|
|
Daaglikse Heuningdruppels -
julle moet mekaar ...
|
...
soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek (Ps
119:11)
Die daaglikse heuningdruppels is ook op ons
Facebook-groep. Klik hier:
 |
|
Duplisering en
verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na
die outeur (Wilna / Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za) |
|
Julle moet mekaar ... |
|
Julle moet mekaar ...
Ek hoor dikwels die versugting by mense dat hulle wil weet wat die
Here se wil vir hulle lewe is. Nou hier is iets baie duidelik wat
die Here wil hê dat ons moet doen. As mens deur die Nuwe Testament
lees, duik hierdie sinsnede dikwels op: “julle moet mekaar” ...
aanvaar, verdra, vergewe, respekteer, reghelp, troos, moed inpraat
en dan die een wat die meeste kere voorkom: julle moet mekaar liefhê.
Nêrens klink dit net soos ’n versoek nie. Nêrens sê dit: as jy
daarna voel of as die ander een dit verdien, of as die ander een dit
vir jou terugdoen nie. Oral sê dit: julle moet. Dit klink vir my
soos ’n opdrag. Dit klink vir my soos iets wat die Here se wil is en
wat ons nie mag verontagsaam nie. Jy kan dalk dink hierdie klink
sommer net soos ’n goeie sessie “life coaching” in sosiale
vaardighede, wat dit natuurlik maklik kan wees. Maak gerus die Bybel
vir ’n oomblik toe en asof hierdie moets nie in die Bybel staan nie,
pas jy dit toe in jou alledaagse lewe – by die huis, by die werk, by
die winkel, agter die stuurwiel, op jou Facebook kommentare en jy
sal sien dat dit goeie vrugte afwerp. Hoeveel te meer as jy dit doen
juis omdat dit in die Bybel staan en sulke gedrag vir die Here
aanvaarbaar is. Ignoreer dit en verhoudings sal versuur word, koppe
sal stamp en bitterheid, negatiwiteit, rusies en onmin sal intree.
Gaan soek gerus bietjie in die Bybel na al die julle-moet-mekaar’s
en doen saam met my selfondersoek. ~ Wilna Botha, 20/08/2019 |
|
Ek lees nog deur al die “julle moet mekaar...”-tekste
in die Nuwe Testament. Ek besef dat ons nie sonder mekaar kan bestaan nie,
almal het een of ander tyd iemand nodig. Ons is nie enkelinge nie, ons leef
nie in isolasie nie. “No man is an island” word daar mos gesê en gesing.
Ons kan nie gelukkig wees op ons eie nie. Ons kan nie vervuld wees op ons
eie nie. Ons kan nie ’n lewensdoel hê op ons eie nie. Ek het al gewonder
hoekom is daar gedeeltes op mens rug waar jy net nie kan bykom om te krap
nie! Dis seker om ons te herinner dat ons mekaar nodig het. Wat sal nou
lekker wees aan suksesse of oorwinnings of goeie nuus as daar nie iemand is
met wie ons dit kan deel nie? Ons moet mekaar en ons verhoudings met mekaar
koester, ons moet dit hoog op ons prioriteitslys sit. Dit gaan natuurlik tyd
kos, dit gaan natuurlik iets van jou vra: bietjie opofferings, bietjie
minder van jou eie belange eerste stel, bietjie meer toegee, bietjie gouer
vergewe, bietjie meer hartlik en vriendelik wees, bietjie meer gasvry. Die
Bybel help ons baie met riglyne oor hoe om mekaar te behandel, hoe om die
beste te maak van ons verhoudings, hoe om die beste na vore te bring in
mekaar ... vandaar al die tekste wat sê “julle moet mekaar ...”. “Julle is
die liggaam van Christus en afsonderlik is elkeen ’n lid daarvan ... as een
lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam
bly.” (1 Kor. 12 :26-27) “No man is an island, No man stands alone, Each
man's joy is joy to me, Each man's grief is my own. We need one another, So
I will defend, Each man as my brother, Each man as my friend.” ~ Wilna Botha,
22/08/2019 |
|
Soos wat ek al die tekste in die Bybel opsoek wat iets
te sê het oor hoe ons teenoor mekaar moet optree, het ek weer dié
interessante een op ’n paar plekke raakgelees en bietjie daaroor gewonder:
“Groet mekaar met ’n soen van Christelike broederskap.” (Rom 16:16) Ek het
die vers ook in ’n paar ander vertalings gelees omdat ek wou probeer
verstaan wat daai “soen van Christelike broederskap” kan beteken. “Greet one
another with the kiss of peace”, sê die Good News Bible; “groet mekaar met
’n heilige kus”, sê die ou Afrikaanse vertaling; nog ander noem dit ’n
“holy kiss” en ’n “warm greeting.” Of ons mekaar nou groet met ’n warm
handdruk, ’n drukkie, ’n wang-soen of ’n behoorlike soen (soos ons tannies
en oumas ons gesoen het!) moet dit ’n getuienis wees van ons
