| 
				
					
						|  |  
						| 
 |  
						| Daaglikse Heuningdruppels - Wie is God vir jou?
 
 |  
					| 
						... 
						soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek (Ps 
						119:11)
 
						
						Die daaglikse heuningdruppels is ook op ons 
						Facebook-groep. Klik hier: 
 
  |  
					| 
 |  
					| Duplisering en 
			verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na 
			die outeur (Wilna / Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za) |  
					| 
 |  
    | Wie is God vir jou? |  
    | 
 |  
    | In Eks 3:13 lees ons dat Moses by die brandende 
			doringbos vir God vra wat hy vir die Israeliete moet sê as hulle vra 
			wie hom gestuur het. Hy wou weet: Sê nou maar hulle vra: “Wat is sy 
			Naam?”, wat moet ek dan vir hulle sê? “Ek is wat Ek is. Jy moet vir 
			die Israeliete sê ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur.” (Ek 3:14) 
			“Ek is”. Dis vir ewig God se Naam. As ek dit lees, sit ek altyd in 
			my gedagtes ’n paar kolletjies agteraan: “Ek is ...” Want nou kan 
			mens mos enige iets daar invul. Jy mag, want dis wie God is – alles 
			waaraan jy kan dink. Jy mag, want dis wie God is – alles wat jy 
			nodig het. Hy is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, 
			die Begin en die Einde (Openb. 22:13) Hy is alles. Hy het alles. Hy 
			gee alles. Het jy vandag raad nodig? Ek is ... ’n Raadgewer. Het jy 
			vandag beskerming nodig? Ek is ... ’n veilige Skuilplek. Het jy 
			vandag hulp nodig? Ek is ... jou Helper. Het jy vandag redding nodig? 
			Ek is ... die Redder. Is jy vandag op ’n donker plek? Ek is ... die 
			Lig. Het jy vandag genesing nodig? Ek is ... die Geneesheer. Het jy 
			vandag troos nodig? Ek is ... die Trooster. Het jy vandag krag nodig? 
			Ek is ... Sterke God. Het jy vandag versorging nodig? Ek is ... jou 
			Vader. Het jy vandag leiding nodig? Ek is ... jou Herder. Het jy 
			vandag ’n wonderwerk nodig? Ek is ... die Bewerker van wonderdade. 
			In watter omstandighede jy jou ook al bevind – kyk eers na wié God 
			ís, voordat jy na jou probleme of tekortkominge kyk. “Ek is wat Ek 
			is” – dís ons God! ~ Wilna Botha, 20/11/2019 |  
    | 
 |  
    | “Ons Vader wat in die hemel is ...” Daar is ’n rede 
	waarom Jesus sy dissipels en vir ons in Matt. 6:9 leer om ons gebed te begin 
	met “ons Vader...”. Dit is sodat ons eers moet fokus en ons hart en ons 
	verwagting instel op wie God is, op die Een met wie ons gaan praat, op die 
	Een van wie ons ons hulp en ons daaglikse brood gaan vra, van wie ons 
	vergifnis gaan smeek en van wie ons beskerming en krag gaan vra. As ons bid: 
	ons Vader, dan erken en bely ons dat ons sy kinders is, dat ons afhanklik 
	van Hom is. Dan erken en bely ons dat Hy die een is wat vir ons sorg, dat Hy 
	die een is wat net die beste vir sy kinders wil hê, dat Hy die een is wat 
	vir ons lief is en met oop arms vol genade en seëninge op ons wag. Luk. 
	11:11 praat daarvan dat ’n pa nie vir sy kind ’n slang sal gee as hy ’n vis 
	vra, of ’n skerpioen sal gee as hy ’n eier vra nie. “As julle klomp slegte 
	mense net goeie dinge vir julle eie kinders gee, hoeveel te meer sal julle 
	hemelse Vader dit dan nie doen nie?” (Luk. 11:13) “Soos 'n vader hom ontferm 
	oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien.” (Ps. 103:13) 
	Kyk eers na wie God is, voordat jy na jou probleme of jou swaarkry of jou 
	behoeftes kyk – kyk en sien en glo dat Hy die volmaakte Vader is. Ek is ... 
	jou Vader wat in die hemel is. ~ Wilna Botha, 27/11/2019 |  
    | 
 |  
    | Ons lees in Matt. 16:13 dat Jesus vir sy dissipels vra: 
	“Wat sê die mense oor My, die Seun van die mens?” Party sê Hy is Johannes, 
	ander sê Elia of Jeremia of een van die ander profete. Niemand het 
	raakgesien dat dit Jesus is nie. Hy was daar by hulle. Hulle het Hom hoor 
	preek, hulle het Hom sien wonderwerke doen en tog het die mense nie besef 
	dat Hy die Seun van God is nie. Dan vra Jesus  vir sy dissipels: “En wat sê 
	julle van My? Wie is Ek volgens julle?” (Matt. 16:15) Voordat ons Petrus se 
	antwoord lees, dink ’n bietjie wat jóú antwoord sou wees. Wie is Hy volgens 
	jou? Sommer ook net een van die profete? Sommer net ’n geskiedenis figuur? 
	Sommer net iemand wat lank gelede geleef het en goeie dade gedoen het? 
	Sommer net ’n fiktiewe karakter uit ’n storieboek? Dalk iemand wat jy nie 
	nodig het nie? Iemand wat jy liefs uit jou gedagtes en hart wil verban? 
	Iemand sonder wie jy kan klaarkom? Of... kan jy ook sonder huiwering, soos 
	Petrus sê: “U is die Christus, die Redder wat deur God na ons gestuur is. U 
	is die Seun van die lewende God.” (Matt. 16:16) Om so ’n belydenis te maak, 
	sê Jesus vir Petrus, is nie iets wat hy by iemand anders gehoor het nie, dis 
	iets wat God sélf aan hom geopenbaar het, dis iets wat hy sélf ervaar het. 
	Sonder so ’n Goddelike openbaring sal Jesus vir mense net ’n profeet of 
	iemand uit die verlede wees. Maar wanneer God jou oë oopmaak sal jy wéét wie 
	Jesus is, sal jy Hom persoonlik ken, sal Hy die Koning van jou hart word. 
	Kyk vandag eers na wie Jesus is, voordat jy na jou probleme of jou swaarkry 
	of jou behoeftes kyk – kyk en sien en glo dat Hy die Seun van God is. ~ 
	Wilna Botha, 03/12/2019 |  
    | 
 |  
    | In Ps. 27 lees mens van ’n paar van Dawid se probleme 
	en vrese, van teëstanders, misdadigers en vyande se aanvalle, van vals 
	getuies en geweld teen hom, van onsekerheid wat hy beleef, maar tog begin hy 
	die Psalm met ’n belydenis en erkenning van wie die Here is. Hy vertel eers 
	wie die Here vir hom persoonlik is voordat hy na sy probleme kyk. Hy fokus 
	eers op wie God is en kyk nie déúr sy probleme en vrese na die Here nie. 
	“Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees? Die Here is my 
	toevlug, vir wie sou ek vrees?” (vers 1) Sien, die belydenis dat God jou 
	redder, jou lig, jou toevlug is, laat die vrees en die angs verdwyn. As jy 
	fokus op dit waarvoor jy bang is en wat jy vrees, oorweldig daai angs en 
	benoudheid jou vinnig. As daar egter Lig is in die donker put waarin jy dalk 
	mag wees, as daar Iemand staan met uitgestrekte arms wat jou uitnooi en 
	naderroep en ophelp, as daar ’n veilige Skuilplek is om na te vlug en in weg 
	te kruip, dan verdwyn die onsekerheid en vrees, dan krimp die probleme, dan 
	verslap die houvas van jou “teëstanders”, dan kry jy weer nuwe perspektief. 
	Elders in die Psalms sê dit mos ook: Met U hulp loop ek ’n oormag storm en 
	met my God spring ek oor ’n muur. Kyk vandag eers na wie die Here is, 
	voordat jy na jou probleme of jou swaarkry of jou behoeftes kyk – kyk en 
	sien en glo dat Hy die lig, die redder en jou toevlug is. “Dis net my geloof 
	in die Here wat my staande hou, Sy goedheid dra my elke dag van my lewe. 
	Stel al jou hoop op die Here! Hou moed! Moenie die tou opgooi nie; bly glo 
	in die Here!” (Ps. 27:13-14, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 05/12/2019 |  
    | 
 |  
    | “The Lord is my portion” is ’n uitdrukking wat mens ’n 
	paar keer in Engelse vertalings van die Bybel lees. Bv.: “My flesh 
	and my heart may fail, but God is the strength of my heart and my 
	portion forever.” (Ps. 73:26) en “The Lord is my portion, said my soul; 
	therefore will I hope in Him.” (Klaagl. 3:24) As die Here my “porsie” is, 
	dan verwys dit na alles wat Hy vir my is, alles wat ek van Hom ontvang, 
	alles wat Hy vir my persoonlik afgemeet en uitgetel het. Ek is ’n deel van 
	Hom, ek het ’n aandeel aan Sy Koninkryk.  As kind van God ontvang jy Hom 
	volledig – alles van Hom, alles wat Hy is, al Sy eienskappe, al Sy krag, al 
	Sy liefde, al Sy vrede is jou porsie om te geniet en te gebruik. God se 
	liefde, genade, versorging en beskerming is ’n groot genoeg porsie om al my 
	behoeftes, probleme, swaarkry, verliese en vrese te balanseer. As ons sê: 
	The Lord is my portion, dan beteken dit dat ons niks begeer of verlang of 
	benodig wat Hy nie reeds vir ons gee nie. As ons sê: The Lord is my portion, 
	dan beteken dit Hy is die oorsprong van al my blydskap, geluk en seëninge.  
