Daaglikse Heuningdruppels 2012

 


... soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek (Ps 119:11)

Die daaglikse heuningdruppels is ook op ons Facebook-groep. Klik hier:


Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Wilna / Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)


En so kom die wêreld more aan sy einde. 21 Desember 2012 is hierdie lewe iets van die verlede en sal geen mens ooit weer die lig sien nie. Goodbye cruel world, was lekker om knus hier op aarde te woon en almal te ken. Gelukkig het ek nog vandag tyd om te groet. Wonder tog net wat ek met die kersgeskenke sal maak.
Glo jy dit? Onwaarskynlik (dalk nie onmoontlik nie), om die minste te sê, want die Here hou hierdie stukkie inligting verborge vir jou en my. Ek glo nie ek en jy wil regtig God se toekomsplanne ken nie. Sê nou maar die Here maak dit aan jou bekend dat ‘n geliefde (dalk een van jou kinders) op ‘n spesifieke dag en tyd volgende jaar sou sterf, hoe sou die aftel na daardie dag wees? Sou jy dit kon hanteer?
Sê nou maar die Here maak aan jou bekend dat jy volgende jaar die Lotto sal wen. Ek glo jy sal elke sent vooruit spandeer op grond van die “belofte”. Mmm… los maar liewer in elk geval.
Die lewe sou al sy pret, uitsien, verwagting en drome verloor as ons die toekoms kon ken.
Ek gaan hierdie jaar uit soos ek hom ingegaan het, en ek gaan volgende jaar in soos ek hierdie een uitgegaan het. Met volle vertroue dat God in beheer is.
Spr 25:2 “Die eer van God lê in wat Hy verborge hou…”
~ Willem

Mens lees op ’n hele paar plekke in die Bybel dat daar een van twee paaie is wat ons kan kies, bv. die breë en die smal weg, die pad van die regverdige of die pad van die goddelose, die pad van die vlees of dié van die Gees, die pad van gehoorsaamheid aan God of die pad waar ek maak wat ek wil, die pad van wysheid of van dwaasheid, God se pad of Mammon se pad, ens. Kies dan vandag wie julle wil dien, sê Jos 24:15, kies aan watter kant jy staan, kies na wie jy luister. As jy God se pad kies, val jy onder die kategorie “regverdige”. Ps. 37 is een van die Bybelgedeeltes wat so mooi uitspel wat die pad en uiteinde van die regverdige is, teenoor dié van die goddelose. Dit sê o.a. dat die Here altyd sorg vir die regverdiges, Hy bepaal hulle koers, Hy ondersteun hulle, as hulle val sal die Here hulle ophelp, in tye van nood en gebrek sal hulle genoeg hê, hulle sal altyd behoue bly, God se openbaring is in hulle hart, hulle het wysheid, hulle het ’n toekoms.... dis die pad wat ek kies!
~ Wilna


Noudat dit Kersfeestyd is hoor mens dikwels slagspreuke soos “Put Christ back into X-mas” en “Jesus is the reason for the season”. Ek hou daarvan, want dit herinner ons (en die wêreld) dat Jesus sentraal moet wees in ons Kersfeesvieringe. Toe Jesus gebore is, was daar nie vir Hom plek in die herberg nie en ek wonder baie keer hoekom het die herbergier nie maar êrens ‘n ou plekkie gemaak vir die Verlosser, die Koning, die Vredevors om gebore te word nie? Dalk is dit omdat hy nie gewéét het dat dit Hy is nie? Maar ons, ons wéét Hy is die Saligmaker, die Seun van God, Immanuel. Kom ons maak vir Hom plek hierdie Kersfees, plek in ons harte, plek in ons lewe en in ons huise. Daar is ‘n lied wat ons sing wat sê: Al word die Seun van God ‘n duisend maal gebore, maar nie in jou nie, bly jy verlore. Maak plek vir Jesus….
~ Wilna

Maar vir julle sal Hy voed met die beste koring, julle versadig met heuning uit ’n rots (Ps. 81:17); open you mouth wide, and I will fill it (Ps 81:11). Kom na die Here toe in verwagting dat Hy vir jou sal gee wat jy nodig het en dat dit die beste vir jóú sal wees.
~ Wilna

Maak met elke Kersgeskenk wat jy oopmaak, ook jou hart oop vir Jesus – laat Hom toe om volle beheer te neem van jou hele hart, liggaam en verstand. Hy het die eerste plek in die heelal, Hy is tot die hoogste eer verhef, Hy sit aan die regterhand van God, Sy Naam is bo elke naam (lees Fil. 2:9-11) – buig jou knie voor Hom en gee Hom daardie eervolle plek in jou hart.
~ Wilna


As kind van God het ek en jy ’n kroon ontvang, een wat niemand kan wegvat nie, een wat jou merk as kosbaar en spesiaal, een wat jou laat sprankel. Ps. 8:6 sê ons is gekroon met eer en aansien. Ons kroon is versier met edelstene van oorwinning, van liefde, van God se ontferming en Jesus se verlossing. Loop mooi regop vandag en dra jou kroon met trots.
~ Wilna

Ek het hierdie êrens op ’n kennisgewing bord gelees: The joy that you give someone is the joy that comes back to you. Die uitdrukking: “wat jy saai sal jy maai” het by my opgekom toe ek dit lees. Gee ’n glimlag en kry een, gee liefde en jy kry liefde, gee vergifnis en jy kry vergifnis. Dan is dit boonop nog altyd lekkerder om te gee as om te ontvang. Wat deel ons vandag uit? Bietjie tyd, bietjie liefde, ietsie van jouself of ietsie van jou goed? Jesus sê in Matt. 11:28 (Die Boodskap): “Kom luister na wat Ek vir jou oor jou lewe wil leer. Ek sal jou leer dat geluk nie is om heeltyd net vir jouself te leef nie. Jy sal ontdek wat dit beteken om nog vir ander mense tyd en liefde oor te hê.”
~ Wilna

Sorg dat julle gewete skoon bly, sê die Bybel in 1 Pet. 3:16. Jou gewete herinner jou om die regte/goeie goed te doen en verkeerde dinge te vermy, dit help jou om te onderskei tussen reg en verkeerd en om sake te beoordeel. As jy die regte keuse gedoen het, is jou gewete skoon, as jy iets verkeerd gedoen het, of nagelaat het om iets te doen, sal jou gewete jou pla. Wanneer iemand sy lewe aan Jesus oorgee, word hy ’n nuwe mens (2 Kor. 5:17) – dit beteken dat hy ook ’n skoon, nuwe gewete kry, bevry van ou laste wat op die gewete lê. Heb 9:14: “Die bloed van Christus bevry ons gewete van die las van die dade wat tot die dood lei”. Laat Jesus  se bloed vandag jou gewete skoon was; laat die Heilige Gees oorneem en elke oomblik jou gewete lei volgens God se wil en waarheid.
~ Wilna

Spyt kom te laat, berou is betyds. Nadat Judas vir Jesus verraai het, het spyt gekry, die 30 silwer muntstukke vir die priesterhoofde en familiehoofde gaan teruggooi en homself gaan ophang (Matt 27:3-5). Sy spyt het hom niks gehelp nie; hy het sonder Jesus gesterf. Petrus het Jesus verloën en toe hy die haan hoor kraai het hy bitterlik geween; sy berou het hom gered en sy verhouding met Jesus is herstel. Saul was spyt oor sy ongehoorsaamheid en het dit so halfhartig probeer regmaak. Sy spyt het hom egter niks gehelp nie, want die Gees van die Here het hom verlaat (1 Sam 16:14). Dawid het “groter sondes” as Saul gepleeg, maar na sy diep berou en verootmoediging word hy genoem ’n man na God se hart (Hand 13:22). Sy berou was betyds. Dan was daar Manasse. Hy was ’n goddelose koning wat die allervreeslikste dinge aangevang het (lees in 2 Kron. 33 daarvan). Maar “toe dit met hom sleg gaan, het hy die Here sy God om genade gesmeek en groot berou getoon ”. Sy berou was betyds en die Here was hom genadig. (2 Kron. 33:12-13). Die misdadiger aan die kruis langs Jesus, het berouvol uitgeroep na Jesus. Dit was betyds, want Jesus antwoord met: “Vandag sal jy saam met My in die paradys wees” (Luk. 23:43). Die Here se genade is genoeg – laat dit vir jou betyds wees.
~ Wilna

