Daaglikse Heuningdruppels -
Vrae
 


... soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek (Ps 119:11)

Die daaglikse heuningdruppels is ook op ons Facebook-groep. Klik hier:


Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Wilna / Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)


Vrae wat die Here vra

Ons peper mos graag die Here met vrae: Hoekom Here? Hoe lank nog? Wanneer Here? Waar is U? Het U my vergeet? Luister u nie meer na my nie? Ek is seker jy ken dit baie goed. Of ons vra vir mekaar of onsself vrae oor die Here net soos Asaf in Ps. 77: Sal die Here vir altyd verstoot en nooit weer genade betoon nie? Het daar vir altyd ’n einde gekom aan sy trou? Geld sy beloftes dan glad nie meer nie? Het God vergeet om medelye te hê? Het Hy in sy toorn sy ontferming onttrek? Ek is seker jy ken dít ook maar alte goed. Al hierdie vrae het my daaraan laat dink dat die Here sekerlik ook vrae het vir ons. In die Bybel is daar heelwat en ek glo Hy vra daardie selfde vrae nog steeds vir ons ook en ek is nie altyd gereed of bereid om te antwoord nie! Ek dink bv. aan Job wat baie vrae gehad het en toe die Here hom antwoord, toe is dit met ’n rits vrae – moeilike vrae. Lees dit gerus vanaf Job 37. Job moes die aftog blaas en erken: “Ek is nie opgewasse teen U nie. Hoe sou ek U kon antwoord? Ek sal liewer stilbly. Ek het gepraat, maar ek kon nie ’n antwoord vind nie, ek het weer geprobeer, maar nou sal ek stilbly.” (Job 39:37-38) Baie van die Here se vrae is retoriese vrae. Die antwoord lê reeds in die vraag, dis voor die hand liggend, Hy vra die vraag, maar verwag nie eintlik ’n antwoord nie, Hy verwag eerder dat die vraag ons moet laat dink en besin. Het jy al agtergekom dat Jesus baie keer vrae wat aan Hom gevra is, met ’n teenvraag geantwoord het? Dit lyk vir my asof Jesus met Sý vrae ons wil lei om ons harte te ondersoek, om standpunt in te neem, om ons sondes en foute te besef, om ons te laat terugdraai na Hom.
As mens die Evangelies lees en bedag is daarop, dan is dit opvallend hoeveel vrae gevra word. Hulle sê in die Evangelies is daar 307 vrae wat Jesus gevra het. Ek het dit nie getel nie, ek glo maar wat “hulle” sê! Iets wat ek nou begin doen het, is om die Evangelies te lees en elke keer as Jesus ’n vraag stel, dan stop ek daar en antwoord eers die vraag asof Hy dit nóú vir my persoonlik vra. Die meeste daarvan ís vrae wat Hy vir ons ook kan vra en wat nóú op ons van toepassing is. As jy dalk sulke vrae in die Bybel teëkom, laat toe dat die vraag jou ontmoet waar jy op die oomblik in jou lewe is, waarmee jy vandag worstel, wat jy nou dadelik nodig het. Antwoord uit jou hart uit en kyk hoe dit dalk jou ingesteldheid kan verander, hoe dit jou siening van die Here en van mense kan beïnvloed, hoe dit jou geloof kan versterk.
Ek het so stuk of 10 vrae uitgekies waaroor ek in die volgende dae bietjie dieper wil dink en ietsie oor sê wanneer dit my beurt is om hier te skryf. ~ Wilna Botha, 23/02/2021

“Waar is jy?” (Gen. 3:9) Dis die heel eerste vraag wat die Here vra. Die Here soek na Adam en Eva, nie omdat Hy nie weet waar hulle is nie, maar omdat Hy weet dat hulle vir Hom wegkruip en Hom vermy en Hom eintlik nodig het om hulle te help. As die Here vandag vir jou vra: Waar is jy? Waar gaan Hy jou kry? Êrens op jou eie pad? Alleen en verlate? Op plekke waar jy nie veronderstel is om te wees nie, waar niemand anders mag weet waar jy is nie? Besig met verkeerde dinge? Of gaan Hy jou vind besig om jou medemens te help, soos die barmhartige Samaritaan, of besig met jou eerlike dagtaak soos die vissermanne langs die See van Galilea, besig om jou gesin te versorg soos Marta, besig om Sy Woord en liefde te deel soos Petrus? Of gaan Hy jou dalk vind langs die sterfbed van ’n geliefde, soos Lasarus se familie, of op jou siekbed in afwagting van ’n wonderwerk, soos die man by die bad van Bethesda, of uitgewerp soos die besetene in Kapernaum? Of gaan Hy jou dalk op jou knieë vind waar jy jou hand uitsteek om aan die soom van sy kleed te raak of in ’n skare gereed sit om te luister na sy leringe? Weet vir seker dat daar nie ’n plek is waar die Here jou nie kan raaksien nie.  Jy kan nie vir die Here wegkruip nie. Hy sal jou altyd weer kom soek en kom haal en kom help. Hy sal 99 skape los om jou te kom roep: waar is jy? Ons is dalk verlore, verdwaal en skaam soos Adam en Eva oor dit wat ons aangevang het, maar hoor vanaand dat die Here na jou kom soek en vra: My kind, waar is jy? “Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom? Klim ek op na die hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar. Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, ook daar lei U hand my, hou u regterhand my vas.” (Ps. 139:7-10) ~ Wilna Botha, 25/02/2021

“Wil jy gesond word?” Wie van ons sou nie met ons hele wese ja antwoord op dié vraag wanneer jy siek is, in pyn verkeer, as behandeling nie vinnig genoeg help nie, as die dokter self raadop is, as daar geen ander hulp is nie? Hoeveel te meer as dit Jesus sélf is wat dié vraag  vra. Jesus, die Groot Geneesheer, Wonderwerker, Helper, Redder. In Joh. 5:6 vra Jesus dié vraag aan ’n man wat al agt en dertig jaar lank siek was en elke dag by die bad van Betesda saam met vele ander siekes gewag het op genesing. Soms vind genesing plaas deur ’n wonderwerk, soms gebeur dit terwyl ons bid, soms gebeur dit wanneer iemand sy hande op jou lê en jou met olie salf, maar meestal gebeur dit deur die hulp van ’n dokter, deur ’n operasie, dalk chemoterapie, dalk ’n inspuiting, pilletjie of stropie, salf of pleister. Ek glo die Here wil ook hê dat ons ons liggame moet oppas en voorsorg tref om nié siek te word nie, soos bv. om beskikbare entstowwe te gebruik. Ek weet daar is deesdae lang debatte en meningsverskille oor die Covid-entstowwe, maar tog vertrou ek dat dit ’n hulpmiddel uit die Here se hand is. Hoe dit ook al sy, alle genesing kom áltyd van die Here af, al is dit deur medisyne of watse mediese hulp ook al. Hou daarom voortdurend jou oog op die Een wat genees en nie die geneesmiddel nie. Ons lees dikwels hoedat Jesus mense met die spreek van ’n woord genees het, maar tog wel ook op ander maniere. So  bv. het Hy spoeg aan die doofstom man se tong gesmeer (Mark 7:33) of klei gemaak van spoeg en grond om aan ’n blinde se oë te smeer (Joh. 9:6). Heel dikwels het genesing oombliklik plaasgevind, maar tog het die tien melaatses eers gesond geword toe hulle op pad is om hulleself aan die priesters te wys. (Luk. 17:14) Meestal kom genesing nie in ’n oogwink nie en vereis dit uithouvermoë en geduld van ons kant af. Dikwels moet ons weer en weer bid en nog ’n keer pleit vir die Here se aanraking. En ja, soms kom daar nie genesing nie. Ons ken al almal iemand wat dood is aan kanker of Covid, ons weet almal van iemand wat met een of ander ongeneeslike siekte saamleef. Ons verstaan dit nie en ons kan dit nie verklaar nie, dit ís egter ’n realiteit. Ons rus en troos lê daarin dat ons nie alleen is nie en dat die Here se arms altyd rondom ons is ... selfs al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee. Kom altyd na die Here met jou pyn – sy hart is sag, sy jammerte lê vlak en Hy sien jou desperaatheid. Stort jou hart voor Hom uit en smeek nog ’n keer vir genesing, nog ’n keer vir Sy aanraking. “Hy het hulle innig jammer gekry en die siekes onder hulle gesond gemaak.” (Matt. 14:14) Mag Hy dit vir jou ook doen. ~ Wilna Botha, 04/03/2021

“Toe Jesus omkyk en sien dat hulle Hom volg, vra Hy vir hulle: “Wat soek julle?”” (Joh. 1:38) Ek het by myself gewonder: ek volg Jesus, sê nou maar Hy kyk vandag om en vra vir my: Wat soek jy? Wie soek jy? Wat wil jy hê? Wat sal my antwoord wees? Wat sal jóú antwoord wees? Soek jy ’n leermeester, iemand wat die Skrif vir jou kan uitlê en kwelvrae oplos? Soek jy na kennis en wysheid? Soek jy dalk ’n vriend, iemand wat jou kan help in tye van nood? Soek jy dalk vis en brood en wil jy wonderwerke beleef?  Volg jy Hom omdat almal anders dit doen of omdat jy so groot geword het, omdat dit die “regte” ding is om te doen?  Soek jy ’n gemaklike lewe, vry van probleme en bekommernisse? Volg jy Hom sodat Hy in al jou behoeftes kan voorsien en aan al jou eise kan voldoen en jou gebede verhoor? Volg jy Hom dalk net uit nuuskierigheid? Of dalk sodat jy kan kyk waar jy Hom kan “uitvang”, soos ’n Fariseër of Skrifgeleerde? Dié twee waarvan Joh. 1:38 praat, was volgelinge van Johannes, maar hy het na Jesus gewys en vir hulle gesê: “dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.” (Joh. 1:29) Toe hulle dít hoor het hulle Jesus gevolg. Volg jy Hom omdat jy ’n Verlosser soek, Iemand wat jou sonde kan wegneem, Iemand wat jou die ewige lewe kan gee? Soek jy God se guns en genade? Soek jy aanvaarding en ’n nuwe geestelike familie? Volg jy Hom omdat jy so desperaat is vir Sy aanraking soos die vrou wat net aan die soom van sy kleed wou raak? Dié twee van Joh. 1:38 se antwoord was: waar gaan U tuis? Miskien wou hulle nie sommer net so in die verbygaan met Hom praat nie, hulle wou lang en diep gesprekke met Hom hê, hulle wou in sy binnekring kom. Jesus nooi hulle uit na sy woonplek waar hulle sommer ook kon oornag. Dit het my laat dink aan die teks in Jak 4:8 wat sê: nader tot God en Hy sal tot julle nader. Volg Hom en Hy sal omdraai en sê: kom bly by My! Dié twee was natuurlik die eerste dissipels en hulle het nooit opgehou om Hom te volg nie. Om Jesus te volg vra ’n prys, dit vra opofferings, dit vra toewyding, dit vra deursettingsvermoë. Jesus sê self in Matt. 16:24: “As mense my volgelinge wil wees, moet hulle hulle hele lewe vir My gee. Om My te volg is baie moeilik. Dit is net so moeilik soos om jou eie kruis na die plek van jou teregstelling toe te dra. As jy net vir jouself wil lewe, sal jy uiteindelik jou lewe verloor en in die doderyk beland. As jy egter bereid is om jou lewe aan My te wy, sal jy beslis ’n plek kry in God se nuwe wêreld.” Bereken weer die koste en besluit of jy Hom enduit sal volg en wat jou antwoord sal wees as Hy sou vra: Wat soek jy? ~ Wilna Botha, 09/03/2021

“Waarom maak julle dit vir die vrou moeilik?” – ’n vraag wat Jesus in ’n stadium vir sy dissipels moes vra. Sonder om te wonder waar in die Bybel dié teks staan en wat die konteks is of wat die vrou gedoen het, dink gou bietjie waar die Here al vir ons kon vra: waarom maak jy dit vir dié persoon moeilik? Ek weet ek sou al by vele geleenthede met ’n mond vol tande moes staan, want ek sou nie weet wat om die Here te antwoord nie. Ek maak dikwels dinge vir ander mense moeilik wanneer ek te veel van hulle verwag, wanneer ek wil hê hulle moet dink soos ek, wanneer ek hulle veroordeel en beoordeel sonder dat ek hulle hele prentjie verstaan, wanneer ek meerderwaardig neerkyk op hulle omdat hulle “anders” is, wanneer ek onnodig kwaad word, wanneer ek lelike dinge vir en van hulle sê, wanneer ek hulle niks gun nie en jaloers is op wat hulle het, wanneer ek ongeduldig, ontoegeeflik, hard en liefdeloos is, wanneer ek weier om genadig teenoor hulle te wees en te vergewe. Dié lys kan nog lank word en ek is seker jy kan dalk ’n paar dinge byvoeg. Jesus vra dié vraag in Matt. 26:10. ’n Vrou het ’n hele fles kosbare reukolie op Jesus se kop uitgegooi. ’n Opofferende liefdesdaad. Sy het haar beste gebring en dit aan Jesus geoffer. Sy het nie die koste ontsien van dit wat sy vir Jesus wou aanbied nie.  Sy het moed aan die dag gelê om deur te druk met dié daad wat sy haar voorgeneem het om te doen, al het sy dalk geweet sy gaan veroordeel word. Die dissipels was egter verontwaardig en het haar beskuldig van vermorsing van geld wat armes kon help. “Laat staan haar,” het Jesus gesê. “Waarom maak julle dit vir haar moeilik?” (Mark 14:6) As mens dié teks in Die Boodskap lees, dan sien mens bietjie meer van die gesindheid waarmee hulle haar aangevat het: “Los haar! Waarom kraak julle haar so af?” Ek dink die les wat ek uit hierdie vraag leer, is dat ons elkeen ons eie unieke manier het waarop ons die Here aanbid en ons moet mekaar die vryheid gun om dit te uit te leef. Ons moenie verwag dat dieselfde goed vir ons almal belangrik is nie. Moenie verwag as jý die roeping het om bv. vir armes te sorg, dat almal dieselfde dringendheid daarvoor moet hê nie. Moenie as dit jóú gawe is om bv. die evangelie met vreemdes te deel of vir mense te bid, ander veroordeel wat nie die vrymoedigheid het om dit te doen nie. Moenie as jý bv. iets goed vir iemand gedoen het ander se toewyding aan die Here betwyfel as hulle nie sulke goeie dade doen nie. Ek het ook besef dis belangrik om altyd my hart en motiewe te ondersoek wanneer ek iets “vir die Here” doen. Jesus sê van dié vrou: wat sy kon het sy gedoen, sy het ’n goeie daad aan My gedoen. M.a.w. sy het haarself gegee sáám met die olie. Wat sy gedoen het, was ’n goeie daad aan Jesus sélf en nie om deur mense gesien te word of mense se goedkeuring te ontvang nie. Ek wil maar net weer die Bybelse raad probeer volg wat sê: behandel ander mense soos julle self behandel wil word. ~ Wilna Botha, 11/03/2021

“Waarom is julle bang?” (Matt. 8:26) Is dít dalk ’n vraag wat die Here vandag vir jou en my kan vra? Is daar bangheid in jou hart? Vrees wat jou verlam? Angs wat jou keel toedruk en jou in koue sweet laat uitslaan? Ek lees hierdie vers in The Passion Translation en dit sê: “Why are you gripped with fear?” Jy ken dit dalk: omknel, vasgedruk, geklem, geboei, uitgemergel deur vrees. Dikwels is ons bang vir die onbekende en vir dít wat met ons kan gebeur waaroor ons geen beheer het nie – bang vir ’n ongeluk, siekte of ramp wat op die dood kan uitloop. Dikwels is ons bang vir verlies – bang om jou werk te verloor, of jou geld en besittings te verloor,  bang ’n verhouding kan verkrummel of bang om verwerp te word. Dikwels is ons bang vir iets wat ons moet doen – bang vir ’n eksamen of werksonderhoud, bang om standpunt in te neem, bang om ’n moeilike besluit te maak. In Matt. 28 vra Jesus dié vraag vir sy dissipels toe hulle Hom doodsbenoud wakker maak omdat hulle skuit in ’n hewige storm op die see beland het. Hulle skree: Here, red ons! Ons vergaan. Hulle het geweet na Wie om te roep in hulle bangheid. Hulle het geweet dis net Hy wat hulle kan red. Hy was al die tyd dáár by hulle. As die bang jou vannag wakker hou, of jou maag op ’n knop laat trek, hardloop na die Here in die geloof dat Hy dáár is en dat Hy jou sal help. Roep na die Here met die sekerheid dat Hy die wind en die see en die storm sal aanspreek en jou gemoed sal laat stil word. Hoor vandag die Here se stem as Hy vir jou sê: “Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.” (Jes. 41:10)  Daar in jou stresvolle oomblik, probeer in jou geestesoog sien hoe die Here by jou is en jou aanmoedig om te doen wat jy moet doen. Die beste raad vir vrees en bekommernis is die wete dat jou God by jou is. Aanvaar dit in geloof. ~ Wilna Botha, 16/03/2021