	As ons sê: The Lord is my portion, dan sê ons dat ons tevrede is met wat ons 
	uit Sy hand ontvang en dat dit genoeg is. “’n Pragtige deel is vir my 
	afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi.” (Ps. 16:6) ~ Wilna Botha, 
	10/12/2019 |  
    | 
 |  
    | Die Heiland is gebore ... In hierdie 
			Kersfeestyd vier ons weer met opgewonde harte saam met die herders 
			en die wyses en die blye engel-kore die koms van ons Heiland. Ons 
			Redder. Ons Verlosser. Ons Middelaar. Ons Steun. Kyk vir ’n oomblik 
			verby die geskenke, die boom, die liggies, die spyskaart en die 
			gastelys na wie Jesus is: jou Heiland. “Ek, Ek is die Here, en daar 
			is geen Heiland buiten My nie.” (Jes. 43:11) Hy het gekom om ons 
			almal van ons sonde te verlos, om alles wat ons vasbind en terughou 
			los te sny, om ons uit die donker te red en vir ons vrede te gee wat 
			alle verstand te bowe gaan. Hy het gekom sodat ons God se kinders 
			kan word. Hy het gekom sodat God naby en in ons kan wees. Hy het 
			gekom sodat ons bly kan wees en fees kan vier. Ja, God het die 
			wêreld so lief dat Hy sy Seun gestuur het. Glo jy ook dat Hy jóú so 
			lief het dat Hy sy Seun vir jou persoonlik gestuur het? Glo jy dat 
			Jesus gebore sou word as jóú Heiland, selfs al was jy die enigste 
			mens op aarde? Jou Heiland is gebore. Vier dit. Sing daaroor. Vertel 
			dit wêreldwyd. ~ Wilna Botha, 17/12/2019 |  
    | 
 |  
    | “Die maagd sal swanger word en 'n Seun in die 
			wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.” Die naam beteken God 
			by ons (Matt. 1:23) Kersfees is al weer vergete, die versiersels is 
			weggepak, die geskenke al goed in gebruik geneem en die nuwe jaar 
			het met ’n vaart weggespring. Hierdie jaar wil ek egter Kersfees in 
			elke dag onthou, so asof Jesus elke dag in my hart gebore word, so 
			asof die engele elke dag sing: eer aan God en vrede op aarde, so 
			asof ek elke dag ’n groot geskenk ontvang. Ek wil onthou dat 
			Immanuel gekom het. Ek wil onthou dat God nou by ons en in ons. Hy 
			is nou deel van elke gedagte, elke besluit en elke daad. Hy is nou 
			teenwoordig in elke geselskap en elke vergadering en elke ete. Hy ry 
			nou saam as jy op pad is, Hy wys die pad as jy verdwaal, Hy gee raad 
			as jy sukkel. Hy stap nou elke donker paadjie langs jou, Hy sien 
			elke struikelblok, Hy dra saam aan elke las. Hy kalmeer ’n 
			onstuimige gemoed, Hy maak ’n bekommerde hart rustig. Hy troos en 
			droog trane af. Hy luister, Hy gee rus, Hy gee moed. Hy genees, Hy 
			voorsien, Hy gee krag. Hy gee seëninge en goeie vooruitsigte vir ’n 
			nuwe jaar. Niks is meer dieselfde ná Kersfees nie, want God is nou 
			by ons. Hy is Immanuel. ~ Wilna Botha, 15/01/2020 |  
    | 
 |  
    | “Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, 
	lankmoedig, vol liefde en trou.” (Eks. 34:6) Daar is vele tekste in die 
	Bybel waar hierdie eienskappe van God herhaal en bevestig word: barmhartig, 
	genadig, lankmoedig, vol liefde. Vandag het die woord “lankmoedig” in my kop 
	bly vassteek. Dis nogal ’n woord wat mens nie baie hoor of gebruik nie, so 
	ietwat van ’n outydse woord. As die Here lankmoedig is, is dit sy karakter, 
	dis wie Hy ís. Dis egter ook hoe Hy optree, hoe Hy met ons is, hoe Hy oor 
	ons voel. Sy geduld raak nooit op met ons nie. Hy word nie moedeloos met ons 
	nie. Hy raak nie kwaad vir ons nie. Hy raak nie moeg om ons weer en weer te 
	vergewe nie. Hy is nie verras oor ons menslikheid nie, Hy ken ons en 
	verstaan ons swakhede. Hy hou nooit op om toegewend en verdraagsaam teenoor 
	ons te wees nie. Hy is sag met ons, “slow to anger” sê die Engelse 
	vertalings. Ja, selfs al raak ons opstandig, selfs al raak ons geloof swak, 
	selfs al faal en val ons weer, selfs al draai ons dalk ons rug op Hom, selfs 
	al bevraagteken ons sy bestaan of sy weë, selfs al wil ons ons eie pad vat, 
	Hy bly lankmoedig. Sy genade en geduld met ons raak nooit op nie, dis as’t 
	ware elke môre weer nuut (so sê Klaagl. 3:22-23) Soos in die gelykenis van 
	die verlore seun, wag Hy geduldig dat ons uit die varkhok sal opstaan en 
	terugkom na Hom. Soos in daai gelykenis wag Hy met sy lankmoedige, oop arms 
	en sy genadige vergifnis vir ons. Ek is ... lankmoedig, sê Hy. ~ Wilna Botha, 
	16/01/2020 |  
    | 
 |  
    | “Christus is ons vrede.” (Ef. 2:14) Het jou goeie 
	Nuwejaarsvoorneme om mooi georganiseerd en rustig en in beheer te wees dalk 
	ook alreeds plek gemaak vir ’n geskarrel en rondjaag om jou dagtaak en jou 
	lewe en jou gesin aan die gang te kry en te hou? Dalk is jy, soos ek, ook 
	alreeds weer vol ontevredenheid en het ’n stuk bekommernis al weer aan jou 
	deur kom klop? Dalk het jy vinniger op moedverloor se vlakte beland as wat 
	jy gehoop het? Stop vir ’n oomblik, haal diep asem en laat God wat vrede is, 
	Sy vrede in jou binneste deponeer en jou hart en gedagtes verfris. Laat Sy 
	vrede wat alle verstand te bowe gaan toe om vir jou rustigheid te bring. Kom kry 
	kalmte in Sy groen weivelde en besoek Sy waters waar daar vrede is gereeld. 
	“Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir 
	julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld 
	wees nie en julle moet nie bang wees nie.” (Joh. 14:27) Vat vandag vir jou 
	van dié vrede uit die hand van die Vredevors. “Mag daar vrede wees binne jou 
	mure, rus in jou wonings.” (Ps. 122:7) ~ Wilna Botha, 21/01/2020 |  
    | 
 |  
    | Die Here is ... my rots, my skuilplek, my redder, my 
	God, my skild, my sterk verlosser, my veilige vesting, so lees ek in Ps. 
	18:3. Alles in een enkele vers! Wat my vandag sterk opval, is dat die teks 
	nie sê ’n rots, ’n skild, ’n veilige vesting, ens. nie, dit sê “my”. Dis 
	Dawid wat so sê en ek dink dit kom uit ’n innige verhouding met die Here, 
	uit ervaring dat dit wel is wie die Here vir hom is. Die een wat beskerm, 
	die een wat vertroetel, die een wat versorg, die een met die oop arms, die 
	een met die sagte vlerke waarmee Hy hom toevou en wegsteek. En ek en jy ... 
	ken ons Hom ook só, dat ons kan sê: “my” rots, “my” skuilplek, “my” skild? 
	Kom ervaar vandag persoonlik dat Hy al hierdie dinge vir jou is. Kom beleef 
	sélf dat jy weer nuwe krag en hoop kry wanneer jy op die Rots kom staan. Kom 
	beleef sélf dat jy na Hom kan hardloop in enige moeilikheid en veilig onder 
	sy vleuels kan kom wegkruip – hier is hitte as dit koud is, skaduwee as dit 
	warm is, veiligheid as daar ’n storm woed, liefde en volop genade as jy 
	verlore voel. “Hy beskut jou onder sy vleuels en is vir jou ’n veilige 
	skuilplek. Sy trou beskerm jou aan alle kante.” (Ps. 91:4) ~ Wilna Botha, 
	23/01/2020 |  
    | 
 |  
    | Die Here is ... my banier (Eks. 17.15) Die Boodskap sê: 
	“Die Here is my vlag.” In die Ou Testament is baniere en vlae gebruik om die 
	teenwoordigheid van ’n koning, of ’n leër-groep of ’n volk aan te dui. Die 
	vlagdraers het in veldslae vooruit geloop om aan die vyand te wys met wie 
	hulle te doen gaan kry. Die banier het hulle mag en vermoëns vertoon, wie 
	hulle is, waar hulle vandaan kom en waartoe hulle in staat is.   As kinders 
	van God, is die Here ons banier en lewe ons onder Sy vaandel. Dit gee aan 
	ons die sekerheid  van Sy teenwoordigheid in alles wat ons doen, die 
	versekering van Sy beskerming, die vrymoedigheid om uitdagings aan te durf, 
	die gemoedsrus dat ons in elke situasie as oorwinnaars sal seëvier. Die 
	uitdrukking: onder die vaandel van... (iets of iemand) sê jy tree op met die 
	mag en die outoriteit van die maatskappy of groep, jy geniet die voordele en 
	beskerming en ondersteuning van daardie groep. As jy in die wêreld uitstap 
	onder die Here se vaandel, leef en werk jy as Sy verteenwoordiger, tree jy 
	op op Sy gesag, herinner dit jou waartoe jy in staat is en aan Wie se kant 
	jy is, Wie vir jou veg en Wie vir jou opkom teen ’n vyandige wêreld. Hys 
	weer Sy vlag in jou lewe en in jou huis, dra Sy familie-wapen op jou baadjie, 
	bly onder Sy banier en dan sal jy met vlieënde vaandels slaag in alles wat 
	jy aanpak. ~ Wilna Botha, 28/01/2020 |  
    | 
 |  
    | “The Lord is my strength and my song ...” (Eks. 15:2) 
	Die Here is my lied. In Eksodus 15 lees ons die lied wat Moses en die 
	Israeliete gesing het nadat die Here hulle uit Egipte gered het en ’n droë 
	pad vir hulle deur die see oopgekloof het. Hulle sing ’n lied van blydskap, 
	dankbaarheid en verligting. Hulle lied eer God en verheerlik Hom. Met dié 
	lied erken hulle hoe groot Sy krag en mag is en hulle bely hoe Hy wonders 
	kan doen. Hulle lied is ’n harde gejuig omdat Hy regeer en omdat Hy uitkoms, 
	redding en oorwinning gee. Hulle sing egter nie net die lied nie, hulle sê 
	die Here ís hulle lied. Hulle sing nie net omdat Hy iets groot vir hulle 
	gedoen het nie, hulle sing omdat Hy is wie Hy is. Dit laat my dink aan die 
	mooi gesang in die Afrikaanse Liedboek: “God is my lied, Sy almag ken geen 
	perke, Heer is Sy naam, volmaak Sy skeppingswerke, die groot heelal is Sy 
	gebied.” As ek sê: God is my lied, dan bedoel ek Hy is die bron van al my 
	dankbaarheid, die rede vir al my blydskap, die middelpunt van my lewe, die 
	koning  van my hart. As ek sê: God is my lied, dan sing ek nie net die lied 
	nie, dan lééf ek die lied. As ek sê: God is my lied, dan is daar nie 
	noodwendig poëtiese woorde en ’n mooi wysie nie, dan kom die woorde ook 
	dikwels gebrekkig en vals, maar uit ’n opregte hart. As ek sê: God is my 
	lied, dan kan ek sing, dan kan ek dankbaar wees, dan kan ek juig, dan kan ek 
	vrede beleef, al is dit donker om my, al is daar storms, probleme, siekte, 
	gevare, bekommernis ... Net soos wat Habakuk gesing het: “Al sou die vyeboom 
	nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die 
	olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in 
	die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek 
	in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder.” (Hab. 3:17-18) Net soos 
	ons ook dikwels sing: “Through the storm You’re the beacon, my song in the 
	night, in the shelter of Your wings, hear my hearts reply, singing what a 
	faithful God have I ...” ~ Wilna Botha, 04/02/2020 |  
    | 
 |  
    | Jesus is die Hoeksteen. “Julle is ’n gebou ... waarvan 
	Christus Jesus self die hoeksteen is. In Hom sluit die hele gebou saam en 
	verrys dit tot ’n heilige tempel vir die Here, in wie julle ook saam opgebou 
	word as ’n geestelike huis waarin God woon.” (Ef. 2:20-22) Hierdie is een 
	van die plekke in die Bybel waar Jesus die hoeksteen genoem word. Ek glo die 
	beeld van ’n hoeksteen het seker vir die mense wat hulle geboue met klip 
	gebou het, meer betekenis gehad as vir ons, wat met bakstene bou wat almal 
	ewe groot is. Die hoeksteen was die groot klip wat noukeurig uitgesoek is en 
	wat heel eerste neergelê is vir die bouwerk. Die res van die gebou sou 
	aanpas by die hoeke en grootte van die hoeksteen en alles sou rus op die 
	hoeksteen. Dit het stabiliteit aan die bouwerk verleen en as die hoekklip 
	sou verkrummel of verwyder word, sou die hele gebou kon intuimel. Ons sien 
	in ons tyd by baie geboue en veral kerke, so ’n simboliese hoeksteen 
	ingemessel waarop daar ’n boodskap van toewyding aan die Here ingegraveer is 
	as erkenning dat die Here self die hoeksteen van daardie kerk is, ’n 
	belydenis dat alles op die Here en sy woord gebou is, dat Hy rigting en 
	stabiliteit aan daardie gemeente sal gee, ’n herinnering dat as die 
	Hoeksteen verwyder sal word die hele gebou kan verkrummel. “... ’n 
	uitgesoekte klip, ’n hoekklip wat fondament aan fondament sal sluit” – so 
	praat Jes. 28:16 van Hom. As hoeksteen is Jesus die die kern van alles wat 
	ons is en wat ons glo, die basis van die hele Christendom. Ons hele lewe 
	moet gebou wees op dié een wat integriteit aan ons bestaan verleen, wat die 
	beginpunt van alles is en sorg dat alles wat verder opgebou word sin maak en 
	eindig in ’n stewige, mooi en nuttige gebou. Wie (of wat) is die hoeksteen 
	van jou huis, van jou besigheid, van jou hart en jou geestelike huis? Wie 
	hou jou regop as alles rondom jou verkrummel, wie gee rigting as die 
	lewenspad se kronkels te veel word, wie bepaal die sin en waarde van jou 
	lewe, wie keer dat alles wat jy gebou het nutteloos inmekaar val, wie 
	verleen dieper betekenis aan jou geloof? Daar is net een antwoord: Jesus, 
	die Hoeksteen. ~ Wilna Botha, 06/02/2020 |  
    | 
 |  
    | “Ek is die helder Môrester”, so sê Jesus self in Openb. 