You are my hero. You are the poster on my heart, the picture in my mind, the song that I will sing, You are my hero, my everything! You are my morning and you are my night. You are my tears and my delight. You are my twirl, my twist, my turn. You are my wow, in my heart You burn. You are the one I long for most. You are my pride, You are my boast. You are my father and my best friend. You are my hero till the end... Ek sing vandag hierdie woorde uit ’n liedjie van Julius Magan saam en bedoel regtig dat die Here alles vir my is!
~ Wilna

Wees altyd gereed om ’n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ’n verduidelik eis oor die hoop wat in julle lewe. (volgens 1 Pet. 3:15). Jy sal dalk vandag een van die volgende vrae moet antwoord: Hoekom is jy altyd so positief? Hoekom word jy nie kwaad as jy te nagekom word nie? Hoekom bid jy? Hoekom gaan jy kerk toe? Hoe kan jy nog hoop hê as dinge om jou so sleg gaan? Hoekom hou jy vas aan die Here terwyl jy terminaal siek is? Hoekom is jy altyd so eerlik? Ek hoop dat my lewe só sal wees dat dit sulke vrae sal uitlok... en dat ek met vrymoedigheid sal kan getuig van die hoop wat ek het omdat ek Jesus ken en liefhet en volg.
~ Wilna

Met Kersfees aan die kom, het ek weer die verhaal gelees in Luk. 1:26-56 waar die engel aan Maria verskyn het om haar mee te deel dat sy die ma van Jesus gaan word. Sy hoor o.a. die volgende woorde: begenadigde, die Here is by jou, moenie bang wees nie, God bewys genade aan jou, die Heilige Gees sal oor jou kom, niks is vir God onmoontlik nie. Hierdie is mos beloftes wat ons op meer as een plek in die Bybel by die Here hoor en die goeie nuus is dat hierdie woorde vir my en jou ook gesê word! Kom ons glo dit weer. Kom ons gee onsself oor aan die Here en sê soos Maria: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat U gesê het” (vers 38). Kom ons sing saam met Maria dié loflied: “Ek  besing die grootheid van die Here, ek juig oor God, my Verlosser” (vers 46).
~ Wilna

Ek kom agter dat ek nogal bietjie kompeterend is; ek wil wen as daar speletjies gespeel word, ek wil hê my werk moet die beste en vinnigste wees, ek wil die een in die gym wees met die meeste “work-outs” agter my naam, ek wil die mees toegewyde persoon wees, ens. Die Bybel sê: “Wie is die wenner oor die wêreld? Dit is die persoon wie se verhouding met Jesus reg is omdat hy weet Jesus is die Seun van God” (1 Joh. 5:5, die Boodskap). Wie in Jesus glo, wie naby Hom leef, húlle is eerste, hulle sal ’n onverganklike kroon ontvang, ’n goue medalje, ‘n ewige prys – ek wil só ’n wenner wees!
~ Wilna

Hier is Paulus se drie hoofpunte vir ’n goeie preek: hy sê hy het vir álmal gepreek dat (1) hulle tot inkeer moet kom (2) hulle moet bekeer (3) hulle dade moet doen wat bewys dat hulle bekeer is. (lees Hand 26:20). Miskien moet ons ook meer sulke preke hoor / preek wat ons aanmoedig om weg te draai van die verkeerde dinge, wat ons roep om meer en meer heilig te lewe; preke wat ons weer en weer oproep om Jesus as die verlossende Redder aan te neem; preke wat vir ons prakties sê hoe ons moet lewe, sodat ons nie net “hoor” nie, maar sal “doen” ook.
~ Wilna

Spr 18:22 "Wie 'n vrou kry, vind geluk en geniet die goedheid van die Here." 

Is dit nie wonderlike woorde nie! En is dit nie so ongelooflik waar nie?  Maar ek wens ek kon iets byvoeg by daardie woorde.  Iets soos: "...solank hy daardie kosbare geskenk met sy lewe oppas". Jy sien, ons as mense is snaakse goed. Ons sal vra vir die Here vir Sy guns, óf vir finansies, óf werk óf gesondheid, maar sodra ons dit het, vergeet ons dat dit die Here se geskenk was. Sê nou die Here neem alles weg wat ons roekeloos hanteer, wat sal jy oorhê na die einde van vandag? 

My keuse is om my vrou lief te hê en te koester, te versorg en te beskerm, want ek weet sy is 'n geskenk van God.
~ Willem


Welgeluksalig is die mens wat die Woord van God oordink en dit die riglyn vir sy lewe maak – dis min of meer wat Ps. 1:1-2 sê. Welgeluksalig beteken om in die hoogste mate gelukkig te wees. Wel-geluk-salig. As iemand “wel” is, is hy gesond en tevrede, dinge in sy lewe verloop glad en mooi. As iemand “geluk” beleef, dan is hy geseënd, vrolik en voorspoedig  As iemand “salig” is, stap hy ’n vreedsame, heerlike, heilige pad wat uitloop op die ewige lewe by God. Bestudeer en oordink die Woord en wees welgeluksalig!
~ Wilna

Wind, vuur, water – drie simbole wat gebruik word om die werking van die Heilige Gees in en deur ons te beskryf. Onsigbaar en misterieus soos die wind, waai die Gees deur ons en kom maak alles vars en nuut. Soos ’n vuur steek die Heilige Gees ons lewens aan die brand sodat die vlam in ons harte lig en warmte verskaf rondom ons. Soos ’n fontein wat opborrel is die Gees se teenwoordigheid en krag in ons lewe –Hy was ons skoon, Hy les ons dors, Hy bring nuwe lewe, Hy laat ons groei en vrugte dra. Begeer jy dalk ook die teenwoordigheid van die Gees in jou lewe? “Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra” (Luk. 11:13)
~ Wilna

Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee. En ons glo vas en ons weet dat U die Heilige van God is”. (Joh 6:68). Dit was Petrus se vraag en belydenis. Dit is vandag myne ook. Ek weet daar is niemand en niks anders wat ware lewe, lewe in oorvloed, éwige  lewe kan gee nie. Niemand anders wat elke honger kan stil, elke dors kan les, elke vraag kan antwoord nie. Jesus is die brood, die deur, die weg na die Vader, die Middelaar – wie in Hom glo, hét die lewe.
~ Wilna


Is jy dalk moeg vir jou ou klerekas? Tyd vir ietsie nuuts? Iets gepas, iets duursaam, iets wat jou pragtig gaan laat lyk, wat jou beste bates sal beklemtoon en komplimente uitlok? Hier is dit: So chosen by God for this new life of love, DRESS in the wardrobe God picked out for you: compassion, kindness, humility, quiet strength, discipline. Be even tempered, content with second place, quick to forgive offense.... and regardless of what else you put on, wear love. It’s your basic, all-purpose garment. Never be without it. (Kol 3:12-13, The Message)
~ Wilna

