|

|
|
|
|
Hoe
aangenaam is U Woord, soeter as heuning in die mond
Heuning is 'n rusplekkie, 'n kuierplekkie, weg van die
sorge van die lewe, weg van die gejaag en gewoel en gewerskaf, weg van
al die gestoei om te oorleef.
Hier kan jy soet druppels uit 'n heuningkoek kom kry, en versadig word met
heuning uit 'n rots, dié Rots, Jesus Christus.
Ons wil jou uitnooi om rustig te kuier en weer en weer terug te kom.
|
|
|
|
|
|
|
Lees gerus
enige van ons onlangse skryfsels in die tabel hieronder ..... |
|
|
10 Desember 2025
Afrikaans is 'n wonderlike taal.
Soms kan 'n paar woorde iets meer kragtig omskryf as 'n hele opstel,
en soms struikel jy oor 'n paar woorde en die diepte en betekenis
daarvan tref jou diep.
Ons lees in Genesis van Isak se afsterwe, en hierdie teks is bekend.
Gen. 35:28-29 AFR83
"Isak het honderd en tagtig jaar oud geword en toe is hy dood. Hy
het gesterf nadat hy oud geword en 'n vol lewe gehad het. Sy twee
seuns Esau en Jakob het hom begrawe."
Ek is tans besig om die 2020 vertaling van die Bybel te lees en toe
ek by hierdie teks kom staan daar die volgende:
Genesis 35:29 AFR20
"Isak het sy asem uitgeblaas en gesterf, en hy is met sy mense
verenig – oud en versadig van lewensdae. Sy seuns Esau en Jakob het
hom begrawe."
Kyk hoe pragtig beskryf hierdie vertaling die afhandeling van jou
lewe op aarde. "... oud en versadig van lewensdae."
Sjoe, dit is so treffend beskryf.
Die Bybel sê jy sal 70 jaar oud word, en as jy sterk is 80. Sommige
mense leef baie langer en ander baie korter, maar ons weet dat jou
lewensdae 'n versadigingspunt bereik, dit hou nie vir altyd aan nie.
Die uurglas loop leeg en die dae raak op. Indien jy 80 jaar oud
word, het jy 29200 dae geleef, plus of min 'n paar, maar jou lewe
raak versadig aan dae.
Ongelukkig begin vele mense hopeloos te gou voel hulle dae is
versadig omdat hulle opgee met die lewe. Ek sien hoe mense gedwing
word om te gou op te hou om ekonomies aktief te wees, en voel die
dae raak versadig omdat daar niks meer is om die dae mee te vul nie.
Hoe wonderlik as mens op jou oudag kan voel dat jou lewe sinvol en
nuttig was. Dis erg om te sien dat mense se lewe leeg geword het
omdat daar nie meer 'n doel is om voor te leef nie. Ek wil so graag
eendag op my laaste dae my lewe soos 'n rolprent sien afspeel, en
die film te geniet. As jou lewensdae versadig kan wees sonder enige
spyt van wat kón gewees het, maar nooit wás nie, is dit so hartseer.
Wonderlik as mens kan sê daar is geen "regrets" nie en dat die lewe
versadig is van goeie kwaliteit en mooi verhoudings, in besonder met
jou lewensmaat en jou kinders.
Pred. 12:1 AFR20
"Dink aan jou Skepper in jou jong dae, voordat die dae van teenspoed
kom, en jare aanbreek waarvan jy sal sê, vir my is daar geen vreugde
in nie”
Dink aan jou Skepper, dink betyds aan Hom, dink elke dag aan Hom en
onthou elke dag wat Hy jou seën met lewensdae wat versadig is met Sy
guns. Ons kan so maklik ons lewensdae versadig met slegte dinge, of
met ongelukkigheid en stress, en nooit iets mooi en lekker kan skink
in jou lewenspotjie nie. Dis 'n vermorsde lewe. Ek sien uit na dít
wat oor is en ek wil so graag hê my dae sal enduit versadig wees met
genade, liefde en vreugde. Leef sinvol!