	22:16. As die môrester verskyn, dan is dit nog nie lig nie, maar dan weet jy 
	die oggend is nou naby en die donker gaan binnekort iets van die verlede 
	wees. As die môrester opkom, dan kan die gevare en onsekerheid van die nag, 
	die eensaamheid van die donker ure, die vrees en benoudheid en slaaploosheid 
	van die nag, die natgehuilde kussing , plek maak vir nuwe hoop, vir nuwe 
	sekerheid dat ’n vars, nuwe dag aan die kom is, dat nuwe geleenthede gaan 
	aanbreek, dat uitkoms naby is. Mag jy in die nag-tye van jou lewe altyd jou 
	oë gefokus hou op die helder Môrester, op Sy genade en ontferming en liefde 
	wat elke môre nuut is en Sy getrouheid wat groot is (soos wat Klaagl. 3:23 
	sê). ~ Wilna Botha, 11/02/2020 |  
    | 
 |  
    | “God is the source 
	and sustainer of everything.” (Rom 11:36) Die Here is die bron van alles. 
	Alles het by Hom ontstaan en het deur Hom ontstaan. Hy is die Begin en die 
	Einde, die Eerste en die Laaste, die Alfa en Omega. Hy hou alles in Sy hand 
	en alles wat ons is en het en nodig het kom van Hom af. Met Sy eie hand het 
	Hy vir elkeen van ons ’n unieke porsie afgemeet. “Wat ek ontvang, kom alles 
	van U af. ’n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is 
	vir my mooi.” (Ps. 16:5,6) Kyk wat is alles in Sy oorvloed-stoor vir ons: 
	“Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie, en wat in die hart 
	van 'n mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom 
	liefhet.” (1 Kor. 2:9) Dit is alles wonderlik, maar nou het ek gewonder: is 
	dit wat Hy vir my en jou gee genoeg vir ons? Is ons tevrede met die gawes, 
	geld, goed, gesondheid, genade wat Hy vir ons gee? Of die eintlike vraag: Is 
	die Here genoeg vir jou? Kan jy werklik uit jou hart uit sê: “Die Here is my 
	Herder, ek kom niks kort nie?” (Ps. 23:1) Is Hy genoeg vir jou as jy jou 
	werk verloor het? Is Hy genoeg as jy by ’n geliefde se graf staan? Is Hy 
	genoeg as jy slegte nuus in die dokter se spreekkamer gekry het? Is Hy 
	genoeg as jy nou net uit die skeihof uitgestap het?  Is Hy genoeg as dinge 
	nie uitwerk soos jy gehoop het nie? Ek wéét Hy is en ek wil dit met my hele 
	hart glo en leef. ~ Wilna Botha, 13/02/2020 |  
    | 
 |  
    | “Die Here is oorwinnaar in die stryd, sy Naam is ‘die 
	Here’!” (Eks. 15:3) Ons bevind ons weliswaar nie vandag in ’n fisiese oorlog 
	nie, maar ons voer wel voortdurend ’n stryd teen ons sondige natuur, ons is 
	in ’n stryd teen die wêreldse verleidings, teen die bose magte in die lug (soos 
	wat Ef. 6:12 daarvan praat). Dan is daar natuurlik ons daaglikse stryd teen 
	tyd, teen moegheid en uitbranding, teen ons swakheid en menslikheid, teen 
	ons eie negatiewe gedagtes, teen vrees, teen siekte ... noem maar op - jy 
	weet teen watter vyande jy vandag moes opstaan. Hoe bevrydend is dit nie om 
	oor te gee aan dié Een wat die Oorwinnaar in elke stryd is, dié Een wat 
	reeds teen die bose oorwin het, dié Een wat reeds sonde en dood oorwin het, 
	dié Een wat alles weet en oral teenwoordig is, dié Een wat jou uitnooi om by 
	Hom te kom rus en Hom toe te laat om namens jou te veg. Sy Naam is ‘die 
	Here’ en Hy sê vandag vir ons: “Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle 
	veg.” (Eks. 14:14) Ons krag lê in stil wees en vertroue hê. (Jes. 30:15) Dis 
	moeilik om stil te wees en oor te gee nè? Ons wíl mos self in beheer wees, 
	self veg, self ons pad kies. By die Here vind ons die oorwinning, die vrede 
	wat alle verstand te bowe gaan. “Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan 
	vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het 
	die wêreld klaar oorwin.” (Joh. 16:33) ~ Wilna Botha, 18/02/2020 |  
    | 
 |  
    | “Want U is ... ’n skaduwee teen die hitte” (Jes. 25:4) 
	Ons hou nogal daarvan om op Saterdagoggende deel te neem aan ’n Parkrun. 
	Verlede Saterdag was dit toe ook weer so, maar dit was vreeslik warm en die 
	pad was lank en steil en moeilik! En toe, aan die einde van daai lang 
	opdraande was daar, heel onverwags, ’n groot boom met ’n koel skaduwee en 
	onder die boom ’n kraan. Dit het gelyk asof almal ’n rukkie in daai skaduwee 
	wou vertoef, ’n slukkie van die water vat en hulle sweterige gesigte afspoel 
	met die koel water, voordat hulle die res van die pad aandurf. Toe kom 
	hierdie teks by my op: U is ’n skaduwee teen die hitte. Die lewe se 
	opdraande paaie lei altyd na Sy skaduwee, waar ons kan rus en verkwik word, 
	waar ons bietjie kan (en moet) vertoef voordat ons verder gaan, waar ons kan 
	asem skep en kan moed kry vir die volgende opdraande. Wanneer die pad 
	onhoubaar word, wanneer die hitte van die alledaagse stryd té veel raak, 
	wanneer dit voel of jy nie verder kan beur nie, is jou Skaduwee daar vir jou, 
	is daar vir jou ’n veilige rusplek by die Here – daar waar Sy hand vir jou 
	’n koel skaduwee sal gee, waar jou gemoed sal kalmeer en jou gedagtes 
	verfris  sal word. “Sy magtige teenwoordigheid sal alles beskut. Daar sal ’n 
	skuiling wees, ’n skaduwee teen die hitte bedags, ’n skuilplek en toevlug 
	teen stortbuie en reën.” (Jes. 4:6) ~ Wilna Botha, 20/02/2020 |  
    | 
 |  
    | “God is ryk in goedheid.” (Rom 2:4) “My 
	goedertierenheid”, noem Dawid die Here in Ps. 144:2. Wat meer het ons nodig 
	as ’n God wat goed is vir ons? Wat áltyd goed is vir ons, wat ryk is in 
	goedheid. Jy kan dalk dink dat as ek geweet het van al jou swaarkry, van jou 
	geldelike probleme, van jou miskraam, as ek geweet het van jou kind wat 
	kanker het, van jou man wat onlangs oorlede is, van jou kind wat nou die dag 
	geëmigreer het, sou ek nie so maklik vir jou sê: “God is goed” nie. Wel, God 
	ís goed, al sien ek dit dalk nie nou raak nie, al voel dit dalk nie nou vir 
	my so nie. My omstandighede bepaal nie of God goed is nie, Hy ís God en Hy 
	ís goed en Hy ís goed vir jóú. As ek in Ps. 34 van Dawid se probleme en 
	stryd en angs en doodsgevare en moedeloosheid lees wanneer hy vlug van Saul 
	af, dan sien ek hy sit ook maar hier met ’n groot porsie swaar en benoudheid 
	en tog vertel hy van die Here se goedheid. “U goedheid en liefde sal my lewe 
	lank by my bly” sê hy in Ps. 23:6 – ja, selfs al gaan jy deur donker dieptes, 
	deur die dal van doodskaduwee, die Here se goedheid volg jou. Mag jy styf 
	vashou aan jou Goedertierenheid, mag jy aanhou glo dat Hy alles ten goede 
	sal laat meewerk en dat daar ’n dag sal aanbreek wanneer jy sal terugkyk na 
	vandag en sê: waarlik, God is goed. “Kom ondervind en sien self dat die Here 
	goed is!” (Ps. 34:9) ~ Wilna Botha, 25/02/2020 |  
    | 
 |  
    | “Daar het Jesus, ons Voorloper, ter wille van 
			ons ingegaan.” (Heb. 6:20)  ’n Voorloper baan die weg vir sy 
			volgelinge wat ná hom kom, hy maak die pad gelyk en sorg dat alle 
			hindernisse uit die weg geruim is, dat alles veilig en maklik is vir 
			dié wat hom volg. Dis vir my so wonderlik om aan Jesus te dink as 
			ons Voorloper, om Hom as Voorloper te vertrou en te volg. Ons kan 
			met gerustheid en geloof agter Hom staan, ons kan stap waar Hy stap, 
			deure wat vir Hom oop is, sal vir ons ook oop wees.  Hy baan vir ons 
			die weg: Hy het voor geloop in die dood in, sodat ons nie die dood 
			hoef te vrees nie; Hy het voor geloop en die spot en verwerping en 
			eensaamheid beleef, nou kan ons agter Hom skuil wanneer daai 
			verguising op ons pad kom; Hy het voor geloop en vir ons sonde betaal, 
			sodat ons vrygestel is van die skuld en die las van ons sonde; Hy 
			het voor geloop en versoeking weerstaan en nee gesê vir sonde en 
			verleiding – nou kan ons dit ook doen. (Heb. 2:18); Hy het 
			voor geloop en die duiwel oorwin, nou is Hy ons skild wat enige 
			aanvalle afweer. Ons Voorloper het vir ons die pad na God se 
			genadetroon oopgemaak waar ons vergifnis en volkome aanvaarding kan 
			ontvang, waar ons met barmhartigheid en genade gehelp kan word. 
			(Heb. 4:16) Hy is die Weg en die Voorloper na die ewige woning wat 
			Hy vir ons as sy volgelinge gereed gemaak het. Hy loop voor en ons 
			kan Hom met vrymoedigheid en volle geloofsekerheid volg. ~ Wilna 
			Botha, 27/02/2020 |  
    | 
 |  
    | “U is ’n God wat my sien, hier het ek Hom 
			gesien wat my gesien het.” (Gen. 16:13) God sien vir my en jou ook raak. Hy het ons al gesien toe ons nog ongebore was, sê  Ps. 
			139:16 – tóé al het Hy van elkeen geweet en ons lewensdae opgeskryf. 
			Die Here sien die innerlike raak, Hy sien ons gedagtes, motiewe, 
			begeertes en verlange. “Here, U sien dwarsdeur my, U ken my. Of ek 
			sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat 
			hulle by my opkom.” (Ps. 139:1-2) Hy sien my nood en wil my help - 
			Hy het sy oë oral op die aarde om dié te help wat op Hom vertrou, sê 
			2 Kron. 16:9. Saggeüs het in die wildevyeboom opgeklim om Jesus te 
			sien, maar hy het nie verwag dat Jesus hóm sou raaksien nie en tog 
			hét Hy en Saggeüs se hele lewe verander van daai oomblik af. Die 
			woorde van die bekende liedjie kom by my op: “Maar U sien ver, 
			oneindig ver, U sien my honger dors, nog voordat ek kon skuld bely, 
			druk U my aan die bors.” Of ons verdwaal het en ons eie pad gevat 
			het, of ons vir die Here probeer wegkruip, of ons êrens in die 
			donker dieptes is of in ’n grot sit en onsself jammer kry, of ons in 
			’n woestyn rondploeter en of ons êrens in ’n hoë boom sit, Hy sien 
			ons. Ek hoop jy sien Hom ook raak. “... hier het ek Hom gesien wat 
			my gesien het.” ~ Wilna Botha, 03/03/2020 |  
    | 
 |  
    | “Ek is die lewende brood wat uit die hemel 
			gekom het.” (Joh. 6:51) Jesus, ons Brood. Ons vaste kos wat totaal  versadig 
			en bevredig, vir altyd. Maar, as die Brood in die “broodblik” bly en 
			jy dit nie “eet”, sodat dit deel van jou word nie, sal jy soekend 
			bly en uiteindelik sterf van die honger. Die Israeliete het manna 
			uit die hemel gekry, net genoeg vir elke dag. God het dit uit genade 
			aan hulle voorsien. Hulle het nie gewerk of betaal daarvoor nie. Ons 
			het die lewende Brood ontvang. God gee dit uit Sy genade aan ons. 
			Ons hoef nie daarvoor te werk nie. Ons hoef nie daarvoor te betaal 
			nie. Ons hoef maar net elke dag ons porsie daarvan te neem, op ’n 
			geestelike en simboliese manier, sodat ons vol kan word van Jesus. 
