaak. Ek glo Hy bied dit ook vandag vir my en vir jou aan. Mag Hy saam met ons hierdie dag ingaan, voor ons uitgaan en die pad vir ons gelykmaak en in al ons behoeftes voorsien. Mag Hy elke tree saam met ons stap en vir ons wysheid gee vir die besluite wat ons moet neem, geduld vir elke situasie, moed vir elke probleem en vrede wat alle verstand te bowe gaan. ~ Wilna

Ek is baie keer soos Jona. Ek is bevooroordeeld teenoor ander, ek beoordeel die wêreld en besluit sommer self wie die Here se genade en vergifnis werd is. Partykeer is ek ook kwaad as dit vir my lyk of die Here iemand wil red wat dit nie verdien nie, iemand wat só goddeloos leef, só sy eie sondige pad loop. Baie keer is ek teësinnig om God se boodskap van redding te deel, ek kyk liewer ander pad, klim op ’n ander skip, gaan ’n ander koers. Wat ek net weer besef het uit die boek Jona, is dat God besorg is oor alle mense, Hy stel sy genade beskikbaar vir almal en Hy gebruik mense om die boodskap uit te stuur, Hy buig natuurwette en bewerk wonders om mense te red. Ek erken nou ook, soos Jona: “Ek het voor my siel geweet U is die God wat mense vergewe en hulle jammer kry. U is geduldig met hulle en gee vir hulle om.” (Jona 4:3, Die Boodskap) ~ Wilna

“Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie” (Ps. 1:1, Ou Afr. Vertaling). Jy is welgeluksalig, gelukkig, geseënd as jy hierdie dinge NIE doen nie. Moenie die raad volg van mense wat God nie ken en dien nie – moenie dat hulle jou hart en gedagtes beïnvloed nie, dit sal jou op ’n sonde-pad bring – waar jy kort voor lank dalk saamsit, saamdoen en saampraat, en uiteindelik sal jy ook, net soos hulle, met God spot en Hom verloën. Moenie loop waar hulle loop nie, moenie staan waar hulle staan nie, moenie in hulle kring sit nie. Kies saam met wie jy wil wees, wees versigtig aan wie se invloed jy jou blootstel, dink mooi oor die gesprekke waaraan jy deelneem. “Want die Here waak oor die pad van die gelowiges; maar die paaie van die goddeloses lei tot ondergang.” (Ps. 1:6) ~ Wilna


Voel jy miskien vuil en weggegooi? Is jy stukkend en misbruik? Voel jy nutteloos en verwerp? Is jy vasgevang in die donker maalkolke van die lewe? Die belofte van God vir Sy kinders is dat Hy ons van die ashoop kan optel, ons uit die stof kan laat opstaan, dat Hy ons weer nuut en mooi kan maak, dat Hy ons wonde kan verbind en ons trane kan afdroog.  “Maar vir dié van julle wat My liefhet en aan My gehoorsaam is, sal My verlossing soos die son wees. Wanneer dit opkom, jaag dit die donker weg en gee lig. Daar waar die son se strale op ’n seerplek skyn, word dit vinnig gesond. So sal Ek nuwe lewe oor julle laat kom.” (Mal 4:2, Die Boodskap) Mag God se son van redding vandag oor jou skyn. ~ Wilna


Ons het almal die een of ander uitdaging voor ons, die een of ander probleem wat hanteer moet word, die een of ander berg wat ons moet oor. Hoe benader jy die probleem voor jou? Met ’n gesug en gekla, ’n gesteun en gekerm, of pak jy die bul by die horings, werk met ’n plan, bly gefokus en verheug jou oor jou vordering? Kyk jy vas in die probleem, of kyk jy deur die probleem en sien ’n oplossing? Is jy een van dié mense wat die glas altyd halfleeg en nooit halfvol sien nie? Ek lees hierdie aanhaling van Victor Frankl: “The problem is not the problem; the problem is your attitude about the problem.” Ek gaan maar weer bietjie werk aan daai attitude! ~ Wilna

In Matt. 21:28-31 lees ons die gelykenis van die twee seuns vir wie hulle pa ’n opdrag gegee het. Die een seun het geweier om dit te doen, later spyt gekry daaroor en toe tog gaan doen wat sy pa gevra het. Die ander seun het gesê hy sal doen wat sy pa gevra het, maar hy het dit toe nooit gaan doen nie. Dit het my laat wonder oor my eie gesindheid wanneer die Here vir my ’n opdrag gee – ek is baie keer soos die eerste seun: aanvanklik teësinnig, maar wanneer ek eers bietjie daaroor gedink het, dan doen ek dit tog maar. Dikwels is ek soos die tweede seun: ek neem my voor om goeie dinge te doen, uit te reik na iemand, hulp te verleen êrens en dan raak ek lui of bang of vasgedraai in my eie dinge en ek kom nooit daarby uit nie. Die ideale seun sal met ’n gesindheid van respek en gehoorsaamheid sy pa se opdragte aanvaar en uitvoer. Die ideale seun se beloftes sal uitvloei in sy gewilligheid en in sy dade. Ek wil weer probeer om daai “ideale seun” te wees. ~ Wilna

“’n Riet wat geknak is, sal Hy nie afbreek nie en ’n lamppit wat rook, nie uitdoof nie.” (Matt. 12:20) Wanneer ons dink ons (of iemand anders) is so nutteloos, swak en onbruikbaar soos ’n geknakte riet, of soos ’n kers wat dof brand, dan kom maak die Here ons weer nuut en rig Hy ons weer op. Dan begin Hy weer voor met ons en het Hy steeds ’n doel en ’n plan met ons. Hy skryf niemand af nie. By Hom is daar altyd weer ’n tweede kans. Hy doen dit vir ’n tollenaar, vir ’n owerspelige vrou, vir ’n moordenaar, ’n duiwelbesetene en ’n verraaier. Hy doen dit vir siekes, melaatses, ongelowiges en twyfelaars. Hy sál dit ook vir my en vir jou doen. ~ Wilna

Ek vind goeie raad in hierdie aanhaling wat ek gelees het: Tune into positive experiences and never take a single moment for granted. Ek moet myself instel om die goeie raak te sien, ek moet oefen om positiewe dinge oor mense te sê, ek moet myself doelbewus besig hou met dinge wat die moeite werd is - dinge wat God sal sê goed is. Ek moet myself dissiplineer om elke oomblik te benut en ek wil daarop konsentreer om goeie herinneringe op te stapel. “Wees baie versigtig hoe julle leef. Leef soos mense wat weet wat God van ’n sinvolle lewe verwag...” (Ef. 4:15, Die Boodskap) ~ Wilna

Luister ’n bietjie hoe dikwels hoor jy iemand sug, of hoeveel keer gee jyself so ’n lang, uitgerekte, diep sug. Wanneer sug jy? Wanneer jy moeg en moedeloos is of met iets sukkel. Wanneer jy swaarkry, teleurgesteld of siek is. Of dalk wanneer jy verlig is of ’n noue ontkoming gehad het. Waaroor jou sug vandag ook al gaan, kan jy weet dit val nie op dowe ore nie. Die Bybel sê dat die Heilige Gees namens ons by God sug, Hy dra ons sug aan God oor, Hy vertaal en verduidelik aan die Vader waaroor ons sug gaan. Ontspan – God hoor jou sug en Hy sal jou te hulp kom. “Hy (die Heilige Gees) vertaal al ons swaarkry in hemelse taal. Hy gaan sug en kla names ons daar by God.” (Rom 8:27, Die Boodskap) ~ Wilna

Die woorde van Jes. 64:6, “... ons beste dade is soos vuil klere,” het my net weer laat besef dat niks wat ek doen vir die Here goed genoeg is nie. Ek sal altyd weer te kort skiet, ek sal altyd weer val en sondig, ek sal altyd weer versuim om goed te doen. My beste is nie goed genoeg nie. My beste lyk soos vuil wasgoed. Die goeie nuus is egter dat die Here se genade, sy onverdiende guns, sy gratis goedheid elke dag vars op my wag. Die goeie nuus is dat ek my vuil klere kan was en dit spierwit kan maak in die bloed van die Lam, Jesus Christus. (lees  Openb. 7:14) Die beste nuus is dat ek deur Jesus se versoeningswerk goed genoeg is. ~ Wilna

By ons Bybelstudie oor Filippense moet elkeen vandag sy gunsteling vers uit dié boek deel. Ek het toe heen-en-weer- gewonder oor watter een dit vir my sal wees ... dalk dié een oor Jesus wat aan mense gelyk geword het sodat Hy in ons plek aan die kruis sou sterf, dalk dié een oor elke knie wat sal buig en elke tong erken dat Jesus die Here is, dalk dié een wat my aanmoedig om in alle omstandighede bly te wees, dalk dié een wat sê dat ek nie bekommerd hoef te wees nie, dat ek al my begeertes in gebed voor God kan bring, dalk dié een wat sê dat God in elke behoefte ryklik sal voorsien of dalk: ek is tot alles in staat... ? Ek het egter besluit op Fil. 2:13 : “Dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om Sy wil uit te voer.” Vir my is dit wonderlik om te weet dat die Here self my hart, my begeertes, my wil en gedagtes verander sodat ek sal wil doen wat Hy wil hê. Hy laat my nie aan myself oor om Sy wil te doen nie, nee, Hy kom bly in my deur Sy Gees. Sy Gees werk in my om te wil leef soos God verwag en terselfdertyd leer en wys en lei Hy my om dit te doen. Ek wil, want Hy wil, ek kan, want Hy kan.  ~ Wilna

Die verhaal van die genesing van die siek, gestremde man by die bad van Betesda (Joh. 5:1-17) het sommer vir my nuwe betekenis gekry toe ek lees dat Betesda “huis van genade” beteken. Die man van wie hier vertel word, was al vir 38 jaar siek. Niemand het hom voorheen gehelp nie en hy het seker ook nie veel hoop gehad dat enige iemand hom sou kon help nie. Tog het hy bly wag by die “huis van genade”. En toe kom Jesus genade betoon by Betesda. Hy wéét wat is die man se behoeftes, Hy sien hom raak tussen al die baie ander mense, Hy bied sy genade en Sy genesing vrywillig en verniet aan. Het jy vandag die Here se aanraking nodig?  Het jy genesing nodig? Het jy hulp nodig? Het jy vergifnis nodig? Jesus voel jammer vir jou, Hy weet van jou behoefte, Hy wil en sal genade aan jou betoon en jou aanraak met Sy hand van liefde. Ek bid dat jy dít sal ervaar.  ~ Wilna  


Ons het so pas begin met ’n Bybelstudie oor Filippense. Toe ek in my Bybel sien dat die skets by Filippense ’n helder lig is, het ek besef dat dit iets met die inhoud van die boek te doen moet hê. Nou ja, dit ís toe ook so, want in Fil. 2:15 staan daar dat ons ligdraers moet wees. Ons moet God se lig die wêreld indra, Sy goeie nuus versprei. Die lig is natuurlik die nodigste waar dit die donkerste is, daarom kan ons nie onsself isoleer en verwyder uit die wêreld uit nie. As ons die sout vir die aarde is, dan kan die sout nie in die soutpot bly nie, dan moet ons dit waag daar waar die sout en die lig nodig is. “... al bly julle tussen mense wat korrup en sonder gewete is. Juis tussen hulle moet julle soos helder ligte in ’n donker wêreld skyn.” (Fil. 2:15) ~ Wilna

“Toe het ek gesien die hemel is oop. Daar was 'n wit perd. Sy Ruiter word die Getroue en die Betroubare genoem.” (Openb. 19:11) Dit is natuurlik Jesus van wie hier gepraat word, dis Jesus wie se naam die Getroue en die Betroubare is. Hoe wonderlik is dit nie om só iemand as Vriend te hê nie. Iemand wat altyd dieselfde is, wat altyd jou belange op die hart dra, wat altyd Sy woord hou en Sy beloftes nakom. Hoe wonderlik om só iemand te hê wat jou versorg. Iemand wat altyd betyds is, standvastig en onveranderlik. Hoe wonderlik om só iemand te hê wat jy kan vertrou vir alles. Iemand wat jy altyd kan glo, altyd kan volg, altyd kan liefhê! Iemand wat vir jou dié Ruiter op die wit perd is, vir ewig en ewig. ~ Wilna

Paulus skryf in baie van sy briewe hierdie seëngroet: “genade en vrede vir julle.” (bv. Fil. 1:2, Gal 1:3. Ef. 2, ens.) Dit is ook hierdie groet waarmee ons gewoonlik in ’n kerkdiens gegroet word. As jy weer daardie seëngroet hoor, besef dan dat wanneer jy genade en vrede ontvang het, jy alles het wat jy nodig het. As jy die Here se genade ontvang, ontvang jy ’n volledige porsie van Sy goedheid. As jy Sy genade ontvang, maak Hy jou sy kind, vergewe Hy jou sondes, verlos Hy jou uit die boosheid van die wêreld en vul Hy jou met Sy Heilige Gees wat jou lei en help. Wanneer Jesus jou in die regte verhouding met die Vader bring is daar geen groter vrede wat jy kan beleef nie. Genade en vrede vir jou vir vandag en vir die res van jou lewe! ~ Wilna

My oog val op hierdie aanhaling onderaan Maandag se dagboek bladsy: “When you respect your own “NO!” then others will too.” Dis altyd vir my interessant om te sien dat wêreldse aanhalings en sê-goed, soos dié een,  eintlik uit die Bybel “geleen” word. Die Bybel sê mos: Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle ‘nee’, ‘nee’. (Matt. 5:37) Sê ja as jy wil en hou daarby. Moenie teruggaan op jou woord nie, moenie beloftes verbreek nie, dan sal almal weet dat jy betroubaar is en jy sal hulle respek wen. Onthou: jy mag nee ook sê en vir baie dinge móét jy nee sê. As jy nee gesê het, hou daarby en jy sal daarvoor gerespekteer word en almal sal weet waar hulle met jou staan. Laat jou woord altyd jou eer wees. ~ Wilna

