| 
				
					
						|  |  
						| 
 |  
						| Daaglikse Heuningdruppels 
						
						- wonderwerke
 
 |  
					| 
						... 
						soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek (Ps 
						119:11)
 
						
						Die daaglikse heuningdruppels is ook op ons 
						Facebook-groep. Klik hier: 
 
  |  
					| 
 |  
					| Duplisering en 
			verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na 
			die outeur (Wilna / Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za) |  
					| 
 |  
    | WONDERWERKE VAN 
	JESUS UIT JOHANNES |  
    | 
 |  
    | Ek lees so bietjie deur al die wonderwerke wat Jesus 
	gedoen het, soos dit opgeskryf is in die evangelies. Dit lyk my daar is so 
	’n stuk of 35 verskillendes. Baie daarvan gaan oor genesing van allerlei 
	siektes, melaatsheid, blindheid, doofheid, gestremdheid, dit gaan oor 
	bevryding van bose geeste en oor mense wat uit die dood opgewek is. Dan lees 
	ek ook waar mense op bonatuurlike maniere gehelp en versorg is soos toe ’n 
	groot skare gevoed is met 5 brode en 2 vissies, waar moedelose vissermanne 
	’n ongelooflike visvangs beleef, waar Jesus op die water geloop het en waar 
	Hy die wind en die storm aangespreek het om te bedaar. Dit alles is 
	bonatuurlike gebeure wat mense se aandag op God vestig, wat die aandag fokus 
	op sy grootheid en almag en buitengewone krag. Dit is tekens wat ons help om 
	te glo en te sê: dis waarlik Jesus! En vandag ... sien jy enige wonderwerke 
	raak? Moenie net soek na genesings en bonatuurlike uitkoms wat mense beleef 
	nie, soek ook die wonders van God in die mooi van ’n klein blommetjie, in ’n 
	onverwagse reënbui,  in die geboorte van ’n baba, in jou eie hartklop. 
	Beleef ook die wonderwerke van God wanneer ’n harde hart sag word, wanneer 
	’n verharde siel na God toe terugdraai, wanneer ’n hooplose persoon weer lig 
	aan die einde van die tonnel sien. Mag ons God beleef en sy wonderwerke sien! 
	~Wilna Botha, 12/03/2019 |  
    | 
 |  
    | As mens deur die wonderwerke lees wat Jesus gedoen het, 
	dan sien jy dat Hy teen natuurwette, fisiese beperkings en mediese feite 
	optree. Dit beklemtoon oor en oor vir ons dat Hy almagtig is, dat Hy mag en 
	beheer het oor alles en dat niks vir Hom onmoontlik is nie. “Jesus het 
	reguit na hulle gekyk en gesê: Vir mense is dit onmoontlik maar nie vir God 
	nie, want  vir God is alles moontlik.” (Mark 10:27) Dink ’n bietjie hieroor: 
	as ons graag ’n wonderwerk van die Here in ons lewens wil ervaar, moet dit 
	nie gaan oor wat ons by Hom kan kry nie, maar oor wie Hy is. Die doel van ’n 
	wonderwerk is altyd sodat God verheerlik kan word en sodat Sy Naam geëer kan 
	word. ’n Buitengewone gebeurtenis moet mens met ontsag en blydskap en 
	dankbaarheid vervul teenoor Hom wat die wonderwerk gee. Die fokus moet wees 
	op die Here en nie die wonderwerk self óf die persoon wat die ontvanger is 
	van die wonderwerk nie. “Hy het hulle gesond gemaak, sodat die menigte hulle 
	verwonder het toe hulle sien dat stommes praat, gebreklikes herstel is, 
	verlamdes loop en blindes sien. En hulle het die God van Israel geprys.” 
	(Matt. 15:30-31) ~ Wilna Botha, 14/03/2019 |  
    | 
 |  
    | Die eerste wonderwerk waarvan ons lees in die Johannes 
	evangelie is in Joh. 2:1-11 – water word wyn! Jesus woon ’n bruilof by in 
	Kana. Hy het tyd gemaak om dié sosiale geleentheid saam met sy dissipels en 
	sy ma by te woon en saam met die mense van Kana fees te vier. Mense is altyd 
	vir Jesus belangrik en Hy gaan staan dikwels stil en vereenselwig Hom met 
	hulle omstandighede.  Te midde van die gekuier wys Hy egter dat Hy 
	buitengewone mag en vermoëns het wanneer Hy die gasheer “uithelp” en gewone 
	water in die beste wyn verander. Uit hierdie gebeure leer ek dat dit 
	belangrik is om tussen mense te wees, om nie jouself beter te ag as hulle 
	nie, maar met hulle te meng. Woon geleenthede by waarheen jy genooi word en 
	wat vir jou vriende belangrik is. Dalk kan jy boonop nog die geleentheid kry 
	om oor die Here te praat of om iemand te bedien of om iemand te help of raad 
	te gee of dalk net is jy die getuie van 'n wonderwerk. Ek besef ook net dat Jesus hier vir ons wys dat ons mag ontspan, die 
	lewe mag geniet, dat ons mag feesvier en vrolik wees  - dit is ’n gawe uit 
	sy hand, soos wat Pred. 2:24-25 sê: “Die beste ding wat met enige mens kan 
	gebeur, is om te eet en te drink en iets van sy harde werk te geniet. En ek 
	het agtergekom dat ook dit uit God se hand kan kom. Wie kan tog eet en 
	geniet sonder dat God dit toelaat en dit ook goedkeur?” ~ Wilna Botha, 
	19/03/2019 |  
    | 
 |  
