|
|
Daaglikse Heuningdruppels - Dawid se vyf klippies
|
...
soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek (Ps
119:11)
Die daaglikse heuningdruppels is ook op ons
Facebook-groep. Klik hier:
 |
|
Duplisering en
verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na
die outeur (Wilna / Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za) |
|
Dawid se vyf klippies |
|
In die Ou Testament lees ons hoedat die
Filistyne en die Israeliete gedurig aan die veg was om dit uit te
spook vir mag en eer en beheer. In 1 Sam 17 lees ons van een so ’n
episode. Dié keer het die Filistyne al hulle vertroue op hulle
baasvegter, Goliat, gesit. Hy was 3 meter lank, gepantser met ’n
bronshelm op sy kop, ’n sewe en vyftig kilogram harnas met skubbe,
bronsskerms voor sy bene en ’n bronsswaard oor sy skouer. Die steel
van sy spies was so dik soos die dwarsbalk van ’n weefstoel en die
ysterlem daarvan was sewe kilogram. Dit was vreesaanjaend! En hy was
arrogant en uitdagend. Vir veertig dae lank het hy elke dag teenoor
die Israeliete gaan staan en hulle verkleineer en uitgedaag. En die
Israeliete het geskrik, hulle was mismoedig en bang en het vir hom
gevlug. Stop nou net hier vir ’n oomblik en dink bietjie oor jou
lewe vandag: wat is daar wat jou só bang, mismoedig, moedeloos,
vreesagtig, verneder, verkleineer en oorweldig laat voel? Watter
Goliat staan nou al vir 40 dae (of langer) voor jou en bedreig jou,
spot jou of lag jou uit? Dalk is dit die Corona-pandemie of ’n ander
siekte. Dalk jou finansies of bekommernisse oor jou kinders en hulle
toekoms. Dalk depressie of donker gedagtes. Dalk verslawing of ’n
swak selfbeeld. Dalk mishandeling of misbruik. Dalk boelies, slegte
verhoudings of ’n egskeiding. Dalk politieke kwellinge of skelms.
Dalk slegte nuus. Dalk is dit nou tyd dat die Dawid binne jou
opstaan, rivier toe stap en vyf klippies optel en met vertroue
verklaar: “Vandag sal die Here jou in my mag oorgee sodat ek jou kan
verslaan en jou kop van jou lyf afkap.” (1 Sam 17:46) Vandag - nou,
hierdie week, hierdie jaar, binnekort. Sal – dit is ’n gegewe feit.
Die Here - Hy kan, niks is vir Hom onmoontlik nie. Ek kan – wanneer
ek swak is, is ek sterk want God se krag werk in my. Jou verslaan –
oorwin, oorkom, verbreek die greep. Mag die Here ons hiermee help.
Mag Sy vrede van ons besit neem. ~ Wilna Botha, 19/01/2021 |
|
Ek
het bietjie verder gelees oor Dawid in 1 & 2 Samuel en weer gedink
oor die hele Goliat-storie en die vyf klippies wat Dawid opgetel het.
Ek het gewonder hoekom word dit pertinent genoem dat hy vyf klippies
opgetel het. Hoekom het hy vyf klippies uitgesoek as een genoeg was?