Een of ander slim ou het gesê: “Life is the art of drawing without an eraser.”  Sjoe ek besef maar net hoe belangrik dit is dat ons elke oomblik die regte dinge moet doen, mooi dinge moet sê, goeie dinge moet dink, regte keuses moet maak, want wat ons gedoen het, kan nie weer ongedaan gemaak word nie, wat ons gesê het, kan nie weer teruggetrek word nie.  Maar Goddank! Daar is ook ’n ander kant. God het in sy genade vir ons ’n uitveër voorsien.  Jesus se bloed vee ons verkeerde dade, woorde en gedagtes uit; al hierdie verkeerde dinge word gekanselleer aan die kruis, in die diepsee gegooi waar dit nie weer uitgevis kan word nie. Die Here se uitveër is beskikbaar vir jou, niks is te groot of sleg of swart vir hom nie. Hy sê: “Ek het jou oortredinge, jou sonde, uitgewis.” (Jes. 44:22) Deur Jesus kan ons skoon en nuwe mense wees wat elke dag weer ’n skoon bladsy voor ons het om ons lewensprentjie op te teken. ~ Wilna

In Gen. 3 lees ek dat Adam en Eva vir God weggekruip het omdat hulle kaal, skaam en skuldig voor God gevoel het. Hulle was skuldig en hulle oortreding het gemaak dat hulle Sy teenwoordigheid probeer vermy het en dit het ’n kloof tussen hulle en God veroorsaak. Ons sonde beïnvloed ook ons verhouding met die Here, dit maak ’n muur tussen ons en Hom (lees Jes. 59:1-2), dit vervreem ons van Hom. God steek egter sy hand uit na ons om weer die verhouding te herstel en Hy doen dit deur Jesus Christus. Hy vergewe sonde, Hy maak ons verhouding met Hom weer heel en nuut, Hy tel ons weer op en was ons skoon. Ons hoef nie weg te kruip vir God nie, ons hoef nie skaam te wees oor ons sonde nie. Kom soos jy is – die bloed van Jesus reinig, God spreek jou vry en veroordeel jou nie meer. ~ Wilna

“Dit wat in hierdie boek geskryf is, is met ’n spesifieke doel gedoen. Dit is geskryf sodat julle geen oomblik hoef te twyfel dat Jesus die Redder, ja, die Seun van God is nie. Julle kan dit maar volledig aanvaar. En hierdie woorde wil julle ook oortuig dat julle vir ewig gaan leef omdat Jesus dit vir julle moontlik gaan maak.”  Wow, wat ’n ongelooflike opsomming gee Joh. 20:31 (volgens Die Boodskap) van dít waaroor die Johannes evangelie gaan, sowel as die hele Bybel. Die boodskap van die Bybel is eenvoudig genoeg dat selfs kinders dit kan verstaan. Terselfdertyd is dit so diep dat sommige teoloë daarin verdrink en die totale prentjie mis. Ek aanvaar die inhoud volledig en glo dit met my hele hart en beaam: “Hoe aangenaam is U Woord, soeter as heuning die mond.” (Ps. 119:103) ~ Wilna

Ek lees nou die dag dié teen ’n koffiewinkel se muur: Faith is when you close your eyes and open your heart. Ek het dit dadelik neergeskryf want dit het my herinner dat geloof in Jesus vra dat ek  my vertroue in Hom sal stel sonder dat ek Hom kan sien, dat ek sal glo dat Hy vir my sonde aan die kruis gesterf het, al was ek nie daar nie en al het ek nie my vinger in die merke van die spykers gesteek nie, dat ek sal glo dat ek die ewige lewe het al kan ek nou nog niks daarvan sien nie. Geloof vra toe oë maar ’n oop hart. Geloof vra ’n oop hart wat vir Jesus innooi, wat plek maak vir die Heilige Gees om ’n tempel op te sit. Geloof vra ’n oop hart wat medemense kan inlaat en bedien. Maak oop, al kan jy nie sien nie! ~ Wilna

’n Vriendin gebruik nou die dag dié uitdrukking: “"Life is what happens while you are busy making other plans." Hoe baie gebeur dit nie dat onvoorsiene omstandighede jou beplanning in die wiele ry en jou afspraakboek deurmekaar krap nie. Die Bybel praat ook daarvan: “’n Mens kan sy voornemens hê, maar die laaste woord daaroor kom  van die Here af.” (Spreuke 16:1) Ek dink nie dit beteken dat ons nie vooruit mag en moet beplan nie, ek dink net ons moet onthou dat ons planne nie noodwendig sal uitwerk soos wat ons gedink het nie en dan moet ons nie omgekrap of opstandig of ontevrede daaroor wees nie. As dinge nie uitwerk soos wat ons dit wou hê nie, moet ons daarin berus dat die Here ’n plan daarmee het, moet ons erken dat Hy wel in beheer is. Kom ons onthou om in ons beplanning sê: “As ons môre nog leef, sal ons dit of dat doen. Maar dit hang eintlik alles maar van die Here af.” (Jak 4:15, Die Boodskap) ~ Wilna

In Mark 4:39 lees ons hoedat Jesus die storm aanspreek en dan gaan die wind lê en alles word stil. Die Amplified Bible sê: “...and there was a great calm (a perfect peacefulness).” Ons kan dikwels nie die storms om ons hanteer nie, omdat daar storms binne-in ons woed, omdat ware vrede afwesig is in ons harte en gedagtes. Hoe kan ek daardie vrede kry? Miskien deur meer tevrede te wees met wie ek is en wat ek het. Miskien deur meer op die Here te vertrou, my twyfel en vrees te vervang met geloof in God wat alles weet en alles kan doen en alles ten goede sal laat uitwerk. Mag Jesus vandag jou storms laat bedaar en mag jy vandag vrede ervaar wat alle verstand te bowe gaan. ~ Wilna

“Be kinder than necessary because everyone you meet is fighting some kind of battle.” Ek het nou die dag dié aanhaling in ’n winkel gelees en sommer daar en dan besluit dat ek dit gaan toepas teenoor diegene met wie ek in aanraking kom. Ek gaan probeer verstaan hoekom mense optree soos hulle doen, ek gaan my in hulle situasie probeer indink en poog om hulle kant van die storie in te sien. Die Here wil hê dat ons medelye moet hê en met sagte oë en harte vol deernis na mense sal kyk, Hy wil hê dat geduld, vriendelikheid en goedhartigheid in ons lewens sal seëvier. Ek bid dat die Here my daarmee sal help. ~ Wilna

“Kinders is ’n wonderlike geskenk van die Here, hulle kom direk uit die Here se hand. Kinders in ’n huis maak dit vol vreugde, dit maak ouerharte vol blydskap! Hoe gelukkig is elke pa en ma en wie se huis die vrolikheid van kinderstemme ken!” (Ps. 127:3-5, Die Boodskap) Hierdie teks het sommer weer my hart geroer en warm gemaak van dankbaarheid teenoor die Here vir die voorreg wat ek het om die vrolikheid van kinderstemme in my huis te ken. Al is hulle nou groot, hou ek steeds aan om vir hulle te bid en hoop ek steeds om ’n goeie ma en vriendin te wees wat vir hulle ’n voorbeeld kan stel van toewyding en deugsaamheid.  ~ Wilna

“Moenie jou tyd mors nie. Maak die beste gebruik van elke geleentheid wat jy kry.” (Ef. 5:16) Toe ek hierdie teks vanoggend lees, het ek gewonder waarmee ek dalk vandag my tyd sou mors. Dalk met onnodige getob oor dinge? Dalk met te veel kletspraatjies of skinder? Dalk met te veel rondsit. Dalk met te veel facebook? Ek het verder gewonder hoe ek die tyd tot my beskikking die beste kan benut. Dalk moet ek bietjie beter beplan, dalk moet ek eerder prioriteit gee aan dit wat werklik belangrik is en nie net dit wat dringend is nie. Ek dink ook dit sal ’n goeie idee wees om tyd te maak om iets vir iemand anders te doen, om bietjie by iemand stil te staan en werklik belang te stel in sy wel en weë, te luister na wat hy te sê het. Dit sal beslis ook ’n goeie idee wees om iets lekkers te doen en die lewe te geniet. Ek wil die beste gebruik maak van vandag. ~ Wilna

“... I’ll give you a long life, give you a long drink of salvation.” (Ps. 91:15, the Message) Die Bybel sê dat elkeen wat die Naam van die Here aanroep gered sal word, niemand sal teleurgestel word nie, want die Here seën almal wat Hom aanroep (lees Rom 10:10-13) As jy jou lewe vir die Here gee en jou hart vir Hom oopmaak, sal Hy inkom en saam met jou ’n feesmaal hou (lees Openb. 3:20), sal Hy jou ontvang soos ’n eregas, vir jou ’n feestafel dek en jou oorlaai met sy goedheid, liefde en hartlikheid. (Lees Ps. 23:5) As jy jou geloof en vertroue in Hom plaas, sal Hy vir jou die ewige lewe gee en jou lewensbeker tot oorlopens toe volmaak. As jy vir Hom kies, sal jy vir altyd drink uit die fontein van Sy redding ... a long drink of salvation. ~ Wilna

“Word wakker, jy wat slaap en staan op uit die dood; en Christus sal jou lewe verlig.” ( Ef. 5:14) Die koms van Jesus het die duisternis, die donker van die sonde kom verdryf. Aan die kruis het Hy die prys vir alle sonde betaal, ook myne en joune, ook dié wat ons nog vandag en môre gaan doen. Jesus het as Lig na die wêreld toe gekom om aan te kondig dat dit dag geword het vir ons. Dit is tyd om wakker te word en Hom te sien en te erken dat Hy God en Verlosser is.  Ons kan opstaan, die Lig verwelkom en die lewe wat voor ons lê met oorgawe geniet. ~ Wilna

“... mense wie se denke en dade in die greep van die Heilige Gees vasgevang is, ken die ware lewe en vrede.” (Rom 8:6, Die Boodskap) Ek wil vandag die Heilige Gees toelaat om my dade en gedagtes oor te neem, sodat ek meer positief kan wees, vriendeliker kan wees, groter wysheid kan hê, meer liefde en genade kan betoon, geduldiger en rustiger kan wees, meer tevrede kan wees. Ek wil dinge dink en doen wat vir God saak maak, wat vir Hom goed en reg is. Ek vra die Here om my gees en gedagtes nuut te maak sodat ek ’n sinvolle lewe kan lei en vrede kan hê.  ~ Wilna

Ek hoor nou die dag in ’n film dat ’n onderwyser aan sy klas sê dat hy hulle aan Dickens wil voorstel. Die kinders vra: maar waar is Dickens? As antwoord wys die onderwyser toe na ’n boek wat Dickens geskryf het. Dis mos wat ons ook kan doen om mense aan die Here voor te stel. Ons kan hulle verwys na dié boek wat Hy geskryf het en wat oor Hom gaan. Dié verhaal van Sy liefde en Sy genade wat ons wil red en aan ons ’n nuwe, ewige lewe wil skenk. Dié woorde van wysheid wat ons wil leer hoe om te lewe. Dié boek wat ons wil bemoedig en hoop gee in elke situasie. “Alles wat in die Bybel opgeteken is, is neergeskryf om ons te leer. Die Bybel versterk ons geloof en moedig ons aan.” (Rom 15:4, Die Boodskap) Soek na geleenthede om mense voor te stel aan die Skrywer van die Groot Boek. ~ Wilna

Ek sien vandag ’n groot bord langs die pad met ’n sjokolade advertensie. Dit sê: free the joy. Hulle reken seker dat as jy daai omhulsel van die sjokolade oopskeur gaan daar vreugde uitkom, as jy dit proe gaan dit sorg vir ’n glimlag. Ai, ek is só lief vir sjokolade en so ou blokkie sál  joy bring. Dit het my laat dink dat ons as Christene binne-in ons verpakking ook mos sulke blydskap en vreugde het, vreugde wat vrygelaat kan (en moet) word. Ons kan gerus meer glimlag, meer oorborrel van vreugde, meer uitbundig lag, meer pret veroorsaak waar ons kom. Ons hét vreugde binne-in ons wat die Here vir ons gee. “Die vrug van die  Gees, daarteenoor, is ... vreugde” (Gal 5:22) Ek het bietjie ge-google en sien toe dat die einste sjokolade mense ook “unwrap joy” en “share the joy” al as slagspreuke gebruik het. Nou ja, dis vandag my boodskap aan myself: unwrap, free en share dié joy wat van die Here af kom. ~ Wilna


“Met blydskap sal julle water skep uit die fonteine van redding.” (Jes. 12:3) Die redding wat Jesus uit sy genade aan elkeen van ons skenk is soos ’n fontein wat nooit ooit sal opdroog nie. Sy genade hou aan opborrel en ons kan elke dag ’n vars emmer daarvan skep. Die water uit dié fontein van redding kan jou vuil verlede wegwas en jou silwerskoon maak, dit kan jou genees, verfris, vernuwe en opkikker.  Kom drink vandag weer by die fontein van redding, skep die lewende water wat Jesus vir jou aanbied, proe ware blydskap en word vervul met diep dankbaarheid en vrede. ~ Wilna

Ons probeer baie keer om ’n hofsaak met die Here te voer. Dan sit ons Hom in die beskuldigde bank en stook Hom met vrae soos: Hoekom? Wanneer? Hoe? Hoe lank? Verduidelik dit en verduidelik dat ... ens. Ek dink dis heel menslik om dit te doen, maar ek besef ook ons is dan soos ’n byl wat die een wat hom vashou om te kap wil voorsê, of soos ’n saag wat dink hy weet meer as die een wat met hom saag, of soos ’n lat wat die een wil rondswaai wat hom wil gebruik, of soos ’n kierie wat dink hy kan op sy eie opstaan en loop, of soos ’n stuk klei wat vir die pottebakker wil verwyt oor wat hy gemaak het. (kyk Jes. 10:15, 29:16) Rom 9:20 sê: “Mens, wie is jy per slot van rekening dat jy met God wil redeneer?” Al wil ons, kan ons nie met Hom redeneer of vir Hom voorskryf nie. Al dink ons ons het alle rede en reg, God weet altyd beter, God is altyd in beheer, God weet wat Hy doen, God sien die groter prentjie waarvan ons niks weet nie. As jy dít kan erken en daarby kan berus, sal daar ’n groter vrede oor jou kom, sal daar ’n dieper tevredenheid in jou hart kom lê, sal jy jou saak teen Hom laat vaar en sê: “U is my lewe. Ek wil niks anders as U hê nie.” (Ps. 73:25, Die Boodskap) ~ Wilna

