Daaglikse Heuningdruppels

 


... soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek (Ps 119:11)

Die daaglikse heuningdruppels is ook op ons Facebook-groep. Klik hier:


Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Wilna / Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)



“In die aand kan ek gaan slaap sonder om te lê en rondrol van bekommernis. In die môre word ek rustig wakker, want ek weet die Here sal my krag gee om my probleme op te los. Ek is nie bang nie, al staan ’n skare mense gereed om my aan te vat.” (Ps. 3:6-7, Die Boodskap) Miskien staar jy môre so ’n moeilike situasie in die gesig – mense staan gereed om jou aan te vat en antwoorde van jou te eis, dinge is in ’n doodloopstraat, jy wag dalk vir daai gevreesde uitslae van die mediese toetse, jou familie krisis is dalk op sy felste ... Roep so hard as wat jy kan na die Here. Bid, al weet jy nie wat om te sê nie. Glo dat die Here jou sal help om nie handdoek in te gooi nie. Kyk, die teks sê nie môre sal al jou probleme weg wees nie, dit gee jou wel die versekering dat die Here vir jou die krag sal gee, groot wysheid sal gee, bomenslike moed sal gee, nuwe planne en strategieë sal gee om die bul by die horings te pak. Mag jy vannag só rustig slaap as wat die teks sê, sodat jy môreoggend met vertroue kan sê: ek is nie bang nie. ~ Wilna Botha, 24/07/2017

“U sal my toelaat om naby U te kom, want ek wil U aanbid. Omdat U u kinders baie lief het, mag ek na U toe kom. Uit eerbied mag ek voor U kniel.” (Ps. 5:8) Hoe wonderlik is dit nie dat ons na God toe kan gaan, hom kan aanbid en in ’n persoonlike verhouding met Hom kan wees nie, dat ons soos Dawid met Hom praat soos met ’n vriend en raadgewer en vertroueling. Die Bybel sê ons sondes maak ’n skeidsmuur tussen ons en God, maar Jesus het daardie muur kom afbreek deur ons sondes op Hom te neem. “My liewe vriende, ons hoef nou nie meer onseker of bang te wees om na God toe te gaan waar Hy in die Heiligste deel is nie. Ons kan dit doen omdat Jesus vir ons gesterf het.” (Heb. 10:19) Ons het nou vrye toegang tot God. Ons kan naby aan Hom kom. Sy hand is altyd uitgestrek na ons. Dit alles is moontlik omdat Hy ons lief het en omdat Sy genade groot en verniet is. Prys Hom daarvoor! ~ Wilna Botha, 26/07/2017

“... ek word al hoe swakker. U moet my asseblief gesond maak, Here, want my liggaam is besig om in te gee. Ek is lam van moedeloosheid ... Hoe lank gaan dit nog so aanhou? Help my, Here! Red my van hierdie swaarkry! ... Ek kan nie meer huil of kla nie, my kragte is op. Saans huil ek my kussing nat. My hele bed is later nat van die trane ... Al die pyn en hartseer maak my gedaan. Ek is moedeloos.” (Ps. 6:3-8, Die Boodskap) Sjoe, wat ’n uitroep van iemand wat baie swaar kry. Miskien kan jy met hierdie moedeloosheid, trane en pyn assosieer. Miskien kan dit jou vandag help om te weet dat Dawid ook deur hierdie emosies is. Miskien kan dit jou nóg meer help om te weet dat Jesus ook deur hierdie swaarkry is toe Hy bloed gesweet het in Getsémané , toe Hy gespoeg, geslaan, verneder en gekruisig is. Miskien kan dit help as jy lees wat Dawid sê: “Die Here luister na my gebed. Die Here het gehoor toe ek huilend by Hom pleit.” (Ps. 6:9) Miskien kan dit help as jy soos Jesus bid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by my verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.” (Matt. 26:39) Miskien sal daar dan ’n vrede in jou kom lê wat alle verstand te bowe gaan. ~ Wilna Botha, 31/07/2017

“U is die sterkste, U heers oor almal. Daarom kan U die regte besluite oor elkeen se lewe neem. En daarom kan ek nou by U pleit: sorg asseblief dat die regte dinge met my gebeur.” (Ps. 7: 8-9, Die Boodskap) Die Here ís in beheer. Die Bybel sê mos ook elders dat die Here weet as jy sit of opstaan, dat Hy bepaal of jy reis of oorbly.  Jy kan jouself onderwerp aan God se beheer, of jy kan dit teenstaan. Ek lees nou die dag dié aanhaling: “Faith is having the courage to let God have control.”  Ek dink egter mens het eintlik baie waagmoed nodig om nié die beheer aan God oorlaat nie! Dis tog net Hy wat die hele prentjie ken, wat die toekoms in Sy hand hou. Dis egter nie te sê  as mens net gelate oorgee aan die Here se beheer, dat jy ’n marionet aan ’n toutjie word nie. Neem jou besluite asof jy alleen verantwoordelik is daarvoor en laat terselfdertyd alles aan die Here oor asof Hy alleen verantwoordelik is – so sal jou wil in lyn kom met Sy wil. As jy die Here vra om jou besluite dieselfde as sy besluite te maak, sal Hy dit doen en kan jy gerus wees dat jy die regte pad sal vat, kan jy tevrede wees dat niks op daai pad sal wag wat Hy nie toegelaat het nie, waarvoor Hy jou nie voorberei het nie, waarvoor Hy jou nie die krag sal gee nie en waarvoor jy nie sal kans sien nie. By elke toe deur, kruispad, hobbel sal Hy staan om jou deur te help. By elke donker  hoekie sal Hy vir jou die lig aanskakel. Here, sorg asseblief dat die regte dinge met ons gebeur. ~ Wilna Botha, 07/08/2017

As jy wil weet hoe spesiaal jy vir die Here is, lees gerus Ps. 8:5-6 “... wat is die mensekind dat U na hom omsien? U het hom net ’n bietjie minder as ’n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon.” Verskeie Engelse vertalings gebruik die woorde glory and honour, majesty, beauty, splendour. Besef wie die Here jou gemaak het. Maar ... ons moet nou nie die hele dag net voor die spieël staan en daai kroon en onsself bewonder nie, nee, die kroon bring ’n taak en ’n verantwoordelikheid vir dié wat dit dra. Ons moet die kroon in die wêreld gaan dra, elke dag daar by die werk of waar jy jou ook al bevind. Dáár moet ons dade en ons woorde by ons kroon pas. Ons moet wys dat ons aan Hom behoort, ons moet wys hoe groot Hy is, ons moet Hom eer en terselfdertyd moet ons sorg vir alles wat Hy gemaak het, moet ons goed wees vir en goed doen aan ons mede-skepsels. Onthou jou kroon! ~ Wilna Botha, 09/08/2017

