|
|
Daaglikse Heuningdruppels
|
...
soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek (Ps
119:11)
Die daaglikse heuningdruppels is ook op ons
Facebook-groep. Klik hier:
 |
|
Duplisering en
verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na
die outeur (Wilna / Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za) |
|
 |
|
Die
Woord wat die Lewe is
Hierdie is die opskrif van die eerste perikoop in 1 Joh1: 1-4 en ons lees in
vers 1-2 "Van die begin af was Hy daar. Ons het Hom self gehoor; ons het Hom
met ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom
geraak. Hy is die Woord, die Lewe. Die Lewe het gekom; ons het Hom gesien en
is getuie daarvan, en ons verkondig aan julle die Ewige Lewe wat by die
Vader was en aan ons geopenbaar is."
Wat 'n onbeskryflike getuienis: Ons het Hom self
gehoor, Hom gesien en aan Hom gevat. In enige hof sal so 'n sterk
eerstehandse getuienis geweldig baie gewig dra, want dis nie gebaseer op
hoorsê, of woorde op 'n afstand nie. Johannes het selfs aan Hom gevat, en
daarom hierdie dringende getuienis wat hy ten alle koste wil uitdra. Hy
probeer sê, al het jy nie aan Hom gevat, of Hom gesien nie, ék het en daarom
kan jy dit glo. Dan sê hy "Hy is die Woord, die Lewe".
Ek en jy het Hom dalk nie gesien nie maar ons sien elke dag Sy werke, ons
ervaar Sy nabyheid deur die Heilige Gees, ons word aangeraak en verander,
ons Geestesoë gaan oop as ons die Bybel lees, en ons word by die dag meer en
meer bewus van Sy aanraking. Daarom is ons ook eerstehandse getuies en dra
ons woorde ook geweldig baie gewig. Kom ek en jy skree dit ook uit met ons
lewens, met ons leefstyl en met ons woorde: Hy is die Woord, die Lewe! Dan
lees ons in Vers 4: "Dit skryf ons sodat ons blydskap volkome kan wees".
Die wêreld het hierdie woorde SO nodig. ~Willem Botha, 30/06/2016 |
|
“As ons beweer dat ons nie sonde het nie,
mislei ons onsself en leef ons nie volgens die waarheid nie.” (1 Joh 1:8)
Die Bybel sê elders ook dat ons almal gesondig het (Rom 3:23), dat die hele
wêreld vasgevang is in die greep van die sonde (Gal 3:22), dat almal
ontaard het en dat daar niemand is wat goed doen nie (Rom 3:12). Ons sonde
maak ‘n muur tussen ons en God, want God se standaard vir ons is dat ons
volmaak moet wees. Hy sê: wees heilig, want Ek is heilig. Ons kan nie op ons
eie daarby uit kom om heilig te wees nie, ons kan nie onsself red nie, ons
natuur is om te sondig. Selfs Paulus sê in Rom. 7:17-23 hoedat hy sukkel
teen sonde. Ek hoor partykeer dat mense sê ons as Christene moet onsself nie
sondaars noem nie, want Jesus het ons vergewe. Dis waar, maar as ons nie
besef hoe groot ons sonde was en is nie, dan sal ons nie besef hoe nodig ons
Jesus het nie, hoe nodig ons Sy verlossing en vergifnis het nie, hoe nodig
dit was dat Hy die offer vir ons sonde moes bring nie, hoe nodig dit was dat
Hy die prys vir ons oortredinge moes betaal nie. Ons moet soos die tollenaar
in Luk. 18:13 uitroep: “Wees my sondaar genadig,” en soos Paulus: “Ek,
ellendige mens! Wie sal my van my doodsbestaan verlos?” Dan kan ons in
dankbaarheid uitjubel: “ Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus
ons Here.” (Rom 7:25) ~ Wilna Botha, 03/07/2016 |
|
Jammer
Here
Hierdie volgende teks is een van die bekendste tekste in die Bybel, en het
geweldig impak, maar tog 'n teks waarin soveel opgesluit is dat ons vir eeue
daaroor kan redeneer. Ek dink ek verstaan sy volle impak seker minder as 1%.
1 Joh1:9 "Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy
vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid."