Moenie te gou kwaad word nie. ’n Mens wat kwaad word, doen nie wat voor God reg is nie. (Jak 1:19-20). Nou wonder ek of dit dan ’n sonde is om kwaad te word? Daar is darem ’n ander teks in die Bybel wat vir ons so ’n agterdeurtjie oop los, want dit sê AS julle kwaad word, moenie sondig nie en moenie ’n dag kwaad afsluit nie (Ef. 4:26). Lyk darem of kwaad word deel van die lewe is en gelukkig lees ons van ’n hele paar Bybel-ouens wat ook kwaad geword het, hoewel daar vir baie van hulle ’n slegte nadraai was oor hulle kwaad-geit! Ek dink die probleem van kwaad word is dat dit tot sonde aanleiding kan gee, want as mens kwaad is kan jy baie keer nie jouself beheer nie. Dan word daar dinge gesê wat vir ander soos dolksteke is, of jy doen skade aan ’n verhouding, of in die ergste gee jy dalk iemand ’n klap. Ons weet ook dat woede al moord gepleeg het. Spr. 29:11 sê dan ook terg: "’n dwaas gee vrye teuels aan sy woede”. Om kwaad te word is ’n versoeking, wat ons daarná doen, kan óf sonde óf oorwinning wees. Ek gaan maar probeer om nie kwaad te word nie.....
~ Wilna


If you were convicted of being a Christian, would there be enough evidence? Sjoe, hoe skrik ek toe ek hierdie aanhaling lees en ek wonder of “Christen” regtig groot en duidelik oor my geskryf staan; of almal wat met my te doen het, sal kan sê: sy is ongetwyfeld ’n Christen. Is dit regtig sigbaar in wat ek doen EN in wat ek sê, nie net in die feit dat hier ’n klomp Bybels lê, dat die Jabes gebed in so mooi hartjie geskryf is teen my kantoormuur, dat daar ’n groot kruis by die voordeur is en ’n vissie agterop my kar nie. Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is, so sê die Bybel in Matt. 3:8. Die bewyse is nie aldag sigbaar hier by my nie ..... maar danksy Christus kan ek maar weer van vooraf sê: ek is ’n nuwe mens, die oue is verby die nuwe het gekom.
~ Wilna

Het jy ook al gehoor van lagterapie? Jy dwing jouself om te lag sodat jy gelukkiger kan voel! Ek sien die fliekmense se slagspreuk is “your happy place”. As mens om jou kyk dan lyk dit of geluk te vind is in dinge soos ’n goeie werk, ’n mooi huwelik, slim kinders, gawe vriende, ’n groot huis, mooi meubels, skoonheid, ontwerpersklere en juwele, sport, kwalifikasies, roem, bekendheid, oorsese reise, eksotiese vakansies ens. Dit is sekerlik dinge wat kan bydra dat jy gelukkig voel, maar sal dit jou áltyd laat lekker voel? Geluk wat van buiteaf aangeplak word, gaan nie lank hou nie. Ware geluk is dit wat jou hart en gedagtes vul as jy die Here dien. Gelukkig is almal wie se lewe van binne af nuut geword het (Matt. 5:8, Die Boodskap). Vind jou vreugde in die Here! (Ps. 37:4). Vind jou “happy place” by die Here.
~ Wilna


SPREUKE 17:28: “As 'n dwaas nie praat nie, kan selfs hy aangesien word vir 'n wyse, en as hy sy mond toehou, vir 'n verstandige mens.”
‘n Dwaas word uitgeken aan woorde, meer as aan dade. In Spreuke is daar baie tekste wat handel oor dwaasheid en Salomo het ‘n kleintjie dood daaraan. Ek dink nie dwaasheid is noodwendig die teenpool van wysheid nie, want ek dink selfs wyse mense raak soms ‘n klomp dwaasheid kwyt.
Dalk moet ons maar altyd handel in ooreenstemming met hoe ons geskape is. Twee ore en een mond – luister twee maal meer as praat.
Boeta, ek kon al menigmaal my tong sluk!
~ Willem


Onthou jy die Lappop lied?
 … dis ‘n vrot pampoen en ‘n stukkende skoen
 ‘n grammofoon plaat en ‘n kous sonder maat… 

Ek dink ons almal sukkel om te verstaan waar op aarde die “ander” kous altyd beland. Sommer net weg, soms om nooit weer sy verskyning te maak nie. Dit laat my dink aan egskeiding, wanneer twee huweliksmaats soms net uitmekaar uit spat en versoening vind net nie plaas nie.

MALEAGI 2:16  “Die Here die God van Israel sê Hy haat egskeiding. Egskeiding is niks anders as geweld nie, sê die Here die Almagtige. Beheers julle, moenie ontrou wees nie.”

Pas jou kous mooi op, werk elke dag daaraan om seker te maak dat een nie wegraak nie en koester mekaar. Ek sal verseker totaal verlore sonder my “kous” wees, sy is my beste maat, my kollega, my “buddie” en my inspirasie. Ek bid dat die Here nie my kous sal wegvat nie. Ek sal dit nie maak nie!
~ Willem


Lank gelede het Jesus aan die kruis gesterf en betaal vir elke sonde wat ek al gedoen het en nog gaan doen. Maar nóú, vandag, op hierdie oomblik sit Hy aan die regterhand van God en pleit vir my; op hierdie oomblik staan Hy tussen my en God en as ek sondig, dan herinner Hy die Vader daaraan dat die betaling reeds gedoen is en pleit Hy dat ek weer vergewe word. Hy is as’t ware elke oomblik my “aktiewe Verlosser”!  Heb 9:24: Hy het in die hemel self ingegaan om nou ter wille van ons  voor God te verskyn; Rom 8:34: Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.
~ Wilna


Ek het hierdie mooi akroniem vir HOPE gelees: Have Only Positive Expectations. Met Jesus in my lewe weet ek dat daar altyd hoop is. Ek moet die hoop  as’t ware met my geestesoog voor my “sien”, ek moet dit vasgryp en myself positief programmeer daarmee. Dié hoop wat die Here ons gee is ’n veilige en onbeweeglike anker, sê die Bybel in Heb 6:19. Dis nie iets van ek “hoop” dit reën vanaand nie, of ek “hoop” ek gaan die eksamen slaag nie. Die hoop-anker wat daar in Jesus is, sal keer dat jy sink of wegdryf, sal keer dat jy teen die rotse geslaan word as daar ’n storm opkom. Al is ’n boom afgekap, is daar hoop dat dit weer sal uitloop en dat sy lote sal aanhou groei. (Job 14;7). Solank daar lewe is, is daar hoop. ’n Hond wat lewe, is beter as ’n leeu wat dood is. (Pred. 9:4). Ek sal nie hooploos lewe nie....
~ Wilna


Ons leef in ‘n wêreld waar eerlikheid al so afgewater is, dat dit eenvoudig deel van ons lewe geword het. Ons almal is skuldig daaraan dat ons graag vinger wys na bedrog in die regering en misdaad oor die algemeen. En “menseregte” maak dat die sisteem selfs growwe oneerlikheid oorsien en die persoon beskerm. Jy word maklik onskuldig bevind op ‘n tegniese punt, bloot omdat daar nie “bo alle redelike twyfel” bewys kan word dat jy verkeerd was nie. Indien elke mens op aarde net een honderd persent eerlik is, was ‘n regstelsel onnodig.
SPREUKE 21:8 “'n Slegte mens loop krom paaie; 'n eerbare mens tree eerlik op.”
Ek en jy val in een van hierdie twee groepe waarvan Salomo hier praat ... as ek myself “eerlik” moet ondersoek, dink ek nie ek vaar te goed nie.
~ Willem


