|
Daar is
verskeie maniere om ‘n naweek deur te bring en mens kan dit
met verskeie mense deurbring, maar ‘n kamp soos hierdie is
heeltemal in ‘n ander klas. Daar is nie veel sprake van rus
en batterye laat op die gewone manier nie, maar boeta,
hierdie ervaring verander nie net jou gemoed nie, dit
verander ook jou lewe.
Hierdie was die negende kamp vir persone met gestremdhede,
en elke kamp is so verskillend van die voriges, dat dit voel
soos ‘n eerste. Die gewone aktiwiteite was daar, nl. speel,
sing, gesprekke en hope pret, maar groepsdinamika maak dat
alles elke keer uniek is. Hierdie kamp het hoofsaaklik uit
“nuwe” kampers bestaan, wat gesorg het vir nuwe vriendskappe
sowel as nuwe uitdagings. Soos in die verlede het die
gestremde persoon ‘n helper saamgebring, maar uit die aard
van die verskeie tipes gestremdheid, het ons verbasend min
helpers gehad. Ons aanbied-span was ook kleiner as gewoonlik
en ons kon dus 23 gestremde persone akkommodeer, met 9
helpers en ‘n span van 8, wat die totaal op veertig persone
te staan gebring het. Net mooi genoeg om al die beddens vol
te maak.
Die kenmekaar sessie is groot pret, en kort voor lank weet
almal wie’s wie. Ons probeer met elke kamp iets nuut en
anders doen, en hierdie keer het Wally (die baas van die
plaas), ons veld toe geneem en geleer van al die inheemse
bome wat by Deo Volente Bush Adventures aangeplant is. Hoe
op aarde mens al die name kan onthou weet ek nie, maar
“Anna-boom” het sekerlik in almal se koppe vasgesteek. André Cillie van Living Ball het weer die speletjies kom hanteer
en ons het tussen pret en speel mooi geleer dat luister vir
die Here baie belangrik is.
Met ons tema, “Spec-savers: met watter bril kyk jy?”, kon
ons weer ontdek dat die Here met ‘n ander bril na ons kyk as
wat ons na onsself kyk. Ons kon ook deur ’n nuwe bril na die
Skepping kyk en ons het weer besef hoe magtig ons Skepper is
om hierdie heelal tot stand te bring. Nagmaal Saterdagaand
was ‘n belewenis en die sing van die Onse Vader onder die
sterrehemel het die aand mooi afgesluit. Sondagoggend het
weer met stiltetyd begin en daarna het ons ‘n erediens saam
met Ds Ian gehou. Pierre & Leon het ons met sang kom bedien,
waarna almal die pad heel teësinnig terug gevat het Pretoria
toe.
Ons het ernstig tot die Here gebid dat die kamp probleemvry
sou afloop en Hy het dit vir ons gedoen, waarvoor ons innig
dankbaar is. Die mense van Deo Volente het ons weer
ordentlik gevoed en die fasiliteite word elke keer net meer
en meer verbeter. Die liefde waarmee ons ontvang en versorg
word, verdien werklik ‘n applous en ons sal weer en weer
teruggaan.
Laastens kan ons net uit ons harte dankie sê vir die borge
wat die fondse beskikbaar gestel het sodat ons weereens die
kamp gratis kon aanbied. Dit is met die hulp van hierdie
mense dat soveel mense se lewens positief aangeraak word.
Ons dank die Here vir die manier wat Hy in mense se harte
werk.
~ Willem |
|
Op die naweek van
27/28 April 2013, het ek die 9e maal besef dat ek veel te
kort kom… Ek het dalk net te veel, waarvoor ek nie altyd
dankbaar is nie. Of dalk nie altyd “dankie” voor sê nie.
Hierdie kamp vir gestremdes het weereens my diep aangeraak,
met mense wat tevrede is met die sogenaamde “tekorte”
waarmee hulle moet saamleef. Ons het wel ‘n paar “ou”
gesiggies gehad om terug te verwelkom, maar daar was baie
nuwe vriende gemaak.
Wanneer Marietjie
hierdie mense die kans gun om “hulle hare bietjie te laat
hang” tydens die ysbreek sessie, is daar skielik ‘n gees en
opgewondenheid. Asof almal LUS is vir die kamp! OK – hulle
was al LANKAL lus vir die kamp – ek weet! Gert het ‘n
breinbesering in ‘n motorongeluk opgedoen so vier jaar
gelede. Maar – hy is baie gou om jou te vertel dat hy
daardie voorval as ‘n positiewe ding in sy lewe sien, want
nou het hy die geleentheid om ander mense te bemoedig met
woorde. Woorde – waaraan hy GEEN tekort het nie!! Elmar ly
aan Retinitus Pigmentosa, met die gevolg dat sy sig uiters
swak is – hy kan so klein bietjie uit die hoek van sy oog
dinge waarneem… Toe Wilna hom vra of hy haar kan sien, draai
hy sy kop dwars en sê dat sy bruin hare het. Maar – daardie
selfde aand, toe ek hom probeer wys waar Jupiter in die
lugruim sit, is die ligkontras net eenvoudig te min vir hom
om dit uit te maak. “Wys my weer waar”, sodat ek weer kan
probeer. Maar helaas – DIT is nie vir hom beskore nie.
Eendag, sal jy Jupiter wel kan sien, in sy volle glorie en
prag! Francois is blind gebore, maar vertel graag dat hy
“Web Pages” ontwerp. Dit mag vreemd klink dat iemand wat nie
weet hoe lyk rooi of blou nie, en ook nie waar dinge op ‘n
bladsy inpas nie, so ‘n werk het… Maar – hy is BAIE trots op
wat hy vermag.