Ek is effens verras toe ek sien Psalm 9 begin met: op die wysie van “By die dood van die seun,” en dan trek dit weg met: met my hele hart wil ek U prys .... ek wil vrolik wees ... ek wil my verbly ... U Naam wil ek besing.  Kon dit enigsins ’n vrolike wysie gewees het as dit by die dood van die seun gesing is? Ek het al gehoor dat mense sê: ek kan nie nou ’n loflied sing nie, ek kan nie onder hierdie omstandighede bly en dankbaar en vrolik wees nie. Gisteraand het ek weer geluister na die bekende Leonard Cohen lied “Hallelujah”, waarin hy sê: “And even though it all went wrong, I’ll stand before the Lord of song, with nothing on my tongue but Hallelujah.” Al was hulle in die tronk, lees ons in Hand 4:25-26 dat Paulus en Silas hallelujah op hulle lippe gehad het. Al was daar niks meer oor en al het alle hoop verdwyn, het Habakuk ge-hallelujah met: “nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder.” (Hab. 3:18) Om die lof van die Here te besing en Hom te prys, help mens om te fokus op wie Hy is en nie op wat Hy vir jou kan doen nie. Dit skuif jou gedagtes weg van jou probleme en vestig dit op Sy krag. Dit help jou om te besef dat Hy almagtig, ewig en in beheer is. Dit verkondig dat Hy sal voorsien, dat Hy uitkoms sal gee, dat Hy alles ten goede sal laat meewerk. Dit bely dat jy in vertroue alles aan Hom oorgee ... ja, selfs al is daai loflied op ’n treurige wysie. Met my hele hart wil ek U prys ... (Ps. 9:2) ~ Wilna Botha, 14/08/2017

“Wat die Here sê, dit bedoel Hy. Sy beloftes is eg. Hulle is soos goud wat in ’n vuurwarm oond skoongebrand is. ’n Mens kan daarop reken.” (Ps. 12:7, Die Boodskap) Die Bybel sê ook elders dat God nie lieg nie, Hy is nie soos ’n mens wat van plan kan verander nie, Hy is getrou aan Sy woord. Daarom kan ons met sekerheid weet dat wat God ookal belowe het sal Hy deurvoer. Wat God sê, sal gebeur. Hy is gister, vandag en môre dieselfde. “Ek, die Here, het nie verander nie.” (Mal 3:6) Daar word gesê dat daar meer as 3000 beloftes van God in die Bybel is (sommige mense maal dit nog met 10!). Dit beteken dat daar amper 10 beloftes vir elke dag van die jaar is. Baie daarvan het ’n voorwaarde, maar die meeste daarvan is net God se opregte beloftes van sorg, voorsiening, liefde, genade, redding, verlossing, vertroosting vir ons as Sy kinders. Maak oop jou Bybel en soek daai één belofte wat vir jou vir vandag bedoel is en glo dit, want God sál  Sy beloftes waar maak. ~ Wilna Botha, 17/08/2017

“Hoe lank gaan U my nog alleen los, Here? Gaan U my aanmekaar bly vergeet? As U my nie help nie, voel dit of my swaarkry ’n ewigheid lank aanhou. Hoe lank gaan U niks aan my krisis doen nie? Hoe lank moet ek myself uit hierdie moeilikheid probeer kry? Ek is moeg daarvoor om aanmekaar bekommerd te wees. Hoe lank gaan my probleme my nog teen die planke vasdruk?” Sjoe, was jy ook al so in ’n hoek gedruk? Het jy ook al so radeloos en moedeloos en alleen gevoel? Het jy ook al gevoel of die Here anderpad kyk terwyl jy knak onder jou probleme? Het jy dalk ook al so met die Here baklei en Hom verkwalik vir jou situasie... en dan báie skuldig gevoel daaroor? Hierdie woorde kom uit Ps. 13. Dawid se woorde. ’n Man na God se hart, word hy genoem. Lyk my dis heel “normaal” as kinders van die Here ook onder allerhande ellendes lei. Lyk my dis heel “normaal” om by die Here te gaan afpak. Lyk my dis heel “normaal” om soms met Hom te baklei. Maar ... lees die res van die Psalm en jy sal sien dat Dawid homself weer vinnig regruk, want hy draai sy oë na dié Een wie se liefde oneindig is, dié Een wie se genade groot is, dié Een wat uitkoms bring, dié Een op wie hy kan staatmaak. Hy bely: “Maar ek weet: op U liefde kan ek staatmaak. In my binneste borrel dit van vreugde omdat U my uit my moeilikheid help. Ek sal die Here se Naam met vreugde grootmaak omdat Hy so goed is vir my!” (Ps. 13:6) ~ Wilna Botha, 22/08/2017

“Dit is net ’n baie dom mens wat dink God is nie daar nie.” Dis nie ek wat so sê nie, hoor, dis Ps. 14:1.  In een van die Engelse Bybels sê dit: “the fool has said in his heart: there is no God.” Baie mense in ons tyd sê dit nie net in hulle harte of gedagtes dat daar nie ’n God is nie, dit word openlik verklaar, op Facebook uitgebasuin en in boeke geskryf. Hulle dink hulle het God nie nodig nie. Hulle dink dit is hulle eie vermoëns wat hulle suksesvol maak. Hulle dink hulle kan doen en sê wat hulle wil en daarmee wegkom. Hulle hou hulle slim en onafhanklik en arrogant en onaantasbaar.  Hierdie dwaasheid bring mee dat hulle neerkyk op Christene, dat hulle hoogmoedig en selfvoldaan is, dat hulle baljaar in die sonde, dat hulle kul en kroek en konkel waar hulle kan, dat hulle God verag, maar ... as mens mooi kyk sal jy ook sien dat daar uiteindelik ’n groot onvrede, ontevredenheid,  bitterheid en leegheid in hulle harte is. Ek bid maar net dat ware wysheid vir ons almal sal deurbreek sodat ons God as God sal ken en bely en dien met ons hele hart. “Om die Here te dien, dit is wysheid, om die kwaad te vermy, dit is insig.” (Job 28:28) ~ Wilna Botha, 24/08/2017