Ek het steeds bly dink oor die woord Hallelujah. Ek het gelees dat dit blykbaar ’n samestelling is van twee Hebreeuse woorde: Hallel en Jah. Jah is die verkorting van Jehovah, dié Naam van God wat sê dat Hy die groot, ewige, almagtige God is. Hallel beteken om te prys, om eer te betoon, om te juig, om lof te bring, om iemand groot te maak, om ’n ophef van iemand te maak, om ’n huldeblyk aan iemand te bring. Hallelujah beteken dus letterlik vertaal: “prys die Here”. Dit beteken: bring eer aan die ewige God, verhoog die Naam van die Almagtige, juig oor Sy grootheid, loof Hom vir wie Hy is, bring hulde aan Hom as God. Ons het rede om sê: “ ... nothing on my tongue but Hallelujah!” “... maar óns, ons prys die Here, nou en vir altyd! Prys die Here!” (Ps. 115:18) ~ Wilna

“And even though it all went wrong, I’ll stand before the Lord of song, with nothing on my tongue but Hallelujah.” So gaan die woorde van daardie bekende Hallelujah-liedjie van Leonard  Cohen. Ek wil myself ook voorneem om ten spyte van omstandighede, al gaan alles verkeerd, al lyk dinge donker, steeds die Here te prys, Sy Naam groot te maak, net Hallelujah op my lippe te hê. Deur my lofprysing bely ek dat Hy almagtig, ewig en in beheer is.  Deur my lofprysing gee ek erkenning dat Hy bewus is van my omstandighede, dat Hy steeds langs my staan, dat Hy my deurdra, dat Hy my regop hou. Deur my lofprysing verkondig ek dat Hy sal voorsien, dat Hy sal uitkoms gee, dat Hy alles ten goede sal laat meewerk. So het Paulus en Silas in die tronk, al was hulle amper doodgeslaan, Hallelujah op hulle lippe gehad en die tronkdeure het oopgegaan (lees Hand 4:25-26). So het Habakuk bly jubel, al was tye onseker en al het uitkoms onmoontlik gelyk en die Here het vir hom krag gegee (lees Hab. 3:17-19). So het Jona, terwyl hy in die diep, donker golwe was ’n loflied gesing en bely dat hulp net van die Here af kom en die Here het tot sy redding gekom (lees Jona 2:7-10). “Prys die Here! Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!” (Ps. 106:1) ~ Wilna

Ek hou baie daarvan om Sudoku’s  te doen en ek verkies dat hulle lekker moeilik moet wees! Baie keer dan dink ek om ’n Sudoku op te los is soos om deur die lewe te gaan. Jy krap kop, dink dié kant toe en dáárdie kant toe, oorweeg al die moontlikhede en heel dikwels, net voordat jy moed opgee en dink dinge gaan nie uitwerk nie, kom één dingetjie reg en al die res val in plek en skielik werk alles uit. Ander kere maak mens miskien ’n ou foutjie en is jy gereed om handdoek in te gooi, ’n streep deur alles te trek; as jy egter so ’n paar stappe agteruitgaan en hier en daar ietsie uitvee en oordoen, behaal jy tog uiteindelik sukses.... selfs al moet mens by geleentheid álles uitvee en oor begin. Dit gebeur soms dat mens regtig vas is en geen oplossing meer sien nie en dan loer jy agterin die boekie by die antwoorde om ’n wenk te kry – in Sudoku is dit ’n skande, maar in die lewe is dit wysheid om raad en hulp in te win wanneer jy voel jy is teen ’n muur en jy weet nie meer watter kant toe nie. Moenie moed opgee met die lewe nie, die lig sál weer deurbreek, al lyk dinge hoe donker. ~ Wilna

“Jy sal ’n stem hoor sê:  Hier is die regte pad. Draai om en loop hierlangs.” (Jes. 30:21) Vir baie Christene is dit een van die belangrikste, maar moeilikste dinge om die Here se stem te hoor. Ons wil hoor wat Hy sê wanneer ons keuses moet maak, wanneer ons by doodloopstrate kom, wanneer ons bemoediging of aanmoediging nodig het; ons wil hoor wat Hy van ons verwag in lewenssituasies, wat Sy opdragte en roeping vir ons is.  Die Here praat met ons deur die Woord, deur prediking, deur mede-Christene, maar in die meeste gevalle praat die Here maar net stilweg met ons deur die stem van ons gewete – daardie sagte, klein stemmetjie in ons binnekant wat vir ons die besef gee van wat reg en verkeerd is. God se Gees woon in ons en sê vir ons gees wat die Here wil hê dat ons moet doen.  Sodoende word ons verstand verlig en ons hart gewillig om Sy stem te hoor en te volg en te gehoorsaam. Word stil en luister na die stem van jou Herder wat jou roep. Volg Hom en vind vrede in jou gemoed. ~ Wilna

Een van die maniere waarop ons die Here se stem kan hoor en Sy wil vir ons lewens kan onderskei, is deur Sy geskrewe Woord, die Bybel. Die meeste van ons het sommer ’n paar Bybels is die huis - verskillende tipes en verskillende vertalings. Jak 1:25 sê as ons ons verdiep in Sy Woord, daarna luister en doen wat dit sê, kan ons seën verwag op dit wat ons doen. Om jou te verdiep in die Woord beteken dat jy tyd moet spandeer daarmee, dit moet lees, oordink, bestudeer, memoriseer en in jou hart bêre. Dit beteken dat jy jou daarin moet verlustig, vreugde daarin moet vind en moet verlang en uitsien om daarmee besig te wees. Om jou te verdiep in die Woord beteken dat jy die inhoud onvoorwaardelik moet glo en jou lewe daarop moet bou. “Elkeen wat na My woorde luister en daarvolgens handel, is soos ’n verstandige persoon wie se huis op soliede rots gebou is.” (Matt. 7:24) ~ Wilna

Ons het so pas aan die einde gekom van ’n wonderlike, inspirerende, treetjie-vir-treetjie Bybelstudie-reis deur Romeine. Wat vir my uitstaan in Romeine is dat die Evangelie so duidelik maar tog ook so eenvoudig uitgelê word. Sonde word reguit aangespreek, maar met die goeie nuus dat die wonderlike genade en vergifnis van die Here veel groter as my stapel sonde is.  Jesus het alle mure kom afbreek tussen Jood en nie-Jood en ek, as wilde olyf, het die voorreg om op die mak olyf geënt te wees en deel te hê aan sy lewensap, omdat ek glo. Die sekerheid is daar dat niemand wat in Jesus glo, teleurgestel sal word nie en dat elkeen wat Sy Naam aanroep gered sal word. Romeine gee praktiese riglyne vir die alledaagse lewe, moedig ons aan tot eensgesindheid, nederigheid en Geesvervulde diensbaarheid. Boonop is daar ’n hele sak padkos om ons aan die gang te hou op die reis na die ewige lewe, bv.: God is vír my; niks kan my skei van Sy liefde nie; Jesus pleit op hierdie oomblik vir my by God; ek is meer as oorwinnaar; Hy sal alles ten goede laat meewerk vir my; God se oordeel is verby; niemand kan my aankla nie; ek is vry en vergewe. Ek kan nou elke dag hoopvol aanpak en lewe met die vooruitsig van ’n ewige toekoms saam met Jesus! ~ Wilna

Ek lees in Matt. 28:16 die volgende: “Die elf dissipels het na Galilea toe gegaan na die berg waarheen Jesus hulle beveel het om te gaan. Toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid, hoewel party getwyfel het.” Ek is eintlik heel verbaas om te lees dat selfs van Jesus se getroue volgelinge,  die elf dissipels, op ’n punt gekom het waar hulle getwyfel het. Het hulle dalk getwyfel of dit werklik Jesus, die Messias was? Het hulle dalk getwyfel of Hy húlle werklik uitgekies het? Het hulle dalk getwyfel dat Hy waarlik God is? Het hulle dalk getwyfel dat Sy kruisdood ook vir húlle vryspraak en vergifnis bewerk het? Het hulle dalk getwyfel dat daar vir hulle ’n ewige toekoms wag? As hulle, wat saam met Jesus geleef het en al die wonderwerke, genesings en lering van Jesus eerstehands beleef het, kon twyfel, dan is dit seker nie so ongewoon dat ek en jy ook soms twyfel nie. Ek leer hieruit dat twyfel normaal is, maar dat ons nie by die twyfel moet bly stilstaan nie; werk daardeur, bid daardeur en weet dat twyfel dikwels ’n groeipunt in jou lewe kan wees, dat ’n dieper en vaster geloof die uiteinde kan wees. Ek leer hieruit dat ons ten spyte van ons twyfel kan en moet voortgaan om die Here te loof en te aanbid. Jesus sê: “Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.” (Joh. 20:29) ~ Wilna

Wat geloofsake aanbetref kan ons nie op ons gevoelens staatmaak nie. Ons emosies is altyd aan die verander, dit word bepaal deur omstandighede, deur hoe ander ons behandel, deur hoe ons alledaagse lewe verloop, deur wat ons verwagtinge van onsself en van die Here is. Ons moet egter by ’n punt kom waar ons nie gevoelens en emosies vertrou nie, maar ons geloof bou op waarheid en wysheid wat die Heilige Gees gee en wat ons vind in God se Woord. “Daar kom egter ’n tyd en dit het reeds aangebreek, wanneer die egte aanbidders die Vader in Gees en waarheid sal aanbid, want die Vader verkies dat die mense Hom só aanbid.” (Joh. 4:23) ~ Wilna

Leonard Cohen sing in sy liedjie “Suzanne” : “ ... and He spent a long time watching from His lonely wooden tower, and He new for certain only drowning men could see Him.” Dis nie ’n geestelike liedjie nie, maar hy sing beslis hier van Jesus. Die eensame houttoring verwys na die kruis, waar Jesus, van God verlate, gestry en gely en gesterf het vir die “drowning men” van hierdie wêreld. Dié drenkelinge wat weet dat hulle nie hulleself kan red nie, dat hulle ’n Verlosser nodig het. Jesus sê dat Hy gekom het om dié te soek en te red wat verlore is (Luk. 19:10) Hy het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars. (Mark 2:17) Hy het gekom vir die “men and women of doubtful reputation,” vir die moordenaars, die verloënaars, die swakkes, die verwerptes, die blindes, lammes, dié wat weet hoe afhanklik hulle van Hom is ... only drowning men could see Him. ~ Wilna

“Wees bly oor die wonderlike toekoms wat God vir julle beplan. Volhard in tye van swaarkry; moenie verslap in gebed nie.” (Rom 12:12, NLV) As kind van God is ek en jy verseker van ’n ewige, hemelse toekoms. Ons lewenspad daarheen is nie noodwendig glad en sonder voorvalle of nood of trauma nie. Ons moet egter volhard in ons geloof en die oog op die Here hou en vasgeanker wees in ons verhouding met Hom. Wanneer jy hulp en raad nodig het vir hierdie pad, bid en vra vir wysheid en uitkoms en weet dat alles volgens God se plan en wil, sal uitwerk. Wat Hy vir ons toekoms beplan is meer en groter en heerliker as enige iets waaraan ons kan dink of waarvan ons kan droom. Volhard – ’n wonderlike toekoms is aan die kom! ~ Wilna

“My mond gaan suiwer wysheid praat; wat ek gaan sê, sal van insig getuig, want ek hoor ’n woord wat my wysheid gee en terwyl ek op die lier speel, wil ek ’n geheimenis verklaar.” (Ps. 49:4-5) Toe ek hierdie lees het ek gewonder oor die verband tussen musiek wat tot eer van die Here gespeel word en die openbaring van Sy geheimenisse; die verband tussen musiek en om die stem van die Here te hoor en wysheid en insig te ontvang. Is dit met jou ook so dat wanneer jy ’n aanbiddingslied sing / luister / op ’n instrument speel, dat jou gedagtes soveel op die Here fokus dat jy só naby aan Hom voel, dat jy intens bewus raak van wie Hy is en wat Hy wil hê dat jy vir Hom moet doen? Is dit met jou ook so dat dit voel of jou hart en jou gedagtes “vrykom” wanneer jy besig is met geestelike musiek? Is dit met jou ook so dat geestelike musiek jou ligter laat voel en jou help om jou probleme in ’n ander lig te sien? Dit het vir Dawid gewerk, dit kan vir ons ook werk: “I solve life’s riddle with the help of a harp.” (Ps. 49:4, The Message) ~ Wilna

Ek lees in Eksodus 5 die gedeelte waar Moses en Aaron toestemming by die Farao vra dat die Israeliete ’n fees tot eer van die Here kan gaan vier. Sy skokkende antwoord is dat hulle dit nie mag doen nie, omdat dit hulle van hulle slawe-werk sal weghou. Om te verseker dat hulle beslis nie tyd en energie sal hê vir ’n fees en offers aan God nie, word hulle werklas aansienlik verhoog. Hulle moet nou sommer self die strooi gaan bymekaarmaak om die bakstene te maak en boonop moet hulle nog steeds dieselfde hoeveelheid bakstene per dag produseer. Wanneer hulle nie die teikens haal nie, word hulle geslaan en as lui uitgeskel. Ai, ek moet sê, dit klink vir my so bekend. Is dit nie wat met baie van ons ook gebeur nie? Die baas word ’n slawedrywer wat al hoe meer produksie verwag, wat al hoe meer verantwoordelikhede op die skouers van die werkers laai, met al hoe minder hulp tot hulle beskikking en selfs al hoe minder beloning.  “Die werk moet vir die manne so swaar wees en hulle so besig hou ...” (Eks 5:9) Ons werksdruk word al hoe groter en dit ten koste van ons gesondheid, ons gesinne en veral ten koste van ons verhouding met die Here. Dit is nie ’n nuwe probleem nie, maar ek dink ons moet nuwe prioriteite bepaal, nuwe perke stel, nuwe onderskeidingsvermoë aan die dag lê, sodat die Here steeds eerste plek in ons lewens sal hê, sodat ons tyd opsy kan sit vir spesiale tye saam met Hom. Sterkte vir jou werkweek en die besluite wat jy moet neem! ~ Wilna

Vandag is ek net so onder die indruk van alles wat die Here vir my is en beteken en doen. Ek besef dat alles ’n gawe uit Sy hand is. Ek erken dat niks wat ek is en het en kan doen uit my eie krag is nie. Ek wil nie soos die 9 melaatse ouens wees wat dít wat die Here vir my doen sommer as vanselfsprekend aanneem nie, ek wil omdraai, terug loop en sê: dankie Here! “Een van die mans was so bly daaroor dat hy dadelik omgedraai het. Hy het hardop begin bid en God se Naam grootgemaak. Die man het tot by Jesus gehardloop, voor Hom in die stof neergeval en vir Hom dankie gesê.” (Luk. 17:15-16, Die Boodskap) Ek wil vandag ’n dankbaarheid-klip neersit en sê: Eben-Haeser, tot so vêr het die Here my gehelp, dankie Here! ~ Wilna