Het hy nie vertroue gehad in sy vermoë om te tref nie, dié dat hy
gesorg het vir genoeg klippe? Hy het tog as’t ware net een kans
gehad want as hy met die eerste slinger gemis het, was dit sekerlik
neusie verby met hom. Die antwoord word nie gegee nie, maar soos ek
gelees het deur 1 Sam 17, het daar vir my vyf goed uitgestaan in die
verhaal – een vir elke klippie! Ek beoog om oor die volgende paar
kere, ietsie te deel oor elke klippie – let wel, dis sommer net mý
gedagtes, niks teologies, dogmaties of eksegeties nie. Die eerste
klip is een wat ek self vandag nodig gehad het: kalmte. Saul het
gedink Dawid het hulp en beskerming nodig om teen Goliat te veg want
hy was mos jonk en onervare in vegkuns, hy was immers net ’n
skaapwagter. Daarom laat hy vir Dawid sy eie gevegsuitrusting
aantrek, maar arme Dawid kon nie eens daarmee loop nie. Hy het dit
uitgetrek en met net sy kierie in sy hand het hy rustig afgestap na
die spruit toe en vyf klippies gaan uitsoek. As mens in ’n moeilike
situasie kom is daar mos altyd ’n klomp mense gereed met húlle raad
en voorskrifte van hoe jy jou probleem moet hanteer. Hulle reken wat
vir hulle gewerk het, moet vir jou ook werk. Dis natuurlik goed en
reg so, want ons kan baie leer uit mense se ervaring en opregte raad
– verstaan mooi, ek slaan dit geensins in die wind nie, maar
partykeer kan dit ’n mens juis paniekerig laat rondhardloop agter
oplossings aan, jy gryp hier en los daar en later is jy so
deurmekaar en op-gestres jy weet nie watter kant toe nie en dan maak
jy dalk net die verkeerde besluite. Ek dink dis in sulke tye wat
mens die “geleende gevegsuitrusting” moet uittrek en net rustig raak.
Haal diep asem. Kyk objektief na die situasie. Konsentreer op die
positiewe. Moenie die slegste uitkoms van die situasie verwag nie.
Visualiseer dat alles ten goede gaan uitwerk. Rig jou gedagtes op
die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat hier rondom jou is nie,
sê Kol. 3:2. Gee gehoor aan Jesus se uitnodiging: Kom na My toe ...
en Ek sal julle rus gee (lees Luk. 11:28). Let go and let God, soos
die spreekwoord sê. Gaan dalk fisies na ’n stil plek toe ... dalk af
na die rivier toe waar jy ’n paar klippies kan optel en waar jou
gemoed kalm kan word en die Here vir jou perspektief, kalmte en
vrede kan gee. Dan kan jy, soos Dawid, rustig terugstap en jou
Goliat gaan aandurf. ~ Wilna Botha, 21/01/2021 |
|
Dawid
kon dit nie verdra dat Goliat die Israeliete so verkleineer en op
hol jaag nie. Daarom het hy homself aangemeld om iets daaraan te
doen. Van Goliat sê hy: “’n Mens moenie oor hóm moedeloos word nie.”
(1 Sam. 17:32) En ek dink: dáár is die tweede klippie wat Dawid in
sy slingersak dra: moed. “Moed laat ’n mens sy lyding dra...” sê Spr.
18:14. Hoe waar is dit nie. As jy moed het, sien jy kans om met die
reus voor jou te veg. As jy moed het, het jy krag om die berg voor
jou te klim. As jy moed het, het jy uithouvermoë om te beur teen die
storms van die lewe. As jy moed het, maak die onbekende jou nie
beangs en paniekerig nie. As jy moed het vlieg jy met arendsvlerke,
ontvang jy vrede wat alle verstand te bowe gaan, kry jy ongekende
wysheid, sien jy reeds die uitkoms en oorwinning in jou geestesoog.
En sê nou maar daar staan vandag ’n reus voor jou wat jou moed in
jou skoene laat sak, wat jou knieë laat swik en jou arms verlam en
jou keel laat toetrek? Hardloop na die Here toe en skep moed by Hom,
vriend. Hy sê: “Ek gee nuwe krag aan dié wat moeg is, Ek maak die
moedeloses weer vol moed.” (Jer. 31:25) In Hag. 2:4-5 is daar so ’n
mooi gedeelte oor moed. Serubbabel kry die opdrag op die tempel
herbou – ’n groot taak, ’n “Goliat” om aan te pak. Die Here sê egter
vir Serubbabel en die hele volk om moed te skep en dan gee Hy vier
redes waarom hulle moed kan hê vir dié werk: (1) die Here is self by
hulle, (2) die Here sal sy beloftes nakom, (3) Sy Gees sal by hulle
wees om hulle toe te rus vir die werk, (4) hulle hoef vir niks bang
te wees nie. Wat moet jy vandag doen waarvoor jy dalk nie kans sien
nie, omdat die taak te groot, te moeilik, te gevaarlik is? Kom, tel
vir jou ’n moed-klip op en skryf jou naam in hierdie teks en skep
moed vir dit wat voor jou lê: “Maar nou, Serubbabel, skep moed, sê
die Here, en jy Jesua seun van Josadak, hoëpriester, skep moed, en
julle almal, burgers van die land, skep moed, sê die Here! Begin met
die werk, want Ek is by julle, sê die Here die Almagtige.” (Hag.
