|
|
Daaglikse Heuningdruppels -
Musiek en Lofprysing
|
...
soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek (Ps
119:11)
Die daaglikse heuningdruppels is ook op ons
Facebook-groep. Klik hier:
 |
|
Duplisering en
verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na
die outeur (Wilna / Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za) |
|
Musiek & Lofprysing |
|
Ek geniet deesdae nogal die aanlyn-kerkdienste.
Ons sit sommer lekker in die bed en kyk terwyl ons koffie drink of
pap eet. Wat ek egter mis in hierdie tye van aanlyn-kerk is die
lekker saamsing. Ja, daar is 2 of 3 liedjies in die uitsending, maar
dis nie dieselfde as om sáám met almal vrolik te sing nie. En selfs
toe die dominee sê: staan op en sing saam, het ek dit nie gedoen nie,
want dis net nie dieselfde as om sáám met die gemeente te sing nie.
Musiek en sang is nog altyd deel van ons samekomste as gelowiges.
Soos Ef. 5:19 sê: “Sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander
geestelike liedere; sing met julle hele hart tot eer van die Here.”
Dit smee ons saam, dit laat ons uit een mond lof bring, dit verander
ons luim, dit help ons fokus op die Here, dit verwoord ons smagting
na die Here se aanraking en genade, ens. Geen wonder dat Ps. 22:4 sê
dat die Here woon waar sy volk se lofsange weerklink nie. Daar waar
ons saam sing, word ons bewus van Sy teenwoordigheid. Ek het bietjie
in die Bybel gaan opsoek oor verskillende liedere wat opgeteken is.
Daar is natuurlik die Psalms wat lofliedere, dankliedere,
klaagliedere, oorlogsliedere, beskermingsliedere ens. insluit, daar
is Hooglied wat liefdesliedere tussen twee minnaars is. Dan is daar
die menigte engele wat sing om Jesus se geboorte aan te kondig, daar
is Paulus en Silas wat in die tronk sing, Jesus en sy dissipels wat
’n danklied sing na die nagmaal, die Israeliete wat
oorwinningsliedere sing, die lied van Moses, die lied van Hanna, van
Hiskia en Habakuk, asook Maria se loflied en Sagaria se loflied.
Daar is nog altyd gesing en musiek gemaak tot eer van die Here, in
goeie tye én in swaar tye. Kom ons hou aan sing, al leef ons in
vreemde tye. Kom ons hou aan sing, al voel jy nie lus nie. Kom ons
hou aan sing, al sing jy alleen. Kom ons sing want die woorde van
die loflied sal jou wel aanraak en jou geloof versterk. Kom ons sing
want die musiek sal jou hart aanraak en jou gedagtes vul met dié
dinge wat daar bo is. “Daarom sal ek sing tot u eer; ek sal nie
stilbly nie. Here my God, vir altyd sal ek U loof.” (Ps. 30:13) ~
Wilna Botha, 28/07/2020 |
|
Die eerste plek waar ek iets raaklees in die
Bybel oor musiek is in Gen. 4:21. Onder die nageslag van Kain word
Jubal genoem as “die stamvader van dié wat op die lier en die fluit
speel”. Lyk my dís waar ons kerk-musiek begin het! Sy naam klink
nogal na “jubel” – dít wat ons harte wil doen wanneer ons saamsing
en die lof van God besing, wanneer ons Sy karaktereienskappe en Sy
dade beskryf in ons liedere. Nou ja, vanaf Genesis tot Openbaring
vind mens ’n musikale draad - daar word daar gesing en musiek
gemaak met allerlei instrumente by verskeie geleenthede. Toe ek dié
musiekdraad so bietjie probeer volg, kom ek af op ’n refrein wat
herhaaldelik gesing is en by ’n paar geleenthede groot gevolge gehad
het: “Loof die Here, aan sy liefde is daar geen einde nie.” Mens
lees bv. in 2 Kron. 20:21 hoedat dié lied meegewerk het dat die
Moabiete en die Ammoniete verslaan is: “Josafat het met die volk
oorleg gepleeg en toe sangers laat plek neem voor die gewapende
manne. Hulle het vooruit geloop in hulle gewyde klere en die Here
geloof met die woorde: “Loof die Here, aan sy liefde is daar geen
einde nie.” Juis toe, toe die sangers met die lofprysing en die
gebed begin, het die Here onverwagte aanvalle bewerk ...” en so
bring die aanvallers mekaar om die lewe. Geen ander wapen was nodig
as nét die lofsange nie! Toe hulle sing, het die Here namens hulle
geveg. Na die bou van die tempel toe die verbondsark in die tempel
ingedra is, het die Levitiese sangers gereed gestaan met simbale,
harpe en liere en wéér is dié lied gesing: “Presies gelyk, soos een
man, het die trompetblasers en die sangers die lof en dank aan die
Here laat weerklink. Die klank van die trompette, simbale,
allerhande instrumente en die loflied ter ere van die Here het
opgeklink: “Want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie.”
Op daardie oomblik het ’n wolk die huis van die Here gevul ... dit
was die magtige teenwoordigheid van die Here wat die tempel van God
gevul het.” (2 Kron. 5:13-14) Dié refrein kom voor in ’n hele paar
van die Psalms, bv. Ps. 100 , 106, 107, 118 en dan ook in elke vers
van Ps. 136: “Aan sy liefde is daar geen einde nie!” Miskien is jy
vanaand in ’n “oorlog”, dalk staan jy voor ’n moeilike situasie, ’n
groot vyand wat jou wil oorweldig. Miskien het jy vanaand die
sekerheid nodig van die Here se teenwoordigheid by jou. Maak sommer
jou eie wysie op vir hierdie woorde, sing dit, glo dit en ervaar dat
die Here jou hart en jou lewe en jou huis kom vul en dat Hy namens
jou veg en vir jou oorwinning gee. “Loof die Here, aan sy liefde is
daar geen einde nie.” ~ Wilna Botha, 30/07/2020 |
|
“As daar iemand is wat opgeruimd is, moet hy lofliedere
sing.” (Jak 5:13) Dit is gelukkig so dat almal in ’n gesin of ’n familie of
’n gemeente darem nie op dieselfde tyd depressief is nie. Dié wat opgeruimd
is, moet aanhou om hulle lofliedere te sing, want daardeur beïnvloed dit die
aanhoorders positief en sal hulle hopelik binnekort ook inval met hulle eie
lofliedere. “Ek sal die roem van die Here sing; dié wat swaarkry sal dit
hoor en bly wees daaroor.” (Ps. 34:3) Al het jy nie sélf die lus of al het
jy dalk nie die innerlike krag of vermoë om ’n loflied te sing nie, luister
na ander se lied en dit behoort jou vir daai oomblik te verplaas na ’n beter
plek waar jy ligter voel en dalk vir ’n oomblik van jou probleme kan vergeet
en kort voor lank sal jy ook weer ’n loflied sing. “Waarom is ek so in
vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom
’n loflied sing.” (Ps. 42:6) Ai, ek weet maar al te goed hoe moeilik dit kan
wees om te luister na iemand se vrolike lofsange terwyl jy self nie wíl sing
nie. “Iemand wat jou klere van jou afvat op 'n koue dag, of asyn op bytsoda,
so is iemand wat vir jou liedjies sing as jy treurig voel.” (Spr. 25:20) Of
as mens, soos Job, só negatief en terneergedruk is dat jou lofliedere stil
raak en jy net treurliede kan en wil sing: “Al wat vir my oorbly, is ’n
treurspel op die lier, ’n lied van trane op die fluit.” (Job 30:31) Só het
die Israeliete se lofsange ook opgedroog toe hulle in Babel in ballingskap
was. Hulle het selfs hulle liere aan die wilgebome opgehang en sê in Ps.