    | Toe ek weer die eerste wonderwerk van Jesus in Johannes 
	deurlees (Joh. 2:1-11) val hierdie teks my op: Sy moeder sê toe vir die 
	kelners: “Wat Hy ook al vir julle sê, moet julle doen.” (Joh. 2:5) Jesus 
	verander die water in wyn, maar eers moet die kelners iets vreemd, onlogies 
	en buitengewoon doen, iets wat dalk die wenkbroue gaan laat lig of wat hulle 
	in die moeilikheid  kan laat beland  – hulle moet die kanne wat vir 
	reiningingswater gebruik word, vol water gaan maak. Ek kan nie help om te 
	wonder of ons dalk wonderwerke in ons lewens mis, omdat ons nie dóén wat die 
	Here vir ons sê nie. Dalk is ons bang mense spot ons, dalk dink ons dis té 
	absurd, dalk dink ons ons het miskien verkeerd gehoor. Aan die ander kant 
	kan die Here vir ons sê om net iets eenvoudig te doen, dalk iets heel logies, 
	dalk iets wat jy lankal weet jy moet doen. Lees die wonderwerke en jy sal 
	telkens sien dat Jesus eers vir die mense ’n opdrag gee voordat die 
	wonderwerk volg. Vir die regeringsamptenaar wie se seun genees word, sê 
	 Jesus: “Gaan maar huis toe, jou seun lewe.” (Joh. 4:50) Dis al: gaan huis 
	toe. En die seun is genees. Vir die verlamde man by Betesda, sê  Jesus: 
	“Staan op, tel jou goed op en loop.” (Joh. 5:8) Wat Jesus vir hom sê om te 
	doen klink onmoontlik vir ’n verlamde, maar hy doen dit en hy beleef die 
	wonderwerk. “Laat die mense gaan sit,” (Joh. 6:10) sê Jesus en ’n groot 
	skare mense word gevoed met slegs vyf brode en twee vissies. Eenvoudige 
	opdrag: laat die mense gaan sit. Die blinde man moet homself gaan was in die 
	Siloambad (Joh. 9:7) sodat hy kan sien. Hy moes iets doen, iets heel 
	eenvoudig, hy moes egter sy kant bring om die wonderwerk te beleef. Voor 
	Lasarus uit die dood opgewek word, sê  Jesus: “Rol die klip weg.” (Joh. 
	11:39) Dit was seker ’n vreemde opdrag om die graf na vier dae oop te maak, 
	maar nadat hulle gedoen het wat Jesus vir hulle gesê het om te doen, sien 
	hulle die groot wonderwerk. Nadat die dissipels die hele nag lank geen vis 
	gevang het nie, sê Jesus: “Gooi die net aan die regterkant van die skuit uit.” 
	(Joh. 21:6) Doen iets anders as die gewone, probeer weer en die wonderwerk 
	volg. “Wat Hy ook al vir julle sê, moet julle doen.” Gehoorsaamheid is dalk 
	die sleutel tot ’n wonderwerk in jou lewe. ~ Wilna Botha, 26/03/2019 |  
    | 
 |  
    | “’n Groot klomp mense het agter Hom aangekom omdat 
	hulle die wondertekens gesien het wat Hy aan die siekes gedoen het.” (Joh. 
	6:2) Mens sien en hoor baie keer dat mense groot moeite en koste sal aangaan 
	om by ’n bepaalde kerk of byeenkoms of prediker uit te kom omdat daar 
	oënskynlik allerlei wonderwerke plaasvind – mense staan op uit rolstoele, 
	finansiële probleme verdwyn, besighede word gered, kanker en vele ander 
	siektes word genees. Dan wonder ek of hulle net vir hulleself en die 
	sensasie van die wonderwerk gaan en of hulle gaan omdat hulle werklik die 
	Here lief het en ’n begeerte het om Hom te volg en dien, al gebeur daar nie 
	’n wonderwerk nie. Heel dikwels roep mense na die Here en soek sy 
	wonderwerke wanneer hulle slegte diagnoses oor hulle gesondheid gekry het of 
	wanneer hulle bankrotskap in die gesig staar. Dan wonder ek of hulle waarlik 
	soek na God en of hulle net soek na ’n wonderwerk, net iets tydelik wat nóú 
	uitkoms kan gee. Natuurlik is dit reg om na die Here te hardloop wanneer jy 
	siek, moedeloos of verlore is, maar ons moet Hom nie nét as laaste uitweg 
	opsoek nie. Wanneer jy die wonderwerk beleef, hoop ek dat dit jou geloof sal 
	laat groei, jou met ontsag sal vervul oor Sy grootheid en krag en genade en 
	jou met ’n getuienis in die wêreld sal instuur. As jy nié die wonderwerk 
	beleef nie, hoop ek dat jy Hom steeds sal prys en eer en sal berus in sy 
	antwoord en rustig sal wees in sy teenwoordigheid. ~ Wilna Botha, 28/03/2019 |  
    | 
 |  
    | Wat my opval wanneer Jesus wonderwerke doen, is dat Hy 
	baie keer dít wat beskikbaar en alledaags is gebruik om die wonderwerk te 
	doen; Hy sluit aan by die huidige omstandighede en dit wat reeds dáár is 
	word iets buitengewoon. Kyk nou maar waar die water in wyn verander: die 
	klipkanne en die water wat reeds daar is word buitengewone instrumente tot 
	die wonderwerk. Hy “toor” nie net bottels wyn uit nie, Hy máák die wyn. By 
	die vermeerdering van die brood en vissies word iemand se doodgewone 
	middagete gebruik om duisende te voed. Kos is nodig en Jesus voorsien uit 
	die min wat beskikbaar is sodat almal genoeg het en daar nog oorbly ook. Die 
	mense se honger verdwyn nie net eensklaps nie, Hy máák kos om hulle te voed. 