~ Willem Botha
Klik hier vir nog
Heuningdruppels >> |
|
|
23 November 2025
Sê nou maar net … Woorde wat mens so graag gebruik as
mens fantaseer. Ek onthou dat ons as kinders hierdie
verbeeldingsvlugte gehad het. "Sê nou maar net" het altyd iets
ingehou van "dit sou darem lekker gewees het as …" . "Sê nou maar
net" was nooit aan iets negatief gekoppel nie. Vandag wil ek so
bietjie uit 'n skuinshoek kyk na hierdie frase en vra: "Sê nou maar
net Jesus het elke gebed beantwoord?" Sê nou maar net alles het
uitgewerk soos wat ek wou? Sê nou maar net die Here het toegegee aan
al my grille? Sê nou maar net mý wil het elke keer geskied?
Nou ja, ons
sou seker nooit kon weet wat die implikasies sou wees as al ons
gebede verhoor is nie, want ons het nie daardie pad gestap nie.
Het jy dalk
ook al soos ek vreeslike lawwe goed gebid. Ek onthou toe ek klein
was, het ek in die Bybel gelees as jy geloof het kan jy vir die berg
sê om homself in die see te werp. Toe kyk ek so na die berg en bid
en bid dat die Here die berg moet skuif! 'n Ander keer wou ek so
graag meer pakkies van daardie toeflap-vuurhoutjieboksies hê, toe
gaan sit ek dié paar wat ek het in my ma se spieëlkaslaai en gaan
staan op my knieë en bid dat die Here die laai propvol van die
boksies moet maak (die Bybel sê mos ons sal alles kry wat ons vra!)
Wat sou gebeur as God daardie gebede verhoor het? Die eerste geval
het ek gedink dit was 'n toets vir my geloof - maar … wat sou die
konsekwensies wees? 'n Klomp mense sou sterf, hulle huise sou
inmekaar val, ens. as die berg moes skuif. Die tweede geval het 'n
materialistiese motivering gehad - ek wou BAIE hê. Wat sou gebeur
het as die Here daardie een verhoor het? Ek sou dalk meer en meer
van alles wat ek begeer het gevra het.
Moet ons dan
nou nie meer bid en vra nie? Nee, natuurlik moet ons bid en ons
begeertes aan God bekend maak, ons moet aanhou bid sonder om
moedeloos te word (so sê Luk 18:1). Die probleem is net, ons bid
soos wat óns dink dinge moet uitwerk, soos wat óns dink God moet
ingryp. Dink gou saam met my of die volgende vir jou ook waar is:
"Here, ek het nou die volgende probleem - ek sukkel met dié of daai.
So, Here, hier is die oplossing: as U die volgende doen of
bewerkstellig, of toelaat, is my probleem opgelos. Om Jesus wil,
Amen." Klink dit bekend? Mens noem dit 'n "package deal", of a
"turnkey project" - ek dink die Here glimlag maar net partykeer vir
ons. Jy sien, die Here sien die hele prentjie. Hy ken die verlede,
hede en toekoms. Ons ken net bietjie van gister en vandag. Nou vra
ek weer: "Sê nou maar net God het elke ding laat uitwerk presies
soos wat ek dit gevra en voorgeskryf het?" Ek weet nou van baie
dinge wat nie uitgewerk het soos wat ek dit wou hê nie, en ek is
maar te dankbaar daarvoor!
Die vraag is:
"hoe bid ek dan van vandag af?"
Luk 11:9-13
"Ek sê vir
julle: Vra, en vir julle sal gegee word. Soek, en julle sal kry.
Klop, en vir julle sal oopgemaak word.
Elkeen wat
vra, ontvang, en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal
oopgemaak word.
Is daar 'n pa
onder julle wat as sy seun vir hom 'n vis vra, vir hom 'n slang sal
gee in plaas van die vis?
Of as hy 'n
eier vra, vir hom 'n skerpioen sal gee?