Ek het myself nou die dag so verknies omdat iemand my te nagekom het, omdat ek gevoel het ek is onregverdig behandel, ek het nie gekry wat my toekom nie .... Ek het die hele dag met hulle gesprekke in my kop gevoer, my regte probeer eis en my kant van die saak gestel. Toe ek later in die spieël kyk sien ek my mondhoeke trek sommerso af van die bitter smaak in my mond. Ag, en toe besef ek maar net weer hoe stupid dit is om oor so iets aan te hou tob. Dié klomp gaan net lekker aan met hulle lewe en ék is die een wat ly onder my negatiewe gedagtes, ék is die een wat af voel, ék is die een wat in ’n hopie sit en myself jammer kry. Ek het toe ’n besluit geneem om vrede te maak daarmee en die saak uit te vee in my gedagtes. Natuurlik is ek toe gevul met ’n lekker gevoel van verligtheid en vrede. “When you hold resentment toward another, you are bound to that person by an emotional link that is stronger than steel. Forgiveness is the only way to dissolve that link, and get free.”
~ Wilna

Pred 9:11-12: “Verder het ek in hierdie wêreld gesien: dit is nie die vinnigstes wat die reisies wen nie, nie die sterkstes wat die oorlog wen nie, nie dié met wysheid wat kos het nie, nie die verstandiges wat ryk word nie, nie dié met kennis met wie dit goed gaan nie. Alles word bepaal deur tyd en geleentheid. Die mens ken selfs nie die tyd van sy dood nie. Soos visse wat gevang word in 'n net, soos voëls wat gevang word in 'n wip, so word die mens gevang as die teëspoed kom, as dit hom skielik oorval”.

Dit lyk my jy hoef nie die vinnigste, sterkste, rykste of slimste te wees om sukses te behaal nie. Hierdie teks bevat ongelooflike waar woorde, jy hoef maar net om jou te kyk. Volgens hierdie stukkie gaan dit oor tyd en geleentheid. Nadat ek lank aan hierdie deel gedink het, het ek besef dat ons elke denkbare geleentheid wat op ons pad kom moet ondersoek en gebruik. En dan moet jy besef dat alles verder in God se hande lê. “Die mens ken selfs nie die tyd van sy dood nie.”
Leef voluit, doen wat jy moet, lewe met hoop en moed en bo alles, geniet dit!
~Willem

Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou 'n stem hoor sê: “Hier is die pad, loop hierlangs.” (Jes 30:21) Dit klink mooi, maar wat van daardie dag wat jy by ‘n kruispad staan en jy wag, maar jy hoor nie daardie duidelike stem om vir jou te sê watter kant toe nie, wanneer jy voor ‘n keuse staan en vra: moet ek of moet ek nie? Jy mag dalk sê: ek mag enige iets doen, ek is volwasse, ek is vry, alles is my geoorloof. In 1 Kor 6:12 en 1 Kor 10:23 is daar drie vrae wat mens kan help in keuses:
(1) is wat ek wil doen heilsaam (m.a.w. is dit goed vir my, sal dit my gelukkig maak, is dit werklik nuttig?)
(2) kan dit lei tot verslawing?
(3) is dit werklik opbouend?
As jou antwoorde ja, nee, ja is, kan jy met ‘n geruste hart daardie pad vat en die Here sal jou seën!
~ Wilna


Die mens leer ‘n gewoonte vreeslik vinnig aan. Jy hoef ‘n bepaalde ding net ‘n paar keer te doen en blitsig raak dit ‘n gewoonte. Mens kry goeie en slegte gewoontes en dit lyk my slegte gewoontes kulmineer baie vinnig na slegter gewoontes. Jy hoef dit net ‘n paar keer te doen.
Dieselfde is egter waar vir goeie gewoontes en dis nie noodwendig sleg om goeie dinge maar net uit gewoonte te doen nie, bv. al gaan jy net uit gewoonte kerk toe, is dit steeds ‘n goeie gewoonte, en het die Here geleentheid om met jou te werk.
Om vir jou wederhelf en kinders gereeld te sê: “Ek is lief vir jou”, is ‘n skitterende gewoonte en dit kulmineer ook maklik na meer dinge soos: “Jy is spesiaal” of “Ek is trots op jou” en “Daar is niemand soos jy nie”. Die geheim is om dit net te begin doen, en vinnig raak dit makliker en vloei hierdie lewegewende woorde soos strome water uit jou mond uit. En dit sal vir geslagte oorvertel en onthou word.
Gaan jy ook begin daarmee?
~ Willem

Ek het hierdie sinnetjie êrens gelees: The tongue is the only tool that gets sharper with use. Geen wonder dat die Bybel sê ons moet maar ’n wag voor ons mond sit nie. Ons word gewaarsku dat die tong ’n verwoestende veldbrand kan aansteek, dat dit ’n oorlog kan begin, of die hele liggaam kan vergiftig, dat dit nie getem kan word nie, dat dit saad van bitterheid kan versprei. Ai, ek gaan vandag probeer om sagte, kalmerende, eerlike, opbouende,  aangename woorde te gebruik. Dit sal mý  opbeur asook dié wat daarna moet luister. Aangename woorde is heuning, soet en geneeskragtig vir die mens. (Spreuke 16:24)
~ Wilna

Ai-oh, ai-oh, and off to work I go…
Jip, soos elke dag is dit maar ons almal se lot. Is dit regtig ‘n “lot”? Wel, dit hang seker af met watter gesindheid jy hierdie dag aangepak het. Gaan jy werk toe omdat jy voel jy is iemand se slaaf, of omdat jy glo jy voeg waarde toe tot Suid Afrika, die ekonomie en ook jou eie menswees? En dit my liewe vriend, is jou keuse. Werk is nie ‘n uitvloeisel van die sondeval (soos sommiges dink) nie, want die opdrag om die aarde te bewoon en te bewerk was vir Adam gegee toe God hom geskep het.
Jy kan jou half dood werk omdat jou werk dit vereis, of jy kan dit ook doen uit gierigheid. Die Here het net die antwoord vir ons vandag in Ps 37:3 “Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort”.
~
Willem


Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor God is by julle” (Sag 8:23). My gebed is vandag dat my lewe só God se teenwoordigheid sal uitstraal dat dit mense sal aantrek en aanspoor om Hom te volg; dat ek ’n aangename geur sal versprei; dat my lewe ’n brief sal wees wat Jesus se liefde, genade en aanvaarding sal verkondig. Ek bid dit vir jou ook!
~ Wilna

Ons het nie woorde of begrip om te beskryf hoe groot God se liefde vir ons is nie. Dit strek wyer, verder, hoër en dieper as wat ons ons kan indink. As mens na ’n baie groot krat van buiteaf kyk kan jy mos nie al sy dimensies sien nie. As jy aan die voorkant is, sien jy dalk net hoe wyd en hoog hy is. As jy aan die sykant is sien jy net hoe breed en hoog hy is, ens. Die enigste plek waarvandaan jy al sy dimensies sal kan sien, is as jy binne-in die krat sou staan en rondom jou sou kyk. Só is dit met God se liefde: wanneer ons binne-in sy liefde staan, “gewortel en gegrondves”, dan sal ons so ietsie kan beleef van hoe wyd en vêr en hoog en diep die liefde van Christus is. (Ef. 3:18)
~ Wilna

Ek glo die meeste mense het maar ‘n paar merke van hulle verlede wat saamgedra word. Dit kom dalk uit jou ouerhuis, of skool of gebroke verhoudinge. Wat sien jy as jy na joune kyk? Is dit ‘n rofie wat jy elke dag stukkend krap en aanhoudend daaroor tob, of is dit ‘n wond wat ten volle genees is, maar steeds ‘n letsel agterlaat.
Om dag na dag daaroor te dink bring geen genesing nie. En iemand anders kan vir jou pleisters plak tot hulle blou is in die gesig, maar die genesing hang van jouself af. Medikasie vir daardie wond is goed, maar soms verlig dit maar net die simptome.
Paulus het die antwoord in Fil 3:13: Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is.
~ Wi
llem