Ek dink daar is egter net soveel wat mens verkeerd kan verstaan en ek het
lank hieroor geworstel. Wat gebeur
met iemand wat sy eie lewe neem? Is hy dan verdoem, want hy kan nie vir
oulaas vergifnis vra vir sy daad nie? Nee, inderdaad is dit nie waar nie. As
ons tot bekering kom, is ons vir ewig gereinig van alle ongeregtigheid, soos
vers 9 vir ons sê, nie net vir die insident nie want Jesus se belofte van
vryspraak geld lewenslank.
Dink so daaraan, ek en vroulief is donkiejare getroud en leef onder ons
huweliksbelofte wat ons aan mekaar beloof het. Maar kom ons sê ek maak more
droog en sy is vies vir my, dan bly ons steeds getroud. Geen insident kan
dit breek nie. Maar as ek vir haar sê ek is jammer, trou ons nie gou weer
nie, die verhouding word net herstel.
Net so met sondevergifnis. As ek vergifnis vra vir die Here kom ek nie weer
tot bekering nie want dit staan reeds vas, maar die verhouding word herstel.
Nee, Hy was nie kwaad vir my nie, maar ek kan weer met vrymoedigheid in Sy
troonkamer voor Hom verskyn. Die wonderlike is dat Hy altyd, vir ewig
daardie verskoning aanvaar. Hy hou niks ooit teen jou nie.
Laat my dink aan my ma wat graag gesê het dis sleg as sy en my pa woorde
gehad het, maar die opmaak daarna was altyd so lekker. ~ Willem Botha,
04/07/2016 |
|
Ek onthou so klompie jare gelede was die armbandjies
met “WWJD” daarop geborduur baie gewild. What would Jesus do? Almal het dit
gedra sodat dit hulle gereeld kon herinner om hulleself in elke situasie af
te vra hoe Jesus in daai omstandighede sou optree. Baie het die bandjie
gedra en dit het ‘n verskil in hulle lewens gemaak. Baie het die bandjie
gedra en vergeet wat die betekenis daarvan was. Die bandjie-gier het verdwyn,
miskien omdat mense bewus geraak het van hulle tekortkominge in hierdie
opsig, of dalk het hulle moeg geraak om altyd goed en reg op te tree, of
dalk het iemand hulle “uitgevang” dat hulle nie volgens die “WWJD”- beginsel
opgetree het nie. Ons as Christene moet egter daai “wat sou Jesus doen?”-
vraag op ons harte gegraveer hê en in ons gedagtes ingeprent hou. Dit
behoort die outomatiese riglyn van ons lewens te wees. 1 Joh. 2:6 sê: “Ons
moet dus nie net praat oor wat Hy wil hê nie. Ons moet elke dag daarvan werk
maak om presies so te leef soos Jesus geleef het.” Dis wat die Here van ons
verwag en dis ’n lewenswyse wat Hóm sal behaag. Kom ons streef daarna met
hart en siel en verstand. ~ Wilna Botha, 05/07/2016 |
|
Wie is
my broer?
Ek kan jou nie sê hoe ek met hierdie woorde in 1Joh 2:11 sukkel nie. "Maar
wie sy broer haat, is in die duisternis en lewe in die duisternis en weet
nie waar hy gaan uitkom nie, omdat die duisternis hom blind gemaak het."
Ek wil graag vandag bely dat ek nie hoop dat elke mens wat my pad kruis, of
in my leefwêreld inkom, of aan wie ek blootgestel word, as "my broer"
geklassifiseer kan word nie, want dan is ek in die verdoemenis. Want dan
word ek veroordeel
elke keer as ek die nuus kyk, of op die pad ry, of as ek in die winkels
loop.
Ek dink ek het selektief begin raak oor wie ek wil liefhê, want dit is
vreeslik maklik om sommige mense lief te hê en ander is vir my baie moeilik.
Jy sien, God stel nie hier net voor dat ons ander moet liefhê nie, dis 'n
opdrag, en 'n bykans onmoontlike een daarby. Miskien wil Hy vir ons sê: Wees
vir almal lief vir wie Ek lief is. In vers 10 staan daar "Wie sy broer
liefhet, bly in die lig, en daar is niks wat hom laat struikel nie".