“Here, wie is werd om by U te mag wees? Wie mag in U huis instap, daar waar U spesiaal teenwoordig is?” So vra Dawid in Ps. 15:1. Hy weet die Here is heilig, Sy tempel is heilig en Sy teenwoordigheid moet versigtig opgesoek word. Hy weet dat daar vir hom eers reinigingsrituele moet plaasvind en offers gebring moet word, voordat hy in die Here se teenwoordigheid kan kom. Hy weet wat die Here se voorskrifte behels, daarom antwoord hy self met: “Iemand wat so optree dat U heeltemal tevrede is met wat hy doen ... dit is iemand wat nie skinder nie en ook nie sy vriend in die rug steek nie. Dit is iemand wat nie dinge sê wat iemand anders kan seermaak nie ... Hy hou sy woord, al kos dit hom soms duur. Hy maak nie onnodig geld uit ander nie. Hy laat hom ook nie omkoop om verkeerde dinge te doen nie.” (Ps. 15:2-5, Die Boodskap) Nou ja, gemeet aan hierdie lysie, wie van ons sal dit kan waag om in die Here se teenwoordigheid te kom? Geen wonder dat mense buite die kerk soms praat van die skynheiliges in die kerk nie. Gelukkig lees ek ook in 1 Kor. 6:11 “Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God.” Ons kan vir Dawid antwoord: ons is gewas, ons is skoon en heilig, daarom kan ons met vrymoedigheid in God se teenwoordigheid ingaan. “Ons het dus nou vrye toegang tot die heiligdom,” sê Heb. 10:19. Kom ons gaan! “Laat ons tot God nader met ’n opregte hart en met volle geloofsekerheid.” (Heb. 10:22) ~ Wilna Botha, 29/08/2017

“Here, U is my lewe. U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af. ’n Pragtige deel is vir afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi.” (Ps. 16: 5-6) ’n Pragtige deel is vir my afgemeet! Wat ek het, het die Here vir my uitgekies, afgemeet en verniet gegee. Wat ek ontvang het, of dit nou op Geestelike of materiële vlak is, kom van Hom af. Geskenke wat Hy sélf vir mý persoonlik uitgekies het. Hoe kan ek ontevrede wees met wat Hy vir my afgemeet het? Hoe kan ek wat ek uit Sy hand ontvang het bevraagteken, dit minag, verwerp of dink dis minderwaardig? Dikwels begeer mens ’n mooier deel, ’n groter deel, ’n lekkerder deel, ’n makliker deel, maar onthou: die grootste geskenk is  die lewe! Die wonderlikste geskenke is Sy genade, Sy liefde, Sy versorging, Sy nabyheid, Sy troos – daai is die mooiste dinge in die lewe, daai is die dinge wat mens die gelukkigste maak. “Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo,” sê Jak 1:16. Ja, wat ek is, is net genade, wat ek het, is net geleen. Wat ek ontvang het, is vir my mooi en ek aanvaar dit met dankbaarheid. ~ Wilna Botha, 31/08/2017

“God, ek bid nou tot U, want U kan my help. Hou my styf vas. Help my in my nood.” (Ps. 17:5-6) Beskerm my soos die appel van u oog, steek my weg in die skaduwee van u vleuels, so lees vers 6 verder. Jes. 30:19 sê die Here sal ons gebed verhoor sodra Hy dit hoor. Hy wil dit hoor! Ons moet bid - Hy sal hoor. Ons moet vra - Hy sal gee. Ek bid want ek weet die Here kan my help – dit vra geloof en vertroue in die Here, in sy wil en vermoë om my te help en om in my nood te voorsien. Gebed wérk. Dit werk veral wanneer jy voel of die Here nie luister nie, as dit voel of jou gebede nie vêrder as die plafon gaan nie. Dis juis dán dat ons weer ’n keer moet bid, dat ons moet volhard in gebed. Dis juis dán wanneer ons daar in die skaduwee van Sy vleuels moet gaan wegkruip totdat Sy vrede jou hart en gedagtes kom volmaak. “So whenever we are in need, we should come bravely before the throne of our merciful God. There we will be treated with undeserved kindness, and we will find help.” (Heb. 4:16) ~ Wilna Botha, 05/09/2017

“O Here, U is die lig in my lewe. As U by my is, verdwyn die donker. Dan sien ek vir alles kans. Ek sal ’n hele bende storm. Niks sal my kan keer nie.” (Ps. 18:29) Ek het al dikwels mense gesien wat baie siek is, maar daar is steeds ’n lig in hulle oë, mense wat hartseer is oor die dood van geliefde, maar daar is steeds ’n glinstering in hulle te sien, mense wat hulle werk verloor het, maar daar is steeds ’n vonk in hulle hart – dís die Here se lig in hulle wat daai verskil maak, wat hulle moed gee vir hulle situasie, wat hulle sterk maak vir die struikelblokke wat voor hulle lê. In die donker tye van bekommernis, in die diepte van depressie, in die eensaamheid van gebroke verhoudings, in die dolle duisternis van die alledaagse probleme – steek jou hand uit na die Ligskakelaar. Die Here is by jou. Die donker sal verdwyn. Jy sal weer kans sien vir alles. ~ Wilna Botha, 07/09/2017

“As jy opkyk na die hemel, sien jy hoe die ruimtes daar bo God se grootheid uitstraal. Sy eer is oral in die lug opgeteken. In die blou hemelruim sien jy hoe mooi God se handewerk alles rondom ons versier. Alles wat Hy gemaak het, vertel hoe belangrik Hy is. Dis of die een dag met die volgende dag praat en die een nag vir die volgende nag fluister.” (Ps. 19:2-3, Die Boodskap) Alles wat Hy gemaak het, vertel hoe belangrik Hy is! ’n Blom eer die Here met sy blom-wees. Die sterre met hulle ster-wees. Die berge met hulle berg-wees. So eer alles die Here deur te wees wat Hy hulle gemaak het om te wees. Dit geld natuurlik vir ons ook. Dis vir my so ’n mooi gedagte dat alles, maar alles onophoudelik buig en ruis en skitter en sing tot eer van die Here. En soos die een dag vir die volgende dag herinner dat God in beheer is en alle eer verdien, soos die een nag dit fluister vir die volgende nag, so moet ons ook vertel en mekaar herinner aan God se grootheid, Sy almag en Sy belangrikheid in ons lewens. ~ Wilna Botha, 12/09/2017