aangetrokkenheid en aanvaarding van mekaar. Dis natuurlik ’n kuis en rein
soen sonder bybedoelings. En natuurlik moet dit ’n opregte soen wees, nie
vals en geveins soos wat Judas se soen was nie. Wanneer ons mekaar met die
een of ander aanraking groet, vra dit dat jy uit jou gemaklike persoonlike
spasie en jou persoonlike voorkeure beweeg. Jy maak jou hand, jou arms en
jou hart oop vir die ander persoon en demonstreer dat jy hom respekteer, nie
op hom neersien nie en hom erken as mede kind van God. Om mekaar te groet
(op watter manier ook al) wys dat daar nie kwade gevoelens tussen ons is nie,
dit openbaar ons goedgesindheid teenoor mekaar, dis as’t ware ’n seëngroet
in die naam van Jesus. “Groet mekaar opreg en hartlik soos Christene dit
behoort te doen.” (1 Kor. 16:20, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 27/08/2019 |
|
“Bid vir mekaar” (Jak. 5:16) is nog een van die vele “mekaar”-tekste
in die Bybel. Hoe wonderlik is dit nie as jy hoor dat iemand vir jóú bid en
jou naam voor die Here noem nie. Jy weet daai persoon dra jou belange op die
hart en lig jou as’t ware op voor die Here. Baie keer het mens nie die
emosionele of geestelike krag om self te bid nie en dan is dit mos kosbaar
om te weet een van jou mede-gelowiges tree vir jou in. Daarom is dit ook
belangrik dat ons daarop ingestel moet wees om vir ander te bid. Ek het
gevind as mens vir iemand vra of jy vir hulle kan bid, sal hulle altyd ja sê
en dit waardeer. Bid vir gesondheid, bid vir verhoudings, bid vir finansies,
bid vir emosies, bid vir veiligheid, bid vir huwelike, bid vir redding,
geloofsekerheid en geestelike groei, bid teen verleiding en sonde. Iemand
kan dalk jou liefde of uitreik na hom teenstaan of weerstaan, maar kan nie
keer dat jy vir hom bid nie. Bid ’n seën gebed oor jou familie, jou vriende,
jou kollegas of selfs die persoon in die supermark wat jou bedien. Bid
stilweg of hardop. Stuur ’n WhatsApp vir jou mense en sê: vandag het ek vir
jou gebid dat ... Gebruik jou eie, eenvoudige, opregte woorde uit jou hart
en nie die ge-ykte woorde van iemand anders wat jy net “share” nie. Bid vir
ander om te ontvang wat jy graag self sou wou ontvang uit die Here se hand.
Die Bybel sê: bid sonder ophou; bid gelowig en moenie twyfel dat God jou
gebed sal verhoor nie; die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwerking.
Die Here sal nie vir ons die opdrag gee om vir mekaar te bid as hy nie van
plan is om ons gebede te verhoor nie. In plaas van skinder oor iemand, bid
vir hom. In plaas van negatiewe gedagtes oor iemand, bid vir hom. In plaas
van kla oor iemand, bid vir hom. In plaas van gefrustreerd wees met iemand,
bid vir hom. Praying for others in your brokenness is a selfless act of love.
~ Wilna Botha, 17/09/2019 |
|
“Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar
het, tot eer van God.” (Rom 15:7) Hierdie is een van die “mekaar”-tekste wat
my diep tref. Aanvaar mekaar tot eer van God. Ons aanvaarding (aanneem in
ons gemeenskap, verwelkom in ons kring, toelaat in ons ruimte, inneem in ons
harte) van ander, eer God! Alles wat ons aan mekaar behoort te doen, gaan
oor die Here se eer. Dit gaan nie oor hoe goed dit my laat voel, of hoe
opbouend dit vir die ander persoon is, of hoe positief dit is, of hoe goed
die daad is, of oor hoe dit die gemeenskap kan bevoordeel of ophef en of dit
só wonderlik is dat dit op Kwêla of Facebook beland nie. Dit gaan oor die
Here en die res is ’n bonus (wat amper nie eens nodig is om genoem te word
nie) Liefde vir die Here kom eerste en loop uit op liefde en respek vir jou
medemens. Dis hoekom Jesus sê dat ons liefde vir mekaar die bewys is dat ons
Hóm volg. (kyk Joh. 13:35) Hoe kan ons Hom liefhê, volg, dien, eer, as ons
mekaar nie aanvaar nie, as ons nie die son oor ’n ander se kop kan sien skyn
nie. Ek hoef nie eers na rasse of etniese probleme te kyk om te weet hoe
diep dié aanvaarding van mekaar sny nie ... kyk sommer net na jou familie,
jou bure, jou werksmense. Ek weet ons verskille maak dit vir ons bitter
moeilik om iemand sommer net so, met geite en al, te aanvaar, maar as ons
onthou ons aanvaarding van mekaar gaan oor die Here se eer, dan word dié
onbegonne taak dalkies net makliker en ligter. Die Here aanvaar ons
onvoorwaardelik, nes ons is ... Kan ons dalk bietjie harder probeer om