137:2. “Hoe kan ons die lied van die Here sing in ’n vreemde land?” Tóg het
daar weer ’n dag aangebreek dat hulle terug was in Jerusalem en hulle weer
die lof van die Here kon besing met ’n nuwe lied. Moenie dat jou
omstandighede jou loflied steel of stilmaak nie. Sing ten spyte van jou
swaarkry. Sing, want die Here het nie verander nie. Sing, al bot die
vyeboom nie, al is daar geen druiwe aan die wingerde nie, al het die olyfoes
misluk, al is die beeskrale sonder beeste. Sing soos Habakuk en behou jou
blydskap, hoop en vrede ten spyte van die omstandighede: “Nogtans sal ek in
die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder.”(Hab. 3:17-19) ~ Wilna Botha,
04/08/2020 |
|
“Music is food for the soul. Not only does it help in
reducing stress, it makes one happier. It helps in calming down a person,
and makes one more creative.” Dis ’n aanhaling wat ek êrens gelees het. Dis
waar en dit geld in die oortreffende trap wanneer daai musiek Gees-geïnspireerde
lofprysing- of aanbiddingsmusiek is. Die wysie, die ritme, die woorde werk
alles saam om jou hart en jou siel aan te raak en jou gemoed te verbeter.
Een so ’n geval in die Bybel is waar Saul telkens deur ’n boosaardige gees
oorgeneem is en Dawid geroep is om op sy lier te speel, dan het die
boosaardige gees padgegee en Saul het rustig geraak. “And whenever the
harmful spirit from God was upon Saul, David took the lyre and played it
with his hand. So Saul was refreshed and was well, and the harmful spirit
departed from him.” (1 Sam 16:23) Is jy gespanne? Jou binnekant onstuimig?
Jou kop ’n warboel? Skakel ’n paar oomblikke af en luister na ’n geestelike
lied, of sing een van jou gunsteling kerkliedjies, of tokkel op ’n
instrument en ervaar dat die Here se rus van jou besit neem sodat jy verfris
voel, sodat jy weer kan fokus op dit wat jy moet doen, sodat jy dalk insig
kry oor ’n probleem wat jy moet uitsorteer, of ’n woord van wysheid ontvang
wat jy nodig het. “... want ek hoor ’n woord wat my wysheid gee en terwyl ek
op die lier speel, wil ek ’n geheimenis verklaar.” (Ps. 49:5) ~ Wilna Botha,
06/08/2020 |
|
Daar is ’n tyd vir
alles, sê Prediker 3. ’n Tyd vir stilbly én ’n tyd om te dans van blydskap;
’n tyd om uit te breek in vrolike lofgesange, wil ek sommer byvoeg. Ek lees
in Eks. 15 van Moses en die Israeliete se oorwinnings-loflied. Die Here het
die volk gered van die Egiptenare, die see het oor hulle gestroom, nie een
het oorgebly nie en die Israeliete is droogvoets en vry. Hulle kon nie
anders as om met ontsag vir die Here vervul te wees, in Hom te glo en ’n
loflied tot sy eer te sing nie. Net vantevore het Moses vir die volk gesê om
kalm en stil te wees, om nie bang te wees nie, vas te staan en te kyk wat
die Here gaan doen. (Eks 14:13-14) Nóú sing en juig hulle oor sy wonderdade,
oor sy redding, oor sy oorwinning, oor sy heerskappy, oor sy bevryding.
“Singing is as much the language of holy joy as praying is of holy desire”,
lees ek nou die dag êrens. Hierdie was beslis ’n nuwe lied – Moses het dit
sekerlik daar op die oomblik gekomponeer, dink ek. Dit was seker ook nie die
laaste keer dat hulle die lied gesing het nie. Dikwels daarna as hulle weer
onthou het hoe die Here hulle wonderbaarlik gered het, het hulle dit dalk
weer gesing as ’n herinnering: “U wind het gewaai: die water dam op, strome
staan regop soos ’n muur, watermassas stol in die hart van die see” (Eks
15:8). In Openb. 15:3-4 sing dié mense wat die oorwinning behaal het, nog ’n
keer Moses se lied en nou word dit die lied van die Lam genoem! “Here God,
die dinge wat U alles doen, is so groot dat dit ons asem heeltemal wegslaan.
Here, U is die sterkste en kragtigste van almal ...” (Openb. 15:4) Daar mag
dalk tye wees dat jy, soos die Israeliete, voor die golwende waters van die
lewe staan – stil, met asem opgehou omdat jy nie weet hoe jy anderkant gaan
uitkom nie. Glo dat die Here vir jóú ook ’n pad sal maak, die golwe sal
wegdryf, jou sal deurlei en jou sal verras met sy uitkoms, sy grootheid,
getrouheid en genade. Mag jou tyd van stilbly binnekort ’n tyd van
lofprysing word. ~ Wilna Botha, 11/08/2020 |
|
“Laat die volk bymekaarkom en Ek sal vir hulle water
uit die put gee.” Israel het toe hierdie lied gesing: “Put, lewer jou water
en ons sal daarvan sing! Put wat deur leiers gegrawe is, wat deur vernames
van die volk oopgemaak is met septer en kierie””(Num. 21:17). ’n Twee-reël
lied wat die Israeliete sing in afwagting van die Here se belofte dat Hy by
dié put vir hulle water sal gee. As mens die voorafgaande verse lees, is jy
sommer moeg (én dors) wanneer jy sien hoe die klomp kamp opslaan en trek,
kamp opslaan en trek, kamp opslaan en trek ... deur die woestyn. Dié keer
sonder om te kla en Moses en die Here te verwyt soos voorheen: “Waarom het U
ons uit Egipte laat trek net om in die woestyn te sterwe? Hier is nie brood
en water nie en ons is sat vir hierdie slegte kos.” (Num. 21:5) Sonder dat
hulle nou weer kla en murmureer en sonder dat Moses die rots slaan, bring
die Here hulle by ’n put en gee vir hulle water. Die water is ’n lafenis.
Dit les nie net die dors nie, dit was die stof en die swaarkry van die woestyn af, dit verfris, dit vertroos, dit gee nuwe lewe en moed en vertroue
in God se voorsiening. Dít laat hulle sing! En ons? Ons kry die lewende
water vrylik, verniet, oorvloedig by die Here. Hy nooi ons uit na die put
waar Hy vir ons water wil gee: “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en
drink!” (Joh. 7:37) Hy sê as ons uit Sy put drink, gaan ons nooit weer dors
kry nie. “Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ’n fontein wees met
water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.” (Joh. 4:14) Voel jy daai
fontein van die Heilige Gees opspring in jou siel? Sing dan ’n loflied! Ons
het klaar deur die woestyn getrek. Ons het aangekom by die Put met die
lewende water. Kom, kry dit verniet, kom drink, kom sing daaroor en eer God!