Ek lees hier tussen die lyne dat dit baie moeilik sal wees, maar dis steeds
wat God van my verwag, al hou ek nie daarvan nie. Mag die Here hierdie hart
van klip uitpluk en vervang met 'n hart van vlees. ~ Willem Botha,
06/07/2016 |
|
Die
wêreld en sy dinge.
Ek wonder soms of ons besef hoe verkeerd dinge geloop het met die sondeval.
Die Here het die heelal geskep met die bedoeling dat dit 'n plek moet wees
waar die mens in liefde en harmonie moet bly, 'n plek van volmaaktheid. Toe
kom die mens en verwoes alles met sonde. En laat ons nou maar nie vir Adam
en Eva die skuld gee nie, as dit nie hulle was nie, was dit ek en jy.
Die lewe op aarde het verander van 'n volmaakte speelpark, na 'n plek van
verderf.
Soveel so dat God sê ons moet nie lief word vir die dinge van hierdie wêreld
nie.
1 Joh 2:15-17 "Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê
nie. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie.
Die wêreldse dinge – alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien
en begeer, al sy gesteldheid op besit – kom nie van die Vader nie, maar uit
die wêreld. En die wêreld met sy verleidelike dinge gaan verby, maar wie die
wil van God doen, bly ewig lewe."
Sjoe, dis bitter moeilik, en elke dag sal 'n stryd wees om deur te worstel,
want ons kan nie net doen wat ons wil nie. Dis ironies dat so baie dinge wat
lekker is om te doen, soveel moeilikheid veroorsaak. Dit is nou maar so, die
lewe van 'n Christen is nie altyd maklik nie, want ons moet leef volgens
ander standaarde, maar die beloning is so groot.
Vers 17 b sê dit duidelik:... maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe.
~ Willem Botha, 07/07/2016 |
|
“Julle is egter deur
die Heilige Gees gesalf en julle ken almal die waarheid.” (1 Joh. 2:20) Wie
is só bevoorreg om met die Heilige Gees gesalf te wees? Dis ek en jy, liewe
vriend, ons wat Jesus in ons lewe ingenooi het, ons wat Hóm as Here en
Verlosser aanvaar het, ons wat Sy kinders geword het omdat ons in Hom glo.
Baie mense wag en verlang en bid vir 'n besondere salwing met die Gees, maar
ons kan vir seker weet dat ons dit alreeds ontvang het. Vers 27 sê ook dat
die Gees waarmee ons gesalf is, IN ons bly – God self het sy intrek in ons
gemaak. Dís groot en heilig. Om gesalf te word beteken om heeltemal
ingesmeer en ingevryf te word met salf of olie; só is die salwing van die
Heilige Gees ook – dit deurtrek ons hele lewe, dit versprei 'n heerlike geur
en dit vul ons met vreugde, vrede, kennis en insig. Die Boodskap se
vertaling van vers 27 is: Die Heilige Gees is julle onderwyser en gids in
alles wat waar is. Omdat die Heilige Gees ons vol maak met God se
teenwoordigheid ontvang ons die onderskeidingsvermoë, die natuurlike
aanvoeling om die verskil te ken tussen reg en verkeerd, tussen goed en sleg,
om te weet wat God se wil is en om die wysheid te hê om daarvolgens te lewe.
Die Bybel sê ons moenie die Gees se werking in ons lewe weerstaan nie. Kom
ons leef as gesalfdes, as gelowiges wat 'n lieflike geur versprei, as
gereddes wat weet dat die Heilige Gees sy hand spesiaal op ons gelê het. ~
Wilna Botha, 10/07/2016 |
|
Die antichris
As ek van die Antichris hoor voel dit elke keer of my bene so effe lam wil
word want dit voel of die wêreld verby is as hy die dag opdaag. Lees 1 Joh
2:18 - 27 en jy sal sien dat Johannes so effe van 'n ander hoek op hierdie
saak sit.
1 Joh 2:18 "Kinders, dit is die laaste uur. Julle het gehoor dat daar 'n
antichris kom; en daar is nou reeds baie antichriste. Daaruit weet ons dat
dit die laaste uur is."
Johannes noem inderdaad dat dit reeds die laaste uur is en dat daar 'n
Antichris gaan kom, maar dan vat hy dit verder as hy sê dat daar reeds baie
antichriste tussen ons is. Hierdie gedagte is meer skrikwekkend as die dag
wat die Antichris, soos in Openbaring beskryf word, gaan kom.