Ps. 19:13 sê so ’n waar ding: “Ongelukkig sien ’n mens nie altyd die dinge raak wat jy verkeerd doen nie.” Partykeer raak mens so gewoond aan die verkeerde dinge wat jy doen, soos bv. jok, skinder, verneuk, vloek, neerkyk op ander, liefdeloosheid ens. dat jy nie meer agterkom jy doen dit nie. Daai vuil kolle is so deel van jou, jy sien dit nie eers meer raak nie. Dalk sê jy: ag, almal doen dit, ek kan netsowel ook. Dalk sê jy: ag, dis nie so erg in vergelyking met wat sus en so aanvang nie. In die hedendaagse tye raak ons maklik afgestomp vir die sonde wat in ons lewens heers. Ek vra maar net weer vandag die Here om deur die Heilige Gees my gewete sensitief te maak, ’n wag voor my mond te sit, my te weerhou van slegte dinge waaraan ek so maklik kan meedoen. Ek maak Ps. 19:13-14 vandag my opregte gebed: “Here, vergewe al my foute waarvan ek nie weet nie. Keer my as ek van plan is om verkeerde dinge te doen. Moenie dat slegte dinge oor my lewe baasspeel nie. As U my help, sal ek sonder foute wees.” (Ps. 19:13-14) ~ Wilna Botha, 14/09/2017


In Ps. 20:2-5 lees ek hierdie baie mooi seëngebed: “Mag die Here jou gebed verhoor as dit met jou swaar gaan. Mag die God van Jakob jou beskerm. Mag Hy jou spesiaal help en bystaan. Mag Hy jou gee wat jy graag wil hê. Mag Hy jou planne suksesvol laat wees.” Ons kan mekaar met hierdie woorde seën en dit sal ’n bindende seën wees. Die woorde laat my baie dink aan die priesterlike seën waarvan ons in Num. 6:22-27 lees en daar sê dit as die priesters die volk só seën, sal die Here hulle seën. As gelowiges  is ons nou priesters en daarom kan ons hierdie seën oor onsself en oor ons mense bid en met oop arms die seën van die Here verwag. Onthou ook om jou vyande te seën.  Dink net watter verskil dit in daai persoon se lewe kan maak. Dink net watter verskil dit in jóú lewe kan maak. Dalk net, kom die seën wat jy in opregtheid uitspreek, ook terug na jou toe. “Moenie kwaad met kwaad vergeld of belediging met belediging nie. Inteendeel, antwoord met ’n seënwens, want daartoe is julle geroep, sodat julle die seën van God kan verkry.” (1 Pet. 3:9) Mag die Here jou seën! ~ Wilna Botha, 20/09/2017

“Mense sal vir hulle kinders van die Here vertel. So sal die nageslagte van Hom weet. Hulle sal opgewonde wees om in Hom te glo. Almal sal bymekaarkom en oor die Here se goeie dade met hulle kinders praat.” (Ps. 22:31-32) Dit is die Here se wil dat ons ’n nageslag moet hê wat Hom ken en eer en dien. (lees Mal 2:15). Ons geloof moet as’t ware oorgedra word op ons kinders, dit moet afgee op hulle, hulle moet dit van ons erf. Uit die aard van die saak moet ons nie net praat oor die Here en vir ons kinders “preek” nie, ons optrede moet beaam wat ons sê. Kinders van gelowige ouers is natuurlik nie vanselfsprekend gelowiges nie. Hulle moet sélf kies vir die Here. Hulle moet sélf ’n persoonlike verhouding met Hom hê. Maar kinders van gelowige ouers het beslis dié voordeel dat God se seën en beloftes reeds vir hulle gereed is. “Wat God belowe, is vir julle en vir julle kinders ...” (Hand 2:39). Sy genade is beskikbaar van geslag tot geslag. Hy sê: “Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My lief het...” (Eks 20:6) Mag ons kinders opgewonde wees om in Hom te glo. ~ Wilna Botha, 25/09/2017

“Die Here sorg vir my soos ’n herder wat sy skape oppas; ek het niks meer nodig nie.” (Ps. 23:1, Die Boodskap) Wil jy nie maar soos ’n skaap agter Jesus aanloop nie? In volle vertroue dat Hy vir jou sal sorg op so ’n manier dat jy niks meer nodig het nie. Met volle sekerheid dat Hy die beste vir jou in gedagte het. Met volle tevredenheid dat Hy jou veilig sal hou en na groen weivelde sal lei. Met volle gerustheid omdat Hy jou op jou naam roep, dat Hy jou ken, dat Hy weet waar jy is en waarmee jy sukkel. Met volle oorgawe omdat Hy die Goeie Herder is wat sy lewe vir jou afgelê het. Blindelings. Sonder vrae. Sonder voorbehoud. Sonder spyt. As jy dalk afgedwaal het, kan jy verseker weet dat Hy 99 ander sal los om jou te kom soek. Hy sal jou op sy skouers terugdra, jou wonde verbind en weer vir jou vrede gee. “Ek sal dié soek wat weggeraak het, dié terugbring wat weggedwaal het, die wonde versorg van dié wat seergekry het, die swakkes help.” (Eseg. 34:16) ~ Wilna Botha, 27/09/2017

“Alles wat die Here leer, kan in een sin opgesom word: Hy wil hê dat almal wat in Hom glo, Hom moet liefhê. Hulle moet Hom dien. Almal moet dit doen.” (Ps. 25:10, Die Boodskap) Daar het jy nou jou lewensdoel, jou droom, jou visie in een sin! Daar het jy die Here se wil vir jou en vir ons almal in een sin! Dis iets waaroor mense baie wonder, waaroor baie gepreek word en waaroor baie boeke geskryf word: wat is die Here se wil vir my, of wat is my skeppingsdoel? Sy wil is dat ons Hom moet liefhê, Hom moet eerste stel, Hom moet dien – met ons hele hart, ons hele verstand en al ons kragte. Dit laat my onwillekeurig dink aan Matt. 6:33 “Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God...” Baie keer dink mens om die Here te dien beteken om allerhande goeie goed te doen, soos om te bid, kerk toe te gaan, armes te help, geld weg te gee, betrokke te wees in bedieninge van jou kerk, ens. Al daai dinge is goed en belangrik om te doen, maar ek het al self ervaar en dit dikwels gesien dat jou bediening groter kan word as jou liefde vir die Here; dat jou bediening meer plek in jou gedagtes en in jou dagboek kan inneem as die Here self. Nou wonder ek... wat sal ek en jy vandag sê as die Here vir ons, soos vir Petrus, vra: “Het jy My baie lief?” ~ Wilna Botha, 02/10/2017