“Waarom het julle sulke slegte gedagtes in julle harte?” Ek kry só skaam om te dink dat Jesus net sowel vandag hierdie vraag vir my kon vra. Of as enige iemand met wie ek vandag in aanraking was dit vir my sou vra. Daar was veroordeling, opstandigheid, negatiwiteit, spot, verwensing, ja selfs ’n bietjie haat  – en nog ’n hele klomp ander goed in my gedagtes!  Matt. 15:19 vul die lysie aan: “Uit die hart kom slegte gedagtes: moord, owerspel, onkuisheid, diefstal, vals getuienis, kwaadpratery ...” Mens sê mos maklik: ek kan dink wat ek wil, solank ek dit nie sê of doen nie. Die ding is net, as mens eers iets dink, beïnvloed dit jou gesindheid en is dit nou-nou in woorde en kort voor lank word dit dalk net dade.  Die Here ken ons gedagtes, vriend. Ons kan dalk ons gedagtes vir mekaar wegsteek, maar nie vir Hom nie. Ps. 139:2 sê hy ken ons gedagtes nog voor dit by ons opkom! Juis hier in Matt. 9:4 sê dit Jesus het gewéét wat die skrifgeleerdes dink, daarom vra Hy vir hulle: “Waarom het julle sulke slegte gedagtes in julle harte?” Dis vir my nogal interessant dat Hy praat van slegte gedagtes wat in hulle “harte” is. Ek sou wou sê die gedagtes is in my kop. Ek dink hierdie wys net weer dat die hart eintlik die plek is waar alles begin – goeie voornemens, vernuwing, drome,  verlangens, liefde, die wil om te vergewe begin as ’n gedagte in die hart, maar so ook elke sonde, elke verkeerde begeerte en negatiewe emosie. Waar die hart van vol is, loop die mond van oor, sê die Bybel. Daarom moet ons ons harte en ons gedagtes bewaak en bewaar. As ek Jesus se vraag hoor, weet ek dis tyd om my ou gedagtes uit te vee en my hart met nuwe gedagtes te herprogrammeer. “Julle hart en gedagtes moet nuut word”, sê  Ef. 4:23. Hier is ’n moontlike  3-punt plan vir daai vernuwing: laat God julle verander deur julle denke te vernuwe (Rom 12:2), neem elke gedagte gevange en maak dit aan Christus gehoorsaam (2 Kor. 10:5), rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is (Kol 3:2). ~ Wilna Botha, 18/03/2021

“Wil julle nie ook weggaan nie?” Dis wat Jesus in Joh. 6:67 vir sy dissipels gevra het, nadat ’n klomp van sy volgelinge omgedraai en huis toe gegaan het. Hulle het nie gehou van wat hulle gehoor het nie. Sy lering was nie meer vir hulle opwindend genoeg nie, dit het nie meer voordeel vir hulle ingehou nie, dalk het hulle nie meer genoeg wondertekens gesien of genesings beleef nie, dalk was die nuutjie vir hulle verby. Sy lering het hulle nie “gepaai” en goed laat voel nie, inteendeel, dit het hulle voor keuses gebring, dit het iets van hulle gevra. Jesus het gesê: “Wie My liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.” (vers 54), “Daar is party van julle wat nie in My glo nie.” (vers 64), “Skrik dit julle af...?” (vers 61) Dit het! En hulle het omgedraai en Hom nie meer gevolg nie. Die wêreld wil ’n “gemaklike” geloof hê wat altyd sin maak, nie moeilike keuses het nie, min eise stel, onmiddellike resultate het en net gladde paaie sonder opdraandes of storms het. Het jy al êrens in jou lewe oorweeg om om te draai en nie meer vir Jesus te volg nie? Die feit dat Jesus vir die dissipels (en vir ons) vra: “Wil julle nie ook weggaan nie”, is ’n bewys daarvan dat Hy niemand dwing om Hom te volg nie, dat ons altyd die keuse het of ons Hom aanvaar en volg of nie. Ons het ’n keuse of ons bereid is om Hom ten volle deel te maak van ons bestaan (sy liggaam te eet en sy bloed te drink). Jesus was nie ontsteld omdat sy volgelinge Hom verlaat het nie, Hy het dit verwag. Hy het immers van die begin af geweet dat die poort wat na die lewe lei nou is en die pad daarheen smal en dié wat dit kry is min. (Matt. 7:14) Dié wat Hom enduit volg, is dié wat hulle oog op die ewige waarde van ’n verhouding met Jesus hou en nie op tydelike, selfsugtige, sigbare dinge nie. Dié wat nie omdraai nie is dié wat weet dat daar nêrens anders is om ware vrede te kry nie, wat weet dat Hy die woorde het wat ewige lewe gee. Ek hoop as Jesus vandag vir ons sou vra: “Wil julle nie ook weggaan nie?”, ek en jy saam met Petrus onomwonde sal antwoord: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee. En ons glo vas en ons weet dat U die Heilige van God is.” (Joh. 6:69) ~ Wilna Botha, 23/03/2021

“Maar sal die Seun van die mens by sy koms nog geloof op die aarde vind?” (Luk. 18:8) Sê nou maar Jesus vra vandag vir jou of daar nog geloof in jou hart oor is, wat sou jou antwoord wees? Dalk kan jy sê ek het geglo toe ek ’n kind was, maar nou laat my verstand en geleerdheid nie meer ruimte vir geloof nie. Dalk kan jy sê ek het geglo, maar nadat my kind dood is en ek met kanker gediagnoseer is, kan ek nie meer glo nie. Dalk kan jy sê ek het geglo, maar nou voel die Here vêr, ek twyfel of Hy bestaan en ek kan nie meer bid nie. Dalk kan jy sê ek het geglo, maar nadat ek my werk en my huis en al my goed verloor het twyfel ek of die Here my kan help, my geloof is te min. Dalk kan jy sê ek het geglo, maar die kerk en ander gelowiges het my seergemaak en my geloof vernietig. Of dalk kan jy sê ek het geglo, maar ek het alles wat ek nodig het, ek het hard gewerk, ek is suksesvol, ek het nie meer geloof in ’n onsienlike God nodig nie. Die Here antwoord ons gebrek aan geloof met nóg ’n vraag: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?” (Matt. 14:31) Petrus het Jesus geglo en kon op die water loop, maar toe hy na die storm en die omstandighede rondom hom kyk en sy oë van Jesus afhaal, het hy gesink. Ek herinner myself vanaand daaraan om nie te begin twyfel en soos ’n brander deur die wind heen en weer gedryf word nie, soos wat Jak 1:6 sê. Ek herinner myself om te glo ten spyte van omstandighede, ten spyte van hoe dinge lyk en voel en klink, om te glo in die Here al is dit ten koste van myself, vriendskappe of wat ook al.  Onthou geloof is “om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.” (Heb. 11:2) Geloof is die onwrikbare wete en vaste sekerheid dat die Here is wie Hy is en dat Hy kan en sal doen wat Hy sê. “Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.” (Heb. 11:6) Ek pleit soos die apostels in Luk. 17:5: “Gee ons meer geloof”, of soos die man in Mark 9:24: “Ek glo ... help my in my ongeloof.” ~ Wilna Botha, 30/03/2021

“Verstaan julle wat Ek vir julle gedoen het?” (Joh. 13:12) So vra Jesus by die Paasfees-tafel vir sy dissipels nadat Hy die ongewone ding gedoen het om hulle voete te was. Verstaan hulle dat Hy gekom het om te dien, dat Hy homself nie so belangrik ag, dat Hy nie bereid is om sy bokleed uit te trek en sy handdoek as voorskoot om te bind en sy volgelinge se voete te was nie. Verstaan hulle dat Hy Sy Goddelike bestaan prysgegee het om ’n mens tussen mense te word, om die pad van vernedering, gehoorsaam enduit te loop tot by die kruis. (soos wat ons lees in Fil. 2:6-8). As Jesus vandag op hierdie donker, benoude, bebloede, verlate, verguisde, verbryselde, mishandelde, deurboorde, kruisiging-Vrydag vir ons sou vra: “Verstaan julle wat Ek vir julle gedoen het?”, sou jy “ja” kon antwoord? Verstaan jy dat al die lyding en verwerping en pyn wat Jesus moes verduur namens jóú was? Verstaan jy dat ál jou sonde daar op die kruis op Hóm afgekom het, dat Hy gesterf het in jóú plek? Dat Hy jou sondeskuld-rekening betaal het deur dit aan die kruis vas te spyker? Dat Hy jou sondelas op Hóm geneem het?  Verstaan jy dat jy nou vry, vergewe, skoon en kwytgeskeld is, dat daar geen veroordeling meer is vir jou nie, dat jy nou die reg het om God se kind genoem te word, dat daar vir jou genesing gekom het deur Sy wonde? Verstaan jy dat jy nou die ewige lewe het? Verstaan jy wat Hy vir jou gedoen het en glo jy dat dit vir jóú persoonlik is? As jou antwoord “ja” is, dan sal jy ook verstaan hoekom hierdie Vrydag ’n “Goeie” Vrydag geword het. “Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.” (Jes. 53:5) Verstaan jy wat Hy vir jou gedoen het? ~ Wilna Botha, 02/04/2021

“Wat is dit wat julle so ernstig met mekaar loop en bespreek?” (Luk. 24:17) Op die dag van Sy opstanding verskyn Jesus aan twee dissipels wat op pad is na Emmaus. Hulle was hartseer en ontnugter oor die veroordeling en dood van hulle Leermeester en het oor al dié dinge wat gebeur het geloop en praat. Hulle was ook ontsteld oor die stories dat Jesus uit die dood opgestaan het, omdat hulle dit glad nie verstaan het nie. Jesus kom nader, stap saam met hulle en vra: wat bespreek julle so ernstig? What are you talking about, so sad and gloomy? (volgens The Passion Translation) Net daar en dan pak hulle alles uit wat hulle so pla en waaroor hulle wonder en wat hulle so somber en terneergedruk maak. Weet jy, Jesus hét opgestaan, Hy leef en Hy val vandag ook daar langs jou in op jou lewenspad om uit te vind waaroor jy praat, waaroor jy kla, waaroor jy bekommerd is, wat jy nie verstaan nie, wat nie vir jou sin maak nie, wat vir jou onmoontlik lyk. Jy kan, nes die Emmausgangers, jou hart uitpak en uitpraat teenoor Jesus. Dan sal Hy, soos vir hulle, die Skrif oopmaak en sy woord laat lewe kry, dan sal jy antwoorde vind, rustigheid kry en tevredenheid ervaar. “Moenie oor dinge sit en tob of jou bekommer nie. Gaan praat met God daaroor. Bespreek dit met Hom. Vertel Hom hoe jy daaroor voel. Sê dan vir Hom dankie dat jy met Hom daaroor kan praat en dat Hy die beste weet. Jy sal dan verlig en tevrede voel. Jy sal hierdie verligte gevoel nie altyd kan verklaar of wetenskaplik kan uitlê nie. Omdat jy egter weet dat jy aan Jesus behoort, sal jy nie meer omgekrap voel nie.” (Fil. 4:6, Die Boodskap) “Hulle sê toe vir mekaar: Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?” (Luk. 24:32) ~ Wilna Botha, 06/04/2021

“Het jy my lief?” So het Jesus drie maal vir Petrus gevra in Joh. 21:15-17. Toe ek vandag oor dié vraag gedink het en gewonder het wat ék sou antwoord as Jesus dit vir my sou vra, het ek gedink dat ek, nes Petrus, dadelik sou sê: “Ja, Here, U weet dat ek U lief het.” Dis mos logies. Dis kan mos nie anders nie. Hy het my lief en ek het Hom lief. Hy het my eerste liefgehad en daarom het ek Hom lief. Hy het sy lewe vir my afgelê, daarom het ek Hom lief. Hy het al die antwoorde en die woorde wat lewe gee, daarom het ek Hom lief. Hy ken my, daarom het ek Hom lief. Hy versorg, beskerm en help my, daarom het ek Hom lief. Uitgemaakte saak. Daai ou-ou liedjie sê mos: Jesus loves me, this I know... Ons sing egter hierdie mooi versie ook by: I love Jesus, does He know? Have I ever told Him so? Jesus loves to hear me say, that I love Him every day. Hy wil ook uit jou mond hoor dat jy Hom lief het. Hy wil ook hoor dat jy voor ander sê dat jy Hom lief het. En ja, ons weet tog dat liefde nooit net lippetaal is nie. Dit moet in aksie kom. Dit moet in dade oorgaan. Liefde sonder dade om dit te bewys is nie liefde nie. Ek dink ons liefde vir Hom het drie fasette: volg Hom, vertrou Hom, gehoorsaam Hom. Dit begin met ’n keuse vír Hom, dit behels ’n neerlê van jou eie begeertes, jou eie ambisie, sodat niks belangriker is as Hy nie, sodat jy net oë het vir Hóm. As ek Hom lief het, kan en sal ek Hom vertrou met alles en vir alles. "Om God lief te hê, beteken om Sy opdragte ernstig op te neem en uit te voer". (1 Joh. 5:3) As ons sê dat ons Hom lief het, moet ons doen wat Hy sê. Dit is ongelukkig só dat as ons die Here Jesus lief het, moet ons ook sy ander kinders liefhê, al is dit moeilik, al wil ons nie, al soek ons allerlei verskonings om dit nié te doen nie. Petrus het vantevore sy liefdes-toets gedop toe Hy Jesus verloën het en selfs gevloek het en gesweer het dat hy Hom nie ken nie. En ek - hoe diep lê my liefde? Hoe gou kwyn dit as daar moeilikheid opdaag? Hoe maklik weier ek om ander lief te hê? Hoe gou stel ek iets anders bo my Groot Liefde? Ongelukkig moet ek bely dat ek knaend my liefdes-toets dop. Petrus het weer ’n kans toe Jesus hom drie maal vra: Het jy my baie lief? “Ja, Here, U weet dat ek U lief het.” Vanaand het ek en jy ook weer ’n kans. Wat is jou antwoord? ~ Wilna Botha, 08/04/2021

“Wat staan in die wet van Moses geskrywe? Wat lees jy daar?” (Luk. 10:26) “Julle het tog al in die Skrif gelees...” (Matt. 21:42) Wat lees jy daar in jou Bybel? Dis wat Jesus vir ons ook kan vra. Ons wonder tog so baie kere wat is sy wil? Is iets reg of verkeerd? Mag ek dit of dat doen? Hoe moet ek in die of daai situasie optree? Jesus stuur die wetgeleerdes terug na die wet om antwoorde te vind. Hy stuur sy volgelinge terug na die Skrif vir insig en om situasies te beoordeel. Wat lees jy daar in jou Bybel? Of dalk kan die Here vandag vir ons vra: lees jy jou Bybel? Glo jy wat jy lees? Laat jy toe dat dit jou lewe beïnvloed? Maak ons staat op die inhoud om vir ons die koers aan te dui en vir ons antwoorde vir elke situasie te gee, of volg ons ons eie kop, of ander se raad? Daar is báie geestelik boeke en báie geestelike stukkies op Facebook en jy kan vir enige geestelike vraag ’n antwoord op Google kry, maar al daai inligting moet getoets word en geweeg word teenoor die Bybel. So, wat lees jy daar in jou Bybel? “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek.” (2 Tim 3:16) En natuurlik, die heel belangrikste is dat die Bybel vir ons die pad van redding en verlossing deur Jesus Christus leer, vir ons die pad na ewige lewe wys. Jy kan dit daar lees, maar gló jy dit? “Ek kan nie glo julle geloof is so klein nie. Hoekom glo julle nie wat God se boodskapper in die Bybel sê nie?” (Luk. 24:25, Die Boodskap) Lees en glo jy die Bybel selektief of aanvaar jy alles as God se Woord en van toepassing in jou lewe vandag? Kyk net hoe mooi sê Ps. 19: die Woord dui die regte koers aan, dit bring blydskap, gee insig, staan altyd vas, is kosbaarder as goud, soeter as heuning. “Wie dit alles onderhou, groot is sy beloning.” (Ps. 19:12) ~ Wilna Botha, 13/04/2021