Dan gee hy in vers 22-23 'n beskrywing van die Antichris wat my eintlik bang
maak: "Wie is die leuenaar anders as hy wat nie wil erken dat Jesus werklik
die Christus is nie? Hý is die antichris, hy wat nie die Vader en die Seun
wil erken nie. Wie nie die Seun erken nie, verwerp ook die Vader; wie die
Seun erken, erken ook die Vader."
Sjoe, hulle is tussen ons, ons rolmodelle, dalk 'n broer of suster, jou
gunsteling sanger, miskien 'n goeie vriend, dalk jou kind, of selfs 'n
geestelike na wie jy op 'n tyd opgekyk het. En weet jy, dis dan wat ek hard
in my diepste binneste gaan rondkrap of dit nie dalk ek self is nie. Glo ek
werklik nog dat Jesus nie net 'n historiese figuur was nie? Erken ek werklik
die Vader en die Seun? Is ek seker dat ek nog glo dat ek vir Jesus as
Saligmaker nodig het? Of het ek dalk al so gewoond geraak aan genade en aan
my Christenskap dat ek eintlik weggedryf het van Hom af? Het sondes dalk al
so maklik en gemaklik geword dat ek okay is om nie daarteen te veg nie?
Hierdie is vir my skrikwekkende gedagtes, en dit laat my sommer nou, terwyl
ek hier skryf, weer selfondersoek doen. Daarom bid ek sommer nou: "Here,
vergewe my dat ek so lou geword het, en help my om opnuut weer nader aan U
te kom, en dankie dat U my met op arms
verwelkom." ~ Willem Botha, 11/07/2016 |
|
“Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het:
Hy noem ons kinders van God en ons is dit ook.” (1 Joh. 3:1) Ons is nóú
reeds kinders van God, sê vers 2! Jesus se bloed het verseker dat ons
bloedfamilie van God geword het. Net soos die pa van die verlore Seun,
ontvang die Here ons met oop arms, net soos ons is, vuil en besmet met sonde.
Net soos die pa van die verlore Seun vergeet Hy van ons oortredinge, bedek
Hy ons met 'n kleed van liefde, gee Hy vir ons die beste. Net soos die pa
van die verlore Seun berei die God van die heelal vir ons 'n feesmaal voor
en sê Hy: hierdie seun van my was dood en hy lewe weer; hy was verlore en ek
het hom teruggekry. Dis God se liefde vir my en jou wat dit alles doen. Dis
God se liefde wat onbeperk en onbegrens en onvoorwaardelik is wat ons Sy
kinders maak. Ons is uit God gebore (sê Joh. 1:13), daarom is ons fisies Sy
kinders. Ons is deur God aangeneem (sê Gal 4:5) daarom is ons wetlik Sy
kinders. Ons ís Sy kinders met al die regte en voorregte wat daarmee
saamgaan! “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hóm glo, het Hy
die reg gegee om kinders van God te word.” (Joh. 1:12) ~ Wilna Botha,
12/07/2016 |
|
“Iemand wat in Hom bly, hou nie aan met sondig nie.” (1
Joh. 3:6) Die Bybel is hier in 1 Joh. 3 baie duidelik daaroor dat ons moet
wegbly van sonde, dit moet uitroei in ons lewe en dat ons 'n rein lewe moet
lei. Ons liggaam is mos nou die tempel waar die Here deur Sy Gees woon en
daarom moet ons skoon, rein en heilig wees sodat Hy tuis en welkom kan wees
by ons. Iemand wat 'n kind van God is, mag nie meer 'n gewoonte van sonde
maak nie. Ons moet alles in die stryd werp om daarteen te kies, om weg te
draai van enige versoekings, om goeie keuses te maak en om ons gedagtes
liewer te vul met alles wat waar, edel, reg, rein, mooi en prysenswaardig
is. Luister vandag as Jesus vir jou sê: “... gaan maar en moet van nou af
nie meer sonde doen nie.” (Joh. 8:11) ~Wilna Botha, 13/07/2016 |
|
Pay it forward
Daar was 'n klompie jare gelede 'n film met die titel "Pay it forward". Dit
het daaroor gegaan dat mense aan wie 'n goeie daad bewys is, ook 'n goeie
daad aan 'n volgende persoon moes bewys. Die gedagte is so pragtig en ons
samelewing het dit so nodig. Kan jy dink hoe wonderlik dit sal wees as almal
op aarde dit sou doen? Daar sou geen armoede wees of slegte verhoudinge wees
nie. Deel net die bietjie seëninge wat jy ontvang met ander. Nou kyk nou hoe
mooi word dit
in die Bybel uitgespel met twee tekste wat op 'n verrassende manier met
mekaar verbind kan word. Let op die plekke waar dit geskyf is, nl Joh 3:16
en 1Joh 3:16. Toevallig?