mekaar te aanvaar en te respekteer? “So then, take one another to your
hearts ... to the glory of God.” (Rom 15:7, BBE) ~ Wilna Botha, 19/09/2019 |
|
“Praat mekaar moed in. Onthou, julle almal is nou
broers en susters in die nuwe familie van die Here. Daarom moet julle vir
mekaar omgee en mekaar se geloof sterk maak.” (1 Tess. 5:11, Die Boodskap)
Hier is nou nóg iets wat ons vir mekaar behoort te doen – ons moet soveel
vir mekaar omgee dat ons mekaar voortdurend sal moed inpraat om te volhard
en sterk te staan in ons geloof, ten spyte van omstandighede wat twyfel laat
wortel skiet. Ons moet mekaar help om intellektueel en emosioneel en
geestelik te verbeter. 1 Pet. 2:5 sê dat ons almal lewende stene is wat saam
ingemessel is in ’n geestelike huis. Dit help mos nou nie dat jy ’n goeie
baksteen is wat stewig ingemessel is, maar die bakstene om jou is swak nie –
dan gaan die huis wel een of ander tyd intuimel. Doen moeite om wat jy het
en wat jy weet en wat jy voel te deel. Kennis en ervaring wat jy besit is
nie net vir jou eie gebruik nie. Dat jy dit het, is in elk geval uit God se
genade. “Wat ek is, is net genade, wat ek het, is net geleen ...” Ons moenie
net begaan wees oor ons eie welstand en gemak en vooruitgang nie, maar ook
diegene rondom ons opbou en bevorder. Moedig hulle aan om sterk te wees. Gee
vir hulle hoop. Praat positief. Wys hulle die mooi dinge in die lewe. Gee
vir hulle rede om weer op te staan en vorentoe te kyk. Kain het gevra: moet
ek dan my broer oppas? Ja, ons moet ons broers oppas! Ons moet uitkyk vir
mekaar, mekaar bemoedig, mekaar aanmoedig en sorg dat die ander een sterk
bly staan en getrou bly vashou aan die Here. “Kom ons help om mekaar se
geloof sterk te maak.” (Rom 14:19) ~ Wilna Botha, 25/09/2019 |
|
“... dien mekaar in liefde.” ( Gal 5:13) Nog ’n “mekaar”-teks
waaraan ek moet aandag gee: dien mekaar. In die Engelse vertaling sê dit:
serve one another. Om mekaar te dien, vra dus dat ons mekaar sal BEdien.
“And all of you must put on the apron of humility to serve one another.” (1
Pet. 5:5, GNB) Soos ’n kelner in ’n restaurant, met ’n voorskoot en ’n
skinkbord, behoort ons mekaar te bedien. ’n Kelner besluit nie waarmee hy
die gas wil bedien nie, nee, op sy skinkbord is dít waarvoor die gas gevra
het, dít wat die gas nodig het. Die kelner bevraagteken nie die motiewe van
die een wat die bestelling geplaas het nie, hy redeneer en kibbel nie
daaroor nie, hy gee nie verskonings waarom hy nié die persoon gaan bedien
nie. Nederig, met sy voorskoot en sy skinkbord, sonder dat sy eie
verwagtinge, sy eie probleme, sy eie moegheid, sy eie swakheid, sy eie nood
tel, bedien hy die persoon aan sy tafel. Wat is op jou skinkbord waarmee jy
jou familie en vriende en gemeente kan bedien? Dalk is dit wysheid,
inligting of raad, dalk jou tyd, dalk iets van jou geld of goed, dalk ’n
stukkie van jou hart of jou gewillige oor, dalk jou voorbidding. Dit mag
miskien moeilik klink om iemand só onverdiend en onvoorwaardelik te bedien,
maar as jy dit doen, dan demonstreer jy Jesus se liefde aan daai persoon,
dan maak jy dalk ’n pad oop na die persoon se hart. Iets wat ek nou net
besef, is dat die teks sê: dien MEKAAR, wat tog ook beteken dat daar wel ’n
dag gaan wees dat die skinkborde omgeruil is en jý weer aan die ontvangkant
van iemand anders se mededeelsaamheid, hulp en bediening gaan wees. So, as
daardie geleentheid aanbreek moet ons met oop harte en hande iemand anders
se onvoorwaardelike diens aan ons aanvaar en ontvang as ’n seën uit die Here
se hand. ~ Wilna Botha, 01/10/2019 |
|
“Wees altyd ... geduldig en verdra mekaar in liefde.” (Ef.
4:2) Verdraagsaamheid en geduld word in Kol. 3:12-13 ook in dieselfde asem
genoem en ons weet ook maar al te goed dat dié twee “mekaar-dinge” hand aan
hand loop. Ai ek is lekker skuldig in hierdie opsig. Soms wil mens mos dinge
vinnig gedoen kry, soms is mens se irritasie vlakke hoog, ander kere is mens
moeg of olik, partykeer is mens dalk net ongeskik of so op jouself gefokus
dat jy net nie tyd en krag het vir geduld en verdraagsaamheid met ander nie.
Hulle onvermoë om soos jy te dink, so vinnig op te tree of besluite te neem
soos jy, maak jou kort van draad. Hulle foute en tekortkominge maak dat jy
hulle sommer net wil vermy. Stop ’n slag. Gee een tree terug. Haal diep asem.