As jy dalk op ’n punt in jou lewe is waar jy nie weet wat om verder te doen, wat die volgende stap moet wees, hoe jy moet optree of wat jy moet besluit nie, vra God in ’n eenvoudige gebed om vir jou wysheid te gee. Hy sál dit gee. Maak Hom deel van elke stukkie van jou lewe, praat met Hom oor keuses wat jy moet maak. Of jy moet besluit oor ’n paar skoene wat jy moet koop, oor wat jy vir aandete moet maak of oor hoe jy ’n sake transaksie moet benader of ’n vergadering moet toespreek, vra Hóm vir wysheid en insig. Ook as jy wysheid kort om geestelike sake te verstaan en uit te pluis, vra Hom en Hy sal jou die wysheid gee om dit uit te lê. Hy het al die wysheid en wil hê dat jy Hom in elke situasie, hoe eenvoudig ook al, sal raadpleeg. “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid en Hy sal dit aan hom gee.” (Jak 1:5) Mag jy die wysheid ontvang wat jy vandag nodig het. ~ Wilna

Toe ek 1 Kor. 6:12-20 lees, het ek maar net weer besef dat Christenskap nie dieselfde is as godsdienstigheid nie. Vir my gaan Christenskap nie oor speletjies, goetertjies en praatjies nie, nie oor wonderwerke en groot dinge wat gebeur nie, dit gaan nie oor wette en nimmereindigende reëls nie. Christenskap gaan oor ’n verhouding met Jesus, ’n eenvoudige, opregte liefdesverhouding met Hom. Dit gaan oor ’n totale oorgawe aan Hom. My verhouding met Jesus het begin toe Hy my gekoop en met Sy lewe betaal het en my silwerskoon gewas het. Die verhouding bestaan daarin dat ek nou aan Hom behoort en my liggaam as blyplek vir die Heilige Gees beskikbaar stel en dat ek Hóm al die reg in my lewe gee. Die verhouding groei en verdiep deurdat ek die Woord bestudeer, deurdat ek gehoorsaam is, deurdat ek tyd met die Here en saam met ander gelowiges spandeer. “Ons verhouding is nie soos die een tussen ’n werker en sy baas nie. Die werker ken mos normaalweg nie die baas persoonlik so goed dat hy alles weet wat die baas dink of beplan nie. Nee, ons verhouding is baie anders. Ons is soos vriende onder mekaar.” (Joh. 15:15, Die Boodskap) ~ Wilna


Met Vadersdag laas Sondag het ek nogal daaraan gedink dat daar baie pa’s is wat te kort skiet as dit kom by versorging van hulle kinders, om hulle veiligheid te verseker, om dáár te wees vir hulle, om hulle onvoorwaardelik lief te hê, ens. ens. Dan is daar ook nog ’n klomp van ons wat nie meer ’n pa het wat hierdie dinge vir jou kan doen nie. Toe lees ek Ps 91:14-16 in die Message oor die volmaakte Pa, dié een wat altyd daar is, wat nooit teleurstel nie, wat sy beloftes sal waarmaak, wat álles vir my en jou kan wees. Hou vas aan Hom, ken Hom, vertrou op Hom, vier fees saam met Hóm. Hier is Sy onfeilbare belofte:  “If you'll hold on to Me for dear life," says God, "I'll get you out of any trouble. I'll give you the best of care if you'll only get to know and trust me. Call me and I'll answer, be at your side in bad times; I'll rescue you, then throw you a party. I'll give you a long life, give you a long drink of salvation!" ~ Wilna

Op hierdie jeugdag dra ek die jongelinge in my huis op aan die Here en bid vir Sy seën oor hulle en hulle toekoms en hulle nageslag. Ek bid dat hulle altyd aan die Here sal behoort en aan Hom toegewy sal lewe en Sy pad sal stap. Ek bid dat hulle Sy Gees en Sy krag sal hê, dat hulle wortels in Sy liefde sal bly. Vir hulle en vir al die jongmense om ons bid ek dié seën uit Jes. 44:3-5 : “Ek sal My Gees uitgiet op jou kinders, my seën op jou nakomelinge. Hulle sal uitspruit soos gras in die veld, soos wilgerbome langs waterlope. Die een sê: Ek behoort aan die Here ..., die ander sal op sy hand skryf: die Here s’n.” ~ Wilna

As jy dalk bietjie swak en uitgeput voel, of voel jy kom nie bokant jou probleme uit nie, of die pad voor jou vernou ’n bietjie; as mense na jou kyk en daai “loser”- teken vir jou wys, of as jy self voel jy gaan nooit ’n wenner word nie, is hier vir jou bietjie medisyne uit die Woord om jou beter te laat voel, jou op te bou en jou gestel sterker te maak. Vat dit en glo dit: “Maar vir my gee U krag soos dié van ’n buffel, U laat my ’n oorwinningsfees vier.” (Ps. 92:11) ~ Wilna

“A righteous person lives on the basis of his integrity.” (Spreuke 20:7) Integriteit vra bestendigheid, onkreukbare eerlikheid en opregtheid. Dit spreek van sterk morele beginsels, getrouheid en deugsaamheid. Dit eis dat jy altyd volgens dieselfde stel waardes sal optree en oordeel. As Christen behoort ek te lewe op grond van my integriteit. As Christen moet ek volgens hoër standaarde as die res van die wêreld leef. Ek moet bereid wees om die ekstra myl te loop, die ander wang te draai, ander hoër te ag as myself, altyd die waarheid praat, al kos dit wat. Ek moet altyd die regte dinge kies en doen, al kyk niemand nie. Jesus het vir ons die standaard vir integriteit gestel en ons moet dit navolg sodat ons weer vir die wêreld kan demonstreer hoe Jesus is. Ek moet myself maar weer in elke situasie afvra: wat sou Jesus doen? ~ Wilna

“Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.” (Fil. 1:6) Die Here weet waarvoor Hy elkeen van ons gemaak het en wat Hy vir ons beplan het. Hy ken die potensiaal wat daar in ons is, daarom is Hy elke dag besig om ons te vorm soos ’n pottebakker klei vorm om die beste en mooiste in ons na vore te bring. Daarom is Hy elke dag weer bereid om ons sonde te vergewe en Sy genade oor ons uit te giet. Daarom gee Hy elke dag weer vir ons Sy Gees om ons te lei en te leer en te help. God kyk nie na jou net soos jy nou is nie, maar sien jou soos wat jy kan word. Hy het die goeie werk in ons begin en sal dit klaarmaak. Ek sien vandag uit daarna om meer te word soos God my wil hê. ~ Wilna


Ef. 6:14-15 noem vryspraak as die borsharnas van ons geestelike wapenrusting wat ons elke dag moet aantrek. Die wete dat God my vergewe het en Jesus die prys vir my oortredings betaal het, moet elke dag my hart en my wese en my lewe beskerm soos ’n borsharnas dit sou doen. Die sekerheid dat die Here my goedkeur en tevrede is met my, moet soos ’n kledingstuk die heeldag aan my bly sit. Wanneer ek my borsharnas aantrek, gee die vreugde om ’n vriend van God te wees vir my selfvertroue en ’n positiewe gesindheid vir my dag. ~ Wilna

“Verder my liewe broers en susters, wees bly oor alles wat die Here vir julle beteken.” (Fil. 3:1, NLV) Vandag wil ek bly wees oor wie die Here is en oor dít wat Hy vir my beteken. Ek het toe sommer so langs die alfabet afgedink: Hy is Alomteenwoordig, altyd by my; Betroubaar, ek kan Hom vertrou en glo; Christus, die gestuurde en gesalfde, enigste Seun van God; Dierbare vriend, sy hand is altyd uitgestrek om my te help; Ewige Vader; Fenomenaal, daar is niemand soos Hy nie; Goed en vol Genade vir my; Hy gee my Hoop al gebeur wat ook al om my; Immanuel, God by my; Jahweh Jireh, God wat in alles voorsien; Koning van my hart en lewe; Liefdevolle versorger; Middelaar; Naby; Onverganklik, gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid; Perfek, daar is niemand so volmaak soos Hy nie; Regverdige; Skild wat my beskerm teen aanslae en toemaak teen pyle wat teen my afgevuur word; Toevlug en Trooster; Uniek, daar is niemand soos Hy; Verlosser wat my vrymaak van sonde, swakheid en verlede; Weg en Waarheid. Ek hoop jy kan vandag saam met my bly wees ...  ~ Wilna

Wanneer jy bang, onseker, magteloos of alleen voel, kan jy met vrymoedigheid op die Rots, Jesus Christus kom staan. Daar kan jy vas en stewig staan, daar kan jy veilig voel en sekerheid en kalmte ervaar, al skud die wêreld om jou, al rol probleme en gevare na jou toe aan soos golwe. Ps 27:5 sê: Op die dag van gevaar sal die Here my hoog op ’n rots laat staan. Die staanplek by Hom is hoog en verwyder van die druk om jou, daarom is dit die ideale plek om weer perspektief en wysheid te kry. “Die Here het verder gesê: “Maar hier by My is ’n plek waar jy op die rots kan staan.” (Eks 33:21) ~ Wilna

“In die kraal sal hy sy skape bymekaarmaak. Hy sal hulle op hulle name roep en hulle sal kom. Dan sal hy hulle uit die kraal lei. Hy sal voor hulle uitstap weiveld toe en hulle sal agternakom, want hulle ken sy stem ... Ek is vir Christene wat ’n herder vir sy skape is. Wat Ek bedoel is dit: die herder is bereid om alles te gee ter wille van sy skape, ook sy lewe. Hy sal liewer self doodgaan as dat hy sal toelaat dat sy skape iets oorkom.” (Joh. 10:3,4,11, Die Boodskap) Die Here is my Herder, ek kom niks kort nie! ~ Wilna

Ons was die naweek op ’n skaapplaas in die Vrystaat waar hulle met so 1000 skape boer. Dit was vir my interessant hoedat elke skaap ’n anderste blêr het. Sommige mêêê so uitgerek, ander se mê het so ’n vibrasie in, ander mê op ’n hoë noot, so hier en daar mê een bietjie vals ook. Die kleintjies hou so aan met mê-mê-mê soos ’n regte baba. Dan is daar dié wat baah blêr – so diep, kortaf baah, of so ’n manlike ba, ’n ba met gesag, ’n ba wat sê moenie met my moeilikheid soek nie. Die klomp skape het my laat dink daaraan dat die Here dikwels na ons as sy skape verwys waarvan Hy die Herder is. As die hele klomp skape so saam begin blêr is dit nogals ’n temerige, treurige gesanik. Ek dink dis hoe ons partykeer vir die Here moet klink wanneer ons so aanhoudend mor en kla en neul, elkeen op sy eie trant. Dis seker hoekom die Bybel sê dat ons eensgesind uit een mond lof aan God moet bring (Rom 15:6). Lof is altyd ’n mooi, eenvormige klank; dit sal ’n aanvaarbare offer voor God wees en lieflik op Sy oor val. Kom ons loof meer en mor bietjie minder. “... take joy my King in what You hear, let it be a sweet, sweet sound in your ear.” ~ Wilna

“Our shattered dreams are never random. They are always a piece in a larger puzzle, a chapter in a larger story,” so sê Larry Crabb in die boek Shattered Dreams. Ons beleef gewoonlik die pyn en hartseer van dinge wat nie uitwerk in ons lewens as ’n tragedie. Dis egter nie nét ’n tragedie nie, want vir ’n Christen bring dit altyd ’n groei-pad, ’n nader beweeg aan die Here, ’n dieper kennis van Sy liefde en versorging, ’n wonderlike ontdekking van die groter prentjie,  ’n groter vreugde wanneer ons beleef dat Hy waarlik alles ten goede laat meewerk.  “Ons kan nou van een saak seker wees: God gebruik elke ding wat in ons lewe gebeur om Sy doel te bereik. Vir ons wat vir God liefhet, werk alles tot ons beswil uit.” (Rom 8:28, Die Boodskap) ~ Wilna

“In the midst of the sorrows is consolation, in the midst of the darkness is light, in the midst of the despair is hope ...” (Henry Nouwen)  Die uitdrukking wat sê dat elke donker wolk ’n silwer randjie het, hou beslis waarheid in. Te midde van wanhoop, troosteloosheid, twyfel en desperaatheid is daar altyd weer ’n flikkering van hoop, ’n verwagting en vertroue dat dinge beter sal word. Te midde van radeloosheid en terneergedruktheid het ons steeds God se krag in ons en kan ons hoopvol uitroep: “Troubles are round us on every side, but we are not shut in; things are hard for us, but we see a way out of them.” ( 2 Kor 4:8) ~ Wilna

“Neem in ag dat God vol goedheid, maar terselfdertyd ook streng is. Hy is streng teenoor hulle wat van Hom weggedwaal het, maar vol goedheid teenoor jou – mits jy op sy goedheid bly staatmaak.” (Rom 11:22, NLV) Ons kan en mag nooit God se genade en ons verlossing as vanselfsprekend aanvaar nie. Ons moenie Sy goedheid vertrap of goedkoop maak of oorvereenvoudig nie. Ons moenie op onsself roem of hoogmoedig en meewarig wees omdat ons gered is en God se genade ontvang het nie. Hou aan om nét op Jesus staat te maak, plaas jou vertroue honderd persent op Hom. “Moenie dink jy is wonderlik nie, maar wees liewer baie klein v oor God.” (Rom 11:20) ~ Wilna

“As jy  jou goud as nikswerd beskou, sal die Almagtige jou goud wees, jou skat aan silwer. Dan sal jy jou in die Almagtige verlustig en jou weer tot God wend.” (Job 22:23-26) Wat ’n herinnering om niks in hierdie lewe belangriker te ag as die Here nie! ’n Herinnering om níks in Sy plek te stel nie, om nie my goed, my geld, my mense, my werk, my ideale, my vermoëns te verafgod nie, om my nie te verlustig in aarde dinge en eie begeertes voorop te stel nie. ’n Herinnering om soos Paulus sê: “... ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here te ken, oortref alles in waarde.” (Fil. 3:8) Laat die Almagtige jou goud wees. ~ Wilna