			Die Israeliete moes van die manna bewaar sodat die nageslag kon sien 
			waarmee die Here die volk in die woestyn gevoed het. (Lees Eks. 
			16:32) As ons Jesus se genade en voorsiening en goedheid geproe het, 
			moet ons Hom vir ons nageslag wys en Hom deel met ons naaste. As ons 
			bid: gee ons vandag ons daaglikse brood, vra ons nie nét voorsiening 
			en versorging op tydelike, fisiese vlak nie, maar ook genade en 
			sekerheid op ewige, geestelike vlak. Lewe as iemand wat Sy liggaam 
			geëet en Sy bloed gedrink het – vry, tevrede, vol hoop.  “Ek is die 
			lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie 
			brood eet, sal hy ewig lewe. En die brood wat Ek sal gee, is my 
			liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe... Wie my liggaam eet 
			en my bloed drink, bly in My en Ek in hom” (Joh. 6:50-51, 56) ~ 
			Wilna Botha, 09/03/2020 |  
    | 
 |  
    | “Daar is immers net een God en daar is net een 
			Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus wat 
			Homself as ’n losprys vir almal gegee het.” (1 Tim 2:5-6) Jesus is 
			ons Middelaar. Hy staan tussen ons en God. Met Sy bloed het Hy 
			betaal sodat ons verhouding met God herstel kan wees, sodat ons 
			aanvaarbaar en skoon is vir God. Ja, vanweë ons sonde hét ons ’n 
			Middelaar nodig. Vanweë ons tekortkominge het ons Iemand nodig om in 
			ons plek te staan. As Jesus ons Middelaar is beteken dit ook dat Hy 
			die Tussenganger is tussen ons en God – die weg na God. Hy maak die 
			pad na God se troon vir ons oop, Hy is vir ons die Deur na die ewige 
			lewe. As Jesus ons Middelaar is beteken verder ook dat Hy ons 
			Voorspraak is. Hy praat namens ons, Hy pleit namens ons, Hy tree in 
			namens ons by God. As Middelaar is Hy ook die Interpreteerder. Hy 
			vertaal ons bedoeling, ons dade, ons behoeftes, ons smekinge, ons 
			hartseer. As Middelaar is Jesus ons Advokaat – die Een wat ons saak 
			behartig, wat die waarheid oor ons ken en wat meewerk dat ons 
			onskuldig bevind en vrygespreek word. Dit alles is Jesus op hierdie 
			oomblik vir jóú! Nie êrens in die verlede of toekoms nie... nee, Hy 
			sit aan die regterhand van God en is nóú jou Middelaar! “Wie kan die 
			uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. Wie kan ons 
			veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit 
			die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir 
			ons.” (Rom 8:33-34) ~ Wilna Botha, 11/03/2020 |  
    | 
 |  
    | “Kyk, God is my helper. Dit is die Here wat my 
			siel ondersteun” (Ps. 54:6) Eintlik wou ek nie vanaand óók ’n 
			eiertjie lê oor die onderwerp waaroor álmal reeds praat en dink, 
			waaroor álmal die hele tyd wonder, waaroor álmal benoud en bekommerd 
			is en wat ons lewe op die oomblik bepaal en beheer nie. Ek wou nie 
			nóg iets byvoeg oor die onderwerp waaroor omtrent elke Facebook 
			inskrywing gaan en ja, die onderwerp waaroor baie van ons grappies 
			gaan nie. Daarom het ek gedink ek gaan maar net doodeenvoudig rustig 
			voort met my reeksie wat handel oor God wat sê: “Ek is ...”, oor wie 
			die Here sê Hy is en wie Hy vir jou en my persoonlik is. En vandag 
			se woord is Helper. Nou kan ek tog nie anders as om binne ons groot 
			Corona kwelling van hierdie dae my oë en my gedagtes na ons Helper 
			te draai nie. Wie anders as ons Helper gaan vir ons vrede en rus 
			gee, gaan ons troos en lei, gaan ons optel en in sy arms troetel, 
			gaan ons vul met hoop en moed en ons verseker dat ook hierdie 
			onseker tye wel gaan eindig? Ek hoop die volgende teks in die 
			Amplified Bible sal help om ons vanaand rustig maak: “For He Himself 
			has said, I will not in any way fail you nor give you up nor leave 
			you without support. I will not, I will not, I will not in any 
			degree leave you helpless nor forsake nor let you down (relax My 
			hold on you)! Assuredly not! So we take comfort and are encouraged 
			and confidently and boldly say, The Lord is my Helper; I will not be 
			seized with alarm (I will not fear or dread or be terrified). (Heb. 
			13:5-6) Wees stil en weet ... ons het ’n Helper. ~ Wilna Botha, 
			17/03/2020 |  
    | 
 |  
    | Die Here is ... my krag. (Eks 15:2) Die 
			afgelope paar dae en die laaste klompie ure was omtrent ’n “roller 
			coaster” en mallemeule vir my. Dan is ek bo en voel ek in beheer en 
			rustig en kalm en het ek moed vir die komende 21 dae – ek sien 
			sommer uit na die andersheid daarvan. Maar dan sien ek leë 
			winkelrakke, ek sien my bure pak angstig op om die tyd elders te 
			gaan deurbring, ek hoor mense se paniek en vrees en dan is ek ook 
			sommer weer onder – bang, terneergedruk, onseker. Maar vanaand hoor 
			ek die Here sê in 2 Kor. 12:9 “My genade is vir jou genoeg. My krag 
			kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” En ek weet: as ek 
			swak is, is ek sterk. As ek swak is word ek sterk, want God is my 
			krag. “Hy gee vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie 
			... dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met 
			arendsvlerke.” (Jes. 40:29-31) Die krag wat alles oortref, kom van 
			God af, sê 2 Kor. 4:7. Sy krag hou ons regop, sy krag dra ons deur, 
			sy krag lig ons koppe op. Sy krag maak dat ons nie terneergedruk of 
			radeloos bly nie. Sy krag verseker ons dat God ons nie verlaat het 
			nie. Sy krag keer dat ons vernietig word. (Lees 2 Kor. 4:7-9) . “U 
			het my met krag omgord vir die stryd” (2 Sam 22:40) Skep moed, wees 
			sterk, vlieg met arendsvlerke!  ~ Wilna Botha, 24/03/2020 |  
    | 
 |  
    | “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde 
			en tot in ewigheid.” (Heb. 13:8) Oor ’n paar ure begin ’n vreemde, 
			nuwe, onseker tydperk vir ons almal. Iets wat nie een van ons nog 
			ooit beleef het nie. Niemand van ons weet hoe ons gaan voel of 
			reageer of hoe ons daardeur gaan kom nie. Ons kan ons nie indink hoe 
			ons oor ’n week of drie van nou af gaan voel nie. Ons kan nie raai 
			hoe dit gaan wees as ons vir só lank nie ons geliefdes en vriende 
			gaan sien en vasdruk nie. Ons kan nie raai hoe dit gaan voel as ons 
			vir só lank bekommerd is oor ons eie en almal in ons land se 
			gesondheid nie. Ons het almal allerlei planne gemaak vir die 
			volgende 21 dae, ons het hope voorrade gereed gekry en ons wonder: 
			is dit genoeg? Sê nou maar net ...? Niks is seker nie, want dis vir 
			ons almal ’n eerste keer dat ons afgesonder en ingeperk is. In my 
			gemoed en gedagtes is daar vandag egter één stabiele en seker feit 
			en dit is dat die Here saam met ons is, dat Hy gister en vandag en 
			tot in ewigheid dieselfde is. Hy het in die verlede ’n  pad deur die 
			see gemaak,  mense deur die woestyn gelei deur ’n wolk- en vuurkolom, 
			hulle versorg met manna uit die hemel en water uit ’n rots, Hy het 
			mense deur oorloë bygestaan, Hy het leeus se bekke toegesluit, Hy 
			het mense genees, Hy het mense gered, Hy het mense hoop gegee, Hy 
			het mense staande gehou, Hy het mense ’n verwagting op ’n nuwe 
			toekoms gegee. Hy is nog steeds dieselfde Here. Hy is nog steeds 
			getrou, vol liefde en barmhartigheid. Hy is nog steeds betroubaar. 
			Hy is nog steeds alomteenwoordig en ook by ons en saam met ons in 
			die volgende 21 dae. Dink terug aan tye in die verlede wat die Here 
			jou gedra en getroos en versorg het, tye wat Hy jou beskerm en 
			genees het. Ervaar dat Hy dit ook vandag vir jou doen. Vertrou dat 
			Hy dit ook in die toekoms vir jou sal doen. Ek hoop jy sal Hom elke 
			dag raaksien as die Onveranderlike binne al ons onsekerheid. ~ Wilna 
			Botha, 26/03/2020 |  
    | 
 |  
    | Die Here is ... my Bevryder. Ek het nou die dag 
			reeds iets geskryf oor Ps. 18:3, maar vandag toe lees ek dit uit Die 
			Bybel: ’n Direkte Vertaling en dit bring vir my ’n nuwe vrede en 
			kalmte en sekerheid vir my gemoed. Kyk net hoe stapel dit die 
			mooiste woorde op wat beskryf wie die Here vir ons is. “Die Here is 
			my rotsvesting, my bergskuiling, my bevryder. My God is my rots by 
			wie ek skuil, my skild en die krag van my redding, my toevlugsoord.” 
			(Psalm 18:3 BDV) Die Here is my Bevryder, of te wel, my Redder. 
			Natuurlik het dit eerstens ’n diep geestelike betekenis, waarvan ons 
			veral bewus is soos wat Goeie Vrydag nader kom. Jesus wat ons bevry 
			van ons sonde, wat ons red van die ewige dood deur die prys wat Hy 
			vir ons aan die kruis betaal het. Ons Verlosser. Ons Bevryder. Ons 
			Redder. Ons weet egter uit ervaring dat Hy ons heel dikwels ook uit 
			ons alledaagse benoudhede en gevare en siektes red, dat Hy ons 
			dikwels van ons alledaagse vrese en probleme en twyfel bevry. In tye 
			soos dié waarin ons ons op die oomblik bevind, roep ons voortdurend 
			uit na ons Bevryder, ons Redder vir hulp en uitkoms en bevryding. 
			Soos Dawid smeek ons dringend: maak gou asseblief, Here, moenie talm 
			nie. “Maak tog gou om my te help, Here, my Redder!” (Ps. 38:23) en 
			“U is my hulp en my redder; my God, moet tog nie talm nie.” (Ps. 
			40:18) Wat doen ons terwyl ons wag op ons Bevryder? Ons skuil by Hom. 
			Ons kruip weg by Hom. Hy is ons Rotsvesting, ons Bergskuiling, ons 
			Skild, ons Toevlugsoord. ~ Wilna Botha, 31/03/2020 |  
    | 
 |  
    | “Hy troos elkeen wat hartseer is. Die 
			seerplekke wat die lewe gee, maak Hy weer gesond.” (Ps. 147:3, Die 
			Boodskap) Gedurende die lockdown tydperk draf Willem elke oggend 5 
			km in ons erf. Al in die rondte op die grasperk en om die swembad – 
			so stuk of 80 rondtes! Ek sien toe vandag dat daar al ’n diep 
			paadjie in die gras getrap is en ek weet daai gras gaan nie weer 
			groei voor die winter kom nie. Die paadjie gaan nog lank daar wees 
			as ’n herinnering aan hierdie ongewone tydperk in ons lewe. Ek 
			beskou dit nou maar as een van ons “lockdown-letsels”. En ek besef 
			daar is baie van ons wat met erger (en blywende) letsels as net ’n 
			paadjie in die grasperk gaan sit hierna. Ek weet egter dat die Here 
			wonde verbind, dat Hy genees, dat Hy herskep, dat Hy nuut maak, dat 
			Hy herstel bring. Die letsels mag dalk bly, maar dit sal ’n 
			herinnering wees dat die Here ons deur swaarkry en trauma gedra het. 