	Toe Jesus die blinde man aanraak, gebruik hy ’n mengsel van grond en spoeg 
	en smeer dit aan sy oë. Hy buk af en vat van die grond wat alreeds daar is 
	en in Sý hand word dit ’n geneesmiddel. Jesus sê nie net: word gesond nie, 
	Hy máák gesond. So gebruik die Here ook dikwels gewone medisyne en dokters 
	en operasies om genesingswonders te doen – waarvan baie van ons kan getuig. 
	En onthou dat die Here die eer moet kry en nie die dokter of die medisyne 
	nie. Moenie miskyk dat die Here dit wat jy alreeds het, of dit wat sommer 
	net iets alledaags in jou leefwêreld is kan gebruik om wonderwerke in jou 
	lewe te doen nie. Verwag dat Hy dit sal doen, sien raak dat dit Hý is en nie 
	sommer net iets wat toevallig gebeur nie. Loof en prys Hom daarvoor. ~ Wilna 
	Botha, 02/04/2019 |  
    | 
 |  
    | Was jy ook al in situasies waar jy by die Here gesmeek 
	het vir ’n wonderwerk? Was jy ook al só desperaat vir ’n wonderwerk dat jy 
	as’t ware die soom van Jesus se kleed vasgegryp het, soos die vrou wat aan 
	bloedvloeiing gely het, in die hoop dat Sy krag in wonderwerke na jou sal 
	vloei? Dalk het jy al só hard geroep na die Here vir ’n wonderwerk, soos die 
	blinde man in Luk. 18:39, dat die mense jou probeer stilmaak het? Wat my 
	egter opgeval het in 5 van die 8 wonderwerke in Johannes is dat niemand in 
	dié verhale gevra het vir die wonderwerk nie – Jesus het hulle as’t ware 
	uitgekies as ontvangers van Sy wonderwerke. Niemand by die bruilof in Kana 
	het Hom gevra om vir hulle wyn te voorsien nie – Hy het die behoefte en die 
	bruidegom se verleentheid gesien en ingegryp. Die skare wat gevoed is met 
	die twee vissies en vyf brode het nie gevra vir kos of gekla omdat hulle 
	honger is nie – Jesus het omgegee vir hulle en geweet wat hulle op daai 
	oomblik nodig het. Die verlamde by die bad van Betesda het maar net daar 
	gesit en geweet hy sal nie betyds by die water uitkom om genees te word nie. 
	Jesus het hom daar sien lê en vir hom gevra: Wil jy gesond word? Jesus het 
	uit meegevoel vir die man ’n wonderwerk aangebied. So ook die man wat blind 
	gebore is  - Jesus het hom raakgesien en hom genees “sodat die werke wat God 
	doen, in hom gesien sal kan word.” (Joh. 9:3) – sonder dat Hy daarvoor gevra 
	het, sonder dat Hy dit verwag het. Nadat die dissipels ’n hele nag lank geen 
	vis kon van nie, daag Jesus op. Hy weet hulle is moeg en moedeloos. 
	Onverwags sê Hy vir hulle om die net aan die regterkant uit te gooi wat vir 
	hulle ’n groot opbrengs opgelewer het. Hier is ’n nota aan myself: Die Here 
	wéét van my nood en behoeftes en pyn en bekommernis - partykeer moet ek dalk 
	net in stilte vertrou en my oë op Hom gerig hou, sonder eise en sonder 
	verwagting.  ~ Wilna Botha, 04/04/2019 |  
    | 
 |  
    | “Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie in 
	hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen. Maar hierdie 
	wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die 
	Seun van God en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.” (Joh. 
	20:30-31) Daar aan die einde van Johannes sê hy dat daar nog baie goed is 
	wat Jesus gedoen het, maar daar is nie genoeg plek in die wêreld se boeke om 
	dit op te skryf nie. Daar is net 8 wonderwerke opgeteken in Johannes, so ek 
	neem aan hulle is uitgekies omdat elkeen daarvan vir ons iets belangrik oor 
	Jesus leer. Kyk bv. na die eerste wonderwerk: As Hy die water in wyn 
	verander (Joh. 2:1-11) wys Hy dat dit nie die rituele reinigingswater is wat 
	mens skoon maak nie, maar net Sy bloed wat aan die kruis vir ons almal 
	gevloei het en nou vir ons vreugde en lewe in oorvloed gee. Hy verander 
	gewone water in wyn wat die teken word van Sy nuwe verbond met ons.  Dís die 
	wonder-wyn waarvan ons vandag kan drink: “Toe neem Hy 'n beker, en nadat Hy 
	die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle en sê: “Drink almal 
	daaruit, want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en 
	wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes.” (Matt. 26:27-28) Het jy 
	al wyn gedrink uit Jesus se genade beker en die wonderwerk van Sy vergifnis 
	in jou lewe ervaar? ~ Wilna Botha, 09/04/2019 |  
    | 
 |  
    | “Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan 
	glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God en sodat julle deur te glo, 
	in sy Naam die lewe kan hê.” (Joh. 20:31) Dis sekerlik die hoofdoel van 
	enige wonderwerk – om vir ons te wys wie Jesus is, sodat ons in Hom sal glo. 