Voel jy dalk partykeer soos daardie spreekwoordelike swart skaap? Niemand hou van jou nie, jy voel onbelangrik, nutteloos, mense kyk op jou neer, spot jou, verafsku jou, misbruik jou. Jy word oor die hoof gesien, verag, misken en verwerp.  Dalk word jy sleg behandel, selfs geslaan of op gespoeg. Selfs jou familie en vriende draai die rug op jou en gee nie om wat van jou word nie. Die troos wat daar vir jou is, is dat Jesus weet hoe jy voel. Volgens Jes. 53  het Hy self ook elkeen van daardie emosies beleef op Sy lydingspad en die waarheid daarvan is dat Hy ook elkeen van daardie emosies in jou plek na die kruis toe geneem het. Hy het daarvoor gely en betaal en ín Hom kan jy ’n nuwe skepsel wees, vry van dít wat ander van jou sê of van jou dink. “He took on his own shoulders the sin of the many, He took up the cause of all the black sheep.” (Jes. 53:12, Message) ~ Wilna


“Van bo af kom net goeie, ja volmaakte gawes.” (Jak 1:17 NLV) In Ps. 16:5 staan daar ook: “n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi.” God is goed en Hy wil jou seën met Sy goedheid en guns. Hy het vir jou geskenke van liefde, deernis en genade afgemeet en opsy gesit en wil dit vir jou gee. Moenie uitmis op die goedheid van die Here nie, maak jou hart en arms oop om Sy geskenke te aanvaar – dis vir jóú persoonlik bedoel. ~ Wilna

“Moenie sondig as jy kwaad word nie. Moenie tot die aand kwaad bly en die duiwel so ’n houvas gee nie.” (Ef. 4:26-27, NLV)  Ons almal sukkel maar een of ander tyd met kwaad-word en woede. Dit begin gewoonlik as ’n gevoel en vind spoedig uiting in harde woorde en onbeheersde dade. Dit ontstel jou, plaas jou onder druk, maak jou dalk skaam en dit gaan lê in die lyne van jou gesig. Hoe langer jy kwaad bly, hoe meer skade rig dit aan in verhoudings met dié om jou, in jou gebedslewe,  in jou gedagtewêreld en in jou gemoedstoestand en hoe groter maak jy die deur oop vir die duiwel om in te loer in jou siel. Dit sal goed wees om altyd ’n keuse te maak dat jou kwaad-word beperk en matig bly. Dit sal goed wees om altyd sake vinnig uit te praat, bitterheid en wrokke opsy te skuif en nie jou dag kwaad af te sluit nie. ~ Wilna

Ek het hierdie aanhaling van Eric Liddell gelees:  “Our broken lives are not lost or useless. God’s love is still working. He comes in an takes the calamity and uses it victoriously, working out His wonderful plan of love.” Dit voel dalk nie nou vir jou so nie, maar geen situasie kan té verlore en donker, of té groot gemors wees vir die Here om in te tree en uitkoms te bring nie. Dit mag dalk langer neem as wat jy gehoop het, dit mag dalk op ’n ander manier uitwerk as wat jy verwag het, maar onthou dat die Here jou nie sal los nie. Onthou dat die son weer sal skyn en dat die Here weer jou trane sal afdroog en jou smarte met vreugde sal vervang. “Kyk maar: iemand kan nog een aand hartseer wees en huil, maar die volgende oggend is hy vol blydskap. Dis net die Here wat so iets laat gebeur.” (Ps. 30:6, Die Boodskap) ~ Wilna

“Sal die Regter van die hele aarde dan nie reg laat geskied nie?” (Gen. 18:25) Daar sal altyd onbeantwoorde vrae in ons lewens opduik. Hoekom en waarom en hoekom ek? Wanneer Here? Waarheen nou? Ons sal almal een of ander tyd in ’n situasie kom waar ons sal wil sê: die lewe is onregverdig. Ons God en Vader, ons Rots en Skuilplek, die soewereine Regter van die hele aarde bly egter in beheer. Wanneer dit vrae-tyd in jou lewe is, onthou dat Hý nie beperk is deur ons gebrekkige verstaan van die lewe of van ons kortsigtige perspektief of ons gebrek aan geloof nie; onthou dat Hý langs jou stap en jou ondersteun en met jou op pad is om Sy doel met jou lewe te bereik. Vertrou Hom. Hy is die Regter van die hele aarde. ~ Wilna

“As julle verkeerde dinge doen, hou op daarmee. Hou op om aan die eenkant God te wil dien en aan die ander kant nog met julle sondes aan te gaan. Gee net vir God plek in julle lewe.” (Jak 4:7, Die Boodskap) Ek vat vandag hierdie as ’n waarskuwing om nie gemaklik te raak en verkeerde dinge geleidelik ’n vatplek in my lewe te gee nie. Verkeerde gedagtes, skewe woorde, opvlieënde gedrag, kritiese ingesteldheid, jaloerse neigings, selfsugtige begeertes is alles dinge wat ek moet teenstaan, moet beveg en uitroei sodat ek net vir God plek kan gee in my lewe. Jesus het die owerspelige vrou nie veroordeel of gestraf vir haar sonde nie, maar wel vir haar gesê: “Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.” (Joh. 8:11) Ek glo dis wat Hy van ons ook verwag. ~ Wilna

“Wie is ’n God soos U? U vergewe sonde, U straf nie die sonde van dié wat uit U volk oorgebly het nie. U bly nie vir altyd kwaad nie. U betoon liefde. Hy sal ons weer genade betoon. Hy sal ons sonde tot niet maak. U sal al hulle sondes in die diepsee gooi.” (Miga 7:18) Ja, wie is ’n God soos ons God? Sy genade hou nooit op nie, Hy sit elke dag weer ’n vars porsie daarvan voor jou neer om te aanvaar of te verwerp. Sy genade is so groot dat Hy nie net ons sonde vergewe nie, Hy vat dit ook weg én Hy vergeet daarvan. Geen sonde wat jy ooit gedoen het of kan doen, is té groot dat Sy genade dit nie sal kan bedek en uitvee nie. Nou hoef jy dit net te bely en dan kan jy ook nou maar eens en vir altyd van daai ou sonde vergeet! ~ Wilna

So baie van ons kom dikwels in ’n situasie van groot onsekerheid, van twyfel, van hartseer, van verwerping of mismoedigheid, van berge probleme of donker drukgange. Ons kan egter vandag hierdie sekerheid in ons harte en gedagtes ingraveer: die slegte tye en swaarkry sal weer verbygaan. Die Here sál weer uitkoms en verlossing vir jou laat deurbreek.  “ ... sal Hy weer lig bring in my lewe, sal ek ondervind dat Hy die oorwinning gee” (Miga 7:9) ~ Wilna

“Ek wil die Here loof. Met alles in my wil ek die Here se grootheid prys.” (Ps. 103:1) Dit is mos sommer ’n natuurlike ingesteldheid by ons om die Here te wil dank en prys vir alles wat Hy vir ons gee, vir alles wat so mooi uitwerk in ons lewens, vir al die geskenke wat ons so mildelik uit Sy hand ontvang. Wanneer dinge egter nie so voorspoedig loop nie en ons steeds in finansiële moeilikheid is, of nog steeds siek bly, steeds nie ’n werk kry nie, steeds in ’n donker tonnel inkyk, steeds hierdie berge uitdagings voor ons sien,  steeds geen voelbare seën beleef nie, dan moet ons met ’n bo-natuurlike ingesteldheid uitbars in lofprysing. So ’n lofprysing is ’n teken van geloofsvertroue, van ’n sekere wete dat God wel sal voorsien, dat daar wel ’n uitkoms sal wees, dat Hy wel in beheer is. Dan kan ons soos Habakuk sing: “... nogtans sal ek in my Here jubel, sal ek juig in God, my Redder.” (Hab. 3:18) ~ Wilna

Ek het nogal agtergekom dat eenvoudige dinge vir mense meer vreugde, groter opwinding en dieper vrede verskaf, terwyl komplekse sake jou uitput, angstig maak en jou vreugde blokkeer. Dit is dieselfde met godsdienstige sake. Dit is altyd beter om terug te gaan na die basiese dinge en op ’n eenvoudige manier te glo en God te aanbid, eerder as om verstrengel te raak in allerlei hogere, teologiese kwessies en onder-onsies. Benader die lewe met ’n kinderlike geloof en vertroue en ’n kinderlike gesindheid van liefde, afhanklikheid en vergewensgesindheid. Ek dink dít is wat die Here van ons vra in Matt. 18:2 – “As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie. Wie homself gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemel.” ~ Wilna

“U Naam is soos balsem uitgegiet,” – dis die refrein van ’n lied wat ons nou die dag in die kerk gesing het. Is dit nie pragtig gestel nie?  Daar ís krag in die Naam van Jesus. Waar Jesus se Naam aangeroep en uitgeroep word, volg redding, genesing, vrede, vryheid, oorwinning en lewe. Waar Jesus se Naam geëer en geprys, bely en vertrou word, word Sy krag en teenwoordigheid uitgegiet soos blasemolie met ’n aangename geur, soos salf wat droefheid versag, pyn verlig en wonde genees, soos salwingsolie wat ons reinig en vir God afsonder. Eer vandag sy Naam, roem Sy Naam, prys Sy Naam, bely Sy Naam, besing Sy Naam, vertrou Sy Naam. ~ Wilna

Aan die einde Goeie Vrydag besef ek dat daar op daardie dag van Jesus se kruisiging ’n hele paar mense was wat tot die oortuiging moes kom dat Hy waarlik die Seun van God is, waarlik die Verlosser is, waarlik die Koning is. Mense wat dit nie vroeër sou herken nie, mense wat vroeër die rug op Hom gedraai het, Hom gespot het, Hom verraai het, Hom veroordeel het.  Ek dink bv. aan Judas wat met spyt besef het dat hy ’n fout gemaak het om Jesus te verraai. “Ek het gesondig. Ek het ’n onskuldige man verraai,” bely hy in Matt. 27:4. Vir hom is dit egter te laat en hy het homself gaan ophang. Ek dink ook aan Malgus wie se oor Petrus afgekap het toe die soldate Jesus in hegtenis kom neem het. Jesus het hom daar en dan aangeraak en genees (volgens Luk. 22:51) – ek glo dit het hom laat besef wie Jesus regtig is; dit moes eenvoudig die res van sy lewe verander het. Dan is daar Pilatus wat nie skuld in Jesus kon vind nie. “Wat is waarheid?” wil hy van Jesus weet – hy het sekerlik tóé alreeds besef dat Jesus waarlik die Koning is, die Weg, die Waarheid, die Lewe. Dan is daar Barabbas, ’n Joodse terroris (volgens Joh. 18:40, Die Boodskap) wie vrygelaat word toe die mense kon kies tussen hom en Jesus. Hy het direk beleef dat hy vrygekom het ten koste van die onskuldige Jesus. Jesus is ook in sý plek gestraf en gekruisig. Dit móés sy lewe verander het. Wat nog van Simon van Sirene? Hy is sommer deur die soldate uit die skare gegryp om te kom help dra aan Jesus se kruis (volgens Luk. 23:26). Hy moes letterlik saam met Jesus die kruispad stap. Hy moes die trane en die bloed en die pyn deel. Jesus se kruisiging kon hom nie onaangeraak gelaat het nie! Ek dink ook aan die misdadiger wat langs Jesus aan ’n kruis hang en na Hom uitroep vir genade. Hy kry by Jesus die versekering: “Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” (Luk. 23:43) Sy ontmoeting met Jesus was vir hom betyds! Dan is daar ook nog die offisier en sy soldate wat saam met hom voor die kruis was. Op die oomblik toe Jesus sterf en alles donker word en daar ’n aardbewing is en rotse uitmekaar bars, grafte oopgaan en dooies opstaan, kon hulle net stamel: “Hierdie Man was werklik die Seun van God.” (Matt. 27:54) Jesus se kruisiging het hulle tot geloof gebring. Ek dink ook aan die Hoëpriester Kajafas. Wat moes hy dink toe die drie verdieping hoë voorhangsel middeldeur skeur toe Jesus sterf? Nét hy was toegelaat om deur hierdie gordyn in die Allerheiligste van die tempel in te gaan, nét hy kon daar versoening gaan doen vir die volk se sondes. Nou was dit oop vir almal. Dit moes hom laat besef het dat Jesus die enigste, ware Hoëpriester is, wat eens en vir altyd Homself as offer gegee het vir die wêreld. (Heb 7:27) Ek hoop dit het sy lewe verander.
Wat het jý beleef by die kruis op hierdie Goeie Vrydag? Mag dit jou geloof versterk, mag dit vir jou sekerheid gee, mag dit jou vul met diep dankbaarheid, mag dit jou vir altyd verander.  ~ Wilna

“Smaak en sien dat die Here goed is.” (Ps. 34:9) Die aand voordat Jesus gekruisig is, het Hy brood en wyn met sy dissipels gedeel en gesê: “Dit is my liggaam, dit is vir julle. Gebruik dit tot my gedagtenis ... Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.” (1 Kor. 11:24) Op die vooraand van Paasfees gaan baie van ons weer só saam met medegelowiges brood eet en wyn drink. Wanneer jy dit fisies sien en proe, is dit ’n bewys dat God goed is en dat Hy sy liefde en verlossing vir jou aanbied. Wanneer jy dit openlik in jou mond sit is dit ’n verklaring dat jy in sy goedheid glo en sy verlossing aanvaar. Wanneer jy dit afsluk het jy die sekerheid dat jy Christus deel maak van jouself. Wanneer jy dit aangee vir die persoon langs jou is dit met die hoop dat hy ook sal smaak en sien dat die Here goed is.  ~ Wilna

Wanneer Jesus aan die kruis hang en sê: “Ek is dors,” (Joh. 19:28) beklemtoon dit vir my die intense lyding waardeur Hy moes gaan. Al was Hy ten volle God, was Hy ook ten volle mens en het Hy die vernedering, marteling, wonde en pyn fisies beleef. Ek probeer my indink hoe erg en traumaties dit moes wees om dié pad van smarte te stap. Hy het die nag vantevore in die tuin van Getsémané bely: “The sorrow in my heart is so great that it almost crushes Me.”  (Matt. 26:39). Hoewel Hy vooruit geweet het watter lyding vir Hom voorlê het Hy nie teruggedeins nie en was Hy bereid en gewillig om dit vir my en jou toe doen en die pad enduit te stap. “Hy het die pyn ervaar wat ons eintlik moes ervaar.” (Jes. 53:4) Dankie Jesus! ~ Wilna