2:4) ~ Wilna Botha, 26/01/2021 |
|
“Ek
sal gaan en teen die Filistyn gaan veg.” (1 Sam 17:32) Dalk is een
van Dawid se vyf klippies, wat hy gaan optel het om teen Goliat te
veg, sy bereidheid - “ek sal.” Niemand anders wil nie. Niemand
anders kan nie. Niemand anders sien kans nie. Maar Dawid sê: Ek sal!
Hy weet hy is sterk genoeg. Hy weet hy is nie bang nie. Die vrees
wat almal vir Goliat het, het nie op hom afgevryf nie. Hy is
toegerus met sekere vermoëns en het vertroue in homself. Lees
bietjie in 1 Sam 17:34-36 hoe hy eintlik al lankal “voorberei” was
vir hierdie geveg. Terwyl hy skape opgepas het, moes hy al ’n lam
uit ’n beer of ’n leeu se bek red. “Ek het die leeu en ook die beer
doodgeslaan en hierdie heiden, hierdie Filistyn, sal soos hulle
word.” (vers 36). Soos wat hy in die verlede kans gesien het om ’n
leeu en ’n beer aan te pak om sy skape te red, so het hy kans gesien
om dié reus aan te pak om Israel te red. Die ander kant van die “ek
sal”-klip is “ek kan”. Is dit nie so in die lewe nie – wanneer jy
bereid is om ’n taak aan te pak, om iets moeilik te gaan doen, dalk
iets wat niemand anders wil doen nie, as jy daai gewillige tree gee,
ontvang mens dikwels buitengewone wysheid, nuwe vermoëns en gawes op
die regte tyd. As jy sê: “ek sal” gee die Here vir jou insig,
wysheid, moed en krag wat jy nodig het vir jou taak. “Die Here het
my ’n belangrike opdrag gegee en my God gee my die krag om dit te
doen.” (Jes. 49:5) – dit het gegeld vir Jesaja, dit het gegeld vir
Dawid en dit geld ook vir my en jou. Wees gewillig, wees bereid,
wees beskikbaar en die Here sal jou bekwaam maak vir dit wat jy moet
doen. Wanneer daar ’n moeilike “Goliat”-projek vir jou voorlê, gaan
tel vir jou ’n “ek sal”-klip op en weet dat die Gees van die Here
jou sal toerus, dat die krag en die kennis sal volg. “Ek is tot
alles in staat deur Hom wat my krag gee.” (Fil. 4:13) ~ Wilna Botha,
28/01/2021 |
|
“Die
Here wat my teen die kloue van leeus en bere beskerm het, sal my ook
teen hierdie Filistyn beskerm.” (1 Sam. 17:37) Wanneer Dawid voor
Goliat te staan kom, is dit vir my duidelik dat hy sy vertroue in
die Here plaas en nie in sy slingervel of die klippies in sy sak nie
of sy eie vaardigheid nie. Dawid het geweet om nie op Saul se raad
of oorlogsklere en wapens te vertrou nie. Hy herinner homself aan
die kere in die verlede wat die Here hom gehelp het. Hy bely dat die
Here se krag in hom werk. Uit ervaring wéét hy dat die Here hom nie
alleen sal los nie. Hy weet dat hy alreeds uitgekies en gesalf is as
koning van Israel, al was Saul nog die koning. Hy het die sekerheid
dat die Gees van die Here kragtig in hom werk (1 Sam. 16:13) Ek kan
nie anders as om te dink dat een van die vyf klippies wat Dawid
opgetel het vir “vertroue” was nie. Die Here sê in Jes. 49:23 “...
wie op My vertrou word nie teleurgestel nie.” Dawid het dít ervaar
en ek wil ook vandag daai vertroue-klip optel en koester. Wat
beteken dit vir my om op die Here te vertrou? Ek dink dit vra kennis
van wie Hy is, hoe Hy oor my voel en wat Hy wil en sal en kan doen.