Joh 3:16 “God het die wêreld
so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie
verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê". Hier staan dit duidelik
dat Jesus Sy lewe vir ons afgelê het, sodat ons nie verlore sal gaan nie.
Kyk nou wat staan in 1Joh 3:16 "Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy
lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê".
Wow! Sien jy die "Pay It forward" gedagte? Jesus het dit vir ons gedoen, kom
ons doen dit nou aan ander.
Gelukkig hoef ons nie vir ander aan 'n kruis te sterf nie want dis nou klaar
gedoen, maar hierdie teks vra opoffering, en om iets van jouself te gee.
Dalk tyd, geld, ondersteuning, dalk om vir ander te bid, maar om te doen en
gee tot 'n mate dat ons dit sal voel.
En hier kom die uitvloeisel waarvan Johannes hier praat.
1Joh 3:17 "Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen
gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees?"
Sien jy dat die wêreld sommer 'n baie beter plek sou wees as ons almal die
"Pay It forward" beginsel sou toepas? Al wat dit vra is liefde, wat immers
'n keuse is. ~ Willem Botha, 14/07/2016 |
|
The mind of Christ
Jare gelede vertel 'n vriend dat hy op 'n teks in 'n Engelse vertaling
afgekom het wat met hom gespreek het. 1 Kor 2:16 "Who knows the mind of the
Lord? Who is able to give Him advice? We, however, have the mind of Christ"
In 1 Joh 3:24 staan "Wie Sy gebooie gehoorsaam bly in God en God in hom.
Hiéraan weet ons dat Hy in ons bly: Hy het ons sy Gees gegee." 1Joh 3:18 sê
dat ons liefde nie net lippetaal moet wees nie, maar dat dit met dade bewys
moet word.
Maar hoe kry ons dit reg? Die teks in 1 Kor 2:16 sê: "We have the mind of God", en 1 Joh 3:24 sê "Hiéraan weet ons dat Hy
in ons bly: Hy het ons sy Gees gegee."
Wanneer ons vervul
is met die Heilige Gees, dink ons soos wat Hy wil hê ons moet dink, en doen
ons soos wat Hy wil hê ons moet doen. Sy hele wese is liefde en dit lees ons
in 1 Joh 4:8 "... God is liefde."
As ons Jesus dan aangeneem het, en ons het die Heilige Gees ontvang, kan ons
mos glo dat Hy ons sy Gees gegee het, en kan ons leef vanuit die gedagte
van: "We have the mind of God."