“Wat raas en huil julle so?” (Mark. 5:39) In ander vertalings klink die vers só: Vir wat gaan julle so te kere? (Die Boodskap) Why all this confusion? Why are you crying? (GNB) Why are you making a commotion and weeping? (ESV) Jesus praat hier met die roubeklaers voor Jairus se huis waar sy dogtertjie gesterf het. Dis nie vir hulle nodig om te rou nie, want daar is ’n groter prentjie wat hulle nog nie raaksien nie. Kom ons dink ’n bietjie oor dié tye en situasies in ons lewe waar ons raas en huil en te kere gaan en ontsteld en vies is as ons voel dinge is buite beheer. Daai geleenthede waar ons ’n “scene” maak as dinge skeef loop, paniekerig rondtas as ons iets verloor of iets moet prysgee, uitbars in trane as ons teleurgestel word, ineenstort van verdriet wanneer ons slegte nuus kry. Wat raas en huil julle so, kan Jesus sekerlik vir ons ook vra. Ons hét mos hoop, ons hét mos die Here aan ons kant, ons wéét mos alles (goed en sleg) sal ten goede meewerk, ons wéét mos ons is nie alleen nie, ons wéét mos waar ons hulp vandaan kom, ons wéét mos ons is tot alles in staat deur Hom wat vir ons krag gee, ons weet mos Hy droog al die trane af, ons wéét mos Hy is in beheer en daar ís ’n groter, Goddelike prentjie. Dis natuurlik nie te sê dat ons nie mag huil en treur, hartseer of bekommerd wees nie. Dis menslik en ons mag. Jesus misken ook nie ons hartseer en trane nie! Maar ons moenie met ons gehuil en geraas só op ons hartseer fokus dat ons, soos die roubeklaers in Mark 5, mis dat Jesus opdaag, dat Hy ’n plan het, dat ’n wonderwerk op die punt is om te gebeur nie.  Ek dink daaraan dat Jesus self in die tuin van Getsemane doodsbenoud was en bloed gesweet het. Maar hoe het Hy dit hanteer? Hy het gebid, op sy vriende se ondersteuning staatgemaak, weer en weer gebid en toe gelate oorgegee omdat Hy geweet het dat sy Vader se wil nou verder sal geskied. Ons is nie bekommerd soos mense wat nie ’n goeie uitkoms verwag nie, ons nie bang soos mense wat nie weet waar hulle hulp en vertroosting vandaan kom nie, ons treur nie soos mense sonder hoop nie (lees 1 Tess. 4:13) Ons kan kalmeer en rustig word  - Jesus is hier! “Moet jou nie ontstel nie. Bly maar net glo.”(Mark. 9:36) ~ Wilna Botha, 15/04/2021


“Waarom maak julle nie vir julleself uit wat die regte ding is om te doen nie?” (Luk. 12:57) Die opskrif by dié Bybelgedeelte waar Jesus hierdie vraag vra, is: “Vroegtydige versoening”. Hy sê vir die mense (en vir ons ook!) om moeite te doen om jou saak met jou teenstander te skik terwyl jy op pad is hof toe. Doen moeite om vroegtydig te versoen, moenie uitstel nie, moenie wag tot in die hof of voor ’n regter nie. Moenie uitstel totdat een party verneder en vertrap is en alles verloor nie. Maak vir jouself uit wat die regte ding is om te doen. As jy skuldig is, erken dit en dra die gevolge. As jy skuldig is bely dit en pleit vir vergifnis. As jy skuldig is, doen wat jy kan om die saak reg te stel, maak vroegtydig vrede. As jy onskuldig is, moenie ten alle koste wil wraak neem en die ander een aan die pen laat ry nie, moenie met alles in jou op jou regte staan en probeer vergeld nie. Maak vir jouself uit wat die regte ding is om te doen. Ons weet watter pad Jesus voorstel: draai die ander wang, moet jou nie teen ’n kwaadwillige mens verset nie, as iemand jou dwing om sy goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer, vir iemand wat jou boklere vat, moet jy ook jou onderklere nie weier nie. “As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, maak jy hom vuurrooi van skaamte.” (Rom. 12:20) Dis die regte dinge om te doen. Ek kan nie help om te dink dat hierdie paar verse ook ’n verdere betekenis het nie. Waarom maak julle nie vir julleself uit wat die regte ding is om te doen nie? Ons is op pad na God se hofsaal, waar die ewige Regter ons gaan beoordeel. “Hy het ’n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel”, sê  Hand 17:31. Vriende, ons het die voorreg om op pad na die Regterstoel die saak uit te maak met God. Ons het nóú die geleentheid om Jesus as Verlosser aan te neem, ons het nóú die geleentheid om ons sonde te bely en volkome vergifnis te ontvang. Ons wéét wat die regte ding is om te doen. Ons kan vroegtydige versoening ontvang en die oordeel van die Regter vryspring. “Hy oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo.” (Rom 3:26) Maak vir jouself uit wat die regte ding is om te doen en doen dit. ~ Wilna Botha, 20/04/2021

“Kon julle nie eens een uur lank saam met My waak nie?” (Matt. 26:40) Jesus is in doodsbenoude oomblikke besig om te bid en te pleit by sy Vader. Hy het sy dissipels saamgeneem en gevra: bly hier en waak saam met My. Maar helaas, hulle kon nie wakker bly nie. Hulle kon nie vir Jesus help om sy las te dra in Sy tyd van verdriet en angs nie, hulle kon nie saam met Hom bid nie, hulle moegheid en menslikheid het die oorhand gekry. En ek en jy? As Jesus ons vanaand vra vir ’n uurtjie uit ons dag, ’n tyd om saam met Hom te wees, ’n tyd om te bid en op Hóm te fokus, ’n uurtjie om met die Woord te spandeer? Sou jy bereid wees? Sou jy dalk liewer kies om iets anders te doen, of sou jy dalk aan die slaap val? Ek vra myself af: wat is ek bereid om op te offer ter wille van Jesus? Sal ek bietjie die TV afsit, my selfoon neersit, my stokperdjie laat staan, my tyd saam met my vriende opgee om eenkant saam met Hom te “waak”? Ons moet natuurlik ook hoor en raaksien wanneer ons vriende en familie dalk ’n uur van ons tyd nodig het om saam met hulle te waak. Daar is tye dat ons ons eie behoeftes en beplanning opsy behoort te sit om iemand te help, om saam te bid, te luister, raad te gee, hand by te sit met take. “Dra mekaar se laste”, sê  die Bybel mos vir ons. Om saam met iemand te waak, beteken jy sal dalk moet wakker bly om hom op te pas en te versorg. Om saam met iemand te waak, beteken jy moet oplettend wees en aandag gee aan sy behoeftes. Om saam met iemand te waak, beteken jy sal dalk moet geld spandeer om te help kyk dat sy sake reg verloop. Om saam met iemand te waak, beteken jy moet dalk jou eie planne vir ’n rukkie eenkant toe skuif. Ek is ongelukkig skuldig want dis makliker en lekkerder om na my eie belange om te sien, my eie selfsugtige dinge te doen, met my voete op te sit en rus, of vroeg onder die komberse in te kruip as om vir ’n uur saam met iemand te waak.  As jou vriend vra: Bly hier en waak saam met my, sal jy? As Jesus vra: Bly hier en waak saam met My, sal jy?  ~ Wilna Botha, 22/04/2021

“Wie het nou net aan My geraak?” (Luk. 8:45) ’n Klomp mense het rondom Jesus saamgedrom, ook ’n vrou wat al baie lank siek was, wat al haar geld op dokters spandeer het en nou desperaat is om by Jesus uit te kom. Sy het van agter af aan die soom van sy klere geraak en onmiddellik gesond geword en Hy het dit gewéét! Hy weet as ons desperaat is vir sy hulp. Hy weet as ons na Hom toe vlug wanneer ons radeloos is. Hy weet as ons uitreik om aan Hom te raak sodat sy krag na ons toe kan vloei – krag om te genees, krag om te red, krag om te troos, krag om ons verleentheid weg te vat, krag om ons moed en hoop te gee. Toe sy aan Hom raak, het Jesus gaan stilstaan. Hy het haar uitgesonder tussen almal. Hy wys dat die individu vir Hom belangrik is, dat Hy nege-en-negentig skape sal los om een te help, dat Hy sal stop en opkyk in ’n boom om ’n sondaar raak te sien. Baie mense moes aan Hom geraak het daar in die gemaal van die skare, maar toe Hy vra: “Wie het nou net aan My geraak?”, was almal doodstil. Hulle was só naby aan Hom, maar tog het hulle Sy krag gemis wat ook tot hulle beskikking was. Of dalk het hulle nie met desperate geloof en hoop alle hindernisse ontsien om na Hom uit te reik nie. As ons in geloof na Jesus soek, met Hom kontak maak, uitreik na Hom, gaan Hy dit wéét en gaan Hy reageer. Toe sê Jesus vir die vrou: “Jy het gewys hoe groot jou geloof is toe jy aan My kom raak het. Daarom is jy nou gesond. Gaan in vrede. (Luk. 8:48, Die Boodskap) Genesing, vrede, vergifnis, vryheid – dis die uitvloeisel daarvan as ons met Hom kontak maak. Dis vir my só mooi hoedat Jesus haar hierna aanspreek as “dogter”. Ja, as jy na Jesus kom en glo dat Hy bestaan, , as jy na Jesus kom en Hom aanraak, as jy na Jesus kom en Hom aanneem as Verlosser, het jy die reg om sy dogter of sy seun genoem te word. “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.” (Joh. 1:12) ~ Wilna Botha, 27/04/2021

“Wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng?” (Matt. 6:27) Hier is nog een van daai retoriese vrae wat Jesus vra. Hy wag nie vir ’n antwoord nie, want die logiese antwoord sal wees: “Niemand nie, Here”. Dis ’n vraag wat ons dwing om ons eie lewe te ondersoek, wat ons kommer-gedagtes in hulle spore stuit en wat ons laat besef dat bekommernis geen positiewe uitkoms kan hê nie. Bekommernis het gewoonlik met iets in die toekoms te doen, nie waar nie? Gaan ek my werk verloor? Gaan ek siek word? Gaan ek genoeg geld hê vir my oudag? Gaan my kinders bly staan by die waardes wat ek hulle geleer het? Gaan ’n skelm my oorval en beroof? Gaan my man se oë dalk dwaal? Gaan ek die eksamen slaag? Gaan ek uitgevang word vir dit wat ek verkeerd gedoen het? Ag julle kan die lys aanvul want julle ken seker ook al daai alledaagse bekommernisse. Op die ou einde het jy hoofpyn of maagpyn of ekstra plooie of dalk word jy totaal uitgeput en depressief en dít terwyl nog nie een van daai goed waaroor jy jou bekommer al gebeur het nie en heel waarskynlik gaan dit ook nie gebeur nie. As jy jou vandag bekommer oor wat môre gaan gebeur en dit gebeur nie, het jy jou onnodig bekommer. As dít waaroor jy jou bekommer het, wel gebeur dan is jou bekommernis onnodig verdubbel. Ek voel altyd skuldig teenoor die Here wanneer bekommernis al weer die oorhand kry. Jesus sê juis in Matt. 6 dat dit ongelowiges is wat hulle bekommer. Ek behoort nie, want ek weet mos Hy is in beheer, niks sal my uit sy hand ruk nie en Hy sal alles vir my ten goede laat meewerk. “Moet julle dus nie oor more bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.” (Matt. 6:34) Ai, dis seker een van die moeilikste opdragte. Ons moet probeer, want bekommernis steel vreugde, lewenslus, moed en hoop by ons. Bekommernis ontsluit ander emosies soos angstigheid, frustrasie, vrees, onsekerheid, wanhoop en ontevredenheid. Bekommernis maak ’n skaduwee oor my geloof en vertroue in die Here. Wat kan ons doen aan die bekommernis-skaduwee? Vra jouself af wat is die ergste wat kan gebeur en berei jouself daarvoor voor. Kry feite oor die situasie waaroor jy bekommerd is. Vra jouself of die situasie regtig so erg is as wat dit in jou kop is. As jy iets kan doen aan dit waaroor jy jou bekommer, doen dit en moenie uitstel nie. As jy niks daaraan kan doen nie, probeer om dit te aanvaar en om nie meer die hele tyd daaraan te dink nie. Vul jou gedagtes met positiewe dinge. Hou jouself besig met iets opbouend. Dalk kan jy die energie eerder aanwend om na iemand anders uit te reik en iemand te help. Soek eerder die silwer randjie as om te fokus op die donker wolke. Pak jou bekommernisse af by die Here –  kom na my toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, is Jesus se uitnodiging. Doen dit in geloof en ontvang sy rus en vrede.  "Pile your troubles on God's shoulders-- He'll carry your load, He'll help you out" (Ps 55:22 MSG). En bid! “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.” (Fil. 4:6-7) ~ Wilna Botha, 29/04/2021

“Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie?” (Matt. 7:3) Soos wat ek die vrae wat Jesus in die evangelies vra opsoek en oordink, het ek dié een bly uitskuif. Ek moet bely dat ek eintlik hierdie vraag van Jesus heeltemal wou oorslaan. Ek was nie regtig lus om iets hieroor te sê nie. Ek is skaam omdat ek een van dié is wat met ’n yslike stuk hout in my oog rondloop en wat sal ek sê as Jesus dié vraag vir my moet vra? Moenie oordeel nie, sê  vers 1. Hoekom zoom mens dan so in op die splinter in jou man, of jou vriend of jou suster se oog, hoekom soek jy so graag na splinters in bekendes, politici en ander hoëlui se lewens (en dan verlekker jy jou as jy iets kry)? Ek het nou vandag baie hieroor gewonder. Is dit ons gebrek aan genade en meegevoel? Is dit omdat ons geen deernis en jammerte het nie? Is dit omdat ons onsself hoër ag as iemand anders? Is dit omdat ons hoop dat die fokus op ander se foute en flaters dalk die aandag so bietjie van die balk in my eie oog sal aftrek? Kom dit dalk uit ons eie minderwaardigheid of jaloesie? Is dit omdat ons vir onsself ’n regters-troontjie opgerig het van waar ons oordeel en vinger wys en wraak neem? Kyk ’n bietjie na daai balk in jou oog. Hy maak jou blind. Hy verhoed dat jy dinge sien vir wat dit is. Hy verhoed dat jy jou eie lewe beoordeel, ondersoek en toets. Hy maak dat jy geveinsde, skynheilige, huigelaar genoem word. As jy dalk, soos ek, skuldig is, kom ons klim van daai troontjie af, ondersoek ons eie doen en late, ons eie motiewe, ons eie foute en sondes. Kom ons bely, laat staan en maak reg. Kom ons gaan dan versigtig nader en help ons broer sagkens en met groot sorg, met baie meegevoel en empatie, met ’n “spirit of meekness” (soos wat Gal 6:1 sê) om die splinter uit sy oog te verwyder. “Council him and help him, but do not judge him”, het iemand gesê. Mag die Here ons daarmee help. ~ Wilna Botha, 04/05/2021

“Hoeveel brood het julle?” (Matt. 15:34) Dis wat Jesus vir sy dissipels gevra het toe daar ’n skare van duisende honger mense voor Hom gesit het. “Sewe brode en ’n paar vissies,” was hulle antwoord. Toe vermeerder dit in Jesus se hand sodat almal kon eet en daar nóg sewe mandjies vol oorgebly het. Dis die verhaal in die Bybel, maar as Jesus vandag vir my en jou sou vra: “Hoeveel brood het julle?”, kon dit dalk net sowel gewees het: hoeveel vleis het julle, hoeveel melk het julle, hoeveel geld het julle? Ek is seker die meeste van ons het iets. Die vraag wat ek vandag oordink het, is, sal ek daarvan weggee of klou ek vas aan dit wat ek het? Sal ek, selfs al het ek min, daarvan weggee sodat die Here dit dalk kan vermeerder en iemand daarmee kan voed? Soos die weduwee wat haar laaste sente gegee het en Jesus gesê het sy het meer as almal gegee. Sal ek klein bietjie minder aan my eie gerief en plesier dink en ietsie weggee sodat iemand anders ’n klein bietjie vreugde kan ervaar? Ek sukkel met my antwoord! Of sal ek sê ek weet wat die regte antwoord is, maar ek sukkel om dit te doen. Weet jy op hierdie oomblik presies hoeveel brood of vleis of geld jy het? As die antwoord nee is, behoort dit mos maklik te wees om daarvan weg te gee, of hoe? As Jesus vandag vir my vra: “Hoeveel brood het jy?”, dan is dit nie net sodat ek dalk daarvan kan weggee nie, ek dink dit is ook sodat ek met dankbaarheid ’n slag my seëninge moet tel en dat ek sal erken dat alles wat ek het ’n gawe uit die Here se hand is. “Jy kan dalk dink: my krag en my sterk hande het vir my hierdie rykdom verwerf. Maar jy moet die Here jou God nie vergeet nie, want dit is Hy wat jou die krag gee om die rykdom te verwerf.” (Deut. 8:17-18) As Jesus vandag vir my vra: “Hoeveel brood het jy?”, kon Hy net sowel gevra het: hoeveel tyd het jy, hoeveel kennis het jy, hoeveel geduld het jy, hoeveel liefde het jy? En is jy bereid om iets daarvan weg te gee, sodat Ek dit kan vermeerder en gebruik?  Jesus het gesê dat Hy die brood is wat lewe gee. Hoeveel van dáárdie brood het jy? En sal jy daarvan weggee sodat duisende gevoed kan word? ~ Wilna Botha, 06/05/2021

“Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” Wat ’n wonderlike vraag is dit nie wat Jesus hier in Mark. 10:51 vra nie. Ek verbeel my dikwels ek hoor Hom dit vir my ook vra en dan stort ek my hart voor Hom uit, sing my klaagliedere en spel al my begeertes vir Hom uit met die verwagting dat Hy my sal help en alles wat ek vra vir my sal gee. Die Bybel sê mos: vra en vir julle sal gegee word. As Jesus vandag vir jóú sal vra: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?”, wat sal jou antwoord wees? Wat het jy nodig? Wat begeer jy? Wat gaan jou lewe makliker maak? Wat gaan jou geloof laat groei en jou verhouding met die Here verdiep? Jesus vra dié vraag in Mark. 10 vir die blinde bedelaar wat onophoudelik uitroep na Jesus en vra: “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U tog oor my?” Toe Jesus vra wat Hy vir hom moet doen, het hy nie gevra vir geld, ’n gerieflike huis en beter omstandighede nie, nee, hy vra net: “Dat ek kan sien.” Hy vra dit in nederigheid en afhanklikheid, uit desperaatheid. Hy weet Jesus is die enigste een wat hom kan help. “Goed, jy kan sien! Jou geloof het jou gered” (Luk. 18:42), was Jesus se antwoord. Hy kon dadelik sien en Hy het Jesus gevolg. Enkele verse terug in Mark 10:36 vra Jesus dieselfde vraag aan twee van sy dissipels, Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus. “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” Hulle het aangedring dat Jesus moet doen wat hulle gaan vra. Wat vra hulle? Nie groter geloof of dieper geestelike insig of nuwe wysheid of genesing nie. Nee, hulle vra om die ereplekke langs Jesus te hê wanneer Hy as koning gaan heers. Hulle kry egter nie wat hulle vra nie. Hulle versoek het oor hulle eie begeertes, hulle eie ek, eie belangrikheid, eie eer gegaan. Al wat hulle kry is ’n “preek” van Jesus: Hy sê die een wat groot wil word, wat eerste wil wees, moet die dienaar wees. Die belangrikste persoon moet die minste wees, die een wat ander dien en nie meeding vir die beste plek nie. Ek dink ook aan Salomo vir wie die Here in ’n droom gevra het: “Wat wil jy hê moet ek vir jou gee?” (1 Kon. 3:5) Ek wonder wat sou ek vra ... nuwe geleenthede, groter sukses, voorspoed in alles wat ek aanpak, rykdom? Nee, Salomo  vra vir gehoorsaamheid aan die Here, vir wysheid en insig om die volk reg te regeer. En die Here gee hom dit alles en óók wat hy nié gevra het nie: rykdom en aansien. Wat wil jý van die Here vra? Is jou begeertes vir geestelike groei, vir insig, vir gehoorsaamheid, vir die uitbreiding van God se koninkryk, of gaan dit net oor jouself, jou selfsugtige begeertes, jou aansien en sukses? Of wil jy ook net soos ’n eenvoudige bedelaar vra: Dat ek kan sien. Dat ek nie blind is vir my foute nie, dat ek nie blind is vir ander se behoeftes nie, dat ek nie blind is vir nood en swaarkry om my nie. Dat ek nie blind is vir God se woord nie. Dat ek die wonderdade van God sal sien. Dat my geestesoë oop sal wees. ~ Wilna Botha, 11/05/2021

“ ... waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het.” (Hand. 1:11) Dis vandag Hemelvaartdag en ek wonder of jy dalk ook bietjie vandag opgekyk het na die wolke en gewonder het wanneer Jesus weer sal terugkom en of jy dit wel sal sien in jou lewe. Wel, ons weet nie wanneer nie, maar dat Jesus wel weer terugkom is gewis. Voor sy hemelvaart het Jesus sy hande oor sy volgelinge uitgestrek en hulle geseën. “Daarna het Hy hulle uit die stad uitgelei tot by Betanië. Daar het Hy sy hande opgehef en hulle geseën. Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem.” (Luk. 24:50-51) Jesus laat sy volgelinge met ’n  seën agter voordat Hy opvaar na die hemel. “... waarom staan julle so na die hemel en kyk?” Staan vandag met oop arms en kyk op na die hemel om die Here se seën te ontvang. Kyk op na die hemel en weet en glo dat Jesus weer gaan terugkom op die wolke en dat Hy sélf elke dag by jou is tot dan (Matt. 28:20). Kyk op na die hemel en weet dat Jesus vir ons ’n Helper, die Heilige Gees gegee het, dat Hy in jou woon en jou lei en leer.  Kyk op na die hemel en weet dat Jesus  vir ons ’n plek gaan voorberei het . Hy sê in die huis van Sy Vader is daar baie wonings – daar is plek vir jou ook! Kyk op na die hemel en weet dat Hy aan die regterhand van God sit, dat Hy daar vir ons intree, dat Hy daar vir ons ’n Middelaar is. Kyk op na die hemel en weet dat Hy tot in ewigheid regeer as Koning van die heelal. Kyk op na die hemel en aanbid en eer en prys Hom met groot blydskap! ~ Wilna Botha, 13/05/2021

“Begryp en verstaan julle nog nie? Is julle nog steeds so traag van begrip? Julle wat oë het, sien julle dan nie? Julle wat ore het, hoor julle dan nie?”(Mark 8:17) Ek dink die Here moes seker ook al baie kere vir my gevra het: is jy nog steeds so traag van begrip? Verstaan jy dan nog nie? Het jy dan nog nie geleer om dieper na dinge te kyk en sake geestelik te beoordeel en nie net na die sigbare, tasbare, hier-en-nou-dinge te kyk nie? Het jy nog nie uit ervaring geleer hoedat Ek sorg en voorsien, beskerm en dra, genees en red nie?  “Het julle nog jul verharde hart?”, sê  dit in die Ou Afrikaanse Vertaling. Solank die hart nog hard is, sal die geestesoë seker nog blind bly. Solank die hart nog hard is, sal die geestelike dinge nie sin maak nie. Solank die hart nog hard is, sal die gees en die gedagtes nog die werk van die Heilige Gees weerstaan. Solank die hart nog hard is, sal die ore nie hoor van genade, liefde en aanvaarding nie. Nou bid ek ook soos Paulus in Ef. 1:18 dat die Here my geestesoë sal verhelder sodat ek hoop sal hê vir elke dag en vir die toekoms, sodat ek sal besef wat ek uit Sy hand geërf het toe ek sy kind geword het, sodat ek sal weet en ervaar hoe groot sy krag is wat in my werk. Dis Pinkstertyd. Mag die Gees ons opnuut weer kom volmaak, sodat ons kan begryp en verstaan. ~ Wilna Botha, 18/05/2021

“Kry mens dan druiwe aan doringstruike of vye aan dissels?” (Matt. 7:16) Hier is nou nóg een van Jesus se vrae wat mens dadelik dwing na selfondersoek. Die antwoord van die vraag is sommer opgesluit in die vraag: natuurlik kry jy nie druiwe aan doringstruike of vye aan dissels nie. Elke boom dra vrug volgens sy aard. As jy weet na watter boom jy kyk, sal jy weet watter vrug om daar te verwag. En andersom ook: as jy die vrug sien, sal jy weet watter boom dit is. In hierdie spesifieke teks gaan dit eintlik oor vals profete wat só uitgeken sal word aan hulle vrug. Hulle lyk soos skapies, maar is in werklikheid verskeurende wolwe. Hulle vrugte lyk dalk mooi en aanloklik, maar as jy dit afskil is dit vrot, of as jy dit wil eet kom jy agter dis van plastiek! Natuurlik kan dié beeld wyer toegepas word, want die Bybel praat dikwels van die vrug wat ons lewens moet oplewer. “Alle mense se lewe is soos vrugtebome: goeie vrugtebome dra goeie vrugte en slegte bome dra slegte vrugte.” (Matt. 7:17, Die Boodskap) Wat sal dan nou ’n goeie vrugteboom-mens wees? Seker dié een waarvan Ps. 1 praat. Dié een wat nie sy ore uitleen aan slegte mense en hulle negatiewe en afbrekende praatjies nie, wat wegbly van verkeerde dinge en kies teen sonde, wat vreugde vind in die Woord van God en dit oordink. Dié boom is soos een wat by waterstrome geplant is. Sy blare word nie droog nie. Hy lewer op die regte tyd sy goeie vrugte. En hoe sal die vrugte van die goeie vrugteboom lyk? Wel, Matt. 3:8 sê dat ons moet vrugte dra wat wys dat ons bekeer is. Daai vrugte sal vaste geloof as pit hê, hoop uitspel en na liefde smaak! Hulle sal vreugde en vriendelikheid oor hulle geskryf hê. Hulle sal geduld, goedhartigheid en nederigheid as sagte vleis hê. Hulle sal selfbeheersing as skilletjie hê. Ek is skaam om te bely dat my lewensboom nie altyd ewe goed doen nie. Die vruggies is dikwels maar klein en swak en smaakloos. Ek het egter hierdie opskrif gelees by Joh. 15 in die Nuwe Lewende vertaling: “Die geheim van vrug dra.” Die geheim is dat ek nie op my eie enige vrug kan dra nie . Die geheim is dat ek aan Jesus verbind moet bly, soos takkies wat aan die druiwestok vasgegroei is. Die geheim is dat ek van Hom afhanklik moet bly. Die geheim is dat daar snoeiwerk nodig is en dat die Woord die snoeiskêr is. Die geheim is dat ons hulp kan vra by die Here en seker kan wees dat Hy ons sal help: “Julle kan maar in gebed vra wat julle nodig het om goeie, vrugbare takkies te wees, want julle sal dit kry.” (Joh. 15:7, Die Boodskap) Mag die Here ons help om gesonde, voedsame, vars, mooi vrugte te produseer! ~ Wilna Botha, 27/05/2021

“Wie is my moeder, en wie is my broers?” (Mark. 3:33) Só vra Jesus toe iemand sê sy ma en sy broers staan buite en wil met Hom praat. Hy wys toe na die volgelinge wat rondom Hom gesit het en sê: “Hier is my moeder en my broers!” Dis só kosbaar vir my as ek dít lees. Ek sien myself ook sit in daai intieme kringetjie rondom Jesus en ek hoor Hy noem my sy suster! Jare gelede in die Bybelskool wat ek bygewoon het, was daar iemand wat altyd gebid het: “... in die Naam van ons oudste Broer, Jesus.” Dit was altyd vir my so mooi. As ek nou dié teksgedeelte in Mark. 3 egter verder lees, dan sien ek ongelukkig dat daar iets is wat hierdie intieme familieband kan bevestig of kan bedreig, want Jesus sê voorts: “Elkeen wat die wil van God doen, is my broer en my suster en my moeder.” (Mark 3:34-35) “My moeder en my broers is dié wat na die woord van God luister en daarvolgens handel.” (Luk. 8:21) Net soos in enige familie, is daar in Jesus se familie ook ’n ontvang-kant én ’n gee kant. Op ’n ander plek vra Jesus: watter sin het dit as julle sê Here Here, maar nie doen wat ek sê nie? Dis nie ’n lekker vraag om te hoor nie. Dis mos lekker en maklik om sê: Here, Here. Om te sing: Jesus loves me. Om te bid en antwoorde te ontvang. Om te roep en Hy is daar. Om Sy Naam aan te roep en gered te word. Dis ook maklik en lekker om na die woord te luister en die beloftes daarin te hoor en vir jouself toe te eien, om daai warm gevoel in jou hart te hê as jy lees dat Hy jou naam in sy handpalms gegraveer het, om daai rustigheid te ervaar as jy lees dat die Here jou Herder is en jy niks sal kortkom nie, om daai tevredenheid te ervaar wanneer jy lees dat jy die reg het om God se kind te wees, om daai sekerheid te hê dat jy die ewige lewe gaan ontvang. Dis mos wonderlik om aan die “ontvang-kant” van ons geloof te staan. Maar as dit kom by al die moeilike opdragte, daar waar dit iets van ons vra, die “hoor-en-doen-kant”, die “gee-kant” van ons geloof? Dié kant wat ons kwalifiseer as broers en susters? Daai tekste wat begin met “as julle ...”? Daai tekste wat sê: “julle moet ...” of “julle moenie ...”? “Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ’n geloof ’n mens red?” (Jak 2:14) Sit jy vanaand daar in Jesus se kringetjie as Hy sê: hier is my moeder en my broers en susters? ~ Wilna Botha, 01/06/2021

“Julle is die sout van die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry ’n mens dit weer sout?” (Matt. 5:13) Mens hoor dikwels dat daar van iemand gesê word: hulle is sout-van-die-aarde-mense en dan word daar bedoel dat hulle eenvoudige, doodgewone, doodgoeie mense is met sterk waardes. Ek dink egter as die Bybel sê ons is sout van die aarde is dit meer as net dit. Dit beteken ons gee smaak aan ’n smaaklose wêreld. Ons reinheid dring geleidelik deur in die smaakloosheid van die wêreld waar almal in sonde leef. Ons versprei die geur van genade en liefde na verwerpte, eensame, verlore mense wat die smaak van aanvaarding begeer. Ons sout is ’n lafenis en werk genesend in ’n stukkende wêreld. Ons sout word ongesiens, sagkens, korrel vir korrel uitgestrooi en dring geleidelik deur in ons lewenskring. Die smaak wat ons bring, raak onmisbaar, sodat ons geselskap en ons wysheid en ons positiwiteit in aanvraag is. Ons sout werk mee as preserveermiddel om die goeie te bewaar en te versterk. Maar nou kom die vraag wat Jesus vra: “Maar as sout verslaan het, hoe kry ’n mens dit weer sout?” Hoe verslaan sout en word dit kragteloos en laf? As dit té lank in die soutpot bly en nie gebruik word waarvoor dit bestem is nie. Hoe word ons swak, smaaklose en nuttelose Christene? Wanneer ons ongehoorsaam in die soutpot bly. Wanneer dit té gemaklik in die soutpot raak. Wanneer ons nie met die kos wil “meng” nie of wil kies oor watter kos ons uitgegiet word. Of wanneer ons dalk voel ons is te swak of te min om ’n verskil te maak. Nee, ons moet waak daarteen om onbruikbare sout te word wat ons smaak verloor. Kyk wat gebeur met die sout wat laf geword het: dit word buitekant weggegooi, mense vertrap dit (kyk Matt. 5:13); “dit is nie eers bruikbaar vir die grond of vir die mishoop nie.” (Luk. 14:35) Ek onthou toe ek ’n kind was, het my ouma haar growwe sout in so ’n groot kleipot gehou. Ek sien haar nog in my geestesoog so met die soutpot onder die arm voor die koolstoof. Dit laat my dink aan dié teks wat sê ons is ’n kleipot met ’n skat binne ons – daai skat is die sout wat die Here in ons gedeponeer het toe ons sy kinders geword het, toe ons die Heilige Gees ontvang het.  Mag die Here ons soutpotte vol hou en mag ons daarin volhard om ons geur te versprei en ons smaak te behou. ~ Wilna Botha, 03/06/2021

“Is daar niemand anders wat omgedraai het om God die eer te gee behalwe hierdie man wat nie eers ’n Jood is nie?” (Lukas 17:18) Tien melaatses roep na die Here om hulp en genesing. Sonder om hulle direk te genees, stuur Jesus hulle om by die priesters aan te meld om gesond verklaar te word. Ons ken die storie. Op pad kom hulle agter dat hulle genees is. Een draai om ... “Hy het hardop begin bid en God se Naam grootgemaak. Die man het tot by Jesus gehardloop, voor Hom in die stof neergeval en vir Hom dankie gesê.” (Luk. 17:15-16, Die Boodskap) Het niemand anders omgedraai om God die eer te gee nie? Het niemand anders raakgesien dat dit die Here is wat die genesing bewerk het nie?  Was niemand anders ook oorstelp van dankbaarheid nie? Dalk het hulle nie geglo dat hulle waarlik genees is nie? Of dalk het hulle verwag dat die Here hulle op ’n groter, wonderliker, meer skouspelagtige wyse moes genees? Ons het vandag ons Covid-inenting ontvang. (... uhm, ja, ek is aan daai kant van 60!) Toe ek daar sit met my mou opgetrek, het ek heel aangedaan geraak en moes sommer sluk aan my trane. Nie van bang-geit nie, maar van dankbaarheid. Op daardie oomblik het ek net so bewus geword van die genade om tot hier te kon kom sonder om ooit die virus op te doen. Ek het so bewus geword van die voorreg om aan die ontvangkant van ’n wonderlike uitvindsel te wees. Ek het diep dankbaar gevoel dat my beurt op beskerming aangebreek het. Vir meer as ’n jaar het ons gewag vir ’n teenmiddel, het ons gesmag na gemoedsrus. Ek het begin bid en God se Naam grootgemaak en die eer aan Hóm gegee vir mediese wetenskap, vir elkeen van daai werkers wat alles seepglad laat verloop het, vir die feit dat Hy sy genesing en beskerming ook deur medisyne laat plaasvind. Toe ek sien dis net so paar milliliter vloeistof wat só groot uitwerking kan hê, het ek besef dis ’n wonder uit die Here se hand. Ja, ek is heeltemal bewus daarvan dat nie almal dieselfde voel oor die vaksiene nie. Ja, ek is heeltemal bewus van die feit dat ek steeds kan siek word. Ja, ek is heeltemal bewus van die moontlike newe-effekte. Maar ek is dankbaar. Ek is vanaand die een wat omdraai en vir God die eer gee. ~ Wilna Botha, 08/06/2021