Sit jou eie gejaag en jou eie program bietjie eenkant. Doen moeite om die
mense om jou raak te sien en te probeer verstaan hoe hulle dink en wat vir
hulle belangrik is. Besef dat jy nie altyd weet waarmee hulle moet “cope” en
watse probleme hulle dalk het nie. Meer geduld en verdraagsaamheid van jou
kant af kan dalk volg as jy probeer om jou in hulle skoene in te dink. Ek
weet dis lekkerder om saam met mense te wees wat soos jy is en soos jy dink.
Ek wil gewoonlik ook sommer dié mense vermy wat my verkeerd opvryf en my
geduld beproef, wat nie saam met my stem en my standpunt respekteer nie. Jy
gaan waarskynlik vandag nog getoets word oor geduld en verdraagsaamheid –
die persoon wat nie gou genoeg ry wanneer die verkeerslig groen is nie, jou
kind wat sukkel met sy huiswerk, jou man wat nie sy vuil klere in die
wasgoedmandjie gooi nie, jou huishulp wat iets gemis het, die kelner wat nie
gou genoeg jou bestelling bring nie ... en so kan die lys aangaan, nè! O ja
en wees sommer bietjie geduldiger met jouself ook. As die vrug van die Gees
in Gal 5:22 genoem word, is geduld een van hulle. Sonder geduld, kan
vriendelikheid, selfbeheersing, liefde en vrede dalk ook in die slag bly.
Kom ons vra die Gees om die geduld-vrug ryp en soet en mooi te maak ons
lewens. “Net soos ’n boom wat ’n baie goeie vrug oplewer, wys hierdie mense
se lewe dat hulle aan God behoort. Sulke mense gee baie om vir ander ...
Hulle verdra ander mense sonder om ooit lelik met hulle te wees. Hulle
straal vriendelikheid en warmte uit; daarom wil ander graag in hulle
teenwoordigheid wees.” ( Gal. 5:22, Die Boodskap) ~ Wilna Botha,
08/10/2019 |
|
“Leef in vrede met mekaar.” (1 Tess. 5:13) Nog ’n “mekaar”-vereiste
wat die Bybel vir ons stel: vrede. Sonder vrede is ons kwaad vir mekaar, sal
ons baklei en mekaar uitskel, sal ons mekaar veroordeel en ignoreer, sal ons
wrokke koester en verseg om mekaar te vergewe. Kyk hoe belangrik is vrede
vir Jesus: “Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al
strafbaar voor die regbank. Verder, elkeen wat sy broer uitskel vir 'n gek,
is strafbaar voor die Joodse Raad; en wie hom uitskel vir 'n idioot, is
strafbaar met die helse vuur.” (Matt. 5:22) Met vrede sal daar harmonie,
begrip, aanvaarding en respek tussen ons wees. Moenie ’n dag kwaad afsluit
nie, sê die Bybel in Ef. 4:26. Maak liewers vinnig vrede, anders gaan jy
slapeloos rondrol. Die Here sê ook dat as jy jou offer bring en onthou dat
jou broer het iets teen jou het, dan moet jy die offer los en eers gaan
vrede maak. (Kyk Matt. 5:23) Sien, al is die ander persoon die bron van die
onvrede, moet ons die eerste stap neem en uitreik en dinge gaan regmaak. Wie
is daar wat jy vermy? Jy kyk anderpad as jy hulle raakloop. Jy het hulle
“unfriend” op Facebook. As jy aan hulle dink, voel jy verbitter. As jy hulle
naam hoor, laat dit ’n swaar gevoel in jou binneste. Dis húlle met wie jy
moet gaan vrede maak. Ons praat nie hier van vreemdelinge nie. Ons praat van
familie, van gemeentelede, van bure, van ou vriende en werkskollegas. “En
die vrede wat Christus gee, moet in julle lewe die deurslag gee.” (Kol 3:15)
Die Here gee Sy vrede vir ons as genade en voorreg en dit moet uitvloei in
vrede met ons naaste. Dit lyk my vrede met mekaar is nie opsioneel nie, dis
ons plig. Hoe langer jy uitstel, hoe moeiliker word dit. Om die vrede te
bewaar is belangrik – dis iets wat opgepas moet word, dis iets wat nie gelos
moet word nie, ons moenie kompromieë daaroor toelaat nie. “Dit moet ook vir
julle baie belangrik wees om die vrede wat Christus vir julle gegee het, tot
elke prys te bewaar. As julle met mekaar begin vassit, maak juis dan die
keuse vir die vrede van Christus. Om die vrede te bewaar is belangrik, want
God verwag van julle om soos een liggaam saam te werk. Hy wil geen
dwarstrekkery hê nie.” (Kol 3:15, Die Boodskap) As daar onvrede tussen ons
is, mis ons uit op ’n ondersteuningstelsel, op vriendskap, op meelewing, op
iemand om die goeie en slegte van die lewe mee te deel. As daar vrede tussen
ons is, kan ons saamwerk en saamstaan, kan ons mekaar troos en bemoedig, kan
ons mekaar aanspoor en na hoër hoogtes help. Jaag vrede na. ~ Wilna Botha,
10/10/2019 |
|
“Wees gasvry teenoor mekaar sonder om te kla.” (1 Pet.