Dit is iets wat mens, soos Dawid, deur ervaring leer, maar beslis
ook uit ander mense se vertroue - en oorwinningsverhale en natuurlik
uit die Woord. Vertroue beteken ’n mens moet jouself bewustelik in
die Here se hande plaas en met geloof oorgee aan sy leiding en sorg.
Vertroue vra dat jy erken en aanvaar en berus dat Hy die beste weet,
dat Hy die beste vir jou in gedagte het. Vertroue kom in aksie
wanneer my eie krag en my eie kennis en my eie insig opgeraak het. Vertroue
is werklik vertroue wanneer jy nog nie die uitkoms kan sien nie,
maar steeds hoop en glo. Vertroue is nie net iets passief nie. Jy
sit nie net agteroor en wag dat die Here iets moet doen nie, nee,
soos Dawid rivier toe gegaan het en gaan klippies optel het, moet
ons iets dóén, ons moet ons kant bring. Wanneer ek daai
vertroue-klippie sien, dan wéét ek vertroue in die Here vat
bekommernis en vrees en angstigheid weg. Dan wéét ek vertroue in die
Here bring vrede wat alle verstand te bowe gaan. Dan wéét ek
vertroue in die Here bring oorwinning. Dan wéét ek “... wie op My
vertrou word nie teleurgestel nie.” ~ Wilna Botha, 02/02/2021 |
|
Ek
dink toe Dawid buk om die vyfde klippie op te tel, het hy geweet dat
dié een dodelik sou wees (onthou net – die Bybel sê nie so nie, ek
“sien” dit sommerso in my geestesoog!) Dit moes die grootste,
swaarste klip wees want dit moes klaarspeel met die arrogante,
selfversekerde Filistyn wat Israel verkleineer en met vrees
gevul het. Die klip wat vir Goliat getref het, wat die oorwinning
bewerk het, wat Goliat laat val het en Israel vrede gegee het, was
“Die Rots”. “Dawid sê vir die Filistyn: Jý kom na my toe met ’n dolk
en ’n spies en ’n swaard, maar ek kom na jou toe in die Naam van die
Here die Almagtige.” (1 Sam. 17:45) Hy kom in die Naam van die Here,
die Naam bo alle name (Fil. 2:9), die Naam waardeur almal gered word
(Rom 10:13). Moses het in Eks. 3:13-14 vir die Here gevra: as hulle
vra wie het my gestuur, wat is Sy Naam, wat moet ek sê? “Ek is” het my
na julle toe gestuur, was die Here se antwoord. As Goliat vir Dawid
sou vra: wie het jou gestuur, sou Dawid kon sê: Die Rots. Die
volmaakte, finale oorwinnaars-klip. Hy sou kon sê: “Hy is die Rots,
sy werk is volmaak, alles wat Hy doen, is regverdig. Hy is die
getroue God, sonder onreg, Hy is regverdig en betroubaar.” (Deut.
32:4). Hy sou kon sê: “... daar is geen rots soos ons God nie” (1
Sam. 2:2) Hy sou kon sê: ek kom na jou toe in die Naam van Die Rots,
my skuilplek en my redder, my skild en sterk verlosser, my veilige
vesting, my toevlug en bevryder (2 Sam. 22:2-3). Staan daar vandag
’n Goliat en grynslag voor jou? Is jy bang en bevrees? Is jou planne
op? Is jou moed weg? Wil jy oorgee? Gaan staan agter jou Rots (en
blý daar!), laat Hy vír jou veg. As jy jou Goliat pak in die Naam
van die Here, beteken dit Hý veg namens jou, beteken dit jy staan
fisies daar, maar Hy bewerk die oorwinning vir jou. Lees weer ’n
keer Dawid se woorde in Ps. 18 en kry moed om jou gevreesde Goliat
aan te pak. Ek haal ’n paar sinne aan: Van bo af het Hy sy hand
uitgestrek en my gegryp, my uit geweldige waters uitgelig. Hy het my
gered van my vyand wat sterk was. Hy het my in vryheid laat uitgaan.
