| 
				
					
						|  |  
						| 
 |  
						| Daaglikse Heuningdruppels - medelye
 
 |  
					| 
						... 
						soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek (Ps 
						119:11)
 
						
						Die daaglikse heuningdruppels is ook op ons 
						Facebook-groep. Klik hier: 
 
  |  
					| 
 |  
					| Duplisering en 
			verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na 
			die outeur (Wilna / Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za) |  
					| 
 |  
    | JESUS HET HULLE INNIG JAMMER 
	GEKRY |  
    | 
 |  
    | “Toe Hy die menigtes sien, het Hy hulle innig 
			jammer gekry, want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie ’n 
			wagter het nie.” (Matt. 9:36) Op ’n hele paar plekke in die 
			evangelies lees mens dat Jesus mense innig jammer gekry het. In die 
			Engelse vertalings sê dit: He was moved with compassion. Dís wie 
			Jesus is! Hy is liefde en net so ís Hy ook barmhartig, medelydend en 
			vol meegevoel. As Hy na dié van ons kyk wat moeg, moedeloos, 
			hartseer, eensaam, verstote, arm, siek of verlore is, dan krimp sy 
			hart as’t ware ineen van jammerte, dan is Hy diep geraak deur ons 
			swaarkry en probleme, dan identifiseer Hy uit die diepte van Sy wese 
			met ons situasie. Ons weet Hy sien raak waarmee ons sukkel, ons weet 
			Hy verstaan ons swakhede, ons weet Hy sien ons trane. “En die hele 
			tyd het U dit gesien, die lyding en verdriet. U let daarop en maak 
			daar ’n einde aan.” (Ps. 10:14) Hy het medelye met ons en dit loop 
			uit op sy hulp, sy versorging en sy redding. “Hy laat reg geskied 
			aan die verdruktes en gee brood aan dié wat honger ly. Die Here 
			bevry die gevangenes, die Here laat blindes sien, Hy ondersteun dié 
			wat bedruk is. Die Here het die regverdiges lief. Hy beskerm 
			vreemdeling en help weeskinders en weduwees.” (Ps. 146:6-9) ~ Wilna 
			Botha, 11/07/2019 |  
    | 
 |  
    | “Toe Hy uit die skuit klim, het Hy die groot menigte 
	mense daar gesien. Hy het hulle innig jammer gekry en die siekes onder hulle 
	gesond gemaak.” (Matt. 14:14) Hier is weer daai uitdrukking: “Hy het hulle 
	innig jammer gekry.” In vers 13 lees ek dat Jesus juis weggegaan het na ’n 
	stil plek omdat Hy alleen wou wees, dalk ’n bietjie wou rus, maar toe die 
	mense daarvan hoor het hulle te voet agter Hom aangegaan. Hulle was in die 
	nood om deur Hom aangeraak te word. Net soos daai vrou wat deur die skare 
	gebeur het en net aan die soom van Sy kleed wou raak omdat sy só graag 
	gesond wou word. Net soos daai verlamde man wie se vriende hom op ’n 
	draagbaar na Jesus toe gebring het. Toe hulle nie by Hom kon uitkom nie, het 
	hulle die draagbaar deur die dak laat afsak tot voor Jesus. Jesus sién 
	siekes raak, Hy kry hulle innig jammer, Hy is diep geroer deur hulle pyn en 
	hulle begeerte na genesing. Is jy dalk ook só desperaat vir genesing vir 
	jouself, vir ’n familielid of ’n vriend? Is jy dalk ook só desperaat vir 
	geestelike genesing van verwerping, misbruik of geweld? Is jy dalk ook só 
	desperaat vir genesing van ’n gebroke verhouding? Is jy dalk ook só 
	desperaat vir genesing van jou stukkende hart na die afsterwe van ’n 
	geliefde? Kom na die Here – sy hart is sag, sy jammerte lê vlak en Hy sien 
	jou desperaatheid. Stort jou hart voor Hom uit en smeek nog ’n keer vir 
	genesing, nog ’n keer vir Sy aanraking. “Hy het hulle innig jammer gekry en 
	die siekes onder hulle gesond gemaak.” Mag Hy dit vir jou ook doen. ~ Wilna 
	Botha, 16/07/2019 |  
    | 
 |  
    | “Jesus het sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: 
	“Ek kry hierdie mense innig jammer, want hulle is nou al drie dae lank hier 
	by My en hulle het niks om te eet nie. En Ek wil hulle ook nie sonder kos 
	huis toe stuur nie, want hulle kan miskien op die pad beswyk.” (Matt. 15:32) 