As julle wat
sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee - die
Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir
dié wat vra."
Gewoonlik
stop ons by die vers wat sê: "elkeen wat vra kry, klop, en daar sal
vir jou oopgemaak word". Die res van die stuk se strekking is eerder
dat jy sal kry wat jy nodig het. Maar ons bid mos "shopping lists".
Ons bid: "Here, gee my 'n nuwe huis", dan sê Hy: "Nee, hier is vir
jou brood, genoeg vir vandag", of, "Here, so mooi groen 4X4
asseblief?", dan sê Hy: "Nee, Ek gee jou die Heilige Gees?" Nou ja,
wat sou jy kies? 'n Nuwe huis, nuwe kar, of kos vir vandag en die
Heilige Gees. Wel, dis die goed wat in hierdie Skrifgedeelte staan -
niks van weelde of welvaart nie, niks oor gesondheid nie, niks oor
huise, karre, bote, vliegtuie, ens. nie. WAT vra ons van die Here?
Hoe vra ons? Tot wie se voordeel is dit wat ons vra?
As die Here
vir elke gier of gril of plan sou spring, sou ons lewe sekerlik 'n
ramp gewees het:
1) Ons sou
nie kon leer om te wag nie, want ons probeer die Here gou-gou in
beweging bid - so asof ons Sy program beheer.
2) Ons sou
ophou vertrou op Hom, want sien, as ons die oplossing ook gee het
ons nie meer die Here nodig nie.
3) Ons
selfsugtigheid sou net meer en meer toegeneem het.
4) Ons sou
self in beheer kon wees, die Here word soos ons "butler"
5) God sou
aan ons onderdanig gewees het. Ons klap die vingers en Hy beweeg.
Wat moet ons
nou doen?
1) Leef in
afhanklikheid van die Here
2) Wag
3) Vertrou
4) Glo
("Faith like Potatoes - styl)
5) Aanvaar
die Here se antwoord
Hoe moeilik
is die volgende gebed nie...
Spreuke
30:7-9
Net twee
dinge vra ek van U; moet my dit tog nie weier nie; daarna kan ek
sterf:
moenie
toelaat dat ek vals is en lieg nie; moet my nie arm maak of ryk nie,
gee my net die kos wat ek nodig het,
sodat ek nie
te veel het en U verloën en sê: "Wie is die Here?" nie, en sodat ek
nie arm word en steel en my God se Naam oneer aandoen nie. ~ Willem
Botha
Klik hier vir nog
Heuningdruppels >> |
|
|
20 November 2025
Oud president Ronald Regan het graag die volgende storie
vertel. Hy het gesê hy wil 'n groot klomp ateïste nooi vir 'n reuse
onthaal en vir hulle die beste kos denkbaar voorsit en die mense
aanmoedig om soveel as moontlik te eet. En dan, as niemand meer 'n
krummeltjie kan eet nie, wil hy vra of die mense lekker gesmul het.
En as hulle hulle waardering uitspreek vir hierdie uithaler gereg,
wil hy vir hulle vra of hulle glo daar is 'n kok.
Dis nogal 'n
treffende vergelyking vir mense wat al die daaglikse wonderwerke van
die lewe geniet, maar nie wil glo daar is 'n Skepper nie. Dit slaan
my regtig dronk.
Nou kyk, ek
kan nog verstaan as iemand nou 'n "gesoute" ateïs is wat net
eenvoudig nie glo daar is 'n God nie, maar hierdie nuwerwetse
bewegings van mense wat hulle geloof verloor het, is iets heeltemal
anders. Hulle kommunikeer of kom bymekaar en spandeer meer tyd
daaraan om Christene af te breek en te verkleineer en te bespot as
om op hulle punt te staan.
Ek glo nie
dat die aarde plat is nie, maar ek spandeer nie tyd daaraan om vir
mense wat dit glo te bespot nie.