“All who are thirsty, all who are weak, come to the fountain, dip your heart
in the stream of life, let the pain and the sorrow, be washed away, in the
waves of His mercy...” ~ Wilna Botha, 13/08/2020 |
|
Daar is twee vroue in die Bybel wat op wonderbaarlike
wyse swanger raak en seuns in die wêreld bring. Albei prys God en maak sy
naam groot en besing sy dade. Dit is Hanna, ma van Samuel, en Maria, ma van
Jesus. In 1 Sam 2:1-10 lees ons Hanna se lofgebed en in Luk. 1:46-55 Maria
se loflied. Ek twyfel of enige van hierdie woorde op ’n wysie gesing is. Dit
was net woorde van lof wat opgeborrel het uit oorstelpte harte. Dit was
eerbetuiging wat bevestig het wie God is en waartoe Hy in staat is. Ons hoef
nie te wag tot die musiek speel om weg te val met ’n loflied nie, nee, bid
dit, sê dit, skryf dit, leef dit. Maak jou eie loflied en as jou woorde
opraak, kom “leen” by hierdie twee vroue. Daar is vir my ’n tema wat
uitstaan in beide vroue se lofbetuiging en dít is dat die Here ’n mens se
omstandighede ten goede kan verander, dat negatief positief kan word.
Hierdie vroue het dit persoonlik ervaar en besing en eer God daarvoor. Kyk
die kontraste wat genoem word: onvrugbaar word vrugbaar, honger word
versadig, dié wat struikel kry nuwe krag, geringes staan op uit die stof,
armes word opgehef en kry ’n ereplek. Dis die verloop van die lewe: swaar en
onvrugbare tye gaan verby en die Here bring nuwe geboortes en nuwe lewe. Die
vroue het egter hulle loflied gesing ten spyte daarvan dat hulle geweet het
dat hulle hul seuns sou moes afstaan ter wille van ander, ter wille van God
se koninkryk. Hulle het gesing al het hulle geweet dat daar eintlik weer
trane op hulle wag. Dis die verloop van die lewe: daar is opdraandes en
afdraandes, daar is gebrek en daar is oorvloed. ’n Tyd om gebore te word, ’n
tyd om te sterwe, ’n tyd om te huil en ’n tyd om te lag ... en nogtans sal
ek in die Here jubel. ~ Wilna Botha, 18/08/2020 |
|
Ek het nou die dag iets geskryf oor Maria en Hanna se
lofliedere. In Rigters 5 lees mens nóg ’n vrou se lied. Dié van Debora. Wel,
sy het dié lied sáám met Barak gesing as oorwinningslied nadat Israel
oorwinning oor Jabin se leër behaal het en Sisera om die lewe gebring is.
Debora is ’n heel formidabele vrou. Sy is ’n profeet, sy het as regter
opgetree wanneer mense geskille met mekaar gehad het, sy was ’n goeie leier,
onderhandelaar en beplanner en dis onder haar planne en leiding dat dié
oorwinning behaal is. Na die oorwinning sing sy: “Ek sing tot eer van die
Here, ek prys die Here die God van Israel met my lied.” (Rigters 5:3) Dis
hoe dit hoort: die Here moet die fokus wees van ons lofliedere, dit moet tot
sý eer gesing word. Ons moet waak daarteen dat ons té veel van ons lied en
ons musiek en ons instrumente en ons voorsangers maak. Ons moet waak
daarteen dat die fokus verskuif van die Here af na die lied en ons eie
stemme, ons eie belewenis, ons eie gevoel, ons eie trane of hoendervleis
terwyl ons sing. Daar is ’n baie mooi lied van Matt Redman wat juis hieroor
gaan. Hy sing: “I'll bring You more than a song, for a song in itself is not
what You have required; You search much deeper within through the way things
appear; You're looking into my heart. I'm coming back to the heart of
worship, and it's all about You, all about You, Jesus. I'm sorry, Lord, for
the thing I've made it when it's all about You, all about You, Jesus.” Dis
’n belydenis dat die lied en die musiek self belangriker geword het as dié
Een waaroor die lied gaan. Stukke van Debora se lied val vir my maar effe
vreemd op die oor, veral hier by vers 7 waar dit klink asof sy bietjie haar
eie beuel blaas: “Die lewe buite die stede het in Israel gekwyn en
agteruitgegaan totdat ek, Debora, na vore gekom het, totdat ’n moeder in
Israel na vore gekom het.” Sy hét wel ’n groot rol gespeel in hierdie
oorwinning en in Israel se geskiedenis, want hierna het daar 40 jaar van
vrede in die land gevolg. Hoe dit ook al sy, hierdie het my maar net laat
dink dat wat ons ook al sing ons vir die Here moet sing, dat ons die woorde
van ons liedere sal oordink en dat die Here se lof en eer altyd die
hooffokus van ons geestelike musiek moet bly. ~ Wilna Botha, 20/08/2020 |
|
“Lof is die offer wat jy aan God
moet bring. Betaal jou geloftes aan die Allerhoogste.” (Ps. 50:14) Die Here
wil nie meer mense se offers van bulle, bokke, ramme, lammers, voëls en
ander goeters hê nie. Nee, Jesus se liggaam en Sy bloed was die volmaakte en
volkome offer vir ons sondes, die finale offer wat vir ons vrede en vryheid
en versoening met God bewerk het. Die offer wat God nou van ons vra is ons
lofprysing, dankbetuiging en eerbetoning teenoor Hom vir dié genade. Dit
beteken nie ons moet heeldag ’n lied loop en sing nie, dit beteken ons lewe
moet spreek van ons dankbaarheid, dit beteken dat ons onvergenoegdheid,
ontevredenheid en gekerm moet plek maak vir ’n positiewe gesindheid, dat ons
harte sag en vol bewondering en eer vir God sal wees in alle omstandighede
en ja, ook dat daar ’n loflied met mooi prys-woorde en ’n wysie op ons lippe
sal wees. As die teks praat van ’n offer van lof, beteken dit dat dit iets
van jou sal vra. ’n Offer beteken jy moet iets prysgee. ’n Offer impliseer
iets wat nie sommer net spontaan gaan kom nie, jy moet ’n besluit maak
daaroor. Jou kop en jou verstand moet instem om God te loof en jou hart en
jou lippe moet volg met die woorde. Ons mag nie wag totdat ons lig en lekker
en vrolik voel om ’n loflied te sing nie, sing al gaan dit gepaard met trane,
sing al is dit donker en al sien jy geen uitkoms nie. ’n Loflied in sulke
omstandighede is ’n geloofstap, ’n herinnering dat alles ten goede sal
meewerk, ’n getuienis van jou vertroue op die Here se uitkoms. “Laat ons dan
onophoudelik deur Jesus aan God ’n offer van lof bring, dié lof wat aan Hom
gebring word deur die lippe wat sy Naam bely.” (Heb. 13:15) ~ Wilna Botha,
25/08/2020 |
|
“Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek
so...” (Ps. 42:6) Vanaand voel ek ook bietjie só: kermrig, klaerig, moeg,
klomp goed loop verkeerd, sommer net omgekrap, bietjie bewolk ... noem maar
op! Dalk kan jy identifiseer daarmee, dalk kan jy nog ’n klomp goed by die
lysie voeg. Dis seker heel natuurlik om af en toe so ’n klaaglied te sing,
veral as ek sien dat daar ’n hele klompie van die Psalms is waar die
kla-faktor deurskemer en dat daar ’n hele boek in die Bybel is wat uit klaag-
en treurliedere bestaan! Wat ek egter vir my uitstaan in die klaagpsalms, is
dat dit nooit net by kla en kerm en mor bly nie. Dwarsdeur spring daar ’n
geloofsbelydenis en ’n verklaring van vertroue in die Here op en word die
klaaglied weer ’n loflied, word die treurmare weer ’n vrolikheid. Soos hier
in Ps. 42:6: “Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou
op God! Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing, Hy is my Helper en my God!”