	Weer ’n keer is dit Jesus wat innig jammer voel vir mense, vol medelye en 
	jammerte , vol deernis en omgee. Ek weet nie van jou nie, maar vir my is dit 
	ongelooflik bemoedigend om te weet dat Hy my nood raaksien en dat Hy omgee 
	en dat Hy sorg vir ’n uitkoms. Dalk is die uitkoms nie altyd heeltemal soos 
	jy gehoop het nie. Dalk is dit nie ’n yskas propvol kos nie, maar net ’n 
	broodjie en ’n vissie, dalk net genoeg brood vir vandag, dalk ’n bietjie 
	manna wat jy self moet gaan optel. Dalk is dit nie ’n bultende beursie nie, 
	maar maak Hy net jou oë oop om ’n nuwe geleentheid raak te sien, dalk maak 
	Hy jou net sterk om harder te kan werk. As jy leeg en met bedelende hande 
	voor die Here staan, is Hy aangeraak deur jou nood en sal Hy jou nie sonder 
	kos huis toe stuur nie. Dit geld natuurlik soveel te meer vir enige 
	geestelike honger wat ons kan hê. Kom met jou honger hart na Hom wat die 
	Brood van die lewe is. Kom eet verniet en word versadig. Hy sal jou nie 
	honger wegstuur nie. ~ Wilna Botha, 18/07/2019 |  
    | 
 |  
    | “Jesus het hulle 
	innig jammer gekry en hulle oë aangeraak. Dadelik kon hulle sien en het 
	hulle Hom gevolg.” (Matt. 20:34) Die twee blindes mans het langs die pad 
	gesit en toe hulle hoor dat Jesus verbykom het hulle herhaaldelik hard 
	geroep en gesmeek dat Hy hulle moet help. Jesus het by hulle gaan stilstaan 
	om te hoor wat hulle behoefte is. Hy het hulle innig jammer gekry. Sy 
	meegevoel vir hulle blindheid, sy deernis vir hulle afhanklikheid, sy omgee 
	vir hulle nood het meegebring dat Hy hulle oë aangeraak het sodat hulle kon 
	sien. Miskien tas jy ook in die duister rond, dalk lei jy aan geestelike 
	blindheid, dalk sit jy ook verlore en roep hard en aanhoudend na die Here om 
	jou oë oop te maak. Dalk begeer jy geestelike visie vir jou toekoms en 
	keuses wat jy moet maak. Dalk het jy nuwe oë nodig om God se Woord beter te 
	verstaan en in jou lewe toe te pas. Dalk moet jou oë oopgemaak word vir die 
	hoër plan wat die Here met jou lewe het. Dalk moet jou oë aangeraak word 
	sodat jy die lig kan raaksien aan die einde van die donker pad waarop jy 
	jouself bevind. Hoe ook al ... as die geestelike blinde uitroep na die Here, 
	sal Hy by hom kom stilstaan, sal Hy met deernis en jammerte na sy begeerte 
	luister en sal Hy hom help. Ek bid dat Hy jou oë sal aanraak! ~ Wilna Botha, 
	23/07/2019 |  
    | 
 |  
    | Daar is nog ’n keer waar ons lees dat Jesus mense innig 
	jammer gekry het. Dié keer in Mark 6:34. “Toe Jesus uit die skuit klim, het 
	Hy ’n groot menigte mense daar gesien en Hy het hulle innig jammer gekry, 
	want hulle was soos skape wat nie ’n wagter het nie. Hy het hulle toe baie 
	uitvoerig begin leer.” Ons is mos ook maar soms soos skape wat rigtingloos 
	ronddwaal, elkeen op sy eie koers, elkeen op soek na sy eie weiding, elkeen 
	op sy eie missie, besig met sy eie belange, besig om rond te hardloop op 
	soek na sukses en erkenning. Dis wanneer die Here ook na my en jou kyk met 
	meegevoel en jammerte en ons bietjie eenkant toe wil vat sodat Hy ons kan 
	leer, sodat Hy vir ons wysheid en onderskeidingsvermoë kan gee, vir ons kan 
	help om doelgerig vorentoe toe te beweeg, vir ons nuwe krag en insig kan 
	gee, sodat ons binne ons lewensroeping en volgens Sy planne besluite kan 
	neem, sodat ons vrede en rus kan beleef in Sy groen weivelde. Ons het ’n 
	Herder! “Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar 
	vrede is. Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die regte paaie tot eer van sy 
	Naam.” (Ps. 23:2-3)  ~ Wilna Botha, 25/07/2019 |  
    | 
 |  
    | “’n Melaatse kom toe na Jesus en terwyl hy kniel, smeek 
	hy Hom en  sê: “As U wil, kan U my rein maak.” Jesus het hom innig jammer gekry, 
	sy hand uitgesteek, hom aangeraak en vir hom gesê: “Ek wil, word rein!” 