	So bv. wys die genesing van die amptenaar se seun (Joh. 4:46-54) vir ons dat 
	Jesus dié Geneesheer is wat met die spreek van ’n woord gesond maak; dit 
	bewys dat Jes. 53:5 vervul is: “...deur Sy wonde het daar vir ons genesing 
	gekom.” Wanneer die blinde man die lig sien (Joh. 9:1-7), ervaar hy dat 
	Jesus die Lig vir die wêreld is. Deur hierdie wonderwerk leer ons dat Jesus 
	die een is wat ons geestelike blindheid genees en Sy lig in ons harte laat 
	skyn. “Terwyl Ek in die wêreld is, is Ek die lig vir die wêreld.” (Joh. 9:5) 
	Die mense wat die dag van die vermeerdering van die brood en vis (Joh. 
	6:5-14) voor Jesus gesit het en geëet het van die brood moes besef het: Hy 
	is die brood wat lewe gee, die brood wat vir ewig versadig. Die verlamde man 
	(Joh. 5:1-16) ervaar Jesus as die een wat sonde kan vergeef en ons kan opwek 
	tot ’n nuwe hoop en nuwe toekoms. Wanneer Jesus vir Lasarus uit die dood 
	opwek (Joh. 11:1-44) sien ons en kan ons met sekerheid glo dat Hy die 
	opstanding en die lewe is en dat ons wat geestelik dood is ook opgewek kan 
	word en die ewige lewe kan verkry. Wanneer Jesus op die water  loop (Joh. 
	6:17-21) is dit vir ons duidelik dat niks vir Hom onmoontlik is nie – niks 
	kan hom keer om saam met ons in ons lewensboot te vaar waar Hy ons beskerm 
	en veilig hou. Geen wonder dat Johannes, na die wonderwerk van die 
	ongelooflike visvangs (Joh. 21:1-14) kan uitroep: “Dit is die Here!” En dís 
	ook die sekerheid wat ek in my hart kry wanneer ek die wonderwerke lees en 
	oordink: Dís die Here. ~ Wilna Botha, 11/04/2019 |  
    | 
 |  
    | Soos wat ek die wonderwerke wat in Johannes opgeteken 
	is deurgaan, was dié een van Jesus wat op die see loop (Joh. 6:17-21) vir my 
	anders as die res – die wonderwerk word nie aan mense gedoen nie. Niemand 
	word genees of uit die dood opgewek of gevoed of so iets nie. Jesus loop op 
	die water en dié wonder plaas die fokus op hoe Jesus beheer het oor die 
	natuurwette en dat niks vir Hom onmoontlik is nie. Die wonderwerk gaan egter 
	verder: Jesus het sy dissipels opdrag gegee om in die skuit te klim en 
	solank vooruit te gaan na die oorkant toe. Dit het donker geword, die see 
	het onstuimig geword en hulle moes teen die sterk wind in roei. Hoewel hulle 
	gehoorsaam was aan Jesus se opdrag, was hulle nou bang, verlore en moeg. 
	Jesus daag op wonderbaarlike wyse op, troos hulle met: moenie bang wees nie 
	en klim by hulle in die boot en bring hulle veilig by die oorkant.  Ons voel 
	ook baie keer moeg, uitgeput en moedeloos (al probeer ons gehoorsaam wees); 
	die storms woed, die golwe slaan om ons en ons word benoud. Ons moet egter 
	aanhou roei in die rigting wat die Here gewys het. Byt vas, want kort voor 
	lank sal Jesus by jou in die boot wees. Jy ken mos die sêding: as die nag op 
	sy donkerste is, is die dagbreek naby. Wanneer jy swak is, sal die Here jou 
	sterk maak. Wanneer jy moeg is, sal jy weer met arendsvlerke vlieg. Wanneer 
	dit voel of jy vergaan, sal die Here jou uit die diep water uitlig. Hou moed, 
	binnekort sal die Here met ’n wonderwerk in jou lewe verskyn en sáám met jou 
	in die boot klim. “Hulle was toe gewillig om Hom in die skuit te neem...” (Joh. 
	6:21) – is jy gewillig? Dan sal jy Sy wonderwerke ervaar. ~ Wilna Botha, 
	16/04/2019 |  
    | 
 |  
    | “He is risen from the dead and I will rise when He 
	calls my name...” – so gaan die woorde van die lied “I will rise”. Toe ek 
	dit Sondag in die kerk hoor, het dit my laat dink aan die wonderwerk in Joh. 