Openb 14:4-5 praat van die mense in die hemel wat geen sonde gedoen het nie. Niks! Hulle was in alles onberispelik. Nou wonder ek hoe het hulle dit gemaak? Kan daar hoegenaamd enige iemand op die aarde of in die hemel wees wat geen sonde gedoen het nie? Ek lees toe weer so bietjie van al die dinge in die Bybel waarvan gesê word moenie, bly weg, vermy en ook dié wat sê doen die en doen daai. Ai en ek weet net ek faal keer op keer. Ek weet ek kan nie, maar ek weet Jesus kan afreken met elke verkeerde ding. Sy bloed was my silwerskoon, my rekening hang nou aan die kruis en dit sê afgehandel, klaar betaal. Die Here sê Hy steur Hom nie meer aan my oortredinge nie, Hy skryf dit af, Hy gooi dit in die diepsee, Hy vertrap dit onder sy voete, Hy sit dit aan die ander kant van die aardbol, Hy skeur die lysie op! En ek kan ook daar in die hemel gaan saamsing saam met dié wat onberispelik daar staan, want ek is ook skoongewas in die bloed van die Lam.
~ Wilna

ERFENIS DAG
MATTEUS 19:29 En elkeen wat ter wille van my Naam afgesien het van huise of broers of susters of vader of moeder of kinders of grond, sal honderd maal soveel ontvang en die ewige lewe as erfenis kry.

 EFESIËRS 1:18 Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het.

 HEBREËRS 9:15 Daarom is Hy ook die Middelaar van 'n nuwe verbond. Sy dood het plaasgevind om mense te verlos van die oortredinge wat onder die eerste verbond begaan is, sodat dié wat geroep is, die beloofde ewige erfenis kan ontvang.

 1 PETRUS 1:4 op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word.

'n Erfenis word nie verdien nie. Dis 'n uitvloeisel van dit wat iemand vir 'n nageslag agterlaat omdat die afgestorwene niks meer met die goedere kan doen nie. So het Jesus gesterf, nie vir homself nie maar vir jou en my wat die VOLLE erfenis onverdiend ontvang. Jesus kan absoluut niks met die Saligheid doen wat Hy bewerkstellig het nie. Dit behoort aan my en jou en elkeen wie se naam in die Boek van die lewe (testament) opgeteken staan.
~ Willem


Ek weet verseker dat die Here my uit sy genade gered het, dat die prys vir my sonde betaal is, dat die ewige lewe ’n gratis geskenk is waarvoor ek nie kan werk nie en wat ek nie verdien nie. Aan die ander kant weet ek net so seker dat om Hom te volg ’n prys vra. Jesus sê dat ons bereid moet wees om ons lewe, ons besittings, selfs ons familie prys te gee wanneer ons Hom wil volg (dis wat ek lees in Luk. 14:25-33). Om Hom te volg hou nie materiële beloning in nie, dit vra selfkruisiging; dit vra aanhou tot die einde. Nou wonder ek:  sal ek Hom nog wil volg as ek weet Hy gaan niks vir my DOEN nie? Ek kies om Hom te volg vir wie Hy IS en nie vir wat Hy vir my kan aanbied nie.
~ Wilna

Daar is só min dinge in hierdie lewe wat vas en verseker is. Ons weet nie eens of ons vanaand die son sal sien sak nie. Enige van ons omstandighede kan in ’n oogwink verander. Ons kan nie op ons werk of ons geld reken nie, want dit kan opdroog. Ons kan nie op mense staatmaak vir hulp of raad of beskerming nie, want mense verander van plan, mense is onbetroubaar, mense doen nie wat hulle belowe het nie, mense blaas so maklik hulle asem uit (so sê die Bybel in Jes. 2:22). Al wat werklik vas en seker is, is dat God bestaan en dat Sy liefde vir my en jou onwankelbaar en oneindig is – is DIT genoeg vir jou? “Berge kan verskuif word en heuwels kan verdwyn, maar My liefde vir jou sal nooit ophou nie... dit is wat die Here sê wat soveel vir jou omgee” (Jes. 54:10)
~ Wilna

Ps. 91:4: He will cover you with His feathers, and under His wings you will find refuge. Hoe lekker is dit nie onder die Here se vlerk nie! Dis warm as jy koud kry, dis ’n skaduwee as die son fel is, dis waterdig as daar ’n storm woed. Dan is dit natuurlik ook die veiligste plek om te wees, want Hy sal nie toelaat dat iets of iemand jou daar uithaal of aan jou raak nie! Dit is ook dié plek waar jy regtig onvoorwaardelik welkom is en waar jy Sy hartklop kan hoor én voel en waar jy kan wéét dat Hy jou liefhet. Hardloop en kom skuil hier saam met my....
~ Wilna

Die Here laat U-draaie toe. Altyd! As jy uitvind jy is op die verkeerde pad kan en móét jy omdraai. Die Here spesialiseer in tweede kanse, Hy gee nooit op met ons nie. As jy val is Sy hand daar om jou op te help, as jy in ’n donker gat is, kom Hy soontoe om jou daar te kom haal, as jy in die varkhok rondploeter, staan Hy met genadige, oop arms en wag vir jou om terug te kom. “Sal iemand val en nie opstaan nie, of wegdraai en nie terugdraai nie?” (Jer. 8:4) Kom terug na die Here julle God toe: Hy is genadig en barmhartig; Hy is lankmoedig en vol liefde. (Joël  2:13), Hy sál jou weer laat opstaan (Ps 37:34) .
~ Wilna


Miga 6:6 vra: “Wat sal ek saamvat as ek na die Here toe gaan, as ek voor die hoë God gaan kniel?” Ek het toe ook gewonder wat ek Hom kan aanbied. Ek weet die Here sê hy soek nie my goeters as ’n offer nie. Die offer wat Hy vra is lof (Ps. 50:4), gehoorsaamheid (Ps. 40:7), verootmoediging (Ps. 51:19), barmhartigheid (Matt. 9:13), regverdigheid, liefde, trou en bedagsaamheid (Miga 6:8). Ek glo die offer wat Hy eintlik van my wil hê is myself, my lewe, my hele ek – en dis wat ek vandag opnuut weer op Sy altaar kom aanbied. “Gee julleself as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is” (Rom 12:1)
~Wilna


Al ooit gewonder wat die vissie-simbool, wat Christene gebruik, beteken? Wel, die Grieks vir “vis” is ICHTYS, en in Grieks lyk dit so:  ΙΧΘΥΣ. Dit is ‘n akroniem wat spel: Jesus Christus, God se seun, Verlosser. So, plak maar daardie vissie agter op jou kar, of dra dit op jou sleutelhouer, want só verkondig jy die naam van Jesus, só verkondig jy dat Hy die enigste Seun van God is, die Gesalfde van God, ons Verlosser!
~ Wilna

Dit lyk my daar is 'n voortdurende geveg tussen die mens se hart en verstand. Die verstand wil redeneer, inligting versamel, verwerk, verstaan en sin maak. Daarom kan die verstand maklik die muur wees tussen die mens en God. Die verstand het egter 'n besondere plek. Met my verstand kan ek dinge rondom my waarneem, die skepping sien en dikwels tot 'n WOW besef kom.
Die hart werk anders. Dis die sentrum wat aangeraak word deur emosie en gevoel wanneer ek trane in my oë kry as ek "voel" hoe God in my werk, as ek sien hoe HY mense verander en hoor hoe 'n klein kindjie in onskuld Sy Naam aanroep.
Ware bekering is wanneer hart en verstand konnekteer en die totale prentjie begin vorm.
Mark 12:30 Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.
~Willem

Ek wil nie op myself, my eie insig en my eie krag staatmaak nie. Ek wil nie meer sê: “Ek SAL self” nie. Ek KAN nie self nie. Ek HOEF nie self nie. Ek MOET nie self nie. Ek MAG nie self nie.  Ek sê nou: All my life and all my needs, all my ways and all my deeds …  I surrender all.

Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staatmaak nie (Spr 3:5)
~ Wilna


Moed laat mens sy lyding dra, aldus Spreuke 18:14. Skep moed vriend! Volgens die HAT beteken “skep” om met ’n holding iets op te neem en oor te bring (jy weet, soos met ’n lepel uit ’n pot). Dit impliseer daar moet iets wees waarvan jy kan skep. Daar is baie mense wat moed verloor het en sonder moed kan hulle nie die lewe in die oë kyk nie, kan hulle nie hulle probleme en swaarkry dra nie. Hoe kan ons vir hulle sê: skep moed, vriend, as daar niks uit waarvan hy kan skep nie? As die pot leeg is, kan hy nie skep nie! ’n Ander betekenis van skep is natuurlik om iets uit niks te vorm, om iets voort te bring wat nie daar was nie (“create”/maak).Miskien moet ons die moedeloses help om moed te skep ( te “create”) en die enigste manier is as die Here dit vír jou skep. Kom staan by die Here, kom skuil is sy skaduwee, kom lê teen sy bors en Hy sal nuwe moed vir jou skep. “Ek maak die moedeloses weer vol moed”; so sê die Here in Jer. 31:25.
~ Wilna

Dit was die bedoeling van God in sy wysheid dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie. Daarom het God in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo. 1 Kor. 1:21
 Ons wonder soms hoekom van die slimste mense – wetenskaplikes, professore, selfs ex-predikante – dan nie glo wat in die Bybel staan nie, en niks van God wil weet nie. Hierdie teks vertel egter vir ons dat dit presies is wat ons moet verwag. Sonder dat hierdie ongelowiges dit besef, bewys hulle dus die Bybel se inhoud korrek.
 Maar nou praat Paulus van “onsin”. Wel, dit klink absoluut onsinnig dat een Persoon vir die hele wêreld kan sterf, maar dis waar die geloof inkom en daarna bevestig die Gees dit in jou hart. Mens kan egter nou vra of hierdie nie ‘n “hoender eier” situasie is nie. Miskien wel, maar mense wat die Here as Saligmaker aanneem, is nooit teleurgesteld nie! Worth a try, of hoe?
~ Willem


Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Dit is wat die skrywer van Ps. 43 in vers 5 vir homself vra. Ai, ek kan ook partykeer so aan die kerm gaan, steen en been kla en wonder of alles die moeite werd is. Dan vra ek ook hierdie vraag vir myself. Soms vra ek dieselfde vraag oor ander mense wanneer ek hulle so hoor sug en kla. Dis vir my só mooi dat die ou van Ps. 43 sommer vir homself ’n 2-punt plan gee van hoe om uit hierdie gekerm en put van twyfel te kom: (1) vertrou op God want Hy is dié Helper en (2) sing vir Hom ’n loflied. Ek hoop jy kan ook vandag jou vreugde in die Here vind. Mag Hý die bron van jou tevredenheid wees, die tema van jou loflied.  
~ Wilna

Say a quiet yes to God and He'll be there in no time (Jak 4:8, Message). Hoe maklik is dit nie om die Here aan te roep nie! Geen lang sinne, geen perfekte teologiese samestelling nie, geen pragtige poëtiese taal nie, geen stortvloed van woorde nie, net ’n sagte uitroep daar in jou binnekamer, en Hy sal hoor. Hier is ’n paar voorbeelde uit die Bybel van sulke kort gebede wat lank genoeg was:
Here red my (Petrus in Matt. 14:30)
Wees my sondaar genadig (Die tollenaar in Luk. 18:13)
Dink aan my wanneer U in u koninkryk kom (Misdadiger langs Jesus aan die kruis in Luk. 23:42)
Here, as U wil, kan U my gesond maak (Die melaatse in Luk. 5:13)
Jesus seun van Dawid, ontferm U oor my (Die blinde man by Jerigo in Luk. 18:38) 
~ Wilna


"Figure out what will please Christ, and then do it" (Eph 5:10) Toe ek hierdie vers in die Message Bybel lees, het ek besef dat dit seker dié doel en roeping van my lewe moet wees om die Here te plesier en te behaag, om Hom te laat glimlag. Uit die Purpose Driven Life – boek onthou ek dat daar 5 goed genoem is wat die Here oor my sal laat glimlag: as ek Hom boweal liefhet, as ek Hom met my lewe vertrou, as ek Hom voluit gehoorsaam, as ek Hom dank en prys met my hele hart en as ek my vermoëns ten volle benut.  Mag ons vandag só leef dat die Here sal glimlag!
~ Wilna


Here, U kyk of ek eerlik is en vertrou kan word.
U weet wat gaan hier binne-in my aan.
Ek kan niks wat ek doen vir U wegsteek nie.
Nog voordat ek iets doen, weet U wat dit gaan wees.
Of ek by die huis bly en of ek rondloop, daar is niks wat ek vir U kan wegsteek nie.
U weet alles wat ek doen.
Al het ek nog nie eens begin praat nie, U weet wat ek gaan sê. U ken my deur en deur.
U beskerm hy hele lewe.
Ek kan dit glad nie verstaan nie, al probeer ek. Dit is te oorweldigend.
(Ps 139:1-6 Die Boodskap)
~ Willem


Ek verkneukel my daarin dat die Bybel baie keer net mooi die teenoorgestelde sê van wat vir die wêreld reg en belangrik lyk. Soos bv. wie eerste is, sal laaste wees (Markus 10:31), as jy swak is, is jy sterk (2 Kor. 12:10), die swakste is eintlik die noodsaaklikste (1 Kor 12:22), die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God (1 Kor. 3:18-19), wie dink dat hy staan kan val (1 Kor. 10:12), die hoogmoediges sal verneder word, die nederiges sal verhoog word (Matt. 23:12), dit wat régtig waardevol is, is verniet (Op 22:17), antwoord ’n vloek met ’n seën (Luk. 6:28), koop sonder geld (Jes. 55:1), jy kan lewe al het jy gesterf (Joh 11:25), om te gee is lekkerder as om te ontvang (Hand 20:35), wat jy nie kan sien nie, is belangriker as wat jy kan sien (2 Kor. 4:18), wat onmoontlik is, is moontlik (Mark 10:27). Dis darem maar lekker om in Jesus se span te wees!
~ Wilna

Een van die eerste mense wat jy vanoggend gesien het was jouself. Behalwe natuurlik vir manlief of vroulief. As mens so vars uit die bed klim, voel jy soms allesbehalwe vars, eerder soos ‘n uitgewaste lap. Dan begin die ritueel voor die spieël (jip, ons manne ook) en Hooglied 6:5 kom by jou op “Draai jou oë liewer weg van my af, hulle maak my onrustig”.
Maar dis natuurlik totaal buite konteks. Gaan lees gerus die hele hoofstuk en jy sal sien dat dit iets totaal anders beteken. Dis ‘n liefdeslied waar ‘n man die skoonheid van sy geliefde besing.
Net so voel die Here oor jou as Hy jou in die oggend “sien”. Sy hart bons van vreugde, Hy verlustig Hom in jou skoonheid en Hy is versot op elke plooitjie en merkie. Want dis hoe Hy jou gemaak het.
Dink jy nie dis tyd om weer innig lief te word vir jouself nie?
So, as jy more oggend voor die spieël verbykom, gooi so ‘n lekker knik en sê: Howzit beauty!!