Ek kan net vir
julle ALMAL sê dat julle special mense is, wat my
altyd sal bybly – of ons mekaar nou weer sien of nie. Die
Here seën julle almal… ~ Dennis |
|
Die kamp vir
gestremdes van die afgelope naweek het 32 volgepakte,
intense ure beslaan. Veertig mense het gekuier, gelag,
gespeel en ’n nuwe bril opgesit om na die Here, die Skepping,
hulleself en die lewe te kyk. Daar is nie eintlik woorde om
dié belewenis te beskryf nie... wat ek wel kan sê is dat
elke kamper, helper en spanlid geïnspireer huis toe is. Ons
het die Here se goedheid en liefde beleef. Elkeen is diep
bewus daarvan dat ons spesiaal is vir Hom, dat ons uniek
gemaak is en dat ons ’n doel en ’n roeping het in God se
koninkryk. “Turn your eyes upon Jesus, look full in His
wonderful face, and the things of earth will grow strangely
dim in the light of His glory and grace” is die refrein wat
in my hart bly draal... ~ Wilna |
|
Dit was vir my ‘n
groot voorreg om om die kamp te kon bywoon! Ons het baie
nuwe mense ontmoet en verhoudings gebou en die mense voel al
klaar soos my familie. ‘n Vibe van gasvryheid het ons van
die begin af gevat en dat almal gedwing was om jouself oop
te stel vir almal en alles wat daar sou gebeur. Ek glo dit
het ons in staat gestel dat elkeen wat die kamp bygewoon
het, ontvanklik vir die geestelike sessies kon wees en iets
daaruit vir homself kon haal. Ek wil net vir oom Willem en
tannie Wilna sê dat dit wat ek van hulle menswees beleef
het, baie inspirerend vir my was. Dit is nie maklik om uit
jou comfort zone te beweeg en sommer iets aan te pak waarvan
jy niks weet nie, so was dit ook vir hulle. Deur hulle
wilskrag en genade het hulle daarmee deurgedruk en so met
tyd geleer hoe om mense met gestremdhede te benader. Ek wil
net uit my hart uit vir hulle dankie sê dat ek so normal kon
voel. Die feit dat oom-hulle oom-hulle se fear ge-face het,
het tot gevolg gehad dat die onsekerheid en bang verdwyn en
daar soveel ruimte vir ons was vir groei en om met oorgawe
deel te neem aan al die aktiwiteite. Die kamp was baie
betekenisvol vir my en ek is baie dankbaar vir die
geestelike intimiteit wat ek ondervind het, dit sal lank by
my bly. Ek weet die Here seën al die lede van die liggaam
wat so hard gewerk het om die kamp suksesvol te maak. Baie
dankie! ~ Marita Erlank |
|
I was inspired by a
friend to go on this disability camp, and was this one of
the best weekends of my life!! I am at a point in my life
where I am trying to do new things and seizing all the best
opportunities that comes my way, if you ever saw the movie
“Yes man”, you’ll know what I am talking about. I went to
the camp with an open mind and a positive attitude. The
organizers made it very easy to keep that mind set, I barely
had to try. Positivity, friendliness and caring, is a few
of the many awesome characteristics of this amazing
experience!!
And I know that this
weekend would not have been possible without the helpers,
organizers, Wally and his epic farm and all the listeners of
Rippel that contributed finances. Thank you all so much! May
the Lord bless you and your loved ones. A few people I want
to thank specifically for there inspiration and help: Marita,
Cornel, Lindie, Dennis, Willem and Wilna. I will be grateful
for ever and ever. I am posting this with lots of love. ~
Elmar Botha. |
|
Hier is my terugvoering van die kamp-hoe ek dit beleef het.
Die beste was dat almal Jesus-karakter uitgeleef het. Almal
het so wonderlik saamgewerk. Wat nog fantasties was is die
Jesus-Sport met die verskillende kleur spanne. Swart-elke
mens doen steeds sonde, maar Jesus vra ons om voortdurend na
volmaaktheid te strewe. Hy belowe ons hulp-HY is die Bron
Van Alles en Die Bron Van ons Lewe. JESUS is die Asem van
ons lewe. Ons beleef daagliks Sy Wonderwerk (deur asem te
kan haal). Rooi-Vader Heer het ons só liefgehad dat Hy Sy
Enigste Seun, Jesus gestuur het om vir ons te sterf, die
sleutels van die hel in oorwinning te gaan afvat van die
duiwel en ons Sy opstandingskrag te gee. Wit-vir Sy Reinheid.
Groen-Geestelike groei na Volmaaktheid, want Jesus wil dit
so hê, en dit is hoe ons ons liefde, uit dankbaarheid aan
Hom kan bewys. Ek glo dat nie ek, maar die Heilige Gees met
my is om hierdie Waarheid te kan getuig. Al my eer en lof
kom die Drie Enige God toe. My naam is in Sy Handpalm
geskrywe en kyk nou na jou handpalm-Sy Naam se 1ste letter
is in elke mens se handpalm gegrafeer Y vir YAHWE. My naam
Cornelia beteken: gaan vertel, dit wil sê gaan getuig hoe
goed my SKEPPER vir my is. Die 'brille'-tema was reeds in my
lewe betrokke, ek moes juis kamp toe kom sodat YAHWE, die
Here God my kon bewus maak daarvan dat ons die Jesus-bril
moet aantrek om te kan sien hoe God ons sien deur Sy Ewig
Liefdevolle Vaderhart. Een woord vir die kamp: Awesome!
~Corrie |
|
|