	11:33-44 waar Jesus vir Lasarus uit die dood laat opstaan. “Nadat Hy dit 
	gesê het, roep Hy met ’n harde stem: “Lasarus, kom uit!”” Jesus roep sy naam 
	en Lasarus word lewendig ná 4 dae in die graf. Só het die Here ons ook op 
	ons name geroep en ons uit ons geestelike dood laat opstaan om te lewe – nou 
	en vir ewig. Hy het ons op ons name geroep en vir ons lewe in oorvloed gegee 
	– vrede, vreugde, vergifnis. “And I will rise when He calls my name, no more 
	sorrow, no more pain, I will rise on eagles’ wings.” Jesus het gesterwe en 
	betaal vir ons sondes. Hy het opgestaan en roep ons ook uit die graf uit – 
	op jou naam. Ek hoop gedurende die komende Paasfeesvieringe sal jy sommer 
	opnuut hoor dat Hy jou uit die graf van vrees en verlorenheid, van skuld en 
	sonde sal roep en dat jy met nuwe lewe en hoop gevul sal word.  En weet vir 
	seker dat wanneer jy eendag jou laaste asem hier op aarde uitblaas, sal jy 
	ook hoor hoedat Hy jou naam roep en sê: kom uit! Dan sal jy opstaan en die 
	ewige lewe ontvang.  “Toe sê Jesus vir haar: Ek is die opstanding en die 
	lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe in in My 
	glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?” (Joh. 11:25-26) ~ 
	Wilna Botha, 17/04/2019 |  
    | 
 |  
    | Ons sê mos altyd: sien is glo. Wanneer ek in Joh. 9 die 
	wonderwerk lees van die blinde man vir wie Jesus genees het, dan sien ek die 
	teendeel: hy glo en doen wat Jesus vir hom sê en dán sien hy – fisies én 
	geestelik. Hy het maar net daar langs die pad gesit en bedel. Hy het nie 
	eens geweet wie Jesus is nie, nie geweet dat Hy genesingskrag het nie, nie 
	geweet dat Hy jou lewe vir ewig kan verander nie, maar Jesus kies om hom te 
	genees sodat “die werke wat God doen, in hom gesien sal word.” (Joh. 9:3) 
	Die man se blindheid word gebruik sodat almal kan sien wat God vir mense kan 
	doen. Die blinde bevraagteken nie die metodes waardeur Jesus met hom werk 
	nie. Hy aanvaar die onkonvensionele medisynemengsel van spoeg en grond, hy 
	loop gehoorsaam om hom in die Siloambad te gaan was en toe hy terugkom kon 
	hy sien. Mag dit vir ons ook só wees dat ons gehoorsaam volg en doen en glo 
	sodat ons God se werk in ons lewe kan herken, erken en ervaar. Glo en sien!  
	~ Wilna Botha, 24/04/2019 |  
    | 
 |  
    | Die wonderwerk van die blinde man vir wie Jesus genees 
	het is dié wonderwerk in Johannes waaroor daar die meeste gesê word – dit 
	beslaan die hele hoofstuk 9! Een van die gedagtes wat vir my uitstaan in 
	hierdie gedeelte is dat daar nie altyd ’n rede is vir siekte of gestremdheid 
	nie. Baie keer wil mense die voorgeslagte se sondes blameer of die persoon 
	se sondes  - soos die dissipels hier vir Jesus vra: “Rabbi, deur wie se 
	sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s’n?” Ek 
	het al gehoor dat mense sekere siektes aan sekere sondes koppel. Hulle sal 
	bv. sê as jy kanker het, is dit omdat daar onvergewensgesindheid in jou hart 
	is, of as jy hoë bloeddruk het, is dit omdat jy aggressie of een of ander 
	onbelyde sonde het. Dan impliseer hulle as daai sonde bely en laat staan 
	word, sal jy gesond wees. Jesus sê egter die rede vir die man se blindheid 
	is sodat God se werke gesien kan word wanneer Hy die man gesond maak. Ons 
	kan nie altyd die redes vir ons siektes uitlê nie, maar ons kan weet dat die 
	Here ’n groter doel daarmee het. Dalk sodat ons, soos Paulus oor die doring 
	in sy vlees, kan sê dat die Here se genade genoeg is. Ons is nie altyd 
	gevrywaar van siektes nie, ons is nie altyd seker van genesing nie, maar 
	waarvan ons seker kan wees is dat elke genesing wat ons ervaar ’n wonderwerk 
	uit die Here se hand is – of dit nou ’n oombliklike genesing is en of dit 
	deur ’n operasie, deur chemoterapie, deur pille, ’n pleister, salf of wat 
	ook al gebeur. En as ons aan die ontvangkant daarvan is, dan moet dit ons 
	met dankbaarheid en lofliedere en eerbetuigings teenoor die Here laat 
	uitjubel. ~ Wilna Botha |  
    | 
 |  
    | Wanneer Jesus die wonderwerk doen om van 5 brode en 2 
	vissies duisende mense kos te gee, dan lees ons in Joh. 6:13 dat daar 12 
	mandjies vol oorbly nadat almal geëet het. Nou wonder ek: wat het hulle met 
	daai 12 mandjies vol kos gedoen? Dalk vir die mense saamgegee huis toe? Dalk 
	aan die armes gaan uitdeel? Dalk was daar ’n mandjie vol vir elke dissipel? 
	Ek wonder toe verder: hoekom het Jesus dan té veel gemaak? Is dit sodat ons 
	wat dit lees moet besef dat, alhoewel Hy ons leer om te bid vir vandag se 
	brood en alhoewel die Israeliete in die woestyn net genoeg manna vir een dag 
	moes optel, Hy tóg altyd vir ons meer as genoeg gee? Ons het sekerlik almal 
	meer as een dag se brood in ons huise of ekstra geld in on beursies. Is dit 
	om te wys dat Sy genade oorvloedig is? Is dit om ons te verseker dat daar by 
	Hom altyd meer as genoeg is – meer liefde, meer vergifnis, meer aanvaarding, 
	meer vrede, meer versorging? Miskien kan jy self jou eie afleidings maak 
	wanneer jy in jou eie lewe God se oorvloed ervaar.  Ek dink die antwoord lê 
	vêrder aan in Joh. 6 wanneer Jesus sê dat Hý die brood is wat lewe gee en 
	dat dié wat na Hom toe kom, nooit weer honger en dors sal kry nie (Joh. 