“Waarom is julle so verskrik en waarom kom daar twyfel in julle harte?” (Luk. 24:38) ’n Twee-in-een-vraag wat Jesus vra. Dit laat my dink dat die antwoorde op dié twee vrae onderling afhanklik is van mekaar. As jy bang en verskrik, bekommerd en angstig, bevrees en onrustig is, is die rede dalk omdat jy twyfel aan die Here se beloftes van voorsiening en beskerming en hulp, omdat die geloof en hoop in jou hart opgeraak het of doodgedruk is deur jou vrees. Aan die ander kant: as daar twyfel in jou hart is en jy nie meer die Here kan raaksien in jou lewe nie, as jy nie glo dat Hy in beheer is en alles ten goede sal laat meewerk nie, gaan bekommernis en vrees jou gedagtes oorheers en jou angstigheid buite beheer raak. As Jesus vandag langs jou kom staan en vra: “waarom is jy so verskrik?”, dan mag en kan en moet jy al jou bekommernisse by Hom kom afpak. “Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.” (1 Pet. 5:7) As Jesus vandag langs jou kom staan en vra: “Waarom is jy so verskrik?”, hoor dan terselfdertyd sy oop uitnodiging wat sê: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is en Ek sal julle rus gee.” (Matt. 11:28) As Jesus vandag langs jou kom staan en vra: “Waarom kom daar twyfel in jou hart?”, hoop ek jy sal die twyfel kan uitdoof en met geloof en vertroue sê: “Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie.” (Heb. 13:6) ~ Wilna Botha, 10/06/2021

“Hoe sal julle ontkom aan die straf in die hel?” (Matt. 23:33) So vra Jesus vir die Fariseërs. Hy noem hulle slange, addergeslag, huigelaars, dwase, blinde leiers, witgeverfde grafte wat van buite mooi lyk maar binne vol doodsbene en allerhande onsuiwerheid is. Sjoe! ’n Paar keer in hierdie selfde hoofstuk sê hy vir hulle: “Ellende wag vir julle...”. Hulle was veroordelend, het Jesus bevraagteken, laste op mense gesit, self nie gedoen wat hulle verkondig het nie, hulle was vol hebsug. Vers 15 sê letterlik dat hulle mense “ryp maak vir die hel”, hulle verhoed dat mense in die koninkryk kan ingaan. Geen wonder dat Jesus vir hulle sê dat hulle bestem is vir die hel nie. Hulle het gedink dat hulle die hel kan ontkom deur al die “regte” dinge te doen, veral waar mense hulle kan sien. Hulle het die jota en tittel van die wet nagekom maar geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid nagelaat. En ek? En jy? As Jesus vandag vir ons sou vra: “Hoe sal julle ontkom aan die straf in die hel?”, wat sou ons antwoord wees? Die Bybel sê dat daar ’n dag van oordeel gaan kom (Hand 17:31). Wat gaan dit vir jou wees? Heavens gates or hells flames? Daar is mos ’n fliek en opvoering met hierdie titel wat uitbeeld dat ons een van twee keuses het. Jare gelede het ons ’n opvoering met dieselfde strekking gesien: The glory and the fire. Dié aand het hordes mense vir Jesus aangeneem en hulle lewens oorgegee aan Hom. Maar ek het bly wonder of hulle vir Jesus gekies het omdat hulle net bang is vir die hel, of omdat hulle regtig besef het dat hulle Jesus nodig het as enigste Redder, Verlosser en Middelaar, dat dit Sý bloed is wat skoon was en vryspreek en nuut maak, dat dit Hý is wat die Weg en die Waarheid en die Lewe is. Dís hoe ons ontkom aan die straf van die hel. Die straf was reeds op Jesus. Hy het reeds die prys betaal.  Die prys was sy lewe. Hy het reeds gesterf en ter helle neergedaal. Hy het reeds die dood oorwin en opgestaan. Hy leef en Hy gee aan ons die ewige lewe! Hy belowe: “Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe.” (Joh. 6:47) ~ Wilna Botha, 15/06/2021


“’n Lamp kom mos nie onder ’n emmer of onder ’n bed nie? Is dit nie bedoel om op ’n staander gesit te word nie?” (Mark 4:21) Hierdie vraag van Jesus het my laat dink aan die liedjie wat sê: Laat ons skyn vir Jesus met ’n helder glans ... jy in jou klein hoekie en ek in myn. Ek het bietjie hieroor gedink en gewonder of dit dalk ’n hedendaagse “probleem” is dat jy net daar in jóú hoekie skyn en ek hier in myne. Steek ons nie dalk daai liggies van ons bietjie weg om dit net daar in die hoekie te hou nie? Ek het gou die liedjie gegoogle en sien toe dat die tweede en derde versie pragtig byvoeg: laat ons skyn vir Jesus waar ons gaan of kom ... laat die lig dan val op almal om ons heen. Toe besef ek dat as ons elkeen in ons hoekie skyn, sal al daai lig saam wel ’n verskil maak aan die donkerte. Ons moet nooit dink dat ons liggie te flou of te swak of te onbenullig is om vir iemand ’n bietjie lig te gee, om die pad aan te wys of om hoop te bring nie. Jesus ís die Lig en deur sy Gees het Hy sy lig binne ons kom aansteek. Dis dié Lig wat moet uitstraal, wat nie onder ’n emmer of ’n bed weggebêre moet word nie. Jy ken seker dié gesegde wat sê dat ’n kers homself uitbrand om lig te maak, hy offer homself as’t ware sodat hy lig kan gee.  As ons ons lig laat skyn, gaan dit een of ander opoffering van ons vra: tyd, bietjie moeite, ons eie belange en begeertes vir ’n rukkie eenkant toe skuif, geduldig luister, saambid, ens. Moenie bekommerd wees dat jou kers sal uitbrand nie, solank jou lamp op die staander is, sal die Heilige Gees jou brandend hou. Dis tog ook waar dat ’n kers mos niks verloor as hy ’n ander kers aansteek nie.  ’n Lig wat genade skyn. ’n Lig wat liefde, verdraagsaamheid en hulpvaardigheid skyn. ’n Lig wat bemoediging en aanmoediging skyn. ’n Lig wat vriendelikheid en vergifnis skyn. ’n Lig wat troos en hoop en positiwiteit skyn  ... só ’n lig is ’n aansteeklike lig! “Just as one candle lights another and can light thousands of other candles, so one heart illuminates another heart and can illuminate thousands of other hearts.” Is dít nie bedoel om op ’n staander gesit te word nie? ~ Wilna Botha, 17/06/2021

“Vra u dit uit u eie, of het ander dit vir u van My gesê?” (Joh. 18:34) So vra Jesus vir Pilatus toe dié vir Jesus vra of Hy wel die koning van die Jode is. As Jesus dit vir Hom vra is dit ’n “toets” of hy regtig weet wie Jesus is. En ek en jy? Wéét jy waarlik, uit eie ondervinding, wie Jesus is? Wéét jy dit met hart en verstand? Of praat jy maar net agter mense aan? Glo jy omdat jou ouers geglo het, of omdat jou man glo, of omdat jy in die kerk sit, of weet jy uit jou eie ervaring en jou persoonlike verhouding met Hom, wie Jesus is? Het jy Hom raakgesien toe jy die Bybel gelees het? Het jy Hom hoor praat toe jy na ’n preek geluister het? Het jy met Hom gepraat toe jy gebid het? Het jy sy teenwoordigheid ervaar toe jy sy lof  besing het? In Matt. 16:13 vra Jesus vir sy dissipels: “Wie, sê  die mense, is die Seun van die mens?” En dan vra hy in vers 15 vir hulle: “Maar julle, wie, sê  julle, is Ek?” Hy wil weet of hulle maar net agter “die mense” aan praat en of hulle sélf weet wie Hy regtig is. Petrus antwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” Sjoe, hy het gewéét wie Jesus is. Hy het Hom gesien. Hy het Hom gevolg. Hy het geluister na sy prediking. Hy het sy wonderwerke beleef. Hy het op die water saam met Hom geloop. Dis nie ’n mens wat dit aan hom geopenbaar het nie, maar die Vader in die hemel, sê  Jesus vir hom. Hy kan dit uit eie ervaring en uit sy naby verhouding met Jesus bely en nie omdat hy net die regte antwoord êrens by iemand gehoor het nie. Dit laat my ook nou dink aan die vrou by die put met wie Jesus gepraat het. Sy het dorp toe gehardloop en vir almal van Jesus gaan vertel. Hulle het tot geloof in Hom gekom en vir die vrou gesê: “Ons glo nie meer op grond van wat jy vertel het nie, want ons het self na Hom geluister en ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is.” (Joh. 4:42) Hulle het nou sélf ’n verhouding met Jesus, hulle het nou sélf gehoor, sélf verstaan en kan nou sélf bely dat Hy die verlosser is. Het jy nog net gehoor wie Jesus is, of wéét jy? “Kom ondervind en sien self dat die Here goed is!” (Ps. 34:9) ~ Wilna Botha, 22/06/2021

“Is daar nie twaalf uur in ’n dag nie?” (Joh. 11:9) Hierdie is nóg een van Jesus se vrae waarvan die antwoord tog voor die hand liggend is, maar ’n vraag wat ons bietjie moet laat dink oor die beskikbare ure van ons dag. Terwyl dit lig is, sê Hy, moet ons doen wat ons moet doen, moet ons doen wat ons hand vind om te doen. Terwyl ons nog ’n  vandag beskikbaar het, moet ons die beste maak van die tyd, want jy weet nie of môre kom en wat oormôre inhou nie. Ek het bietjie vir myself afgevra: hoeveel van my twaalf uur vermors ek op bekommernis en planne maak vir goed wat in elk geval nie gaan gebeur nie? Hoeveel minute gaan verlore omdat ek kerm en kla, of negatiewe gedagtes het, of kwaadpraat en skinder oor ander? Hoeveel tyd word gewy aan myself, aan my huis mense, ander mense en hoeveel aan die Here? Hoeveel tyd lees ek nonsens op Facebook en hoeveel tyd lees ek die Bybel? Ek ken ’n paar mense (en ek doen baie keer dieselfde!) wat altyd vir jou sal sê hoe besig hulle is. Vat nie grond nie, werk tot laat, slaap te min, is doodmoeg, het tyd vir niks ... En tog het ons almal dieselfde ure en minute in ’n dag. Die Here het vir ons almal dieselfde hoeveelheid tyd in ’n dag gegee – wat maak jy met joune? Die Here het vir ons ’n ritme van dag en nag gegee... dit was aand en dit was môre, soos wat ons in Genesis lees. Hy het vir ons ’n ritme van werk en rus gegee... ses dae moet jy werk en op die sewende dag moet jy rus. Prediker 3 sê mos ook tereg dat elke ding in hierdie wêreld sy tyd het. ’n Tyd om gebore te word, ’n tyd om te sterf, ’n tyd om te praat, ’n tyd om stil te bly, ’n tyd om te huil, ’n tyd om te lag, ’n tyd om te plant, ’n tyd om plante uit te trek, ens. Die geheim is dat ek en jy moet onderskei wanneer ons wat moet doen. Ons moet prioriteite bepaal en vir onsself vra of iets dringend of belangrik is en of dit oukei is om vir ’n slag die dringende goed bietjie op ys te sit, sodat die belangrike goed kan inpas in die twaalf ure van die dag? Wanneer moet jy jou werk onderbreek en gaan koffie drink saam met iemand? Wanneer moet jy al die ernstige dinge los en bietjie lag en dans? Wanneer moet jy jou rustyd onderbreek om iets vir iemand anders te gaan doen? Ontvang elke oggend jou dag se ure uit die Here se hand en maak die beste gebruik daarvan. ~ Wilna Botha, 24/06/2021

“Wat sal dit ’n mens help as hy die hele wêreld as wins verkry maar sy lewe verloor, of wat sal ’n mens gee in ruil vir sy lewe?” (Matt. 16:26) Die Ou Afrikaanse Vertaling sê : “Want wat baat dit ‘n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel?” Dit laat mens dink aan die uitdrukking: waarvoor sal jy jou siel verkoop? As jou lewe en siel aan die Here behoort, is dit in elk geval nie joune om te verruil of te verkoop nie! Dié teks laat my dink aan ’n weegskaal. Aan die een kant is jou lewe (siel) aan die anderkant die wêreld. Watter kant van jou weegskaal is die swaarste? Wat sal jy prysgee om Jesus te volg? Aan die ander kant: wat is daar in die wêreld wat vir jou belangriker is as Jesus? Wat plaas jy dalk in die plek van jou verhouding met Hom? Dis moeilik vir my om vir jou goeters op te noem – jý sal weet wat dit is, maar dis meestal maar dinge soos rykdom, wêreldse genietinge en kortstondige plesiertjies, eer en aansien,  eie ek en eiegeregtigheid. Die teks impliseer dat die siel die belangrikste is (natuurlik, want dit is wat ewig sal voortbestaan) en dit wat die wêreld kan bied waardeloos is as dit in terme van die ewigheid gemeet word. Die wêreld kan nie kompenseer vir die siel nie, want dis kortstondig en tydelik, dit kan nie as losprys dien vir die siel nie, want die siel is veels te “duur”. As jy jou siel verkoop het, waarmee gaan jy dit ooit weer kan  “terugkoop”?  Jesus ken die prys van ’n siel, want Hy het met sy lewe daarvoor betaal. Hy ken ook die koste van die wêreld, want Hy het dit alles geskep. Vir Hóm is die siel die belangrikste en op die weegskaal swaarder as die wêreld. “Mag God, wat vrede gee, julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom!” (1 Tess. 5:23) ~ Wilna Botha, 29/06/2021

“Waarom roep julle so benoud na My?” (Eks 14:15) Dis baie gerusstellend om te weet dat die Here hoor wanneer ons uit ons benoudheid na Hóm uitroep. Wanneer dinge rondom ons net te erg is om te verduur en ons geen uitkoms of oplossing sien nie, dan vra die Here: “Waarom roep julle so benoud na My?” En ons kan dan maar ons benoude hart voor Hom uitstort, want Hy sê in Ps. 50:15 “Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp en jy sal My eer.” Dit is beslis waar, MAAR ... lees Eks 14:15 verder en jy sal sien dat die Here se antwoord aan Moses is om vir die Israeliete te sê dat hulle verder moet trek.  Hy paai hulle nie, Hy haal hulle nie uit die vrees-omstandighede uit nie, Hy maak nie alles eensklaps vir hulle beter nie. Nee, Hy sê: doen wat julle moet doen. Trek verder. Lees bietjie Eks 14:15 in die Living Bible: “Then the Lord said to Moses, “Quit praying and get the people moving! Forward, march!” Sjoe! Dit klink nogal kras nè. Hulle het genoeg geroep en genoeg gebid, dis nou tyd om aksie te neem. Dalk sê die Here dit vandag vir my en jou ook: Ek het jou gebed gehoor, maar nou moet jy opstaan en aksie neem. Jy moet as’t ware meewerk om jou gebed beantwoord te kry. Ek dink nogal dat mense partykeer gebed bietjie as ’n verskoning gebruik om nie self iets te doen nie. As jy bid vir jou veiligheid, moet jy tog seker die deure sluit en die alarm aansit. As jy bid vir jou finansies, moet jy tog seker elke dag opstaan en hard werk. As jy bid vir ’n werk, moet jy tog seker jou CV uitstuur en opdaag vir werksonderhoude. As jy bid vir jou gesondheid, moet jy tog seker gesond eet en ongesonde gewoontes laat staan. As jy bid vir genesing, moet jy tog seker dokter toe gaan, medikasie neem of ’n operasie oorweeg. As jy bid vir eensames of mense in nood, moet jy dalk die een wees wat ’n besoek gaan aflê of ietsie te ete gaan uitdeel. As jy bid dat Covid syfers moet verminder en minder mense sterf, moet jy tog seker jou masker dra, by die huis bly,  kontak met ander mense vermy en aanmeld vir jou inenting wanneer dit jou beurt is. Gaan weer bietjie terug na Eks 14. Die Here sê hou op bid en trek verder en wanneer hulle daaraan gehoor gee, dán maak Hy vir hulle ’n pad deur die see (vers 21), dán neem die Engel van God plek in voor en agter hulle (vers 19), dán is die wolkkolom daar as hulle beskerming (vers 20), dán word hulle gered en sien hulle hoe hulle onderdrukkers oorwin word (vers 30). Bid sonder ophou, maar begin beweeg, wees gehoorsaam en die Here sal vir jou ook ’n pad maak deur die water, deur die woestyn. Begin beweeg en beleef hoedat die Here sáám met jou werk. Begin beweeg en sien die verhoring van jou gebed. ~ Wilna Botha, 01/07/2021