4:9) Hierdie is vir my seker die moeilikste “mekaar” teks om te doen. Ek
troetel my eie spasie, ek is jaloers op my privaatheid, ek stel my eie
gerief en my tyd hoog op prys en is teësinnig om dit op te offer. Om alles
te kroon lees ek toe nou nog dié teks in Die Boodskap ook. Dit sê: “As
iemand by jou opdaag en jou hulp nodig het, help hom met ’n glimlag sonder
om onderlangs te kla of te brom.” Sonder om te kla of te brom! Ek het nogal
gewonder hoe ons hierdie opdrag in ons lewens kan laat realiseer, aangesien
ons in ’n tyd leef waar ons nie ons huise sommer vir enige vreemdeling kan
oopmaak nie. Dalk moet ons net ons harte meer oopmaak vir ander mense, hulle
toelaat om in ons persoonlike spasie in te kom, hulle intrek in ons
gesprekke. Ons moet ’n gasvrye gesindheid hê. Sodoende gee ons vir mense die
boodskap dat hulle welkom en aanvaar en veilig in ons teenwoordigheid is.
Ons moet mense laat tuis voel in ons geselskap. ’n Ander teks sê: “wees
hartlik teenoor mekaar” – sien, dit behels jou oop hart, dit vra vir
gasvryheid van jou hart. Aanvaar mense in jou teenwoordigheid net soos hulle
is, sonder voorbehoud, sonder vooroordeel en veroordeling. Hoe kan ons dit
prakties probeer? Waag dit om iemand vreemd of “anders” as jy te groet en ’n
geselsie aan te knoop. Nooi ’n slag iemand anders as jou vriende en familie
vir ’n ete – dit hoef nie ’n wildvreemde persoon te wees nie, dalk iemand by
jou werk, of ’n gemeentelid, of jou bure. Vat een keer per maand iemand uit
vir ’n koffie – elke keer iemand anders – wys vir hulle dat jy belangstel in
wie hulle is en wat vir hulle belangrik is. Luister na hulle lewenstories en
deel in hulle lief en leed. Die Here maak vir ons spasie in Sy binnekring,
ja selfs in sy ewige woning maak Hy vir ons plek gereed. Waarom sal ons dit
nie ook doen nie? “Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te
wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste
gehuisves.” (Heb. 13:2) ~ Wilna Botha, 15/10/2019 |
|
“Leer en onderrig mekaar met alle wysheid.” (Kol.
3:16). “Leer mekaar wat reg en verkeerd is. As iemand ’n fout maak, help hom
reg”, sê dié teks in Die Boodskap. Gal 6:1 sê ook hoedat ons mekaar in ’n
gees van sagmoedigheid moet reghelp. Die fokuswoorde hier is natuurlik “mekaar”,
“met alle wysheid” en “in ’n gees van sagmoedigheid”. Dié een met die
wysheid en kennis en insig oor ’n saak, moet dit met sy geloofsgenote deel.
Tegelykertyd moet hy natuurlik ook ’n oop hart en verstand hê wanneer iemand
anders as die leermeester aan die woord is. As dit by onderrig oor geloof-
en Woord-sake kom, is dit altyd ’n gee en neem situasie. Gee lering, maar
ontvang dit ook met ’n leerbare gees. Help iemand reg, maar wees ook bereid
om teregwysing te aanvaar sonder om kleinserig en liggeraak te wees. In Jak.
3:1 lees ons dat ons nie almal leermeesters moet wees nie, want dié wat
ander leer sal strenger beoordeel word. Wees dus versigtig wanneer jy die
leermeester is om nie iemand verkeerd te leer en hom sodoende te laat
struikel nie. Vra die Here vir die wysheid en insig wat jy nodig het.
Gebruik groot porsies geduld, sagmoedigheid, nederigheid en begrip. Kies jou
woorde goed. Gebruik eenvoudige taal. Moenie probeer om mense te beïndruk
met jou kennis nie. Deel jou eie ervaring en praktiese toepassing van die
inhoud van jou lering, nie net jou teoretiese kennis nie. Laat dit jou
liefde vir die ander persoon wees wat jou dring om jou kennis en insig oor
te dra. ~ Wilna Botha, 17/10/2019 |
|
“Sien raak wanneer ander gelowiges swaarkry en help
hulle. Tel hulle probleme op julle skouers en dra dit vir hulle. So doen
julle presies wat Christus van julle verwag.” (Gal 6:2, Die Boodskap) Dra
mekaar se laste. Nie omdat jy wil nie, nie omdat dit maklik en logies is nie,
nie omdat jy iets soek om jou mee besig te hou nie, nie omdat die ander een
dit verdien of dit al vir jou gedoen het nie, nie omdat jy ’n “groot
Christen” is nie, maar omdat dit is wat Christus van ons verwag. In
sagmoedigheid en nederigheid vat Hy óns laste op Hom en gee vir ons in ruil
Sy sagte en ligte juk. “Neem my juk op julle en leer van My,” sê hy in Matt.