	6:35) Nooit nie! Sien jy die oorvloed? Sien jy dat die Geestelike seëninge 
	wat ons van Hom af ontvang nooit sal opraak nie? En dat daar altyd weer 12 
	mandjies vol gaan oorbly? Wat gaan ons met daai “oorskiet” doen? ~ Wilna 
	Botha, 02/05/2019 |  
    | 
 |  
    | “A man with an experience is never at the mercy of a 
	man with an argument.” Hierdie aanhaling het my laat dink aan die genesing 
	van die man wat blind gebore was (Joh. 9). Nadat hy genees is, het die mense 
	hom met vrae bestook: wie, waar en hoe? En hy getuig net rustig oor wat 
	gebeur het: “Die man met die naam Jesus het ’n bietjie klei aangemaak en dit 
	aan my oë gesmeer en vir my gesê: Gaan na Siloam toe en was jou. Ek het 
	gegaan en my gewas en ek kon sien.” (vers 11) Daarna ondervra die Fariseërs 
	hom ook en weer sê hy net wat gebeur het: “Hy het klei op my oë gesit en ek 
	het my gaan was, en nou sien ek.” (vers 15) Hulle bespiegel en wroeg oor 
	Jesus en dan wil hulle by die man weet: “Wat sê jý van Hom?” Hy is ’n 
	profeet, het hy geantwoord. Hulle ondervra sy ouers, hulle ondervra hom weer 
	’n keer, maar sy ervaring, sy eerstehandse belewenis van Jesus se aanraking, 
	sy persoonlike getuienis van wat met hom gebeur het, spreek harder as hulle 
	argumente. “Een ding weet ek wel: ek was blind  en nou sien ek.” (vers26) 
	Dit behoort ook vir ons waagmoed en vrymoedigheid te gee om ons getuienis te 
	deel. Al wat ons hoef te doen, is om te sê wie die Here vir ons is en wat Hy 
	vir ons beteken en wat Hy vir ons gedoen het. Ek was blind en nou sien ek. 
	Ek was verlore en nou is ek gered. Ek was skuldig en nou is ek vrygespreek. 
	Dis genoeg. Want geen argument of redenasie of teorie kan jou persoonlike 
	ervaring met die Here bevraagteken of uitkanselleer nie. ~ Wilna Botha, 
	07/05/2019 |  
    | 
 |  
    | Ek lees vandag die 
	wonderwerk van die verlamde man vir wie Jesus genees het by die bad van 
	Betesda in Joh. 5:1-17. Ek het dit in ’n Engelse vertaling gelees en daar sê 
	dit: “One man was there who had been an invalid for thirty-eight years...” 
	Ek spreek toe per ongeluk “invalid” uit as in-valid wat ongeldig, nie 
	aanvaarbaar, sonder waarde beteken. En toe besef ek dit is dalk hoe baie 
	mense gestremde persone sien: as iemand wat niks kan doen nie, niks beteken 
	nie en nie waarde het nie. Ai, hoe verkeerd is dit nie. Jesus het dit nie 
	gedoen nie en ons durf dit ook nie doen nie. Moenie dink as iemand in ’n 
	rolstoel sit, hy is dom en kan nie ’n intelligente gesprek voer nie. Moenie 
	dink as iemand sukkel om verstaanbaar te praat, hy kan nie homself wonderlik 
	uitdruk as hy sy woorde kan neerskryf nie. As jy dalk met ’n bietjie geduld, 
	bietjie langer probeer om te hoor wat hy sê sal jy agterkom daar skuil dalk 
	’n wonderlike humorsin, fantastiese woordeskat en groot intelligensie. 
	Moenie dink as iemand nie kan sien, hulle is hulpeloos nie – hulle “sien” 
	dikwels baie dinge wat ek en jy heeltemal miskyk deur hulle ander sintuie. 
	Moenie dink as iemand doof is jy kan nie met hom kommunikeer nie – jy kan 
	maar praat en ’n paar gebare byvoeg, jy sal verstaan word. En indien nie, 
	sal ’n glimlag en ’n handdruk van jou kant af boekdele spreek. Moet asb. nie 
	neerkyk op ’n gestremde persoon nie, moenie bang wees om aandag te gee aan 
	’n gestremde persoon of ’n geselsie te probeer aanknoop nie, moenie skaam 
	wees om jou hulp aan te bied as jy sien ’n gestremde persoon sukkel nie – 
	gewoonlik waardeer hulle dit baie. .. en moet beslis nie hulle parkeerplekke 
	gebruik nie! Een van ons gestremde vriende het lank gelede hierdie “Ode aan 
	vriende van gestremde mense” vir my gegee: Geseënd is julle wat 
	tyd afstaanom na ons weifelende spraak te luister,
 want julle help ons besef dat ons verstaanbaar
 kan wees as ons net volhard daarmee.
 Geseënd is julle wat 
	saam met onsin die ope loop en die gestaar van vreemdes ignoreer,
 want in julle geselskap vind ons ’n veilige hawe.