"Kan 'n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie?” So vra die Here in Jes. 49:15. Die antwoord is sekerlik “nee”. Ek dink nie ’n vrou wat geboorte geskenk het, sal ooit vergeet dat sy ’n kind in die wêreld gebring het nie, selfs al is die kind nie meer daar nie, selfs al moes sy hom dalk opgee, selfs al het dié kind haar later verwerp of teleurgestel. Die Here sê: “Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie. Ek het jou naam in my handpalms gegraveer.” Hy het ons gemaak, vir ons die lewe gegee, sy lewensasem in ons ingeblaas en Hy sal ons nie vergeet nie. Hoe gerusstellend is dit nie. Dit kan dalk vir jou voel asof almal van jou vergeet het. Almal gaan aan met hulle eie dinge, gee aandag aan hulle eie mense, jaag hulle eie doelwitte na en jy is vergete, alleen, eensaam, weggegooi. Dink daaraan dat jou naam in Sy handpalms geskryf staan en dat Hy aan jou dink, dat Hy jou nader trek met daardie hand, dat Hy daardie hand op jou skouer en om jou hart sit en sê: Ek sal jou nooit vergeet nie. Sy liefde vir ons is sterk. “U liefde vloei soos ’n rivier oor ons hele lewe”, sê  Ps. 36:8 in die Boodskap. Niks kan daai rivier van liefde, van onthou, van aandag stop nie. Letterlik niks kan ons van sy liefde skei nie. Wie (wat) kan dan teen ons wees of ons onderkry? “Swaarkry, probleme, vervolging, hongerpyne, ’n tekort aan klere, gevare, of dalk geweld? Nie een van hierdie dinge nie!” (Rom 8:35, Die Boodskap) Nie een van hierdie dinge nie, want Hy sal jou nie vergeet nie, jou naam is op sy hand geskryf. ~ Wilna Botha, 06/07/2021


“Weet jy dan nie, het jy nog nie gehoor nie?” ( Jes. 40:28) ’n Vraag soos hierdie laat mens mos vinnig regop sit, kop gedraai, sodat jou goeie oor vorentoe wys, want jy wil mos mooi hoor wat nou gesê gaan word! Weet jý iets wat ek nie weet nie? Is dit dalk ’n vars stukkie skindernuus? Is dit dalk ’n nuwe openbaring? Is dit dalk weer slegte nuus? Het iets groot gebeur? Is daar ’n nuwe deurbraak of uitvindsel? ’n Vraag soos hierdie laat mens voel of jy dalk besig is om iets groot en belangrik te mis, omdat jy nog nie gehoor het nie. Kyk wat volg alles op hierdie vraag in Jes. 40. Het jy nog nie gehoor dat die Here die ewige God is nie? (vers 28) Dalk het jy dit al gehoor, dalk het jy dit êrens in jou jong dae geglo, maar dit vergeet of verwerp. Hoor dit dan nou weer want dit is die waarheid. Het jy nog nie gehoor dat die Here die Skepper van die hele aarde is nie? (vers 28) Jip, dis waar! Hy het met die spreek van ’n woord alles tot stand gebring en nou hou Hy dit alles in die holte van sy hand. Jy hoef nie presies te verklaar hoe hy dit gedoen het om dit te aanvaar en te glo nie. Het jy nog nie gehoor dat Hy nie moeg raak nie? (vers 28) Hy raak nie moeg om genade te betoon nie, Hy raak nie moeg om te help nie, Hy raak nie moeg om jou te dra nie. Hy raak nie moeg vir ons hulpkrete nie. Hy raak nie moeg om God te wees nie. Nooit nie. Het jy nog nie gehoor dat Hy dié versterk wat nie meer kan nie? (vers 29) Dié wie se knieë lam raak, wie se moed min raak, wie se hoop verwelk. Dié wat val en struikel. Dié wat benoud voel en glad nie meer ’n uitweg sien nie. Het jy sy uitnodiging gehoor: “Kom na My toe almal wat uitgeput en oorlaai is ...”? (Matt. 11:28) Dit voel vir my soos ’n slagveld daar buite, ek wil-wil paniekerig raak as ek hoor van nóg iemand wat Covid het, nóg iemand wat in die hospitaal opgeneem word, nóg  iemand wat dood is, nóg, nóg ... en dan is daar nog die porsie “normale” bekommernisse en probleme wat elke dag inhou ook. En dan vra ek vir myself: Het jy nog nie gehoor dat dié wat op die Here vertrou nuwe krag kry, met arendsvlerke vlieg, nie moeg en afgemat raak nie ... Hy versterk dié wat nie meer kan nie? (vers 31) Ek het gehoor! Nou is die tyd om dit met my hele hart te glo en met my hele wese daaraan vas te klou. ~ Wilna Botha, 08/07/2021

“Waarom het u na My gesoek?” So vra die twaalfjarige Jesus in Luk. 2:49 vir sy ouers. Hulle het vir drie dae na Hom gesoek terwyl Hy in Jerusalem in die tempel geluister het na die geleerdes en hulle uitgevra het. Dalk voel dit vandag vir jou of Jesus weg is, dalk soek jy ook al drie dae, drie weke of drie jaar na Hom. As Hy vanaand vir jou sal vra: waarom het jy na My gesoek, wat sal jou antwoord wees? Of dalk kan die eerste vraag wees: hét  jy na Hom gesoek? Het jy dalk uit hulpeloosheid en uit angs en uit radeloosheid na Hom gesoek, dalk blindelings rondgetas en uitgeroep: waar is U dan Here? Is jy só desperaat om Hom te vind, soos wat Dawid in Ps. 63:2 was: “Ek soek U, o God, my God, ek dors na U; ek smag na U soos in 'n dor en droë land, 'n land sonder water ...” (Ps. 63:2)? Waarom het jy na Hom gesoek? Het dit vir jou gevoel Hy is weg, Hy luister nie meer nie, Hy het sy rug gedraai, of erger: Hy bestaan nie? Of het jy Hom gesoek omdat jy weet dat Hy die enigste oplossing vir jou probleme, die enigste antwoord vir jou vrae is? Het jy Hom gesoek omdat jy verlore of in ’n doodloopstraat is?  Het jy Hom gesoek omdat Sy genade al is wat jou kan red? Waar het jy Hom gesoek? “Ek is oral in die hemel en op die aarde, sê die Here” (Jer. 23:24). Ef. 4:10 “... nou is daar nie ’n hoekie of kantjie van hierdie heelal waar Jesus nie teenwoordig is nie.” (Ef. 4:10, Die Boodskap) Vanaand wil ek dít net oor en oor vir myself sê, dit in my gedagtes inbrand, oor my hele hart skryf sodat ek Hom oral kan raaksien. Ek moet aanhou glo dat Hy by my is en my nie alleen sal los nie. “Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan (Jos. 1:9); “As jy deur water moet gaan, Ek is by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur die vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie” (Jes. 43:2); “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie” (Heb. 13:5) Ek wil met volle vertrou sê: “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig.” (Ps. 23:4) ~ Wilna Botha, 13/07/2021

“Hoe is dit dat jy bang is vir ’n sterflike mens, vir ’n mens so maklik vergaan soos gras? Jy vergeet die Here wat jou gemaak het ...” (Jes. 51:12) So  vra die Here vandag vir ons en herinner ons om weg te kyk van mense en ons vrees vir wat hulle aan ons kan doen en te kyk na Hom wat ons gemaak het. ’n Paar verse vroeër sê die Here van daai mense: “Hulle is soos lap wat deur motte gevreet word, soos wol wat deur vismotte verniel word.” (Jes. 51:8) Is dit dan nou iets om voor bang te wees, vra ek myself? As ek na die nuusgebeure van die afgelope paar dae kyk, is ek bang. Maak ek Facebook oop sien ek die een inskrywing na die ander met die slegste nuus oor onluste en vernietiging, met mense wat buite beheer is. En ek is bang, want hoe erg kan dit nóg raak? Hoe gaan dit gestop word? Net eergister nog was die hoofnuus en my grootste bekommernis die virus en sy vernietigende pad. Voor dit was dit werkloosheid, korrupsie, geweld, noem maar op. Nou is daar al weer iets nuuts. En ons kan seker wees daar wag nóg slegte nuus op ons in die toekoms. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie, waarsku Jesus in Matt. 6:34 wanneer Hy sê ons moet ons liewer nie bekommer oor môre nie. Die hemelse Vader gaan vir ons sorg, belowe Hy in vers 26. Dit alles klink effe ge-yk en vir sommige dalk na leë woorde. Baie sal sê hulle soek nie nou Bybelversies nie, hulle wil nóú sy hulp en beskerming en sorg en redding prakties sien uitspeel. Ek voel ook so, maar besef toe êrens in my bangheid dat ek net daai woorde soos ’n kind moet glo, dat ek dit wat die Here sê en wat die Woord sê moet aanvaar as ‘n geloofswaarheid wat ’n werklikheid gaan word. Geloof berus tog op dít wat ons nog nie kan sien nie, maar waarop ons met ons hele hart hoop. Geloof glo dat wat die Here sê die waarheid is en dat Hy sal doen wat Hy beloof. Geloof vra herprogrammering van my bang-brein met die Here se woorde. En Hy sê: “I will not in any way fail you nor give you up nor leave you without support. I will not, I will not, I will not in any degree leave you helpless nor forsake nor let you down and relax my hold on you, assuredly not.” (Heb. 13:5, Amplified Bible) I will not, I will not, I will not, assuredly not! Ek glo dit. Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan ’n mens aan my doen? (Heb. 13:6) ~ Wilna Botha, 15/07/2021

“Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie? Sal Hy hulle lank laat wag? Ek sê vir julle: Hy sal hulle help en gou ook!” (Luk. 18:7) Jesus het hierdie gelykenis van die weduwee en die regter vertel om duidelik te maak dat ’n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word (vers 1). Sonder ophou, dag en nag sê ander tekste. En jy? Hou jy nog aan, of dink jy gebed werk nie? Dink jy die Here het doof of moeg geword vir jou gebede? Verlede week sien ek hierdie peiling van solidariteit op Facebook: bid jy vir Suid-Afrika, vra hulle. En met alles wat verlede week aangegaan het, van onluste, vernietiging, brande, plundery tot hewige stryd teen hoë Covid-syfers dink ek dit was ’n gepaste vraag. Van die 173 kommentare wat ek gesien het, het net 2 persone gesê nee, hulle bid nie, want dit help nie. So paar het gesê mens moet bid én doen en nog iemand het tereg gesê ons moet áltyd bid, nie net as daar ’n krisis is nie. Dit het my hart so warm gemaak om te sien dat mense weet (en onthou) waar hulle hulp vandaan kom. Verlede week het ek beleef hoedat ons paniekerig, bang en angstig geword het. Dit was net so ’n dag lank wat dit vir my gevoel het ons asems is weggeslaan deur die krisis en toe begin mens hoor van vrywilligers wat opdaag om winkels te beskerm, op te ruim, kos aan te ry en ander praktiese hulp te verleen, toe begin mens sien van mense wat van geboue se dakke af oor reuse luidsprekers die Here se Naam proklameer en van werkers in ’n winkel wat op hulle knieë staan en sing “all to Jesus I surrender” en van mense wat deur ’n winkelsentrum stap en sing “sing with me how great is our God”! Dit was asof mense omgeslaan was vir ’n dag of wat, maar toe doelgerig opstaan, moed skep en hoop uitgrawe en oë na die Here draai en wéét Luk. 18:7 is waar: “Hy sal hulle help en gou ook!” En ek het weer my geloofshart geprogrammeer om dít te onthou vir die volgende krisis wat mag opduik. “Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.” (Heb. 4:16) ~ Wilna Botha, 20/07/2021

“Wat kan Ek nog vir my wingerd doen wat Ek nie reeds gedoen het nie?” (Jes. 5:4) Op ’n paar plekke in die Bybel kry ons dié metafoor waar die Here met die landbouer/boer/eienaar van ’n wingerd vergelyk word en ons die vrugteboom, of die wingerd of die loot aan die wingerdstok is. Van die wingerd word natuurlik vrugte verwag, anders is dit nutteloos en kan dit uitgekap word. Hier in Jes. 5 sê die Here juis dat Hy alles vir sy wingerd gedoen het, maar dit lewer nie vrug op nie. Nou gaan die wingerd nie meer gesnoei of geskoffel word nie, die beskermende omheining gaan verwyder word, dit gaan oorgeneem word deur doringbosse en onkruid, want die wingerd het nie sy kant gebring nie. Gelukkig weet ons dat die Here uiteindelik wel nóg iets vir sy wingerd gedoen het. Hy het sy Seun gestuur om as Tuinier tussenbeide te tree. Die gelykenis in Luk. 13:6-9 vertel só mooi hoe die Tuinier vir die onvrugbare vyeboom pleit by die Eienaar. Die Eienaar: sê kap hom uit, hy het al vir drie jaar nie vrugte gedra nie, maar die Tuinier vra vir uitstel, Hy tree in en pleit vir genade. Hy onderneem om die boom te versorg met ekstra aandag, nog bietjie omspit, nog bietjie bemesting, nog ’n jaar se grasie om vrugte op te lewer. Dis ons Middelaar, Jesus wat só pleit vir ons, vriende. Ons is die boom wat dit keer op keer vryspring om uitgekap te word. Dis ons wat elke dag ’n vars porsie genade kry sodat ons weer kan opstaan, weer ons blare kan regskud en weer probeer. “’n Riet wat geknak is, sal Hy nie afbreek nie en ’n lamppit wat rook nie uitdoof nie.” (Matt. 12:20) Al voel ons swak, nutteloos, onbruikbaar soos ’n geknakte riet of ’n kers wat dof brand of ’n onvrugbare vyeboom, is daar altyd weer ’n tweede kans in die Here se genade. Hy doen dit vir ’n tollenaar, vir ’n owerspelige vrou, vir ’n moordenaar, ’n duiwelbesetene en ’n verraaier. Hy doen dit vir siekes, melaatses, ongelowiges en twyfelaars. Hy sál dit ook vir my en vir jou doen. Die Tuinier is langs jou. Bly staan in die wingerd. Volhard. Druk deur.  ~ Wilna Botha, 22/07/2021

Daarop sê Jesus vir hom: “Waarom noem jy My goed?” (Mark 10:18) Ek weet ek is nou buite die konteks van dié vers, maar toe ek hierdie vraag lees het ek gewonder wat sou ek sê as die Here vandag vir my sou vra: Waarom noem jý My goed? Ek het agtergekom dat ek baie keer sê die Here is goed vir my en dat ek in omtrent elke gebed vir Hom dankie sê vir sy goedheid. Ek sal bv. sê die Here is goed vir ons dat ons nog nie Covid opgedoen het nie, dat dit goed gaan met ons besigheid, dat dit goed gaan met ons kinders, dat ons ’n gelukkige huwelik het, dat ons genoeg lewensmiddele het, dat ons onsself kan warm hou in hierdie koue dae, ens. Toe wonder ek, wat dan as enige van dié goeters nie so goed uitgewerk het vir my nie, is die Here dan nie meer goed nie? Wat sê iemand anders oor die Here se goedheid as hy by ’n geliefde se sterfbed staan, as hy met ’n ongeneeslike siekte gediagnoseer word, as hy skeihof toe moet gaan of deur ’n skelm oorrompel word? Ek hoop as ek in so situasie kom, sal ek nog steeds kan sê: Hy is God en Hy is goed. “A statement of hope and an announcement of faith” noem iemand dit as jy met jou hele hart kan bely dat God goed is, al lyk dit nie so nie, al voel dit nie so nie. As ek sê God is altyd goed, al lyk dinge nie so goed nie, is dit nie omdat ek in die bres wil tree vir Hom, of sy kant wil stel of Hom probeer verdedig nie, dis omdat ek eenvoudig glo Hy is goed omdat Hy God is. Hy is goed want sy liefde is onbegrens. Hy is goed want sy genade is onverdiend en onverklaarbaar. Hy is goed want Hy is alomteenwoordig, alwetend en alwys. Hy is goed want die vrede wat Hy gee gaan alle verstand te bowe. Hy is goed en daarom laat Hy alles ten goede meewerk. Hy is goed want Hy dra jou deur die dal van doodskaduwee en aan die ander kant gee Hy vir jou ’n ewige blyplek in die hemel. Hy is goed want Hy dra jou deur die dal van doodskaduwee en aan die ander kant droog Hy al jou trane af. Ken jy dié liedjie wat sê: “May your struggles keep you near the cross, and may your troubles show that you need God, and may your battles end the way they should, and may your bad days prove that God is good, let your whole life prove that God is good.” God is vol goedheid teenoor jou. Ek hoop jy sal aanhou om op sy goedheid staat te maak. ~ Wilna Botha, 27/07/2021

