Daaglikse Heuningdruppels

 


... soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek (Ps 119:11)

Die daaglikse heuningdruppels is ook op ons Facebook-groep. Klik hier:


Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Wilna / Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)


MY 18 G's VIR 2018


Nou ja, daar is die derde Maandag van die jaar al amper verby. Op die eerste Maandag het ons almal vir mekaar allerhande mooi seëninge toegewens vir die nuwe jaar. Ek het ook ’n klomp wonderlike woorde ontvang van oraloor. Op die tweede Maandag het ek verjaar en toe is dit wéér ’n stroom seëninge en gebede wat oor my uitgespreek word. Dit het my opgeval dat ’n klomp van dié woorde met ’n “G” begin, soos bv. geseënd, gesond, gelukkig, genade, groots, goedheid, guns, genot, Geesvervuld, ens.! Toe besluit ek net daar en dan dat 2018 ’n “G” jaar gaan wees en skryf toe so 18 G’s neer vir my jaar! As mens “G” sê, dan sê jy “gee”.  Om te gee, moet dan seker my eerste G vir die jaar wees. Ek moet bely dat ek nie altyd ewe geneë is om van my geld of goed of tyd of aandag weg te gee nie, maar ek neem die besluit om tóg meer vrygewig daarmee te wees – nie net vir dié wat ek voel dit verdien nie, nie net vir dié wat ek dink vir my óók iets gaan teruggee nie. Ek sal ook meer vrygewig probeer wees met moeiliker dinge soos om vriendelikheid, geduld en genade te gee. Om iemand anders die voordeel van die twyfel te gee. Om iemand sy plekkie in die son te gee. Om meer van myself te gee as van my geld of goed. Die Bybel sê mos: Om te gee, maak 'n mens gelukkiger as om te ontvang. (Hand 20:35) Die Bybel sê ook: God het die blymoedige gewer lief. Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het. (2 Kor. 9:7) ~ Wilna Botha, 15/01/2018

Weer terug by my 18 G’s vir 2018: As mens “G’s” sê, dan sê jy “Gees”. Iemand het my ’n Geesvervulde jaar toegewens en dis waarvoor ek ook bid en vra en wens en hoop. Mens kan nie ’n nuwe jaar of ’n nuwe dag of ’n nuwe taak aanpak sonder die leiding van die Gees binne-in jou nie. Oomblik vir oomblik wil ek bewus wees van die Here wat hier binne-in my teenwoordig is, wat hier naby my is. Ek wil met elke asemteug, met elke keuse, met elke besluit Hom binne-in my ervaar en raadpleeg en gehoorsaam. Ek wil my krag, my leiding, my vrede en vreugde, my geloof dááruit put. Ek wil voortdurend en bewustelik vol word en vol bly van die Heilige Gees sodat Sy vrug en Sy gawes sigbaar en bruikbaar sal wees in my alledaagse lewe. “... let the Spirit fill your life.” (Ef. 5:18) ~ Wilna Botha, 17/01/2018


My volgende “G” wat vriende my toegewens het vir 2018 is “geseënd”. Mag jy geseënd wees. Nou ja, hierdie wens vat ek met ’n oop hart en oop arms vir myself en vra die Here dat Hy my elke dag sal seën. Nie met dié dinge wat ek as seëninge tel nie, nie met seëninge wat ek in ander se lewens sien nie, maar dié wat Hy vir my persoonlik in sy stoorkamer gereed het. In die Here se hand is alles wat ek nodig het, alles wat my staande kan laat bly, alles wat my geluk, hoop en vrede kan gee. Vriend, weet vir seker dat die Here ons vandag wíl seën.  Hy sal Sy hand oopmaak en goedheid en genade oor jou en oor my uitstort.  “Die Here dink aan ons: Hy seën ... Hy seën dié wat Hom dien, klein en groot” (Ps. 115:12) Mag ons elke dag Sy seëninge raaksien en waardeer en Hom daarvoor eer. ~ Wilna Botha, 23/01/2018