 Geseënd is julle wat 
	ons bystaanwanneer ons nuwe paaie aandurf,
 omdat ons mislukkings geheel oorskadu word
 deur dié geleenthede wanneer ons onsself en julle verras.
 Geseënd is julle wat 
	ons nooit aanjaag nieen nog meer
 julle wat dinge nie uit ons hande neem en dit vir ons doen nie,
 omdat ons meestal eerder tyd as hulp nodig het.
 Geseënd is julle wat 
	ons om hulp vra, omdatons grootste behoefte juis is om te weet
 dat iemand ons nodig het.
 Geseënd is julle wat 
	ons deur al die dingeverseker dat dit wat ons is nie in ons gebrek lê nie,
 nie in ons gekweste senuwees nie,
 maar in die Godgegewe self wat geen gebrek kan inperk nie. ~ Wilna Botha, 
	09/05/2019
 |  
    | 
 |  
    | By die bad van Betesda genees Jesus ’n verlamde man wat 
	saam met ’n klomp ander siekes dag in en dag uit daar gewag het in die hoop 
	dat daar iéts  sal gebeur wat sy lewe kan verander. (Joh. 5:1-17) Sommige 
	siekes het alreeds daar genesing van die Here ontvang wanneer ’n engel die 
	water in beweging gebring het en hulle die eerste was om in die bad in te 
	gaan. Ek lees dat Betesda “huis van genade” beteken – dié plek waarheen 
	siekes gaan om aangeraak en gehelp en genees te word. Geen wonder dat daar 
	gemeentes en klinieke en hospitale is wat hulleself Betesda noem nie. ’n 
	Plek waar die Here teenwoordig is, is altyd ’n huis van genade, want dis wie 
	Hy is – genadige, barmhartige, liefdevolle God. Sy arms is altyd wyd oop om 
	die sondaars en die swakkes en die siekes te verwelkom en te help. En ons 
	kerke en huise - is dít plekke van genade? Is dít plekke waarheen sondaars 
	en swakkes en siekes kan kom om gehelp te word? En ons wat tempels van die 
	Heilige Gees is, is óns ’n huis van genade? Kan sondaars en swakkes en 
	siekes na óns toe kom in die hoop dat hulle met genade en liefde ontvang en 
	gehelp sal word? Onthou Jesus sê: “Vir sover julle dit aan een van die 
	geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.” 
	(Matt. 25:40)  ~ Wilna Botha, 14/05/2019 |  
    | 
 |  
    | Die verlamde man lê by die bad van Betesda en hou sy 
	oog op die water – sy fokus en sy hoop op genesing lê by die bad, sodanig 
	dat hy nie agterkom dat dit die eintlike Geneser is wat langs hom kom staan 
	en met hom praat nie. Dié een wat die oorsprong is van alle genesing vra vir 
	hom: “Wil jy gesond word?” (Joh. 5:6) en hy fokus steeds net op die bad en 
	die water: “Meneer, ek het niemand om my in die bad te sit as die water in 
	beweging kom nie; en terwyl ek aansukkel, gaan iemand anders voor my in.” (Joh. 
	5:7) As jy dalk op die oomblik so desperaat en hopeloos is soos hierdie man, 
	moenie op die verkeerde goed fokus of op mense wag om jou te help en red nie. 
	Die Wonderwerker, die Geneesheer, die Raadgewer, die Helper, die Redder sélf 
	staan langs jou. Hou jou oë op Jesus en vertrou Hóm vir hulp, raad, genesing 
	of waar jou behoefte ook al lê. Vir die verlamde man het Jesus die eerste 
	stap geneem: Wil jy gesond word? Ek glo Hy sal dit vir ons ook doen. Moenie 
	Sy helpende hand mis omdat jy net op die bad fokus nie. Kyk verby jou 
	probleem en sien die Wonderwerker raak. Ek bid dat daar binnekort vir jou 
	uitkoms sal wees. ~ Wilna Botha, 16/05/2019 |  
    | 
 |  
    | In Joh. 4:43-54 lees ons hoedat die regeringsamptenaar 
	se seun, wat dodelik siek was, wonderbaarlik genees word. As 
	regeringsamptenaar was dié man sekerlik iemand van aansien, hy was heel 
	moontlik ryk en het allerlei koninklike voorregte geniet. Tog kon al daai 
	eer en aansien nie keer dat hierdie slegte situasie oor sy pad kom nie. Tog 
	kon sy posisie en al sy geld nie sy seun gesond maak nie. Hy het egter besef 
	dat dit slegs Jesus is wat hom kan help en daarom “verneder” hy homself, 
	“kruisig” hy sy eie krag, sy eie kennis, sy eie vermoëns en kom na Jesus toe 
	met sy versoek. Hy was desperaat en hy het met sy hele hart geglo dat Jesus 
	sy seun kan genees. “Here, kom tog voordat my kindjie sterwe.” (vers 49) Dit 
	het my laat wonder of dit nie baie keer ons eie vermoëns, ons 
	eiegeregtigheid, ons eie kennis, ons eie verwagtinge is wat in die pad staan 
	van ons verhouding met die Here nie. Is ons werklik bereid om alles prys te 
	gee sodat ons voor Hom kan buig om sy aanraking en sy hulp en sy seën te 
	beleef? Sal ons regtig onsself kruisig om Hom te volg? Vir die 
	regeringsamptenaar was Jesus se woord genoeg: “Die man het geglo wat Jesus 
	vir hom gesê het en gegaan.” (vers 50) Is God se woord genoeg vir jou, of 
	móét jy eers die wonderwerk sien voordat jy glo? Is jy gewillig om God se 
	woord net so te aanvaar en daarop te reageer voordat jy dit sien waar word? 