Hierdie teks herhaal weer in vers 12 én in Ps. 43:5. Drie keer herinner die
digter homself daaraan om op die Here te vertrou en vir Hom ’n loflied te
sing. Ek gaan dit ook doen en my troos en my loflied in Klaagliedere
3:21-23 vind: “Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop:
deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan
sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot. Ek sê vir myself:
Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom.” ~ Wilna Botha, 27/08/2020 |
|
En hoe was jou lentedag? Wel, hier by ons was dit ’n
koue, mistroostige dag met donker wolke wat geen son deurgelaat het nie. En
toe, vanmiddag, sowaar ’n lekker bui reën. Die eerste reën na die winter.
Dit lyk toe steeds nie soos lentedag nie, maar dit ruik darem al so! Daai
reën op die dak en die ligte gedonder van die weer, het vir my sommer baie
na ’n loflied geklink. Ek het toe besef dat die aarde, die bome, plante, die
wolke, die reën, die wind, alles in die natuur die Here se lof besing deur
net te wees wat Hy hulle gemaak het om te wees, deur te doen wat Hy hulle
beveel om te doen. Kyk hoe mooi sê (sing) Ps. 148: “Prys die Here van die
aarde af ... weerlig en hael, sneeu en miswolke, stormwind wat sy opdrag
gehoorsaam, berge, al die heuwels, vrugtebome, al die seders, wilde diere,
al die vee, al wat kruip of vlieg .... laat hulle die Naam van die Here prys.”
Dink bietjie daaraan as jy weer jou loflied sing – die aarde sing saam. So
in droogte of reën, koud of warm, storms of stilte, sién die Here se werke
raak, prys Hom, eer Hom, loof Hom. Lof aan God kan nie stilgemaak of
uitgedoof word nie. As ons sou ophou of weier of versuim om dit te doen, dan
sal die klippe die Here se lof uitroep (so sê Luk. 19:40). “Prys die Here!
Dit is goed om tot lof van ons God te sing, dit is ’n genot om die loflied
te sing wat Hom toekom.” (Ps. 147:1) ~ Wilna Botha, 01/09/2020 |
|
Daar is ’n tyd om vrolike lofsange tot eer van God te
sing, om uit volle bors te jubel en juig, om die Here se lof uit te basuin,
om hande te klap, te dans en op allerlei instrumente te speel. Daar kom
egter ook tye wat mens se lofbetuiginge stilweg gebeur, amper sonder woorde,
sonder musiek, sonder ’n gejuig, net met die diep erkenning in jou hart dat
die Here goed en groot is en dat Hy al jou eer, agting, bewondering en
respek waardig is. Om die Here só te aanbid is ’n baie intieme en
persoonlike saak. Dit vra stilte, ontsag, eerbied en nederigheid en geskied
met opregtheid, eerlikheid en algehele oorgawe aan Hom. “Give worship to the
Lord with fear, kissing his feet and giving him honour” (Ps. 2:11). ~ Wilna Botha, 03/09/2020 |
|
In die diepste donker, op die bodem van die see, woeste
waterstrome rondom jou, een brander na die ander wat oor jou breek, seegras
om jou kop vasgedraai, afgesny van die Here, bevrees en beangs - dit klink
nie eintlik na omstandighede vir ’n loflied nie nè! En veral nog as dit deur
jou eie toedoen is dat jy in dié gemors beland het. Dis waar Jona hom bevind
het na drie dae en drie nagte in die groot vis se maag. Lees maar daar in
Jona 2 hoe rof dit met hom gegaan het. Toe dit vir hom voel of sy einde
aangebreek het, doen hy drie belangrike dinge: hy dink aan die Here, hy bid
en hy sing ’n loflied. Maak sommer dié drie die slagspreuk van jou lewe:
dink, bid, sing. Dink aan die Here wanneer dit swaar gaan, wanneer jy
verlate, alleen, verwerp, siek of bang voel. Dink hoe groot en sterk en
almagtig Hy is. Dink aan sy genade. Dink aan sy beloftes. Pred. 12:1 sê:
dink aan jou Skepper in jou jong dae, voor die swaar dae kom. Ek wil dit
sommer “vertaal” na: dink aan jou Skepper terwyl dit goed gaan, voor die
swaar dae kom. Sodoende kan jy jou verstand en jou hart as’t ware
programmeer met die karakter van die Here, met die wete dat Hy jou nie
alleen sal los nie, met die wete dat Hy jou sal help en red. Doen dít sodat
jy in die swaar dae outomaties aan die Here sal dink. Bid tot die Here
wanneer dit swaar gaan. Pak jou hart voor Hom uit, werp jou bekommernisse op
Hom, maak jou begeertes en behoeftes aan Hom bekend. En sing! Sing ’n
loflied wanneer dit swaar gaan, sodat jou fokus kan verskuif van jou
probleme na dié Een oor wie jy sing. Sing sodat jou gemoed ligter kan word
en met hoop en verwagting gevul kan word. Weet jy wat het met Jona gebeur
nadat hy gedink, gebid en gesing het? Die Here het uitkoms gegee en hom
gered. Dink, bid en sing - die Here se hand is uitgesteek om jou te help.