Die volgende “G” in my 2018 lysie is gesondheid. Terwyl ek die afgelope paar dae olik is en gestrem word deur pyn en nie kan beweeg soos altyd nie en bietjie afhanklik is van ander om basiese goedjies gedoen te kry, is ek sommer baie bewus van die belangrikheid van hierdie “G”. Ek besef ek waardeer nie gesonde dae genoeg nie. Ek besef ek waardeer nie dokters en toegang tot mediese sorg genoeg nie. Ek besef ek het nie genoeg simpatie met mense wat siek is nie. Ek besef ons is almal ewe kwesbaar en ons gesondheidstoestand kan in ’n oogwink verander. Die sekerheid wat ek egter het, is dat ons kan uitroep na die Here uit ons siekbed, dat ons kan pleit vir sy aanraking en genesing, dat Hy elke stukkie van ons liggaam ken en dat niks vir Hom verborge is nie, dat niks vir Hom onmoontlik is om te genees nie. Hoekom hy toelaat dat ons siek word, hoekom almal nie gesond word nie ... daai antwoorde het ek nie. Wat ek wel weet is dat Hy daar by jou is in jou siekekamer. Ek sien in my geestesoog dat hierdie teks waar word: “Whenever we’re sick and in bed, God becomes our nurse, nurses us back to health.” (Ps. 41:3, The Message) en ek kan Hom maar net hoor sê: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” (2 Kor. 12:9) ~ Wilna Botha, 25/01/2018

Nog ’n belangrike “G” vir 2018 is “gesin”. My gebed is dat ons almal gesonde gesinne sal hê en dat dít die kern sal vorm van ’n gesonde gemeenskap. Ek bid dat die Here ons gesinne sal seën, dat ons elke dag sal hande vat en saam bely: “Wat my en my gesin betref, ons het ons keuse klaar gemaak, ons gaan die Here dien.” (Jos. 24:15) Die intieme kringetjie van ’n  gesin is bedoel om  die veilige hawe te wees teen die aanslae en eise van die wêreld en sy dinge. Dis veronderstel om  ’n rusplek te wees waar jy net jouself kan wees, sonder enige voordoen, sonder enige kompetisie. Dis ’n oefenplek vir die lewe, waar jy jou gedagtes kan toets, jou drome kan bekend maak, jou vrese kan ontbloot sonder enige vrees vir veroordeling. Die sekuriteitsgebied van ’n  gesin is waar ons vir mekaar opkom, mekaar beskerm, waar ons ’n span is wat saamstaan. Die gesin is ’n  heilige plek waar ons vir mekaar bid as een swak is, waar ons mekaar ophelp as een geval het. Die gesin is daai driedubbele tou waarvan Pred. 4:12 praat: “Een alleen kan oorweldig word, twee saam kan weerstand bied. ’n Driedubbele tou breek nie maklik nie.” ~ Wilna Botha, 30/01/2018

Die volgende “G” wat van groot belang is vir 2018 is “geloof”. Ek is só bly dat iemand my ’n jaar van groot geloof toegewens het op Nuwejaarsdag. Ek hoop vir groter geloof. Ek bid vir dieper geloof. Meer van dié reddende geloof in Jesus Christus se vryspraak en verlossing. Ek wil glad nie twyfel aan die waarheid van die evangelie en die egtheid van God se Woord nie. Mag daai geloof elke oomblik soos ’n skild in my hand wees (so Ef. 6:16 sê), soos ’n borsharnas oor my hart om my lewe te beskerm (soos 1 Tess. 5:8 sê). Ek hoop egter ook vir meer vertrou-geloof in wie God is en vaste sekerheid dat Hy sal doen wat Hy belowe; groter geloof dat Hy in beheer is, dat Hy by my is, dat Hy alles ten goede sal laat meewerk; sterker vertroue dat Sy krag my sal regop hou, dat Sy arms altyd onder my sal wees. Dat my geloof nie op die wysheid van mense gegrond sal wees nie, maar op God se krag (1 Kor. 2:5). Ek hoop dat my geloof nie bepaal sal word deur dit wat sigbaar en logies voor my is nie, maar deur my vertroue in en hoop op die Almagtige God. Ek wil ook graag hoor dat die Here vir my sê: “... wat jy geglo het, sal gebeur” (Matt. 8:13) of “... jou geloof is groot. Jou wens word vervul.” (Matt. 15:28). Ek is egter ook maar al te bewus van die feit dat daar geloof-toetse oor my pad kan kom. Ek bid dat ek sal deurdruk en sterker ander kant sal uitkom. My versugting tot die Here is altyd: “Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp!” (Mark 9:24) ~ Wilna Botha, 01/02/2018