Ek is besig om so geleidelik deur Psalms te werk. Dit val my op hoe dikwels Dawid en die ander skrywers hulle lot bekla, hulle probleme uitspel, hulle trane voor die Here uitstort. Hulle roep uit na Hom  en smeek vir Sy hulp, vir Sy vergifnis, vir Sy deurbrake. Soms klink dit heel swartgallig, depressief en sonder hoop. Maar, elke liewe keer eindig dit met die belydenis van nuwe vertrou in die Here, met erkenning van die Here se grootheid en sorg en genade, met lofprysinge oor die Here se hulp en redding. Soos hier in Ps. 27: “Die Here help my deur my donkerste krisis. Sy hulp is soos ’n lig wat ’n mens in ’n pikdonker kamer aanskakel. Omdat Hy my help, is daar niks waarvoor ek bang is nie. Die Here beskerm my, waarvoor sal ek dan bang wees?” (Ps. 27:1) en “Dis net my geloof in die Here wat my staande hou. Sy goedheid dra my elke dag van my lewe. Stel al jou hoop op die Here! Hou moed! Moenie tou opgooi nie; bly glo in die Here!” (Ps. 27:13-14) ~ Wilna Botha, 04/10/2017

Die stem van die Here is magtig en vol majesteit. So sê Ps. 29:4. Ons weet dat Hy alles geskep het net met die spreek van ’n woord. Sy stem was magtig genoeg om alles, ja álles in die skepping tot stand te bring. As Hy praat, gebeur dinge. As Hy praat gehoorsaam see en wind en donderweer. “As die Here praat, is dit soos weerlig wat bome van bo tot onder oopkloof; ja, as Hy praat, laat die dreuning die grootste berge soos jong bokkies rondhuppel. As Hy iets sê, is dit soos die weerlig wat slaan en dan bewe die verste woestyne.” (Ps. 29:5-7, Die Boodskap). As God sy stem laat hoor, smelt die aarde weg, (Ps. 46:7). “Hoor hoe bulder die stem van God, hoe dreun dit uit sy mond!” (Job 37:2) En dan is daar ’n ander kant. Die sagte fluistering in die windstilte, waarvan ons in 1 Kon 19:12 lees. Die sagte fluistering as Hy jou op jou naam roep. Die sagte uitnodiging as Hy sê: kom na My toe almal wat uitgeput en oorlaai is en Ek sal julle rus gee. Die sagte versekering as Hy sê: Ek spreek jou vry. Softly and tenderly Jesus is calling... en as jy sy stem hoor en oopmaak, sal Hy inkom en saam met jou ’n feesmaal hou. (Openb. 3:20) ~ Wilna Botha, 09/10/2017

“Here, my God, ek het gebid dat U my moet help. Toe het U my gesond gemaak. Here, U het my uit die dood teruggeruk na die lewe toe. Ek het nie doodgegaan nie.” (Ps. 30:3-4, Die Boodskap) Ai wat ’n getuienis van die Here se werking as Geneser. Hý is die een wat uitkoms kan bring wat medici verras. Enige genesing is ’n wonderwerk en kom van die Here af, al is dit deur ’n operasie, deur chemoterapie, deur pille, ’n pleister, salf of wat ook al. Enige genesing maak ons dankbaar en laat ons lofliedere en eerbetuigings teenoor Hom jubel. Maar wat nou as iemand gebid en gesmeek het, maar genesing kom nie ...? Daai is nou een van die moeilike vrae waarmee baie van ons worstel. Onthou net daar is nie ’n gebed-resep waarmee ons God kan afpers of manipuleer om gesond te maak nie. As jy gebid het vir genesing en jy word nie gesond nie, is daar beslis nie fout met jou gebed of met jou geloof nie en is die Here beslis nie doof vir jou gebede nie. Dis nie ons gebed wat iemand genees nie, dis God wat genees. “Besef dit tog: Ek, Ek is die Here! Naas My is daar geen ander God nie. Ek maak dood en Ek gee lewe. Ek maak siek en Ek maak gesond.” (Deut. 32:39)  Ons mag en móét bid vir genesing en aanhou bid en weer bid in afhanklikheid en met ’n verwagting. En dan moet ons rus in Sy wil, Sy liefde en Sy teenwoordigheid en tevrede weet dat Sy genade genoeg is. ~ Wilna Botha, 11/10/2017

“Kyk maar: iemand kan nog een aand hartseer wees en huil, maar die volgende oggend is hy vol blydskap. Dis net die Here wat so iets laat gebeur.” (Ps. 30:6) Die sleutel-frase is: dis nét die Here wat so iets laat gebeur. As mense treur of moedeloos is of siek is sonder die Here in hulle lewe kan hulle maklik bly vassit in die donker drukgange van die lewe. Maar ons sal nie treur soos mense sonder hoop nie, want ons het die Here aan ons kant. Ons sal elke môre nuwe genade en nuwe hoop en nuwe moed ontvang – op bonatuurlike wyse. “Daar is geen einde aan Sy ontferming nie, dit is elke môre nuut.” (Klaagl. 3:23)  Jesus het ook so gesê vir sy dissipels in Joh. 16:20: “Maar julle gaan nie lank hartseer bly nie. Elke stukkie hartseer sal in ’n stuk blydskap en vreugde verander.”  “Vir hulle wat in Sion sit en treur, gee Hy feesklere in ruil vir begrafnisklere. Hulle sal ophou treur en baie bly word. Hulle moedeloosheid sal plek maak vir vrolikheid.” Mag dit vir jou ook so wees! Hou moed, want môre sal die son weer skyn. ~ Wilna Botha, 16/10/2017