Die grootste gebod is die liefde, liefde vir God, liefde vir ons naaste en
ja ook liefde vir onsself. As God aan ons dink, dink Hy nie aan ons sondes
nie, maar aan Sy liefde vir ons. Hierdie deel herinner my dat ek nie aan
ander op enige ander manier moet dink as met liefde nie. As ek dan die Gees
van God het, moet ek so optree en met ander handel soos wat Hy dit doen. Ek
moet my menslike brein programmeer om altyd eers te dink hoe "God's mind"
sou dink voor ek handel. Mag die Here op hierdie manier ons denkwyses totaal
oorheers, en mag ons in enige insident hiervolgens handel. ~ Willem Botha,
17/07/2016 |
|
“Liewe vriende, moenie enige persoon glo wat beweer hy
sê dit of dat onder die invloed en leiding van die Gees nie. Ondersoek en
toets eers hierdie “geestesuitsprake”. Kyk of die oorsprong daarvan regtig
by God lê; die wêreld is vol vals profete.” (1 Joh. 4:1, Die Boodskap) In
ons dag en tyd met onbeperkte internetbronne, hordes boeke in 'n
verskeidenheid boekwinkels, Christelike TV-kanale en duisende DVD’s en CD's
met preke op is ons baie blootgestel aan mense se menings en uitsprake. Ons
moet leer om nie alles wat ons hoor en lees vir soetkoek op te eet nie. As
iemand sê: “Die Here het gesê ...”, dan moet ons dit toets aan die Woord en
om dit te kan toets aan die Woord, moet ons seker die Woord ken en bestudeer
en moet ons by betroubare, standvastige predikers leer. Vals profete se
boodskap is dikwels baie gewild, dit sê wat mense graag wil hoor, dit roep
hulle nie op tot bekering en berou nie, dit paai hulle en praat hulle
wêreldse lewenstyl goed, dit spreek nie mense se sonde aan nie, dit laat
hulle net goed voel oor hulleself. Die vals profete sal dikwels “nuwe”
openbarings verkondig, iets wat vars en nuut klink, maar wat dalk sy eie
verdigsels is en vir sy eie gewin (dikwels finansieel) verkondig word. Vertrou
gerus maar daai sagte stemmetjie aan jou binnekant wat jou ongemaklik maak
wanneer iemand sê die Here het dit of dat vir hom gesê. As kind van God hét
jy Sy Gees in jou wat vir jou hierdie onderskeidingsvermoë kan gee. Bid
gedurig en vra die Here vir geestelike wysheid en insig. “... so kan ons
weet wanneer ons met die Gees van waarheid te doen het en wanneer die gees
van bedrog en misleiding aan die werk is.” (1 Joh. 4:6) ~ Wilna Botha,
18/07/2016 |
|
“...
for the Spirit in you is far stronger than anything in the world,” so sê 1
Joh. 4:4. Niks, maar níks, is groter en sterker as God nie. God woon ín ons,
Hy is aan ons kant en daarom hoef ons geen ander krag, mag of gesag te vrees
nie. God is vir ons, wie kan dan teen ons wees? Wie of wat kan ons onderkry?
Die krag wat alles oortref kom van God af en daai krag is in ons beskikbaar
– dít is die skat wat ons in ons het waarvan 2 Kor. 4:7 praat. Dit is die
krag wat jou oor 'n muur laat spring, wat jou enige reus laat oorwin, wat
jou op die water laat loop. Dit is die krag waardeur ek en jy tot alles in
staat is. Dit is die krag
wat ons vrymoedigheid en
deursettingsvermoë gee. Dit is die krag wat ons regop laat bly, laat moed
hou en ons energie gee om te volhard. Dit is die krag wat ons die geduld en
hoop en geloof gee om in alle omstandighede vorentoe te beweeg en die groter
prentjie, God se prentjie, te sien. “Verder bid ek ook dat julle sal
agterkom dat die krag van God wat in ons werk sterker as enigiets anders is.
Ons het gesien hoe geweldig groot daardie krag regtig is toe God Jesus uit
die dood laat opstaan en vir Hom die belangrikste plek in die hemel gegee
het. Daardie selfde krag werk ook in ons as Christene.” (Ef. 1:19-20, Die
Boodskap) ~ Wilna Botha, 19/07/2016 |
|
'n Ewige woonplek
Ek het al so baie keer die vraag gehoor: Wie sê die Christene is alleen reg
en dat net hulle hemel toe sal gaan? Wel, daar kan lank daaroor geredeneer
word want baie van die ander gelowe praat ook van 'n plek wat hulle dan
hemel of hiernamaals noem. Voorts moet ons natuurlik vra wat 'n Christen is
en of alle mense wat hulleself Christene noem hemel toe sal gaan. Hieroor
kan ons nogal lank redeneer want mense se definisie verskil, maar kom ons
begin by die gedagte
dat 'n werklik wedergebore Christen, wie sy hart vir Jesus gegee het en glo
dat die bloed van Jesus vir hom verlossing bring, wel na sy aardse afsterwe
hemel toe gaan.
Maar wat is hemel? Is daar net een? Is daar
dan 'n hiernamaals vir verskillende gelowe, of is daar maar net een "hemel"
met verskillende paaie daarheen, soos wat jy 'n koppie kan klim, bo kan
uitkom, maar een van verskeie paadjies daarheen kan neem? Hierdie is egter
'n baie gevaarlike ding om te glo en hoegenaamd nie in lyn met die Bybel nie.