			Die letsels mag dalk bly, maar daar sal ’n dag kom dat die trane en 
			angs en onsekerheid iets van die verlede sal wees. Die letsels mag 
			dalk bly, maar dit sal ’n herinnering wees om al ons hoop en 
			vertroue in die Here alleen te stel. Job het letsels gehad waar hy 
			hom met die potskerwe gekrap het en die Here het vir hom twee keer 
			soveel teruggegee as wat hy verloor het en sy lewe voorspoedig 
			gemaak. Paulus het letsels gehad van sy swaarkry en al die houe wat 
			hy verduur het en die Here se genade was vir hom genoeg. Jesus het 
			die spyker-letsels aan sy hande gehad sodat Tomas kon sê: My Here en 
			my God, en sodat ons kan glo sonder om te sien. “Ons weet mos dat 
			swaarkry ons vorm en slyp om nog meer op God te vertrou. En wanneer 
			ons onverskrokke op God vertrou, help dit ons om ’n sterk 
			Christelike karakter te vorm.”  (Rom 5:3-4, Die Boodskap) ~ Wilna 
			Botha, 02/04/2020 |  
    | 
 |  
    | God is ... 
			alomteenwoordig. Behalwe daardie Goeie Vrydag toe Jesus aan die 
			kruis gehang het en hard uitgeroep het: “My God, my God, waarom het 
			U my  verlaat?” Daar was duisternis en stilte.  ’n Rukkie gelede was 
			Jesus ontsteld oor die pad wat vir Hom voorlê: “Nou is Ek diep 
			ontsteld. En wat moet Ek sê? Moet Ek sê: Vader, red My uit hierdie 
			uur? Maar juis hiervoor het Ek gekom, vir hierdie uur.” (Joh. 12:27) 
			Hy is op daardie onseker oomblik bemoedig deur ’n stem uit die hemel. 
			Toe Jesus in die tuin van Getsemane in doodsangs bloeddruppels 
			gesweet het, het ’n engel uit die hemel Hom versterk (Luk. 22:43) 
			Maar aan die kruis was Hy alleen gelaat. God se wraak, sy straf, sy 
			woede, sy vloek oor die wêreld se sonde het in daai Godverlate 
			oomblikke op Jesus afgekom, sodat ons dit nooit hoef te beleef om 
			sonder God te wees nie. Hy het in óns plek Godverlatenheid beleef, 
			sodat ons nou en vir altyd in God se teenwoordigheid kan leef. Dis 
			amper Goeie Vrydag en ons is nié van God verlaat nie! Weet vir seker: 
			enige plek waar jy jou mag bevind, al is dit hoe eensaam,  donker, 
			leeg , verdorwe of vreesaanjaend, is gevul met God se 
			teenwoordigheid. Hy laat jou nooit alleen nie, Hy is altyd langs jou, 
			Sy arms is altyd hier naby om jou te vang, Sy hand digby om jou te 
			help en lei. Hy weet alles en sien alles. Hy hoor as jy roep, Hy 
			hoor as jy sug of as jy huil. “U is oral. Daar is nie ’n plek waar 
			ek heen kan gaan waar U nie is nie.... Al kan ek so vinnig soos lig 
			beweeg of al gaan ek na die vêrste plek toe, U is daar.... Oral hou 
			U my vas. Al vou die donkerte my heeltemal toe, is U naby my” (Ps. 
			139:7-11, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 07/04/2020 |  
    | 
 |  
    | Christus - die volmaakte Paaslam, die volkome 
			offer. Christus - verraai, uitgelewer, gespot, gespoeg, geslaan, 
			gekruisig. “So het Jesus gedoen wat God wou hê. Hy het eens en vir 
			altyd sy liggaam as ’n offer vir ons gegee. Op dié manier het ons 
			God s’n en net syne geword.” (Heb. 10:10, Die Boodskap) Jesus se 
			kruisdood is die volledige betaling vir al ons tekortkominge en 
			oortredinge. Sy bloed is die algehele bedekking vir elke sonde. Sy 
			liggaam is ons volkome versoening met God. Sy offer red ons. Deur sy 
			bloed lewe ons. Met die eerste Paasfees moes die Israeliete ’n lam 
			sonder gebrek slag en die bloed aan die sykante en die bokant van 
			die deurkosyn smeer, sodat hulle kon bly lewe. “Die bloed aan die 
			huise waarin julle is, sal ’n teken wees: waar Ek die bloed sien, 
			sal Ek die huis oorslaan.” (Eks. 12:13) Die volmaakte Paaslam is vir 
			ons geoffer, vriende! Sy bloed is aan ons lewenskosyne. Hy red ons. 
			Hy gee vir ons die ewige lewe en ons sal in ewigheid nooit verlore 
			gaan nie. Niemand of niks sal ons ooit uit sy hand ruk nie. (Joh. 
			10:28) Geseënde Paasfees! ~ Wilna Botha, 09/04/2020 |  
    | 
 |  
    | Die Here is ... die Pottebakker. “Maar nou, 
			Here, U is ons Vader; ons is die klei, en U is ons Formeerder, en 
			ons almal is die werk van u hand.” (Jes. 64:8, OAV) God is ons 
			Skepper, ons Maker, ons Formeerder. God het vir Adam gevorm uit die 
			stof van die aarde (soos wat Gen. 2:7 vertel). Met sy hande het die 
			Skepper Pottebakker die grond-klei gevorm tot ’n mens en sy eie 
			lewensasem in sy neus geblaas. Hy het na die werk van sy hande gekyk 
			en gesê: dit is baie goed. So het die Here ons elkeen ook met sy eie 
			hand gevorm in die skoot van ons moeder. En nou is sy hande steeds 
			op ons, steeds besig om te vorm en te vou en mooi en beter te maak 
			en af te rond, soos wat ’n pottebakker met ’n baie spesiale item 
			doen. Ons Pottebakker is besig om iets mooi en bruikbaar met Sy 
			hande te vorm. Hy sal nie sy werk halfpad laat staan of opgee 
			daarmee nie, nee, wat Hy begin het sal Hy end-uit voer. (soos wat 
			Fil. 1:6 sê) Die Pottebakker weet wat Hy doen en daarom kan ons dit 
			rustig aanvaar en nie sy werk bevraagteken nie. “Durf die klei vir 
			die een wat dit vorm sê: wat maak jy?” (Jes. 45:9) Soos ’n 
			pottebakker, hou die Here sy oë en sy handpalms op ons. Dis nie net 
			hande wat vorm, buig, vou en skuur nie, dis hande wat liefdevol op 
			ons rus, hande wat beskerm en hande wat keer, want Hy het ’n mooi en 
			volmaakte eindproduk in sig. ~ Wilna Botha, 15/04/2020 |  
    | 
 |  
    | Die Here is ... my Vriend. Eintlik sê die Bybel 
			dit andersom: ek is Sý vriend. “Ek noem julle vriende ...” sê Hy in 
			Joh. 15:15. As iemand belangrik en bekend jou sy vriend noem, is dit 
			nogal lekker nè! As jy ’n “friend request” sou kry op Facebook van 
			iemand wat jy bewonder, iemand groot en bekend sou dit jou nogal 
			spesiaal laat voel, of hoe? Hoeveel te meer as Jesus jou innooi in 
			sy binnekring en jou sy vriend noem. Hy het eerste uitgereik na ons, 
			eerste sy hand van vriendskap uitgesteek na ons. “Julle het My nie 
			uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies...” (Joh. 15:16) 
			Vriendskap met die Here is nie net iets denkbeeldig, of verdigsels 
			van ons verbeelding, soos kindertjies se denkbeeldige maatjies met 
			wie hulle in hulle gedagtes speel nie. Dis nie net ’n metafoor vir 
			ons verhouding met Hom nie. Hy is nie net ’n vae kennis, ’n “buddy” 
			of ’n maatjie nie.  Sy vriendskap is ’n egte, werklike, innige, 
			diepgaande verhouding. Hy is die volmaakte vriend. Sy vriendskap is 
			vas en seker, dit geld vir ewig. Dis nie net ’n mooiweers-vriendskap 
			nie. Dit geld nie net as ek ’n goeie vriend terug is en my kant in 
			die vriendskap bring nie. As Hy jou sy vriend noem, beteken dit dat 
			Hy vir jou omgee, dat Hy jou sal beskerm, vir jou sal opkom, jou 
			kant sal kies, jou sal help, jou belange op die hart dra, jou nie 
			sal veroordeel nie. Dit beteken dat Hy jou swakhede en tekortkominge 
			en feilbaarheid as vriend verstaan. Dit beteken dat Hy dáár is vir 
			jou, dat Hy luister na jou probleme en oplossings en raad beskikbaar 
			het vir jou. Dit beteken dat Hy met ons praat en sy geheime met ons 
			deel. Dat ons vriende is, beteken dat ek kosbaar is vir Here, sóveel 
			dat Hy sy lewe vir my aflê. “Niemand het groter liefde as dit nie: 
			dat hy sy lewe vir sy vriende aflê.” (Joh. 15:13)  - en dis wat 
			Jesus vir ons gedoen het, dis hoe ons beste vriende geword het. ~ 
			Wilna Botha, 21/04/2020 |  
    | 
 |  
    | Die Here is ... jou Bewaarder. So lees ons in 
			Ps. 121. Hy pas my op, Hy is altyd naby, Hy hou my dop, Hy beskerm 
			my, Hy sorg vir my, Hy behoed my. Hoe mooi is dié outydse term nie? 
			Behoed. In ’n Engelse vertaling van Ps. 140:7 lees ek: you cover my 
			head. Ja, soos wat ’n hoed jou kop beskerm, soos wat ’n valhelm keer 
			dat jy seerkry, soos wat ’n sonhoed vir jou ’n skaduwee gee, só 
			be-“hoed” en bewaar Hy ons. Geen wonder dat ons geestelike 
			wapenrusting ook ’n hoed insluit nie – ’n helm van verlossing. As 
			jou kop beskerm is, is jou brein beskerm. As jou kop beskerm is, is 
			jou verstand en gedagtes ook bewaar. Ons leef in ’n moeilike en 
			onseker tyd. Vanaand praat die President weer met ons en my gedagtes 
			hardloop alreeds weer draaie oor wat volgende op ons wag. Cover my 
			head, vra ek van die Here, sodat ek wat ook al na ons kant toe kom, 
			kan hanteer. Om ons hulp, ons beskerming, ons troos in moeilike tye 
			by die Here te gaan soek is vir ons as Sy kinders die enigste uitweg. 
			Dit maak ons rustiger, bring vir ons gemoedsrus, gee vir ons vrede 
			wat alle verstand te bowe gaan, gee vir ons moed om op te staan en 
			positief vorentoe te kyk. Dit vat nie noodwendig die ongemak van die 
			situasie weg nie, dit kanselleer nie noodwendig die probleme wat jou 
			plat druk nie, dit maak nie noodwendig alles reg wat verkeerd is nie. 
			Dit gee jou wel die wete dat Hy wat groter is, wat ewig is, wat 
			alles weet en wat alles vir jou ten goede wil laat meewerk jou 
			behoed, dat Hý jou Bewaarder is. “Die HERE sal jou seën en jou 
			behoed; die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig 
			wees; die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee. 
			(Num. 6:24-26, AOV) ~ Wilna Botha, 23/04/2020 |  
    | 
 |  
    | Die Here is 
			... the Ancient of Days. (Dan 7:9) Nee, dit verwys nie na sy 
			ouderdom nie, dit verwys na sy ewigheid. Voordat daar dae was, was 
			Hy reeds daar en was Hy reeds God. Hy bestaan van ewigheid tot 
			ewigheid, Hy is die Eerste en die Laaste (Jes. 44:16), vóór Hom was 
			daar niks en ná Hom is daar niks. Age to age He stands and time is 
			in his hands – so lui die woorde van ’n liedjie. Tyd is in sy hande. 
			As ewige God is minute, ure en dae in sy hande en laat Hy elke ding 
			in ’n bepaalde tyd pas. In hierdie stadige dae waar dit voel of ons 
			nooit weer vry gaan wees nie en niks ooit weer dieselfde gaan wees 
			nie, waar ons só wag dat die grendeltyd opgehef of verlig moet word, 
			het weke, dae en ure vir my weer ’n ander betekenis. In ons kombuis 
			is hierdie woorde opgeplak: “Don’t count the days, let the days 
			count”. Ek poog altyd om die beste van elke dag te maak en nie net 
			tyd te laat verblyglip nie, maar deesdae vind ek dat ek dikwels die 
			tyd omwens of terugwens. Ek wens dinge was weer soos altyd. Ek wens 
			’n volgende, beter tydperk kan aanbreek. Ek wens vandag is verby en 
			môre het goeie nuus. Maar toe sién ek weer ’n slag dié woorde op my 
			muur raak en ek weet: elke dag het nog steeds net 24 ure en elke uur 
			net 60 minute en as hulle verby is, is hulle verby. Wat elke dag ook 
			al inhou, daai ure bly ’n gawe uit die Here se hand en ek moet hulle 
			nie verkwis met bekommernis, selfbejammering en negatiewe gedagtes 
			nie.  Ek aanvaar dat die Ancient of Days ook in beheer is van my dae. 