“Kom laat ek julle iets leer! Ek gaan julle wys hoe om die Here te dien. Is daar iemand onder julle wat lief is vir die lewe? Wie wil graag die goeie dinge van die lewe geniet en gelukkig wees? Jy? Pas dan op om nooit verkeerde dinge te sê nie! Moenie oneerlik wees en ander mense met leuens verkul nie. Vermy slegte dinge. Doen net goeie dinge aan ander. Lewe in vrede met mense.” (Ps. 34:12-15, Die Boodskap) As die teks sê: kom laat ek julle iets leer, voel mens sommer aan dat hier ’n “preek” gaan volg.  En in hierdie geval, ’n 3-punt preek! As jy lief is vir die lewe en goeie dinge wil beleef en gelukkig wil wees (punt 1), moet jy die Here dien (punt 2), deur goeie dinge te doen, dié dinge wat die Here wil hê jy moet doen, dié dinge wat Hom sal laat glimlag (punt 3). Punt 1 en 2 is lekker om te hoor en ons hou sommer baie van sulke preke.  Ons wil hoor van genade en liefde en vergifnis. Ons wil hoor  van geluk en ’n lekker lewe. Maar, as dit kom by punt 3, sluit ons baie keer af, want ons wil nie luister na ’n klomp moets en moenies nie.  Ons wil mos lewe soos ons wil. Ons wil maak soos almal maak. Ons wil sê wat ons wil. Ons wil vir onsself leef en nie begaan wees oor ons naaste nie. Miskien moet ek maar liewer die “ons” waarvan ek praat vervang met “ek”.  Ek gaan weer opnuut punt 3 van die preek vandag ter harte en vra die Here om my daarmee te help: plaas ’n wag voor my mond; laat my ja ja wees, bly weg van slegte dinge, wees goed vir ander, leef in vrede met almal. ~ Wilna Botha, 18/10/2017

“U oorlaai ons met goeie dinge. U liefde vloei soos ’n rivier oor ons hele lewe. U alleen gee lewe. (Ps. 36:8-9, Die Boodskap) Die Here se liefdestroom vloei en niks of niemand kan dit keer nie. Hy ís liefde. Dié  nimmereindigende rivier ontspring by Hom. Dit droog nooit op nie. Dit gee lewe vir dié wat daarin staan. Dit bring vrug voort in die lewe van dié wat daarvan drink. Dit bring genesing en verfrissing. Dit maak skoon. Dit maak nuut. Kom en ervaar die rivier van liefde: “... dip your heart in the stream of life, let your pain and your sorrow be washed away.” ~ Wilna Botha, 24/10/2017

“Stel jou lewe elke dag in die Here se hand. Glo in Hom.” (Ps. 37:5, Die Boodskap) Dis die beste manier om jou dag te begin en om dit uur vir uur voort te sit. Plaas jouself bewustelik in die Here se hand. En blý daar! Herinner jouself kort-kort daaraan dat Hy by jou is. Kies om te glo dat Hy in beheer is van elke detail van jou doen en late. Vertrou dat Hy jou sal help, soos Hy belowe. Verwag dat Hy vir jou deure sal oopmaak en geleenthede sal verseker, dat Hy jou voorspoedig sal maak in alles wat jy aanpak en dat Hy alles ten goede sal laat meewerk. Weet vir seker dat Hy vir jou sal sorg en jou sal beskerm en jou sal seën.  Wees gerus dat jy in veilige hande is. ~ Wilna Botha, 26/10/2017

So, het jy toe ook vandag swart gedra om jou ondersteuning te wys aan die boere in Suid-Afrika? Swart om sê: tot hier toe en nie vêrder nie. Swart om te sê ons dink aan dié wat hulle lewens verloor het, dié wat bang is, dié wat al handdoek wil ingooi. Swart om te sê: hou moed, die Here sien, die Here help. Ek het. Elke keer as ek my swart weerkaatsing êrens gesien het, het dit gepaard gegaan met ’n skietgebed, ’n smeekroep, ’n sug na die Here vir hulp en uitkoms en deurbraak. Ek het gepleit vir Sy liefde, vergifnis en genade – vir ons almal, vir óns  liefde, vergifnis en genade vir mekaar. Ek het gebid: “Gee my weer nuwe moed! Sê hard en duidelik vir my: “Ek sal jou help.”  (Ps. 35:3, Die Boodskap) Ek glo en hoop: “Al tref duisende rampe mense wat die Here lief het, Hy sal hulle nooit alleen los nie. Uit elke krisis sal Hy hulle red. Hy beskerm sy kinders tot in die fynste besonderhede.” (Ps. 34:20, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 30/10/2017

“Ek is nou al oud, maar ek het nog nie gesien dat God se kinders ooit alleen is nie. Nêrens staan gelowiges op die straathoeke en bedel nie. Hulle kinders gaan slaap nooit honger nie. Gelowiges gee regtig om vir ander mense.” (Ps. 37:25, Die Boodskap) Dit klink mos nie reg nie, of hoe? Hier is iets fout... daar ís kinders van die Here wat eensaam en verstote is, daar ís kinders van die Here wat op die straathoeke bedel, daar ís kinders van die Here wat honger gaan slaap. Waar lê die probleem? Lê die probleem by die Psalm wat nie reg is nie, of by die Here wat nie na sy kinders kyk nie, of dalk by ons wat anderpad kyk? Ons wat selfsugtig is en net vir onsself leef? Ons wat vergeet het dat dit beter is om te gee as om te ontvang? Ons wat nie meer omgee vir die “geringstes” nie? Ja, ek weet in ons tyd is daar groot maatskaplike uitdagings, werkloosheid, dwelmmisbruik ens. Ja, ek weet nie almal wat bedel kan en moet gehelp word nie en ja, ek weet nie almal wat oënskynlik hulp nodig het, is eerlik en opreg met die aanwending van dít wat jy met hulle deel nie en ja, ek weet dat jy ook al verkul en misbruik gevoel het wanneer jy iemand gehelp het. Ek wil egter maar net weer met sagter oë kyk, met ’n oper hand leef en Jesus se woorde onthou: “Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringstes van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.” (Matt. 25:40) ~ Wilna Botha, 01/11/2017