Maar laat ek
nou nie op dieselfde trant as hierdie mense aangaan nie. Ek glo in
God omdat ek die Bybel lees en telkens verstom staan oor die manier
wat die Bybel my aanraak, meer as enige ander boek wat nog ooit op
my pad gekom het. Ek glo omdat ek sien hoe die Bybel oor en oor
akkuraat bewys word. Ek glo omdat ek die werk van die Heilige Gees
ervaar, ek glo omdat daar al ontelbaar van my gebede verhoor is.
Sommige presies soos wat ek gevra het, en ander juis omdat dit nie
verhoor was soos wat ek gevra het nie. Jy sien, as die Here se
antwoord nee was, en ek besef dalk jare later dat dit die beste
antwoord was, sien ek daarin dat die Here my gebed op presies die
regte manier verhoor het. Dit slaan my dronk dat die wonder van die
natuur nie mense se harte aanraak en hulle geloofs-oë oopmaak nie.
Maar weet jy,
ek het besef stry help niks, dis net getuig wat 'n verskil maak. As
'n dwaas net kan hamer op "is, is nie" kan jy liewer los. Geseënd is
jy as jy soos 'n kind kan glo, hou daaraan vas en leef jou geloof
uit. Die Here, bestaan of jy dit glo of nie, Hy is lief vir jou, of
jy dit glo of nie. Daar is verlossing as jy in Hom glo, of jy dit
glo of nie. Daar is 'n hemel, en 'n hel, of jy dit glo of nie.
Die Here se
bestaan is nie afhanklik van enige iemand se geloof in Hom nie, Hy
is daar, of iemand dit glo of nie. ~ Willem Botha
Klik hier vir nog
Heuningdruppels >> |
|
25
September 2025
Draai of braai... Goodbye cruel world.... Sê nou maar... Waar
staan ek...? Selfondersoek, wonder, twyfel, na wie moet ek
luister? Wat sê die Here in sy Woord? Die horlosie tik, hoekom
hoor ek nie ook iets nie? Opinies, veroordeling, dalk effe
kwaadword...
Ek glo nie dis net ek wat
deur hierdie emosies gegaan het die afgelope paar weke met
hierdie voorspellings oor die wegraping / wederkoms nie, dit was
so "in your face". En goddank dis verby, amper soos toe Covid
destyds uiteindelik verbygegaan het.
En hier is ons nou, presies
waar ons was voor hierdie dinge. Maar ek glo ook dat menige van
ons tog ook 'n bietjie selfondersoek gedoen het en dis goed. En
ek wéét dat ek wéét dat Jesus my Verlosser is, en dis goed
genoeg. En ek hoef niks te vrees nie
Maar weet jy wat my regtig
ontstel, is dat ek van soveel mense hoor wat hierdie ding gesien
het as 'n uitkoms, 'n manier om uit hierdie wrede mislike wêreld
te ontsnap. Nou sit ek en dink wat ek self eerder sou verkies,
om weg te kom uit hierdie verskriklike lewe en dan nóú al my
ewige lewe by die Here spandeer? Of om nóú steeds, as 'n geredde
persoon wat reeds bestem is vir 'n lewe saam met Hom, hierdie
lewe voluit te geniet, om te leef in Sy heerlikheid en die mooi
van die lewe raak te sien, in te drink en sy hand in alles te
sien? Straf die Here ons dan om ons hier te los om ons dood te
spartel? Is die lewe regtig só sleg? Is daar niks meer oor om
voor te leef op aarde nie? Is daar absoluut níks meer oor om
voor dankbaar te wees nie? Is die lewe op aarde niks anders as
hel nie?
Ai man, ek kry mense jammer
wat net sleg sien in alles. Is die Here nie in elk geval elke
oomblik by ons nie? Seën Hy dan net vir my bonatuurlik en vir
niemand anders nie? Om vir jou baie eerlik te sê, ek wil graag
hier bly totdat my tyd op hierdie aarde tot 'n einde kom. Kyk
hoe mooi stel Paulus dit.