“Toe ek wou vergaan, het ek aan die Here gedink en my gebed het by U gekom,
in u heilige tempel ... terwyl ek ’n loflied sing, wil ek aan U ’n offer
bring. Hulp kom net van die Here af. Toe beveel die Here die vis en hy het
vir Jona op die vasteland uitgespoeg.” (Jona 2:7-10) ~ Wilna Botha,
09/09/2020 |
|
“Toe het ek die Lam op Sionsberg sien staan en by Hom
honderd vier en veertig duisend mense met sy Naam en sy Vader se Naam op
hulle voorkoppe geskrywe.” (Op 14:1) Wat ’n wonderlike prentjie moet hierdie
nie wees nie? Jesus by sy getroue volgelinge. Hulle is gemerk en elkeen dra
die stempel met Sy Naam daarop. Hulle is uitgesoek, losgekoop, gereinig,
silwerskoon, onberispelik, gewas in Sy bloed. En hulle sing ’n nuwe lied
daar in die hemel voor sy troon. Dié loflied is so hard soos die gedruis van
’n groot watermassa en so indrukwekkend soos die gedreun van swaar
donderweer en só mooi soos ’n klomp siterspelers wat die mooiste melodieë
saam speel. Hulle sing ’n nuwe lied, ’n lied wat nog nooit voorheen gesing
is nie, ’n lied met “geheime” woorde. Nét hulle kan die lied leer, nét hulle
ken die woorde van die lied. Niemand anders kan inmeng in hulle vreugde nie,
niemand kan die lied kaap en probeer saamsing nie; vir niemand anders maak
die lied sin nie. Uiteindelik word die suiwerste loflied met die mees
perfekte woorde en volmaakte melodie tot eer van die Lam gesing. Sing jý
saam? Sal jy een van dié wees wat die woorde van die finale lied ken en uit
volle bors saamsing op daai dag in die hemel? Jy kan! Kies vir Jesus as jou
Here, Verlosser en Vriend en die woorde en die wysie sal in jou hart
ingeskryf word deur Sy Gees. ~ Wilna Botha, 16/09/2020 |
|
Ons was die afgelope naweek uiteindelik bietjie weg van
die huis af. Ná al die maande se inperking en tuisbly was dít nou ’n groot
seën en voorreg wat my met dankbaarheid gevul het. Ek wou sommer net ’n
loflied sing want ek weet die Here het ons deur al hierdie moeilike maande
gedra, vir ons gesorg en meer gegee as wat ons ooit kon dink. Aangekom by
ons oornag-plekkie op ’n gasteplaas beleef ek hoedat die natuur sáám jubel
en sáám sing tot eer van God: die nuwe groenigheid en bloeisels wat orals
deurbreek, die voëls wat nie kan ophou kwetter nie, die helder sterre wat
net meer en blinker is as in die stad en die blare van die bome wat so mooi
ritsel in die wind dat dit sommer soos ’n waterval klink. Dit het my laat
dink aan Jes. 55:12 wat praat van die berge en heuwels wat jubel en juig en
die bome in die veld wat hande klap. Ek het dít gehoor! Hulle doen wat 1
Kron. 16:31-33 sê: “Die hemele moet bly wees en die aarde moet juig, hulle
moet onder die nasies verkondig: “Die Here regeer.” Die see en alles daarin
moet druis, die veld en alles daarop moet jubel, die bome in die bos moet
hulle verheug voor die Here, want Hy kom om oor die aarde te heers.” En ek
neurie saam met die bome in die bos: “Loof die Here, want Hy is goed, aan sy
liefde is daar geen einde nie!” (1 Kron. 16:34) ~ Wilna Botha, 22/09/2020 |
|
Erfenisdag...
Ek het vandag met dankbaarheid gedink aan dié dinge wat ek van my
voorgeslagte geërf het - nie besittings nie, maar wel allerlei gebruike en
rituele en gewoontetjies; maniere van dink, ingesteldheid en uitkyk op die
lewe. En dan natuurlik goeie waardes, nederigheid, deursettingsvermoë,
opstaan ná moeilike omstandighede en belangrikste van alles: geloof. Vir ons
gesin is hierdie Botha-Familiebybel baie kosbaar. Dis bykans 300 jaar oud en
is van geslag na geslag oorgegee. Kyk 'n bietjie na die agterste gedeelte
van die boek wat erg verweerd is. Mens kan sien daai blaaie is baie gebruik,
hulle is heen en weer geblaai en daar is altyd weer teruggegaan na sekere
gunstelinge. Daai bladsye bevat die Psalms en Gesange, natuurlik in
hoog-Hollands. Dié voorgeslagte het gesing! Daar is dalk net 'n kort stukkie
voorgelees uit die Bybel en dan is dit opgevolg met lofprysinge, eer aan
God, dank aan die Skepper... “O goedheid Gods! Nooit regt geprezen, heet hij
een mensch, dien gij niet treft? Hoe snood ondankbaar moet hij wezen, die’t
hart niet vrolijk tot U heft!” Aan U alleen sy dank en ere – laat dit my lus,
my lied hier bly! En ek is dankbaar dat ons ook dít van ons voorgeslagte
geërf het om God te prys met ons liedere, oor en oor, ongeag die
omstandighede... totdat die blaaie verkrummel! ~ Wilna Botha, 24/09/2020 |
|
“Kom prys die Here. Dit is goed om ons God met liedere
groot te maak. Ja, dit is wonderlik. Dit pas by die Here se kinders om met
liedere vir Hom dankie te sê.” (Ps. 147:1, Die Boodskap) Toe ek die
definisie van “praise” opsoek, het dit vir my nuwe betekenis gegee aan die
manier waarop en die rede waarom ons lofprysing doen. ”Praise is defined as
the expression of respect and gratitude as an act of worship.” Ek sien 4
goed wat vir my uitstaan: (1) Dis ’n uitdrukking. Ons lofprysing moet in
woorde gestel word – dit móét gesê, gesing, geskryf, gebid word. (2) Ons
betoon ons respek aan God daardeur – dit behels eerbied, ontsag en agting
vir wie God is en wat Hy doen. (3) Dit gaan gepaard met dankbaarheid vir dit
wat ons uit sy hand ontvang – soos die teks hierbo sê: dit pas by ons om met
liedere vir Hom dankie te sê. (4) Dis ’n manier van aanbidding, van liefde
betoon – dit vra ’n nederige hart, ’n onverdeelde hart, ’n toegewyde lewe.
Dit vra dat ons ons krone sal afhaal, minder van onsself sal dink en voor
Hom sal buig. “Maak die Here, ons God, groot bo alles. Buig laag voor sy
voete ... Maak die Here, ons God, groot. Kniel voor Hom neer en erken Hom
vir wie Hy is.” (Ps. 99:5 & 9, Die Boodskap) “Kom prys die Here. Dit is goed
om ons God met liedere groot te maak. Ja, dit is wonderlik!” ~ Wilna Botha,
29/09/2020 |
|
Baie van ons geestelike liedere het mos die woord
“halleluja” in. Daar was selfs sangbundels wat die “Halleluja-boek” genoem
is en die lofliedere daarin “Halleluja-liedere”. Sovêr ek kan sien, is dit
nie ’n woord wat in die Bybel voorkom nie, daarom het ek maar in die
woordeboek gaan kyk wat dit beteken. ’n Uitroep van vreugde en dankbaarheid
met die betekenis “loof die Heer”, sê die HAT. Dis ook ’n musikale
komposisie of ’n loflied, sê die woordeboek. Ek het ook vir Google gevra en
daar het ek gelees dat dit blykbaar ’n samestelling is van twee Hebreeuse
woorde: Hallel en Jah. Jah is die verkorting van Jehovah, dié Naam van God
wat sê dat Hy die groot, ewige, almagtige God is. Hallel beteken om te prys,
om eer te betoon, om te juig, om lof te bring, om iemand groot te maak, om
’n ophef van iemand te maak, om ’n huldeblyk aan iemand te bring. Hallelujah
beteken dus letterlik vertaal: “prys die Here”. Dit beteken: bring eer aan
die ewige God, verhoog die Naam van die Almagtige, juig oor Sy grootheid,