~ Willem

Ek en ’n vriendin het verlede Donderdag in ’n parkeerterrein gestaan toe ons iemand hartverskeurend hoor snik. Toe ons omkyk sien ons ’n man met selfoon teen die oor en hy praat-huil histeries. Ons staan nader om te hoor of hy okei is. Hy sak op sy knieë en deur die trane vertel hy dat hy so pas die nuus gekry het dat beide sy ouers in hulle huis vermoor is. Sjoe, my hart het só na hom uitgegaan en nog meer toe hy sê: My ma en pa is dood en ek het nie vrede gemaak met hulle nie. Julle, ons moet regmaak met dié om ons voor daar nie meer ’n kans is nie, ons moet sê wat ons wil sê, gee wat ons wil gee, doen wat ons wil doen, want ons weet nie wanneer dit ons laaste uur is nie. Begrawe tog nou maar die strydbyl, wees die minste, gaan sê jammer en jy sal nie spyt wees nie. Buitendien is dit ook wat die Here van ons verwag. Lees gerus weer Matt 5:21-26 .... gaan maak eers vrede.
~ Wilna

Pred 1:2-3 “Alles kom tot niks, sê die Prediker, tot niks. Wat kry die mens vir sy geswoeg, sy geswoeg in hierdie wêreld?”
Dit klink nogal negatief, of hoe? Hoekom op aarde so spartel? Maar jy sal met my saamstem, op ‘n heerlike, sonnige Vrydag soos vandag is daar sommer so ‘n lekker gevoel in die lug. Dis dan dat jy besef dat God vir ons ‘n lekker ritme gegee het om die eentonigheid van die alledaagse lewe te verbreek, en dan vir twee dae nuwe kragte opbou vir die volgende rondte.
Gelukkig sê dieselfde Prediker ook die volgende in Prediker 3:13
“Dat die mens kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet, ook dit is ‘n gawe van God”.
~ Willem

1 Kor. 14:1 sê julle moet die liefde nastreef. Ek “toets” myself partykeer hieraan deur die woord “liefde” in 1 Kor. 13:4-6 te vervang met my eie naam. Dit klink dan min of meer só: Wilna is geduldig, Wilna is vriendelik; Wilna is nie afgunstig nie, Wilna is nie grootpraterig nie, Wilna is nie verwaand nie. Wilna handel nie onwelvoeglik nie, sy soek nie haar eie belang nie. Wilna is nie liggeraak nie, Wilna hou nie boek van die kwaad nie; Wilna verbly haar nie oor onreg nie, maar verheug haar oor die waarheid..... kry ek dit alles reg? Nee, ongelukkig nie, maar ek besluit nou maar net weer van vooraf om aan te hou probeer, om my in te span en daarna te streef.
~ Wilna


Die woord Vitality verwys na lewendigheid en energiekheid, klink so half na ‘n huppel in die stap. Iets wat baie mense nie eintlik het in hulle dag tot dag bestaan nie, want die lewe rem mens maar af.
Daar is ook iets soos Geestelike Vitality. Dis as mens se Geestelike lewe vir jou ‘n huppel in die stap gee en jou bedieninge jou “energize”. Iemand het eendag gesê dat dit die toets is of jy op die regte plek is in jou bediening. As dit vir jou energie gee, al is jy fisies moeg, is jy besig met die regte dinge, maar as dit jou dreineer, moet jy dalk vir die Here vra om vir jou te wys wat moet verander. Wees eerlik met jouself en neem die regte besluite, voordat jy uitbrand omdat jy nie optimaal kan funksioneer nie.
~ Willem

Weet jy wat is “mind-control”? Jy kry mos mense wat alewig vir jou vertel wat jy moet doen. Jy moet hierdie kos proe(al wil jy nie), jy moet jou hare so kam, jou klere daar koop, op hierdie plek vakansie hou, ensovoorts. Ken jy ook sulke mense? Maak mens moeg!!!
So kry jy ook mense wat dieselfde doen oor Geestelike sake. Doop jou so, glo die eindtyd op hierdie manier, bid met hierdie reseppie en beoefen jou Christenskap volgens hierdie plan.
Hierdie tipe “mind-control” maak dat ek my verhouding met God moet basseer op iemand anders se verhouding. Nee wat, maak soos die Gees jou lei.
~ Willem

Voetspore in die sand is 'n wonderlike ding. Ons was die naweek in die bosveld en het baie spore gesien. Uit die spore kan jy baie inligting kry. Die tipe bok, die rigting wat hy loop, die snelheid waarteen hy beweeg, hoe lank terug hy daar was, waar hy vertoef het en gewei het, en die spoor laat selfs 'n reuk agter.
Ek en jy laat ook spore agter, hoewel dalk nie letterlik nie. Waar ons aandoen, hoe lank ons daar bly, hoe haastig ons is en waarheen ons op pad is.
Het jy onlangs bietjie spore agtergelos by jou kinders? Dalk bietjie gewei by iemand in nood? Miskien jou spore laat stilstaan om net te rus? Dalk gaan rondtrap by Jesus se voete?
Of is dit net 'n stofstreep werk toe en terug?
~Willem

1 Sam 25:29: You are safe in the care of the Lord your God, secure in His treasure pouch. Hierdie woorde was vir Koning Dawid gesê, maar as kind van God vat ek dit ook vir my persoonlik. Ek weet Hy sorg vir my, Hy hou my veilig en ek het die waarborg dat ek vasgemaak is aan Hom, dat ek kosbaar en belangrik is vir Hom. Daar in sy treasure pouch is ook alles wat ek nodig mag hê om vandag te oorleef: al my lewensmiddele, wysheid en kennis, lewenskrag en moed, gesondheid en toekomsvisie. Daar word my moedeloosheid opgelig, kry ek raad, gaan die lig weer aan en maak alles weer sin. Daar kan ek onbekommerd, veilig, gerus en tevrede wees.
~Wilna


SPREUKE 16:2
"In sy eie oë is alles wat 'n mens doen, reg, maar die Here ondersoek die gesindheid".

In die lewe gaan alles oor gesindheid. Ons kan baie dinge doen, selfs goeie dinge en selfs groot sukses behaal.
Die Here ondersoek egter die gesindheid van my hart, eerder as die grootte van die uitkoms. Dis beter om iets klein te doen met die regte bedoeling as om iets groots te doen met 'n pyn in die hart. Die Here maak iets groots van iets wat ons dink onbenullig is. Daar was eens op 'n tyd 'n advertensie met die slagspreuk: Doen iets, dit help beslis.
~ Willem

Ek het vandag, aangesien dit vrouedag is, gewonder wie my gunsteling vrou in die Bybel is. Dalk Abigail, van wie daar in 1 Sam 25:3 gesê word dat sy mooi was en ’n goeie verstand gehad het? Dalk die ou vrou Anna wat God dag en nag in die tempel aanbid het? Dalk Jesus se ma Maria, wie sê: Ek is tot beskikking van die Here? Miskien Debora, want sy was ’n sterk leier, ’n profeet, ’n raadgewer, instrument in God  se hand? Wat van Dorkas wie altyd besig was om goed te doen en die armes te help? Of Elisabet wat saam met haar man onberispelik al die Here se gebooie en voorskrifte nagekom het? Of Febe, ’n ware vriendin en steunpilaar. Wat van Hanna wat so opreg gebid het of Esther wat alles gedoen het om die koning te behaag? Dalk die Maria wat nie omgegee het wat die mense van haar dink toe sy haar hare losgemaak en kosbare olie op Jesus uitgegiet het, of dié Maria wat net by Jesus se voete gesit en luister het na sy leringe? Ek hou ook van Miriam wat op haar tamboeryn geslaan het en die vroue in lofprysing gelei het. Vergeet ook nie van Ragab wat ten spyte van haar agtergrond ’n rol gespeel het in die verloop van die geskiedenis nie. Of is my gunsteling vrou dié een by die put wat die lewende water wat Jesus gratis aanbied vat en drink en lewe? Ek weet nie watter een nie.... maar ek bid dat ek ’n vrou na God se hart sal wees.
~Wilna