Voorts maak die Bybel net voorsiening vir een so 'n plek en dit is waar
Christus heers en vir ons plek berei. Ongelukkig probeer baie ander gelowe,
of selfs "christene" hierdie konsep te kaap. Die Bybel is baie duidelik
daaroor dat geen pad soontoe moontlik is behalwe deur Jesus Christus nie.
1 Joh5:10-13 "Wie in die Seun van God glo,
besit die getuienis in sy hart; wie God nie glo nie, maak Hom tot leuenaar,
omdat hy nie die getuienis glo wat God oor sy Seun gelewer het nie. En die
getuienis behels dít: God het ons die ewige lewe gegee, en dié lewe is deur
sy Seun. Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie,
het ook nie die lewe nie. Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan
weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo."
Wie sê die Christene is dan alleen reg? God sê so, die hemel is Sý woning,
dis Hý wat die pad soontoe moontlik maak sodat ons vir altyd by Hom kan woon,
die deur na die Lewe is Sy Seun Jesus Christus en Hy maak dit vir ons
moontlik deur geloof in Sy Seun. En God self is die getuie daarvan. Daar is
geen agterdeur om in te glip nie, geen plek vir mense wat dit wederegtelik
"claim" nie en geen toegang deur 'n ander "model" nie. Dis 'n Heilige plek
wat jy nie deur verdienste kry nie, maar daar is onbeperkte plek en toegang
vir mense wat Jesus aangeneem het. ~ Willem Botha, 20/07/2016 |
|
“Elkeen
wat glo dat Jesus die Christus is, is 'n kind van God; en elkeen wat vir die
Vader lief het, het ook die ander lief wat kinders van die Vader is.” (1 Joh.
5:1) Noudat ons so stukkie vir stukkie deur 1 Johannes werk, is dit só
opvallend dat hierdie boodskap oor en oor herhaal word: ons is kinders van
God, Hy het ons lief het en daarom moet ons ook mekaar moet liefhê. As mens
vir iemand vra watter Bybelgedeelte by uitstek oor die liefde praat, sal
hulle dalk sê 1 Kor. 13. Ons kan beslis 1 Johannes daarby voeg. Ons hoor
hier oor en oor hoe lief die Here ons het en weer en weer word ons
aangespoor en vermaan om mekaar lief te hê, om ons liefde prakties sigbaar
te laat word, om sodoende vir die wêreld te wys dat ons kinders van God is.
Die vers wat egter wat vir my uitstaan is 1 Joh. 4:8: “God is liefde”. Dis
die kern van die boek en die kern van die evangelie en ook die kern van ons
lewe. God het nie net lief nie, Hy ís liefde. Dit is sy karakter en niks kan
dit verander nie. Sy liefde is onbegrens en onbeperk en oneindig. Sy liefde
is onafhanklik van jou prestasie en Hy het jou lief, ongeag jou sonde,
gebreke en liefdeloosheid. Hy het jou lief en jy kan niks doen om dit te
keer nie!
“Berge kan padgee, heuwels kan wankel, maar My liefde vir jou sal nooit
verdwyn nie.” (Jes. 54:10) ~ Wilna Botha, 21/07/2016 |
|
'n Wonderlike uitnodiging
Dis vir my 'n reuse voorreg om só 'n verhouding met my kinders te kan hê dat
hulle enige tyd kan kom aanklop vir hulp en raad, en ons is daar vir mekaar.
Dit spruit uit 'n hegte verhouding wat oor jare in ons gesin tot stand gekom
het. Kyk nou net hierdie pragtige uitnodiging wat die Here aan ons rig.
1 JOH 5:14 - 15 "En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons
gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra. En aangesien ons weet dat
Hy ons gebede verhoor as ons iets só vra, weet ons ook dat ons kry wat ons
van Hom vra."
Toe Jesus sterf aan die
kruis en die voorhangsel skeur, het ons hierdie oop deur verwerf, en kan ons
enige enige tyd met vrymoedigheid by die Here gaan aanklop, en Hy sal al ons
behoeftes en gebede aanhoor. Hierdie stukkie sê dat Hy vir ons sal gee wat
ons volgens Sy wil vra.