Hier is nog ’n “G” vir 2018: Genoeg. “Mag jy genoeg hê “ – so het iemand my toegewens op my verjaardag. Genoeg geld? Genoeg tyd? Genoeg energie? Genoeg werk? So toe wonder ek:  hoeveel sal nou eintlik genoeg wees? Wil ons nie maar altyd meer van alles hê nie? Nul in die bankrekening  word dikwels ’n ander, hoër bedrag,. Gelykbreek word elke maand verder gedruk. Genoeg kos in die yskas is eers wanneer die tweede yskas óók vol is. Genoeg klere is as die spaarkamer kas ook vol is. Genoeg vakansie is as ek nou alreeds  volgende Desember s’n bespreek en betaal het. Ek weet nie wanneer is genoeg genoeg nie. Kyk, Prediker praat ook daaroor: “Die mens vir wie geld alles is, het nooit genoeg geld nie; die mens vir wie rykdom alles is, kry nooit genoeg in nie. Ook hier kom dit tot niks.” (Pred. 5:9) Ek is bang ons oorvloed en ons gejaag na meer laat uiteindelik ’n bitter, onvergenoegde smaak in die mond wanneer belangrike dinge afgeskeep word, wanneer prioriteite skeefgetrek word, wanneer ons nie elke dag dankbaar is vir die daaglikse brood nie, wanneer ons nie afhanklik is van die  Here vir elke dag se vars porsie genade en goedheid nie. Spreuke sê so mooi: “Laat my nie ryk of arm wees nie. Gee U my net wat ek elke dag nodig het, sodat ek nie ryk word en ophou om U lief te hê nie, of arm word en begin steel en so u wet oortree nie.” (Spreuke 30:9) Ek gaan liewer streef na genoeg  liefde, vrede, geduld, genade; genoeg dankbaarheid vir wat ek is en wat ek het; genoeg  tevredenheid met my omstandighede.  “Gratitude unlocks the fullness of life. It turns what we have into enough, and more. It turns denial into acceptance, chaos to order, confusion to clarity. It can turn a meal into a feast, a house into a home, a stranger into a friend.” ~ Wilna Botha, 06/02/2018

Hier is nog ’n klompie van my 2018 G’s: genotvol, grappig en gewaagd. Daarsy! Ek wil beslis sorg dat ek die lewe geniet, dat ek baie lag en so nou en dan ietsie buitengewoon en anders doen. Kyk, die Bybel praat tog ook daarvan: “Ek het vreugde aanbeveel: daar is niks beter vir die mens in hierdie wêreld nie as dat hy eet en drink en vrolik is onder al sy geswoeg tydens die lewe wat God hom in hierdie wêreld gee.” (Pred. 8:15) Elders in Prediker sê dit ook dat dit ’n gawe van die Here is dat ons goeie dinge mag geniet. Ja, ek weet ons moet werk. Ja, ek weet die daaglikse roetine is sieldodend. Ja, ek weet lekker dinge is duur. Ja, ek weet ons verpligtinge rus swaar op ons. Raak egter bietjie kreatief, waag dit om iets nuuts te doen. Geniet klein en eenvoudige dingetjies, kyk ’n fliek, lees ’n grappie boek, kuier saam met iemand wat jou laat ontspan en by wie jy jouself kan wees, geniet iets in die natuur. Doen vir ’n slag iets anders, doen gewone dinge maar op ’n nuwe plek, draai die roetine bietjie om. Ek lees nou die dag dié vraag wat iemand vra: “Wanneer laas het jy iets vir die eerste keer gedoen?” Daai is nou vir jou ’n toets vir genotvol, grappig en gewaagd! Waag bietjie om iets vir die eerste keer te doen. Lag en geniet dit! ~ Wilna Botha, 12/02/2018

Twee groot en belangrike en heerlike G’s is goedheid en guns. Hulle kom natuurlik uit Ps. 23:6 wat sê: “Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe.” Ek glo en verwag dat die Here se goedheid en guns my elke dag sal inwag én dat dit my sal volg. Ek kan nooit daarvan ontsnap nie! Dis soos wanneer daai frats golf in die see mens partykeer van voor en van agter tref! Sy goedheid, Sy liefde, Sy genade-golf is daar vir jou ook! Dit maak ’n pad oop voor jou en as jy omkyk sal jy sien dat dit jou agtervolg. Hierdie twee G’s moedig my ook aan om nie net aan die ontvangkant daarvan te wees nie, maar om vrygewig te wees met goedheid en guns. So baie mense is arm aan liefde, genade en deernis. Kom ons deel bietjie van hierdie twee G’s uit – met woorde én dade. ~ Wilna Botha, 14/02/2018