God is vir ons. (Rom 8:31)
GOD – dié een wat alles gemaak het, dié een met alle mag, dié een wat alles weet en oral teenwoordig is, dié een wat genees, vergewe, optel en trane afvee. Dit is Hý wat vir ons is.
IS – Hy was en sal wees, maar vandag IS Hy vir ons. Hy lewe, Hy bestaan, Hy is werklik God en Hy leef in ons. Hy IS vir ons.
VIR – Hy is aan ons kant, Hy skree vir ons span, Hy kom op vir ons, Hy tree in vir ons soos ’n advokaat. As Hy ’n yskas gehad het, sou Hy jou foto daarop geplak het! Hy is VIR ons.
ONS – Ja, ek en jy! Ons is spesiaal vir Hom, die appel van sy oog, gekroon met eer en heerlikheid, sy kind! Dis óns vir wie Hy is.
~Wilna

Ons kom elke dag van ons lewe voor keuses en ons kies hordes kere tussen 'n paar opsies. So loop ons lewenspad dag vir dag en ek wonder waar die Here in die prentjie pas. Maak Hy namens ons keuses, of laat Hy ons maar net begaan?
Hand 17:26 sê:- "Hy het bepaal hoe lank hulle sal bestaan en waar hulle sal woon".
Beteken dit dat Hy al die keuses maak, of beteken dit dat Hy daar is, ten spyte van ons keuses?
Ek weet nie wat die korrekte antwoord is nie, maar dit is verseker waar dat ons ons keuses baie verantwoordelik moet maak. Wie en wat jy is, is nie altyd die Here se skuld nie, maar dat Hy daar is, ten spyte van swak keuses, is ook waar.
~ Willem

Die Bybel sê ons moet met toewyding doen wat die hand vind om te doen. Ek was altyd op soek na “groot” en “belangrike” goed wat ek kan doen. Soos Petrus en Paulus-hulle wil ek, vol van die Heilige Gees, preek, mense gesond maak, ens. ek wil gróót impak maak.... Ek het egter besef dat dit net so belangrik is om vol van die Heilige Gees my gewone dagtaak te doen, vol van die Heilige Gees die wasgoed te was, vol van die Heilige Gees kwotasies vir my kliënte te doen, vol van die Heilige Gees die telefoon te antwoord, vol van die Heilige Gees met my man en kinders te praat. Ek gaan dit vandag weer probeer! Vind uit wat die Here wil hê jy moet doen en dóén dit (Ef. 5:17, Pred. 9:10)
~ Wilna

'n Dame vertel my netnou dat haar agterkleinkind eergister oorlede is. Wiegiedood. 'n Pragtige klein baba dogtertjie wat ons so 'n paar weke gelede vlugtig gesien het. Onmiddelik kom die groot HOEKOM in my kop op. Ek kan so baie dinge verstaan, maar hierdie is te veel vir my, en los my met 'n groot stuk "sadness".
Hoekom laat die Here dit toe? Was dit Sy wil? Wil Hy daarmee iets doen wat groter as die mensdom is?
En dan begin ek soos 'n wafferse prokureur vir die verdediging vir Hom opkom, om seker te maak dat die mensdom nie dink Hy is 'n liefdelose God nie en dat Hy tog in beheer van dit alles is. En tussendeur hou ek aan om te hunker na die verstaan toe. Daar moet tog IETS wees wat ons vir die wêreld kan voorhou ter verdediging van God.
Maar dit werk nie. Ek kan nie 'n saak aanmekaar gesit kry nie.
Dan besef ek...

* My geloof aan en in Hom was nog nooit afhanklik van verstaan nie. Inteendeel.
* Ek dink terug aan die dag toe Jesus gehuil het by Lasarus se graf. HY GEE OM!
* Daar is ook 'n ander kant. Om een of ander rede, vind mense juis in hierdie tye groot troos by Hom.
~ Willem


Ek het al gehoor dat daar gesê word dat Christene die mees “judgemental” mense is. Kan dit dalk waar wees? Kyk ons na die uiterlike en sit iemand in ’n boxie daarvolgens? Sê ons iets oor wie hy is of hoe hy presteer sonder om die hele prentjie te hê? Is ons krities en uitgesproke en plak ’n label op mense terwyl ons niks van sy hart of sy verhouding met die Here weet nie? Maak ons afleidings sonder om objektief te wees? Ek dink nogal so... veral toe ek sien wat die “Urban Dictionary” by “judgemental” sê: A way of making one self feel better, by hurting others. Usually caused by closed mindedness, and a lack of manners. Being judgemental will show people how tactless you truly are. Geen wonder Jesus het gesê: moenie oordeel nie.
~ Wilna

Ek is genooi! Ek is 'n eregas by die Here se feesmaal. Jippie! Daar word ek oorlaai met Sy hartlikheid, goedheid en liefde. By Sy feesmaal is daar elke dag volkome vergifnis, volmaakte vryheid en blydskap. Natuurlik is daar ook 'n oorvloed goeie kos (die Brood van die lewe) en geurige wyn (die bloed van die Lam). JY is ook genooi! Laat die feesmaal begin... (lees Jes 25:6-8, Ps 23:5-6)
~ Wilna

Is jy soms op soek na betekenis in jou lewe? Of het jy al ooit gewonder wat jou skeppingsdoel is?
Ek glo ons almal stoei maar soms daarmee, want ons wil tog DIT wees wat God bedoel het ons moet wees. Ongelukkig wend mense hulle te veel na ander mense om daai vraag te antwoord, selfs na profete of ander geestelikes. Miskien is daar nie per definisie fout daarmee om dit te doen nie, maar die antwoord is eintlik baie eenvoudig.
My skeppingsdoel op aarde is om net te wees wie God my gemaak het, maar die BESTE ek wat daar is. Daar is nie een soos jy nie, nêrens op aarde nie. Die Here het alles in jou ingebou om te wees wie JY is. Dis as ons ander mense probeer wees, dat ons sukkel met skeppingsdoel.
Toe die Here jou gemaak het, het Hy alles ingebou wat Hy in wou hê.
Wees dus die beste Willem, Wilna, Alice, Dennis, Alice, Amanda, Desiree, Christa, Rita wat daar is.
Dis wanneer jy jouself ten volle aanvaar, maar ook ten volle beskikbaar stel, dat die Here Sy doel deur jou kan bereik.
Probeer dit!
~ Willem

Ek het net weer besef dat dit werlik 'n gawe is om met die Here 'n pad te stap sonder fieterjasies, oordrewe dogma, allerhande geite oor presies hoe mens moet glo om "reg" te glo. Dis 'n voorreg as die Here vir jou die kernwaarhede op jou hart skryf, nl die verlossingswerk van Jesus, en dis goed genoeg.
Ek glo dis wat die Bybel bedoel met "wees soos 'n kind".
Hoe "slim" MOET mens nou wees om die ewige lewe te kry?
~ Willem

Klik hier vir nog meer heuningdruppels >


Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur en webruimte (www.heuning.co.za)