			“Maar ek vertrou op U Here, ek sê: U is my God. My tye is in U 
			hand.” (Ps. 31:15-16) ~ Wilna Botha, 28/04/2020 |  
    | 
 |  
    | “Hy is die Woord, die Lewe.” (1 Joh. 1:1) Jesus 
			is ... die Woord. Jesus is as’t ware God se woorde aan ons. “Deur 
			die jare heen het God nie stilgebly nie. Hy het gedurig met ons 
			voorouers gepraat deur spesiale boodskappers te stuur en ook nog op 
			baie ander maniere. Maar die tyd is nou ryp dat God sy mense weer 
			naby aan Hom wil bring. Daarom het Hy met ons kom praat deur sy Seun.” 
			(Heb. 1:1-2, Die Boodskap)  Die woorde wat ons sê is die fisiese 
			uitdrukking van ons gevoelens en ons gedagtes. As ek op ’n 
			vereenvoudigde manier daaroor dink, dan is dit ook wat dit vir my 
			beteken dat Jesus die Woord is. Hy is die fisiese uitdrukking van 
			God se gevoelens, die fisiese uitdrukking van God se gedagtes, van 
			wie God ís. Dis deur Jesus dat ons leer van God se liefde vir 
			verlorenes en Sy plan om hulle te red. Soos wat die Bybel die 
			geskrewe woord van God is, is Jesus die lewende Woord. Hy is God se 
			boodskapper deur wie ons hoor en sien wie God is en hoe Hy wil hê 
			dat ons moet lewe. Jesus sê mos in Joh. 14:9: “Wie My sien, sien die 
			Vader.” Dis vir my verder ook betekenisvol dat Petrus vir Jesus in 
			Joh. 6:68  sê: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat 
			ewige lewe gee.” Die Woord, die Lewe. Nou vra ek sommer vir myself 
			die vraag: watter Woord/woord is vandag vir my die belangrikste? Na 
			watter Woord/woord luister ek in hierdie dae? Watter Woord/woord 
			oorheers my gedagtes en bepaal die rigting waarin ek beweeg? Is dit 
			die vrees-woorde in die nuus? Die negatiewe woorde van swartgallige 
			mense?  Die opsweep-woorde van mense op Facebook ? (tussen hakies: 
			toe ek nou “facebook” tik wou my “spell checker” my help met die 
			regte spelling en een van die voorstelle wat hy gee is “fakebook” - 
			 sjoe, dit het my nou laat dink!) Iemand sê nou die dag: “Check the 
			news, don’t watch the news.” Feite oor ’n situasie is belangrik, 
			maar onthou daar is altyd ’n groter realiteit agter daai feite en 
			dit is die Woord van God – dit wat God sê oor jou en oor die wêreld 
			en oor die omstandighede. Laat die Woord wat lewe gee jou vul, jou 
			gedagtes oorheers en vir jou rigting gee en mag Sy opregte, 
			positiewe en opbouende woorde ook deel wees van jou woordeskat. ~ 
			Wilna Botha, 30/04/2020 |  
    | 
 |  
    | Die Here se Naam is Jaloers. “Want jy mag jou 
			nie neerbuig voor ‘n ander god nie; want die Here se Naam is Jaloers—’n 
			jaloerse God is Hy.”  (Eks. 34:14 AOV) “Jaloers” is nou nie eintlik 
			’n naam wat ons dikwels vir die Here gebruik nie. Vir ons is dit 
			bietjie van ’n negatiewe term, want menslike jaloesie word aangevuur 
			deur onsekerheid, frustrasie, afguns, selfgesentreerdheid, trots ens. 
			As ons sê die Here is jaloers verwys dit nie na ’n wispelturige, 
			eiesinnige of humeurige “ou man” nie, dit verwys na sy liefdevolle 
			besitlikheid oor ons en sy verlange en verwagting dat ons getrou 
			moet wees aan Hom. Dat Hy jaloers is, is ’n uitdrukking van sy 
			heiligheid en sy vereiste van ons “onverdeelde trou”, soos wat Hy in 
			Eks 20:5 sê. Ook geen wonder nie dat Jesus sê dat die grootste gebod 
			van die wet is dat ons die Here met ons hele hart, hele siel, hele 
			verstand moet liefhê. (Matt. 22:37) Hy vra alles. Onthou ook hoedat 
			Hy waarsku: “Maar nou, omdat julle lou is, nie warm nie en ook nie 
			koud nie, gaan Ek julle uit my mond uitspoeg.” (Openb. 3:16) Ek moet 
			myself afvra: wat is daar in my lewe wat my “lou” maak, wat maak dat 
			my aandag verdeeld is en dat my getrouheid aan die Here afgewater 
			raak? Wat sal sy “jaloesie” laat opvlam? Dalk my onafhanklikheid – dit wys mos ek maak asof ek Hom nie nodig het nie. Dalk my 
			tydsbesteding – dit wys wat en wie régtig belangrik is. Dalk my 
			negatiewe gedagtes – dit wys dat my gedagtes nie op “die dinge wat 
			daarbo is” gerig is nie, dat God se vrede nie waghou oor my hart en 
			gedagtes nie. Dalk my probleme – soms fokus ek só op wat om my 
			aangaan, dat dit groter word in my lewe as die Here self. Dalk my 
			bekommernis en vrees – sulke optrede bewys dat ek Hom nie ten volle 
			vertrou om my te help en te beskerm en my Herder te wees nie. Dalk 
			mense – ek gee meer toe aan hulle eise en verwagtinge as aan dit wat 
			die Here van my verwag. My lysie kan baie lank aangaan... dalk joune 
			ook? Vanaand sing en bely ek maar net: “All my life and all my 
			needs, all my ways and all my deeds …  I 
			surrender all”,  want ek behoort aan ’n jaloerse God. ~ Wilna 
			Botha, 05/05/2020 |  
    | 
 |  
    | “Gideon het net daar vir die Here ’n altaar 
			gebou en dit genoem: Die Here gee rus!”(Rigters 6:24) Ons bevind 
			onsself in ’n onseker, onrustige en onvoorspelbare tydperk. Dit voel 
			vir my of mens so gebombardeer word met nuusartikels, menings van 
			mense, klomp moets en moenies, mag en mag-nies. En ek raak al hoe 
			meer opstandig en negatief en rigtingloos. Vrees en benoudheid 
			wil-wil my beetkry en my keel toedruk. Mens voel só ’n begeerte na 
			sielerus, na diep vrede en sekerheid. En dan lees ek ’n teks soos 
			dié in Rigters 6: die Here gee rus. In ’n Engelse vertaling sê dit: 
			“The Lord calms our fears”. Diep sielerus, tevredenheid, 
			behaaglikheid, vergenoegdheid, kalmte is by Hom te vinde. Dis ook 
			hoekom Jesus daar in Mark 6:31 sy dissipels uitnooi: “Kom julle 
			alleen saam na ’n stil plek toe en rus ’n bietjie”. Dis hoekom Hy 
			vir ons persoonlik uitnooi: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en 
			oorlaai is en Ek sal julle rus gee.” (Matt. 11:28) Kom! Alleen saam 
			met Hom. In die stilte sal Hy my lei na sy groen weivelde en waters 
			van rus en sal sy vrede weer oor my kan spoel. Ons sal egter nie in 
			sy rus kan ingaan as ons oë op die wêreld of op ons probleme of op 
			mense se opinies bly nie, ons moet ons fokus doelbewus na Hom 
			verskuif. “Step out of the traffic! Take a long loving look at Me, 
			your high God, above all the politics, above everything.” (Ps. 
			46:10) Vanaand bou ek ’n denkbeeldige altaar en noem dit: “Die Here 
			gee rus!” ~ Wilna Botha, 12/05/2020 |  
    | 
 |  
    | Die Here is ... “keeper of your souls”. (1 Pet. 
			2:25) Oppasser, Opsiener, Bewaker, Beskermer van ons siele. Daai 
			diep binnekant, die onsterflike, onsigbare, onpeilbare deel van die 
			mens, die kern van wie ons is en waar al jou krag, jou hele wese 
			gesentreer is, waar jou gevoel, emosies, gedagtes, drome, passie 
			gesetel is – dít hou die Here vas, dít pas Hy op en bewaar dit en 
			heilig dit. As jy dit vir Hom gee, sál Hy dit bewaar en beskerm. Dis 
			hoekom Jesus vir ons die versekering kan gee: “Niemand sal hulle uit 
			my hand ruk nie.” (Joh. 10:28) “Keeper” laat my dink aan ’n “goal 
			keeper”. Ek weet nou nie eintlik veel van sokker of hokkie of enige 
			van daai sportsoorte wat ’n “goal keeper” het nie, maar ek weet wel 
			dat hy die belangrikste posisie het en die grootste 
			verantwoordelikheid het om sy span te beskerm en te keer dat die 
			opposisie punte kan aanteken. Net so bewaar die Here ons siele teen 
			die brandpyle van die vyand en hou Hy ons altyd aan die wenkant. By 
			Hom is ons lewe veilig, is ons volkome aanvaar, is ons tekortkominge 
			oorgesien, is ons meer as oorwinnaars. “Your life is safe in the 
			care of the Lord your God, secure in his treasure pouch!” 1 Sam. 
			25:29 (NLT) ... jou siel sal Hy bewaar. ~ Wilna Botha, 14/05/2020 |  
    | 
 |  
    | Die Here is ... ondeurgrondelik, onnaspeurlik, 
			onbegryplik, onverstaanbaar, onverklaarbaar. “O diepte van die 
			rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy 
			oordele, hoe onnaspeurlik sy weë! Wie ken die bedoeling van die 
			Here? Wie gee Hom raad?” (Rom 11:33-35) “Kan jy begryp wie God 
			werklik is? Kan jy die Almagtige ten volle verstaan? Dit is kennis 
			wat hoër is as al die hemele. Hoe kan jý daarby uitkom? Dit is 
			kennis wat dieper is as die doderyk. Hoe kan jy dit bereik? Dit 
			strek vêrder as die aarde, wyer as die see.” (Job 11:7) Dis seker 
			vir ons as Christene een van die moeilikste dinge as ons op ’n punt 
			kom wat ons voel ons verstaan nie God se weë nie, dinge maak net nie 
			vir ons sin nie, ons sien nie Sy groter plan nie, ons sê: Hoekom 
			Here? Hoe nou Here? Hoe lank nog Here? Is U nog in beheer, Here? 
			Vandag toe ek herfsblare sien afval het ek net weer hieraan gedink: 
			Wie se skuld is dit as ’n blaar van die boom afval? Is dit die wind 
			wat dit afgewaai het? Is dit die boom wat die blaar laat gaan het? 
			Is dit die blaar wat moeg geword het om vas te hou? Wie weet? 