“Toe het ek vir die Here gevra: Hoe lank sal ek nog leef? Ek wil weet hoeveel tyd ek nog oorhet!” (Ps. 39:5, Die Boodskap) Wou jy dalk ook al dié vraag vir die Here gevra het? Hoe lank het ek nog? Ek dink nie dis ’n vraag wat die Here vir ons sal antwoord nie. Hy het ons tye in Sy hand en nét Hy bepaal oor lewe en dood. Die Bybel sê ons is vandag nog hier en môre weg. Ons blaas so maklik die laaste asem uit. Ons is soos 'n damp wat 'n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn. Almal is ewe verganklik. Die Here sê nie hoeveel dae ons nog oor het nie, Hy sê wel dat ons dae maar relatief min is en dat ons die beste gebruik moet maak van elke geleentheid. Elke geleentheid vir goed wees en goeddoen moet ons aangryp. Elke geleentheid vir leer en werk moet ons gebruik. Elke geleentheid vir regmaak en herstel moet ons benut. Elke geleentheid om te vertel en te getuig moet ons aangryp. Elke geleentheid vir leef en geniet moet ons omhels. Ons het vandag. Doen wat jy moet doen, voor dit te laat is. Die lewe is té kort om nie elke dag ten volle te geniet en met oorgawe te lééf nie! ~ Wilna Botha, 06/11/2017

“Ek het vas geglo dat die Here my sou help en dit het toe gebeur. Ek het nie teen die dak vasgebid nie. Toe ek ernstig hulp gevra het, het die Here my gehelp. .. Hy het my uit die gemors opgetel. Nou is my lewe weer op die regte koers. Ek staan sterk. Hy het weer nuwe blydskap in my lewe gegee.” (Ps. 40:2-4, Die Boodskap) Dalk is jy nou ook in een van daai moeilike tye waar dit voel of daar nie lig aan die einde van die tonnel is nie, waar dit voel of jy teen ’n muur is, waar dit voel of alles buite beheer is, waar dit voel of die Here se hulp en uitkoms net nie betyds gaan wees nie. Hou moed, baie gelowiges was al daar. Baie voor jou is al op die randjie van die afgrond gered. Die Here se tyd is nie ons tyd nie en Hy sál betyds daar wees om jou uit die gemors op te tel, weer jou lewe op die regte koers te plaas, weer nuwe blydskap in jou lewe te gee. Terwyl jy wag: wees geduldig, hou aan bid, hou aan glo, hou moed, vermy negatiewe gedagtes en praatjies oor jou situasie, probeer om weg te kyk van jou probleem en op die Here te fokus, vul jou gedagtes met positiewe en opbouende dinge, trek mooi aan en sit jou lipstiffie aan, hou aan om te doen wat jy moet doen. “This too shall pass" en dan sál daar ’n terugkyk-dag kom waarop jy soos Dawid sal kan getuig: “Ek het vas geglo dat die Here my sou help en dit het toe gebeur.” ~ Wilna Botha, 08/11/2017

“Ek sê vir myself: Moenie nou moedeloos word nie. Vertrou net op God. Ek gaan Hom loof, al kry ek baie swaar. Dit is Hy wat my uit my swaarkry sal red. Hy is my God.” (Ps. 42:6, Die Boodskap) Hierdie presiese woorde herhaal weer in Ps. 42:12 en Ps. 43:5. Dis asof die skrywer homself moet oortuig, asof hy homself wil herprogrammeer met “moenie nou moedeloos word nie.” Die teenvoeter vir daai moedeloosheid oor jou gesondheid, oor die landsake en politiek, oor jou familie struwelinge, oor jou baas se onredelike eise, oor jou geldsake, is om op God te vertrou. Om jou oë na Hom te draai, jou fokus op Sý krag, hulp en uitkoms te plaas. Begin dan om Hom te loof, om al Sy wonderlike eienskappe te besing, om oor sy grootheid te jubel. Kyk, die Psalmskrywer maak ’n wilsbesluit om ’n loflied te sing ten spyte van sy swaarkry; dis as’t ware ’n offer en dit kom met moeite maar dit sal die wolk van moedeloosheid laat lig. Sien in jou geestesoog hoedat die Here  jou help, hoedat jy weer sterk word, hoedat verhoudinge herstel word, hoedat jou planne in plek val, hoedat die uitkoms aanbreek. Moenie hoop verloor nie! Moenie nou moedeloos word nie! ~ Wilna Botha, 13/11/2017

“Wees stil en weet Ek is die Here.” (Ps. 46:11, Die Boodskap) Ek het dié teks in ’n paar ander vertalings ook opgelees. Dit sê onder andere: Bedaar en erken...  Laat staan en weet ... Be at peace ... Calm down ... Stop fighting. In plaas van skarrel en soos ’n afkophoender rondhardloop, móét ons bietjie die rem aanslaan en in die stadige baan van die lewe ry, of nog beter, ons moet stilhou onder ’n koelteboom en by die Here kom rus. Ons moet afskakel en fokus op wie Hy ís, ons moet rustig raak sodat Hy sy vrede in ons harte kan deponeer, ons moet stilbly sodat ons sý stem kan hoor, ons moet ontspan sodat ons kan onderskei wat werklik belangrik is. Jes. 30:15 sê juis ook: Julle krag lê in stil wees en vertroue hê. Sit jou eie kennis, eie drome, eie planne bietjie op ys, hou op hardloop en baklei en streef na hoër, meer en beter en wees tevrede om die Here as Here van jou lewe te hê. "Step out of the traffic! Take a long, loving look at me, your High God, above politics, above everything." (Ps. 46:10, The Message) ~ Wilna Botha, 15/11/2017

“Sing, maak God groot met elke lied. Ja, sing en moenie ophou nie, want God is jou koning. Hy heers oor alles. Daarom moet ons liedere sing wat vertel hoe groot Hy is.” (Ps. 47:7, Die Boodskap) Ons is so bevoorreg om die mooiste prysliedere te hê wat ons in ons kerke en geestelike byeenkomste kan sing. Ons het duisende lofliedere wat op CD’s en DVD’s beskikbaar is. Ons kan letterlik oral en altyd ’n loflied op die lippe hê. En nee, jy hoef nie mooi te sing of noot te hou nie, dit gaan oor die woorde en die inhoud van daai lied en die gesindheid van jou hart wanneer jy dit sing. Mens is soms geneig om maar net saam te sing sonder om op te let na wat jy sing en wat dit werklik beteken. Partykeer wonder ek of dit nie dalk ydellike gebruik van die Here se naam is nie ...? Kom ons sing weer ’n slag uit volle bors en met ons hele hart terwyl ons verstand elke woord oordink oor die grootheid van ons God.  “My song will keep your fame alive forever ...” (Ps 45:17) ~ Wilna Botha, 20/11/2017