11:29. Ons moet leer hoe Jesus dit doen en dit dan vir mekaar doen. Mense is
uitgeput van swaarkry en oorlaai met probleme. Sien dit raak en help hulle.
Gaan staan langs hulle en dra saam aan daai laste deur te luister, deur raad
te gee, deur jou hulp aan te bied, deur te bid vir hulle. “So kan God sy
hand deur julle na ander uitsteek en kan ander sy hand deur julle voel.” (1
Pet. 2:5, Die Boodskap) En wees verseker dat dié dag wanneer jy dubbel vou
onder jóú juk sal die Here iemand oor jou pad stuur om jou te help dra. ~
Wilna Botha, 22/10/2019 |
|
“En sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander
geestelike liedere; sing met julle hart tot eer van die Here.” (Ef. 5:19)
Soos wat ek deur die “mekaar”-tekste in die Bybel lees, sien ek dié ene raak:
ons moet saam met mekaar lofliedere sing tot eer van God. Hoekom? Dis ’n
manier om as ’n eenheid saam met medegelowiges voor God te staan. Dit
verskuif die fokus van onsself en ons onderlinge verskille en probleme na
God en ons eendersheid in sy oë. Dis ’n manier om almal sáám uit een mond en
met dieselfde woorde te verklaar wie die Here vir ons is. Dis ’n manier om
almal sáám Sy eer te betuig. Dis ’n manier om vir die Here dankie te sê vir
sy goedheid, sy verlossing, sy liefde wat ons saambind en om mekaar daaraan
te herinner. Dis ’n manier om ons op te lig uit moeilike en donker
omstandighede en God se lig raak te sien. Dink maar aan Paulus en Silas wat
half doodgeslaan in die tronk sit en steeds ’n loflied sing (Hand 16:25). Of
aan Habakuk wat ten spyte van groot onsekerheid sê: nogtans sal ek in die
Here jubel! (Hab. 3:18) Of aan Jesus wat saam met sy dissipels ’n loflied
gesing het enkele ure voordat Hy gevange geneem is vir sy kruisiging. (Matt.
26:30) Die gesingery hoef natuurlik nie net in die kerk of in ’n erediens te
gebeur nie. Hou ’n lofprysingsaand saam met vriende (en vreemdes), sing as
huisgesin saam, luister saam met mekaar na geestelike musiek. En ja, ons kán
lofgesange onder mekaar sing sonder ’n orkes, sonder instrumente, sonder
spesiale effekte, sonder perfekte nootvastheid. Sing net saam! “Laat alles
wat asemhaal, die Here prys!” (Ps. 150:6) ~ Wilna Botha, 24/10/2019 |
|
Dit sal seker nie volledig wees as ons oor al die “mekaar”-tekste
praat en ons sê nie iets oor “vergewe mekaar” nie. Is dit regtig nodig om
wéér daaroor te praat? Ons weet mos teen dié tyd hoe belangrik dit is om
mekaar te vergewe ... of dalk nie, want ons laat nog te dikwels na om dit te
doen. Of is dit net ek? Kom ons neem dit maar weer ter harte: vergewe mekaar.
Jy gaan beter voel. Dit gaan nie heeltyd aan jou vreet nie. Jy gaan nie
nodig hê om draaie om sekere mense te loop nie. Jy gaan nie die ander “mekaar”-dinge
kan doen as jy nie vergewe het nie. Jy gaan nie vir iemand kan bid as jy hom
nie vergewe het nie. Jy gaan hom nie kan help, of hom aanspoor, of sy laste
dra, of hom troos of saam met hom kan lofprysing doen as jy nog iets teen
hom het nie. “Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook
vergewe.” (Kol. 3:13) Volg die Here se voorbeeld: vergewe én vergeet,
vergewe nog voordat die ander een sy skuld kon bely, vergewe al verdien die
persoon dit nie, vergewe weer en weer, vergewe uit liefde. Maak vandag nog
die wilsbesluit om te vergewe. Sê dit hardop vir die Here. Sê dit hardop vir
jouself. Sê dit hardop vir die ander persoon. Vergewe ander, nie omdat hulle
noodwendig jou vergifnis nodig het nie, maar omdat dit is wat die Here van
jou verwag. Vergewe omdat jy God se vergifnis nodig het. Vergewe omdat jy
vrede nodig het. Onthou die vergewe-Wiskunde van die Bybel – 70x7. Doen dit
maar nog ’n keer as dit weer nodig is. Daar gaan dalk ook ’n dag wees wat jy
jou aan die ander kant van “vergewe mekaar” bevind en iemand se vergifnis
nodig het. Moenie wag nie. Gaan sê so gou as moontlik jy is jammer. Wees die
minste en vra vergifnis. Vergewe mekaar, want nie een van ons is volmaak en
foutloos nie. ~ Wilna Botha, 29/10/2019 |
|
So tussen al die “julle moet mekaar”-tekste skuil daar
ook ’n paar “julle moenie mekaar’s”. Wel, hulle kon seker almal maar net die
teenoorgesteldes wees van die “julle moet mekaar’s”, maar daar is tog ’n
klompie goed wat pertinent genoem word wat ons glad nie met mekaar moet doen
nie. Byvoorbeeld: moenie bose planne teen mekaar bedink nie (Sag. 8:17),
moenie hooghartig en eiewys wees nie (Rom 12:16), moenie verwaand wees,
mekaar uittart of afgunstig wees op mekaar nie (Gal 5:26), moenie vir mekaar
lieg nie (Kol 3:19), moenie kwaadpraat van mekaar nie (Jak 4:11), moenie oor
mekaar kla nie (Jak 5:9), moenie oordeel nie (Matt. 7:1), moenie wraak neem
nie (Rom 1:19). Hoekom nie? Want die Here sê Hy haat sulke dinge (Sag.