loof Hom vir wie Hy is, bring hulde aan Hom as God. Die woorde van die
bekende “Hallelujah” van Leonard Cohen sê so mooi: “ ... I'll stand before
the Lord of Song, with nothing on my tongue but Hallelujah!” “... óns, ons
prys die Here, nou en vir altyd! Prys die Here!” (Ps. 115:18) ~ Wilna Botha,
01/10/2020 |
|
Ons sing baie keer “hosanna” in ons lofliedere. Het jy
dalk ook al gewonder wat dit beteken? In die Bybel kry ek die woord net by
een geleentheid en dit is waar Jesus op die donkie in Jerusalem inry. Die
skare is so meegevoer met Sy teenwoordigheid en oor die wonderwerke wat Hy
gedoen het, dat hulle hul klere op die pad voor Hom oopgegooi het, terwyl
ander takkies afgepluk en dit voor Hom op die pad gestrooi het. En toe sing
hulle: “Hosanna vir die Seun van Dawid! Geseënd is Hy wat kom in die Naam
van die Here! Hosanna in die hoogste hemele!” (Matt. 21:9 OAV) Die Hebreeuse
woord beteken “exclamation of adoration”. Hierdie is nie ’n sagte, bedeesde
lied nie, nee, die hosanna word hard uitgeroep en uitgejubel, en die
aanbidding gaan gepaard met aksies – die oopgooi van die klere, die strooi
van die takkies, waai met palmtakke. Soms moet ons lofprysing ook uitbundig
wees. Soms moet dit ook gepaard gaan met aksies – dalk hande klap, dans,
hande opsteek, vlae swaai, ens. Ek weet sulke uitbundigheid pas nie by ons
almal se persoonlikhede nie, maar tog... as die Here groot dinge gedoen het,
as Hy jou gebed beantwoord het, as Hy ’n wonderwerk gedoen het, as jy
oorstelp is van vreugde oor Sy goedheid, wel sing dan uit volle bors
hosanna! “Loof die Koning. Hy wat in die Naam van die Here kom! Vrede in die
hemel en eer aan God in die hoogste hemel!” (Luk. 38:37) ~ Wilna Botha,
06/10/2020 |
|
In Matt. 26:26-30 lees ons hoedat Jesus die Paasmaaltyd
saam met sy dissipels geëet het en hoedat Jesus die brood en die wyn met sy
liggaam en sy bloed vergelyk het. Die maaltyd word afgesluit met lofprysing:
“Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan Olyfberg toe.” (vers
30) Olyfberg toe, Getsemane toe, van-almal-verlaat toe,
gespot-geslaan-gespoeg toe, verraai-en-verloën toe. Ek wonder altyd: wat sou
hulle gesing het? Watse loflied sou Jesus gesing het op pad na die kruis
toe? Watse loflied sal ek en jy bereid wees om te sing op die vooraand van
’n moeilike situasie, in dreigende gevaar, in angs, depressie en eensaamheid,
in die dal van doodskaduwee ...? Jesus en sy dissipels het heel waarskynlik
die gebruiklike lofsang gesing wat die Jode altyd gesing het aan die einde
van die Pasga. Dit was blykbaar Ps. 113 tot Ps. 118. Heel moontlik is dit
nie op ’n wysie gesing nie, dalk net gelees, of ge-“chant”. Wanneer jy op
die drumpel van die moeilikste dag in jou lewe staan, “sing” deur hierdie 5
psalms en ek glo jy sal (soos Jesus) versterk word, moed kry vir wat voorlê,
bomenslike krag ontvang om deur te druk en vrede wat alle verstand te bowe
gaan. Hier is ’n paar verse uit daai psalms wat vandag vir my uitgestaan het:
die Naam van die Here moet geloof word, nou en vir altyd; vertrou op die
Here! Hy help en beskerm; die Here dink aan ons: Hy seën die wat Hom dien,
klein en groot; Hy verhoor my smeekgebede. Hy het geluister toe ek Hom
aangeroep het; bande van die dood het my omsluit, doodsangs het my aangegryp,
ek het heeltemal benoud en bekommerd geword. Toe het ek die Naam van die
Here aangeroep; U het ’n einde gemaak aan my trane; ek het in U bly glo toe
ek in my vertwyfeling besef het: ek kan op geen mens staatmaak nie; prys die
Here want sy liefde vir ons sterk; aan sy liefde is daar geen einde nie; die
Here is by my, ek ken geen vrees nie; om by die Here te skuil is beter as om
op mense te vertrou; die Here triomfeer, die Here doen kragtige dade; ek sal
nie sterwe nie, ek sal lewe. “Die Here is God; Hy skenk ons die lewe. Begin
die fees! Wuif met takke!” (Ps. 118:27) ~ Wilna Botha, 13/10/2020 |
|
’n Paar jaar gelede het ek en Willem in ’n groot
massakoor van omtrent 400 stemme gesing. Later het dié koor gegroei tot meer
as 1000 mense. Dit was hoendervleis mooi as al 1000 stemme saamsmelt in
melodieë. Nie almal in daai koor was noodwendig nagtegale wat honderd
persent nootvas was nie (ek, onder andere!) maar die totale klank was perfek
en mooi. Dit was vir my interessant dat die dirigente gemeen het hulle hoef
nie baie aandag aan intonasie te gee nie, omdat die moontlike “foute” in so
groot klomp stemme op ’n manier wel uitbalanseer. Dit laat my maar net besef
dat ons nie perfekte stemme en die beste musikante hoef te wees om die Here
se lof te besing nie. Onthou, ons doen dit saam met miljoene oor die aarde
en in die hemel en as jou bydrae nou bietjie van die noot of ritme af is,
smelt dit wel saam met al die ander stemme om ’n lieflike geur voor God te
wees. Die enigste “voorwaarde” is dat ons eensgesind moet wees. Ons moet
saamstem oor die grootheid van God. Ons moet saamstem oor wie Hy is. Ons
moet saamstem oor die rede waarom Hy geloof moet word. Ons moet saamstem dat
dit net Hý is wat al ons lof verdien. “Dan kan julle almal eensgesind uit
een mond lof toebring aan God.” (Rom 15:6) “Mag julle almal saam soos ’n
groot koor in ’n harmonie van stemme God se Naam grootmaak. Aan Hom, die
Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe.” (Rom 15:6, Die
Boodskap) ~ Wilna Botha, 15/10/2020 |
|
“As jy dood is, kan nie jy of enige ander dooie mens
die Here prys nie. Dan is jy nie meer daar om dit te doen nie. Maar ons wat
lewe, sal die Here loof. Ons sal nou begin en vir altyd aanhou. Kom prys die
Here!” (Ps. 115:17-18, Die Boodskap) Solank jy lewe, terwyl jy kan asemhaal,
prys die Here. Begin nou daarmee. “Laat alles wat asemhaal, die Here prys!”
(Ps. 150:6) Ek besef maar net hoeveel asem mors ek op negatiewe praatjies,
op skinder en kwaadpraat, op baklei en skree. Die asem wat die Here in ons
ingeblaas het, is vir sý eer; dis vir lofbetuiging; dis vir halleluja en
hosanna skree. Dalk verwys hierdie teks nie net na mense wat fisies lewe of
fisies dood is nie, maar ook na dié wat geestelik lewe of geestelik dood is.
Toe jy Christus ingenooi en aangeneem het in jou lewe, het Sy Heilige Gees
in jou kom woon, het Hy nuwe asem in jou ingeblaas en het jy die ware lewe
ontvang. Ai, as ek maar net dink hoeveel genade dit is dat ek dié nuwe lewe
ontvang het, kan ek nie anders as om die Here te prys en sy lof te besing
nie. Kyk maar net na ’n geestelike dooie mens – hy wíl nie die Here prys nie.
Hy sien niks goeds raak waarvoor hy die Here wil loof nie. Hy het geen
dankbaarheid teenoor God nie. Hy maak staat op sy eie asem. Hy besing sy eie
lof, hy prys homself. As jy geestelik dood is, kan jy nie die Here prys nie.