By die Paasfees-kruis is daar beslis weer vir ons elkeen:
·
         afwassing van elke sonde van die verlede, hede en toekoms, met totale vergifnis uit God se hand
·
         sekerheid van die ewige lewe saam met God
·
         aanvaarding as kind van God, deel word van Sy familie en volk
·
         volkome vryheid en volmaakte oorwinning
·
         vernuwing van hart, gesindheid en lewensdoel
·
         genesing
·
         verligting van die laste wat ons moet dra

“Dit is volbring!” (Joh. 19:30)  ~ Wilna


“Jesus in my plek.” Dit is vir my die Evangelie in 4 woorde, Paasfees in een sin. Ek kan nie myself red nie, ek kan nie self van my sonde ontslae raak nie, ek kan nie self skoon kom van my verlede nie. Ek kan nie self in die regte verhouding met God kom nie. Ek kan nie self die pad vind hemel toe nie, ek kan nie self die ware lewe vind nie. Met Paasfees voor die deur kan ek opnuut in dankbaarheid uitbasuin: ek kan nie, maar Jesus kan! Hy het dit alles namens my en in my plek kom doen. “... God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.” (2 Kor. 5:21) ~ Wilna

“Eers as die Seun julle vrygemaak het, sal julle werklik vry wees.” (Joh. 8:36) As jy toelaat dat sorge, omstandighede of mense jou beheer, of dat jou gedagtes, gevoelens, gewoontes, verslawings jou beheer, kan jy nie werklik vry wees nie. Ware vryheid is net in Jesus te vinde. Dié vryheid is iets wat jy in geloof moet aanvaar en bely en uitleef. Iemand wat werklik vry is, is spontaan, nie bang nie, nie ingeperk deur omstandighede nie, nie verknog aan aardse dinge nie. Iemand wat werklik vry is sien die groter prentjie, kyk verby die tydelike dinge en het ’n ewigheidsperspektief. Is jý werklik vry? ~ Wilna

“Prayer opens the windows of heaven and touches the heart of God ... prayer is often the difference between confusion and clarity, hurt an healing, defeat and victory, and even between life and death.” (Joyce Meyer) Gebruik vandag jou voorreg om met God te praat deur gebed. Roep uit na Hom. Maak jou begeertes aan Hom bekend. Bespreek jou probleme met Hom. Huil by Hom. Hou aan daarmee sonder om moedeloos te word. Glo dat Hy bestaan en dat Hy jou gebed sal verhoor. “Daarom moet ons nie bang wees om tot God te bid nie, God wat op sy troon sit, God wat genadig is. Ons moet na Hom toe gaan sodat Hy jammer kan wees vir ons en genadig kan wees vir ons, en sodat Hy vir ons kan help wanneer ons Hom nodig het.” (Heb 4:16, Die Bybel vir Almal) ~ Wilna

“The Lord ... has given peace and rest to His people.” (1 Kron. 23:25) Die Here weet ons tempo is partykeer te vinnig, ons het te veel hooi op ons vurk, ons kan nie al die balle in die lug hou nie, ons dagboek is té lank vooruit vol, ons werklys té oorlaai. Hy verstaan dat ons aan die eise van die tyd en omstandighede blootgestel en onderwerp is. Hy weet ons verantwoordelikhede rus partykeer net té swaar op ons skouers en ons verpligtinge kry ons dikwels onder. Hy het altyd medelye met ons en daarom wil Hy hê dat ons gereeld ’n stil tydjie alleen saam met Hom deurbring sodat Hy ons weer kan vernuwe, verfris,  en verkwik. Mag jy vandag daardie rus en vrede in Sy teenwoordigheid vind. ~ Wilna

“... die oorvloed van die ryke laat hom onrustig slaap,” so lees ek in Pred. 5:11. Is dit nie dalk so dat hoe meer goeters ’n  mens het, hoe meer gekompliseerd is jou lewe nie? In ons lewe is dit dikwels waar dat meer beter is, dat ons jaag en werskaf en stoei om nóg  meer bymekaar te maak. Ons maak dinge vir onsself al meer gekompliseerd sodat ons op die ou einde moeg, sonder energie en onvergenoegd voel. Ek kies opnuut om af te skaal, eenvoudiger en stadiger te leef en meer te fokus op dié dinge wat werklik  belangrik is en ewigheidswaarde het. ~ Wilna

Mens lees op ’n klompie plekke in die Nuwe Testament van die “geheimenis van God”, die “geheimenis van die Evangelie”, die “geheimenis wat eeue en geslagte ’n geheim gebly het”.  ’n Geheim is iets wat slegs aan een of ’n paar persone bekend is, wat verborge is, duister is en waaroor daar nie gepraat word nie. Die geheim van die Evangelie is egter nou bekend en ons wil en mag nie meer daaroor stilbly nie.  “Die geheim is dit: Christus is vir almal, ook vir julle. Op Hom kan julle met vertroue staatmaak. Hy sal vir julle die wonderlike dinge gee wat ’n mense net by God kan kry.” (Kol 1:27, Die Boodskap) ... ja, jy mag maar hierdie geheim gaan verklap! ~ Wilna

“... be humble toward one another, always considering others better than yourselves.” (Fil. 2:3) Dis mos nou ’n moeilike opdrag, of hoe? Hier is ’n paar idees om dit reg te kry:
·
         Dink bietjie minder van en aan jouself en meer van ander
·
         Vergewe vinnig en gereeld
·
         Moenie gou aanstoot neem nie
·
         Wees vrygewig met genade en geduld
·
         Help jou medemens
·
         Erken en respekteer die reg van ander om van jou te verskil
·
         Moenie dat eerste wees, voor staan, die beste wees, veroorsaak dat jy op ander trap nie
·
         ... put on the apron of humility, to serve one another (1 Pet. 5:5) ~ Wilna


“U is my rots en my vesting. Lei my, wees vir my ’n gids ter wille van U Naam.” (Ps. 31:4 NLV) Ek het mos nou niks meer as dit nodig vir die dag nie. Ek kan die sekerheid hê dat ek nie sal struikel, val of moedeloos raak nie, want ek staan op ’n Rots. Ek het ’n lekker knus en veilige wegkruipplek as dinge moeilik of oorweldigend raak. Ek het ’n Gids wat my alles sal wys wat die moeite werd is om van te weet, wat my sal neem na die wonderlikste plekke op die mooiste en vinnigste paaie.  Die Here sál dit vir my en jou wees, dis wie Hy is. ~ Wilna

“Buig laag voor die Here. Sê dat jy jou hele lewe net vir Hom wil leef. God sal jou optel, daar waar jy in oorgawe voor Hom buig en jou op ’n ereplek regop, kop omhoog, langs Hom laat staan.” (Jak 4:1, Die Boodskap) Moenie uitstel nie. Aanvaar Jesus as die middelpunt van jou lewe. Moenie net jou hart vir Hom gee nie, gee alles. Laat Hom toe om die bestuurder van jou lewenskarretjie te wees; skuif oor na die passasiersitplek en vertrou Hom om jou te neem na die lewe en geleenthede wat Hý vir jou bestem het.  Gee oor en gaan saam. ~ Wilna


As Jak 4:8 sê: nader tot God, kan mens vra: hoe nader ek tot God?  Wel, as jy verder lees in dieselfde teks gee die Bybel eintlik self die antwoord. Om tot God te nader moet jy eers jouself aan Hom onderwerp. Jy moet jou eie swakheid erken, jy moet besef hoe klein jy voor Hom is, sodat jy in nederigheid na Hom toe kan kom. Wanneer jy tot God nader moet jy erken dat jy Sy genade nodig het en jy moet gewillig wees om Hom te volg. Jy moet sorg dat jou lewe skoon is en opregte berou toon oor jou sonde. Verder moet jy ook nie toelaat dat die duiwel jou verlei of bangmaak nie. Jesus het hom reeds verslaan, daarom sal hy van jou af wegvlug. Jy is vry om tot God te nader. Weet verseker dat Hy ook tot jou sal nader. ~ Wilna

“Nader tot God en Hy sal tot jou nader.” (Jak 4:8) Hierdie teks bied vir my altyd soveel troos en bemoediging. Hoe wonderlik om te weet dat ek, nes ek is, enige tyd, enige plek, in enige situasie na God toe kan draai en Hy sál daar wees. As ek uitreik na Hom, is Sy hand alreeds daar vir my. As ek na Hom roep, is  Hy alreeds gereed om my te antwoord. As ek my eie pad geloop het en na Hom toe terug wil draai, wag Hy alreeds met oop arms vir my.  As ek wil sê ek is jammer, is Hy alreeds gereed om my te vergewe. Say a quiet yes to God, and He’ll be there in no time. (The Message).  ~ Wilna


“... julle het iets van Jesus gekry wat julle lewe totaal verander: sy Gees het by julle kom bly. So het Hy julle in sy spesiale span vir hierdie wêreld gesit.” (1 Joh. 2:27) Ons wat kinders van die Here is, het die teenwoordigheid en krag van die Heilige Gees as ’n kosbare skat ín ons. Die Gees gee vir jou wysheid en insig, raad en sterkte, kennis en eerbied vir die Here (volgens Jes. 11:1) Besef dit en laat dit ’n verskil in jou daaglikse lewe maak. Laat die Gees goeie vrug voortbring, laat die Gees leiding en rigting in jou lewe gee, jou help om situasies reg op te som en die regte besluite te neem ... jy is immers nou in God se spesiale span. ~ Wilna

“’n Gelowige se woorde bemoedig ander en gee hulle moed vir die lewe. Mooi woorde verloor nooit hulle krag nie.” (Spr. 12:18-19, Die Boodskap). Probeer om vandag net mooi goed te sê. Bly kalm, dink voor jy praat, wees versigtig met jou kritiek. Gebruik eerder mooi, opbouende, positiewe woorde om sodoende ander op te lig en moed te gee. Wees vir ’n slag vrygewig met jou komplimente. Spreek jou dankbaarheid uit vir wat mense vir jou doen en wat hulle vir jou beteken. Daai soort mooi woorde het krag en sal ’n verskil maak. ~ Wilna

“God stuur die storm óf om te straf, óf om vir die aarde te sorg, óf om sy liefde te toon.” (Job 37:13) Al die reën en oorstromings van die afgelope tyd het my weer by hierdie teks uitgebring. Dit sê vir my dat die Here altyd ’n doel het met ekstreme weersomstandighede. Soos in die tyd van Noag, kan ’n storm daar wees om te straf en mense tot stilstand te bring. Meestal is dit om te wys Hy sorg vir mens en dier en plante en bring ’n reënbui vreugde en blydskap en opwinding. Deur ’n storm wys Hy ook sy liefde aan ons en wil Hy ons seën met water wat lewe en verfrissing bring. Soms laat ’n storm ons ook besef hoe nietig ons is en erken ons opnuut ons afhanklikheid van die Here. Heel dikwels dwing dit ons om aan Hom erkenning te gee vir sy mag en sy beheer oor die skepping. Met elke storm bereik Hy egter sy doel, nie net ’n fisiese storm van reën en wind en blitse nie, maar ook elke lewensstorm waarin ons onsself mag bevind. ~ Wilna

As jy dalk in ’n bodemlose depressie put is, of dalk deur ’n ernstige siekte bedreig word, of dalk wag om deur jou baas ingeroep te word om daai gevreesde afdankingsgesprek te kry, of dalk ’n skeibrief verwag, bid ek dat die sekerheid van God se hulp wat betyds sal opdaag vir jou só werklik sal wees soos vir Miga: “Maar ek sal vertrou op die Here, ek sal wag vir die God wat my red. My God sal my gebed verhoor.” (Miga 7:7) ~ Wilna


Ons sou die afgelope naweek ons kamp vir gestremdes hou. Toe dit onophoudelik reën en die weervoorspellers boonop ’n nat prentjie skilder vir die naweek, moes ons verlede week die besluit neem om die kamp uit te stel. Natuurlik het dit gepaardgegaan met groot teleurstelling, ekstra moeite en dubbel beplanning. Ek het bietjie opstandig gewonder: hoekom moet dit juis nóú reën? Na die lees van Job 37 moes ek maar net weer besef en erken dat God in beheer is van elke wind, elke wolk, elke storm, elke weerlig en ook elke reëndruppel en dat Hy ’n doel het met alles wat in die natuur gebeur. “Hy doen groot dade en ons begryp dit nie. Hy beveel die sneeu om op die aarde te val, die reëns val, die stortreën wat getuig van sy krag ... Hy laat die wolke swaar word van vog ...Hy laat die wolke in die rondte maal... Hy laat alle mensewerk tot stilstand kom sodat alle mense Sy werk kan ken ...” (Job 37:5-7) Hy het ons planne tot stilstand laat kom en ek wéét dat Hy ’n doel daarmee het, al sien ons dit nie en al verstaan ons dit nie. Nou kan ons maar net weer in afhanklikheid en met nuwe ywer beplan en uitsien na die kamp wat met ’n paar weke uitgestel is.   