My God gee lig as dit donker is om my. Met U hulp loop ek ’n oormag
storm. Elkeen wat by Hom skuiling soek beskerm Hy. God omgord my met
krag. Hy maak my pad voorspoedig. U regterhand het my ondersteun.
Deur U hulp het ek sterk geword. U het my ruim vastrapplek gegee. U
het my teëstanders voor my laat vlug. Die Here leef! Ek loof Hom wat
my Rots is. ~ Wilna Botha, 04/02/2021 |
|
Het
jy ook al langs ’n rivier, of op ’n berg gekom en ’n stapel klippe
gesien? Ek wonder altyd wie het die stapel begin en hoekom hou mense
aan om klippe by te pak. Dalk sit hulle ’n klip neer as simbool dat
hulle een of ander las daar onder by die rivier of bo-op die berg
los. Dalk gaan dit gepaard met ’n gebed vir iemand se nood. Dalk sit
hulle die klippe neer uit dankbaarheid vir verhoring van gebede.
Dalk sit hulle ’n klip neer om te wys dat hulle die berg “oorwin”
het. Die klipstapel op die foto het ek onlangs afgeneem bo-op die
Brandwag-rots in Golden Gate. Ek het opgeklim tot bo en ook ’n paar
klippe daar op die hoop neergesit en ek het gedink aan Dawid se vyf
klippe wat hy opgetel het toe hy voor Goliat te staan gekom het. Ek
het een neergesit en gesê: ek sal, ek kan. Net soos ek die taamlike
steil paadjie opgestap het tot bo, weet ek dat geen lewens-berg (of
Goliat) groter sal wees as die krag wat die Here vir my gee om te
volhard en tot bo deur te druk nie. Die pad tot bo-op daai lewens-berg
is steil en moeilik en jou voete kan gly, maar die Here is daar om
my hand te vat, die volgende tree vir my te wys, my op te help as ek
struikel, my selfs te dra tot bo. “Deur U goedheid het U my op ’n
veilige berg laat staan, Here.” (Ps. 30:8) Ek het ’n klip neergesit
en myself herinner om in alle omstandighede kalm te bly en by die
Here te rus, om nie na die donker wolke om my te kyk nie, maar my
fokus te hou op dié dinge wat daarbo is. Ek het geweet die
pandemie-tye wat voorlê is onseker en kan nog lank en moeilik raak,
daarom het ek ’n klip neergesit en gebid vir moed om regop te bly en
nie negatief of depressief te raak en in ’n donker hoek te gaan
wegkruip nie. “Moed laat ’n mens sy lyding dra...” sê Spr. 18:14.
“Ek sê vir myself: Moenie nou moedeloos word nie. Vertrou net op
God. Ek gaan Hom loof, al kry ek baie swaar. Dit is Hy wat my uit my
swaarkry red.” (Ps. 42:6, Die Boodskap) Toe sit ek ’n klip neer en
sê vir myself: Vertrou net op God. Gee alles aan Hom oor. Sit neer
die klippe waaraan jy dra. Let go and let God... Daar op die groot
rots het ek ’n klip neergesit en bely: “Die Here is my rots, my
skuilplek en my redder, my God, my rots, by wie ek skuil, my skild
en sterk verlosser, my veilige vesting.” (Ps. 18:3) en in my hart
het ek gesing: we shall not, we shall not be moved. ~ Wilna Botha,
09/02/2021 |
|
Klik hier vir nog meer
heuningdruppels > |
|
Duplisering en verspreiding
word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur en webruimte (www.heuning.co.za) |
|
|