“Wie kan die Gees van die Here peil, wie kan sy raadgewer wees?” (Jes. 40:13) Die antwoord op dié vraag in Jesaja is sekerlik ’n onomwonde “niemand”. Ons weet ons God is verhewe bo alles en almal. Hy was nog altyd daar en as daar niks oor is nie sal Hy nog steeds daar wees. Die Begin en die Einde. Alfa en Omega. Skepper van hemel en aarde wat alles in standhou, wat die sterre tel en sorg dat geeneen van hulle ontbreek nie.  Die Almagtige wat alles in sy hand hou. “Niemand in die hemel of op die aarde het soveel wysheid en insig soos God nie. Wie is in staat om sy optrede te verklaar? Wie ken God se planne? Is daar iemand wat vir Hom kan voorskryf wat om te doen?” Nóg ’n rits vrae oor die onverklaarbaarheid, onverstaanbaarheid, grootheid van God soos wat ons dit in Rom 11:33 lees in Die Boodskap. Weereens is die antwoord op elkeen van daai vrae ’n onomwonde “niemand”! My gedagtes is nie julle gedagtes nie en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here in Jes. 55:8. Hy is God en ons is mens. Maar ... toe kom daar ’n “maar”. Ons lees dié “maar” in 1 Kor. 2:16. “Daar staan geskrywe: “Wie ken die gedagtes van die Here? Wie sal Hom raad gee?” Maar ons, ons het die Gees van Christus.” Die Here het sy Gees in ons harte uitgestort. Sy Gees wat ons leer en wys en lei. Sy Gees wat vir ons ietsie laat verstaan van sy genade, van sy liefde, van sy gedagtes, van sy optrede. Sy Gees wat ons help om dinge geestelik te beoordeel en geestelik te verstaan. Sy Gees wat die Woord vir ons lewendig en verstaanbaar en prakties maak. Sy Gees wat ons help om dieper in ’n situasie in te kyk. Sy Gees wat vir ons die regte woorde gee om oor Hom te praat. Sy Gees wat ons help om sin te gee aan die onverklaarbare. Sy Gees wat ons help om die onverstaanbare in geloof te aanvaar. In die Engelse vertalings sê 1 Kor. 2:16, “But we have the mind of Christ”. Hoe ongelooflik is dit nie! Belyn jou “mind” met Sy “mind”, jou gees met Sy Gees, jou wil met Sy wil, jou gedagtes met Sy gedagtes, jou emosies met Sy emosies. Laat Hy jou gedagtes herskryf. Laat Hy jou verstand beheer. Laat Hy jou emosies oorneem. Laat Hy jou gesindheid bepaal, want ons, ons het die Gees van Christus! ~ Wilna Botha, 29/07/2021

“Hoe kan julle ook in My glo terwyl julle gesteld is op die eer wat julle van mekaar ontvang en nie die eer soek wat van die enigste God afkom nie?” (Joh. 5:44) Toe ek hierdie vraag lees het dit vir my gevoel of Jesus as’t ware geloof teenoor eie eer, menslike ego, eiegeregtigheid en eie-ekkerigheid stel. Staan dit dan werklik teenoor mekaar, het ek gewonder. Ek het egter besef om eer en erkenning vir jouself te soek vanaf mense en daarvoor te werk, plaas die fokus op jouself en weg van die Here af. Jy en wat jy wil bereik word belangriker as Hy en wat Hy wil bereik. Dit plaas jou fokus op kompetisie met die mense om jou, ja selfs met mede-Christene en mede-bedienaars, soms selfs met jou eie gesin en vriende. Jou verhouding met die Here kom in gedrang wanneer jy alles in die stryd werp om eer van mense te ontvang. Daar is deesdae so baie predikers op YouTube en elders en hulle is in kompetisie met mekaar oor wie die beste aanslag, die grootste gevolg, die meeste “views” en “likes” het. Op die ou einde probeer elkeen nóg iets meer interessant, “nuwe” openbaringe, nuwe preekstyle, net om meer volgelinge te wen. Matt. 6:1 sê tereg: “Wanneer julle besluit om goeie dinge vir ander mense te doen, moet julle eers seker maak hoekom julle dit doen. Moenie ’n openbare skouspel daarvan maak sodat ander julle kan raaksien nie. As julle op soek is na die applous van ander mense, skuld God julle niks meer nie. Dan het julle klaar julle beloning gekry.” Dan is daar ook nog die geestelike hoogmoed waarvan mens so baie sien deesdae (ja, ek is ook so! Ongelukkig.) Wanneer jy op ’n sekere manier bid, op ’n sekere manier sing, aan ’n sekere kerkdenominasie behoort, wanneer jy sekere geestelike terme rondgooi, dán kan mense mos weet jy is nou ’n ware en “groot” Christen. Dis dan wanneer jy dalk begin om mense geestelik te beoordeel en veroordeel. Dis dan wanneer jy na ander kyk en dink hulle is nie op dieselfde geestelike vlak as jy nie. Dis dan wanneer jy mense van die Here af wegstoot, eerder as om hulle in te trek in die koninkryk in. Oor die algemeen is dit vir ons (nee, ek moet eintlik sê vir my!) belangrik hoe ander mense my sien, wat hulle van my dink, hoe hulle my komplimenteer en bedank vir wat ek doen. Dis dan dat ek vir myself te belangrik word. Dis dan wanneer mens meer gesteld is op die eer van mense as op die eer wat van God afkom. Waarvoor sal Hy my eer? Wanneer ek gehoorsaam is. Wanneer ek nederig bly. Wanneer die vrug van die Gees sigbaar is my lewe. Wanneer my ja ja is en my nee nee. Wanneer ek vergewe en vergeet, sewentig maal sewe keer. Wanneer ek nie op iemand neerkyk nie. Wanneer ek doen wat my hand vind om te doen en wanneer die regterhand nie eers weet wat die linkerhand doen nie. Wanneer ek net myself is. “Onthou: jou hemelse Vader sien wat jy vir ander doen. Hy sal wel sorg dat jy jou hemelse beloning kry.” (Matt. 6:4, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 03/08/2021

“Waar kom jy vandaan en waar gaan jy heen?” (Gen. 16:8) So vra die Engel van die Here vir Hagar, die slavin van Sarai. Sarai het haar sleg behandel en sy het weggeloop. Sy sit by ’n fontein in die woestyn toe die Engel vir haar dié vraag vra. Soos op meer plekke in die Bybel waar dit sê die Engel van die Here het met iemand gepraat, kom mens agter as jy verder lees, dat dit eintlik die Here sélf is wat aan haar verskyn het en met haar gepraat het. As ons dié vraag lees, kan ons dit op onsself ook van toepassing maak. Dalk kom staan die Here vandag by my en jou ook stil waar ons onsself ook al bevind en vra vir ons: waar kom jy vandaan en waar gaan jy heen? Dalk bevind jy jou vandag ook in ’n woestyn, moeg, rigtingloos en verdwaal. Dalk vertoef jy êrens by ’n fontein in die hoop om gelawe en verfris te word, of om hulp te kry, of raakgesien te word.  Baie keer is dit nodig om bietjie terug te dink aan die pad wat jy gestap het tot waar jy nou is. Dink bietjie daaraan dat die Here jou geskep het, jou beplan en aanmekaar geweef het, soos wat Ps. 139 sê. Dink bietjie terug hoedat jy in ’n seker familie ingebore is, in ’n seker omgewing opgegroei het, hoedat jy ’n seker beroep, lewensmaat, huis, gemeente, ens. gekies het. Dink bietjie daaraan hoe die Here nog altyd vir jou gesorg het, hoe daar altyd uitkoms was, hoe die Here deure vir jou oop en toegemaak het, hoe jou afdraaipaaie jou gevorm het, hoe die Here wonderwerke laat gebeur het, hoe Hy dalk vêr gevoel het, maar jou nooit gelos het nie. As die Here vra: waar kom jy vandaan, of waarmee is jy besig, hoekom is jy hier, dan kan ons maar eerlik met Hom wees, soos wat Hagar was. Waar gaan jy heen? Ek dink nie Hagar het ’n antwoord gehad nie. Sy het sommer net blindelings die pad gevat. En jy? Daar waar jy by die lewensfontein sit, waarheen is jy op pad? Moet jy dalk ook terugdraai en verhoudings gaan regmaak, soos Hagar? Moet jy dalk jou gedagtes vernuwe en met nuwe oë na jou lewe en jou omstandighede en jou toekoms kyk? Moet jy dalk daai ou, vergete passie weer aanblaas en nuut droom oor die toekoms? Moet jy dalk seker maak dat jy op die “regte” pad is, God se pad? As die Here vir jou vra: waar gaan jy heen, onthou dat Hy reeds planne en ’n doel vir jou in gedagte het, soos vir Hagar. Lees gerus daar van vers 10 af wat die Here alles vir haar beplan het. Is jy bereid om Hom te volg en as Hy vra: waar gaan jy heen, te sê: ek gaan waarheen U my lei? ~ Wilna Botha, 05/08/2021

“Het jy rede om kwaad te word?” So vra die Here vir Jona in Jona 4:4. Weet jy hoekom was Jona kwaad? Hy was kwaad omdat die Here ’n hele stad gered het. Hy was kwaad omdat die Here genadig, barmhartig, lankmoedig en vol liefde is teenoor Nineve se mense. Hy gun hulle nie om te deel in God se genade en redding nie. Sjoe, mens kan dit amper nie glo nie, nè! Jona was die instrument waardeur die Here die stad gered het. Hy was die een wat, ná sy omswerwinge in die vis se maag, vir Nineve gaan waarsku het om hulle te bekeer – bietjie onwillig, maar hy het dit gedoen. Nou is hy kwaad dat die Here genade betoon het. Miskien het hy gedink hulle verdien dit nie. Miskien het hy gevoel hulle kan maar vernietig word deur die ramp. Miskien was hy bang hulle gaan weer ’n bedreiging word vir sy eie volk. Miskien het hy net aan homself en sy eie belange en eie begeertes gedink. Mens sou verwag as ’n hele stad tot bekering kom dat die boodskapper die Here daarvoor sou eer en prys, nie dat hy kwaad sou wees daaroor nie. Dis mos soos met die verlore skaap of verlore muntstuk - as die verlorene gevind word, behoort daar feesgevier te word. Was jy dalk ook al kwaad vir die Here oor die genade en guns wat Hy aan iemand betoon het, iemand wat jy gedink het dit glad nie verdien nie? Was jy dalk ook al kwaad vir die Here as Hy goed was teenoor iemand, terwyl dit vir jou gevoel het of die Here sy hulp van jou onttrek het? Was jy dalk ook al kwaad vir die Here as ’n geliefde sterf, terwyl die boemelaar op die hoek van die straat blakend gesond is? Was jy dalk ook al kwaad  vir die Here as dinge nie volgens jou planne en jou verwagtinge uitgewerk het nie, terwyl dit sulke goeie, edele planne was? Ons kan nie teen God se besluite baklei nie. Ons opstandigheid sal nie God se planne verander nie. Woede teen die Here maak ons blind vir die groter prentjie waarmee Hy besig is, blind om te sien dat Hy alles ten goede laat meewerk. Woede teen die Here maak ons onvergenoegd, keer sy vrede in ons harte, vertroebel ons verhouding met Hom. Woede teenoor die Here werk nie. Het jy regtig rede om kwaad te word? Moenie nóg ’n dag kwaad afsluit nie. ~ Wilna Botha, 10/08/2021

Toe vra die Here God vir die vrou: “Wat het jy nou gedoen?” (Gen. 3:13) Sjoe, ek moet sê ek sidder nogal as ek dink die Here moet voor my staan en dié vraag vir my vra! Wat het jy nou gedoen? Wat het jy versuim om te doen? Wat het jy geweier om te doen? Watter verkeerde keuse het jy nou gemaak? Watter afdraaipad het jy nou al weer gevat? Soms sal ek, soos Eva, vinnig reg wees met ’n verskoning of verduideliking, of gou-gou iemand anders blameer, of dadelik myself probeer verontskuldig. Maar ander kere sal ek net my kop in skaamte moet laat sak en nie eers ’n verskoning of verduideliking hê nie. Ander kere sal ek op my knieë val en bely dat ek gesondig het en pleit vir vergifnis. Die Here kán hierdie vraag vandag vir my en jou vra. Hy mag rekenskap eis. Hy mag ons onder kruisverhoor neem. Hy mag ons oordeel. Maar ... Goddank, daar is ’n ander kant. Die genade-kant, die Jesus-kant, die kruis-kant, die uitveër-kant. God het in sy genade vir ons ’n uitveër voorsien - Jesus se bloed. Jesus se bloed vee ons verkeerde dade, woorde en gedagtes uit; al hierdie verkeerde dinge word gekanselleer aan die kruis, in die diepsee gegooi waar dit nie weer uitgevis kan word nie. Hy sê dalk vir ons: wat het jy nou gedoen? Maar Hy sê ook: “Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak: Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol.” (Jes. 1:18). “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie.” (Rom 8:1) Die Here se uitveër is beskikbaar vir jou, niks is te groot of sleg of swart vir Hom nie. Hy sê: “Ek het jou oortredings soos mis voor die son laat verdwyn. Ek het jou sondes soos ’n wolk laat verdamp.” (Jes. 44:22, Die Boodskap) Deur Jesus kan ons rein en nuwe mense wees wat elke dag weer ’n skoon bladsy voor ons het, mense wat vry en lig kan lewe, kinders van God wat met vrymoedigheid die pad saam met Hom kan stap. ~ Wilna Botha, 12/08/2021

“Wat het jy in jou hand?” (Eks. 4:2) So het die Here vir Moses gevra toe Hy hom nader geroep het uit die brandende doringbos. Moses was vol verskonings en bietjie onwillig om te gaan doen waarvoor die Here Hom gestuur het. “’n Kierie,” het Moses geantwoord en dalk gedink: sien Here, dis net ’n kierie, daarmee kan mens mos nie eintlik iets anders doen as om vee aan te jaag, ’n dwalende skaap te keer of om jouself te stut as jy op ongelyke grond stap nie. Maar die Here het ander planne gehad met dít wat in Moses se hand was. Die Here het vir hom gesê om die kierie op die grond te gooi en toe word die dit ’n slang en die slang word weer ’n kiere. So het die Here vir Hom gewys dat Hy in staat is om meer te doen as wat Moses kon bid of dink. Later sou Moses met dieselfde kierie die water van die Nyl in bloed laat verander; hy sou die kierie in die lug opsteek en ’n haelstorm laat losbars; hy sou die kierie oor Egipte uitstrek sodat ’n sprinkaanplaag sou begin, hy sou die see laat oopkloof sodat die Israeliete droogvoets daardeur kon trek; hy sou met dieselfde kierie water uit ’n rots laat vloei om die volk se dors te les. In die wyer prentjie vra die Here vir ons ook: Wat het jy in jou hand? Dit gaan nie altyd oor wat jy het nie, maar vir wie jy dit aanbied. Dit wat jy in jou hand het en vir God beskikbaar stel, kan vermeerder word, kan bruikbaar word, kan wonders tot gevolg hê, kan meer doen as wat jy bid of droom. Wat het jý in jou hand? Nie eintlik iets nie, kan jy dalk sê. Niks is te klein, te min of te swak as die Here daarmee werk nie. In God se hand word min baie, swak word sterk, arm word ryk, laaste word eerste, nietig word vernaam, verag word verhoog, vuil word skoon, oud word nuut, verlore word gered. Onthou toe daar ’n honger skare was, het Jesus vir sy dissipels gevra: hoeveel brood het julle? Toe word die skare gevoed met sewe brode en ’n paar vissies wat in iemand se hand was. So, wat het jy vandag in jou hand? ’n Beursie met ’n paar rand? ’n Brood en ’n goeie woordjie? ’n Karsleutel en ’n uurtjie se tyd? ’n Kitaar en ’n loflied of twee? ’n Hekelpen en ’n warm kombers in wording? ’n Selfoon met ’n klompie data en lugtyd? ’n Resep en ’n klompie bestanddele? Bordkryt en kennis om te deel? ’n Bybel met Goeie Nuus vir ’n verlorene? Miskien raad vir ’n jongeling? Miskien ’n opbouende woord vir die moedelose? Miskien ’n gebed vir die sieke? Gebruik wat jy het. Die Here sal die beste maak van wat jy beskikbaar stel. ~ Wilna Botha, 17/08/2021