Ek lees vanoggend dié kostelike aanhaling wat iemand gebruik: The best thing one can do when it’s raining, is to let it rain. ~ Wilna


“You worked hard and deserve all you’ve got coming. Enjoy the blessing! Revel in goodness!” (Ps. 128:2, The Message) As dit goed gaan met jou en jy het alles wat jy nodig het, weet dat dit die Here is wat al daardie goeie dinge vir jou gee. Besef dat dit Hy is wat jou krag en wysheid gegee het om jou werk suksesvol te doen, jou besigheid slim te bestuur en die regte besluite op die regte tyd te neem. Gee aan Hom die eer en erkenning en geniet dit wat jy het. Vier fees, wees uitgelate, verlustig jou in die goeie dinge, geniet die lewe, skep behae in die seëninge wat God nóú vir jou gegee het.  ~ Wilna

“God wil ons lewe, wat Hy vir ons gegee het, heeltemal vir Homself hê ... God wil niks met die mense te doen hê wat dink hulle kan op hulle eie sonder God regkom nie. Maar vir mense wat weet hulle is niks sonder God nie, is God baie, baie goed – meer as wat hulle ooit verdien.” (Jak 4:5-6, Die Boodskap) God wil hê dat ons volledig aan Hom sal behoort, dat ons ons afhanklikheid van Hom sal besef en erken. Toe my dogter baie klein was, het sy eendag ’n baie wyse ding kwytgeraak. Sy het gesê: “Ek weet hoekom die Here mense gemaak het. Hy het hulle gemaak omdat Hy eensaam was en maatjies gesoek het.” Hy het ons gemaak vir Homself, Hy het Sy asem in ons geblaas, ons is Syne. Hy wil my vir Homself hê, Hy wil my versorg soos ’n Pa sy kinders versorg, Hy wil elke tree van my dag saam met my loop, Hy wil met my praat soos met ’n vriend, Hy wil sy liefde en Sy rykdomme op my uitstort ... laat Hom vandag só in jou lewe toe. ~ Wilna

“Wie in die kleinste dinge betroubaar is, is ook in die groot dinge betroubaar.” (Luk. 16:10) Die toets vir hoe ons gaan vaar met groot dinge, lê in hoe ons die klein dingetjies hanteer. As jy eerlik is oor ’n paar sent, sal jy vertrou kan word met groot bedrae geld. As jy eenvoudige sleurwerk deeglik en goed doen, sal jy belangrike take ook suksesvol kan doen. As jy arm mense wat sonder aansien is met respek en liefde hanteer, sal jy ook gemaklik met deftige, hooggeplaastes kan omgaan. As jy bereid is om ’n beker koue water in die Naam van die Here vir iemand aan te bied, sal jy ook groot goed vir die Here se Koninkryk kan doen. Begin klein en eenvoudig en die groot dinge sal natuurlik volg. ~ Wilna

My song will keep Your fame alive forever, and everyone will praise You for all time to come.  (Ps 45:17) Mag ons lied en ons lewe die Here se Naam bekend maak , mag dit voortdurend die Here belangrik maak en Hom op die voorgrond bring.  Mag dit vertel van Sy grootheid, Sy aansien, Sy waarde, Sy besondersheid. Mag dit Hom eer, Hom verhoog en eerste stel . Mag ons lofprysing gevul wees met verwondering en bewondering vir Hom as enigste, ware, liefdevolle God. Moenie ophou om lofliedere te sing nie ... let’s keep His fame alive forever! ~ Wilna

As jy dalk vandag minderwaardig voel, jouself onbelangrik ag, of dink jy is swak, dom, lelik, onbekwaam, eenvoudig of watter negatiewe beskrywing ook al, onthou asb. wat die Here van jou sê in Ps. 8:6. Hy behandel jou soos ’n koning en sit ’n kroon op jou kop. Die kroon is “aansien en eer” (glory and honour). Jy is kosbaar vir God, in Sy koninkryk het jy ’n hoë rang, en word jy belangrik geag. Moenie in jou alledaagse leef wêreld aan jou eiewaarde twyfel nie, die kroon van aansien en eer het hier ook sy volle waarde. Hou jou kop hoog vandag en dra jou kroon met trots. ~ Wilna


“Eers as die Seun julle vrymaak, sal julle werklik vry wees.” (Joh. 8:36) Toe jy Jesus aangeneem het as Verlosser en Here van jou lewe het Hy alle bande van sonde en skuld en veroordeling losgesny en afgebreek. Jy is vry. Jy is vry van onderdrukking, beheer en manipulasie, vry van kompetisie en oordeel van mense, vry van vrees en minderwaardigheid, vry van mensgemaakte reëls en voorskrifte. Jy is vry om jouself te wees, vry om die Here te aanbid. “Hou vas aan hierdie vryheid. Moet dit vir niks ter wêreld prysgee nie. Moenie toelaat dat ander mense julle weer slawe van hulle skewe sienings maak nie.” (Gal 5:1, Die Boodskap) ~ Wilna

Ek het weer Luk. 17 gelees van die 10 melaatses wie Jesus genees het en net een het teruggekom om te kom dankie sê. Ek dink Jesus praat van my ook as Hy sê: “Is daar niemand anders wat omgedraai het om God die eer te gee nie?” (vers 18) Ek is so tevrede en in my skik as dinge vlot verloop en in plek val, dat ek nie eers omdraai en Hom eer, prys en dank nie. “Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.” (1 Tess 5:18). Daar is dit nou duidelik gesê: God verwag dankbaarheid in elke situasie. Ek het sommer weer besluit om in elke situasie en in elke dag iets uit te sonder waaroor ek vir God kan dankie sê. Dis nie moeilik nie, want daar is baie om Hom voor te prys. Op dié manier draai ’n mens se gesindheid sommer vinnig positief en word jy gou ’n optimis! ~ Wilna

For God did not give us a spirit of timidity (of cowardice of craven and cringing and fawning fear), but He  has given us a spirit of power and of love and of calm and well-balanced mind and discipline and self-control. (2 Tim 1:7, Amplified Bible) Voel jy ook soms dat niks in die wêreld om jou sin maak nie? Voel jy ook soms dat dinge buite beheer is? Voel jy ook soms bang, onseker en vreesagtig oor die toekoms? Voel jy ook soms of moeilikheid aanhoudend oor jou neerreën? Voel jy ook soms of die dag nooit gaan aanbreek nie? Ek dink dis deel van die lewe, maar glo vandag hierdie teks en glo vandag dat jy alles binne-in jou het om deur te druk en dit te máák deur die donker tye. Die Heilige Gees ín jou gee krag en moed en vrede. Sy krag is beskikbaar wanneer jy swak voel. Sy vrede bring jou tot rus. God kan en sal al die stukkies van jou lewenslegkaart bymekaar laat inpas volgens Sy plan en doel. Vertrou dat Hy aan die werk is in jou tot jou beswil. ~ Wilna

“Bemoedig dié wie se hande slap hang, help dié wie se knieë knik, sê vir dié wat moed verloor het: Wees sterk, moenie bang wees nie, julle God is hier.” (Jes. 35:3-4) Ons kan mense wat moed verloor het, wat neerslagtig en negatief is op hierdie manier moed inpraat. Ons opregte woorde van aanmoediging en bemoediging kan vandag vir mense ’n verskil maak. Dit kan hulle weer moed gee, dit kan hulle met nuwe oë na die toekoms laat kyk, dit kan hulle opbou, dit kan hulle seën.  Ons woorde kan soos sagte salf wees wat verligting bring vir ’n seer gemoed of ’n gebreekte hart. Vertrou die Heilige Gees om vir jou die regte woorde op die regte tyd te gee. ~ Wilna

“Hulle weet nie wat die regte godsdiens is nie, want hulle ken nie die Een om wie alle godsdiens draai nie.” (Kol 2:19, Die Boodskap) Die Een om wie die ware godsdiens draai is Jesus Christus. Sonder Hom is godsdiens dooie rituele, ’n stel reëls en gebruike, vals lippetaal, iets wat jou dalk goed en belangrik kan laat lyk maar wat vir die Here niks beteken nie. Ware godsdiens volg uit ’n verhouding met Jesus waar ek lief is vir Hom, waar ek myself is en Hy my hart ken. Dit is ’n verhouding waar ek my bes doen, waar ek my foute en tekortkominge erken en bely en Hy my onvoorwaardelik vergewe en aanvaar. Hou op met lippetaal en soek weer na daardie intieme, persoonlike konneksie met Jesus. ~ Wilna


In Eks 3:3-5 lees ons dat die Here uit die brandende bos met Moses praat en vir hom sê om sy skoene uit te trek want die grond is heilige grond. Minute tevore was dit maar net gewone grond en ’n gewone bos, maar God se teenwoordigheid maak dit heilig. Ons is nou Sy tempel waarin Hy sy blyplek maak en dit maak my liggaam heilige grond. Waar ek gaan, gaan Hy saam en word elke plek waar ek kom as’t ware heilige grond. Of ek by die werk is, in die winkel, op die straathoek, in die fliek of waar ook al moet my teenwoordigheid ’n verskil maak omdat ek God in daardie plek indra. Mense moet God se heiligheid in my optrede kan sien en in in my teenwoordigheid kan aanvoel ... “die plek waar jy op staan, is heilige grond.” ~ Wilna

“... moenie bewe nie, moenie bang wees nie, moenie vreesbevange wees nie, moenie vir hulle skrik nie. Die Here julle God gaan saam met julle ...” (Deut. 20:3-4) Let not your minds and hearts faint sê die Amplified Bible by hierdie teks. Daar is deesdae so baie omstandighede en gebeure wat ons vreesagtig maak. So baie dinge wat ons vrees, wat ons verlam, waaroor ons wil opgee en wegvlug.  Dinge soos misdaad en verkragtings, soos siekte en dood, soos werkloosheid en onsekerheid oor die toekoms. Kom ons sê vandag vir onsself: moenie bewe nie, want die almagtige God is saam met my. Ek kán oor enige muur spring saam met Hom, ek ís tot alles in staat omdat Hy my sterk maak, ek sien kans vir enige iets, niemand kan iets aan my doen nie, my voete staan vas op dié Rots, die Alfa en Omega hou my hand vas, die Koning van die konings gaan saam met my ... sélfs al gaan ek deur die dal van doodskaduwee. ~ Wilna

“’n Mens beplan sy pad, maar die Here bepaal hoe hy loop.” (Spr. 16:9) Soms kom ’n mens op ’n punt in jou lewe waar jy eers ’n tree vorentoe moet gee voordat jy weet of jy in die regte rigting beweeg. Ons sê mos baie keer dat die Here vir ons die koers aanwys deur die oop en toemaak van deure. Wel, dink bietjie aan daai soort deure wat outomaties oopmaak as mens nader kom. As jy stilstaan voor die deur, gaan hy toe bly. Dis eers as jy ’n tree vorentoe gee, dat dit die meganisme afsit wat die deur oopmaak.  Miskien moet jy ook vandag so ’n tree in geloof gee, met die verwagting dat die Here die deur voor jou sal oopmaak. Moenie passief voor die deur staan en wag nie. Neem aksie en gee daardie geloofstree. ~ Wilna

“Mag die Here julle gedagtes rig op die liefde van God.” (2 Tess 3:5) Is dit nie ’n wonderlike seënwens wat ons vir mekaar kan toebid nie. As ons voortdurend aan God se onvoorwaardelike en onbeperkte liefde vir ons kan dink, sal ons oorloop van dankbaarheid en verwondering teenoor Hom. As ons heeltyd dink hoe wyd en diep en hoog Sy liefde vir ons is, sal ons so tevrede en beskerm voel. As ons gereeld dink dat niks ons van Sy liefde kan skei nie, sal ons veilig en versorg voel in enige omstandighede. God is liefde. Hy het jou oneindig lief en jy kan niks daaraan verander nie! Oordink dit vandag. ~ Wilna

“Trust in, lean on, rely on, and have confidence in Him at all times.” (Ps. 62:8) Wanneer jy in ’n situasie is waar dit voel of niks sin maak nie, glo en vertrou dat die Here in beheer is. Wanneer jy in ’n posisie is waar daar net die antwoorde op jou vrae is nie, leun op die Here en volg Sy leiding tree vir tree. Wanneer jy in omstandighede is waar jy bang en onseker is, pak jou hart uit voor die Here, huil by Hom en skuil by Hom. Staan in en op jou geloof in goeie en slegte tye. ~ Wilna

Ter aanvulling wat ek gister geskryf het oor gebed, moet ons mekaar daaraan herinner dat om te bid ’n opdrag van die Here is. Al weet die Here reeds wat jy nodig het en wat die versugtinge en behoeftes van jou hart is, móét ons steeds bid, ons moet die woorde uiter. Jes. 30:19 sê “Die Here sal jou genadig wees as jy na Hom roep om hulp. Hy sal jou gebed verhoor sodra Hy dit hoor.” Dit laat my besef dat Hy ons gebed wil hóór. Wanneer jy bid, sal Hy hoor en verhoor. By herhaling lees ons: bid gedurig, volhard in gebed, wees waaksaam en bid gedurig (Ef. 6:18, 1 Tess 5:17, Rom 12:12, Kol 4:2) Moenie moeg en moedeloos en traag word in jou gebedslewe nie. “As jy bid, gaan dan na ’n stil plek toe waar niemand jou kan sien nie. Trek die deur agter jou toe en praat daar eenkant opreg met jou Hemelse Vader.” (Matt. 6:6, Die Boodskap) ~ Wilna

Mense sê baie keer dat dit voel of hulle gebede teen die plafon vasslaan, dit voel of God vêr is, doof is, of net nie luister nie. Dit gebeur met my ook. Dan twyfel ek wanneer ek bid, of ek bid al hoe minder, of glad nie ... totdat ek weer Matt. 6:8 lees: “Onthou: jou Vader in die hemel weet presies wat jy nodig het. Nog voordat jy bid, weet Hy al lankal wat in jou kop aangaan.” Hy weet rééds wat jy nodig het, Hy weet rééds waaroor jy met Hom wou praat in jou gebed, Hy weet rééds wat in jou kop en in jou hart en in jou lewe aangaan. Die Bybel sê vêrder in Rom 8:26 as ons nie weet wat om te bid nie of hoe om te bid nie, as die woorde opraak en die plafon naby is, die Gees namens ons bid. “Hy vertaal al ons swaarkry in hemelse taal,” en bring ons diepste, woordelose behoeftes voor God. Die plafon kan DIT beslis nie keer nie! Ek het hierdie aanhaling êrens gelees: “If for any reason you cannot pray, relax. The desire to pray is already a prayer.” ~ Wilna

Die Here het lankal bekend gemaak hoe Hy wil hê dat ons ons moet lewe en hoe ons Hom moet dien.  Miga 6:8 gee ’n 3-punt samevatting daarvan: (1) doen die Here se wil (2) bewys liefde en dien mense (3) leef versigtig en wees nederig voor die Here. Mag die Here ons van binne af verander, ons manier van dink verander sodat ons elke dag volgens hierdie 3 punte lojaal en oorgegee aan Hom sal lewe.  ~ Wilna

“Sien raak wanneer ander gelowiges swaarkry en help hulle. Tel hulle probleme op julle skouers en  dra dit vir hulle. So doen julle presies wat Christus van julle verwag ... As julle dink dat julle te belangrik is om vir ander mense om te gee, begryp julle net mooi niks van die evangelie nie.” (Gal 6:2-3, Die Boodskap) Sjoe, dis darem maar reguit gesê, nè? Ek moet bely dat ek so baie keer gebrekkig is met my omgee, dat ek so stadig is met hulp aanbied en onwillig is om saam te dra aan probleme van mense wat my pad kruis. Mag die Here my oë oopmaak,  my hart sag en gewillig maak en my hande bereid maak om my deel te doen. ~ Wilna