	(Mark 1:40-41, BDV) Jesus - gevul met deernis, vol jammerte, altyd gereed om 
	genade te bewys! Die arme melaatse man - ’n uitgeworpene wat buite die stad 
	moes bly, hy kon aan geen aktiwiteite van die samelewing deelneem nie, almal 
	het hom vermy en hom selfs met klippe gegooi as hy sou waag om nader te kom. 
	Hy was as onrein bestempel vanweë sy siekte.  Enige iemand sou hom weggejaag 
	het, maar nie Jesus nie ... Jesus kyk na hom en kry hom innig jammer. Enige 
	iemand sou draaie om hom geloop het, maar nie Jesus nie ... Jesus gaan staan 
	stil by hom en raak aan hom en maak hom rein. Het daar dalk iets in jou lewe 
	gebeur wat jou onrein en vuil, verwerp en onwaardig laat voel? Dalk word jy 
	uitgestoot oor jou uiterlike voorkoms, dalk omdat jy gestrem is, dalk oor 
	jou agtergrond, dalk oor jou sonde of een of ander onaanvaarbare leefwyse. 
	Maak soos hierdie melaatse man en kom kniel en smeek vandag by die Here. Hy 
	sal jou hoor. Hy sal jou innig jammer kry. Hy sal jou aanraak. Hy sal jou 
	rein en nuut maak. Hy sal vir jou ’n nuwe begin gee. “Iemand wat aan 
	Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.” (2 
	Kor. 5:17) ~ Wilna Botha, 30/07/2019 |  
    | 
 |  
    | Die weduwee se enigste seun is dood. Omtrent die hele 
	dorp se inwoners is daar om haar te ondersteun. Jesus het haar óók 
	raakgesien. “Toe die Here haar sien, het Hy haar innig jammer gekry en vir 
	haar gesê: “Moenie huil nie!”” (Luk. 7:13) Hy het haar innig jammer gekry. 
	Sy hart was gevul met jammerte en deernis, omtrent dieselfde as toe Sy 
	vriend, Lasarus, oorlede is en Jesus ook gehuil het! (Joh. 11:35). Is jy 
	dalk vandag in daai hartseer bootjie? Jy huil omdat dinge nie vir jou 
	uitgewerk het nie. Jy huil omdat jy ook ’n geliefde aan die dood moes 
	afstaan. Jy huil omdat jy slegte nuus gekry het. Jy huil omdat jy alleen is. 