“Wat is jou naam?” (Gen. 32:27) Jakob het by Jabbokdrif dwarsdeur die nag met God geworstel. Teen dagbreek sê Jakob dat hy nie die Here sal los voordat Hy hom nie seën nie. Toe vra die Here: “Wat is jou naam?” Ek wonder nogal hoekom die Here dít vir hom sou vra, aangesien Hy sekerlik geweet het wat sy naam is. Miskien wou die Here hê dat Jakob moet sê wie hy was: bedrieër en uitbuiter, want dít is wat sy naam beteken het. Maar nou gee die Here vir hom ’n nuwe naam. ’n Nuwe lewe. ’n Nuwe doel. Sy naam is nou Israel, “want jy het teen God en teen mense ’n stryd gevoer en jy het enduit volgehou.” (Gen. 32:28) Net soos vir Jakob, is daar vir my en jou ook altyd ’n geleentheid om ’n spesiale ontmoeting met die Here te hê, om nuut gemaak te word deur Hom, om ’n nuwe naam te kry, nuwe betekenis, nuwe lewensrigting. “Jy sal ’n nuwe naam kry, ’n naam wat die Here self vir jou gekies het. Die Here sal jou soos ’n sierlike kroon in sy hand hou, jou God sal jou soos ’n koninklike tulband vashou ... Jy sal genoem word: “Die een vir wie die Here lief het.”” (Jes. 62:2-4) Wat is jóú naam? Dié nuwe naam wat die Here self vir jou gekies het? Kind van God, Koningskind, Geesvervulde, Verloste, Geliefde. Dalk is jou naam nou Vredemaker, Raadgewer, Bemoediger, Gestuurde of Boodskapper omdat die Here vir jou ’n spesiale opdrag gegee het. Wat ons vandag met sekerheid kan weet is dat die nuwe naam wat die Here vir ons gekies het ook “Die een vir wie die Here lief het” is. In van die Engelse vertalings sê dit “My delight” of “God is pleased with her”. Hoe mooi klink jou nuwe naam nie! Aanvaar dit in geloof en sien in jou geestesoog dat die Here jou soos ’n sierlike kroon of ’n koninklike tulband vashou en sê: Jy is die een vir wie die Here lief het. ~ Wilna Botha, 19/08/2021

“Wat maak jy hier, Elia?” (1 Kon 19:9) Elia het die wildernis ingevlug en gaan wegkruip onder ’n besembos – bang, moedeloos, depressief, moeg vir alles, nie meer kans gesien vir sy verantwoordelikhede nie, hy het selfs gebid om dood te gaan. Die Here ken hom, Hy verstaan sy emosies, Hy weet waardeur Hy gaan en Hy weet waar hy gaan wegkruip het. Die Here kom na hom toe en vra: wat maak jy hier? Ek dink nie dis ’n verwyt of ’n aanklag of ’n teregwysing nie. Ek dink dit is ’n sagte vraag. Een van belangstelling, meegevoel, van innig jammer wees vir hom. “Moved with compassion” – dis soos wat ons dikwels lees hoe Jesus gevoel het oor mense wat swaarkry, siek, bang, eensaam en verlore is. Waar is jý vandag? Het jy dalk ook fisies of emosioneel of geestelik gevlug en êrens gaan wegkruip? Opgegee op die lewe? Opgegee met mense? Opgegee met drome, ideale en dít waarvoor die Here jou geroep het? Dalk voel jy jy word nie waardeer nie, nie gehoor nie, nie verstaan nie. Ek dink hoe Jesus vir Saggeüs raakgesien het in die vyeboom – wat maak jy daar, Saggeüs? Ek dink hoe Hy die verlamde by die bad van Bethesda raakgesien het – wat maak jy hier? Miskien het Hy selfs vir die vriende wat die verlamde vriend op ’n draagbaar deur die dak laat sak het gevra: wat maak julle hier? En vir Saulus op pad na Damaskus : wat maak jy hier? Wat van Job, daar waar hy alles en almal verloor het en vol verdriet en depressie op die ashoop gesit: wat maak jy hier, Job? Kyk hoe mooi verloop Elia se storie: hy raak aan die slaap onder die besembos en toe kom maak ’n engel hom wakker en sê: staan op en eet. Daar was vir hom kos om hom te versterk en gereed te maak en moed te gee vir die pad vorentoe – veertig dae en veertig nagte tot by die Horeb, die berg van God. Daar het hy in ’n grot geslaap en daar het die Here met hom gepraat. Dink bietjie terug hoedat die Here ook al op wonderbaarlike maniere vir jou voorsien het in alledaagse behoeftes: ’n warm bord kos op die regte tyd, ’n telefoonoproep van ’n vriend toe jy dit só nodig gehad het, ’n inbetaling in jou bankrekening toe jy op ’n laagtepunt was, ’n glimlag, ’n geskenk, ’n bos blomme, ’n bemoedigende WhatsApp. Dis die Here se werking in jou lewe, vriend. Hy weet wanneer jy raadop in jou doodloopstraat is, verdwaal is in ’n doolhof, moedeloos op die ashoop sit, weggesak in die modder lê, verlore in ’n donker put sit. Wat maak jy hier, my kind, sal Hy vra in die fluistering van die windstilte. Hy sal jou fisies, emosioneel en geestelik versterk, Hy sal jou optel, Hy sal die pad vir jou wys, na groen weivelde en waters waar daar rus is bring. Hy gee vir jou nuwe wysheid, maak nuwe deure vir jou oop en laat nuwe planne in jou gedagtes opkom. Ek bid dat jy Hom sal raaksien, dat jy Hom in die “fluistering van die windstilte” sal hoor. ~ Wilna Botha, 24/08/2021

Es. 37:3 “Mens, kan daar in hierdie bene weer lewe kom?” Die Here het vir Esegiël na ’n laagte vol droë bene gebring en vir hom gevra of daar weer lewe in dié bene kan kom. Hy het nie geweet wat om te antwoord nie en sê vir die Here dat net Hy sal weet of dit moontlik is. Esegiël moes toe profeteer oor die droë bene dat die Here vir hulle vleis en senings sal aansit, hulle sal oortrek met vel en Sy Gees in hulle sal inblaas. Dit het toe ook so gebeur. Hierdie was in die eerste plek ’n profesie vir die herstel van die volk, Israel, wat verstrooid, oorweldig en hooploos was. “Ons bene is uitgedroog, ons het geen hoop meer nie, dit is klaar met ons”, sê  hulle (Es 37:11) Klink en voel dit dalk bekend? Of dalk kan jy assosieer met Dawid in Ps. 6: ek kwyn weg, my liggaam is uitgeteer, ek is heeltemal gedaan, uitgeput van verdriet, huil die hele nag deur, deurweek my bed met trane, my oë het dof geword van verdriet ... Ai, ek voel jammer vir mense wat só swaar kry in hierdie tye. Die vraag in Es. 37:3 is vandag vir ons almal bedoel: Mens, kan daar in hierdie bene weer lewe kom? Mens, glo jy dat die Here die onmoontlike kan doen? Mens, glo jy dat jy weer voor kan begin, weer nuut gemaak kan word, weer gesond kan word? Mens, glo jy dat jou emosionele wonde kan genees en dat jy weer sal opstaan en weer sal kan aangaan? Mens, glo jy dat jou verdroogde binnekant weer gevoed kan word? Mens, glo jy dat jou harde hart weer sag kan word, dat die Gees van die Here weer sal besit neem van jou hart en gedagtes? Ek hoop jy sal ja kan sê. Ek hoop jou geloof sal jou dra. Ek hoop jy sal nuwe hoop kry. Ek hoop die Here sal die droë bene weer laat lewe kry. Kyk sy belofte in Es. 37:14: “Ek het dit gesê en Ek sal dit doen,” sê die Here. ~ Wilna Botha, 26/08/2021

“Watter sin het dit dat julle My aanspreek met ‘Here, Here!’ en nie doen wat Ek sê nie?” (Luk. 6:46) Hierdie vraag van Jesus stop my elke keer in my spore as ek dit lees. Is die “Here, Here” wat ek uitroep dalk leeg en sonder inhoud? Is dit net lippetaal, is dit net ’n ydele uitroep sonder krag, omdat my geloof dalk versuim het om in dade uit te vloei, soos wat Gal 5:6 sê? (“Al wat van belang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan.”) Of het ek dalk só hard probeer met leë offers dat ek skoon nagelaat het om gehoorsaam te wees in die klein dingetjies? (“Dit is nie diereoffers of graanoffers wat U wil hê nie, nie brandoffers of sondeoffers wat U vra nie; U wil gehoorsaamheid hê” - Ps. 40:7) Was ek dalk só besig om ’n groot, selfsugtige huis op die sand te bou dat ek nie gehoor gegee het aan wat die Here gesê het nie?  (“En elkeen wat hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens handel nie, kan vergelyk word met ’n dwaas wat sy huis op sand gebou het” - Matt. 8:26) Kyk ek dalk in die spieël, sien hoe deurmekaar my hare is, maar ek kam dit nie en vergeet dadelik dat daar fout is? (“Iemand wat altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is soos een wat na sy gesig in die spieël kyk: hy bekyk homself, gaan van die spieël af weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het.” - Jak 1:23-24) Ek dink dalk ek is mooi godsdienstig met my “Here, Here”, maar eintlik is ek besig om myself te bedrieg. (“Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself.” - Jak 1:22) Vertroebel my ongehoorsaamheid dalk my vriendskap met Jesus? (“Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel.” - Joh 15:14) Ek dink nie dis nodig vir my om ’n lys van ongehoorsame optredes, gedagtes, woorde en versuim op te noem nie – ons ken hulle. “Wie ore het en kan hoor, moet luister!” (Mark 4:9) Ek het êrens gelees dat Charles Spurgeon gesê het: “Dit is beter om geloof te hê wat gehoorsaam is, as geloof wat berge versit.” “Gehoorsaamheid aan God lei tot die lewe, dit is 'n pad wat nie na die dood lei nie.” (Spr. 11:28) ~ Wilna Botha, 31/08/2021

“Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het? Praat as jy die antwoord het.” (Job 38:4) Dwarsdeur die boek Job, bespiegel Job en sy vriende oor die redes vir Job se swaarkry. Hoewel Job daar aan die begin van sy lydenspad ewe mooi gesê het: “Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here” (Job 1:21), het hy gou-gou heel negatief geraak oor sy situasie en selfs sy geboortedag vervloek. Hy het nogal opstandig geword en die Here bevraagteken. Hy het begin wonder oor God se regverdigheid en God se goedheid begin betwyfel. Hy het homself jammer gekry en terugverlang na die ou dae toe sy lewe volmaak was. Kan jy dalk hiermee assosieer? Ek dink die meeste van ons maak maar so in tye van uitgerekte swaarkry, waar die pad donker en lank is en die uitkoms onmoontlik lyk. Wanneer die finansies net nie op dreef wil kom nie, ten spyte van al jou dapper pogings. Wanneer die goeie nuus net nie wil aanbreek nie en jy nóg ’n terugslag beleef. Wanneer die dokter jou nóg ’n keer inroep met ’n ekstra komplikasie op jou diagnose. Wanneer die hofsaak uitgerek word en nóg ’n keer uitgestel word. Wanneer jou kind nog ’n keer in die moeilikheid beland. Wanneer die Covid toets sowaar positief is. Dis maklik om aan die begin van die pad te sê: “Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here”, maar hoe langer dit word, hoe onmoontliker die uitkoms lyk, hoe moeiliker word dit om geloof te behou en te bely dat die Here in beheer is en alles ten goede sal laat meewerk. Dis menslik! Dis nie on-Christelik nie. Dis nie onvergeefbaar nie. Ons sien net nie die wyer prentjie soos God nie, ons ken nie die toekoms soos Hy nie, ons sien en voel net wat hier en nou met ons gebeur. Dis dalk goed om te leer en te oefen om verby jou probleem na die Here te kyk en nie deur jou probleem nie. Dis dalk goed om weer die vrae te hoor wat die Here vir Job (en vir jou) vra: “Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het?” en vele ander vrae in Job 38 tot 41. Miskien kan dit jou help om te besef Hy ís in beheer, Hy ís almagtig, Hy ís sterk, Hy weet alles, Hy weet waardeur jy gaan, Hy gee om, Hy kyk nie ander pad nie, Hy is nie stil nie, al dink jy so, Hy is nie laat met sy uitkoms nie, al voel dit so. Mag jy deur jou swaarkry-pad kom en soos Job sê: “... nou het ek U self gesien.” (Job 42:6) Mag jy deur jou swaarkry-pad kom en êrens in die toekoms, soos Job, geseën word met ’n voorspoedige lewe. ~ Wilna Botha, 02/09/2021

“Wie het die verloop van dinge van die begin af bepaal?” So vra die Here in Jes. 41:4. Wat is jóú  antwoord? Dalk sal jy jou Sondagskool antwoord kan gee. Maar, wat sê jou hart en verstand? Stem jy saam met die Here se antwoord: “Dit is Ek, die Here! Ek is die eerste en wanneer die laaste dinge gebeur sal Ek nog die Here wees.” (Jes. 41:4) Glo jy dat die Here in beheer is van alles? Ek lees Hand 17:26 wat sê: “Hy het bepaal hoe lank hulle sal bestaan en waar hulle sal woon” en Ps. 139:2-3 wat se dat die Here weet as jy sit of opstaan, dat Hy bepaal of jy reis of oorbly. Wie bepaal die verloop van dinge? Dit is die Here, of mense dit glo of nie, of mense dit wil weggeredeneer of nie, of mense sélf die rigting van hulle lewe wil bepaal of nie. Die Here ís in beheer. Jy kan jouself onderwerp aan God se beheer, of jy kan dit teenstaan. Ek lees nou die dag dié aanhaling: “Faith is having the courage to let God have control.”  Ek dink egter mens het eintlik baie waagmoed nodig om nié die beheer aan God oorlaat nie! Dis tog net Hy wat die hele prentjie ken, wat alles weet en wat die toekoms in Sy hand hou. Dis egter nie te sê as mens net gelate oorgee aan die Here se beheer, dat jy ’n marionet aan ’n toutjie word nie. Neem jou besluite en maak jou keuses asof jy alleen verantwoordelik is daarvoor en laat terselfdertyd alles aan die Here oor asof Hy alleen verantwoordelik is – so sal jou planne in lyn kom met Sy planne vir die verloop van jou lewe. As jy die Here vra om jou besluite dieselfde as sy besluite te maak, sal Hy dit doen en kan jy gerus wees dat jy die regte pad sal vat, kan jy tevrede wees dat niks op daai pad sal wag waarvan Hy nie weet nie, wat Hy nie toegelaat het nie, waarvoor Hy jou nie voorberei het nie, waarvoor Hy jou nie die krag sal gee nie en waarvoor jy nie sal kans sien nie. By elke toe deur, kruispad, hobbel sal Hy gereed staan om jou deur te help. By elke donker  hoekie sal Hy vir jou wag om vir jou die lig aanskakel. “U is die sterkste, U heers oor almal. Daarom kan U die regte besluite oor elkeen se lewe neem. En daarom kan ek nou by U pleit: sorg asseblief dat die regte dinge met my gebeur.” (Ps. 7: 8-9, Die Boodskap) Here, sorg asseblief dat die regte dinge met ons gebeur. ~ Wilna Botha, 07/09/2021

“Wat sê die mense oor My, die Seun van die Mens?” (Matt. 16:13) Jesus wil by die dissipels hoor wat die mense oor Hom sê. Wie dink hulle is Hy? Glo hulle Hy is die Seun van God? Glo hulle Hy is die Redder, die Vredevors, die Lig vir die wêreld, die Brood wat lewe gee? Om ’n mening oor Hom te vorm, moes hulle Hom gesien het, Hom hoor praat het, of ten minste van Hom gehoor het. En sê nou maar Jesus vra daai vraag vandag vir ons? Wat sê jou familie oor My? Wat sê die mense by die werk oor My? Wat sê jou bure oor My? Wat sê jou huishulp oor my? Dit sou beteken jy moes al met hulle oor die Here gepraat het, jy moes vir hulle vertel het wie Hy is en wat Hy vir jou doen, nie waar nie? “Maar hoe kan ’n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek?” (Rom 10:14) Ek sou ongelukkig nie namens almal in my leefwêreld kon antwoord nie, want daar is baie met wie ek nog nooit oor die Here gepraat het nie. Miskien kan jy sê dat jou lewe mos vir hulle wys dat jy glo en dat jy vrug dra wat anders is as ander mense s’n, dat jy in hierdie wêreld maar nie van hierdie wêreld is nie. Dis goed so, want ons kan tog nie “preek” terwyl ons lewe dit nie bevestig nie. Jesus gaan verder en vra vir die dissipels: “Maar julle, wie sê julle, is Ek?” (Matt. 16:15) Sien, ons moet ook ons eie getuienis kan gee van wie Jesus is. Ons moet ons eie persoonlike ervaring van Hom kan deel, die kennis wat ons self opgedoen het oor Hom, die pad wat ons self saam met Hom gestap het, die wonderwerke, versorging, hulp, vrede, vergifnis wat ons self van Hom af ontvang het. Ons moet kan sê soos die Samaritane in Joh. 4:41 “Ons glo nie meer op grond van wat jy vertel het nie, want ons het self na Hom geluister en ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is.” En jy, wie sê jý is Jesus? ~ Wilna Botha

Klik hier vir nog meer heuningdruppels >


Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur en webruimte (www.heuning.co.za)