8:17); want hoe ons teenoor mekaar optree wys of ons met die Gees vervul is
(Gal 5:25); want die Bybel sê ons is lede van een liggaam en as jy een van
dié bogenoemde aan iemand anders doen, is dit asof jy dit aan jouself doen;
want jy trek ’n streep deur jou Christelike getuienis as jy nie jou
mede-gelowiges met respek behandel nie. Kyk maar hoe behandel mense mekaar,
hoe praat hulle oor mekaar in die werkplek, hoe skinder die familie onder
mekaar, hoe haal hulle mekaar uit op sosiale media kommentare. O, ek weet
maar al te goed dat vier vingers terugwys na my en dat ek skaam is om te
erken dat ek skuldig is aan al die bogenoemde. Kom ons volg maar biddend en
nederig die eenvoudige beginsel van: doen aan ander soos jy aan jouself
gedoen wil hê. “As daar een goue reël is waarvolgens julle moet lewe, is dit
die volgende: vra julle elke dag af hoe julle wil hê ander mense teenoor
julle moet optree. Gaan tree dan eerste so teenoor hulle op. As julle so
leef, doen julle alles wat die Bybel van julle vra.” (Matt. 7:12, Die
Boodskap) ~ Wilna Botha (31/10/2019) |
|
“Bo alles moet julle mekaar hartlik liefhê , want die
liefde bedek baie sondes.” (1 Pet. 4:8) Hier kom ons nou by dié heel
belangrikste “julle moet mekaar ...” Sien, die Bybel sê “bo alles". Soos ’n
groot sambreel moet die liefde vir mekaar bo-oor alles wat ons doen en sê en
dink opgeslaan word. Soos ’n sambreel mens kan beskerm teen son of reën,
moet ons liefde vir mekaar ons verhoudinge beskerm. Die liefde bedek baie
sondes, sê die teks. Die sambreel van liefde behoort mekaar se
tekortkominge te bedek en doemprofete, kritiese tonge en foutvinders weg te
keer van ons geliefdes en medegelowiges. 1 Kor. 13:7 beaam ook met: “...
(die liefde) bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.” “Daar is
niks so belangrik as dat julle mekaar liefhet asof julle eie lewe daarvan
afhang nie. Die liefde sien ander se foute oor en gaan nie daaroor te kere
nie.” (1 Pet. 4:8, Die Boodskap) Sonder liefde is ons niks. Sonder liefde is
alles wat ons doen of bereik net soos ’n klinkende metaal of galmende
simbaal – net ’n groot geraas en in God se oë ’n nul op ’n kontrak. As mens
in Gal. 5:22 die vrug van die Gees lees, dan is liefde een daarvan, maar
haal die liefde uit die lys uit, dan verloor die res ook hulle betekenis.
Sonder liefde is daar nie vreugde of vrede nie. Sonder liefde ontbreek
geduld en selfbeheersing. Sonder liefde is goedhartigheid en vriendelikheid
oppervlakkig en van korte duur. Dis harde woorde en dit spreek my aan. Waar
gaan ons genoeg liefde kry om só lief te hê? By die Here. Sý bron is
onuitputlik en verniet. Vra Hom vir meer liefde en Hy sál dit gee. “Hy vul
ons lewe elke dag met sy liefde. Dit doen Hy deur die Heilige Gees wat by
ons bly.” (Rom 5:5, Die Boodskap) “... En die grootste hiervan is die liefde.”
