|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
TERUG NA ANDER KAMPE VIR GESTREMDES >> “Merge” beteken om saam te smelt. Dis wanneer twee of meer groepe wat iets in gemeen het, een word. Dit is wat 17 Julie gebeur het op Deo Volente se gronde toe almal wat al een van ons kampe vir gestremdes bygewoon het saamgekuier het. Eers weer so 'n bietjie agtergrond. In 2009 hou ons die eerste Rippel kamp vir mense met hierdie uitdagings en ons noem dit Kamp 1. Vroeër hierdie jaar hou ons toe 'n kamp vir 'n nuwe groep, wat toe steeds (soos in die verlede), geborg word deur Rippel se goedhartige luisteraars. Dit was Kamp 2. Intussen was daar ook vir elke groep 'n reunie gehou op 'n Sondag-middag in Lyttelton, waar ons gekuier het soos net hierdie wonderlike mense kan. Kort daarna was daar 'n opvolgkamp vir Groep 1. Weens verskeie uitdagings kan ons egter nie beide groepe gelyktydig vir 'n hele naweek laat kamp nie en moes daar toe plan gemaak word om almal bymekaar te kry. Daar en dan word die eerste dagkamp gebore waar beide groepe kon saamkuier en “merge”. Die dag is bygewoon deur 32 gestremdes met hulle 17 helpers. Wat 'n merge was dit nie! Mense het vol opgewondenheid by DV Adventures opgedaag en ons is toe sommer met die intrapslag met lekker eet- en drinkgoed bederf, tipies DV styl. Wally, Tina, Ella, oom Dawie en hulle helpers het van vroegdag af rondgeskarrel om alles betyds klaar te kry. Dis nie net woerts warts om so 'n klomp magies vol te kry nie! Daarna het Dennis en Marietjie (deel van die span), 'n lekker kenmekaar sessie hanteer. Met blokkiesraaisels, landsvlaggies (en sokkerspelers met hulle vreeslike name) en Noot vir Noot (soos Stemmet en kie), het almal sommer vinnig meer van mekaar geweet. Die program het ook lofprysing, 'n lesing oor “Staan op” en lekker saamkuier ingesluit. En natuurlik die gebruiklike eet, peusel en smul. Pierre de Kok ('n nuwe sangsensasie) het ons kom vermaak met lekker ligte liedjies. Wat sou so 'n gesingery wees sonder bietjie saamdans en laf raak? Nie lank nie of al die jongelinge was op die vloer om saam te dans en sing. Ai, gee hulle “Green Door” sommer weer nuwe woema!!! Die res van die middag is daar net saam gekuier en (njam njam) cupcakes en hot chocolate genuttig. Die dag was regtig te gou om, maar ons sien uit na die volgende kamp net so skuins na die winter. Dit sal Kamp 3 genoem word, met splinternuwe mense. Voor 2010 sy draai kry, sal Kamp 2 egter ook 'n opvolgkamp hê. Intussen sal die dagkamp idee weer beproef word, sodat nog meer mense mekaar kan leer ken. Dit is regtig wonderlik om te sien wat die Here besig is om te doen, nie net in die harte van die gestremde persone nie, maar ook in die harte van ons as span. Mens leer regtig om weer nederig en dankbaar te wees, want hierdie mense straal dit absoluut uit. Soveel liefde sal jy ver gaan soek! Hou jou oor op die radio, want die volgende kamp is om die draai. Miskien ken jy mense wat baat sal vind by so 'n kamp, dan is jy welkom om hulle te help om in te skryf. Die enigste twee voorwaardes is dat die persoon 'n helper moet saambring en dat hulle dit sinvol sal vind. Ons verkies ook dat die mense bo 18 jaar moet wees. Laastens, weereens dankie vir Rippel, die borge en die span wat elke kamp moontlik maak. Kliek op elke foto om 'n groter weergawe te sien >>
Speletjies ....
Lofprysing & praatjie ....
Kruis-oomblikke ....
Eet en kuier en eet ....
Pierre de Kok vermaak ons met sang ....
...en die jonges dans saam!
|