			Dikwels gebeur dinge net. Daar is nie redes nie, daar is nie ’n 
			verduideliking nie, daar is nie iemand te blameer nie. Dis net hoe 
			dit is. Daar is ’n paar goed waaraan ek vashou en glo in sulke 
			vraag-vra-sessies: die Here ís besig in my lewe en in die wêreld, al 
			sien ek niks gebeur nie; ek ís kosbaar vir die Here en Hy sal alles 
			ten goede laat uitwerk; die Here se tydsberekening ís perfek, al 
			voel dit of sy uitkoms of hulp te laat gaan wees; ek kan nie (en wil 
			nie) ’n geveg met die Here opsit nie, want soos Job, sal ek nie 
			opgewasse wees nie; ek bely dat my krag lê in oorgawe aan dié Een 
			wat alles in sy hand hou, in stil wees en vertroue hê in Sy almag en 
			soewereiniteit. Ek hou van hierdie aanhaling: “God didn’t promise 
			days without pain, laughter without sorrow, sun without rain, but He 
			DID promise strength for the day, comfort for the tears and light 
			for the way.” ~ Wilna Botha, 19/05/2020 |  
    | 
 |  
    | Jesus is ... in die hemel opgeneem. Ek het 
			vandag weer die Bybelgedeeltes gelees wat oor Jesus se hemelvaart 
			handel. Luk. 24:50-51 is vir my besonders: “Daarna het Hy hulle uit 
			die stad uitgelei tot by Betanië. Daar het Hy sy hande opgehef en 
			hulle geseën. Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en 
			is Hy in die hemel opgeneem.” Jesus laat sy volgelinge met ’n  seën 
			en met  groot beloftes agter voordat Hy opvaar na die hemel. Daai 
			seën en daai beloftes is vandag vir ons ook van toepassing. Kyk op 
			na die wolke en weet en glo dat Jesus weer gaan terugkom en dat Hy 
			sélf elke dag by jou is tot dan (Matt. 28:20). Kyk op na die wolke 
			en weet dat Jesus vir ons ’n Helper, die Heilige Gees gegee het, dat 
			Hy in jou woon en jou lei en leer.  Kyk op na die wolke en weet dat 
			Jesus  vir ons ’n plek in die hemel gaan voorberei het . Hy sê in 
			die huis van Sy Vader is daar baie wonings – daar is plek vir jou 
			ook! Kyk op na die wolke en weet dat Hy aan die regterhand van God 
			sit, dat Hy daar vir ons intree, dat Hy daar vir ons ’n Middelaar 
			is. Kyk op na die wolke en weet dat Hy tot in ewigheid regeer as 
			Koning van die heelal. Kyk op na die wolke en aanbid en eer en prys 
			Hom! ~ Wilna Botha, 21/05/2020 |  
    | 
 |  
    | “God is Gees” (Joh. 4:24) “... julle het iets 
			van Jesus gekry wat julle lewe totaal verander: sy Gees het by julle 
			kom bly. So het Hy julle in sy spesiale span vir hierdie wêreld 
			gesit.” (1 Joh. 2:27, Die Boodskap) Dis Pinkstertyd, dié tyd waarin 
			ons die uitstorting van die Heilige Gees oordink en bestudeer en 
			vier. Vroeër in Joël 2:28 al belowe die Here: “Wanneer dit alles 
			gebeur het, sal Ek my Gees laat kom op al die mense...”. In Joh. 
			14:16 belowe Jesus: “Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ’n 
			ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die 
			Gees van die waarheid.” En toe, op Pinksterdag en elke dag daarna, 
			kom die Gees van God om by ons te bly en in ons wees. Ons wat 
			kinders van die Here is, het nou die teenwoordigheid en krag van die 
			Heilige Gees as ’n kosbare skat ín ons. Die Gees gee vir jou wysheid 
			en insig, raad en sterkte, kennis en eerbied vir die Here (volgens 
			Jes. 11:1) Besef dit en laat dit ’n verskil in jou daaglikse lewe 
			maak. Laat die Gees goeie vrug voortbring, laat die Gees leiding en 
			rigting in jou lewe gee, jou help om situasies reg op te som en die 
			regte besluite te neem ... jy is immers nou in God se spesiale span. 
			Moet nooit daaroor twyfel of jy die Gees van God in jou het nie. 
			Moenie dink daar moet eers buitengewone, bomenslike goeters gebeur 
			om te “bewys” dat jy die Gees het nie. Die Gees kom heel dikwels net 
			stil-stil in jou bly. En ás jy twyfel daaroor – vra die Here! “Hy 
			sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.” (Luk. 11:13) ~ Wilna 
			Botha, 26/05/2020 |  
    | 
 |  
    | Die Here is ... my Herder. Jesus word in Heb. 
			13:20 die “groot Herder van sy kudde” genoem. Ai hoe gelukkig is ons 
			nie om te weet ons het ’n oppermagtige, alomteenwoordige Herder wat 
			vir ons sorg met oorvloedige weivelde en strome vars water en vrede 
			wat alle verstand te bowe gaan nie. Hy is die goeie Herder wat ons 
			ken en ons op ons name roep en voor ons uitstap (Joh. 10:3,14) sodat 
			ons Hom met volle vertroue kan volg. Wanneer ons verdwaal en ons eie 
			koers vat, sal Hy 99 ander los en ons eers kom soek. Wanneer ons 
			seerkry, kom tel Hy ons op, verbind ons wonde, droog ons trane af en 
			dra ons op sy skouers terug na veiligheid. “Ek sal self my kleinvee 
			se Herder wees ... Ek sal dié soek wat weggeraak het, dié terugbring 
			wat weggedwaal het, die wonde versorg van dié wat seergekry het, die 
			swakkes help.” (Eseg. 34:15-16) Ons Herder het tot die uiterste vir 
			ons gegaan en sy lewe gegee sodat ons gered kan wees. “Ek is vir 
			Christene wat ’n herder vir sy skape is. Wat Ek bedoel, is dit: die 
			herder is bereid om alles te gee ter wille van sy skape, ook sy lewe. 
			Hy sal liewers self doodgaan as dat hy sal toelaat dat sy skape iets 
			oorkom.” (Joh. 10:11, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 28/05/2020 |  
    | 
 |  
    | Ek is ... die lig vir die wêreld. (Joh. 8:12) 
			Vanoggend toe ek wakker word, sien ek in die donker die vae 
			buitelyne van iets wat op my spieëlkas staan en ek het geen idee wat 
			dit kan wees nie. Ek trek my oë skrefies, draai my kop, lig bietjie 
			op van die kussing af in ’n poging om méér uit te maak van die ding. 
			In die donker het ek heeltemal die verkeerde idee gehad van wat dit 
			kan wees. Eers toe Willem met sy selfoonliggie daarop skyn, kon ons 
			sê: o ja ...! Nou ja, in die donker dae van die lewe is dit mos ook 
			so: ons sien net vae buitelyne van ’n saak, tower die verkeerde 
			gedagtes daaroor op, praat onsself negatief en paniekerig en maak 
			verkeerde besluite omdat ons nie die hele prentjie kan (of wil) sien 
			nie. Hoe geseënd is ons nie dat die Here sy lig op ons lewenspad kom 
			skyn nie. Dan raak vae buitelyne weg, onsekerheid maak plek vir 
			vrede, vrees maak plek vir rustigheid, twyfel maak plek vir vertroue. 
			Ek kon ook vanoggend geduldig gewag het totdat dit geleidelik ligter 
			geword het en ek stukkie vir stukkie meer kon uitmaak van die 
			onbekende voorwerp op my spieëlkas. Soms is dit ook hoe die Here vir 
			ons lig gee in onseker tye – bietjie vir bietjie, net genoeg om die 
			volgende tree te gee. Die lig kan nuwe inligting wees wat bykom, 
			nuwe perspektiewe wat aan die lig kom, dalk aanvaarding van jou 
			situasie of die wegtrek van die sluier van jou eie vooropgestelde 
			idees en verwagtinge. Hier is die Here se belofte: “Ek laat die 
			donkerte voor hulle in lig verander. Ek verander die pad wat vol 
			slaggate is in ’n gladde pad. Ek gaan dit doen. Ek sal hulle nie in 
			die steek laat nie.” (Jes. 42:16, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 
			02/06/2020 |  
    | 
 |  
    | Die Here is ... die Skepper. “Weet jy dan nie, 
			het jy nog nie gehoor nie? Die Here is die ewige God, Skepper van 
			die hele aarde.” (Jes. 40:28) Op bladsy 1 van die Bybel begin ons 
			leer wie God is – die Skepper van alles. God het gesê ... en so het 
			dit gebeur. “Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ’n enkele 
			ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie.” (Joh. 1:3) 
			Nie ’n enkele ding nie! Dat God die Skepper is beklemtoon sy almag, 
			sy grootheid, sy beheer, sy krag, sy verhewenheid, sy 
			onverklaarbaarheid. Job 38-41 is vir my die allermooiste weergawe 
			van die skepping waar die Here vir Job deur ’n reeks vrae bewus maak 
			daarvan dat Hy die Skepper is en dat niemand dit kan bevraagteken 
			nie.  Lees dit gerus. Daar is sinsnedes soos: Wie het die aarde 
			afgemeet? Wie het hom aanmekaargesit daardie oggend toe die sterre 
			saamgesing het? Wie het die see opgedam? Weet jy waar die daeraad 
			vandaan kom? Kan jy ’n beeld vorm van die groot wye wêreld? Kan jy 
			die donkerte na sy gebied toe terugvat? Hoe loop die pad na die plek 
			waar die lig woon? Het jy al die plek gesien waar die hael gebêre 
			word? Wie het vir die stortreën ’n pad oopgekap en vir die 
			donderwolke hulle koers bepaal? Wie het die doudruppels in die 
			wêreld ingebring? Sou jy die band van Orion kon losmaak? Kan jy die 
			sterre op hulle tyd laat opkom? Weet jy hoe die hemelliggame werk? 
			Kan jy weerligstrale uitstuur? Wie gee insig aan die haan om die dag 
			aan te kondig? Wie gee vir ’n kraai die kos wat hy nodig het? Wie 
			gee aan die wildedonkie vryheid? Gee jy vir die perd sy krag, sit jý 
			vir hom maanhare aan? Is dit deur jou insig dat ’n valk vlieg? Kan 
			jy ’n krokodil met ’n hoek vang of hom ’n tou in die bek sit? 
			Uiteindelik kan mens nie anders as om, soos Job, te bely: “... nou 
			het ek U self gesien.” Sien die skepping en jy sien die Skepper. Ek 
			glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en 
			die aarde ... ~ Wilna Botha, 04/06/2020 |  
    | 
 |  
    | Jesus is ... die Begin en Voleinder van die 
			geloof. (Heb. 12:2) Author and Perfecter of our faith, sê  dit in ’n 
			Engelse vertaling. Hy is die oorsprong en rede vir ons geloof.  Hy 
			het dit uitgedink en geskep en deur Sy Gees in ons harte geplaas. 
			Wie Jesus ís en wat Hy vir ons aan die kruis gedoen het, is die 
			inhoud van ons geloof en met Sy bloed is dit in ons harte ingeskryf. 
			Wie Hy ís dwing eerbied, respek en vertroue af. Ons glo Hom. Ons glo 
			wat Hy sê. Ons glo wat Hy belowe. Ons glo ín Hom.  Al weet ons dit 
			alles wel baie goed en al is daar tydperke waar mens voel jou geloof 
			is sterk en op ’n hoogtepunt, kom daar tog wel tye van twyfel. Lang 
			tye wat ons geloof swak voel, waar ons geestelike krag uitgeput raak, 
			waar ons voel of ons vertroue opgeraak het. Hoe gerusstellend om in 
			sulke tye te weet dat die Here ook die Voleinder en Onderhouer van 
			ons geloof is. Daar bly altyd ’n vlammetjie oor wat Hy weer deur Sy 
			Gees sal aanblaas tot ’n geloofsvuur. Mens kan as’t ware sê dat ware 
			geloof nie weggevat of heeltemal uitgedoof kan word nie. “Ek is 
			veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin 
			het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer 
			Christus Jesus kom.” (Fil. 1:6)  - dit geld ook vir ons geloof. “Ek 
			glo, Here, kom my ongeloof te hulp.” (Mark 9:24) ~ Wilna Botha, 
			09/06/2020 |  
    | 
 |  
    | “Who is like You – majestic in holiness...” (Ex 
			15:11) Dit voel vir my nogal as mens sê die Here is heilig, dat dit 
			so ’n oorkoepelende, oorheersende karaktereienskap van Hom is, dat 
			dit iets is wat ons met ons gevoel en woorde nie genoegsaam kan 
			omskryf nie. Die Bybel praat dikwels van “die Heilige”  (sien bv. 
			Jes. 57:15 - “Hy wie se Naam die Heilige is.”) Dís ons God: dié 
			Heilige, anders as enige iets, hoër, groter, beter as enige iets of 
			iemand, volmaak, perfek, suiwer, uitsonderlik, verhewe, “a cut above 
			everything else”, heilig, heilig, heilig. En tog ... buig die 
			Heilige af na ons, stort Hy sy liefde op ons uit, gee Hy sy genade 
			vrylik aan ons, was Hy ons skoon, raak Hy ons aan en sê: wees heilig. 