	Jy huil omdat jy op die punt van ’n egskeiding staan. Jy huil omdat jou kind 
	die pad byster geraak het. Die Here sien vandag jou trane, Hy weet daarvan, 
	Hy het hulle getel en opgeteken, hulle opgevang in sy kruik sê Ps. 56:9. “Ú 
	het my omswerwinge getel; hou my trane in u kruik; is hulle nie in u boek 
	nie?” (Ps. 56:9, OAV) Die Here sien jou hartseer en jy kan seker wees 
	daarvan dat Hy jou innig jammer kry, dat Hy diep aangeraak is deur jou trane, 
	dat Hy selfs sáám  met jou huil en dat Hy sê: “Moenie huil nie.” Hy is nou 
	by jou, Hy droog jou trane af, Hy troos jou, Hy laat jou tot rus kom, Hy gee 
	vir jou nuwe moed en ’n nuwe rede om voort te beur. “Toe ek gedink het my 
	voete gly, het u troue liefde my regop gehou, Here. Toe ek met baie onrus in 
	my binneste sit, het u vertroosting my tot rus gebring.” (Ps. 94:18-19) “Hy 
	help mense wat hartseer is om weer met hulle lewe aan te gaan.” (Job 5:11) 
	 “Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.” (Matt. 5:4) ~ 
	Wilna Botha, 06/08/2019 |  
    | 
 |  
    | Ek die afgelope rukkie bietjie stilgestaan by en 
	nagedink oor dié uitdrukking wat mens heel dikwels in die evangelies 
	raaklees: “Jesus het hulle innig jammer gekry.” Elke keer wanneer mens dit 
	lees, word dit gevolg deur Jesus wat aktief optree en iets dóén vir diegene 
	vir wie hy innig jammer voel. Hy het hulle gesond gemaak, kos gegee, hulle 
	oë oopgemaak, hulle rein gemaak, hulle geleer en hulle getroos. Jesus betoon 
	medelye en barmhartigheid oral waar Hy gaan en sy medelye gaan oor tot 
	optrede en hulpverlening. Vandag is ek en jy ook aan die ontvangkant daarvan 
	– altyd sonder dat ons dit verdien. As volgelinge van die Here sal ons ook 
	dié wat rigtingloos, honger, eensaam, verwerp, siek, swak en hulpeloos is 
	innig jammer kry en behoort dit ons aan te spoor om ons jammerte in dade om 
	te skakel. “Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees 
	nie, maar moet met die daad bewys word en dan in opregtheid.” (1 Joh. 3:18) 
	 Ja, ek is baie keer teensinnig. Ja, ek is baie keer te lui. Ja, ek het 
	gewoonlik honderd-en-een verskonings. Ja, ek is meestal te selfsugtig. Ja, 
	ek verwag te veel kere ’n teenprestasie. Ja, my gesindheid laat veel te 
	wense oor. Ek vra maar net weer die Here om my te help met my onwillige 
	hart, met my veroordelende kyk, met my toe hande en harde gesindheid.  Ek 
	lees hierdie aanhaling van John Wesley en neem dit ter harte, want ek dink 
	dis wat die Here wil hê: “"Do all the good you can, by all the means you 
	can, in all the ways you can, in all the places you can, at all the times 
	you can, to all the people you can, as long as ever you can" ~ Wilna Botha, 
	08/08/2019 |  
    | 
 |  
    | Ek het vir die afgelope agt keer 
	wat dit my beurt was om ietsie te skryf bietjie stilgestaan by dié 
	uitdrukking: "Jesus het hulle innig jammer gekry", wat mens 'n hele paar 
	keer in die evangelies raaklees. Dis 'n uitdrukking wat my so aangegryp het 
	en net vir my onderstreep het dat die Here ’n barmhartige God is. Net soos 
	Jesus dit nie kon help om mense wat honger, siek en hartseer, verlore en 
	blind, vuil en verwerp is, jammer te kry en diep meegevoel met hulle te hê 
	nie, net so weet ek dat Hy dit vandag vir my persoonlik ook sal doen. Sy arm 
	is nooit te kort om te help nie, Sy genade is elke dag vars, Sy oor is nooit 
	te doof om te luister nie, Sy hulp en uitkoms  is nooit vêr nie, Sy liefde 
	is onbegrens, oneindig en onverstaanbaar groot. “Genadig en barmhartig is 
	die Here, lankmoedig en vol liefde” – kyk maar bietjie hoeveel keer hierdie 
	frase in die Bybel voorkom, dan besef mens Sy hart word gou sag! “Die Here 
	gee graag goeie dinge aan ons. Sy hart word gou sag. Hy is geduldig en het 
	sy kinders baie lief. Vir almal is die Here goed. Hy gee om vir alles wat Hy 
	gemaak het ... Die Here sorg vir almal wat seerkry, Hy tel elkeen op wat 
	swaarkry. Almal vestig hulle hoop op U. U versorg elkeen op die regte tyd. 
	Omdat U goed is, gee U maklik goeie dinge aan ons. U gee meer as genoeg van 
	u goedheid aan almal op aarde. (Ps. 145:9-16, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 
	14/08/2019 |  
    | 
 |  
					| 
	Klik hier vir nog meer 
	heuningdruppels > |  
					| 
 |  
					| Duplisering en verspreiding 
			word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur en webruimte (www.heuning.co.za) |  
						|   |  |