“Maar ons wat lewe, sal die Here loof. Ons sal nou begin en vir altyd aanhou.
Kom prys die Here!” Haal diep asem en prys die Here uit volle bors. ~ Wilna
Botha, 20/10/2020 |
|
“... daardie oggend toe die sterre saamgesing het en al
die hemelinge gejubel het.” Toe ek hierdie teks in Job 38:7 lees, het ek
gewonder of dít dalk die oomblik was toe God musiek geskep het – die oomblik
toe Hy die sterre gemaak het en almal saamgesing het. Hoe dit ook al sy, ek
glo met my hele hart dat musiek van die Here af kom, dat dit deur Hom geskep
is. Geen mens kon dit uitdink nie. Hoe kan enkele note en ’n klompie
akkoorde die wonderlikste melodieë optower as dit saamgevoeg word? Dis
bomenslik. Hoe kan nuwe, unieke melodieë elke dag die lig sien? Dis
bomenslik. Hoe kan musiek so ’n universele taal wees dat almal dit verstaan
en dat dit mense soos gom saambind? Dis bomenslik. Hoe kan musiek mens laat
huil, laat lag, laat dans, laat hoedervleis kry? Dis bomenslik. “Music is
uniquely wonderful. It is incapable of being touched, yet it touches
everyone who is capable of hearing sounds.” Dis Goddelik! Hierdie aanhaling
uit die film “August Rush” sê dit so mooi vir my: “Listen. Can you hear it?
The music. I can hear it everywhere. In the wind, in the air, in the light.
It's all around us. All you have to do is open yourself up. All you have to
do is listen.” Stel jouself oop en luister. Soek die Here in die musiek en
as jy saam sing of saamspeel op jou instrument, doen dit met ’n dankbare
hart en tot lof en eer van God. ~ Wilna Botha, 22/10/2020 |
|
Ek het op ’n keer iemand hoor sê dat ons lofprysing- en
aanbiddingsliedere direk tot God gerig moet wees, omtrent soos ’n gebed. Ons
moenie óór Hom sing nie ons moet vír Hom sing, het die persoon verkondig.
Taalkundig sou mens seker kon sê die woorde van die lied moet nie in die
derde persoon wees nie (Hy is groot, Hy is goed, ... ens.) nie, of in die
eerste persoon (ek wil die Here loof, kom ons verheerlik sy naam, ens.) nie,
dit moet in die tweede persoon wees (U is groot, U is goed ... ens.) Ek het
begin oplet na die woorde van die liedere wat ons sing en toe het dit my
gepla as die lied nie met God praat nie, maar met die mense om my of oor my
belewenis van wie God is. Ek het gelukkig gou besef dat daar heelwat van die
Psalms in die Bybel wél so geskryf (en gesing) is. Daar is baie Psalms waar
die skrywer sê waarom en hoe hy persoonlik die Here loof. Byvoorbeeld: “Ek
wil die Here prys. Ek wil die Here prys so lank ek lewe, ek wil die lof van
my God besing so lank ek daar is.” (Ps. 146:1-3) Daar is ook baie Psalms wat
’n oproep en aanmoediging teenoor die volk en medegelowiges is om saam met
die musikant die Here se lof te besing. Byvoorbeeld: “Sing ’n nuwe lied tot
eer van die Here, sing tot sy lof in die vergadering van sy troue dienaars.”
(Ps. 149:1), of “Prys God in sy heiligdom, prys Hom hier onder sy magtige
hemelgewelf! Prys Hom oor sy kragtige dade, prys Hom in sy magtige grootheid!”
(Ps. 150:1-2) Ai, hoe arm sou my lofprysing gewees het as ek stilgebly het
as ’n liedjie nie “gepas” het in die persoon se voorskrifte nie. Nee, ons
kan op enige manier sing, enige instrumente gebruik – dóén dit net. Besing
God se naam, bring lof en dank met enige woorde – doen dit net met oorgawe
en met jou hele hart en bedoel dit! ~ Wilna Botha, 27/10/2020 |
|
“Sing en leer mekaar met liedere wat uit die psalms kom
of ander mooi geestelike liedere. Sing met julle hele hart vir die Here.” (Ef.
5:29, Die Boodskap) Toe ek vandag hierdie teks in Die Boodskap lees, besef
ek dat daar nóg ’n ekstra en belangrike betekenis van lofprysing musiek is:
om mekaar te leer en mekaar op te bou. As ons sing oor God se goedheid, sy
grootheid, sy liefde, sy genade en iemand luister daarna, dan leer hy wie
God ís, dan kan dit sy hart aanraak en hom na die Here laat draai. Dink net,
as ons geestelike liedere sing, kan dit dieselfde effek hê as ’n preek!
Miskien is jy iemand wat nog altyd te skaam of bang was om met ander oor die
Here te praat – onthou: jy kan geestelike liedere gebruik om die boodskap
van God se liefde en vergifnis te verkondig; jy kan geestelike liedere
gebruik om jou eie geloofsbelydenis te gee; jy kan geestelike liedere
gebruik om geestelike waarhede oor te dra; jy kan geestelike liedere gebruik
om vir iemand te bid. Die “mooi geestelike liedere”, soos wat die teks
hierbo dit noem, kan ook ander bemoedig, of troos, of hoop gee. Wanneer jy
nie die regte woorde kan vind om iemand moed in te praat nie, is daar dalk
’n geestelike lied wat dit kan doen. Die voorwaarde is nie dat jy musikaal
of nootvas moet wees nie, die voorwaarde is, soos in die teks hierbo genoem,
dat dit met jou hele hart moet wees. Soos wat ons die Here moet liefhê en
dien met ons hele hart, siel en verstand en al ons krag, só moet ons ook sy
Naam grootmaak met ons lofsange: jou hele hart, siel en verstand moet
betrokke wees. Sing en leer mekaar ... ~ Wilna Botha, 29/10/2020 |
|
Omtrent so 10 of 12 jaar gelede was ons betrokke in ’n
gewapende roof in ons huis. Ons was 10 volwassenes en ’n klompie kinders
bymekaar toe 2 gewapende mans by die skuifdeur inbars, ’n skoot skiet, op
ons skree om plat te lê en juwele, selfone ens. te oorhandig. Ons het ons
nie teëgesit nie en gedoen wat hulle beveel het. Een van ons vriendinne het
begin sing: “Daar is krag, krag, wonderbare krag in die bloed van die
Lam...” Ons ander het ingeval en saam gesing - glad nie uit volle bors nie
... bietjie krakerig en prewelend en heel bangerig. Die rowers het dit
gehaat en op ons geskree om stil te bly. Hulle moes aangevoel het dat daar
bonatuurlike krag in die lied was. Op daai oomblik was dit makliker om te
sing as om te bid. Die woorde vir gebed was weg, maar die woorde van ’n
bekende lied het maklik gekom. Dit het vir my gevoel of die sing van die
lied ’n muur opgerig het waaragter ons veiliger gevoel het. Die woorde van
die lied het gehelp dat ons op die Here se krag fokus en nie op ons gebrek
aan krag nie. Die lied het gehelp dat ons saamstaan, dat ons in ons gedagtes
hande vashou. Die woorde van die lied het ons verseker dat die bloed van die
Lam ons beskerming en ons redding is. Die woorde van die lied het ons na
God laat kyk en nie na dít wat om ons aangegaan het nie. Die sing van die
lied het die vrees bietjie laat bedaar, ons moed gegee dat hierdie gevaar
van korte duur sal wees. “Sing saam met my oor die grootheid van die Here en
laat ons saam sy Naam prys. Ek het die Here aangeroep en Hy het my
geantwoord, Hy het my gered uit alle doodsgevare.” (Ps. 34:4-5) ~
Wilna Botha, 03/11/2020 |
|
Ons het oor die naweek weer die Titanic-film gekyk ...