Fil. 1:21-24 NLV "Want vir
my is die lewe Christus, en die sterwe wins. As ek aanhou lewe,
kan ek vrugbaar werk. Ek weet regtig nie wat om te kies nie! Ek
is in ’n tweestryd. Aan die een kant verlang ek om te vertrek en
bý Christus te wees, want dit is vir my verreweg die beste. Aan
die ander kant is dit vir julle belangriker dat ek bly lewe."
Ons het nog soveel drome
vir die toekoms, ons vind soveel vreugde in ons kinders, ons
geniet ons onderneming so verskriklik baie, ons het so 'n
verwagting dat ons nog sulke mooi dinge in Suid-Afrika gaan
beleef. Ons is dankbaar vir goeie gesondheid en kan sulke lekker
dinge doen, en ons wil steeds die Here se wonderwerke dag vir
dag raaksien. Dalk het hierdie debakel my net weer laat besef
dat die Here hiér is, by my, in my en dat Hy ons onbeskryflik
liefhet en sy guns op ons uitstort. Goodbye cruel world? Nee,
hallo loving God. En laastens, kom ons hou ons oë op die Here,
en op die Bybel, nie op mense nie. Kom ek vra vir jou 'n vraag:
wil jy régtig presies weet wat more, of oor 'n jaar of 'n dekade
gaan gebeur? Nee, bly net stap in sy voetspore, sien elke dag
die mooi raak, wees lief vir mense, wees dankbaar en maak 'n
verskil. ~ Willem Botha
Klik hier vir nog
Heuningdruppels >>
|
|
|
Hande - myne en God s'n
Ek
het die afgelope tydjie die tema van hande oordink 'n paar kort
stukkies daaroor geskryf:
- my eie hand: pynlik a.g.v
artritis en gevolglike operasies aan my vinger
- doen met toewyding alles wat jou
hand vind om te doen
- Jesus se hand wat genesing bewerk
- wat het jy in jou hand?
- opstandige, ongehoorsame, sondige hande
- Pilatus se hande van onskuld
- die skild van geloof in jou hand
- all of these lines across my hand
- put your hand in the hand of the Man who stilled the water
- skryf op jou hand: die Here s'n
- my God het sy goeie hand oor my gehou
- in die skaduwee van God se hand
- Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou
- dis Kersfees - kyk na Jesus se hande en glo
Klik
hier as jy dit wil lees >> |
|
|
So sê die Here, Here

Toe ons dogter Februarie in die tagtig jaar oue
kerk in Clarens getroud is, het die woorde op die kanselkleed 'n
groot indruk op my gemaak: "So sê die Here, Here". Hoe kragtig en mooi is dit nie!
Die Here praat met sy mense. Hy praat in sy “tempel”. Hy praat deur
sy “profeet”. Die Here sê trooswoorde, beloftes van genade en
redding, versekering van sy liefde en verlossing. Die Here sê woorde
wat ons uitnooi om na Hom te kom, by Hom te skuil, by Hom te rus. Hy
sê egter ook woorde met opdragte vir ons, woorde met waarskuwings,
woorde wat ons maan om terug te draai na Hom en gehoorsaam te wees
...
Klik hier om 'n klompie kort stukkies oor
hierdie tema te lees >> |
|
|
Breek brood
Daar is so ’n mooi uitdrukking wat mense gebruik wat sê:
ons breek saam brood. Dit beteken baie meer as om net ’n maaltyd
saam met iemand te nuttig. Dit beteken dat jy jou kos en jouself met
iemand deel. Dit beteken daar is ’n kameraadskap tussen julle, ’n
spesiale band, ’n emosionele en geestelike band. Ek dink dié term
het ontstaan toe Jesus saam met sy dissipels aan tafel was en Hy die
brood gebreek het en gesê het: “Dit is my liggaam wat vir julle
gegee word. Gebruik dit tot my gedagtenis.” (Luk. 22:19). Of dalk
toe Jesus die twee vissies en vyf brode gebreek het en uitgedeel het
aan ’n honger menigte in Joh. 6:11. Die breek van die brood sê vir
my dat Jesus Homself gegee het. Die Brood wat lewe gee is gebreek
en verniet uitgedeel en is onbeperk vermenigvuldig sodat ek en jy
ook vandag daarvan kan eet ....