As kind van God, verlos deur die bloed van Jesus, gevul met die Heilige Gees, kan ek ook soos Miga sê dat ek baie krag het, dat ek wysheid het, dat ek onderskeidingsvermoë het, dat ek die moed het om met mense te praat oor die Here en oor hulle lewenswyse. (Miga 3:8)  “Die Heilige Gees het ons splinternuut gemaak. Daarom moet ons toelaat dat Hy elke dag ons lewe bestuur. Hy moet besluit wat ons dink en sê en doen.” (Gal 5:25, Die Boodskap) Gee oor en gaan voluit vir Jesus! ~ Wilna

As jy ’n kind van God is, hoort die volgende nie in jou lewe nie: slegtheid, hebsug, gemeenheid, jaloesie, twis, bedrog, kwaadwilligheid, skinder, kwaadpraat, hooghartigheid, verwaandheid, onverstandigheid, onbetroubaarheid, liefdeloosheid, hardvogtigheid. (Rom 1:29-31) Lees die lysie weer stadig deur en dink wat elkeen van die woorde beteken. As mens vinnig daaroor kyk kan jy dalk dink dat dit net dinge is wat goddeloses aanvang, maar as jy dieper delf sal jy dalk, soos ek, geskok wees hoeveel hiervan wel in jou lewe heers.  Maak ’n bewuste keuse teen gevoelens, gedagtes en optrede wat enige van hierdie moenies ’n vatkans in jou lewe kan gee. Laat die Gees van God elke oomblik jou gedrag  bepaal. “Die Gees stel hulle in staat om hulleself goed te beheer sodat sonde nooit hoogty in hulle lewe voer nie.” (Gal 5:22, Die Boodskap) ~ Wilna

“Die Here sorg vir almal wat seerkry. Hy tel elkeen op wat swaarkry. Almal vestig hulle hoop op U. U versorg elkeen op die regte tyd.” (Ps. 145:14-15, Die Boodskap) Glo hierdie waarheid en skryf dit op jou hart. Ons dien ’n God van liefde wat medelye en innige meelewing het met ons. “U weet deur hoeveel pyn en hartseer ek al is. My trane sal ’n dam volmaak. U het daarvan boek gehou, U weet.” (Ps. 56:9) ~ Wilna


“Die Ewige van Israel lieg nie en Hy verander nie van gedagte nie, want Hy is nie ’n mens dat Hy van gedagte sou verander nie.” (1 Sam 15:29) Wat God belowe sal Hy deurvoer. Wat God sê, sal gebeur. Hy is gister, vandag en môre dieselfde. “Ek, die Here, het nie verander nie.” (Mal 3:6) Daar word gesê dat daar meer as 3000 beloftes van God in die Bybel is (sommige mense maal dit nog met 10!). Dit beteken dat daar amper 10 beloftes vir elke dag van die jaar is. Baie daarvan het ’n voorwaarde, maar die meeste daarvan is net God se opregte beloftes van sorg, voorsiening, liefde, genade, redding, verlossing, vertroosting vir ons as Sy kinders. Maak oop jou Bybel en soek daai één belofte wat vir jou vir vandag bedoel is en glo dit, want God sál  Sy beloftes waar maak.   ~ Wilna

“Sorg daarenteen dat julle toeneem in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.” (2 Pet. 3:18) Genade is God se krag, liefde en guns wat in jou situasie inkom en vir jou doen wat jy nie vir jouself kan doen nie. Die teksvers sê ons moet toeneem in genade. Dit beteken dat ons meer en meer moet leer hoe om dit in elke lewenssituasie te ontvang. Ons neem toe in genade namate ons die Here meer vertrou en ons geloof sterker in Hom vestig. His grace will meet the need. Mag jy vandag Sy genade ontvang in situasies wat moeilik is of onmoontlik lyk vir jou, sodat jy kan toeneem in genade en kennis van Jesus. ~ Wilna

Ek was bevoorreg om verlede jaar ’n intensiewe Bybelstudie oor die boek, Miga, mee te maak. Ek het só baie geleer oor wie God is. Ek het geleer dat ek met diep ontsag en opregte eerbied teenoor Hom moet lewe. Hy het sy opdragte gegee en Hy verwag van my om Hom in alles te gehoorsaam – volle oorgawe, geen kompromie. God is regverdig en getrou – Hy sál oordeel oor dié wat lou en koud is teenoor Hom, MAAR Hy is altyd gereed om genade te betoon en Sy uitnodiging: “Draai terug, kom na My toe,” bly vasstaan en word aan elke mens gerig. Vir dié wat op Hom vertrou sal daar weer oorwinning wees, sal daar altyd weer lig wees. ~ Wilna

As ons na mense opkyk om vir ons rolmodelle te soek, dan kyk ons mos maar gewoonlik na beroemde mense, suksesvolle mense, mooi mense, talentvolle mense, slim mense, ryk mense, invloedryke mense wat ons tog so ontoereikend, minderwaardig en ellendig kan laat voel. Die goeie nuus is: “Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.” (1 Sam 16:7) Die Here sien ’n ander, dieper potensiaal in ons as wat onsself of ander in ons sien. Hy wéét waartoe ons in staat is as Sy hand die beheer van ons lewens neem. Niemand word Iemand as die Here intree. Dink maar aan Dawid, Gideon, Ragab, Petrus ... ek en jy! ~ Wilna

“He's got the whole world in His hands ...” – so gaan die woorde van ’n bekende liedjie. Níks is buite God se beheer, krag en voorsiening nie. Hy laat die son skyn, Hy gee wolke, Hy laat dit reën, Hy laat die wind waai. Hy tel die sterre en gee elkeen ’n naam. Hy laat saad ontkiem en bome vrugte dra. Hy tel die hare op jou kop. Hy bepaal hoe lank elkeen van ons sal lewe. Hy maak siek en Hy maak gesond. Hy sorg vir die voëls van die hemel en die gras van die veld. Hy is soewerein, almagtig en alomteenwoordig. “He's got you and me in His hands!” ~ Wilna

“Hy het hulle verlos deur sy liefde en ontferming; Hy het hulle opgetel en hulle altyd gedra.” (Jes. 63:9) Sjoe, dis darem maar mooi woorde om te hoor. Dis wat die Here vir Sy volk gedoen het, keer op keer. Dis wat Hy nog altyd vir Sy kinders gedoen het. Dis wat Hy ook weer vandag en môre vir my en jou sal doen. Glo dit! Onthou dit! Bely dit! Verkondig dit! Sing ’n lied daaroor! Prys Hom daarvoor!  ~ Wilna

“Ons moet ... aanhou om te kyk na Jesus.” (Heb 12:2, Bybel vir almal) Om te volhard in geloof, om moed te behou ten spyte van omstandighede, om hoopvol te bly wanneer alles eintlik hooploos lyk, om deur te druk met die wedloop van die lewe, móét al ons aandag en afhanklikheid net op Jesus gefokus wees. Konsentreer altyd net op Hom, fokus op wie Hy is, verheug jou in wat Hy vir jou doen. Kyk na Jesus en die silwer rand om die donker wolk sal verskyn. Kyk na Jesus en jou krag sal meer word. Kyk na Jesus en jou las sal ligter word. Kyk na Jesus en jou swakheid sal met selfvertroue vervang word. Kyk na Jesus en vind jou vreugde in Hom. Kyk na Jesus en kry moed vir die dag. ~ Wilna


“Nou moet julle julle sondes laat staan. Kom terug na God toe.” (Hand. 3:19, Die Boodskap) “Bekeer julle en kom tot inkeer,” sê die ander vertaling. Ons moet maar altyd weer ons harte, gedagtes en lewens ondersoek en keuses maak téén sondes, verkeerde gewoontes, korrupte gedagtes, ens. Ons moet die sonde in ons lewe haat, intense berou hê oor die verkeerde dinge en spyt wees oor versuim om die regte te doen. Dit moet nie net ’n voorneme bly, of ’n oppervlakkige “jammer, Here” wees nie. Dit vra as’t ware ’n 180° wegdraai, ’n totale omdraai. Dit behels ’n  verandering van hart, gedagtes en wil. Ek het êrens gelees: “No man can get right with God unless he is converted, no man is truly converted if he has not repented, and no man has truly repented unless he is willing to part with sin.”  ~ Wilna


“U beskerm my. U pas my op in elke krisis.” (Ps. 32:7) ’n Krisis kom so gou oor ’n mens se pad. Tye van intense probleme, onnodige moeilikheid, dreigende gevaar, onsekerheid, slegte nuus, ens. kom gewoonlik onverwags en ongevraagd. Miskien is jy pas deur ’n krisistyd – mag jy dan getuig dat die Here jou opgepas en beskerm het. Miskien is jy op die oomblik in so ’n drukgang – moenie bevrees, bekommerd of bedruk wees nie, gryp vas aan die Here en glo dat hierdie teks waar sal wees in jou krisis. Dalk lê een of ander krisis nog êrens vir jou voor – programmer jouself nou al met die woorde van hierdie teks en wéét dat die Here saam met jou sal stap deur elke donker tyd. Mag hierdie skrif jou end-uit bemoedig. ~ Wilna

“U wat die mens deur en deur toets, U is die regverdige God.” (Ps. 7:10) In die Amplified Bible word dit  uitgebrei na: “For You who try the hearts, emotions and thinking powers ...” Die lewe is vol uitdagings wat ons deursettingsvermoë, geduld, vertroue en geloof toets. Lewenstoetse is iets wat wys hoe jy onder druk sal optree, waarheen jy jou sal wend in moeilike omstandighede, op wie se skouer jy sal huil in hartseer tye. Die Here gee toetse om ons harte, emosies en gedagtes te toets. Ek vra Hom vandag vir genade om my toetse te slaag sodat my karakter positief en sterker daardeur gebou kan word. ~ Wilna

“Let us then fearlessly and confidently and boldly draw near to the throne of grace.” (Heb. 4:16) Danksy die versoening- en verlossingswerk van Jesus het ons ’n oop deur na God se troon waar Hy genade, guns en goedheid vir ons wil uitdeel. Jesus is die weg! Ons kan sonder vrees en met vrymoedigheid die Weg volg en na ons Vader toe gaan. Gebruik dié voorreg wat jy het! ~ Wilna

 “There are many truths of which the full meaning cannot be realized until personal experience has brought it home.” Dis blykbaar iets wat ene John Stuart Mill gesê het. Na my mening geld dit ook vir ons verhouding met die Here. Iemand wat nie persoonlike ervaring daarvan het nie, sal nie kan verstaan hoe jy geloof en vertroue kan hê in ’n onsigbare God nie. Iemand wat dit nié het nie, sal nie kan verstaan hoe jy tevrede en gelukkig kan wees ten spyte van probleme om jou nie. Iemand wat dit nié het nie, sal nie kan verstaan dat jy die Bybel as jou kompas en padkaart gebruik en alles glo wat daarin staan nie. Iemand wat dit nié het nie, sal nie kan verstaan dat jy sterk kan wees wanneer almal swak is en paniekerig raak nie. Niemand kan stry met jou persoonlike ervaring en getuienis nie! “Kom ondervind en sien sélf dat die Here goed is.” (Ps. 34:9) ~ Wilna

“U maak U hand oop en skenk U guns in oorvloed aan al wat leef.” (Ps. 145:16) In die Here se hand is alles wat ek nodig het, alles wat my staande kan laat bly, alles wat my geluk, hoop en vrede kan gee. Hy wil ons seën vandag en Hy sal Sy hand oopmaak en goedheid en genade oor jou uitstort. “Die Here dink aan ons: Hy seën ... Hy seën dié wat Hom dien, klein en groot.” Ek maak vandag my arms en my hart wyd oop om elke seëning van Hom af te ontvang. ~ Wilna

Ek lees hierdie aanhaling gister onderaan my dagboek se eerste-werkdag-van-die-jaar - bladsy: “Plenty of people miss their share of happiness, not because they never found it, but because they didn’t stop to enjoy it.”  Vóórdat ons nou weer soos mal rotte die jaar in begin hardloop, is dit miskien goed om hierdie aanhaling bietjie te oordink. Dit is nodig en belangrik om elke dag bietjie te stop en die mooi en goeie dinge wat die Here so in oorvloed vir ons gee te geniet. Geniet iets mooi in die natuur, geniet iets kreatief, geniet ’n lekker grappie, geniet ’n “stoute” eetdingetjie, geniet en waardeer opbouende geselskap van iemand spesiaal, geniet ’n goeie fliek of boek of musiek... Die Bybel beaam dit sommer ook in Pred. 6:6 ( The Message) : “Even if someone lived a thousand years – make it two thousand! – but didn’t enjoy anything, what’s the point?” ~ Wilna

Ons het nou die dag die fliek Frozen gaan kyk en die volgende aanhaling daarin het my aangegryp: “Only true love can thaw a frozen heart.” Mens verwag dat dit die vurige liefde van ’n prins sal wees wat die prinses se hart sal laat ontdooi, of dalk selfs die opregte liefde van ’n eenvoudig man, maar op die ou einde is dit die vergewende, onvoorwaardelike, egte liefde van ’n suster. Hoe waar is dit nie dat opregte liefde enige koue, harde hart kan versag, mure kan afbreek en verhoudinge kan herstel nie. Wat behels daai opregte liefde? “Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik, dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie ... is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie ... dit bedek alles, glo alles, verdra alles.” (1 Kor. 13:4-7) Kyk uit vir mense met “frozen” harte en oorlaai hulle met jou liefde. ~ Wilna

“Maar ek is bang dat julle gedagtes weggelei sal word van die onverdeelde en suiwere toewyding aan Christus.” (2 Kor. 11:3) Hier is ’n waarskuwing dat ons nie verlei en weggerokkel moet word van die Here nie, dat ons nie in ons toewyding moet verslap nie. Dit lyk my ons gedagtes is die “probleemarea”. Dis waar die bederf en verleiding kan intree. Dis waar ons moet waghou. Ons moet kies waarmee ons gedagtes gevul word. Ons moenie toelaat dat die sorge van die lewe, die gejaag na wind, die soeke na plesier, die begeerte na meer en groter ons gedagtes besoedel en wegtrek van die Here af nie. “Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is ...” (Kol 3:2). Onverdeelde, suiwer, toegewyde gedagtes. ~ Wilna


Klik hier vir nog meer heuningdruppels >


Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur en webruimte (www.heuning.co.za)