die soveelste keer! En weer, soos elke keer vantevore, het ek gehuil toe die
strykers, te midde van al die chaos en vrees om hulle, te midde van die wete
dat hulle binnekort sou sterf, voortgegaan het om te doen waarvoor hulle op
die skip was om te doen: hulle het aangehou musiek maak. Nader, my God, by
U, steeds naderby, al is daar ook 'n kruis nodig vir my. Dan sal my lied nog
bly, nader, my God, by U ... het hulle gespeel. Ek kon nie help om te wonder
wat ek sou doen as ek op daai sinkende skip was nie. Meer nog, wat sal ek
doen as my lewens-skip dalk ’n onvoorsiene ysberg sou tref en ontydig begin
sink? Sou ek Ps. 23 of ander teksverse opgesê het? Sou ek uitroep na God?
Sou ek Hom verwyt? Sou ek gelate gewag het vir die ergste om te gebeur? Sou
ek op en af hardloop om ’n uitkomkans te soek? Sou ek bo-oor ander klim in
’n poging om in ’n reddingsboot te kom? Sou ek al skreeuend oorboord spring?
Sou ek my geliefdes vashou en in vrede wag op die einde? Sou ek sing: nader
my God by U, al is daar ook ’n kruis nodig vir my? Ek sou seker iets van al
hierdie dinge gedoen het, maar ek hoop dat ek, soos die musikante in die
film, die deursettingsvermoë sal hê om enduit te volhard, om nie moed op te
gee nie, om enduit te doen waarvoor ek op hierdie skip is. ~ Wilna Botha,
10/11/2020 |
|
Iets wat vir my mooi is in ons kerkmusiek is dié
liedere wat ons gebruik as seënbedes. Liedere wat gesing word om die Here se
seën af te bid oor mekaar. Ek weet nie of die jonges dit sal ken nie, maar
’n baie mooi lied wat ons altyd gesing het, is: “Laat Heer u seën op hul
daal, u guns uit Sion hul bestraal ...” Dis as ’n seën gesing by doop, by
inhuldiging van kerkraadslede, wanneer iemand belydenis van geloof afgelê
het, dalk selfs by troues. Deesdae is daar vele seën-liedere. Ons sing graag:
“Die genade van ons Here Jesus bly met jou, mag die liefde van ons Vader jou
bewaar, die Gemeenskap met die Heilige Gees jou weg bepaal, dis my bede
hierdie oomblik net vir jou.” Of: “We bless you with the blessings of the
Lord ...”. Daar is ook verskillende toonsettings van die seën in Num.
6:24-26: “The Lord bless you and keep you, the Lord make His face to shine
upon you, to shine upon you and be gracious, and be gracious unto you ...”
Dis alles baie mooi, nè. Ek dink dit só kosbaar vir iemand as ons die Here
se seën vir hulle sing. Onthou ook dat so ’n seën-gebed wat uit die hart
bedoel word, bindend is en dat die Here dit sal verhoor. Die Here sê in Num.
6:27 as die priesters die volk seën met daai seën-woorde, sál Hy hulle seën.
Ek het gewonder of daar in die Bybel ook ’n seën-lied is en toe vind ek dié
een in Ps. 20:2-5 (Die Boodskap): “Mag die Here jou gebed verhoor as dit met
jou swaar gaan. Mag die God van Jakob jou beskerm. Mag Hy jou spesiaal help
en bystaan. Mag Hy jou gee wat jy graag wil hê. Mag Hy jou planne suksesvol
laat wees.” Sing gerus ’n seën vir mekaar en verwag met oop arms dat Hy sál
seën. ~ Wilna Botha, 12/11/2020 |
|
"The music is not in the notes, but in the silence in
between." Ek het hierdie aanhaling êrens raakgelees. Blykbaar is dit Mozart
wat dít gesê het. Ek dink egter enige musikant sou kon sê hoe belangrik die
rustekens in musiek is, hoedat die gedwonge stiltes diepte en emosie aan die
musiek verleen, hoedat dit afwagting en spanning kan inbring in die musiek,
hoedat dit soms letterlik ’n geleentheid bied om asem te skep. Soms is daar
lang stiltes vir sekere instrumente of stemme sodat ander die geleentheid
het om ’n solospel te lewer. Dawid en die ander Psalmskrywers het ook sulke
stiltes in hulle liedere aangedui met “sela”. Hoewel daar verskillende
interpretasies van die woord “sela” is, stem die meeste verklaarders saam
dat dit wel ’n pouse in die musiek aankondig. “Sela” is daardie stilte waar
die woorde wat so pas gesing is oordink en bepeins moet word, ’n tydjie om
eers te reflekteer oor wie God is en wat Hy doen. Ons moet dalk bietjie
meer fokus op die stiltes in ons lofprysing en aanbidding, daai oomblikke
wanneer die musiek en die woorde ophou en jy met alle aandag, passie,
bewondering en liefde net bewus is van dié Een oor wie jy sing. “Bedaar en
erken dat Ek God is ....”; “Laat staan en weet dat Ek God is ...”; “Be
still and know that I am God ...” (Ps. 46:11) Skep asem, ervaar die diepte
van jou lofprysing, beleef die emosie – sela. ~ Wilna Botha, 18/11/2020 |
|
Nou ja, oor presies ’n maand is dit Ou Kersaand. Dan
gaan ons feesvier. Baie van ons gaan saam met ons families kuier, ons gaan
eet, ons gaan geskenke uitdeel, ons gaan opgewonde harte hê en ons gaan
terugdink aan daardie aand in die oop veld toe die engel gesê het: “Ek het
baie goeie nuus vir julle; nuus waaroor julle nog baie lank gaan feesvier.
Hierdie goeie nuus is vir almal bedoel: vandag is die Redder in die stad van
Dawid gebore; vir almal van julle. Dit is Hy wat julle van julle sondes sal
vrymaak.” (Luk. 2:10-11, Die Boodskap) Ons gaan terugdink hoe die menigte
engele gesing het: “Eer aan God in die hoogste hemel en vrede op aarde vir
die mense in wie Hy ’n welbehae het.” (Luk. 2:14). Ek hoop jy sal saam sing
want die verlossing en vrede is vir jóú. Ek hoop jy sal saam sing want die
vergifnis en redding is vir jóú. Ek hoop jy sal saam sing omdat dié goeie
nuus al die slegte nuus en trane en bekommernis en eensaamheid van 2020 sal
oorskadu. Ek hoop jy sal kan saam sing: al was ek nie daar nie, ek weet dit
is waar. Ek hoop jy sal kan saam sing: joy to the world, the Lord has come!
~ Wilna Botha, 24/11/2020 |
|
Klik hier vir nog meer
heuningdruppels > |
|
Duplisering en verspreiding
word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur en webruimte (www.heuning.co.za) |
|
|