Klik hier om 'n klompie kort stukkies oor hierdie tema te lees >> |
|
|
Leer by Nehemia
Ek het bietjie deur Nehemia gelees en 'n paar lewenslesse oor gebed,
afhanklikheid, vertroue, lofprysing ens. geleer. Ek het 'n klompie
daarvan neergeskryf.
Klik hier as jy dit wil lees >>
|
|
|
Vrae wat
die Here vra
Ek het êrens in Februarie 2021 begin om vrae wat die Here in die
Bybel vra op te soek en te oordink. Ek het telkemale myself verbeel
dat die Here vir my persoonlik ook die vraag vra en dan bietjie
gedink wat my antwoord sou wees. Ek het eers begin met vrae wat
Jesus gevra het in die Evangelies, maar dit het vinnig uitgebrei tot
vrae dwarsdeur die Bybel. Aanvanklik wou ek so tien vrae uitkies om
dieper oor te dink, maar tien het op die ou einde meer as vyftig
geword! Oor die volgende paar weke wil ek nou bietjie verder gaan en
na 'n paar vrae in die Bybel kyk wat verskillende mense in
verskillende omstandighede gevra het. Ek glo dit is ook vrae wat
baie van ons dikwels mee te doen kry. Ek het dit wat ek reeds oor
die vrae geskryf het, hier bymekaar gesit, as jy dit dalk wil lees
(en beantwoord!)
Klik hier >>
Daarna het ek so 30 vrae uitgesoek
en oordink wat mense in die Bybel vra.
Klik hier as jy verder daaroor wil lees >>
|
|
|
Musiek en
lofprysing
Ek het in die
laaste paar maande bietjie stilgestaan by ’n klompie gedagtes uit
die Bybel oor musiek, sang en lofprysing en 30 kort stukkies daaroor
geskryf – sommer soos dit in die alledaagse gang van die lewe by my
opgekom het en iets vir my persoonlik beteken het. Die teks wat dit
alles vir my die beste saamvat is Ps. 115:17-18 soos dit in Die
Boodskap staan: “As jy dood is, kan nie jy of enige ander dooie mens
die Here prys nie. Dan is jy nie meer daar om dit te doen nie. Maar
ons wat lewe, sal die Here loof. Ons sal nou begin en vir altyd
aanhou. Kom prys die Here!” Ek het al die stukkies hier
bymekaargesit as jy dit dalk weer wil deurlees. Ek hoop dit sal jou
inspireer om sommer in te val met ’n lofsang en ’n pryslied tot eer
van die Here.
Klik hier vir alles >> |
|
|
Wie is God
vir jou?
Oor die afgelope 7 maande het ek ’n stuk of 45
kort stukkies geskryf oor wie God is, oor verskillende name wat Hy
genoem word in die Bybel. As ek terugkyk weet ek dis maar ’n druppel
in die oseaan en as mens iets moet skryf oor elke karaktereienskap
van die Here, sal jy langer as vir ewig daarmee besig wees en sal
die wêreld nie genoeg plek hê vir die boeke nie (soos wat Joh. 21:25
sê) In hedendaagse terme sal mens seker kan sê dat die wêreldwye web
nie alles sal kan huisves nie en dat Google nie alles sal kan
deursoek nie! Kortom: ons God is groter as wat woorde en name Hom
kan omskryf, wie Hy ís is veel meer as wat ons gedagtes kan
akkommodeer. Dit was egter vir my ’n leersame en verrykende pad wat
begin het by Eks 3:13
...
lees verder >> |
|
|
Julle moet
mekaar ...