	Die regeringsamptenaar het. En hy het die Here se genade ervaar en die 
	wonderteken gesien. ~ Wilna Botha, 21/05/2019 |  
    | 
 |  
    | Die laaste wonderwerk waarvan ons in Johannes lees is 
	waar Jesus ná sy opstanding aan sy dissipels verskyn by die See van Tiberias. 
	(Joh. 21:1-14) Nadat die dissipels die hele nag lank geswoeg het, maar geen 
	vis gevang het nie, verskyn Jesus aan hulle en sê: “Gooi die net aan die 
	regterkant van die skuit uit, dan sal julle iets kry.” Hulle het dit gedoen 
	en 153 groot visse ingetrek. Johannes het dadelik gewéét dat die man wat met 
	hulle gepraat het Jesus is, want hy het al vantevore ’n soortgelyke 
	wonderwerk gedoen. Lees daarvan in Luk. 5:1-11. By hierdie geleentheid het 
	Petrus-hulle ook die hele nag geen vis gevang nie, maar Jesus stuur hulle 
	terug diep water toe om hulle nette uit te gooi. Hulle volg gehoorsaam en 
	vang soveel vis dat die nette wou skeur. “Toe sê Jesus vir Simon: Moenie 
	bang wees nie. Van nou af sal jy mense vang.” (Luk. 5:10) Nou word hy 
	volgeling van Jesus en ’n visser van mense. Nou verskuif sy fokus van 
	visvang na Jesus en na die verkondiging van die evangelie. Nou word hy die 
	rots waarop die kerk gebou word. Nou preek hy en duisende kom tot bekering. 
	Petrus kan nou verwag om op dieselfde skaal as daai groot visvangs, mense 
	vir Jesus in te bring... wat sou die voorvereiste wees? Hy moes alles net so 
	los en Jesus volg. (Luk. 5:11) Hy moes gehoorsaam wees en doen wat Jesus vir 
	hom sê, selfs al vra dit dat hy in “diep water” moet gaan om mense vir die 
	Here te bereik. Hy moes nie stagneer in sy ou visvang-metodes nie – soms sal 
	dit nodig wees om bietjie verder of dieper te gaan, of om die net aan die 
	ander kant uit te gooi, dit gaan beslis nodig wees om op nuwe maniere na 
	mense uit te reik. Soms sal dit ’n lang geswoeg wees voordat daar 
	uiteindelik vrug op die werk sal wees. Ek glo dat die Here vandag ook vir my 
	en jou sê: “Kom hier! Kom saam met My en Ek sal julle vissers van mense maak.” 
	(Matt. 4:19) Sal jy gaan? ~ Wilna Botha, 23/05/2019 |  
    | 
 |  
    | Ek het oor die afgelope paar weke bietjie gelees en 
	gedink oor die wonderwerke van Jesus en veral dié wat in Johannes opgeskryf 
	is. Aan die einde van die boek sê Johannes dat daar nog baie dinge is wat 
	Jesus gedoen het wat nie opgeskryf is nie. “Maar as dit een vir een beskrywe 
	moet word, dink ek, sou die hele wêreld nie genoeg plek vir die boeke hê nie.” 
	(Joh. 21:25) Johannes-hulle het definitief báie wonderwerke gesien.  Ek dink 
	nie dit geld net vir Johannes se tyd nie, ek glo dit is nóú ook so, ons moet 
	net met oop geestesoë deur ons alledaagse lewe gaan om raak te sien waar die 
	Here beweeg en wonder na wonder laat gebeur. Die rede dat die wonderwerke 
	vir ons in die Bybel opgeskryf is, is sodat ons in Jesus moet glo:  “Maar 
	hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus 
	is, die Seun van God en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.” 
	(Joh. 20:30-31) Kyk hoe dit gebeur het met mense wat Jesus se wonderwerke 
	beleef het: Joh. 2:11 – toe die dissipels sien hoe Jesus water in wyn 
	verander, het hulle tot geloof in Hom gekom. Joh. 4:53 – toe die 
	regeringsamptenaar se seun genees is, het hy en sy hele huisgesin tot geloof 
	in Jesus gekom. Joh. 6:14 – toe die mense sien hoe Jesus die vis en brood 
	vermeerder het, het hulle bely: “Hy is werklik die Profeet, die Een wat na 
	die wêreld toe moes kom. Joh. 11:45 – toe Lasarus uit die dood opgewek is, 
	het baie Jode wat dit gesien het, tot geloof in Jesus gekom. Joh. 21:7 – toe 
	die dissipels die ongelooflike klomp vis vang, kon Johannes nie anders as om 
	uit te roep: “Dit is die Here!” nie. Laat ons ook nie nalaat om die Here se 
	wonderwerkende hand in ons lewens te sien en sodoende te groei in ons geloof 
	nie. Laat ons ook nie nalaat om erkenning aan die Here te gee en te getuig 
	oor Sy werke in ons lewe nie. Wilna Botha, 28/05/2019 |  
    | 
 |  
					| 
	Klik hier vir nog meer 
	heuningdruppels > |  
					| 
 |  
					| Duplisering en verspreiding 
			word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur en webruimte (www.heuning.co.za) |  
						|   |  |