~ Wilna Botha, 05/11/2019 |
|
Iets wat ek oor en oor besef het soos wat ek deur die
“julle moet mekaar”-opdragte van die Bybel gewerk het, is dat dit nie daar
is om ons te straf, of die lewe vir ons moeilik te maak, of groot eise aan
ons te stel nie. Dis ook nie net daar ter wille van ons naaste nie, dis daar
sodat onsself ook baat sal vind daarby. “Mekaar” impliseer tog dat daar
twee partye is. Soms gaan jy gee en heel dikwels gaan jy ontvang. Dalk gaan
jy selfs meer terug ontvang as wat jy gegee het. “Dink daaraan: wie karig
saai, sal karig oes; en wie volop saai, sal volop oes.” (2 Kor. 9:6) – what
goes around, comes around, sê die spreekwoord mos. Party mense is egter so
ingestel daarop om ander te bedien, dat hulle hulleself nooit oopstel om aan
die ontvangkant van die “julle moet mekaar ...” te wees nie. Hoewel die
Bybel sê: “Om te gee maak ’n mens gelukkiger as om te ontvang” (Hand 20:35),
mag en moet ons ook soms aan die ontvangkant van die “mekaar” wees. Aanvaar
hulp, maak jou hart oop vir die liefde wat iemand anders aan jou wil bewys,
wees gewillig dat iemand ’n slag vir jóú bid, wees bereid dat jou geestelike
familie jou las vir jou kom dra, vir jou kom moed inpraat of troos, of jou
bederf met ’n ete of ’n bos blomme, aanvaar die gasvryheid wat iemand aan
jou wil bewys. Wees ontvanklik vir ander se goedheid, barmhartigheid en
genade. Sodoende maak jy dit weer vir die ander persoon moontlik om sý kant
van die “mekaar”-dinge uit te leef tot eer van die Here. As deel van die
Here se familie is ons in ’n span van gee en ontvang. Twee vaar beter as een
en ’n driedubbele tou breek nie maklik nie. (Pred. 4:9, 12) ~ Wilna Botha,
07/11/2019 |
|
Ek het die afgelope tyd ’n paar gedagtes gedeel oor ’n
klompie van die “julle moet mekaar”-tekste in die Bybel. Julle moet mekaar
aanvaar, mekaar vergewe en mekaar liefhê; julle moet gasvry wees teenoor
mekaar en mekaar dien; julle moet geduldig wees met mekaar, mekaar verdra en
in vrede lewe met mekaar; julle moet mekaar help, mekaar se laste dra,
mekaar troos en moed inpraat; julle moet mekaar leer en onderrig en
lofliedere saam sing. Jy mag dalk, net soos ek, oorweldig voel as jy dink jy
moet jou mense altyd só behandel. Dit voel of ons altyd die minste moet wees,
altyd moet toegee, altyd ons eie belange opsy moet skuif, altyd die ander
een hoër ag as onsself. Ek het egter besef dat die Here nie iets van ons sal
verwag waarvoor Hy nie vir ons die gewilligheid, die vermoë, die
uithouvermoë, die krag en insig, die regte gesindheid sal gee deur die
Heilige Gees nie. Jesus het eerste al hierdie mekaar’s met óns gedoen en so
vir ons die voorbeeld kom stel van hoe ons teenoor mekaar moet wees. Hy het
ons eerste liefgehad voordat ons Sy liefde kon beantwoord. Hy het ons eerste
vergewe terwyl ons kniediep in die sonde was. Hy het ons eerste gedien deur
Sy lewe vir ons af te lê. Hy het ons eerste aanvaar en ons Sy kinders gemaak.
Hy het ons eerste in Sy binnekring verwelkom en deel van Sy huisgesin gemaak.
Hy was eerste geduldig met ons en ons telkens weer opgetel as ons gestruikel
het. Hy het ons eerste getroos en moed ingepraat, ons trane afgevee en vir
ons hoop gegee. Hy het ons eerste na Hom toe uitgenooi en ons laste op Sy
skouers geneem. Nou is dit ons beurt om só teenoor mekaar op te tree. Ek bid
dat die Here ons daarmee sal help. ~ Wilna Botha, 12/11/2019 |
|
Om die “julle moet mekaar” – reeks
af te sluit wil ek net bietjie bespiegel oor wie dié mense is teenoor wie ek
al hierdie “mekaar”-dinge moet uitlewe? Is dit net my naby mense? My
kerk-mense? Mede-gelowiges? Almal wat ek teëkom? Alle mense? Hoe vêrder
mense weg is uit my veilige, bekende kring, hoe minder gewillig is ek om
hulle met die “mekaar”-dinge te bedien, hoe meer verskonings kan ek gee oor
waarom ek hulle nie hoef te aanvaar, vergewe, lief te hê, help, ens. nie. Ek
besef maar net weer dat die Here se aanvaarding, genade, liefde en hulp daar
is vir almal, Hy maak nie onderskeid nie. Ek behoort ook nie. Ek moet egter
bely dat dit nie ’n maklike saak vir my is nie. Daar is ’n teks in 1 Pet. 2
wat my ’n bietjie help. Dit help my om te visualiseer dat my hand eintlik
God se hand vir iemand in nood is. Dat my stem eintlik God se stem vir ’n moedelose,
hooplose persoon is. Dat my hart eintlik God se hart vir vir ’n verlore siel
is. Hierdie teks gee die eintlike rede waarom ons op ’n seker manier teenoor
mekaar behoort op te tree. “So kan God sy hand deur julle na ander uitsteek
en kan ander sy hand deur julle voel.” (1 Pet. 2:5, Die Boodskap) Kom ons
raak mekaar aan met God se hand, met God se liefde, met God se
onvoorwaardelik aanvaarding. ~ Wilna Botha, 14/11/2019 |
|
Klik hier vir nog meer
heuningdruppels > |
|
Duplisering en verspreiding
word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur en webruimte (www.heuning.co.za) |
|
|