			 Dinge word heilig op grond van hulle verbintenis met God. So lees 
			ons bv. van heilige grond, heilige Sabbat, heilige tempel, ens. Waar 
			God is, is alles heilig. Sy heiligheid syfer deur alles wat deur Hom 
			aangeraak word – ja, deur ons ook. “Maar nou – julle is vrygemaak 
			van die sonde en in diens van God gestel en die vrug daarvan is dat 
			julle geheilig word, en die uiteinde is die ewige lewe.”(Rom 6:22) ~ 
			Wilna Botha, 11/06/2020 |  
    | 
 |  
    | “Ek, die Here, is die barmhartige en genadige 
			God, lankmoedig, vol liefde en trou.” (Eks. 34:6) Genadige God. Vól 
			genade. In Hom en by Hom is oorvloedige genade, genóég genade vir my 
			en jou. Ons probeer dit besing met “amazing grace...”, “genade 
			onbeskryflik groot..”, “outrageous grace...”, maar ons woorde skiet 
			te kort wanneer ons dit probeer beskryf. In die eerste plek is God 
			se genade ’n reddende genade – Hy gee dit verniet aan ons, sonder 
			dat ons dit verdien want Sy Seun, Jesus, het dit vír ons betaal. Dis 
			genade wat vergeet en vergewe, wat silwerskoon was, wat oortredinge 
			wegvat, so vêr soos die ooste van die weste af is; dis genade wat 
			die poort van die Hemel oopsluit. Dis genade wat herstel, wat nuut 
			maak en weer van voor af begin. Dis genade vir almal. Dis genade wat 
			jou vêr en diep kom haal en teruglei. Dis genade wat nuwe hoop gee. 
			Dis genade vir elke dag se stryd en probleme. Dis genade wat hulp en 
			krag gee vir dit wat ons nie in staat is om op ons eie te doen nie, 
			dis God se guns en seën vir dié wat biddend daarvoor vra. Kom met ’n 
			oop hart en ontvang ’n nuwe porsie van Sy genade - “Mag daar vir 
			julle genade en vrede in oorvloed wees!” (1 Pet. 1:2) ~ Wilna Botha, 
			16/06/2020 |  
    | 
 |  
    | Oor die afgelope 7 maande het ek ’n stuk of 45 
			kort stukkies geskryf oor wie God is, oor verskillende name wat Hy 
			genoem word in die Bybel. As ek terugkyk weet ek dis maar ’n druppel 
			in die oseaan en as mens iets moet skryf oor elke karaktereienskap 
			van die Here, sal jy langer as vir ewig daarmee besig wees en sal 
			die wêreld nie genoeg plek hê vir die boeke nie (soos wat Joh. 21:25 
			sê) In hedendaagse terme sal mens seker kan sê dat die wêreldwye web 
			nie alles sal kan huisves nie en dat Google nie alles sal kan 
			deursoek nie! Kortom: ons God is groter as wat woorde en name Hom 
			kan omskryf, wie Hy ís is veel meer as wat ons gedagtes kan 
			akkommodeer. Dit was egter vir my ’n  leersame en verrykende pad wat 
			begin het by Eks 3:13. Ons lees daar dat Moses by die brandende 
			doringbos vir God vra wat hy vir die Israeliete moet sê as hulle wil 
			weet wie hom gestuur het. Hy wou weet: Sê nou maar hulle vra: “Wat 
			is sy Naam?”, wat moet ek dan vir hulle sê? “Ek is wat Ek is. Jy 
			moet vir die Israeliete sê ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur.” (Ek 
			3:14) “Ek is ...”. Hy is alles waaraan jy kan dink, alles wat jy 
			nodig het, alles wat sin maak, Hy is alles! “Daarom groot is U Here 
			my God! Daar is niemand soos U nie.” (2 Sam 7:22) Ek gebruik graag 
			dié woorde van ’n liedjie van Julius Magan om te sê wie die Here vir 
			my is: “You are my hero. You are the poster on my heart, the picture 
			in my mind, the song that I will sing, You are my hero, my 
			everything! You are my morning and you are my night. You are my 
			tears and my delight. You are my twirl, my twist, my turn. You are 
			my wow, in my heart You burn. You are the one I long for most. You 
			are my pride, You are my boast. You are my father and my best 
			friend. You are my hero till the end.” ~ Wilna Botha, 18/06/2020 |  
    | 
 |  
    | Dit was vir my so ’n wonderlike ontdekking toe 
			ek agterkom dat baie van die Bybeltekste wat iets sê oor wie God is, 
			’n tweede gedeelte het wat begin met “daarom sal ek ...” Om te fokus 
			op wie God is, verander my manier van dink en optree. As ek besef 
			wie aan my kant is, wie my hand vashou, wie my beskerm, wie my help, 
			oplig, deurdra, troos, wie my red en regop hou, dán kan ek Hom mos 
			vertrou met alles in my. Dán sal my mosterdsaad geloof uit sy nate 
			bars. Dán sal ek seker wees van Sy liefde en genade. Dán sal my 
			geloof oorgaan in dade. Hier is ’n paar voorbeelde:
 Die Here is my Lig en Redder – daarom sal ek nie bang wees nie (Ps. 
			27:1)
 Die Here is my Toevlug – daarom sal ek niemand vrees nie (Ps. 27:1)
 Die Here is my Herder – daarom sal ek niks kortkom nie (Ps. 23:1)
 Die Here is my Sterkte en my Beskermer – daarom sal ek op Hom 
			vertrou (Ps. 28:6)
 Die Here is my Helper – daarom is ek bly (Ps. 28:7)
 Die Here is my Helper – ek ken geen vrees nie (Heb. 13:6)
 Die Here is my lewe – daarom hoop ek op Hom (Klaagl. 3:24)
 Die Here is altyd by my – daarom sal ek nie struikel nie, daarom is 
			ek bly en juig ek en voel ek veilig (Ps. 16:8-9)
 Die Here is my Trooster – daarom sal ek sing (Ps. 30:12-13)
 Omdat God is wie Hy is, maak dit my wie ek is. Omdat God is wie Hy 
			is, kan ek Hom met vertroue volg en dien. ~ Wilna Botha, 23/06/202
 |  
    | 
 |  
    | “Step out of the traffic! Take a long loving 
			look at Me, your High God, above politics, above everything.”(Ps. 
			46:9, The Message Bible) Bedaar en erken dat Ek God is. Wees stil en 
			weet ... Dis presies wat ek probeer doen het met die afgelope paar 
			maande se oordink van wie God is, besin oor sy karakter, lees oor 
			die name wat Hy in die Bybel genoem word. “Ek is ...” het Hy vir 
			Moses gesê, maar vir myself wou ek vra: wie is God vir mý persoonlik. 
			Ek wou “bedaar” en die verkeer in my kop bietjie tot stilstand laat 
			kom (ja, lockdown het gehelp!) sodat ek kan herken en erken wie God 
			is en wat Hy in my eie lewe doen. As mens fokus op wie Hy is, spoel 
			dit uit in ’n gesindheidsverandering, lewensverandering, 
			prioriteitsverandering. Dit gee jou sekerheid, dit gee geloof, dit 
			gee ’n loflied, dit gee vertroue, dit gee nuwe liefde. As ek nou 
			terugkyk na die notas wat ek daaroor geskryf het, sien ek sekere tye 
			waarin spesifieke eienskappe van God vir my uitgestaan het en vir 
			daai tydperk betekenisvol was. Hier is ’n enkeles: 
 * “The Lord is my portion” -  aan die einde van verlede jaar toe ek 
			met die terugkyk oor die jaar só geseënd en bederf gevoel het, het 
			ek  
			geweet die Here het vir my ’n mooi deel afgemeet.
 * Immanuel, God is by ons – ons kon die nuwe jaar onverskrokke 
			ingaan want ek het geweet die Here gaan saam die jaar in.
 * Hy is ons vrede en gee rus - toe die Nuwejaarsvoornemens begin 
			taan en die gejaag na wind maar weer voortgaan het God se vrede wat 
			alle verstand te bowe gaan nuwe betekenis gekry
 * Hy is my rots, my skuilplek, my redder, my God, my skild, my sterk 
			verlosser, my veilige vesting - voordat ons nog eers geweet het 
			watter ongewone tye op ons wag verseker Hy my dat Hy in alle 
			omstandighede ’n wegkruipplek sal wees.
 * Die Here is my banier -  en ek skryf: “Dit gee aan ons die 
			sekerheid  van Sy teenwoordigheid in alles wat ons doen, die 
			versekering van Sy beskerming, die vrymoedigheid om uitdagings aan 
			te durf, die gemoedsrus dat ons in elke situasie as oorwinnaars sal 
			seëvier.”
 * Die Hoeksteen - Wie hou jou regop as alles rondom jou verkrummel, 
			wie gee rigting as die lewenspad se kronkels te veel word, wie 
			bepaal die sin en waarde van jou lewe, wie keer dat alles wat jy 
			gebou het nutteloos inmekaar val, wie verleen dieper betekenis aan 
			jou geloof? Daar is net een antwoord: Jesus, die Hoeksteen.
 * The Lord is the source and sustainer of everything – ek het myself 
			afgevra: is Hy genoeg vir jou as jy jou werk verloor het? Is Hy 
			genoeg as jy by ’n geliefde se graf staan? Is Hy genoeg as jy slegte 
			nuus in die dokter se spreekkamer gekry het? Is Hy genoeg as ’n 
			onsienlike virus jou lewe omkrap en die ekonomie afwaarts spiraal? 
			Is Hy genoeg as dinge nie uitwerk soos jy gehoop het nie...?
 * God is ryk in goedheid – ek het vir myself dié herinnering 
			neergeskryf: mag jy aanhou glo dat Hy alles ten goede sal laat 
			meewerk en dat daar ’n dag sal aanbreek wanneer jy sal terugkyk na 
			vandag en sê: waarlik, God is goed.
 * Die Here is my helper – op die vooraand van die inperkingstyd 
			skryf ek: Wie anders as ons Helper gaan vir ons vrede en rus gee, 
			gaan ons troos en lei, gaan ons optel en in sy arms troetel, gaan 
			ons vul met hoop en moed en ons verseker dat ook hierdie onseker tye 
			wel gaan eindig? Ek hou steeds hieraan vas.
 * Hy is ’n skaduwee teen die hitte – ek kan myself bemoedig hiermee: 
			wanneer die hitte van die alledaagse stryd té veel raak, wanneer dit 
			voel of jy nie verder kan beur nie, is jou Skaduwee daar vir jou, is 
			daar vir jou ’n veilige rusplek by die Here – daar waar Sy hand vir 
			jou ’n koel skaduwee sal gee, waar jou gemoed sal kalmeer en jou 
			gedagtes verfris  sal word.
 * Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid – 
			niks is seker nie en ons lewe kan in ’n oogwink verander. Dit het 
			ons met die koms van Corona vinnig besef en daar in die begin van 
			die eerste 21 dae inperking skryf ek die volgende: In my gemoed en 
			gedagtes is daar vandag egter één stabiele en seker feit en dit is 
			dat die Here saam met ons is, dat Hy gister en vandag en tot in 
			ewigheid dieselfde is – sien Hóm raak as die Onveranderlike binne al 
			ons onsekerheid.
 * Die Pottebakker - Ons Pottebakker is besig om iets mooi en 
			bruikbaar met Sy hande te vorm. Hy sal nie sy werk halfpad laat 
			staan of opgee daarmee nie, nee, wat Hy begin het sal Hy end-uit 
			voer. Die Pottebakker weet wat Hy doen en daarom kan ek dit rustig 
			aanvaar en gaan ek nie sy werk bevraagteken nie.
 * Die Here is ... ondeurgrondelik, onnaspeurlik, onbegryplik, 
			onverstaanbaar, onverklaarbaar – hier is wat ek vir myself uitgemaak 
			het: die Here ís besig in my lewe en in die wêreld, al sien ek niks 
			gebeur nie; ek ís kosbaar vir die Here en Hy sal alles ten goede 
			laat uitwerk; die Here se tydsberekening ís perfek, al voel dit of 
			sy uitkoms of hulp te laat gaan wees; ek kan nie (en wil nie) ’n 
			geveg met die Here opsit nie, want soos Job, sal ek nie opgewasse 
			wees nie; ek bely dat my krag lê in oorgawe aan dié Een wat alles in 
			sy hand hou, in stil wees en vertroue hê in Sy almag en 
			soewereiniteit.
 *  Die Here is my Bewaarder – Hy behoed my, sê  die ouer vertalings. 
			“You cover my head”, in ’n Engelse vertaling. Cover my head, vra ek 
			van die Here, sodat ek wat ook al na ons kant toe kom, kan hanteer. 
			~ Wilna Botha, 25/06/2020
 |  
    | 
 |  
					| 
	Klik hier vir nog meer 
	heuningdruppels > |  
					| 
 |  
					| Duplisering en verspreiding 
			word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur en webruimte (www.heuning.co.za) |  
						|   |  |