Ek het die afgelope tyd ’n paar gedagtes gedeel oor ’n
klompie van die “julle moet mekaar”-tekste in die Bybel. Julle moet mekaar
aanvaar, mekaar vergewe en mekaar liefhê; julle moet gasvry wees teenoor
mekaar en mekaar dien; julle moet geduldig wees met mekaar, mekaar verdra en
in vrede lewe met mekaar; julle moet mekaar help, mekaar se laste dra,
mekaar troos en moed inpraat; julle moet mekaar leer en onderrig en
lofliedere saam sing ...
As jy wil, kan jy hier klik om hulle weer te
lees >> |
|
|
Jesus het hulle innig jammer gekry
Ek het vir die
afgelope agt keer wat dit my beurt was om ietsie te skryf bietjie
stilgestaan by dié uitdrukking: "Jesus het hulle innig jammer gekry", wat
mens 'n hele paar keer in die evangelies raaklees. Dis 'n uitdrukking wat my
so aangegryp het en net vir my onderstreep het dat die Here ’n barmhartige
God is. Net soos Jesus dit nie kon help om mense wat honger, siek en
hartseer, verlore en blind, vuil en verwerp is, jammer te kry en diep
meegevoel met hulle te hê nie, net so weet ek dat Hy dit vandag vir my
persoonlik ook sal doen. Sy arm is nooit te kort om te help nie, Sy genade
is elke dag vars, Sy oor is nooit te doof om te luister nie, Sy hulp en
uitkoms is nooit vêr nie, Sy liefde is onbegrens, oneindig en
onverstaanbaar groot. “Genadig en barmhartig is die Here, lankmoedig en vol
liefde” – kyk maar bietjie hoeveel keer hierdie frase in die Bybel voorkom,
dan besef mens Sy hart word gou sag! “Die Here gee graag goeie dinge aan ons.
Sy hart word gou sag. Hy is geduldig en het sy kinders baie lief. Vir almal
is die Here goed. Hy gee om vir alles wat Hy gemaak het ... Die Here sorg
vir almal wat seerkry, Hy tel elkeen op wat swaarkry. Almal vestig hulle
hoop op U. U versorg elkeen op die regte tyd. Omdat U goed is, gee U maklik
goeie dinge aan ons. U gee meer as genoeg van u goedheid aan almal op aarde.
(Ps. 145:9-16, Die Boodskap) ~ Wilna Botha
Ek het al die
stukkies hier bymekaargesit –
klik hier indien jy dit dalk weer wil lees >> |
|
|
Bring die hoop weer terug
Ek het die afgelope tydjie bietjie
gelees en gedink en geskryf oor hoop. Ek het tekste opgesoek wat oor hoop
gaan. Ek het gewilde aanhalings oor hoop opgesoek. Hier is so 10 gedagtes
wat ek neergeskryf het.
Lees hier meer >>
|
|
|
Wonderwerke
van Jesus uit Johannes
Ek het oor die afgelope paar weke bietjie gelees en gedink oor die
wonderwerke van Jesus en veral dié wat in Johannes opgeskryf is. Aan die
einde van die boek sê Johannes dat daar nog baie dinge is wat Jesus gedoen
het wat nie opgeskryf is nie. “Maar as dit een vir een beskrywe moet word,
dink ek, sou die hele wêreld nie genoeg plek vir die boeke hê nie.” (Joh.
21:25) Johannes-hulle het definitief báie wonderwerke gesien. Ek dink nie
dit geld net vir Johannes se tyd nie, ek glo dit is nóú ook so, ons moet net
met oop geestesoë deur ons alledaagse lewe gaan om raak te sien waar die
Here beweeg en wonder na wonder laat gebeur. Die rede dat die wonderwerke
vir ons in die Bybel opgeskryf is, is sodat ons in Jesus moet glo: “Maar
hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus
is, die Seun van God en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.”