“... op die maat van musiek praat ek met julle oor God se geheime.” (Ps. 49:5, Die Boodskap) Het dit ook al met jou gebeur dat die Here gedurende die lofprysing of terwyl jy geestelike musiek luister ’n nuwe gedagte in jou hart laat posvat? So asof die Here dán spesiaal met jou praat. Onder die geklank van die musiek het hierdie Psalmskrywer een van God se geheime kom ontbloot. Dié geheim is dat geld niks werd is nie, dat God se guns en genade nie daarmee gekoop kan word nie, dat dit jou nie uit die dood kan red nie, dat alles wat jy bymekaargemaak het agter bly wanneer jy die tydelike met die ewige verwissel. “Wat help dit dat hulle die hele wêreld aan hulle voete het met hulle baie geld? Op die ou end stap hulle met leë hande uit hierdie wêreld uit.” (Ps. 49:17) En soos Pred. 4:8 sê: “Vir wie sloof ek my af en ontsê ek my die aangename dinge?” Ook hier kom dit tot niks. Dit bly 'n harde saak.” Gejaag na meer en meer geld en goed is ’n gejaag na wind. Doen wat jou hand vind om te doen en wees tevrede met wat jy het. As jy kos en klere het, moet jy daarmee tevrede wees sê 1 Tim 6:8. Die geheim is uit! Maak jou skatte in die hemel bymekaar waar mot en roes en diewe dit nie kan bykom nie – dís die tipe belegging wat al ons aandag behoort te geniet. Die opbrengs daarvan is verseker en dis groot! ~ Wilna Botha, 28/11/2017

“Weet julle watter geskenk maak my hart bly? As julle vir My dankie sê deur julle optrede.” (Ps. 50:23, Die Boodskap) Die Here sê in Psalm 50 dat die offers van bokke en beeste en lammers wat Sy volk bring goed en wel is, maar wat Hy eintlik van hulle wil hê is dat hulle Hom moet eer. Hy vra ’n offer van lof. Hy vra danksegging as ’n geskenk aan Hom. Hy vra dat ons woorde Hom besing en vertel hoe groot en goed en genadig Hy is. Ons woorde is egter nie genoeg nie. Hy wil hê dat ons optrede en lewenstyl een van dankbaarheid en eerbetuiging teenoor Hom moet wees. Ons offer van lof lê eintlik in dit wat ons dóén. Dit help nie daar is danksegging en lofprysing op ons lippe, maar ons optrede bevestig dit nie. Dit help nie ons gee vir die Here ’n geskenk wat met mooi papier en linte en strikke toegedraai is, maar binne-in is daar niks nie. Wat moet die inhoud van ons geskenk dan wees? Doen altyd wat reg is, wees regverdig, doen goeie dade aan ander, wees mededeelsaam, sê  die Woord. “Laat ons dan onophoudelik deur Jesus aan God ’n offer van lof bring ... Moenie nalaat om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want dit is die offers wat vir God aanneemlik is.” (Heb. 13:15-16); “Die Here verkies dat ’n mens doen wat regverdig en reg is eerder as dat jy offers bring.” ( Spr. 21:3) Is jy gereed met ’n geskenk vir die Here? ~ Wilna Botha, 30/11/2017

“Vat asseblief al die verkeerde dinge wat ek gedoen het ver van my af weg, Here. Kyk op ’n splinternuwe manier na my. Sien my weer as iemand wat niks verkeerds gedoen het nie. Vat alles wat sleg is uit my lewe uit ... My lewe moet skoon wees soos die witste wol.” (Ps. 51:9, Die Boodskap) Ek is, net soos Dawid, maar al te bewus van my swakhede en die berg verkeerde dinge wat ek al gedink, gesê en gedoen het. Ek voel skaam en jammer dat ek die Here keer op keer teleurstel met die foute wat ek maak. Hoe wonderlik is dit egter om vir seker te weet dat God my wél sien as iemand wat niks verkeerds gedoen het nie! Ek ís silwerskoon gewas. My gewete ís gereinig. Al die verkeerde dinge van lank gelede en van nou-nou net ís uitgevee en vergete. Dit alles deur God se genade en deur die bloed van Jesus wat my reinig en heilig. Ai, dis groot! En ja, dis gratis! En nee, ek verdien dit nie!  In 1 Kor. 6:9-10 word heelparty baie slegte goeters genoem waaraan mens skuldig kan wees en dan sê vers 11 dié wonderwerk: “Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God.” God sien my weer as iemand wat niks verkeerd gedoen het nie, want Hy kyk deur die bloed van Sy Seun. Ek is skoon soos die witste wol. ~ Wilna Botha, 05/12/2017

“Al wat U wil hê, is dat iemand laag voor U buig en kom sê hy is jammer oor sy verkeerde dade. God, U sal nooit iemand wat sleg voel oor sy sonde van U af wegstoot nie.” (Ps. 51:19, Die Boodskap) Dawid het ’n taamlike klompie verkeerde dade op sy kerfstok gehad en hy praat sekerlik hier van ervaring. God se liefde en sy genade staan soos ’n paal bo water en wat jy ook al verkeerd gedoen het in jou lewe, kan en sal Hy vergewe. Jesus het reeds die volle prys betaal. “Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.” (1 Joh. 1:9) Hy ís getrou. Hy sal altyd met oop arms gereed wees om ’n afgedwaalde weer terug te ontvang, al het hy vêr draaie gemaak in die modderige varkhokke van die lewe. Maak die besluit. Kom terug. Kom buig en erken jou foute, soos die verlore seun in Luk. 15: “Ek sal dadelik na my pa toe teruggaan en vir sê: Pa ek het teen God en teen Pa gesondig.” Jou hemelse Pa wag alreeds om saam met jou fees te vier. Hy sal jou nooit van Hom af wegstoot nie. ~ Wilna Botha, 07/12/2017

Klik hier vir nog meer heuningdruppels >


Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur en webruimte (www.heuning.co.za)