Wel, weens ons en ons
kinders se verhouding het hulle nooit dinge gevra wat hulle geweet het nie
goed of heilsaam vir hulle sou wees nie, en indien dit dinge was wat wel
volgens ons nie goed sou wees nie, het hulle 'n "nee" aanvaar, al het hulle
soms dit moeilik verstaan.
So kan ons enige tyd by God
gaan aanklop, en Hy sal met groot liefde ons aanhoor en ons gee wat ons
nodig het. Dus, gaan praat met die Here, stel jou saak, vra wat jy moet en
weet dat Hy net sal toelaat wat tot jou heil is. En dít is hoe ons in 'n
liefdevolle verhouding met Hom kan staan. Die deur is oop. ~ Willem Botha,
24/07/2016 |
|
“Ons weet dat iemand wat uit God gebore is, nie meer
sondig nie, maar die Seun van God bewaar hom en die duiwel kry geen houvas
op hom nie.” (1 Joh. 5:18) Dit is so dat elke sonde by 'n gedagte begin wat
jou aanlok en saamsleep totdat dit uiting vind in 'n verkeerde woord of daad.
Soms gebeur dit in 'n oogwink, ander kere broei dit lank. “Soos 'n kind wat
agter 'n skoenlapper aanhardloop, lok die verkeerde gedagtes die persoon al
hoe dieper in die moeilikheid in.” (Jak 1:14-15, Die Boodskap) Sonde maak
as’t ware 'n klein krakie oop waardeur ons heiligheid uitsypel en die duiwel
sy vatkans kan kry. Ons moenie met verkeerde gedagtes of woorde of dade vir
die duiwel 'n deur oopmaak nie. Ons is skoongewas deur die bloed van Jesus
en ons is in staat om die bose weerstaan, sodat hy van ons sal wegvlug. Hoe
gouer jy die keuse teen daai verkeerde gedagte maak, hoe minder skade en
gevolge sal daar wees. Jesus het ons lewe kom skoonmaak – Hy sal ons help om
ons lewe aan die kant te hou. ~ Wilna Botha, 25/07/2016 |
|
Die laaste woorde
Ek het
onlangs na 'n film genaamd Flight 93 gekyk, wat gebaseer is op die 911
gebeure in Amerika in 2001. Hierdie vliegtuig was ook gekaap, maar die
passasiers het probeer om die terroriste te oorrompel. Ongelukkig het die
vliegtuig geval en almal is oorlede. Terwyl die drama afgespeel het, het van
die passasiers oproepe na hulle geliefdes by die huis gemaak deur middel van
radiotelefone op die vliegtuig.
Die laaste woorde van elkeen was: "Ek is lief vir jou." Dit lyk vir my
hierdie is die grootste behoefte wat die mens het, en dis ook die heel
belangrikste element van ons menswees en eintlik wil almal dit hê en gee.
Ons het die afgelope tyd deur 1 Johannes gewerk en die een deurlopende
boodskap was: God is lief vir jou, en julle moet mekaar liefhê. Dit laat my
ook dink aan die grootste gebod wat opgeteken is, asook "Nou bly geloof,
hoop en liefde, en die grootste hiervan is die liefde."
Terug na
die vliegtuig storie. Almal wou hulle geliefdes agterlaat met die sekere
wete van hulle liefde. Ek het nog nooit ooit in my lewe gehoor dat iemand se
laaste woorde aan 'n sterwende was: Dankie vir die baie geld wat jy vir ons
gemaak het, of dankie vir die groot hoogtes wat jy by die werk bereik het,
of dankie vir die mooi goeters wat jy vir ons gegee het, of dankie vir die
vet erfporsie wat wag nie. Nee, die woorde "Ek is lief vir jou", het meer
betekenis as enigiets op hierdie aarde.
Sê jy dit gereeld genoeg? Hoor jy dit genoeg? Hoor jou kinders, man, vrou,
pa en ma, vriende, broer en suster dit genoeg? En hoor die Here dit genoeg?
As jy die Woord lees sal jy sien Hy sê dit genoeg vir ons. Goeie laaste
woorde, maar beter as dit gereeld gebeur. ~ Willem Botha, 26/07/2016 |
|
Klik hier vir nog meer
heuningdruppels > |
|
Duplisering en verspreiding
word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur en webruimte (www.heuning.co.za) |
|
|