(Joh. 20:30-31) Kyk hoe dit gebeur het met mense wat Jesus se wonderwerke
beleef het: Joh. 2:11 – toe die dissipels sien hoe Jesus water in wyn
verander, het hulle tot geloof in Hom gekom. Joh. 4:53 – toe die
regeringsamptenaar se seun genees is, het hy en sy hele huisgesin tot geloof
in Jesus gekom. Joh. 6:14 – toe die mense sien hoe Jesus die vis en brood
vermeerder het, het hulle bely: “Hy is werklik die Profeet, die Een wat na
die wêreld toe moes kom. Joh. 11:45 – toe Lasarus uit die dood opgewek is,
het baie Jode wat dit gesien het, tot geloof in Jesus gekom. Joh. 21:7 – toe
die dissipels die ongelooflike klomp vis vang, kon Johannes nie anders as om
uit te roep: “Dit is die Here!” nie. Laat ons ook nie nalaat om die Here se
wonderwerkende hand in ons lewens te sien en sodoende te groei in ons geloof
nie. Laat ons ook nie nalaat om erkenning aan die Here te gee en te getuig
oor Sy werke in ons lewe nie.
Terwyl ek deur die
wonderwerke gelees het, het ek ’n stuk of 20 gedagtes daaroor neergeskryf.
Lees gerus hier meer daaroor >>
|
|
|
Jesaja se Goud - klik hier >>
Die
afgelope jaar het ek so stukkie vir stukkie deur Jesaja gelees. Ek het
maar heelwat goed in Jesaja gevind wat ek nie verstaan nie, en wat ek nie
altyd weet wat pas waar in nie, en soms sukkel ek maar om sin te maak uit al
die profesieë en die oordeeluitsprake maar êrens tussen dit alles, in elke
hoofstuk, op elke bladsy van die boek, het ek die wonderlikste goud
uitgedelf - beloftes, bemoediging, versekering, aanmoediging, tekste om te
onderstreep en in my hart te bêre. Dwarsdeur die boek het ek die goue draad
van God se genade, vergifnis en versorging gesien, die goeie nuus gesien dat
God mense optel en vernuwe en hoop gee. Ek het in dié tyd ’n stuk of 85 kort
boodskappies uit Jesaja geskryf wat ek hier gedeel het. Ek het hulle nou
almal bymekaargesit as jy dalk weer daardeur wou lees. Ek noem dit “Jesaja
se goud” en hoop jy sal ook iets in dié goudpot vind wat jou geloof kan
versterk en jou verhouding met die Here kan laat groei.
Lees
gerus meer hier >> |
|
|
My 18 G's vir 2018
- klik hier >>
Op die eerste Maandag van hierdie jaar het ons almal vir mekaar allerhande mooi
seëninge toegewens vir die nuwe jaar. Ek het ook ’n klomp wonderlike woorde
ontvang van oraloor. Op die tweede Maandag het ek verjaar en toe is dit wéér
’n stroom seëninge en gebede wat oor my uitgespreek word. Dit het my opgeval
dat ’n klomp van dié woorde met ’n “G” begin, soos bv. geseënd, gesond,
gelukkig, genade, groots, goedheid, guns, genot, Geesvervuld, ens.! Toe
besluit ek net daar en dan dat 2018 ’n “G” jaar gaan wees en skryf toe so 18
G’s neer vir my jaar! As mens “G” sê, dan sê jy “gee”. Om te gee, moet dan
seker my eerste G vir die jaar wees ...
lees verder >>
|
|
|
Kort dagstukkies uit Psalms - klik hier >>
 |
|
|
Kort dagstukkies oor die 10 Bybelverse wat die meeste opgesoek word - klik
hier >>
 |
|
|
Kort
dagstukkies uit Spreuke - klik hier >>
 |
|
|
Kort
dagstukkies uit Fillipense - klik hier >>
 |
|
|
Kort
dagstukkies uit 1 Johannes - klik hier >>
 |
|
|
Kort dagstukkies
uit Jona -
klik hier >>
 |
|
|
|
Facebook
Groep
Sluit gerus aan by ons groep waar ons elke dag heuningdruppels oplaai, en
waar jy welkom is om saam te gesels.
Klik hier >> |
|
|
|
|
Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met
verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)
|
|
|
|