Nog ’n paar “lekker” G’s wat ek vir my gevat het vir 2018 is gelyk, glad en gematig. Jip, dis seker hoe ons almal droom ons jaar moet lyk. Niks hobbels en opdraandes wat ons moet oor nie. Niks hindernisse en hekkies wat ons kan stuit nie. Niks afgronde wat ons kan bangmaak nie. Niks probleme, niks vrees, niks teleurstellings, niks trane, niks verlies. Maar helaas, ons weet maar al te goed dat daar geen waarborg is vir so ’n gladde en gematigde lewenspad nie. Terwyl ons hoop en glo en vertrou dat niks slegs op ons wag nie, moet ons egter gereed wees om die trauma en teleurstellings van die lewe te hanteer. Ons moet op die gladde paaie oefen om op die Here te vertrou, ons moet in die gematigde tye leer om aan die Here vas te hou, ons moet op die gelyk vlaktes ons oë oefen om die Here raak te sien sodat ons in die moeilike tye sal wéét waar ons hulp vandaan sal kom, sodat ons in die gevaarsones sal wéét dat die Here ons sal deurdra, sodat ons in die swaarkry sal wéét Sy arms is onder ons, sodat ons in die hartseer sal wéét Hy sal die trane afdroog. “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In U hande is ek veilig.” (Ps. 23:4) ~ Wilna Botha, 19/02/2018

Nóg 'n G-woord wat my toegewens is vir my nuwe lewensjaar is genade. Mag dit ’n genadejaar wees! Vol van God se genade, daai wat ek nie verdien nie, maar verniet en in oorvloed kry. Sy genade wat my vryspreek en oorsien en wat vergewe en vergeet. Sy genade wat voorsiening maak vir nuwe kanse en vir oor begin. Sy genade wat vars en nuut is elke dag van elke jaar. Sy genade wat gestalte gevind het in ons Verlosser, Jesus Christus. Hy sê self in Luk. 4:19 dat Hy gekom het om die genadejaar aan te kondig. Die nuwe era, die nuwe lewe, die nuwe verhouding met God. Nie net vir ’n jaar of vir dié tydperk wat Hy op aarde was nie, maar vir ewig. Genade op genade op genade. Geen wonder dat Hy sê: My genade is vir jou genoeg. ~ Wilna Botha, 21/02/2018

Die voorlaaste G van my 18 G’s vir 2018 is “geluk”. As iemand verjaar sê ons mos: geluk met jou verjaarsdag. So is ek ook van daai geluk toegewens toe ek nou die dag verjaar het. Ek het toe by myself gewonder watter soort geluk ek verwag vir my nuwe lewensjaar. Ek weet maar al te goed dat my geluk nie werklik bepaal kan word deur goeters en omstandighede nie, want dit is dinge wat enige tyd kan verander. Ek weet ook dat ek nie van mense afhanklik moet wees om my gelukkig te maak nie. Ek kan ook nie wag vir geluk om na my toe te kom nie. Ek kan dit ook nie êrens gaan soek nie. Dit kan nie deur ’n glimlag of ’n giggel aangeplak word nie. Ek lees anderdag hierdie waar aanhaling: “Happiness is not determined by what’s happening around you, but rather what’s happening inside you” en die Bybel beaam dit ook met Matt. 5:8 (Die Boodskap): “Gelukkig is almal wie se lewe van binne af nuut geword het.”  Dis mos iets wat jy nét by die Here kan kry. Ware geluk is dit wat jou hart en gedagtes vul as jy die Here dien. ’n Tevredenheid, ’n gerustheid, ’n sekerheid omdat jy weet daar is dinge wat belangriker is as die hier en nou, dinge wat ’n ewigheidswaarde het, Goddelike dinge! Vind jou vreugde in die Here, sê  Ps. 37:4. Ja, dis dié soort geluk waarna ek wil streef. ~ Wilna Botha, 26/02/2018

Die laaste G-woord van my 18 G’s vir 2018 is groei. Ek wil nie graag in sentimeters of kilogramme groei nie, maar ek wil beslis aan die einde van dié jaar terugkyk op ’n groeipad waar ek geestelik en emosioneel ’n paar sentimeters gevorder het. Ek wil nie aan die einde van die jaar geweeg word en te lig bevind word nie. Ek hoop om soos ’n gesonde boom met sterk wortels, bietjie vir bietjie te groei en my takke verder en verder uit te sprei. Ek hoop om soos ’n vrugbare boom mooi, lekkerruik blomme of goeie, bruikbare vrugte op te lewer. Ek wil groei in toewyding aan die Here, ek wil groei in Woordkennis en Geesvervulling, ek wil groei in gehoorsaamheid, ek wil groei in diensbaarheid en verdraagsaamheid en geduld, ek wil groei in vergenoegdheid en tevredenheid. “Streef na opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding, minsaamheid,” sê 1 Tim 6:11.  Nou ja, die jaar het al met 2 maande gevorder, ek dink dis tyd vir ’n meet en weeg sessie. ~ Wilna Botha, 28/02/2018

Klik hier vir nog meer heuningdruppels >


Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur en webruimte (www.heuning.co.za)